Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek vir biddag – Exodus 16:1-36
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Gee ons vandag ons daaglikse brood – dit is die bede wat die Here Jesus ons gegee het vir die onderhouding van ons lewe hier op aarde, én dit is ten diepste die bede onderliggend aan enige biddag vir gewas en arbeid. Gee ons elke dag ons daaglikse brood, ons eerste lewensbehoefte, vir híérdie dag. Ja, die Here Jesus leer ons om by die dag te lewe. Immers, vandag is die jongste dag, vandag is die nuutste – en moontlik selfs die laaste – toevoeging tot die getal van ons lewensdae. Wat môre gaan gebeur en óf daar ooit ‘n môre gaan wees – dit weet ons nie. En as ek môre oggend my oë oopmaak en die Here tog ‘n nuwe dag aan my lewe toegevoeg het, dan vertrou ons dat die Here ook dán weer vir ons sal sorg.
Dit is die houding wat pas by die christen: dag in, dag uit lewe ons in afhanklikheid van die Here. En dit behoort dan ook ons gebede te stempel – as ons net hierna gaan bid vir gewas en arbeid, vir vrugbaarheid en ons daaglikse werk, vir ons lewensonderhoud in die komende seisoen, dan behoort daarin ons afhanklikheid van die Here na vore te kom vir elke nuwe dag. Ons bid onsself nie luukshede en groot genietinge toe nie, maar ons vra vir die basiese kos, die lewensbehoeftes wat ons vandag nodig het.
En by ons besinning hieroor kan die geskiedenis van Exodus 16 ons baie help. Hierdie bekende verhaal begin deur vir ons te vertel van gebrek onder die volk; die volk is honger. Hulle is skaars twee maande uit Egipte weg, en die kos is op. En dan kom kla hulle hieroor by Moses en Aaron: “Het ons maar in Egipteland deur die hand van die Here gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het” (vers 3). Vervolgens belowe die Here dat Hy brood uit die hemel sal laat reën (vers 4). Teenoor die volk se gebrek, gaan die Here oorvloed gee. Maar dit blyk dat die Here ‘n spesifieke doel met hierdie oorvloed het: die Here wil sy volk hiermee op die proef stel. Kyk maar na vers 4: “Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.” En dit is daardie aspek waarop ons in besonder vanoggend wil let…
Tema: die Here stel sy volk op die proef met oorvloed... Daarby stel ons twee vrae:
- Wat toets die Here?
- Hoe toets die Here?
1. Nou goed, die eerste vraag is: wat toets die Here presies by sy volk? Vir die antwoord hierop hoef ons gelukkig nie ver te soek nie, want vers 4 gee die antwoord baie duidelik: “sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.” Die Here wil dus kyk of die volk hulle lewens sal wil rig na wat Hy vir hulle sê, of nie. En nou moet ons nie dink dat dit vir die Here hier gaan oor ‘n hele reeks uitgewerkte voorskrifte en verordeninge waaraan die volk hulle moes hou nie, want dié was nog nie daar nie. Onthou, ons is nog maar in Exodus 16, ons is nog maar aan die begin van die woestynreis. Eers oor ‘n maand sou die volk by die Sinai aankom; al die wette en voorskrifte van Moses moet dus nog afgekondig word. Maar tog wil die Here by voorbaat alreeds weet of die volk sy voorskrifte sal onderhou: “Ek wil weet of hulle sal doen wat Ek hulle gaan gebied.”
Maar, gemeente, ons moet nog verder gaan. Want dit gaan natuurlik oor meer as net ‘n koue wetsgehoorsaamheid wat die Here by sy volk wil sien. As ‘n kind sy pa of ma gehoorsaam, dan is dit nie maar net ‘n formele pligpleging nie. Nee, dan sê daardie kind iets daarmee. Dan sê hy: “Ek gehoorsaam pa en ma, want ek vertrou hulle; ek reken dat wat hulle vir my sê, reg en goed is.” Gehoorsaamheid getuig dus van vertroue. En wanneer jy as kind ongehoorsaam is, dan sê jy eintlik die teenoorgestelde: “Ek vertrou nie vir pa en ma nie; ek glo nie dat dit wat hulle van my vra, goed is nie.” En so is dit ook hier tussen die Here en sy volk – die Here wil nie net sien dat sy volk uiterlike gehoorsaamheid aan Hom bewys nie, maar Hy wil ook graag sien dat hulle Hom werklik met hulle hele lewe vertrou, dat hulle werklik hulle hele lewe aan Hom toevertrou. En dit sal duidelik blyk uit hulle gehoorsaamheid óf ongehoorsaamheid aan wat Hy van hulle vra. En daarom hierdie toets… Die Here toets die vertroue van sy volk.
