Die kerk is die vergadering van die wat na die stem van die Herder luister!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-11-06
Teks: 
NGB 27
Preek Inhoud: 

U is welkom om hierdie preek te gebruik.  

Vir my eie rekords, laat weet my asseblief deur ‘n epos te stuur aan ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 27; lees Johannes 9:24-10:21

 

Geliefde gemeente, kerk van Jesus Christus,

Ja, die kerk behoort aan Jesus Christus!

Christus alléén – dit is mos waaroor ons in die laaste klompie weke gepraat het. Geen tradisies en vorms naas Christus nie, geen ander mense naas Christus nie. Christus alleen! Hy is ons enigste Verlosser en Saligmaker, Hy is ons enigste Middelaar en Voorspraak. En wanneer ons vervolgens in die komende weke na die Woord van die Here oor die kerk gaan luister, dan begin ons dus nie met ‘n totaal nuwe onderwerp nie; met die leer oor die kerk bevind ons onsself nie skielik op ‘n heeltemal ánder terrein nie. Nee, die werklikheid van die kerk vloei voort vanuit die werklikheid van Jesus Christus. Wat ons glo en bely oor die kerk, is ‘n gevolg van ons geloof in Jesus Christus.

Dit is belangrik dat ons dit só stel: “…wat ons glo en bely oor die kerk…” Artikel 27 begin ook op hierdie manier: “Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk…” Ook die Apostoliese Geloofsbelydenis praat oor die kerk in hierdie trant: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, christelike kerk…” En dieselfde geld vir ons ander belydenisgeskrifte. Dus, ons belydenis sê nie: ek sien die kerk nie, maar ons belydenis sê: ek glo en bely die kerk! En, gemeente, dit is nie omdat die kerk onsigbaar is nie – dit is ‘n gedagte wat ook onder ons soms lewe. Immers, hier is ons dan bymekaar, sigbaar; die kerk het ‘n adres. Iemand kan hier instap en sê: hier sien ek die kerk van Christus. Nee, die kerk is nie onsigbaar nie.

 

Die rede waarom ons belydenisgeskrifte tog daarvoor gekies het om te sê: “ons glo en bely die kerk”, is omdat die ware aard en die volle omvang van die kerk slegs met die hart geglo en met die mond bely kan word. Want, gemeente, wat ons van die kerk sien, wat ons vandag daarvan waarneem, is beperk en gebrekkig; die kerk is ‘n huis in aanbou – óns sien slegs die fondamente, dele van die mure en miskien die deurkosyne. Maar die geheelbeeld en die finale produk, daarvan is slegs die Argitek op die hoogte! Slegs Hý kan ons daaroor inlig, en slegs deur geloof in Hom kan ons iets verstaan van die ware aard van die kerk. En daarom moet ons luister na wat die Woord ons sê oor die kerk, ook al gaan dit teen ons eie idee’s of gevoelens in. Ons idee oor die kerk mag nie bepaal word deur die konkrete werklikheid nie; my idee oor wat die kerk moet wees, mag nie bepaal word deur wat ek hier in die gemeente sien nie. Die kerk is nie ‘n verskynsel van aardse oorsprong nie, dit is nie ‘n sosiologiese verskynsel wat ons met ons teorieë kan verklaar nie. Nee, ons moet ons verstaan van die kerk laat bepaal deur God se openbaring, want die kerk is sý hemelse werk. En dáárom glo en bely ons die kerk! ‘n Geloof en ‘n belydenis wat gevoed word vanuit die Skrifte, ook lyk dit vir ons asof die werklikheid volledig daarmee in stryd staan…

Tema: die kerk is die vergadering van dié wat na die stem van die Herder luister!

  1. Hy roep sy skape
  2. Sy skape volg Hom

 

1. In Johannes 9 het Jesus ‘n man genees wat blind was van sy geboorte af. Dit spreek vanself dat hierdie gebeurtenis nie ongesiens verbygegaan het nie, want kort daarna wil die leiers van die volk by die man weet hoe hy siende geword het. Wanneer die blindgebore man in antwoord daarop die Here Jesus bely – uiteraard in alle gebrekkigheid, want hy het Hom nog nie werklik geken nie – lei dit uiteindelik daartoe dat hy deur die leiers uit die sinagoge geban word, iets wat ‘n groot skande in Israel was.

