God se linkshandige regterhand bring Israel tot die regte offer

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-09-11
Teks: 
Rigters 3:12-30
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 3:12-30; lees Rigters 3:7-31, Kolossense 3

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

In ons behandeling van die boek Rigters het ons eers twee algemene en inleidende gedeeltes teëgekom (hoofstuk 1:1-2:5 en daarna hoofstuk 2:6-3:6). Maar nou het ons gekom by, wat algemeen bekendstaan as, die ‘rigter-siklus’. Die rigter-siklus is dié gedeelte van die boek wat strek vanaf hoofstuk 3:7 tot aan die einde van hoofstuk 16, en wat gekenmerk word deur ‘n steeds terugkerende siklus van gebeure. En hoe lyk hierdie siklus? Wel, hierdie siklus begin deurgaans met die negatiewe evaluasie: “En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE…” Vervolgens hoor ons dat die Here hulle verkoop of oorgee in die hand van een of ander vyandige koning. Daarna hoor ons die volk se hulpgeroep: “En die kinders van Israel het die HERE aangeroep…” In antwoord daarop verwek die Here dan ‘n rigter om sy volk te verlos en die vyandige nasie te onderdruk. En uiteindelik kry ons nog die afsluitende formule: “en die land het x aantal jare gerus.” Dit is die patroon wat telkens in hierdie rigter-siklus na vore kom: die volk se verval, die Here se straf, die volk se hulpgeroep, die Here se redding, en uiteindelik… vrede. Totdat… ja, totdat die volk weer in afgodery verval en die siklus homself herhaal.

Nou goed, gemeente, die eerste siklus waarmee ons te doen kry, is die siklus van die rigter Otniël in hoofstuk 3:7-11. Dit is ‘n baie kort siklus, sonder enige uitgebreide informasie. Saaklik, amper droog. Ons kan sê: hierdie eerste siklus dien as’t ware as die model-voorbeeld van hoe al die ander rigter-siklusse verloop het. Die tweede siklus – ons teks vir vandag! – is egter ‘n perd van ‘n heeltemal ander kleur: hier kry ons wel dieselfde patroon, maar die bykomende inligting wat deur die skrywer verskaf word, maak hierdie siklus allesbehalwe saaklik en droog. Inteendeel, hierdie siklus is op een slag fasinerend, lagwekkend, grillerig en tragies. Wat moet ons met hierdie merkwaardige verhaal doen?

 

Tema: God se linkshandige regterhand bring Israel tot die regte offer…

 

God se linkshandige regterhand – dit is my beskrywing van die rigter Ehud. Immers, hy word deur die outeur beskryf as ‘n man wat links was (vers 15). Linkshandig dus. En interessant, dit lyk asof linkshandigheid kenmerkend was van die stam van Benjamin, die stam waarvan Ehud deel was. Ons lees naamlik in Rigters 20:16 van sewehonderd uitgesoekte manne uit Benjamin wat links was; hulle almal het met ‘n klip op ‘n haar geslinger sonder om te mis. En in 1 Kronieke 12:2 vind ons wéér ‘n klomp linkshandige (of eintlik: dubbelhandige) Benjaminiete. In ‘n tyd toe linkshandigheid as onnatuurlik en vreemd beskou is, was daar ‘n algemene voorkoms daarvan in die stam van Benjamin. Dit is eintlik ironies, want die naam ‘Benjamin’ beteken letterlik: ‘seun van my regterhand’. Dus, linkshandigheid was kenmerkend by die nageslag van die regterhandskind, Benjamin. En só word ons voorgestel aan Ehud – God se instrument om sy volk te verlos, God se regterhand (die Benjaminiet), maar wat sy linkerhand gebruik het om die vyand om die bos te lei.

Die vyand – ja, gemeente, dit was weer sulke tyd. Israel het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. En daarom het die Here hulle ‘n teiken gemaak van Eglon, die koning van Moab. Eglon het vervolgens die Ammoniete en die Amalekiete se hulp ingeroep om Israel te verslaan. Dus, hierdie drie volke: die Moabiete, die Ammoniete en die Amalekiete – en al drie was broedervolke van Israel. Die Moabiete en die Ammoniete was direkte nakomelinge van Lot, Abraham se neef. En die Amalekiete was weer direkte nakomelinge van Esau, Jakob se broer. Israel word dus deur sy eie ‘familie’ verslaan en onderdruk. Dit moes pynlik gewees het. En wat selfs nog pynliker moes gewees het, was dat Eglon by sy oorwinning oor Israel die Palmstad in besit geneem het – die Palmstad was Jerigo. Daardie eerste landmerk van Israel se inname van die beloofde land, daardie baken dat God vir sy volk stry, is nou weer terug in die hande van die heidene. Agtien jaar lank word die volk aan Eglon, die koning van die Moabiete, diensbaar gemaak.

