Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten
Preek – NGB, artikel 37
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Sprekers sê dikwels aan die einde van ‘n toespraak: “laaste, maar nie die minste nie…” Daarmee wil hulle sê dat wat nou gaan volg nie onbelangrik is nie, ook al is dit die laaste ding wat hulle gaan sê. Nou, dit is besonder toepaslik vir hierdie laaste artikel van die NGB. Want artikel 37 is allermins die onbelangrikste artikel; artikel 37 is nie laaste omdat dit onder aan die prioriteitslys staan nie. Inteendeel, hier vind ons waarskynlik die belangrikste artikel van die hele NGB! Artikel 37 is nie maar net die slot van ‘n teologiese dokument nie; nee, hierdie laaste artikel is tewens die ontsluiting van die ewigheid!
Alles wat tot dusver in die NGB gesê is oor God en sy Woord, oor die skepping en die sondeval, oor die Persoon en werk van Jesus Christus tot ons verlossing, oor die kerk, die sakramente, en die burgerlike regering – dit is alles ‘n voorbereiding op hierdie laaste, beslissende geloofsuitspraak. Alles wat tot dusver gesê is, is gesê met die oog hierop! Elke aspek van ons geloofslewe is direk of indirek verbonde aan hierdie groot en ewige dag! Want Christus se wederkoms en die ewige lewe saam met Hom is die hoogtepunt van die hele geskiedenis. Dit is waarheen alle geskiedenis hunker – ook ons geskiedenis, myne en joune.
Tema: wees wakker, gemeente, ons leef in die laaste dae… Ons let op:
- die wêreldklok
- die wêreldbrand
- die wêreldoordeel
1. Gemeente, lees ons nog behoorlik die wêreldklok, God se horlosie vir hierdie wêreld? Kyk ‘n slag op die wêreldklok hoe laat dit is! Ons lewe naamlik in die laaste dae, dit is kwart voor twaalf, middernag! Of, dalk is dit intussen al een minuut voor twaalf. En juis in hierdie middernagtelike wêreld-uur kan dit baie donker om ons wees; die duisternis van rampe en ellende, van siekte en oorlog, van sonde en dood kan ons soms oorweldig. Dan kan dit lyk asof God sy beloftes vergeet het, want jy sien dan so min daarvan. En hierdie vertwyfeling word nog vererger deur die spotters om ons heen – die spotters wat smalend vra wat dan van die belofte van die wederkoms geword het. Is God se beloftes nog betroubaar? Is God nie besig om te sloer met die vervulling van sy beloftes nie? Moet ons nie dalk rekening daarmee hou dat God die wederkoms vir ‘n wyle uitgestel het nie? Of erger nog: het God nie dalk die wederkoms afgestel nie? Maar dan sê Petrus vir sy lesers: “Onthou nou, ons tydsberekening is nie God se tydsberekening nie. By God tik die horlosie heeltemal anders – een dag is by die Here soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag.
Petrus haal hierdie woorde aan uit Psalm 90, waar Moses kla oor die nietigheid van die mens se lewe; en dan sê Moses in vers 4: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet…” (ons het daarvan gesing net voor die preek). Maar let daarop, broers en susters, Petrus haal nie net woordeliks aan nie; nee, hy voeg ook nog iets by. Duisend jaar is in u oë soos die dag van gister – só sê Moses, maar Petrus voeg ook nog die omgekeerde hiervan by: en een dag is soos duisend jaar. En weet jy wat nou opmerklik is: Petrus plaas hierdie laaste selfs vooraan in die sin in 2 Petrus 3:8. En hy doen dit bewustelik, want hy wil daarmee die spotters se vraag omdraai!
Die spotters skep die indruk asof die gelowiges tevergeefs vir Gód moet wag; immers, wat vir ons soos ‘n oneindige duisend jaar voel, is vir God maar soos ‘n enkele dag! Vir God is dit niks, maar intussen moet ons maar wag… Maar dan sê Petrus: “Nee, dit is nie ons wat ‘n duisend jaar lank moet wag vir ‘n enkele Goddelike dag nie; dit is eerder andersom: God is bereid om een van óns dae ‘n duisend jaar te laat duur, as dit is wat nodig is om ons tot geloof en oorgawe te bring. Dit is nie so dat ons vir God wag nie, God wag vir ons! Dit is nie die Here wat sloer om te kom nie, dit is óns wat sloer! Die Here wag vir óns, en Hy doen dit met die grootste moontlike geduld!”