En die Here het goeie rede gehad om die vertroue van sy volk op dié manier op die proef te stel. Want was dít nie juis die probleem met die gekla en die gemurmureer van vers 2 nie? ‘n Gebrek aan vertroue! Die volk het vir Moses en Aaron gesê: “Julle het ons uit Egipteland gelei, en kyk nou in watter gemors dit ons laat beland het. ‘n Mens kan nie op julle, of op die Here wat julle verteenwoordig, vertrou nie. Ja, die lewe in Egipte was dalk sleg, maar ten minste het ons daar kos gehad; hier vergaan ons van die honger. Gee vir ons maar eerder ‘n vinnige dood in Egipte en ‘n begrafnis met ‘n vol maag.” Sien u, binne ‘n baie kort tyd het die vertroue op die Here tot nul gedaal, ten spyte van die heerlike verlossing uit die slawehuis van Egipte en die gepaardgaande wonderdade. Die vertroue het verdwyn…
En dan sê die Here: “Goed, Ek sal vir julle kos gee!” Om kos te gee is vir die Here geen probleem nie. Immers, al die wilde diere van die bos is syne, die vee op berge by duisende (Ps. 50:10). En dan gee Hy ook in oorvloed – vleis (die kwartels) waaraan die volk hulleself dik kon eet, en vanaf die volgende dag ook elke oggend brood. Dit was geen moeite vir die Here nie. Hy voed dan die voëls van die hemel en Hy klee die blomme van die veld, hoekom sou Hy nie vir sy volk kon sorg nie? Dit is nie die probleem nie. Máár die vertroue van die volk – dáár lê steeds die probleem! Die Here kan in oorvloed gee, maar kan die volk ook op die Here bly vertrou? Nou, gemeente, om die volk hierin te toets, stel die Here te midde van al die oorvloed aan kwartels en manna wat uit die hemel op hulle neergedaal het, ‘n rantsoen in. Ja, Hy laat brood uit die hemel reën, meer as genoeg, oorvloed… maar vir Israel sê Hy: elke dag moet jy slegs die dagmaat insamel. Elke dag mag jy verniet insamel, maar slegs wat jy vir daardie dag nodig het, niks meer nie.
Probeer jouself dit voorstel – die Here kom na jou toe en Hy sê vir jou: jy mag van vandag af elke dag gratis inkopies gaan doen hier by Pick n Pay in Waverley Plaza. Elke dag, en jy hoef nie ‘n sent daarvoor te betaal nie. Máár met hierdie voorwaarde… jy mag net vat wat jy vir daardie betrokke dag nodig het. Sien jy hoe sentraal die vertroue dan moet staan? Jy moet vertrou dat, net soos wat jy vandag by Pick n Pay gratis jou kos vir die dag gaan haal het, daar môre ook weer kos sal wees, weer gratis inkopies, maar weereens net vir die één dag. En oormôre weer, én die dag daarna, ensovoorts. Dag in, dag uit is jy aangewese op die Here vir wat jy nodig het. Dag in, dag uit moet jy vertrou dat daar vir vandag weer genoeg sal wees, omdat die Here vir jou sorg.
En nou is dit vandag biddag vir gewas en arbeid… Ons vra vir die Here of Hy ons in die komende seisoen sal seën – ons vra dat Hy die gewasse sal seën deur genoeg reën, dat Hy ons arbeid van elke dag sal seën, dat Hy ons skoolwerk sal seën. Dit is ons bede. Maar dit is goed moontlik, gemeente, dat die Here ons in die komende seisoen dalk op dieselfde manier op die proef kan stel as wat Hy Israel op die proef gestel het. Dit is goed moontlik dat Hy ons op die proef kan stel, nie met armoede en tekort nie, maar met oorvloed. Want kom ons wees eerlik: ons het dit goed in ons land. Die meeste onder ons het oorvloed op ons tafels en in ons koskaste. Hoewel sommige dalk mooi na hulle finansies moet kyk, kan ons nog steeds op heerlike vakansies gaan, kan ons nog steeds méér koop as wat noodsaaklik is, kan ons nog steeds merkklere dra. En ons mag dit doen – Paulus leer Timotheus nie verniet dat God ons alles ryklik verleen om te geniet nie (1 Tim. 6:17). En tog leer die Here Jesus ons in die vierde bede om tevrede te wees met wat ons nodig het vir elke afsonderlike dag. Dit is asof die Here te midde van alle rykdom en oorvloed waardeur ons bankrekeninge en ons huise en ons etenstafels gekenmerk word, vir ons sê: kom kry vir jou, kom geniet daarvan, maar onthou… een dag op ‘n slag.