 

Nou, gemeente, deel van hierdie diensbaarheid het behels dat die volk op ‘n gereelde basis, waarskynlik eenmaal per jaar, belasting aan Eglon moet betaal. Ja, ons vertaling praat van ‘belasting’, maar die woord wat in die Hebreeus gebruik word, beteken letterlik ‘offer’ of ‘offergawe’. En dit sal goed wees as ons dáárdie betekenis in ons agterkop hou, en u sal later agterkom hoekom. Die volk moet elke soveel tyd aan Eglon, ‘n heidense koning, ‘n offergawe oorhandig; hulle moes van hulle besittings aan hom gaan offer. Vernederend! Onaanvaarbaar vir die volk van God.

Hierdie keer word Ehud deur die volk afgevaardig om die offergawe aan Eglon te gaan oorhandig. Uit die feit dat Ehud ‘n hele span manne saam met hom neem (vers 18), kan ons aflei dat hierdie offergawe waarskynlik uit natuurlike produke bestaan het, miskien ‘n deel van die oes wat sopas ingesamel is. Wat die geval ook al mag wees, Ehud is die man om hierdie keer die offer vir Eglon te gaan aanbied. En dit doen hy dan ook, oënskynlik met oorgawe en onderdanigheid. En nadat hy dit afgehandel het, vertrek hy en sy manne weer.

Máár, broers en susters, oppad terug draai Ehud om. Hy laat sy manne teruggaan huistoe, maar self keer hy terug na die koning. En dit is opmerklik wáár hy presies omdraai. Vers 19 vertel vir ons dat hy omgedraai het by die gesnede beelde wat by Gilgal was. Gilgal – net soos Jerigo was dit ‘n besondere landmerk. U onthou miskien nog dat Josua, nadat die volk deur die Jordaan getrek het, twaalf klippe uit die Jordaan laat optel het en dit by Gilgal opgerig het as ‘n herinnering aan die feit dat Israel op droë grond deur hierdie rivier getrek het (só lees ons in Jos. 4:20-23). En daarby, só sê Josua 4:24, was dit ook ‘n teken vir al die volke van die aarde dat die hand van die Here sterk is. Maar… wat het nou gebeur? In Gilgal staan nie meer die twaalf klippe van Josua sentraal nie; nee, daar is nuwe klippe opgerig, gesnede beelde vir die afgode! Die volk Israel het vergeet van die groot dade van die Here en hulle het die gode van die Moabiete begin dien. Die volk Israel het vergeet dat die hand van die Here sterk is, en hulle het hulle krag by ander gode begin soek. Dít was dan ook die rede waarom die Here die volk in die hand van Eglon oorgegee het.

 

Nou, dit is presies wanneer Ehud by hierdie gesnede beelde kom, dat hy in sy voetspore omdraai. Broers en susters, ‘n mens wil nie in die teks inlees wat nie daar staan nie, maar dit is wel ‘n opmerklike keerpunt. En koning Eglon voel dit klaarblyklik ook aan, want hy is onmiddellik die ene ore wanneer hy verneem waar Ehud vandaan kom en dat hy ‘n geheime opdrag vir hom het. Eglon moes sekerlik gedink het: “Dis ‘n boodskap van die gode; immers, Ehud kom sopas van die gesnede beelde vandaan!” En sonder om enigsins verder na te dink oor die gevare vir homself, jaag die nuuskierige Eglon al sy dienaars by die vertrek uit en bly hy alleen met Ehud agter. Hy waag sy lewe om alleen met sy vyand agter te bly, maar hy glo vas dat die gode vir hom ‘n boodskap het.

