Moenie die hand byt wat jou voed nie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-10-09
Teks: 
Jesaja 58
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Jesaja 58; lees Jes. 58, Joh. 6:48-59

 

Geliefde gemeente, broers en susters,

U het waarskynlik die afkondiging verlede week gehoor dat die kollekte hier aan die nagmaalstafel bestem is vir Diens van barmhartigheid. Dikwels word daar ook nog bygevoeg dat die kollekte vir die nagmaal soos gebruiklik bestem is vir die Diens van barmhartigheid. Soos gebruiklik – hoekom is dit so gebruiklik? Waar kom hierdie gebruik vandaan? Hoekom word daar by die nagmaal altyd vir die diens van barmhartigheid gekollekteer? Wat is die verband tussen die nagmaal van die Here en die diens van barmhartigheid – die liefdesdiens – aan die naaste? Kom ons luister vanoggend na die Woord van die Here en ondersoek hierdie praktyk onder die tema: Moenie die hand byt wat jou voed nie!

 

Gemeente, ons belydenis sê in artikel 35, wat ons saam gelees het, dat Jesus Christus die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om húlle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. In hierdie sinnetjie word sowel die doop as die nagmaal na vore gebring. Die doop is immers die teken en die seël van inlywing in God se huisgesin – dit is ‘n eenmalige gebeurtenis, ‘n kind word mos ook nie twee keer in ‘n gesin gebore nie… En daarom word die doop ook nie herhaal nie. Maar vervolgens word ons binne daardie huisgesin voortdurend gevoed, het ons elke keer weer kos nodig – en daarom dat ons op ‘n gereelde basis die nagmaal vier. Die nagmaal is voedsel vir die siel in die huisgesin van God! Pragtige taal wat die belydenis hier gebruik.

 

Nou, broers en susters, by hierdie maaltyd waar ons as huisgesin van God aansit om gevoed te word, is Jesus Christus ons Gasheer, Hy is die Een wat die voedsel uitdeel. Maar daarby leer die Skrif verder dat Hy ook self die voedsel is; Hy is die kos wat ons eet. Jesus verkondig dit op ‘n besondere wyse aan die Jode in Johannes 6. Hy noem Homself in vers 48 die brood van die lewe. Vir die Jode, wat slegs die mánna geken het, was dit ‘n totaal nuwe gedagte. Die manna was onder hulle bekend as die brood uit die hemel – hoe kan hierdie man nou sê dat Hy die brood uit die hemel is…?

Maar dan wys Jesus aan hulle dat dít wat hulle as wonderbrood beskou het, nog geen léwe geskenk het nie, want – sê Hy in vers 49 – “julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe”. Die manna, wat oorspronklik bedoel was om die onherbergsame woestyn te kan oorleef, kon die mense nie behoed van die dood nie. Dit is egter anders met die brood wat uit die hemel neergedaal het (vers 51). Wie daarvan eet, sal beslis nie sterwe nie! Die brood uit die hemel gaan dus oor lewensbrood, voedsaam tot in die ewige lewe. En hierdie brood – só sê Jesus in vers 51 – is sy vlees. Ja, broers en susters, die hemelse voedsel is ‘n persoon. In die persoon van Jesus Christus ontvang mense die voeding wat hulle nodig het om werklik te kan lewe in God se huisgesin; in die persoon van Jesus ontvang hulle die perfekte dieet vir ‘n gesonde lewe. Meer nog: sonder Hom is daar geen lewe moontlik nie, soos wat Jesus in vers 53 sê: “as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.”

Gemeente, dit is duidelik dat ‘eet en drink’ in hierdie gesprek beeldspraak is van ‘die geloof in Jesus’. Om Hom te eet en te drink, beteken om Hom in die geloof toe te eien (volgens artikel 35). Los van hierdie Jesus is die geloof nie lewensvatbaar nie; meer nog: los van hierdie Jesus is geloof nie eens moontlik nie. Maar wie glo in sy offerdood, wie dus as’t ware sy vlees eet en sy bloed drink, besit ewige lewe.

