Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – lees Exodus 12:12-14, Deuteronomium 16:1-3, 1 Korinthiërs 11:23-26
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Kenmerkend van die tyd waarin ons lewe is ‘n sekere weerstand teen geskiedenis. En dit geld vir die vák geskiedenis soos dit in skole en universiteite gedoseer word, maar dit geld ook vir geskiedenis in die algemeen; die verlede kan nie reken op ‘n geweldige belangstelling nie. Die hier en die nou trek baie groter aandag – carpe diem, pluk die dag, gister is verby en niks wat jy daaraan kan verander nie.
Hierdie negatiewe kyk op die geskiedenis lê enersyds in die feit dat mense van mening is dat die geskiedenis – spesifiek die geskiedenis van die laaste 100 jaar – nie werklik vooruitgang beteken het nie; inteendeel, dit het groot pyn en leed veroorsaak. En andersyds lê dit in die feit dat mense die geskiedenis beskou as dooie feite waarmee ons eintlik niks kan doen nie. Geskiedenis is uit, die verlede laat ons agter ons…
Nodeloos om te sê dat die ‘gedagtenis’ waartoe Christus ons in 1 Korinthiërs 11 oproep in sulke omstandighede onder druk kom. Want waarom wil ons nog terugdink aan feite van 2000 gelede, as dit oor vandag gaan? Steek ons dan nie vas in ‘n verlede wat vir vandag niks meer te sê het nie? En een van die gevolge is dat ongelowiges, maar ook soms mense wat hulleself christene noem, na die nagmaal begin kyk as een of ander dodemaaltyd.
U weet miskien dat daar in die Griekse kultuur die gebruik was van dodemaaltye. Dit het behels dat daar op ‘n gereelde basis vir ‘n gestorwene ‘n maaltyd gehou is, ter herinnering aan daardie geliefde persoon. Op soortgelyke wyse, word gesê, is christene tydens die nagmaal eenvoudig besig om die gemeenskaplike herinneringe aan hulle vriend Jesus met mekaar te deel. Sien u, ons is eintlik ‘n bietjie agterlik, ons loop met ons kop in die verlede, ons hou herinneringe van 2000 jaar gelede lewendig…
Maar, gemeente, is dít wat die bybelse woord ‘gedagtenis’ beteken? Beteken dit net om terug te dink, in herinnering te roep? Wel, as dit die geval is, dan is ons inderdaad ‘n bietjie agter die tyd. Maar, broers en susters, die woord ‘gedagtenis’ het ‘n baie dieper betekenis as net om te onthou, in herinnering te bring. Deur gedagtenis dink jy nie slegs terug nie, maar word die feite van die verlede aktueel vir die hede. Deur in geloof te gedenk wat Christus amper 2000 jaar gelede gely en gedoen het, maak jy daardie verlede aktueel vir jou lewe vandag, maak jy dit van toepassing op jou lewe! Sien u, gedagtenis is nie net om te sê: “Ek onthou dat Jesus Christus gely het, ek onthou dat Hy gekruisig is, en ja, ek herinner my nog dat Hy deur God verlaat is” nie. Nee, gedagtenis beteken om te sê: “Jesus het gely vir my, Jesus is gekruisig vir my, Hy is deur God verlaat ter wille van my!” Gedagtenis beteken om aktief en persoonlik betrókke te wees by die heilsfeite, en om dan te weet: hierdie feite is nog steeds net so waardevol… vir my!
En dit is presies wat die Here ook bedoel het toe Hy in Deut. 16:3 vir die volk Israel gesê het dat hulle al die dae van hulle lewe die dag van die uittog uit Egipteland in gedagtenis moes hou. Nie om te kan sê: “O ja, onthou julle nog hoe die Here lank gelede ons voorvaders verlos het” nie. Maar om te kan sê: “Deur daardie feite mag ek weet dat my Verlosser leef, en dat Hy my vandag nog steeds verlos!”