En op daardie oomblik openbaar Ehud sy ware motiewe. Ja, dis waar, hy kom inderdaad van Gilgal vandaan, maar hy het nie ‘n boodskap van die gode af nie; sy boodskap kom nie van die gesnede beelde af nie. Nee, hy het ‘n woord van God (vers 20), hy het ‘n boodskap van die God van daardie vergete kliphoop in Gilgal, die God van die drooggemaakte Jordaan, die God van die hemel en die aarde. Dít is waar Ehud se boodskap vandaan kom. Gilgal word vir Ehud ‘n keerpunt – die Here wek in hom die ywer om nie meer langer die afgode te dien nie, maar om op te kom vir die sterkte van die God wat Israel op droë grond deur die Jordaan gelei het! Ehud word deur die Here opgewek om nie langer offergawes aan ‘n heidense koning te bring nie, maar om ‘n offer aan die Here te bring!

 

En wat gebeur dan?

Ehud draai vanaf Gilgal om, hy keer op sy voetspore terug na die koning, en hy gaan bring die ware offer wat die Here van hom vra. Vanaf daardie oomblik ontváng Koning Eglon nie meer offergawes van sy onderdane nie; nee, hy word nou sélf die offer! Vir daardie doel het die Here hom so vet gemaak soos wat hy was. Dit is ook waarop Eglon se naam sinspeel – sy naam beteken immers jong kalf of bul. En daar is waarskynlik ook ‘n sinspeling op die woord agol, wat beteken ‘rond’ of ‘vet’. Ja, Eglon het homself dik geëet aan die natuurlike produkte wat Israel elke nou en dan vir hom aangedra het. Maar uiteindelik was dit die Here wat hom voorberei en vetgemaak het! Eglon se naam suggereer dat hy ‘n vetgemaakte kalf is, gereed om geslag en geoffer te word ter wille van die bevryding van Israel.  

Die oomblik wanneer die vetgemaakte Eglon uit sy troon uit probeer opkom om die geheime opdrag aan te hoor, gryp Ehud die geleentheid. Die geheime woord wat hy vanaf God aan koning Eglon moes oordra, is meer as net ‘n woord. Dit is ‘n daad! Ehud bring die swaard, wat hy onder sy klere weggesteek het, skielik met sy linkerhand tevoorskyn. Ja, dít is die misleiding van die linkshandige – normaalweg is die swaard aan die linkerheup vasgemaak om dit dan met die regterhand uit te haal. Maar die linkshandige Ehud het die swaard aan sy regterheup vasgemaak, waar die dienaars van Eglon dit nie sou gevind het wanneer hulle hom ondersoek het nie. In fyn besonderhede beskryf die outeur vervolgens vir ons hoe Ehud ‘n einde maak aan Eglon se lewe. Ehud steek vir Eglon met die swaard in sy maag, sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet om die lem toegesluit en by die wond uitgepeul het (vers 22). En onthou, gemeente: die vet van enige offer was altyd die beste deel – en daarvan het Eglon in oorvloed gehad… Nadat hy Eglon vermoor het, kies Ehud die hasepad. Die lagwekkende verleentheid van Eglon se dienaars, wat gedink het dat die koning besig was om die toilet te besoek, gee aan Ehud die kans om te ontsnap. Wanneer Ehud se dienaars uiteindelik die sleutel gaan haal om oop te sluit, het Ehud lankal spore gemaak.

 

En dan lees ons in vers 26 hierdie opmerklike woorde: “Ehud het ontvlug en die gesnede beelde verbygegaan.” Ons sou kon sê: Ehud laat die afgodediens agter hom. Hy het vir die Here geywer deur die onderdrukker van die volk dood te maak. Nou wil hy ook verder niks met die afgode van die Moabiete te doen hê nie. En hy roep die res van die volk op om dieselfde te doen. Met sy ramshoring roep hy die volk bymekaar, en spoor hy hulle aan: “Volg my, want die HERE gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand” (vers 28). En dan lees ons in vers 29 dat die volk op daardie dag omtrent tienduisend man van die Moabiete verslaan het, almal goedgeboue manne. Goedgebou…? Nee, ons kan baie beter vertaal met ‘geset’ of ‘plomp’. Net soos hulle heer en koning. Hierdie gesette vegters word neergeslaan deur die hande van die Israeliete, net soos wat Eglon neergeslaan is deur die hand van Ehud. Hierdie plomp stryders word geoffer, net soos wat Eglon geoffer is. Ehud het ontvlug nadat hy Eglon doodgemaak het, maar van die Moabiete ontvlug daar nie een nie.

