Die lewe maak slegs sin as ons tevrede leerlinge is in die skool van Christus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-07-10
Teks: 
NGB 13
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 13; lees Romeine 8:18-39

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Ons glo dat die goeie God [alles] so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie…” Die goeie God – ja, maar ek ervaar nie altyd dat God so goed is nie! Hoe moet ek bely dat God goed is, wanneer ek al vir maande lank sonder werk sit? Hoe moet ek hierdie belydenis my eie maak wanneer daar, deur die toedoen van ander, soveel onreg in my lewe en in ons land plaasvind? Hoe kan ek praat van die goeie God wanneer die lewe vir my net nie meer sin maak nie? Wanneer ek my man of my vrou of my kind aan die dood afgestaan het? Wanneer ouderdom my laat verlang na die dood? Wanneer ons huwelik op die rotse is? Wanneer ek nie liefde in my lewe vind nie of wanneer ons-twee nie kinders kan kry nie? Wanneer ek oorwerk is en nie ‘n oomblik rus kry nie? Wanneer mense my nie verstaan nie, of my laat voel asof ek niks werd is nie? Wat is so goed daaraan?

Dit is werklike vrae, gemeente. Die praktyk van my lewe kan my laat twyfel aan die goedheid van God. En as my eie lewe dit nie doen nie, dan hoef ek net om my heen te kyk na ander mense se lewens. Dan hoef ek net die koerant te lees of ‘n paar minute nuus te kyk, om my te laat wonder: is God werklik so goed in sy bestuur van alle dinge? En só ontstaan die bekende teenstelling, wat as een van die hoofargumente teen die christelike geloof aangevoer word: óf God is goed, maar dan is Hy nie in beheer nie; óf God is in beheer, maar dan is Hy nie goed nie. Die praktyk van die lewe laat, vir ons gevoel, eenvoudig nie beide toe nie!

 

Maar, gemeente, is die praktyk van die lewe die norm? “Wel, dít is waardeur ek elke dag moet worstel!”, sal jy miskien sê. Dit is waar, en niemand van ons wil beweer dat jou swaarkry nie so swaar is nie, en dat jou seer nie regtig so seer is nie. Maar ons moet wel eerlik vir mekaar sê dat die praktyk van die lewe nie die volle verhaal vertel nie, dat die praktyk van die lewe ‘n eensydige prentjie skets. “Ja, maar die lewe het my geleer…” Wel, dalk het die lewe jou verkeerd geleer, dalk was jy op die verkeerde leerskool. Dalk is dit tyd dat jy en ek saam terug skool toe gaan om opnuut geleer te word. Kom ons doen dit vandag…

Tema: die lewe maak slegs sin as ons tevrede leerlinge is in die skool van Christus! (die tema is afgelei van hierdie woorde uit art. 13: “Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar…”)

  1. God se leerplan is uitkomsgebaseer
  2. God se leermetode is praktykgerig

 

1. Gemeente, met die inleiding het ons sommer aan die diepkant ingespring van die vraag oor God se voorsienigheid. Maar miskien moet ons vir ‘n oomblik daar uitklim. Want as mens nie kan swem nie, dan verdrink jy sommer maklik aan die diepkant. Dan verdrink jy in die vrae wat die praktyk van jou lewe meebring. Voordat ons dus verder praat oor die goeie en die kwade in ons lewe en hoe ons daarmee moet omgaan, kom ons dink eers na oor God se plan vir ons lewe. Kom ons kry eers die volle prentjie van God se plan. Want wat is nou eintlik God se doel vir jou lewe? Of om maar by die onderwys-taal te bly: wat is sy leerplan? En watter uitkomste wil Hy uiteindelik bereik? Waarheen is Christus oppad met die leerlinge wat by sy skool ingeskryf word?