En dit is presies wat die nagmaalsformulier so pragtig verwoord. Die nagmaalsformulier herhaal nie net ter wille van die interessantheid die feite nie: dit en dit en dit is wat gebeur het… Nee, die nagmaalsformulier sê: “Ons behoort Hom soos volg te gedenk…”, en vervolgens verwoord die formulier dan die feite in hulle ryk betekenis vir óns, vir elke gelowige! “Hy het ons vlees en bloed aangeneem. Hy het die toorn van God waaronder ons ewig moes versink … vir ons gedra. So het Hy in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike wet die geregtigheid vir ons volbring. In Getsemane het Hy Hom laat boei om ons vry te maak. Daarna het Hy ontelbare smaadhede gely sodat ons nooit meer in skande sou raak nie. Hy is onskuldig tot die dood veroordeel, sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kon word. Ja, Hy het sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker om die skuldbrief van ons sonde daaraan vas te heg. Hy het die vervloeking wat op ons was op Hom gelaai om ons met sy seën te vervul. Aan die kruishout het Hy uitgeroep: My God, my God, waarom het U My verlaat? sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie.
Sien u, dit is iets anders as dooie historiese feite, dit is iets anders as om ‘n geskiedenishandboek te lees. Ons kom sit daarom ook nie hier aan die tafel met somber gesigte en probeer onsself indink hoe swaar Jesus 2000 jaar gelede moes gekry het, en hoe seer die spykers Hom moes gemaak het nie. Nee, ons is christene in 2011! Ons soek na die betekenis van daardie heilsfeite vir vandag! Dít is wat dit beteken om te gedenk! Broers en susters, wanneer jy daarom van die brood eet, en van die wyn drink, wanneer jy hierdie daad van gedagtenis in geloof verrig, dan word die wins van die heilsfeite joune! Geloof eien toe wat Christus vir jou gedoen het! Neem, eet, gedenk … en glo! Neem, drink almal daaruit, gedenk … en glo! En daarom vra ons ook in die gebed net voor die viering: “Ons bid U dat U deur u Heilige Gees ‘n opregte vertroue in ons harte sal bewerk om ons al meer aan u Seun Jesus Christus oor te gee.” Ons bid vir geloof, want só kry ek deel aan die wonderlike werk van Christus!
En, wanneer jy dit hier aan die nagmaalstafel leer doen het, gaan doen dit dan ook in jou lewe van elke dag. Natuurlik is die nagmaal – die stukkie brood tussen jou vingers, en die slukkie wyn in jou mond – natuurlik is dit in besonder deur Christus ingestel om ons te help met die daad van gedenk; tasbaar en voelbaar kou jy en sluk jy – ja, dis vir my! Maar gaan lei dan ook ‘n lewe van gedagtenis! Bid en ywer daarvoor om in jou héle lewe, van soggens vroeg tot saans laat, in gedagtenis te bring wat Christus vir jou gedoen het.
So gou word dít wat Christus gedoen het maar net die feite van die christendom, maar sukkel ons om iets daarmee te doen wanneer ek ‘n werker moet afdank, of wanneer ek my skripsie moet klaarkry, of wanneer my kind hom nie aan my steur nie. Ons sukkel so om Christus se heilswerk vir my te gedenk wanneer ek en my meisie verlei word om onrein met mekaar te lewe, ek sukkel so om te gedenk wat Christus se werk vir my beteken wanneer iemand in die verkeer voor my inry of wanneer ek vinnig moet maak om by die volgende vergadering uit te kom. Maar dít is uiteindelik die doel! Nie net om elke twee maande tydens die nagmaal te gedenk nie, maar om vanaf die nagmaal ‘n lewe van gedagtenis te gaan lei, om in geloof die aktualiteit van Christus se verlossingswerk deel van jou alledaagse lewe te maak! Slaag u daarin, broer en suster? Om christen te wees in die alledaagse? In die doodgewone? Laat die gedagtenis van vandag deurwerk na môre en oormôre; deur die geloof is die heilsfeite dan myne op maandag en dinsdag en al die dae van my lewe.
