Van reformasie tot deformasie. Oppas, dit gebeur vinnig

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-11-13
Teks: 
Rigters 8
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 8; lees Rigters 8

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

In die laaste preek uit die boek Rigters (Rigters 6) het ons gesien hoe die Here, nadat sy volk wééreens gedoen het wat verkeerd was in sy oë, reformasie bewerk het deur die diens van sy rigter Gideon. Gideon het naamlik die altaar van die afgod Baal afgebreek en in die plek daarvan ‘n altaar vir die Here gebou. En hierdie altaar noem hy dan: die Here is vrede! Dít is presies wat reformasie doen, broers en susters – dit herstel die vrede tussen die Here en sy volk, en dit bring die lewe met die Here terug na sy regte vorm. Vir ons, as kerk van die Nuwe Testament, is reformasie daarom altyd terugkeer na Jesus Christus, want – sê Paulus in Efesiërs 2:14 – Hy is ons vrede! Hy is die vredesband tussen God en mens, en Hy bring die lewe terug na sy regte vorm. Jesus Christus is ons groot Hervormer! Hy bewerk voortdurend reformasie in sy kerk.

 

Nou, gemeente, die geskiedenis waarvan die Bybel ons vertel, asook die geskiedenis van die kerk sedert die Pinksterdag, is vol van hierdie tye van reformasie. Hoeveel keer het die Here nie al manne en vroue opgewek om sy volk, sy kerk, terug te bring na die ware diens aan Hom nie? Watter wonderlike werke van herlewing en reformasie is daar nie opgeteken in die kerkgeskiedenis-boeke deur die eeue nie? Alle rede om die Here te loof omdat Hy nie moed opgee met sy kerk nie! Elke keer weer bewerk Hy reformasie.

Maar… die Bybelse geskiedenis en die kerkgeskiedenis leer ons óók dat ‘n periode van reformasie, ná korter of langer tyd, byna onvermydelik gevolg word deur ‘n periode van deformasie. Terugkeer na die Here word amper altyd opgevolg met afval van die Here. Dit is ongelukkig ‘n feit – ‘n feit wat in die lewe en werk van Gideon bevestig word, en wat vir óns vandag tot ernstige waarskuwing en lering moet dien.

Tema: van reformasie tot deformasie… Oppas, dit gebeur vinnig!

  1. Kerklike tugbediening
  2. Persoonlike belange
  3. Eiewillige godsdiens
  4. Wêreldse lewenstyl

 

1. Nadat die Here Gideon bemoedig het met die teken van die wolvlies, het Gideon uitgetrek in die oorlog en ‘n klinkende oorwinning behaal. Of dalk beter gesê: die Here het die oorwinning behaal, want dit is Hy wat die Midianiete verwar en die swaard van die een teen die ander gerig het (7:22). Honderd-en-twintigduisend man het daardie dag gesneuwel; slegs vyftienduisend het vrygekom (8:10). “Die Heer sal opstaan tot die stryd, Hy sal sy haters ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë!” Maar… Gideon kan nog nie rus nie, hy wil eers klaarmaak wat die Here hom gegee het om te doen; hy wil die oorwinning kompleet maak. Daarom dryf hy sy moeë manne voort, oor die Jordaan, agter die Midianiete aan.

Maar Gideon is darem ook nie harteloos nie; hy sien sy moeë manne, hy weet dat hulle honger is. Daarom stop hy oppad by twee dorpe, Sukkot en Pnuel, en versoek hy daardie dorpe om sy manne te voorsien van broodjies. Maar by beide kry hy dieselfde antwoord: “Gideon, wys jy maar eers dat jy werklik die oorwinning behaal het; jy kan tog sekerlik nie verwag dat ons jou gaan help voordat jy nie eers die bewyse van jou oorwinning aangedra het nie!” Aan die een kant ‘n begryplike antwoord: want as die Midianiete nie finaal verslaan sou word nie en met wraakaanvalle sou terugkom, dan sou Sukkot en Pnuel, wat op die oosgrens van die beloofde land gelê het, die eerste teikens van die Midianiete wees. Maar aan die ander kant ook ‘n onaanvaarbare antwoord: in Sukkot en Pnuel het immers broeders gewoon, Israeliete uit die stam van Gad, mede-kerklidmate. En dit is húlle wat botweg weier om hulle eie volk te help, hulle spot met hulle broeders oor die erns wat hulle maak met die stryd teen die heidense Midianiete.