Nou is dit opvallend om te sien hoe die eet-proses deur Jesus aangedui word. Hy roep naamlik tot drie maal toe – in verse 54, 56 en 57 – die mense op om sy vlees te bly kou. Die Griekse werkwoordvorm vra ‘n voortdurende kou-aksie. Geloof is dus ‘n voortgaande aktiwiteit; geloof is die herkou van mensevleis, maar dan in geestelike sin, naamlik om intensief aan Jesus verbonde te bly, om Hom steeds wéér te omhels. So kan die vlees en bloed van Jesus Christus vir wie in Hom glo werklik voedsel wees wat daardie naam verdien: die eintlike honger van die mens word daardeur stilgemaak, en sy diepste dors word daardeur geles. Deur die voortdurende gebruik van hierdie wonderlike dieet – die vlees en bloed van Jesus – groei daar ‘n blywende gemeenskap tussen Jesus en die gelowige.

 

Gemeente, ons geloofslewe het dus voortdurend voeding nodig. Om een met Jesus Christus te bly tot in die ewige lewe, beteken dat ons altyd maar weer kos nodig het. Maar waar kry ons dit? Wel, Jesus gee daardie noodsaaklik voeding! Hy gee Homself in die Woord wat jy in jou persoonlike lewe mag oopmaak, Hy gee Homself in die Woord wat elke Sondag verkondig word, en Hy gee Homself op ‘n baie spesiale manier in die brood wat ons eet en die wyn wat ons drink aan die nagmaal. Hier aan die tafel voed die Here Jesus ons op só ‘n wyse dat ons dit kan sien en voel en proe. Wanneer ons in geloof van die brood eet en uit die beker drink, dan kry ons ‘n gesonde dieet binne, dan ontvang ons bemoediging en versekering dat Jesus Christus ons Verlosser is – nou en tot in ewigheid. Daar is niks wat ons kan skei van hierdie liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Kom daarom, kom eet en kom drink, kom ontvang die voedsel tot die lewe – verniet! Aan die tafel van hierdie huisgesin is daar genoeg vir almal, kom ontvang dit net!

~~~~~~~~~

Hoeveel het jy beplan om vanoggend vir die diens van barmhartigheid te gee? Dus, hoeveel het jy gedink om, wanneer jy net hierna tafel toe gaan kom, hier in die kollektehouers te sit? Hét jy ooit daaroor nagedink? Of kom ons stel eerder ‘n ander vraag: het jy voor die tyd nagedink oor wat jy vanoggend hier aan die tafel gaan ontvang? Het jy voor die tyd nagedink oor wat op vanoggend se spyskaart is hier aan die nagmaal? Nie? Dan het jy waarskynlik ook nie nagedink oor wat jy hier in die kollektehouers gaan sit nie. Sien u, broers en susters, daar is ‘n direkte verband tussen die barmhartigheid wat ons híér ontvang [wys na brood en wyn], en die barmhartigheid wat ons dáár betoon [wys na kollektehouers]! As jy híér verniet die voedsel tot die ewige lewe uit die hand van die Here ontvang, dan behoort jy ten minste dáár ‘n oorvloedige bydrae te maak vir die voedsel wat dien tot die tydelik lewe van mense wat nie genoeg het nie. Ten minste…

Ja, gemeente, om oorvloedig te ontvang, vra ook om oorvloedig te gee. Christus se diens van barmhartigheid aan die kruis, waarvan jy aan die nagmaal mag eet en drink, eis jou diens van barmhartigheid, hier en in die res van die lewe. Die een vloei uit die ander. En dáárom, broers en susters, is die kollekte aan die nagmaal soos gebruiklik vir die diens van barmhartigheid. Nie soos wat ons dit gebruiklik gemáák het nie – ja, dit natuurlik ook – maar eerder soos wat dit gebruiklik is voor die Here wanneer Hy aan sy kinders verniet die lewe gee!

 

Ons sien iets hiervan in Jesaja 58, wat ons saam gelees het.  In hierdie gedeelte spreek die Here teen diegene wat meen dat hulle die godsdiens heeltemal onder die knie het. Hulle is hiper-korrek in al hulle godsdienstige handelinge, en hulle vertoon graag hulle vroomheid. Maar God is nie beïndruk deur hierdie vertoon nie, want hulle mis die punt. Hierdie mense het naamlik in hulle godsdiens onmenslik geword; hulle is so besig om God te probeer behaag, dat hulle vergeet dat daar mense om hulle heen lewe. En dit terwyl God juis wil hê dat sy liefde vir ons en ons liefde vir Hom moet uitloop in die liefde vir alle mense!

