Die Drie-enige God skep elke ding op sy plek om Hom te dien!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-06-05
Teks: 
NGB 12
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 12

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,

In artikel 10 het ons gesien dat die Seun van ewigheid af uit die Vader gebore is, en artikel 11 het vir ons geleer dat die Heilige Gees van ewigheid af van die Vader en die Seun uitgaan. By beide hierdie aktiwiteite het ons te make met Goddelike aktiwiteite en bewegings wat binne die Drie-eenheid plaasvind, binne die volmaakte band van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. In artikel 12, egter, begin Guido de Bres om vir ons te vertel van God se aktiwiteite na buite, sy werke buite Homself, in besonder dan sy werk van skepping.

En dan moet ons nie dink dat God nodig gehad het om buite Homself te gaan nie. God het nie buite sy Drie-eenheidsband gegaan omdat Hy eensaam was en behoefte aan geselskap gehad het nie. Die gras was nie skielik groener duskant die grense van die Drie-eenheid nie. God lewe immers in ‘n volmaakte harmonie; binne die Drie-eenheid is daar hoegenaamd geen leemte of tekort wat opgevul moet word nie. Nee, God tree na buite omdat Hy ons wil laat deel in die wonder van sy bestaan. Alle dinge is daarom geskape met die fokus op Hom, en alle dinge vind hulle volheid in Hom.

Tema: Die Drie-enige God skep elke ding op sy plek om Hom te dien! Ons let op die plek van:

  1. Die skepping
  2. Die mens
  3. Die engele

 

1. Toe God dit goedgedink het, het Hy deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep. Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien (art. 12). In sy algemeenheid kan ons dus sê dat alle geskape dinge só gemaak is met die doel om die Skepper te kan dien. Alle geskape dinge – van die mense tot die diere, van die planete tot die oseane, van die berge tot die diepste aardkors – het een gemeenskaplike fokuspunt: die Skepper. Saam met die vier-en-twintig ouderlinge in Openbaring 4 roep alle geskape dinge dit uit: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape (Openb. 4:11).

En tog, gemeente, is ons nie klaar wanneer ons dít gesê het nie; daar is nog meer om te sê. Dit lyk asof die saak dalk effens komplekser is as wat ek dit sopas gestel het. Want nadat artikel 12 in sy algemeenheid gewys het dat alle geskape dinge die doel het om die Skepper te dien, lees ons vervolgens dat die skepping deur God onderhou en regeer word om die méns te dien. Hoekom? Sodat die méns sy Gód kan dien! Dus, as mense is óns primêr die dienaars van God! Godsdiens – die diens aan God – is heel eerste iets van die mens, is heel eerste ‘n menslike aktiwiteit (ons sal in die tweede punt weer daarop terugkom). Maar, en dit is die fokus van hierdie eerste punt, om ons daarin by te staan, om ons van al die nodige te voorsien om God te kan dien, stel God die skepping tot ons beskikking. Die res van die geskape werklikheid dien God deurdat dit die mens dien. Ja, alles in die wye skepping staan in diens van die mens. “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see” (Ps. 8:7-9).

 

Wat ‘n weelde, gemeente! Elke geskape ding – groot en klein – staan in my diens om my te help met my Godsdiens. Dit is die orde wat die Here bepaal het, ook al lyk dit vir ons ondenkbaar: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens…?” Ja, wie is ek as ek myself plaas binne die uitgestrektheid van die melkweg-stelsel? Wat beteken ek as ek gekonfronteer word met ‘n 10 meter hoë aanstormende tsunami-golf? Wat kan ek doen wanneer ek met ‘n haai in die see te doen kry? En tog het die Skepper van dit alles gesê: “onderwerp dit en heers daaroor…” (Gen. 1:28), want Ek het jou ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en jou met eer en heerlikheid gekroon (Ps. 8:6). Hierdie skeppingsorde mag ons met dankbaarheid van die Here aanneem; Hy het bepaal: die skepping is daar om my te dien, sodat ek my God kan dien.