 

Gideon is woedend! As hy die oorwinning behaal, dan sal Sukkot en Pnuel dit wéét, dan sal hulle dit vóél… En Gideon hét die oorwinning behaal; die Here het Seba en Salmuna, die konings van die Midianiete, in sy hand oorgegee. Seëvierend keer hy terug na Israel. Maar… daar is eers iets wat hy moet afhandel. Hy het ‘n saak met die inwoners van Sukkot – die vorste van Sukkot word met woestyndorings en distels gemartel en doodgemaak. En daarna het hy nog ‘n saak, hierdie keer met die inwoners van Pnuel – die uitkyktoring van hierdie grensdorp word omgegooi, waarby die manne van die stad omkom. Hulle het in elk geval nie meer hierdie uitkyktoring nodig om die vyand te sien aankom nie, want hulle het dan reeds die kant van die vyand gekies…

Is hierdie optrede van Gideon wreed? Is dit wraaksugtig? Stuit hierdie soort van optrede ons teen die bors? Moontlik. Maar, gemeente, ons moet goed raaksien dat Gideon hier nie besig is om vir sy eie eer te veg nie, maar dat hy hier opkom vir die reg van die Here – dít is immers waarvoor hy as rigter besig was om te veg. Toe Gideon teen die Midianiete opgetrek het, het hy vir die saak van die Here geveg! Maar hierdie broeders maak ‘n bespotting van daardie stryd; hulle beledig God se stryd teen die bose vyande van sy volk. Hulle het die gemeenskap van die heiliges skade aangedoen deur Gideon en sy manne nie in hierdie stryd te ondersteun nie. En daarom mag hulle ook nie deel in die oorwinning wat die Here aan sy volk geskenk het nie.

Dus, Gideon is nie hier besig met sy persoonlike vendetta nie; nee, hy bedien die kerklike tug oor spottende en ongehoorsame kerklidmate. En op dié manier wys hy dat hy erns maak met die voortgaande reformasie van die kerk van die ou verbond. Die reformasie van die kerk, wat begin is met die oprigting van die Here se altaar in die plek van Baal se altaar, moet voortgesit word, moet toegepas word in die heiliging van die lewens van God se kinders. En daarom bedien Gideon hier die tug, op ‘n manier wat op daardie stadium in die geskiedenis deur God toegestaan was. Dalk wreed in ons oë, maar vir daardie fase van die kerkgeskiedenis het die Here sodanige maatreëls toegelaat. En daarvan maak Gideon gebruik: die kerklike tug is een van die kenmerke van die kerk van die Here, nie waar nie? En dit geld ook vir die Ou Testament!  

Maar helaas, van hieraf begin Gideon se persoonlike belange op die voorgrond tree. En dit sien ons in ons tweede gedagte.

 

2. Ná hierdie kerklike tugoefening, is dit tyd om verder met Seba en Salmuna te handel. En met die eerste oogopslag lyk dit asof Gideon se optrede teenoor hierdie Midianitiese vorste in dieselfde lyn lê as sy optrede teenoor die manne van Sukkot en Pnuel; dit wil voorkom asof hy weereens besig is om die Here se saak vir Hom te veg. Maar ons moet mooi kyk wat hier gebeur, gemeente…

Gideon begin met ‘n ondervraging van Seba en Salmuna: “Wat vir manne was dit wat julle by Tabor gedood het?” (8:18) Dit lyk asof die Midianiete tydens hulle strooptogte ‘n groot aantal Israeliete gevange geneem en op die berg Tabor laat doodmaak het. Uit Seba en Salmuna se antwoord (8:18) lei Gideon af dat dit sy eie broers was wat vermoor is (8:19). ‘n Pynlike saak! Stel jouself voor jy word persoonlik gekonfronteer met die moordenaars van een of meerdere van jou familielede – hoe sou jy gereageer het? Ons kan onsself dus baie goed voorstel dat Gideon woedend is. Hy sweer onder aanroeping van die naam van die Here: “So waar as die Here leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie.” Dus, die moord op sy eie broers is vir Gideon onvergeeflik. En wie kan hom dit kwalik neem?