Sien u, gemeente, hoe die Here die hulpgeroep van sy volk beantwoord het? En ons moet goed verstaan: hierdie hulpgeroep was op sigself nog geen teken van berou en bekering nie. Dit was meer ‘n kreet van die volk, ‘n kreet uit hulpeloosheid. Hulle het ‘n koning gedien wat sat was van vraatsug, wat skaars kon beweeg vanweë sy grootte; hulle was onderhewig aan ‘n volk waarvan selfs die stryders plomp en vet was. Maar self het die volk nie die fut gehad om hierdie juk van hulle af te gooi nie; self kon hulle die vryheid nie bewerk nie. En dan verwek die Here  Ehud as rigter – nie om nog meer offers aan die heidense koning te bring nie, maar eerder om self die offer te gaan voltrek in die dood van koning Eglon. En Ehud aktiveer vervolgens die volk om dieselfde te doen met die res van die Moabitiese manskappe. Die dood van die heidense onderdrukkers – dít is die offer wat die Here gesoek het. Daarin wys Ehud en die volk hulle bekering, terug na die Here.

En die land het tagtig jaar lank gerus (vers 30). ‘n Generasie lank gee die Here vrede!

 

 

Sjoe, ‘n fasinerende verhaal. Maar wat moet ons nou hiermee doen? Wat beteken die linkshandige Ehud en die vetgemaakte Eglon vir my lewe van elke dag? Hoe moet ek dit nou konkreet maak wanneer ek môre weer werk toe gaan, of skooltoe gaan, of universiteit toe gaan, of by die huis besig is? Wel, kom ons trek die lyne deur wat ons sopas in die verhaal geïdentifiseer het…

 

Ons, broers en susters, ons is vandag die volk van die Here. Ons is sy volk wat Hy uitgelei het uit die slawehuis van die sonde, die volk wat Hy vir Homself verwerf het deur die kosbare bloed van sy Seun, Jesus Christus. Christus se kruisdood, waarvan ons telkens in die Woordverkondiging hoor en wat ons elke tweede maand saam in die nagmaal vier, is die lewende herinnering aan die sterkte van die Here in ons lewens… deur die werk van die Heilige Gees. Ons het nie meer net kliphope om ons te herinner aan God se groot dade; nee, ons het die lewende verkondiging wat ons oortuig van sy krag! En ons mag elke dag weer léwe vanuit die Here se krag. Dit is daardie krag wat Hy in ons wil werk!

Maar… ervaar ons dit ook so? Ervaar ons die vryheid waarmee God ons in Christus vrygemaak het (kom ons noem dit maar: die vryheid van die beloofde land)? Lewe ons ook werklik in daardie vryheid? Of het ons, terwyl ons bely dat ons christene is, dalk slawe geword van die konkurrensie van die afgodery? Het ons dalk, net soos die volk daar in Gilgal, naas God ‘n plekkie ingeruim vir die dinge van hierdie wêreld? Het ons dalk vir onsself afgode gebou, gesnede beelde, reg langsaan die Woord van God wat ons telkens weer herinner aan sy wonderlike dade? Dit is die kernvraag!

 

En daarom, gemeente, is Paulus se oproep in Kolossense 3 ook so ernstig: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” As julle dan saam met Christus opgewek is… - ons is mos, broers en susters? Ons het mos deur die geloof deel aan Christus se sterwe en opstanding? Maar as dit die geval is, leef dan ook met die oog gerig na bo! En meer nog: maak dan dood julle lede wat op die aarde is. Die ‘lede wat op die aarde is’ – dit verwys na alle sondige begeertes en woorde en dade waarmee die duiwel nog invloed in ons lewens uitoefen. Paulus noem as voorbeelde hiervan in vers 3: hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid. En ‘n entjie verder noem hy ook nog: toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal en leuens (verse 8 en 9).