Nou is dit natuurlik waar dat die sonde geweldig baie gedoen het en steeds doen om hierdie orde omver te gooi. As ons eerlik is, dan herken ons skaars nog die mens van Psalm 8 – hierdie amper-goddelike-wese, hierdie heerser-oor-die-skepping. En tereg – die sonde het ons te veel gedeformeer. En daarom moet ons die mens van Psalm 8 ook nie in onsself soek nie, broers en susters; hierdie mens, soos wat God hom oorspronklik bedoel het, is nie onder sondige mense te vinde nie. Die Nuwe Testament – en in besonder Hebreërs 2 – leer vir ons dat ons die mens van Psalm 8 in Jesus Christus moet soek; Hy is die vervulling van Psalm 8; Hy is die Een wat die sonde oorwin het en die mens geword het wat ons veronderstel was om te wees. En hoe het Hy nie tydens sy lewe op aarde vir ons gewys wat dit beteken dat die skepping in diens van die mens staan, sodat die mens sy God kan dien nie – hoe het Hy dit nie gewys die dag toe Hy die wind en die see stil gemaak het, toe Hy op die water geloop het, toe Hy die brood vir die skare vermeerder het, toe Hy ‘n afgekapte oor genees het, toe Hy die water in wyn verander het nie. En natuurlik kon Hy dit doen, omdat Hy ook God was. Natuurlik het sy Goddelike natuur Hom in staat gestel om die skepping op ‘n bo-natuurlike manier te gebruik. Dis waar. Maar die beginsel het in elk geval duidelik na vore gekom in sy lewe: die skepping het in diens gestaan van hierdie nuwe mens, wat die Vader na die wêreld gestuur het.

 

Maar, gemeente, ons hoef onsself nie vas te kyk op hierdie Góddelike en bo-natuurlike gebruik van die skepping nie. Daar is ook ander, eenvoudiger voorbeelde in die lewe van Jesus, soos die een waarvan ons gelees het in Markus 2. U ken die verhaal – Jesus en sy dissipels is een sabbatdag op reis. Dit is nie maar net ‘n ontspannende Sondagmiddag-wandeling nie; nee, Jesus en sy dissipels verrig Koninkryksdiens. Wanneer die dissipels tydens die reis honger word, pluk hulle van die koringare, vryf die korrels uit en eet dit op. En hierteen rig die Fariseërs nou hulle pyle: “… waarom doen hulle wat op die sabbat nie geoorloof is nie?” Nadat Jesus die Fariseërs eers gewys het op die geval van Dawid wat van die toonbrode geëet het – iets wat ook nie toelaatbaar was nie, maar wat die priester op daardie oomblik wel wettig geag het – trek Jesus hierdie algemene konklusie: “die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” Jesus herinner die Fariseërs aan die tyd in Genesis 1 en 2 toe die sabbat gemaak is. Nadat God op die sesde dag die mens, man en vrou, gemaak het, het Hy vervolgens die sewende dag as rusdag geskep. En daaruit trek die Here Jesus die konklusie dat God die mens nie gemaak het as ‘n versiering vir die sabbat nie, maar juis andersom.

Die sabbat was ‘n geskenk vir Adam, die sabbat het in diens van Adam gestaan, sodat Adam des te beter sy God kon dien. En deur geloof in Jesus Christus, die Here van die sabbat, het ons opnuut daardie vrye gebruiksreg verwerf, sodat ook ons ons God kan dien! Dit laat ‘n mens nadink oor ons Sondagsinvulling, of hoe? Het ons slawe van die Sondag en van ons selfgemaakte Sondagsreëls geword? Of is ons in staat om op ‘n aktiewe manier die Sondag – wat ‘n deel is van die skepping wat gemaak is om die mens te dien – om dit in ons diens te neem vir die eer en verheerliking van ons God?

 

En, gemeente, hierdie is maar ‘n enkele voorbeeld; ook los van die Sondag is die beginsel duidelik: ek is nie ‘n slaaf van die skepping nie, maar die skepping staan in my diens. Die skepping staan in diens van die gelowiges wanneer ons geniet van ‘n heerlike stukkie vleis op die kole. Die skepping staan in diens van die gelowiges wanneer ons die vrug van die wingerdstok aan die nagmaalstafel mag geniet. Die skepping staan in ons diens wanneer ons steengroewe het waaruit ons stene kan kap om kerke en christelike skole en universiteite mee te bou. Die bosse van die wêreld staan in ons diens sodat ons papier kan maak waarop ons Bybels kan druk en God se groot dade kan beskryf. Die oliebronne van die wêreld staan in ons diens sodat ek petrol in my motor kan gooi om kerk toe te gaan, bybelstudie toe te gaan en die bejaardes te kan besoek. Geld staan in my diens – en nie ek in syne nie! – sodat ek myself as ‘n goeie rentmeester kan betoon. Alles – so sê Paulus in 1 Korinthiërs 3:22 – alles behoort aan julle! Maar (vervolg hy in vers 23) julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Dit bring ons by ons tweede gedagte: die plek van die mens.