 

Maar ons moet hier suiwer bly kyk, gemeente!  

Want hoor mooi wat Gideon sê: “as julle húlle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie.” Die moord op sy eie bloedbroers is deurslaggewend vir die straf wat Gideon vir Seba en Salmuna bepaal. Maar wat dan van die feit dat die Midianiete deur die jare alreeds duisende Israeliete doodgemaak het? Alreeds vanaf die tyd van die woestynreis was die Midianiete een van die groot vyande van God se volk. Sodanig dat die Here in Numeri 25 tydens die woestynreis alreeds gesê het: “Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle, want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste…” En weereens in Numeri 31:2: “Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete.” En daarby kom ook nog dat die volk sopas nog sewe jaar lank deur dieselfde Midianiete onderdruk is. Ja, die Midianiete het die volk van die Here groot skade aangedoen.

Maar vir dít alles sou Gideon die konings van die Midianiete nog laat lewe het; dít alles is nog nie genoeg om die leiers van hierdie vyand dood te maak nie. Maar die moord op sy eie broers… Gemeente, hoeveel simpatie ons ook al het vir Gideon se seer en verlies, tog moet ons sê dat hy hier sy rigtersamp uit die oog verloor het, dat hy hier nie meer vir die Here se belange veg nie, maar vir sy persoonlike belange. Gideon het vergeet dat hierdie nie sý stryd is nie, maar dat die Hére ‘n regsaak het met die vyande van sy volk. En in hierdie regsaak is Gideon maar net ‘n instrument in die hand van die Here. Maar Gideon vergeet dit, en in sy persoonlike wraaksug gee hy aan sy seun, Jeter, die opdrag om hierdie manne dood te maak. Op hierdie manier wil hy hulle verneder, soos wat hulle hom en sy familie verneder het. Wanneer Jeter egter nie kans sien nie, trek Gideon uiteindelik self die swaard en maak die Midianitiese vorste dood. Sy persoonlike belange het die oorhand oor hom gekry…

 

Persoonlike belange – dit is ‘n gevaar wat altyd die kerk van die Here bedreig. Altyd dreig die gevaar dat ons nie meer vir die saak van die Here veg nie, maar vir ons eie saak, ons eie belange, ons eie naam en aansien, ook al doen ons dit onder die dekmantel van die Here se saak! Maar dit is tot nadeel van die voortgaande reformasie van die kerk, en dikwels ook die eerste tekens van deformasie. Elkeen moet homself daarom ondersoek: waarvoor stry ek presies? Is my motiewe suiwer? Stry ek God se stryd of my eie?

En hierdie selfondersoek kan ons slegs goed doen wanneer ons oog in oog staan met die ware Rigter, Jesus Christus. Hier het ons ‘n Rigter wat nooit die Here se saak uit die oog verloor het nie. Hy het nooit sy familiebelange bo sy Godsopdrag geplaas nie; inteendeel, Hy het sy familie juis vermaan wanneer dit nodig was, soos wat verskeie kere uit die evangelies sigbaar word. Selfs aan die kruis het Hy nooit persoonlike wraaksug getoon nie, maar eerder vir sy moordenaars gebid: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En tot vandag toe soek Hy nie sy eie belange nie, maar tree Hy in vir die gelowiges. Dank die Here daarvoor! Dink jouself in wat die rampspoedige gevolge sou gewees het as Hy nie meer vir die Here se saak gestry het nie, maar vir sy eie saak. Dink net wat van ons sou geword het as Hy eerder op Homself sou gefokus het as op God se plan om mense soos jy en ek te verlos…