Ja, gemeente, die Here wag vir óns, soos wat ‘n pa wag vir sy kind wat sloer. Het jy al ooit opgemerk hoe kinders kan sloer? Jy gee vir hulle ‘n opdrag om iets te gaan doen, maar oppad om dit te gaan uitvoer, word hulle eers opgehou deur hierdie interessante dingetjie, en ‘n paar treë verder ontdek hulle daardie vergete stukkie speelgoed, en by die volgende kamer terg hulle eers vir boetie of sussie… En wanneer hulle ten slotte by die doel aankom, het hulle eintlik al vergeet dat hulle iets moes doen. En as ouer moet jy maar geduldig wag totdat hulle uiteindelik doen waarvoor jy hulle gestuur het.
Nou, so is ons ook. Ons sloer in ons lewe met die Here; ons wil nog eers dit doen of dat doen voordat ons voluit vir die Here begin lewe – eers nog my jonkheid geniet, eers nog trou en kinders kry, eers nog daardie promosie kry. Mense sloer om hulle lewens aan die Here te wy, hulle vat hulle tyd om in geloof na Jesus Christus te vlug, omdat daar nog soveel ander interessante dinge langs die pad is. Maar intussen wag die Here geduldig. Ja, die spotters is reg; dit is inderdaad so dat, sedert die begin van die skepping, die vaders lankal ontslaap het (vers 4). Dis waar, maar die Almagtige God het deur al die eeue wakker gebly. Hy is geduldig. Hy is nie traag in die vervulling van sy belofte nie, maar Hy is eerder traag om toornig te word!
Dink maar aan Nineve, hoeveel geduld God met hierdie stad gehad het. Terwyl Jona kliphard gebid het dat God se toorn en oordeel oor hierdie stad moes kom, het God sy toorn ingehou; Hy het bewoënheid gehad oor die mense, en selfs oor die vee, in daardie stad. Langdurige geduld is tiperend van die ewige God. Dit vat lank voordat sy toorn ontbrand. En sodoende skep God ruimte, Hy gee aan mense die geleentheid om hulle nog tot Hom te bekeer. Sy geduld is voorwaar ons redding, want dit bied geleentheid vir ‘n nuwe lewenshouding.
God het werklik alle geduld van die wêreld met ons! Hy is bereid om ‘n duisend jaar oor een dag te doen, om ‘n enkele dag duisend jaar te laat duur, net om ons saam te neem in sy oorwinning. Maar aan die ander kant, broers en susters, moet ons ook onthou dat ‘n volle duisend jaar vir God soos een, enkele dag kan wees; selfs ‘n enkele dag kan vir Hom te lank wees. Dus, hoewel Hy enersyds groot geduld het met ons, is Hy andersyds ook baie haastig. Die Here staan nie stil nie. Die Heer van die belofte is nie traag nie (vers 9), van uitstel kom daar nie afstel nie. Nee, Hy haas Hom! Hy haas Hom langsaam.
En ons moet weet, broers en susters, dat hierdie langsame haas en hierdie haastige geduld ‘n voortdurende appél tot ons rig. Dit is ‘n voortdurende appél op alle mense, maar in besonder op diegene wat die belofte alreeds ken. Ons wat God ken, wat onsself christene noem, wat kerklidmate is, ons moet gebruik maak van hierdie ekstra tyd wat God gee. Moenie by jouself dink nie: “Ag, môre is nog ‘n dag om hierdie slegte gewoonte te los. Of: ek sal môre die verhouding met hom of haar gaan regmaak. Of: ek moet net eers deur hierdie eksamens kom voordat ek weer erns maak met my bybelstudie en my verhouding met die Here.” Nee, moenie God se geduld, sy ekstra-tyd, vertrap nie. Gebruik dit, nou!
Gebruik dit tot jou eie voordeel, maar gebruik dit ook om ander tot die Here te roep. Ons bely immers in artikel 37 dat ons Here Jesus Christus eers terugkom wanneer die getal uitverkorenes volledig sal wees. Nou ja, as ons besef dat God se ekstra-tyd in besonder vir hierdie doel gegee is, dan moet dit ons aanspoor om, nadat ons op onsself gelet het, ook die ander agter-osse in die kraal te bring. Dwing hulle om in te gaan, voordat God se geduld deur sy haastigheid ingehaal word. Moenie daarmee sloer nie! Alle getuienis en evangelisasie is gebaseer op die vaste oortuiging dat God aan die kom is, langsaam dog haastig!
In die tweede plek let ons op die wêreldbrand.