Ja, een dag op ‘n slag… Gemeente, ons ken waarskynlik almal daardie kompetisies waar mense die prys wen om vyf of tien minute lank gratis in ‘n winkel te gaan vat net wat hulle wil hê. En dan sien jy op die televisie hoe hardloop hierdie mense deur die winkel; jy sien by hulle die gierigheid, die houding om te wil gryp en nog meer te wil hê: hoe baie kan ek inpak voordat die tyd om is? En dit is verstaanbaar, nie waar nie – dis mos waaroor die kompetisie gaan? Dit sou mos totaal ongehoord wees as die wenner na ‘n minuut sou ophou en sê: “Dankie, ek het nou vir eers genoeg.”
Nou, jy en ek sit in ‘n soortgelyke bootjie. Ons mag, vanuit God se perspektief, elke dag gratis inkopies doen binne sy geskape werklikheid. Nee, nie omdat ons niks hoef te betaal nie, nie omdat die bestuurder van Pick n Pay ons sommer met ons trollie inkopies daar gaan laat uitstap sonder om te betaal nie, maar omdat alles wat ons kry van God af kom. Selfs al moet ons by die winkel daarvoor betaal, selfs al raak kospryse al hoe duurder, nogtans gee God gratis vir ons wat ons nodig het. Baie belangrik om dit te verstaan: ons betaal die winkel-eienaar, maar ons betaal nie vir God nie. Vanuit God se perspektief is alles gratis! Máár, let wel, Hy stel ons op dié manier ook op die proef: gryp jy vir jouself soveel as moontlik – meer, meer, meer, want ek weet mos nie watter teëslae my môre kan tref nie? Of is jy tevrede met jou deel vir vandag, en vertrou jy dat God ook môre weer vir jou sal sorg? En as ons net hierna vir gewas en arbeid gaan bid, hoe doen ons dit? Doen ons dit as mense wat God wantrou, en daarom gereed staan om te gryp wat ons dink ons nodig het? Of doen ons dit as mense wat hulle volle vertroue op God stel, wat verwag om van Hom te ontvang wat hulle nodig het?
En verstaan my reg: dit beteken nie dat ons huisvrouens elke dag weer opnuut winkel toe moet piekel omdat hulle gister net vir gister kon koop, en vandag weer vir vandag se behoeftes moet kom nie. Nee, natuurlik mag ons beplan. Natuurlik mag ons voorraad opslaan. Maar dit gaan oor ‘n lewenshouding, broers en susters, dit gaan oor ‘n ingesteldheid. Dit gaan daaroor om bewustelik by die dag te lewe – ook al is ek hoe ryk, ook al staan my bankrekening hoe sterk, wanneer môre-oggend aanbreek en ek sit gereed om my toebroodjie of my bordjie pap te eet, dan raak ek stil voor die Here, en ek vra Hom om my en my gesin te gee wat ons vandag nodig het. Dít is tevredenheid met vandag, dít is vergenoegheid sonder om my oor môre te bekommer. Mag die Here dit in ons werk!
En mag ons dit ook aan ons kinders voorleer en voorleef. Ook aan hierdie pasgedoopte babatjie. Hoekom noem ek hom in besonder? Want hy het sopas die belofte ontvang wat ons almal by ons doop ontvang het, naamlik dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik. Die Vader in die hemel het sopas aan Wilhelm belowe dat Hy hom met alle goeie dinge wil en sal versorg. En op daardie belofte mag hy, en ons almal, onsself beroep; daardie belofte vra ons hartlike vertroue. Ek hoef nie myself in hierdie wêreld te laat geld deur soveel as moontlik te gryp nie, want Vader sê vir my: Ek géé vir jou! Laat ons in ‘n uitmergelende en veeleisende verbruikerskultuur ons kinders daarmee troos, bemoedig en grootmaak. Die Here sorg vandag – vertrou Hom ook vir môre!
Ons tweede vraag is: hoe toets die Here?