Gideon was dus maar ‘n swak skaduwee van die groot Rigter, Jesus Christus, wat moes kom. En daarom is hierdie preek ook nie ‘n Gideon-preek nie; Gideon is nie ons held nie. Nee, ons wend ons voortdurend tot die vervuller van die rigtersamp, Jesus Christus. Ons verwonder ons telkens weer oor sy belangeloosheid vir ons en vir ons verlossing! Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem, Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood van die kruis (Fil. 2:7 en 8). Daarvoor prys ons Hom! En in Hom het ons die ernstige voorneme om deur die krag van sy Gees dieselfde belangeloosheid te openbaar vir die Here en sy kerk. Nie ek nie, maar die Here en sy saak! Anders… as persoonlike belange tog die bo-toon begin voer, kan dit ernstige gevolge hê vir die voortgaande reformasie van die kerk.

En dit sien ons in ons derde gedagte: eiewillige godsdiens.

 

3. Die manne van Israel maak aan Gideon ‘n vleiende aanbod: wil jy nie ons koning word nie? En dis nie sommer ‘n eenmalige koningskap nie; nee, dit is ‘n oorerflike koningskap – sy seun en kleinseun word ook ingesluit in hierdie koningskap (8:22). Die volk soek ‘n koning net soos die omringende nasies, want dít is die rede hoekom hulle vir so lank onder die hand van die Midianiete moes buig: hulle het nie ‘n koning gehad nie. Só dink hulle in elk geval. En daarom soek hulle ‘n kragtige persoon, iemand wat die volk kan saambind en kan beskerm teen die omringende volke. Dit is duidelik dat die volk nog nie verstaan het wat die werklike rede vir die sewejaar-lange onderdrukking was nie; hulle het nog nie besef dat dit deur hulle eie ontrou en ongehoorsaamheid was dat hulle eintlike Koning hulle in die hande van die Midianiete oorgegee het nie.

Gideon verstaan oënskynlik wat agter hierdie versoek van die volk lê, en daarom wys hy die aanbod op ‘n mooi manier van die hand: “Ek wil nie oor julle heers nie… die Here sal oor julle heers” (vers 23) En as dit die laaste is wat Gideon gesê het, dan was dit ‘n prysenswaardige uitspraak. Maar helaas laat hy dit nie daarby nie. Met sy volgende woorde en dade wys hy dat, hoewel hy die koningskap van die hand gewys het, hy tog wel op ‘n manier aan die verlangens van die volk wou voldoen. Hulle het naamlik ‘n koning gesoek wat hulle kon saambind, wat aan hulle leiding kon gee, wat vir hulle die weg kon wys. Nou ja, sê Gideon, die Here is daardie Koning! En kom ons bring Hom naby!

 

Gideon versoek vervolgens al die manne om ‘n goue ring uit die buit vir hom te gee, en hulle voldoen met graagte aan hierdie versoek. Gideon kry selfs meer as net goue ringe; hy kry ook nog maantjies en oorversiersels en purper klere. En hiervan maak Gideon dan ‘n skouerkleed, of ‘n ‘efod’ soos dit in die Hebreeus staan. Dit was ‘n onderdeel van die ampsklere van die hoëpriester; op hierdie skouerkleed was daar 12 goue stene gemonteer waarin die name van die 12 stamme van Israel gegraveer was. En in daardie skouerkleed is ook die Urim en die Tumim gebêre. En hierdie skouerkleed stel Gideon vervolgens in sy tuisdorp, Ofra, op. Só meen Gideon om die Koning van Israel ‘naby’ aan die volk te bring. Hy wil nie self die koningskap aanvaar nie; nee, Israel het ‘n Koning, maar daardie Koning moet net naby gebring word, moet net tasbaar by die volk wees. En daarom maak Gideon vir die volk iets sigbaars en tasbaars waarmee hulle hul Koning kan raadpleeg – die skouerkleed.