2. Jesus Christus sal met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel kom om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee – só leer artikel 37 ons. Dit wil dus voorkom asof die verbranding van die ou wêreld, soos die NGB dit noem, êrens tussen die wederkoms en die laaste oordeel sal plaasvind. Hoe dit presies sal gaan, is nie heeltemal duidelik nie, maar dit is in elk geval seker dat hierdie verbranding ‘n werklikheid sal wees.
Nou, dit is ook presies wat Petrus die spotters in hoofstuk 3 aan die verstand wil bring. Hierdie spotters het naamlik gemeen dat daar niks was om oor bekommerd te wees nie. Vir eeuelank het daar immers geen skokkende gebeurtenisse in die wêreld plaasgevind nie. En daarom is hulle ook nie bekommerd dat daar nou skielik iets gaan gebeur nie. Onversteurd gaan hulle hul eie gang. Dit is geen vreemde gedagte nie, gemeente, ook vandag vind ons mense wat meen dat die wêreld eenvoudig sal aanhou draai, niks wat dit kan stop nie. En dan sê Petrus: “Duidelik het julle ‘n kort geheue! Onthou julle dan nie wat die water destyds met die aarde gedoen het nie?” Ja, gemeente, by die skepping het God ‘n soort wapenstilstand gesluit tussen die aarde en die water. Op die tweede dag het Hy immers deur sy woord skeiding gemaak tussen die water bo die aarde en die water op die aarde, en op die derde dag het Hy skeiding gemaak tussen see en land. En deur hierdie dubbele, waterdigte skeiding is die aarde bewoonbaar gemaak vir mens sowel as dier.
Maar dit was slegs deur God se woord dat dit gebeur het, en tot vandag toe word hierdie hele sisteem nog stééds deur God se woord gedra. God se woord handhaaf die noodsaaklike skeiding tussen die aarde en die watermassas. Maar sodra hierdie wapenstilstand verbreek word, dan loop die aarde vol met water. En dit is presies wat by die sondvloed gebeur het – daar het God die enorme waterfonteine rondom en op die aarde oopgemaak. Uit die dieptes van die aarde het die water uitgespuit, en uit die skatkamers van die hemel het die water neergestort. Die waterdigte skeiding is opgehef.
Gemeente, God se woord was bepalend in dit alles. Net so min as wat die waterskeiding by die skepping deur eie krag ontstaan het, net so min kon dit in eie krag voortbestaan. Die Skepper is die Een wat haar kan maak en breek. Sodra Hy die stabiliteit van sy woord onder hierdie wêreld wegvat, verloor sy al haar ewewig. Dan verdrink die aarde onder die water, en word die kosmos ‘n chaos. Die woord van die almagtige God bly daarom altyd die draende beginsel van die skepping. Dit wat in hierdie skepping gebeur, is nie as gevolg van natuurlike prosesse of wette nie, maar is as gevolg van die sprekende God. Dit is wat Petrus die onbekommerde spotters wil leer! Net soos in die dae van die sondvloed, kan die wêreld van vandag opnuut vergaan deur ‘n woord van God.
En weet julle wat, spotters, daar is so ‘n woord! God het alreeds iets hieroor gesê! Op grond van verskeie profesieë weet Petrus dat die teenswoordige hemele en die aarde bestem is om met vuur verbrand te word. Net soos wat God met sy water-gerig in die goddelose tyd van Noag ingegryp het, so gaan Hy ook weer in die toekoms ingryp met sy vuur-gerig. En dit is net as jy die eerste oordeel ontken, dat jy met die tweede een kan spot. Maar onthou, julle spotters, dit is wat die mense van Noag se tyd ook gedoen het – hulle het ook gespot toe Noag, die prediker van geregtigheid (2 Petr. 2:5), hulle van God se oordeel vertel het. Niemand het iets vermoed van God se naderende oordeel nie. Maar daardeur was dit nie minder werklik nie! Die sondvloed het hulle oorval sonder dat hulle hulself daarop kon voorberei. En net soos die toenmalige goddelose wêreld deur water vergaan het, so hang daar ook vandag oordeel en verderf bo die koppe van die goddeloses. God se woord het dit bepaal, Hy sal dit doen! Die wêreldbrand gaan kom en alle ongeregtigheid op hierdie aarde uitwis. Die spotters moet dit weet!