2. Ons het dus gesien dat die Here sy volk op ‘n rantsoen plaas. Te midde van al die oorvloed wat die Here op hulle laat neerdaal, mag hulle net vat wat hulle vir daardie betrokke dag nodig het. Wanneer hulle dít doen, dan getuig hulle daarmee van hulle vertroue op die Here. Maar die Here laat dit nie hierby nie. Nee, Hy werk die punt van die vertroue nog verder uit. Hy gee naamlik nie net die opdrag waarmee Hy sy volk toets nie, maar Hy bou ook nog ‘n paar ‘alarmseine’ in sy toets in. Spesifiek twee…
Die eerste alarmsein is dat die volk van dít wat hulle ingesamel het – dus, van hulle daaglikse maat – niks tot die volgende dag mag laat oorbly nie. Want om wel iets te laat oorbly, stuur as’t ware die boodskap uit: “Ek weet nie so mooi nie; ek vertrou nie heeltemal dat daar môre weer kos sal wees nie; ek is nie heeltemal seker van God se sorg nie, daarom sorg ek maar eerder nou alreeds vir myself.” En weet u, gemeente, dit is daardie wantroue wat die verhouding met die Here bederf. En die Here wys baie duidelik dat Hy dit ook so beleef, want Hy plaas op sy hemelbrood ‘n baie streng vervaldatum; ‘n vervaldatum wat sê: gebruik vóór môre! En wanneer daar tog diegene onder die volk is wat probeer om van die manna tot die volgende dag te laat oorbly, moet hulle ontdek dat dit bederf het; vol met wurms. En hierdie bederf word vir dié betrokke Israeliete ‘n spieël: só bedorwe is ook julle wantroue in God se sorg.
En dan is daar ook nog ‘n tweede alarmsein waarmee die Here die saak van die vertroue verder uitwerk. Dit is inderdaad so dat wantroue die verhouding met die Here bederf, wantroue is die groot bederwer in die verhouding met die Here. Maar vervolgens blyk dit dat vertroue juis bederfwerend is! Werklike oorgawe aan die Here verleng die houdbaarheid! Want wat gebeur skielik op die sesde dag van die week? Wel, op die sesde dag ontdek die Israeliete tot hulle verbasing dat dít wat hulle op daardie dag ingesamel het, uiteindelik dubbel soveel is as op voorafgaande dae (verse 5 en 22). En hulle gaan vra vir Moses wat die betekenis hiervan is. Wat wil die Here hiermee sê? En dan gee Moses aan hulle die antwoord van die Here: “Julle is reg, dit is inderdaad iets nuuts, iets wat Israel nog nie geken het nie. Môre is dit naamlik ‘n rusdag, ‘n heilige sabbat van die Here. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe.”
Interessant, gemeente, hierdie rusdag op die sewende dag was skynbaar nuut vir Israel, dit was vir hulle ‘n nuwe instelling – dit blyk nie net uit hulle verbasing oor die dubbel porsie op die sesde dag nie, maar ook uit die woordkeuse in die Hebreeus. Op feitlik elke ander plek waar in die Ou Testament van die rusdag gepraat word, vind jy die woorde ‘die sabbat’, maar hier staan dit sonder lidwoord, net ‘sabbat’. Dit wys vir ons dat dit hier nie gaan oor die sabbat as iets bekends nie, maar oor ‘n dag wat vir die volk tot dusver nog onbekend was. Ons sou kon sê dat die volk hier as’t ware vir die eerste keer met God se rusdag te make kry. Nie omdat die Here dit nou eers instel nie, maar waarskynlik omdat dit onder die volk in onbruik verval het. En nou, ná eeue van onbruik, bring die Here sy volk deur middel van kos – deur middel van hulle daaglikse rantsoen – weer terug by die skeppingsinstelling van die rusdag.
En die Here leer hulle dat hierdie rusdag veral ‘n dag van vertroue is. Nadat hulle vir ses dae in die week ‘by die dag’ gelewe het, elke dag die dag se maat ontvang het, gee die Here nou vir die volk een dag waarop hulle hulself volledig aan Hom moet wy en hulleself aan Hom moet oorgee. Een dag waarop hulle moet vertrou dat hulle voedsel van gister sal hou, ook vir vandag. Waar hulle eers nie toegelaat was om oor te laat bly nie, moet hulle nou laat oorbly, want op die rusdag sal hulle geen manna rondom die laer vind nie… Waar hulle eers net vir een dag op ‘n slag manna moes insamel, kry diegene wat hulle in vertroue aan die Here oorgee, nou rantsoen vir twee dae.