Gevolglik sê Hy ook vir hierdie mense in Jesaja 58:6 en 7: wat Ek soek, is dat julle die verdruktes vry laat weggaan, dat julle elke juk verbreek, dat julle jul brood breek vir hom wat honger het, dat julle ellendiges en swerwelinge in julle huise inbring, dat julle diegene klee wat naak is, dat jy jou nie sal verberg vir familie wat in nood is nie… Want dán – verse 8 en 9 – sal julle lig opgaan in die duisternis en julle donkerheid wees soos die middag. Wat ons dus hier vind, is ‘n oproep van die Here aan sy volk om in die godsdiens die ware menslikheid terug te vind; dit is ‘n oproep om hulle koue, berekende selfbelang te vervang met dade van liefdevolle deernis teenoor die naaste.

 

Gemeente, ons moenie verwag om híér aan die tafel geestelike versadiging te ontvang wanneer ons nie bereid is om dáár in die kollekte weg te gee nie. En ons sien dit in Jesaja 58. Dié mense wat so perfek-godsdienstig-sonder-liefde was, vra immers in vers 3: “Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie?” Sien u, geen geestelike bevrediging nie. En dan vra die Here: “Maar is julle seker dat dít is wat Ek soek? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die Here welgevallig is?”

Teenoor hierdie mense, mag die gelowige wat oog het vir ander, in vers 9 die Here hoor sê: “Hier is Ek!” Die gelowige wat sy siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig, kry die belofte in vers 11 dat die Here hom gedurigdeur sal lei en sy siel sal versadig in dor plekke en sy gebeente sterk sal maak. Daardie persoon sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. Ja, ‘n fontein van water – presies dieselfde beeld gebruik Jesus ook in Johannes 7:38 wanneer Hy sê: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” – en dan dui Hy daar op die Heilige Gees. Dus, gemeente, hy wat in geloof van die brood eet en uit die beker drink, doen dit deur die Heilige Gees, en daardie einste Gees bring die gelowige vervolgens daartoe om self ook ‘n fontein te wees; ‘n fontein wat uitstroom na ander, wat oog het vir ander, wat sorg, wat omgee, wat bewoë is oor die lot van die naaste.

 

Gemeente, laat dit so wees in hierdie huisgesin, dat wanneer ons oorvloedig ontvang ons ook oorvloedig sal uitdeel. En dan deel ons nie slegs uit vir die mense binne die gemeente nie, maar dan soek ons ook daarna om die nood in die wêreld te verlig – die diakonie sal u meer kan vertel oor hoe hulle u gawes gebruik om ook die nood in ons samelewing aan te spreek. Gee in oorvloed aan die diakonie, gee oorvloedig aan die behoeftiges. En ervaar dan die seën van ‘n bevredigende maaltyd: Neem, eet, gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gegee is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes. En as jy geëet het, moenie daarna die hand byt wat jou gevoed het nie. Gemeente, die kollekte aan die nagmaal is soos gebruiklik vir die diens van barmhartigheid.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • Votum: sing Ps. 121:1
  • Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
  • Sing Ps. 71:9, 10, 12 en 14
  • Kort gebed
  • Lees:    Jesaja 58,
    • Johannes 6:48-59
    • NGB, art. 35, par. 1 en 2
  • Sing Ps. 78:8 en 9
  • Preek
  • Sing Ps. 116:2, 5, 7 en 9
  • Lees formulier en die wet
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 87:4 en 5
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 86:2
    • Tweede tafel – Ps. 86:6
    • Derde tafel – Ps. 86:8
  • Voltooi formulier & dankgebed
  • Kollekte
  • Slotsang Skr. 16:4-7
  • Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)