Maar Jesus, bewoë soos wat Hy altyd was, gaan soek die man op en verkondig Homself aan hom as die Seun van God deur Wie hy sowel fisies as geestelik siende geword het (9:39). In meer as een opsig is hierdie man se blindheid dus genees. ‘n Wonderlike daad van genade van Jesus, die sorgsame leier. Gemeente, hoe anders was dit tog met die leiers van die volk – húlle was nie werklik uit op die heil van hierdie man nie, húlle het nie werklik sy welstand gesoek nie; nee, hulle was eintlik net daarop uit om sy mond te snoer, om hom stil te maak sodat hy nie die Messias sou bely nie. Hier kom dus ‘n diep kontras tussen Jesus en die Fariseërs na vore, ‘n diepliggende verskil. In hoofstuk 10 gaan Jesus vervolgens uitgebreid op hierdie verskil in, en Hy doen dit met behulp van ‘n beeld uit die skaapboedery van daardie tyd.

 

Aan die een kant beskryf Jesus hoe die leiers van die volk opgetree het. Hy beskryf hulle as diewe en rowers (Joh. 10:1). Hulle is indringers wat met verkeerde motiewe en op onregmatige wyse toegang tot die skape verkry; hulle het geen ander doel voor oë nie as net om te roof en te slag en te vernietig. En daarom vlug die skape ook weg vir hierdie indringers (Joh. 10:5), want hulle is bang vir hierdie indringers. Vervolgens teken Jesus die leiers ook nog as huurlinge (Joh. 10:12-13), arbeiders in loondiens wat nie werklik persoonlik by die skape betrokke is nie, en wat daarom ook net aan hulleself dink wanneer die eerste tekens van gevaar verskyn.

Jesus maak dus duidelik dat die skape van Israel geen baat vind by die leiers van die volk nie, en dat daar daarom ook nie sprake is van werklike navolging nie. Ja, die volk gehoorsaam hierdie leiers uiterlik… uit vrees, soos wat ons sien by die ouers van die blindgebore man. Ons lees in hoofstuk 9:22 van die ouers dat hulle nie verder wou uitwy oor die genesing van hulle seun nie, want – het hulle gesê – hy is oud genoeg om self te kan praat. En dit het hulle gesê omdat hulle bang was dat hulle uit die tempel geban sou word. Dus, ons sien ‘n uiterlike gehoorsaamheid. Maar ‘n vrywillige navolging van liefdevolle herders… nee! Tussen leiers en volk is daar geen konneksie nie, geen ware herkenning nie.

 

Daarteenoor kry ons van Jesus ‘n totaal ander beeld. Uit Jesus se beskrywing van Homself as die deur vir die skape sowel as die goeie Herder, blyk baie duidelik dat Jesus alles vir sy skape beteken en dat Hy daarby ook alles vir hulle wil wees. Jesus Christus is die enigste werklike weg om tot God se heil te kan kom. Slegs Jesus is die drumpel tot die ware lewe. Soos die poorte van Jerusalem toegang verskaf het tot die heilige stad, so is Jesus die skaapspoort vir die heilsruimte wat God geskep het. As Messias maak Hy vir die mense die heil toeganklik en is Hy die enigste weg tot die Vader. Hy is daarop uit om mense te red.

En dit doen Hy nie slegs as deur nie, maar meer nog as Herder. Jesus is ‘n herder soos wat herders behoort te wees: iemand wat sy skape ken en desnoods sy lewe vir hulle sal opoffer. As herder neem Hy sy skape onder sy hoede, Hy lei hulle na groen weivelde en na waters waar rus is. Hy sorg daarvoor dat sy skape in oorvloed kan lewe. Sy skape kan vrylik in- en uitgaan in die heilsruimte wat hierdie herder bied.

 

Gemeente, dit is in kort die kontras wat deur die Here Jesus in Johannes 10 geskets word – aan die een kant die slegte leiers wat nie versamel nie, maar verstrooi en verwoes; aan die ander kant die sorgsame leier wat sy kudde in liefde bymekaar maak en bymekaar hou. Dit is die teenstelling. En nou die baie eenvoudige – amper retoriese – vraag, maar wat tóg gestel moet word: by watter van hierdie twee vind ons nou die kudde? By die slegte leiers, of by die sorgsame Herder? Natuurlik by die Herder!