Met die eerste oogopslag lyk dit na ‘n baie wyse optrede van Gideon. Is dit nou nie voortgaande reformasie van die erediens nie? Verbind hy die volk op dié manier nie nog nouer aan die Here nie? Die skrywer van Rigters is egter baie duidelik: “die hele Israel het dit agterna gehoereer, en dit het vir Gideon en sy huis ‘n strik geword” (8:27). Gideon het die volk met hierdie eiewillige godsdiens nie gehelp nie. As hy hulle werklik wou help, dan moes hy hulle teruggelei het na die Here se Woord, na sy leefreëls en na sy wette; dan moes hy die volk opgeroep het om hulle weer met hart en siel in liefde aan die Here te verbind, dan moes hy hulle oë gerig het op daardie nuwe altaar met die gepaardgaande offerdiens wat ‘n heenwysing was na die groot Offerlam! Ja, dán kon hulle verseker gewees het van die Here se sorg, dán kon hulle geweet het dat die Here hulle teen hulle vyande sou beskerm. Maar nie op hierdie eiewillige manier nie.

 

Gemeente, Gideon was moedig toe hy die altaar van Baal afgebreek en die altaar van die Here herstel het, maar hy maak dit alles weer ongedaan met sy selfgemaakte skouerkleed. So vinnig kan die wins van die reformasie weer verlore gaan. En laat ons hieruit leer; laat ons leer oor die spoed van die deformasie. Ons eie kerklike geskiedenis lewer getuienis van verskeie reformasies. Maar reformasie is nie maar net ‘n stuk geskiedenis nie, dit is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie – reformasie moet steeds voortgaan. Steeds weer moet die erediens gereformeer word, steeds weer moet ons vra na die Here se wil vir die diens aan Hom, steeds weer moet daar die spanning wees van die vraag: is ons gehoorsaam? Doen ons dit soos wat die Here dit van ons vra? Dit is konkreet die vrae wat ons aan ons eie kerklike lewe moet stel. Ons kan nie dink dat, omdat ons uit die Vrymaking kom of omdat ons vashou wat aan ons oorgelewer is, dat ons daarmee imuun is teen deformasie nie. Nee, broers en susters, ons behoort ons kerklike lewe die hele tyd onder die norm van die Woord te plaas. Nie met die doel om die hele tyd ons kritiek op die gemeente af te vuur nie, maar met die erns om die wins van Christus se reformerende werk deur sy Gees nie te verloor nie.  

En dan ons laaste gedagte: ‘n wêreldse lewenstyl.

 

4. Die eiewilligheid van die openbare erediens vind ten slotte ook deurwerking in Gideon se persoonlike lewe. Gideon het nie voortgegaan om God se volk te rig nie, maar hy het in sy huis gaan woon (8:29) en hy het sewentig seuns gehad wat uit sy lendene voortgekom het. En die rede vir al hierdie kinders? Want hy het baie vroue gehad (8:30). Enersyds wys Gideon dus die koningskap af, maar andersyds neem hy wel die lewenstyl van ‘n oosterse vors aan – baie vroue, baie kinders. Hy het selfs ‘n byvrou vir homself geneem… Maar hoekom ‘n byvrou neem as jy alreeds so baie vroue het? As jy haar dan wil hê, vat haar eenvoudig as vrou. Gemeente, hierdie byvrou was hoogswaarskynlik ‘n heidense vrou; Gideon was, volgens die Here se wet, nie toegelaat om haar as vrou te neem nie. Nou ja, dan maar as byvrou. En ook nie in Ofra nie, want dit is darem te opvallend – laat sy maar in Sigem woon.

Met die mond bely Gideon die Here se Koningskap, maar met die daad bewys hy die teenoorgestelde. En dit word bevestig wanneer hy aan die seun, wat hierdie byvrou vir hom verwek het, die naam ‘Abimeleg’ gee. Abimeleg – my vader is koning. Hier sien ons hoe die sirkel van Gideon se deformasie voltooi word. Waar hy eers vir die saak van die Here geveg het, waar hy getrou die kerklike tug bedien het, verval Gideon geleidelik terug in deformasie – sy persoonlike belange begin eerste kom, die diens aan die Here vul hy in op sy eie manier, en uiteindelik word hy die koning van sy eie lewenstyl. En die gevolg by die volk? Skaars was Gideon dood, of die volk het weer die Baals agterna gehoereer.