Nou, daaroor praat ons Skrifgedeelte vir vandag, en in besonder verse 28-30. Ek stem saam, Paulus se bewoording is hier en daar effens moeilik, maar ek sal probeer verduidelik. Kom ons begin by vers 28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” Daar gebeur dus sekere dinge in die lewens van God se kinders, maar – sê Paulus – sien dit in die lig van God se voorneme. Nou, seuns en dogters, God se ‘voorneme’ beteken eenvoudig ‘God se plan’ of ‘God se doel’. Wanneer God sekere dinge op mense se lewenspad plaas, dan val dit binne die groter plan wat Hy met hulle het. En daardie plan dateer al van voor die skepping, want – sê vers 29 – God het mense ‘vantevore’ geken en ‘vantevore’ verordineer. God het dus alreeds vantevore ‘n doel vir die mens vasgestel. God het voor die skepping alreeds ‘n plan vir jou en my gehad. In Christus se skool is daar ‘n vooraf-opgestelde leerplan met baie spesifieke uitkomste.

 

Maar goed, wat is dan God se plan? Wel, in vers 29 staan dat God ons vantevore verordineer het – bestem het – om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Dit beteken dus dat ons in ons doen en late, in alles wat ons sê en dink en doen, sal begin lyk soos die Here Jesus. Dit is God se plan. Ja maar, hoekom wil God hê dat ons soos die Here Jesus sal begin lyk? Wat is die sin daarvan? Die antwoord hierop staan in die volgende deel van vers 29: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat (daar het jy nou die einddoel!) Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.”

Seuns en dogters, dink gou saam met my hieroor na… Julle weet dat God een Seun het. Dit is die Here Jesus. Net soos God die Vader, is hierdie Seun ewig. Dit beteken dat Hy nog altyd daar was en ook altyd daar sal wees. Toe die aarde nog nie bestaan het nie, was God daar, en die Seun en die Heilige Gees ook. En dit was toe – voordat God die wêreld en die mense daarop gemaak het – dit was toe alreeds dat God sy plan gereed gekry. En wat was daardie plan? Hy wou aan sy een, ewige Seun broers en susters gee! Hy wou een groot familie skep, ‘n nuwe gesin, met sy Seun as die eerste en die belangrikste. Dit is wat vers 29 sê: “sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.” So, dít is waarom God die wêreld gemaak het. Dít is waarom God mense gemaak het, ook vir jou en vir my. Dit is God se plan vir die wêreld. Hy wil uit liefde vir sy eie Seun ‘n groot en heerlike gesin maak, Hy wil broers en susters gee vir sy een Seun. Saam met Jesus Christus is ons kinders van God die Vader!

 

Maar natuurlik… ons weet dat daar, ná die skepping, sonde in die wêreld gekom het. Kinders van die Vader het willens en wetens besluit om kinders van die duiwel te word. Maar ondanks die sondeval en alle sonde wat daar is, hou God steeds vas aan sy plan. Sy plan, sy raad word nooit gekeer nie, dit sal bestaan in ewigheid – só sing ons mos in Psalm 33. Ook al verset die duiwel homself daarteen, ook al verset mense hulleself daarteen – God bly by sy plan, wat ook al gebeur.

Maar dit beteken wel dat God ‘n groot taak op hande het – Hy moet nou van sondige mense soos jy en ek weer broers en susters van Jesus Christus maak. Dit is ‘n groot werk. God sou ook kon besluit het om eenvoudig heeltemal nuwe mense te maak. Maar Hy het in sy goedheid en in sy liefde besluit om te werk met wat Hy het, om sondige mense te red en hulle so tot sy kinders aan te neem. Hy het besluit om sondige mense in ‘n gesin saam te snoer en so tot broers en susters  van die Here Jesus te maak. En dit is waarom Jesus Christus mens geword het en aan die kruis gesterf het.

 

En nou is die wonderlike nuus vir jou: toe jy gedoop is, het God vir jou gesê: “jy mag ook my kind wees, jy mag ook ‘n boetie of sussie van die Here Jesus wees! Ook al is jy sondig, ook al doen jy soms slegte dinge – Ek wil met my Heilige Gees in jou woon en van jou ‘n nuwe mens maak. ‘n Mens waaraan jyself én ander kan sien dat jy ‘n broer of suster van die Here Jesus is.” Dit is presies wat ons in vers 29 lees, nie waar nie: “dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” En dit beteken, soos ek reeds gesê het, dat God wil hê dat jy en elkeen van ons soos die Here Jesus sal begin lyk.