Maar is daar na hierdie wêreldbrand dan nog enige perspektief oor? Ja, gemeente, maar dan moet ons nie, soos die spotters, volgens ons eie begeertes lewe nie. As ons weet dat die hele samestelling van hierdie wêreld eendag volledig afgebreek en verbrand sal word, dan moet ons nie langer ons eie kompas volg nie, maar dan moet ons onsself oriënteer op daardie wêreld wat God belowe het. Met so ‘n vernietigende wêreldbrand bly daar net een ding oor vir die gelowiges om te doen, en dit is om hulleself gelowig vas te klou aan God se beloftes van ‘n nuwe wêreld! Deur die verbranding van die eerste hemel en die eerste aarde maak God ruimte vir ‘n nuwe skeppingswerk: hemel op aarde! Teenoor die spottende skeptisisme, stel Petrus die gelowige verwagting van nuwe hemele en ‘n nuwe aarde.
Maar wat maak dit dan nuut? Wat maak dit so besonders? Wel, volgens vers 13 sal geregtigheid daarin woon. Geregtigheid – iets wat so skaars is in hierdie wêreld. Mense wil nie doen wat reg is nie, mense kan nie doen wat reg is nie. Maar Jesus Christus, so sê Petrus in 1 Petrus 2:24, het ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe. Dit wat vandag alreeds in beginsel in ons aanwesig is, sal daar volmaaktheid bereik – geregtigheid sal daar haar vaste woonplek kry. Op die nuwe hemel en aarde, die koninkryk van Jesus Christus, is geregtigheid die basis onder ons voete en die koepel bo ons koppe. Dit is ‘n geregtigheid wat ons samelewing met God en met mekaar sal herstel tot volmaaktheid. Dan kom daar weer ‘n bewoonbare wêreld, waar geregtigheid sal heers. Dit is God se beloofde realiteit – Hy bring hemel op aarde. En wanneer dié twee mekaar raak, word alles wat ooit in hierdie bedeling skeefgegroei en kromgetrek het, reggemaak. Dan is die huis van die skepping weer ‘n veilige woning, ‘n huis van geregtigheid!
Gemeente, die komende wêreldbrand hoef ons dus nie moedeloos te maak nie. Waar die wêreldbrand tot oordeel is van die goddeloses, waar die wêreldbrand vir die goddeloses ‘n ewige vuur van vertering is, is dit vir ons as gelowiges ‘n vuur van vernuwing en van verwerkliking van alles waarop ons hoop. Alles wat vandag nog onvolmaak en gebrekkig is, alles wat vandag selfs met die beste bedoelings nog nie lekker wil werk nie, sal daar soos ‘n feniks uit die vuur te voorskyn kom. Die Here se woord verseker ons daarvan! Ten slotte let ons op die wêreldoordeel.
3. Gemeente, dikwels wanneer ons oor Christus as die Regter praat, dan kyk ons vorentoe, na die eindoordeel. Maar Petrus praat anders hieroor in 1 Petrus 4. Nadat hy in verse 12-16 gepraat het oor die lyding wat die kerk moet verduur, vervolg hy onmiddellik en in aansluiting daarop in vers 17: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” Die tyd is daar… - dit gaan hier nie oor die eindoordeel nie; Petrus sien dat die oordeel alreeds begin het, óók in die vervolging en lyding en smarte van sy dae!
Ons moet die eindoordeel dus nie losmaak van alles wat daar reeds voor die tyd in die wêreld gebeur, asof die eindoordeel ‘n geïsoleerde gebeurtenis by die wederkoms is nie. Nee, God se oordeel is een groot eenheid! God se oordeel is een groot regsitting wat alreeds begin het net ná die sondeval en wat eers voltooi sal word by die finale oordeel. Dit is een groot, onafgebroke regspleging. Een groot drama, met verskillende tonele. Ons kan dit amper vergelyk met ‘n donderstorm, iets waarmee ons hier in die noorde maar alte goed bekend is – van veraf kondig die storm sy koms dreunend aan. Soms is dit vir ‘n oomblik stil, angstig stil. En die natuur wag; die voëls swyg. En dan skielik, ‘n nuwe dreuning, nog nader. Weer ‘n stilte – geen donder, geen bliksem. Maar die wolke bly aan die beweeg, die lug bly werk. Luister, weer ‘n slag, nog nader. Voortdurend die afwisseling van stilte en van nuwe onweersgeluide, maar elke keer nader. Tot skielik… ‘n geweldige reënbui, ratelende donderslag, die vensters bewe in hulle rame, en dan… daardie krakende bliksemstraal wat huise aan die brand laat slaan en lewens in ‘n oomblik kan beëndig.
Só is dit ook met die oordeel, broers en susters. Voortdurend is dit daar. Ja, dit kan vir lank stil wees. Maar daar is steeds beweging. God berei sy donder voor. Elke keer opnuut is daar ‘n slag. ‘n Storm wat oor die wêreld gaan. Elke ramp, elke aardbewing, elke oorlog, elke siekte en ongeluk is ‘n openbaring van die oordeel. En elke keer kom die oordeel nader, word die donder dreigender. Daar is dus nie verskeie oordele nie; nee, daar is slegs die een oordeel, die oordeel van God wat Hy voltrek vanaf die sondeval tot by die voltooiing van die wêreld!