Daar waar die goeie Herder is, daar is sy kudde ook. So eenvoudig is dit; hierdie twee behoort eenvoudig bymekaar. Só eenvoudig is die leer van die kerk in sy wese! En Jesus stel dit ook so eenvoudig in Johannes 10: die Herder roep sy skape by die naam, hulle hoor sy stem, hulle ken sy stem, en hulle volg Hom. Dus, daar waar die stem van die Herder klink en die skape Hom volg, dáár is die kudde. Dáár, broers en susters, word die kerk vergader, dáár moet u en ek wees. Nêrens anders nie!

 

En dit is bepalend vir ons kyk en ons soeke na die kerk. Wanneer ons die kerk soek of wanneer ons ander kerke toets op grond van die Skrif, dan moet ons nie in die eerste plek kyk na dit wat sigbaar is nie, moet ons nie in die eerste plek kyk na wat voorhande is nie, maar moet ons heel eerste as’t ware ons oë toemaak en luister: hoor ons die stem van die goeie Herder? Natuurlik, in die praktyk is dit nie altyd so eenvoudig nie, in die praktyk is dit dikwels meer kompleks, maar in beginsel kom dit tog hierop neer: waar die stem van die goeie Herder klink, dáár is ook sy skape bymekaar vergader. Dit is die kerk, broers en susters – die kerk is die vergadering van die skape wat na die stem van die Herder luister. En daar hoort jy! Jy het die oproep om jou dáár te voeg!

Baie belangrik: die kerk is dus nie die totaal van die uitverkorenes nie, sodat ‘n mens oral waar gelowiges verstrooi is ook die kerk aantref nie. Ook al verbind ware gelowiges hulle tot ‘n bepaalde groepering, maak dit van daardie groepering nog nie ‘n kerk nie. En ons hoor dikwels hierdie argument: “hoekom kan ons hulle nie kerk van Christus noem nie, hulle is dan sulke opregte gelowiges.” Ja, broer en suster, dit mag so wees, maar die gelowige maak nog nie die kerk nie. Die ware gelowige maak nog nie van die groepering waar hy homself gevoeg het ‘n ware kerk nie. As die stem van die Herder nie daar klink nie, ook al is die grootste deel van daardie groepering opregte gelowiges, dan kan ons van daardie opregte gelowiges hoogstens praat as ‘n trop ongehoorsame skape, maar nie van ‘n kudde nie, nie van die kerk nie. Om dus die vraag te kan beantwoord of ‘n bepaalde samekoms van christene as kerk erken mag word, moet ons eenvoudig vra of hierdie samekoms die goeie Herder se roepstem volg.

 

Dus, gemeente, die bepalende vraag is of Christus se stem klink, want op dié manier vergader Hy sy kerk. Deur die verkondiging van die evangelie, deur die gratis en suiwer aanbieding van die water van die lewe, word die skape getrek en versamel in die een kudde. En dit is Christus se werkwyse reg vanaf die begin. Ons bely immers in artikel 27: “hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees.” Hoekom? Omdat die ware gelowiges altyd so aktief was en sal wees? Nee, maar omdat Christus se stem nog altyd geklink het, en altyd sal klink.

Ons moet dus leer, broers en susters, om die vergadering van die kerk heel eerste as werk van Christus te leer verstaan. Die feit dat ons hier in Bergtuin kerk is – nee, nie maar net ‘n kerk onder vele ander nie, nie maar net ‘n kerk wat ‘n kerkgebou deel met ‘n ander kerk nie, maar die feit dat ons kerk van Christus is – is Christus se werk. As u vanmiddag u oog oor die gemeente laat gaan, as u in die komende week weer deur die kerkhandboekie blaai, word dan baie stil en dankbaar vir hierdie werk van goddelike alvermoë! Christus doen wonders hier in Bergtuin; dit is sy werk!

 

En dit gee groot rus, want óns hoef nie die kerkwiel aan die draai te hou nie, die bestaan van hierdie gemeente hang nie af van die kerkraad en sy kommissies nie; dit hang nie af van jou en my nie. Natuurlik, dit bring wel verantwoordelikheid mee: as ons kerk wil bly, kudde van die goeie Herder, dan móét sy stem hier herkenbaar wees in alle vorme van die verkondiging van die Woord – in die prediking, in die kategese, in die huisbesoeke, in die gemeentevergaderings, in ons onderlinge gesprekke. Want waar die stem van die Herder stil word, weet die skape nie meer waarheen nie; hulle verdwaal, hulle word verstrooi en hulle gaan uiteindelik dood van honger en ontbering. En ons sien dit op plekke waar die stem van die Herder stil geword het of onduidelik klink – die geloofslewe gaan agteruit, die kerkgang gaan agteruit, die kerkverlating neem toe, die Godsverlating neem toe! Waak daarom oor die prediking, gemeente, staan daarop dat slegs die stem van Christus hier klink. Elkeen van ons dra verantwoordelikheid vir die prediking in hierdie gemeente, jonk en oud. Wanneer die stem van die goeie Herder stil word, dan word dit hoogtyd dat jý jóú mond oopmaak.  