Dít is God se plan! Vir daardie doel het Hy alle dinge gemaak. Dit is waarheen God oppad is met ons. En as ons dit verstaan, dan pas ook vers 30 mooi in: om ons by daardie einddoel te bring, het God ons geroep. Hy het ons geroep met die evangelie, en Hy roep ons elke keer wanneer die evangelie verkondig word. Hy roep ons nou, deur middel van hierdie preek. En elkeen wat die evangelie met ‘n ware geloof aanneem, het Hy vervolgens ook geregverdig, sê vers 30. ‘Geregverdig’ beteken dat God ons ons sondes vergewe het deur die bloed van Christus, en ons in die regte verhouding tot Homself geplaas het. En elkeen wat geregverdig is, só vervolg Paulus, die word deur God ook verheerlik. In vers 30 klink dit asof die verheerliking alreeds plaasgevind het, asof dit alreeds ‘n feit is. Maar ons moet dit só verstaan dat ons die verheerliking in beginsel alreeds ontvang het; dit is ons s’n. Die volle realisering daarvan moet egter nog kom by die wederkoms en die vernuwing van alle dinge.

Nou ja, hier het ons in ‘n neutedop die leerplan wat in die skool van Christus gevolg word…

 

Maar, nou wonder u miskien: wat het dit alles met artikel 13 te make? Wel, gemeente, God wil hê dat ons hierdie groter prentjie moet raaksien, voordat ons kan verstaan wat dit beteken dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk. Ons mag nie vasgevang raak in die tonnelvisie wat die lyding van die teenwoordige tyd meebring nie; ons moet leer raaksien dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (Rom. 8:18). En daarom dat Paulus, nadat hy in die begin van vers 28 verkondig het dat alles ten goede meewerk, vervolgens in verse 29 en 30 vir die gelowiges die vensters oopgooi van God se groot plan. God wil hê dat ons moet sien dat Hy met ‘n duidelike plan en doel in ons lewens aan die werk is. Dit is ‘n verlossingsplan wat spreek van een en al genade en barmhartigheid en vrede vir sondige mense. Dit is ‘n verlossingsplan wat strek tot oorkant die grense van die dood. En dit is ‘n plan wat vasstaan, ‘n plan wat nie deur my en jou sondigheid gepootjie kan word nie. Hierdie plan sal sonder enige twyfel sy einddoel bereik, want in die leerskool van Jesus Christus word uitkomsgebaseerde onderrig gegee: die God wat jou geroep het, Hy het jou ook geregverdig; en die God wat jou geregverdig het, Hy sál jou ook verheerlik.

Broers en susters, klou aan hierdie heerlike en rotsvaste boodskap vas; laat hierdie boodskap jou help om die lyding van die teenwoordige tyd in die regte perspektief te plaas. Ons is so geneig om in te ‘zoom’ op die lyding van die teenwoordige tyd, en dan sê God: “’zoom uit’! Kyk na die groter prentjie; Ek gee vir jou perspektief!” En luister nou weer na die begin van artikel 13. Luister, met al jou seer en al jou bekommernisse; luister, met al jou swaarkry en lyding: “ons glo dat die goeie God…” Die goeie God – met die perspektief wat God sopas in Romeine 8 vir ons oopgemaak het, kan ons dít bely: Ja, God is goed! In die wyer prentjie van sy plan met my lewe, sien en beleef ek sy onbeskryflike goedheid, en kan ek saam met die digter van Psalm 73 sing: “Voorwaar, God is vir Israel goed, vir wie opreg is van gemoed. Gods weg kan nooit so donker wees nie, dat Hy nie sorg vir wie Hom vrees nie.” Dit is die geloofsperspektief wat God vir sy kinders open. “Maar ag – só kla die digter van Psalm 73 vervolgens, én ons dikwels ook – maar ag, hoewel my siel dit weet, tog het my voet haas in my leed gewankel, en dit was vir my so donker dat my voet wou gly.”

En daarom moet ons in die tweede plek ook iets weet van God se leermetóde. Ons ken nou sy leerplán, dit wat Hy met ons wil bereik, maar nou moet ons ook verstaan hóé Hy daarby uitkom. Sy leermetode is naamlik praktykgerig. Dit is ons tweede gedagte…

 

2. Gemeente, nóú kan ons maar aan die diepkant inspring. As ons leer swem in die waters van God se grootse plan met ons, dan kry ons ook krag om aan die diepkant van die lewe te kan swem. As ons ons goeie God kan bely omdat ons vanuit sy Woord sy uitkomsgebasseerde leerplan leer ken het, dan kan ons ook sê dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk (Rom. 8:28). As ons deur die geloof verseker is van die einddoel van ons lewe, kan ons ook die weg daarhéén in geloof aanvaar.