En dáárvan sê Petrus nou vir ons: gemeente van Jesus Christus, wanneer die verdrukking losbars en die moeite kom, moenie julleself te vinnig daarvan afmaak nie; moenie maak asof dit julle nie aangaan nie. Want dit is deel van die oordeel! En daardie oordeel begin by die huis van God! (vers 17) Die kerk is dus die wegspringblokke vir God se oordeel. Die gemeente van Jesus Christus – dáár begin dit! En moenie daaroor verbaas wees nie, broers en susters. Want dink weer aan die donderweer… Waar slaan die bliksem die eerste? Mos nie die huisie daar onder in die vallei nie? Nee, die bliksem slaan eerste die hoogste punt – die punt van die kerktoring! Hoe hoër ons is, hoe gouer skiet die bliksemstraal na ons toe. So is dit ook met die gemeente – die gemeente is immers ‘n stad op ‘n berg, sy beklee ‘n verhewe posisie. God se bliksem soek daarom heel eerste na sy woonplek. Eers die hoë plekke, eers die kerk, en daarna laer af.
Verstaan ons dit, gemeente? Eers ons! Eers jy en ek onder God se oordeel! Ons kan so maklik sê dat die dinge wat oor ons lewens kom beproewings en loutering is. En natuurlik is dit ook so. Maar ons moenie miskyk dat dit óók oordeel is nie. Oordeel oor die sonde in die gemeente. As God die sonde wil uitroei, dan moet Hy dit heel eerste in sy gemeente doen, want dáár is die gruwel van die sonde vir Hom groter as op enige ander plek. Hy toorn oor dit wat in sy huis verkeerd gaan, en daarom suiwer Hy eers dáár.
Maar…is dít dan vir ons rede om te twyfel? Moet ons begin wonder of ons nog gemeente van Christus is? Moet ons bevrees wees dat ons by die eindoordeel nie die paal gaan haal nie? Nee, gemeente, hoewel ons behoort te sidder vir God se oordeel, hoef ons nog nie te twyfel nie. Solank as wat ons die oog gerig hou op Jesus Christus, die Leidsman en voleinder van ons geloof! Wie na Hom kyk, kyk na God. Wie deur Hom na God kyk, sien God se vriendelike aangesig. En dan is Christus se wederkoms om die lewendes en die dooies te oordeel vir ons geen vreesaanjaende gebeurtenis nie, maar eerder iets waarna ons met gespanne afwagting uitsien. Want wie verwag ons uiteindelik, gemeente? Wie verwag jy uit die hemel, broer en suster? Die oordeelsregter? Heeltemal reg, maar daardie Regter is Jesus Christus, Hy wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het.
Hoor jy dit? Die Regter is my Redder! Die Regter in die hofsaak van die eindoordeel staan nie teenoor my nie, maar Hy is my goedgesind. Die oomblik wanneer die boeke geopen en al my werke aan die lig kom en ek verdien om deur die Regter geoordeel te word, op daardie selfde oomblik open die Regter sy mond om my, deur sy werk aan die kruis, vry te spreek. Ek mag voorwaar uitsien na ‘n bevooroordeelde Regter wat my saak sal behartig; ek mag uitsien na ‘n partydige Regter, want ek is deel van sy party – sy hemelse party van uitverkorenes waarvoor Hy met sy bloed betaal het. Loof daarom God se mag: want Hy’s reg in sy oordeelsweg; volke het Hy gestraf, Israel reg verskaf. Aan my sal op die laaste dag reg verskaf word – nie deur my werk nie, maar deur my Regter, die Redder. En daarom sê ek met vrymoedigheid: Kom Here Jesus, kom gou! Want ek is nie bang vir die eindoordeel nie. En ek sê dit nie in selfvertroue nie; nee, ek sê dit in die Naam van Jesus Christus!
Amen
Liturgie (oggend)
- VOORPSALM Ps. 21:4, 6-9
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 104:1, 4 en 6
Wetslesing + HK, Sondag 39 (5de gebod)
Sing Ps. 28:1-3, 8
Gebed
Lees: 1 Petrus 4:17-19
2 Petrus 3:1-13
Sing Ps. 90:2 en 3
Teks: NGB, artikel 37
Preek
Amenlied Skr. 46:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 30:1, 4, 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)