En staan verder ook daarop dat die stem van Christus nie slegs hier gehoor word nie, maar dat daardie stem wêreldwyd klink. Immers, Christus se kerk is katoliek – dit beteken dat daardie kerk nie geleë is in, gebonde is aan of bepaal is tot ‘n sekere plek of sekere persone nie, maar dat dit oor die hele wêreld versprei en verstrooi is – so bely ons aan die einde van artikel 27. Tyd, ruimte, ras of taal mag die stem van Christus nie stilmaak nie. En daarom doen ons ook sendingwerk. Ons doen sendingwerk, ons hou onsself op die hoogte van Christus se kerkvergaderende werk wêreldwyd, omdat in dit alles sy een stem klink.

 

Die Herder roep sy skape; Jesus Christus roep jou. Herken jy sy stem, hoor jy jou naam? Moet jouself nie teen sy liefdevolle en pastorale roep verset nie. Hy bied slegs die beste vir jou. Ook al gaan jou pad, volgens Psalm 23, deur ‘n dal van doodskaduwee, dan nog hoef jy geen onheil te vrees, want Hy is met jou, sy stok en sy staf vertroos jou. Hy het jou lief. Volg Hom!

Vervolgens: sy skape volg hom.

 

2. Vir hierdie tweede punt is dit belangrik om eers iets te sê oor die woordjie ‘vergadering’ in die eerste sin van artikel 27; daar staan: “ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo…”. In die oorspronklike Franse en Latynse weergawes van die Nederlandse Geloofsbelydenis, word daar twee woorde gebruik vir hierdie een woord ‘vergadering’. Die eerste woord wat gebruik word, dui op Chrístus se werk van die vergadering van sy kudde, soos wat ons sopas in die eerste punt gesien het. Die tweede woord het egter ‘n effens ander betekenis as die eerste. Die tweede woord dui daarop dat wanneer Christus vergader, die gelowiges vervolgens ook aktief saamkom. Die Herder roep dus sy skape, maar vervolgens hóór hulle ook en vólg hulle Hom; hulle kom na Hom toe en tegelykertyd vind hulle ook mekaar. Die kerk behels dus nie slegs versamelwerk van Christus nie, maar ook ‘n bymekaarkom-aktiwiteit van die gelowiges. In die kerk is sowel Christus as die gelowiges aktief. Hoewel Christus se inisiatief primêr bly, is die gelowige dus nie ‘n passiewe toeskouer nie.

 

Hierdie aktiwiteit van die gelowiges is egter nooit op eie inisiatief nie, maar altyd deur die krag van die Gees en in antwoord op die stem van die Herder. Eers nadat die roep geklink het, bewerk die Gees die volg-aksie in die gelowige. En is dit nie presies wat die blindgebore man in Johannes 9 gedoen het nie? Hierdie man was ‘n verstrooide skaap onder die dwang van slegte leiers. Maar toe hy die stem van die Herder gehoor het in die genesing van sy blindheid, het daar duidelike rigting in sy lewe gekom; toe Hy daardie stem gevolg het sonder om te weet waar hy sou uitkom, het hy tuisgekom in die skaapkraal van Jesus, ook al is hy uitgewerp uit die tempel in Jerusalem. As uitgeworpe Jood was hy nou ‘n behoue christen.