 

Let wel, in geloof! Want dit is geen maklike weg nie. Inteendeel, dit is dikwels ‘n baie moeilike weg. Vra maar vir enige persoon in die gemeente, wat in jare al gevorder het, om vir jou iets te vertel van die hartseer wat hulle in hul lewe meegemaak het – die dood, die siekte, die uitdagings in die huwelik, die ongeloof van kinders of kleinkinders, die finansiële dieptepunte, die werkloosheid, die ongelukke, die gestremdheid, ensovoort, ensovoorts. Geen mens ontkom daaraan nie. En die idee is nie om ons almal nou in ‘n depressie in te praat asof die lewe slegs trane en donkerheid is nie. Nee, beslis nie, die lewe het wonderlike tye, daar is soveel om van te geniet. Maar wanneer ons die geheel van die lewe hier op aarde moet beoordeel, dan moet ons saam met Moses in Psalm 90 tot die konklusie kom: “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet…” (Ps. 90:10). Dit is die realiteit; dit is die realistiese, en tegelykertyd bybelse, beoordeling van die lewe op aarde. Die lewe hier op aarde is nie ‘n heerlike vakansie waarvan ons maar net nie wil huiswaarts keer nie; nee, die lewe op aarde laat ons eerder verlang om heen te gaan en met Christus te wees (Fil. 1:23).

As kerk en as gelowiges is ons hier op aarde besig met ‘n pelgrimstog – en natuurlik, ons ken die eindpunt, die nuwe Jerusalem, maar die pad daarheen is vol gevare en slaggate. En so het God dit ook bepaal; meer nog: Hy wou dat ons op dié manier by die eindpunt sou uitkom. Die verlossing deur Christus haal ons dus nie uit hierdie bestaan uit weg nie, dit lig ons nie bo die aardse werklikheid uit nie. Inteendeel, juis in die praktyk van hierdie bestaan oefen God ons in die lewenskuns om met die oog na bo te lewe. Hy het in sy wysheid besluit om ons deur die praktykervaring van die lewe te knie en te vorm.

Hy gebruik daardie siekte wat by jou gediagnoseer is om jou geloof te brei; Hy gebruik daardie ongeluk of misdaad om jou karakter as christen te vorm; Hy gebruik jou egskeiding om ‘n nuwe mens van jou te maak. Pynlik? O, verseker! Verstaan ons alles? Nee, ons bely immers in artikel 13 dat daar dinge is wat God bo die vermoë van die menslike verstand doen. Roep dit vrae op? Sonder twyfel. Het ons antwoorde vir daardie vrae? Dikwels nie. En nogtans bely ons dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar dat alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom.

Gemeente, toe God vantevore sy leerplan opgestel het, het Hy daarmee saam ook bepaal watter leermetode Hy sou volg om sy plan in ons lewens te realiseer. En sy leermetode is praktykgerig; God gee aan sy kinders praktyk-onderrig. Soms baie harde praktyk-onderrig, maar – sê die laaste paragraaf van artikel 13 – deur sy genade kan dit ons geen skade aandoen nie, bedoelende dat ons siele deur alles heen heel bly. Soos Psalm 121 so pragtig sê: “Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.” Jou arms en jou bene en jou oë kan jy verloor, jou werk kan jy verloor, geliefdes kan van jou af weggeneem word – dit is alles deel van God se praktyk-onderrig – maar in dit alles is jou siel, jou werklike lewe, veilig!

 

Maar goed, broers en susters, hoe moet ons dan met die lyding van die teenwoordige tyd omgaan? Wat is die regte christelike houding? Wel, gemeente, ook daarvoor gee Paulus in Romeine 8 vir ons pragtige begeleiding.