Maar, daar is nog iets anders…
Die nagmaal is naamlik nie slegs bedoel om by ons in gedagtenis te bring wat Christus vir ons gedoen het nie, maar ook om dit by Gód in gedagtenis te bring. Die tekens van brood en wyn dien as’t ware ook as herinnering vir God! Klink dit vreemd? Ja, op ons ore klink dit nie reg nie, God het mos geen herinnering nodig nie?! En tog praat die Bybel wel op dié manier daaroor. Dink byvoorbeeld aan wat die Here in Genesis 9 vir Noag sê nadat Hy die reënboog as teken gegee het; ons lees in vers 16: “As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is” – en dan word hier dieselfde werkwoord gebruik as wat die Here in Deut 16:3 gebruik het (“in gedagtenis hou”). Iets soortgelyks vind ons ook in Exodus 12 wat ons saam gelees het.
In hierdie hoofstuk gaan dit, net soos in Deuteronomium 16, oor die pasga, spesifiek oor die instelling van die pasga. En dan dra die Here die volk op om die bloed van die geslagte rammetjie aan die deurposte en die bo-drumpel van hulle huise te smeer. En dan sê Hy dat Hy al die eersgeborenes in Egipteland gaan tref, “maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie”(vers 13). As Ek die bloed sien – die bloed dien as’t ware as herinnering vir die Here: “Here, U moet hierdie Israeliete oorslaan; Here, onthou dat hierdie Israeliete nie onder u toorn staan nie.”
Interessant genoeg was dit die eerste en enigste Pasga wat die volk in hulle eie huise gevier het. Daarna moes hulle altyd na die tabernakel of die tempel gaan om daar die paaslam by die priesters te bring. Op dié manier is die bloed vergiet daar waar God self gewoon het, daar waar Hy dit kon sien en daarop kon reageer, naamlik op die altaar by sy woonplek! Elke Pasga was dus ‘n belydenis, nie net dat God Israel uit Egipte verlos hét nie, maar ook dat Hy Israel nog steeds verlos. Maar elke jaar is die bloed ook voor God se aangesig vergiet om Hom te herinner aan sy verbondsbeloftes sodat Hy weer tot verlossing van sy volk sou optree!
En só, broers en susters, is die brood wat ons eet en die wyn wat ons drink ook ‘n gedagtenis vir die Here. Nie dat die Here herinnering nodig het nie, Hy vergeet immers niks nie. Maar as teken vir ons! Deur die geloof eet en drink ons van die brood en die wyn, en deur die geloof is dít wat deur die brood en wyn gesimboliseer word ook werklik ons s’n. En daaraan mag ons, soos die Israeliete in Egipteland, die Here as’t ware herinner: “Here, kyk na die bloed van Christus; Here, sien alles wat Hy gedoen het, vir ons!” Die brood en die wyn is die teken vir ons dat God sal sien en sal onthou wat Christus vir ons gedoen het. Die nagmaal is ‘n teken vir ons dat God sal onthou dat die verhouding met Hom weer herstel is. Ons hoef nie onder die toorn van die Here te vergaan nie, ons hoef nie meer bang te wees vir die oordeel nie. Die Here het nie vergeet nie! Kom eet daarom van die brood en kom drink van die wyn, gemeente, want die werk van Christus in die volheid van die tyd is vir u bedoel! God weet dit, die hemel weet dit en juig, want nog ‘n sondaar is gered.
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 100
Gebed
Nagmaalsformulier:
- Lees wet by “die volgende sondaars word genoem:”
- Sing Ps. 99:3-5
- Lees by “Gedagtenis”: Exodus 12:12-14, Deut. 16:1-3, 1 Korinthiërs 11:23-26
- Teks: 1 Kor. 11:24 en 25: “Doen dit tot my gedagtenis.”
- Preek
- Amenlied Ps. 119:15, 18, 19
Verder nagmaalsformulier
Sing:
- Terwyl tafel in gereedheid Ps. 116:1-2
- 1ste tafel Ps. 116:5 en 8
- 2de tafel Ps. 116:9-10
Voltooi nagmaalsformulier + gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 106:2, 18 en 20
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)