Gemeente, solank as wat hierdie sondes nog in ons lewens hoogty vier, solank as wat ons nog onder die mag van hierdie sondes staan, só lank is ons nog besig om aan die duiwel belasting te betaal. Elke keer wanneer hierdie sondes in ons lewens kop uitsteek, dan bring ons ‘n offer aan die duiwel, dan lewer ons dienspligtigheid aan hom! Maar dit is mos nie die offer wat die Here van ons vra nie? Die Here wil mos nie sien dat sy kinders slawediens moet verrig en aan ‘n vreemde heer moet offer nie? Nee, die Here vra iets baie radikaals: Hy vra dat ons sal doodmaak ons lede wat op die aarde is. Dat ons sal uitruk die oog wat ons laat struikel, en dat ons sal afkap die hand en die voet wat ons laat struikel (Mk. 9:43-47). Soos wat Ehud vir Eglon doodgemaak het (geoffer het), en die Israeliete daarna die Moabiete doodgemaak het, so moet ons ook doodmaak die dinge waaraan ons dalk nog vreemde offers bring. Ons mag nie vrede daarmee maak dat óns, vrygekoopte kinders van die Here, ook nog elke nou en dan offers aan die duiwel moet bring nie. Nee, maak dood!

 

En ons kán dit doen, broers en susters. Ons kán dit doen, nie omdat ons in onsself so kragtig is nie, nie omdat ons in onsself sulke dapper helde is nie. Nee, ons kan dit doen, omdat God ‘n volmaakte Rigter voor ons uitgestuur het. Ehud is deur die Here as rigter gebruik, maar hy was ‘n sondige rigter, ‘n mens wat met sy linkshandige lis die vyand om die bos gelei het. Maar God het Jesus Christus, die sondelose Rigter, gestuur om die koning van die ryk van die duisternis te oorwin. Christus het die ryk van die satan binnegedring en hom tot niet gemaak, net soos wat Ehud vir Eglon doodgemaak het.

En nou blaas Hy, net soos Ehud, sy ramshoring, die trompet van sy Woord. En Hy sê vir jou en my: kom, volg my, Ek het julle vyande in julle hand oorgelewer. Kom, volg my, en stry teen die sonde in julle lewens, maak dood julle lede wat op die aarde is. Moenie langer aan die duiwel belasting offer nie, moenie langer julle sondige begeertes navolg nie. Maar – soos Paulus in Romeine 12 sê – stel julle liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (Rom. 12:1-2). Bring aan die Here die offer van jou lewe – nie gedeeltelik nie, nie maar net op Sondae of sekere tye van die dag nie. Nee, bring aan die Here die offer van jou hele lewe! En dit beteken dat jy moet doodmaak dié dinge wat nie in so ‘n Godgewyde lewe tuishoort nie.

 

Broers en susters, dit is die oproep van hierdie bisarre verhaal. En dit moet julle – en ons almal – ook aan ons kinders leer. Ja, om die Here te dien is ‘n heerlike vreugde, maar dit is nie ‘n piekniek nie, dit is nie ‘n plesierrit nie. Nee, dit is ‘n voortdurende stryd teen die bose, teen sie sonde in ons lewens. En die doopsformulier sê dit: “ons moet hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanhang, vertrou en liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte; ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur doodmaak en ‘n godvresende lewe lei. En ons het dit ook gebid in die formuliergebed: “Gee dat sy … haar kruis blymoedig sal dra deur Hom aan te hang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde. Laat sy so hierdie lewe, wat tog niks anders as ‘n voortdurende sterwe is nie, deur U beloftes getroos, mag verlaat…”

Die lewe met die Here is ‘n voortdurende sterwe, ‘n afsterwe van die ou mens – ons moet die ou natuur doodmaak. Ons moet doodmaak daardie verkeerde dinge waaraan ons nog offers bring, ons moet afbreek daardie gesnede beelde waarvoor ons nog buig – ons geld, ons aansien, ons sport, ons leuenagtige tong, ons hartstogte, ons begeerlikhede. Ondersoek jou lewe, vind die sondes waaraan jy nog offers bring, en maak dit dood. Volg daarin jou groot Rigter wat die enigste offer van sy lewe gebring het om die duiwel se kop te vermorsel. Stry in sy krag, en weet dan (wat Paulus sê in Romeine 16:20): “die God van vrede sal spoedig die Satan onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle.”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 53:4-7

 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 95:1 en 4

Wetslesing + genadeverkondiging     

Sing Ps. 38:1, 3, 15 en 17

Kort gebed

  • Doopsformulier
  • Doopsbediening en dankgebed
  • Sing Ps. 105:5

Lees:    Rigters 3:7-31

            Kolossense 3:1-7

Teks:    Rigters 3:12-30

Sing Ps. 54:1 en 2

Preek

Amenlied Ps. 97:4, 6 en 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 31:4, 6 en 15

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)