Vanaf vers 18 praat hy oor hierdie lyding van die teenwoordige tyd. Die skepping en die gelowiges sug saam onder hierdie lyding. Die skepping sug omdat dit verlang om met nuwe mense, naamlik met God se kinders, gevul te word (vers 19). Tans is die skepping aan sinneloosheid onderworpe (vers 20), en dit is nie waarvoor die skepping oorspronklik gemaak is nie. Die skepping is van nature gerig op lewe en bloei. Die skepping is van nature vol vitaliteit. Maar deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom, en deur die sonde die dood. En daaronder ly die hele skepping tot vandag toe. Maar nie net die skepping sug nie; ook die gelowiges sug. Ook húlle lewe onvrywillig in ‘n sterflike liggaam, en ook hulle ondergaan die pyn van hierdie bestaan. En intussen hoop hulle op die vernuwing van alle dinge. Al sugtende hoop hulle!

Maar hierdie versugting van die gelowiges is geen moedelose gekla nie, gemeente; nee, gelowige versugting is gebed! Vurige gebed tot God. Dít is die regte houding te midde van die lyding van die teenwoordige tyd. Gebed – die geroep tot God. En die wonderlik nuus wat Paulus gee, is dat die gelowiges nie alleen sug nie. Nee, die Gees sug saam met ons: “net so ook kom die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (vers 26). Ja, as gelowiges bid ons wel tot God en gebruik ons ook ons woorde na die beste van ons vermoë, maar tog ontbreek daar by ons die insig om die hede en die toekoms reg te kan inskat. Te midde van ons lyding weet ons nie altyd mooi waarvoor ons presies moet vra nie. Ons tas in die duister. Moet ek, as ek byvoorbeeld ernstig siek word, bid vir genesing, of eerder vir krag om te volhard, of vir genade dat ek nie te lank sal ly nie??? Maar Paulus bemoedig ons met die werklikheid dat die Gees saam met ons bid, en dat Hy selfs bo ons uitstyg met sy alwetende gebed. Ons swak gebede staan in die beskutting van sy geheime en goddelike gebed. Gelowige christene lewe onder die beskuttende dak van die Gees se volmaakte gebed tot God, wat as’t ware agter hulle rug gebid word, maar wat wel in hulle eie harte opklink en daar deur God aangetref word.

 

Ja, gemeente, deur sy Gees vou God ons toe in sy liefde. Enersyds die liefde wat van bo-af kom in die evangelie van Jesus Christus, maar andersyds die liefde wat van binne ons opstyg tot God, deur sy eie Gees. So word ons opgevang in ‘n net wat ons omsluit en oplig tot ‘n lewe in die nabyheid van God (Van Bruggen). En so kan ons ook bely: “ons wéét – ag, en dit is soms so moeilik om dit te sê, maar nogtans… - ons wéét dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk.” En ons kan te midde van hierdie ‘alles’ – wat dit ook al mag wees, goed of kwaad – te midde van dit alles kan ons die lied van oorwinning sing: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees? … Wie sal ons skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? … Ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom. 8:31-39).

Die almag en die genade en die liefde van ons Here Jesus oorstyg alle dieptes van die skeefgegroeide en ontwrigte skepping. Ons kan nie onsself staande hou nie; nee, dit is Christus wat sorg dra vir die geroepe gelowiges. Sy liefde waak oor ons, dra ons, en tel ons op. Wees hierdeur bemoedig, gemeente. Wees hierdeur sterk en vol moed!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 44:5-9

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 124:3 en 4

Wetslesing (kom ons luister met nuwe ore na die wet van die Here, die wet van vryheid! En dan sing ons daarna van hierdie vryheid, hoe God kinders van die dood gered het, uit Ps. 102:8+9)

Sing Ps. 102:8 en 9

Gebed

Lees: Romeine 8:18-39 (met spesifieke aandag vir verse 28-30)

Kollekte

Sing Ps. 62:7 en 8

Teks: NGB, art. 13

Preek

Amenlied Ps. 73:1, 5, 6 en 7

Gebed

Slotsang Ps. 73:9 en 10

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Votum en seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 124:3 en 4

Gebed

Lees: Romeine 8:18-39 (met spesifieke aandag vir verse 28-30)

Kollekte

Sing Ps. 62:7 en 8

Teks: NGB, art. 13

Preek

Amenlied Ps. 73:1, 5, 6 en 7

Gebed

Geloofsbelydenis (ek sal dit voorlees)

Slotsang Ps. 73:9 en 10

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)