Natuurlik moes hy nog baie leer; sy aanvanklike belydenis was baie elementêr; eintlik só elementêr dat toe die leiers van die volk hom wou dwing om te sê dat sy Geneesheer ‘n sondaar is, hy slegs kon antwoord: “Of Hy ‘n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.” Is dit nie pragtig nie? Van die sondelose ontvangenis van Jesus Christus het hierdie man nie die vaagste benul gehad nie. Al waarvan hy bewus was, was wat Jesus aan hom gedoen het. Enkel en alleen op grond van hierdie werk van Jesus kom die man tot die konklusie dat Hy van God is (Joh. 9:33). Maar daarin het hy verder gekom as die Fariseërs. Eers later, ná sy uitbanning uit die tempel, kom openbaar Jesus Homself nog sorgvuldiger aan hierdie man as die Seun van God. Maar nogtans het hy alreeds in die wonder van sy genesing die stem van die Herder gehoor – hoe beperk ook al. En hy het gevolg, sonder om die konsekwensies van sy keuse te bereken.

 

Dus, gemeente, dit is belangrik dat ons sal raaksien dat kerk-wees, hoewel in die eerste plek ‘n werk van Christus, ook ‘n oproep na óns toe rig. Wanneer Christus roep, dan moet ons ook saamkom, dan vra dit ook aksie van ons. Dan moet ons onsself gaan voeg daar waar die stem klink, en dan moet onsself ook elke keer weer onder daardie stem plaas. En dan praat ons hier nie slegs van die eredienste nie. Immers, jy voeg jou nie by ‘n erediens nie, jy voeg jou by die kérk. En hoewel die Sondagse eredienste die sentrum van ons kerk-wees is, behels dit tog baie meer as dit. Dit behels dat jy elke geleentheid sal aangryp om aanwesig te wees waar die stem van Christus klink.

As Woensdagaand by mannevereniging die stem klink, dan moet jy as broeder, as hoof van ‘n gesin, sover moontlik daar wees. As op Donderdae die stem by die vrouvereniging klink, dan soek jy dit as suster sover moontlik op. As Dinsdagaand die jeug saam na Christus wil luister, dan hoort jy as jongmens daar – en ouers, júlle moet ook daarop toesien dat dit gebeur… En as die gemeente saam vergader om rondom allerhande onderwerpe na Christus te luister, dan moet jy jou plek daarin volstaan. Uiteraard, broers en susters, kan geen mens jou in hierdie dinge dwing nie, en tog behoort die stem van Christus jou te dring. Sy stem bring jou in beweging, ook al is die bespreking van sy Woord hoe gebrekkig, ook al sukkel jy om end-uit na die preek te luister, ook al sukkel die ampsdraer om tydens huisbesoek die Woord oor te dra.

 

En wie dit doen, wys – wat ons ook in die eerste sinnetjie van artikel 27 bely – dat hy waarlik in Christus glo, dat hy sy volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Dít is die gelowige wat werklik aan Christus verknog is, die skaap wat blindelings sy Herder se stem volg.

En moet, net soos die blindgebore man, nie die konsekwensies van hierdie navolging probeer bereken nie. Moenie pragmaties dink in hierdie keuse nie; moenie kyk na die grootte van die gemeente of na hoe goed jy in die jeug inpas nie; moenie soek na waar daar goed gesing word of waar die preke jóú aanspreek nie; moenie kyk of die owerheid ons goedgesind is of hoeveel invloed ons as klein kerkverband in die samelewing kan uitoefen nie. Luister eenvoudig na die stem, en volg dit! Vir die konsekwensies sorg die Herder; immers, Hy stap voor, Hy het sy stok en sy staf by Hom. Hy sal jou beskerm waar die bergpaadjie nou en gevaarlik is; Hy sal inspring wanneer wilde diere op jou afkom; Hy ken die pad wat lei na die groen gras en die waters waar rus is.

 

Gemeente, só eenvoudig is kerk-wees: die Herder roep, die skape volg; Christus vergader, die gelowiges kom bymekaar. Kyk daarom ook op dié manier na ons gemeente. Ons is nie ‘n groepie eensgesindes nie, allesbehalwe as ‘n mens soms na die verskillende menings luister. Ons is ook nie ‘n vereniging van mense met dieselfde agtergrond nie. Nee, dit wat ons hier het is die resultaat van Christus se werk en ons gehoorsaamheid. Dink daaraan as ons hierdie week weer met kerklike werk besig gaan wees, en as ons volgende week weer in die erediens gaan saamkom.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Ps. 23

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Geloofsbelydenis (seën van die Drie-enige, kom ons bely geloof in die Drie-enige)

Gebed

Lees: Johannes 9:24-10:21

Sing Ps. 80:1, 2 en 10

Teks: NGB art. 27

Preek

Amenlied Ps. 87:1-2

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 87:3-5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)