 

2. Wanneer ons sê dat die skepping in diens van die mens staan, dan is dit waarskynlik vir almal duidelik dat die mens ‘n ander posisie het as die res van die geskape werklikheid. En dit blyk ook uit die beskrywing van die skepping in Genesis 1. Van die gras, plante en bome, van die seediere en die voëls, van die vee, kruipende diere en wilde diere word almal gesê dat hulle gemaak is volgens hulle soorte. Of in die woorde van artikel 12: die Here het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms gegee. Maar van die mens word iets ander gesê. Van die mens word nie gesê dat hy volgens sy soort gemaak is nie, maar dat hy na die beeld van God gemaak is – man en vrou (Gen. 1:27). Wat presies daarmee bedoel word, wil ek nie nou bespreek nie, aangesien Guido de Bres nog ‘n hele artikel hieraan gaan wy (artikel 14). Maar in elk geval is duidelik dat die mens in ‘n baie hoër posisie gestel is as die res van die skepping. Ten spyte van die feit dat die olifant my met een trap van sy poot kan doodmaak, is ek nogtans oor hom gestel. Die leeu kan miskien die koning van die diereryk wees, maar ek bly sy koning. Die see kan hoe magtig wees, maar ek word steeds geroep om oor hom te heers.

Maar, gemeente, soos wat ek in die eerste punt alreeds genoem het: al hierdie geskape dinge is gegee om die mens te dien, sodat met die uiteindelike doel dat – die mens sy God kan dien. My koningskap hier op aarde is altyd onderkoningskap voor die groot Koning! Ek is amper ‘n goddelike wese – ja, amper, maar nog nie heeltemal nie. In my hoë posisie bo die res van die geskapene bly ek nogtans ‘n skepsel, wat geroep word om die Skepper te dien. En dít is dan ook die plek van die mens in God se skepping; die mens word, met al die hulpmiddels wat hy ontvang het, geroep om God te dien. Of in die woorde van Sondag 3 van die Kategismus: om God te loof en te prys.

 

As jy nou hierna luister, broer en suster, kan jy jou indink met watter doel die eerste mense voor die sondeval gelewe het? Kan jy jouself voorstel waarna hulle gestreef het? Met watter intensie sou Adam en Eva soggens opgestaan het? Dink jy Adam het soggens opgestaan met die gedagte: “O, vandag moet ek baie hard werk, want daardie stukkie tuin moet nog omgespit word”? Dink jy Eva se laaste gedagte wanneer sy saans gaan slaap het, was: “Ag, môre-oggend moet ek alweer vroeg opstaan, want daar wag ‘n klomp werk in die huis”? Dink jy Adam het hom bekommer oor teikendatums en produksiesyfers? Nee, gemeente, Adam en Eva het eenvoudig gelewe om God te loof!

En natuurlik het hulle God geloof in hulle werke, in die manier waarop hulle hul opdrag nagekom het. Maar hulle het nie ópgegaan in hulle werke en daaglikse arbeid nie; dit het hulle nie só opgeslurp dat hulle vergeet het hoekom hulle al hierdie dinge doen nie. Nee, altyd was die besef daar, die fokus op God: ek lewe tot sy eer! En só het hulle ook hulle werk gedoen: Adam het in sy omgang met die natuur en met die diere daarna gesoek om God beter te leer ken; en in die proses om name aan al die diere te gee, het hy sy liefde vir die Here gewys. En so het Eva ook haar werk in die tuin van Eden gedoen – alles tot eer van God! Elke woord, elke daad, elke gedagte op God gerig. Dít is die doel waarvoor God die mens gemaak het, en dit is ook waarvoor Hy hom toegerus het!