 

Wat ‘n tragiese einde aan die rigter-siklus van Gideon…

Gelukkig dat die werk van die ware Rigter, Jesus Christus, geen siklus is nie, maar ‘n lyn, ‘n pyl wat presies weet waarheen. Jesus Christus gaan onverhinderd oppad na die heerlike voltooiing van sy reformasie-werk. Daar is niks wat sy werk kan keer nie! Maar is ons deel daarvan, broers en susters? Volg ons nog werklik ons opgestane Here op sy weg na die voltooiing? Dit is ‘n vraag wat selfondersoek van ons eis. Hoe staan dit met die voortgaande reformasie in ons kerklike en persoonlike lewens? Watter plek neem persoonlike belangens by ons in? Hoe sterk het die eiewilligheid al sy kloue om ons heen geslaan?

En veral die laaste, die lewenstyl – lewe ons nog werklik vir die Here, of het die sekularisasie ons in sy mag gekry? Hoe gebruik ons die televisie? Watter mag het sepies soos 7de Laan in ons lewens? Hoe lyk ons Sondagsheiliging – gebruik ons die Sondag om die Here te dien, of gebruik ons die dag vir ons persoonlike reise? Of slaap ons dalk die dag om? En wat van jou gawes aan die Here – dra ons werklik na vermoë by? Gaan toets dit, gaan vanoggend huis toe en kyk na jou salaris en gaan kyk wat jou kerklike bydrae is, en stel jouself voor die Here. En wat doen ons met ons ander geld? Gebruik ons dit werklik in diens van die Here, of het die verbruikersmentaliteit ons in sy mag gekry? Staan ons ook onder die groepsdruk wat sê dat jy hierdie en daardie móét hê en dat jou kind se verjaarsdagpartytjie van hierdie standaard moet wees? En hoe staan dit met ons seksuele lewe – lewe ons rein? Is ons manne van een vrou, en vroue van een man? Jongmens, hou jy jouself rein saam met jou meisie en kêrel? Hoe lyk ons rook- en drinkgewoontes? Wat is ons taalgebruik? Wat gebeur op Vrydag- en Saterdagaande by die sokkerklub? Watter kuierplekke besoek ons? Watter grappe maak ons? Waaroor gaan ons gesprekke? Trek ons kuis aan? Hoe gebruik ons die internet?

 

Broers en susters, kom ons plaas onsself in die lig van die kruis van Christus – daardie lig verlig elke hoekie en gaatjie van ons lewe. Kyk daarna! Moenie wegkyk nie. En vlug dan na Christus, Hy wat gekom het om die sonde van sy volk weg te neem. En as daar deformasie is wat reformasie vra, soek dit dan in die groot Lewenshervormer, die Gees van Christus. Here, bekeer my, dan sal ek my bekeer! En dan wil die Here ook hervormde lewens gee, lewens wat die regte vorm het. Slegs op dié manier ontkom ons aan die dodelike siklus van deformasie, en bly ons op die weg van reformasie, die weg van Jesus Christus, Hy in ons en ons in Hom. En dit is nie die weg van veertig jaar valse rus, soos in die dae van Gideon nie. Nee, dit is die weg van ware vrede, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Vandag alreeds! Dit is die weg van vastheid en sekerheid, wat ook al om ons heen gebeur. Here, lei ons op daardie weg. Amen

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 89:6, 10, 16, 17 en 18

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 113

Wetslesing

Sing voor die gebed Ps. 88:7, 9, 10 en 14

Gebed

Lees en teks: Rigters 8:5-35

Sing Ps. 81:10, 13, 15 en 17

Preek

Amenlied Ps. 25:1 en 2

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 139:10-12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)