Maar weereens blyk dit dat daar Israeliete is wat nie teen die beproewing bestand is nie. Wanneer hulle op die sewende dag uitgaan om manne in te samel, vind hulle niks nie. En hierdie keer is dit die Here wat kwaad is. By die eerste alarmsein, toe sommige Israeliete van hulle manna tot die volgende dag laat oorbly het, was net Moses kwaad. Maar nou is die Here sélf kwaad: “Hoe lank weier julle om my gebooie en wette te onderhou?” Ons voel hierin die Here se pyn oor Israel se wantroue. Onthou, dit gaan nie net oor koue gehoorsaamheid aan die Here se wette nie, dit gaan ten diepste oor vertroue! “Hoe lank sal julle My bly wantrou? Het Ek nie al genoegsaam bewys dat Ek julle vertroue werd is nie?”
Broers en susters, so beproef die Here sy volk met oorvloed. En die rede hiervoor is dat Hy wil hê dat hulle Hom sal vertrou vir sy sorg, elke dag opnuut. En die praktyk bewys dat hierdie toets moeilik is vir mense. Ons wantroue teenoor God is baie diep gesetel. Elkeen van ons behoort dit vanuit sy eie lewe te ken. En daarom waarsku die Here ons hier. Hy waarsku ons dat wantroue die groot bederwer is in die verhouding met Hom, maar dit is daarmee saam ook die bederwer van jou werk en jou besittings. O nee, dit beteken nie dat jy skielik arm gaan word as jy nie vertrou nie, inteendeel, miskien dat jy selfs baie ryk word. Máár dit beteken wel dat die Here se seën nie meer op jou arbeid en jou eiendom rus nie. Die Here leer ons om eenvoudig uit sy oorvloed te ontvang wat ons vir vandag nodig het. Alles wat ons meer vat, of wat ons met ‘n gees van wantroue bewaar en opspaar, daarop rus geen seën nie. Dit begin stink in ons lewens, ons begin krampagtig daaraan vasklou en ons raak verslaaf daaraan.
“Ja, maar ons moet mos rentmeesters wees, ons moet mos ook verantwoordelik met ons geld en goed omgaan.” Ja, natuurlik die Bybel leer dit duidelik. Maar rentmeesters moet nie sentmeesters word nie. As ons op die Here vertrou, dan moet ons weet wanneer om op te hou en die tyd te neem vir Hom. Moontlik is dit selfs die duidelikste voorbeeld van ons wantroue teenoor God, naamlik hoe moeilik dit vir ons is om op te hou met ons werk en tyd vir God te neem, “want daar is dan so baie werk vandag! Ek gaan nooit alles klaarkry nie!” Werklik tyd neem om bybel te lees en te bid, elke dag? Dis moeilik! Werklik jouself vrymaak voor die Here, jou gedagtes oor jou werk en finansiële bekommernisse stilmaak? Waaroor het jy tydens hierdie erediens gedink? Oor môre se werk? Hierdie week se eksamen? Alles wat nog by die huis moet gebeur? Kom ons oefen ons daarin as ons net hierna gaan bid, en ook môre en oormôre en elke nuwe dag: die Here stel ons op die proef met oorvloed. Hy wil sien: wat dryf ons? Waaroor gaan dit vir ons? En natuurlik wil sy Vaderhart hê dat dit oor Hom moet gaan! Hy wil hê dat ons lewens gedra moet word deur die vertroue op Hom, dag in, dag uit. Laat ons in daardie vertroue bid vir die komende seisoen. Bid dat die Here ons arbeid sal seën omdat ons vir Hom wil werk. Bid dat ons die krag mag kry om die rusdag aan die Here te wy. Bid dat ons elke dag gratis in sy supermark inkopies mag doen, elke dag wat ons vir dáárdie dag nodig het. Om te gebruik vóór môre. Want vandag is die jongste dag!
Amen
Liturgie (oggend)
- VOORPSALM Ps. 65:6-9
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 150:1 en 3
Wetslesing + Mt. 22:36-39
Sing Ps. 65:2 en 3
- Doopsformulier
- Doopsbediening + dankgebed
- Sing Skr. 14
Lees + teks: Exodus 16:1-36
Sing Ps. 105:22 en 23
Preek
Amenlied Ps. 37:2, 3, 15 en 16
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 81:12 en 18
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)