 

En dit is ook die tema van Psalm 8. Psalm 8 gaan nie in die eerste plek oor die hoë posisie van die mens nie, ook al lyk dit dalk so. Nee, Psalm 8 gaan oor die lof op God: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde” – dit is die refrein wat hierdie psalm aan die begin en aan die einde as’t ware omarm. Hoe heerlik is u Naam! Ja, heerlikheid – dit is iets wat inherent deel is van God, dit is wie Hy is! My heerlikheid as mens is egter nie iets wat ek van nature het nie; nee, dit is iets wat ek van Hom ontvang het. Kyk maar na vers 6: “U het hom met eer en heerlikheid gekróón.” My heerlikheid as mens is afgelei van die heerlikheid van my hemelse Koning, en die oomblik toe Hy my daarmee gekroon het, het ek die opdrag gekry om Hom daarmee te dien.

Nou, waarvoor leef jy, broer en suster? Dit is geen teoretiese vraag nie, maar ‘n diep persoonlike vraag! Vir jou in jou daaglikse lewe, vir ons in ons gemeentelike lewe. Wat is jou doel in die lewe? Met watter fokus het jy in die afgelope week jou werk gedoen? Met watter doel gaan jy môre jou toets skryf? Stel jouself voortdurend hierdie vraag: waarvoor lewe ek? Hoekom gaan ek nou doen wat ek wil doen? Hoekom gaan ek nou hierdie lelike woorde uiter? Dien ek daarmee God, of dien ek my eie begeerte om iemand seer te maak? Hoekom gaan ek nou hierdie motor koop? Is dit tot eer van God of dien ek daarmee my eie verlange na status? Hoekom besluit ek om vanmiddag nie kerk toe te gaan? Wys ek daarmee liefde vir God, of doen ek dit slegs uit liefde vir myself? Sien u, gemeente, wanneer ons op dié manier na ons lewens kyk, is daar nie ‘n enkele duimbreedte van my lewe wat nie onder hierdie vraag gestel kan word nie. Daar is nie meer een enkele aspek wat nie onder die dwang kom van die vraag: dien ek God, of dien ek myself?

Ten slotte let ons nog op die plek van die engele.

 

3. Het u nie gedink dit is effens vreemd toe ons belydenis in artikel 12 ook nog uitgebreid oor die plek van die engele begin praat nie? Want waar pas die engele nou eintlik in? Wel, om mee te begin, broers en susters, is dit goed om vir mekaar te sê: die engele is geskape wesens (vandaar hulle plek in artikel 12, wat immers gaan oor die skepping van alle dinge). Dit is nie so dat die engele nog maar altyd saam met God bestaan het nie; die engele is nie van ewigheid af by God nie. Nee, hulle is deel van die skepping in Genesis 1. Wanneer hulle presies geskep is? Die Bybel sê nie vir ons nie. Vermoedelik dat ons Genesis 1:1 (“in die begin het God die hemel en die aarde geskape”) ook op die engele kan toepas – immers, daar is ‘n nou verband tussen die hemel en die engele, want die engele is mos in die hemel by God. Die engele verkeer in God se teenwoordigheid.

Nou, as ons aanvaar dat die engele geskape wesens is, dan moet ons ook aanvaar dat die geskape werklikheid waarbinne ons lewe baie meer bevat as net dit wat ons met die blote oog kan sien. Daar is ‘n groter werklikheid agter die sigbare werklikheid. En deel van hierdie onsigbare skepping is ‘n ontsaglike groot aantal engele – daar is cherubs en serafs, daar is die aartsengel Migael, en ander hooggeplaaste engele soos Gabriël. Inderdaad ‘n ryk verskeidenheid wat deur God gemaak is.

 

Vervolgens moes daar êrens tussen die sewende dag van die skepping én die gesprek van die slang met Eva in Genesis 3:1 ‘n sondeval in die engelewêreld plaasgevind het. Die engele was, net soos alle ander geskape dinge, immers goed en sonder sonde. Wanneer ons in Genesis 1:31 lees: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed”, dan sluit dit die engele in. Maar wanneer die duiwel vervolgens in Genesis 3 die mens probeer verlei, het daar duidelik ‘n verandering in hierdie sondeloosheid ingetree. En sydelings vertel die Bybel ons ook hiervan. Dink byvoorbeeld aan wat ons lees in Judas :6: “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.” En ook in 2 Petrus 2:4 lees ons van die engele wat gesondig het.

Dus, gemeente, ons dink dalk nie so daaroor nie, maar die sonde het nie in Genesis 3 begin nie, maar reeds daarvoor; en dit het ook nie hier op aarde begin nie, maar in die engelewêreld. Die satan – self ‘n engel! – het ‘n deel van die engeleryk tot afval verlei. En dit lyk asof hoogmoed aanleiding gegee het tot hierdie afval; as ons byvoorbeeld 1 Timotheus 3:6 lees (waar daar van ‘n ouderling gesê word: “hy moet nie ‘n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie”) dan wil dit voorkom asof die duiwel nie tevrede was met die posisie wat God aan hom toebedeel het nie, en daarom het hy ‘n klomp engele verlei om saam met hom teenoor God te gaan staan. En dit is presies dieselfde argument waarmee hy Eva ook verlei het: “God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees…” (Gen. 3:5). Die satan wou soos God wees, en sodoende het die sonde in die hemel begin; hy het vervolgens Eva aangehits om soos God te wil wees, en sodoende het die sonde op die aarde deurgedring. En tot vandag toe is die duiwels en bose geeste vyande van God sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes (NGB, art. 12). Laat ons daarvan bewus wees, broers en susters, dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly (Ef. 6:10 e.v.).

 

Maar, gemeente, daar was ook ‘n groot aantal engele wat getrou gebly het, wat bly staan het in die posisie waarin God hulle gemaak het. En daardie posisie is om ons, mense, te dien. Dit is die belangrikste wat ons van die engele moet weet. Moenie nuuskierig allerhande vrae oor die engele stel nie, maar aanvaar eenvoudig wat die Skrif ons leer in Hebreërs 1:14: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid beërwe nie?” Wonderlik, nie waar nie? Selfs die hemelwesens staan in ons diens! En dit is ‘n baie gevarieerde diens. Hulle is, byvoorbeeld, die bringers van die goeie boodskap van Christus se koms aan Maria, Sagaria en Elisabeth. Hulle is daar wanneer die kerk in Handelinge bedreig word deur vervolging – dink aan Petrus wat deur die engel uit die gevangenis gelei word. Die engele waak vir ons heil, hulle neem verantwoordelikheid vir ons beskerming, hulle stry teen die bose magte, hulle lei ons weë en dra sorg dat geen kwade dinge oor ons kom nie. En hulle doen dit alles deur die tussenkoms van ons Middelaar, Jesus Christus. Deur Hom is die engele in die hemel met die gemeente verbonde, en die gemeente met die engele.

Beteken dit nou dat elkeen van ons ‘n individuele beskermengel het? Dit is ‘n baie geliefde siening, veral in die Roomse Kerk, maar word nêrens vanuit die Skrif ondersteun nie. Inteendeel, die Bybel leer ons iets wat nog baie ryker is – ons het nie net ‘n enkele beskermengel nie; nee, ons het deur die werk van Christus legioene engele tot ons beskikking. In hulle duisende en miljoene staan hulle gereed om tot ons hulp te kom. Soos wat ons lees in Psalm 91: “God sal sy engele aangaande jou bevel gee  om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klim stamp nie” (Ps. 91:11-12).

 

Gemeente, in die geskape wêreld staan werklik alles in ons diens, selfs die hemelse engele. En dit alles sodat ons met soveel meer ywer en dankbaarheid ons God sal dien. Prys Hom vir sy goedheid daarin. Prys Hom omdat alles in diens staan van sy kinders. Laat alles in die hele skepping die Here prys! Of in die beryming van Psalm 145: “Daarbuite juig, gehoor en ongehoor, sy kreatuur – ‘n ganse skeppingskoor. Maar bo hul uit weerklink ‘n ander prys: Gods gunsvolk sing sy roem op klaarder wys, dat elke volk kan hoor die groot gerug van heerskappy wat wegdreun deur die lug.” Amen.

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 91:5-8

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 148:1 en 4

Gebed

Teks: NGB, artikel 12

Lees:    Psalm 8

Markus 2:23-28

            Hebreërs 1:1-14          

Sing Ps. 8:1-3

Preek

Amenlied Ps. 103:10 en 11

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 8:4-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)