Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – Sondag 38; lees Handelinge 2:37-47
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Daardie Pinksterdag in Jerusalem moes ‘n besondere ervaring gewees het, sowel vir die apostels as vir die omstanders. Die kragtige wind, die tonge van vuur, die spreek in tale – dit alles was die sigbare bewys van Jesus Christus se heerskappy. Hy het hemelse volmag ontvang om oor sy kerk die volheid van die Gees uit te stort. En hoewel Pinkster ‘n unieke, eenmalige heilshistoriese gebeurtenis was, en die Heilige Gees slegs eenmaal in hierdie sigbare vorm aan die dissipels geskenk is, mag ons vandag steeds daarvan verseker wees dat die Here se onsigbare en verborge genade ons nooit sal ontbreek nie. Pinkster word nie herhaal nie, maar die Gees is en bly altyd by die kerk!
En tog, broers en susters, het hierdie eenmalige, sigbare gebeurtenis van Pinkster ‘n effek in daardie eerste tyd gehad wat ons nie tot daardie tyd mag beperk nie; ‘n sigbare effek wat vandag nog net so sigbaar behoort te wees, omdat ons met dieselfde Gees van Pinkster begenadig is. Mense het naamlik op grond van Petrus se prediking en oproep tot bekering gekom: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang… En die wat sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop” (2:38 en 41). Dít waartoe Petrus opgeroep het, het inderdaad ook gebeur! Maar daar is nog meer: want daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring (2:41). Mense het nie net elkeen individueel tot bekering gekom nie, nee, hulle het ook sáám vanuit die werk van die gekruisigde Christus begin léwe. Mense is immers toegebring – toegebring tot wat? Tot die kerk! Die kerk het sigbare gestalte begin aanneem. Sigbare gelowiges het ‘n sigbare kerk geword, wat gelewe het vanuit die genade van Christus en vervul was met die Gees van Pinkster.
Nou, na dáárdie kerk wil ons vanmiddag kyk – want daaraan kan ons toets of ons vandag nog steeds vervul is met die Gees van Pinkster.
Tema: die oorvloed van Pinkster bepaal die gesig van die kerk!
- Die gesig van die kerk se openbare erediens
- Die gesig van die kerk se daaglikse lewenswandel
1. Die eerste vraag wat dalk by jou opkom, is: wat het hierdie tema nou te make met Sondag 38 en met die vierde gebod (“gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig”)? Want die woorde ‘sabbat’ of ‘sondag’ is nog nie eens een keer genoem nie. En tog, broers en susters, het hierdie tema alles met die vierde gebod en met Sondag 38 te make. Want as jy die elemente van Sondag 38 wat “veral op die rusdag” sigbaar moet wees, begin vergelyk met die skets van die eerste gemeente in Handelinge 2 (veral vers 42), dan sien jy dat dit presies ooreenstem. Ek wys vir u baie vinnig die ooreenkomste, en daarna sal ons ‘n bietjie dieper delf in elkeen van die elemente. Antwoord 103 sê:
- “Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom” – nou, dit is presies wat die eerste gemeente gedoen het; kyk maar na vers 44: “en almal wat gelowig geword het, was bymekaar”, asook vers 46: “dag vir dag het hulle eendragtig volhard”. Dus, die gemeente moet saamkom, en ek moet saam met die gemeente saamkom – hoekom? Wel, sê antwoord 103, om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Hier is vier elemente wat ons byna letterlik terugvind in Handelinge 2:42:
1. Om die Woord van God te hoor – hulle het volhard in die leer van die apostels.
2. Om die sakramente te gebruik – hulle het volhard in die breking van die brood.
3. Om die Here openlik aan te roep – hulle het volhard in die gebede.
4. Om die Christelike liefdegawes te gee – hulle het volhard in die gemeenskap.
Dus, dit wat ons belydenis in antwoord 103 beskryf as tiperend van die samekomste van die gemeente, veral die samekoms op die rusdag, dít beskryf Handelinge 2 as tiperend van die samekomste van die eerste gemeente daar in Jerusalem. Nou goed, kom ons ondersoek hierdie elemente afsonderlik.
Van die eerste gemeente word in die eerste plek gesê dat hulle volhard het in die leer van die apostels. Die leer van die apostels – maar moet ons dan vashou aan die leer van mense, ook al was hulle die apostels? Nee, broers en susters, want die leer van die apostels is die leer van Jesus Christus. Immers, voordat hulle apostels (gestuurdes) geword het, was hulle eers dissipels (leerlinge). Drie jaar lank het Jesus vir Petrus en Johannes en Jakobus en die ander dissipels onderrig gegee, drie jaar lank was hulle voltydse studente in die skool van die hemelse Meester. En selfs ná sy opstanding het Jesus gedurende veertig dae met hulle gespreek oor die koninkryk van God (Hand. 1:3); dus, selfs kort voor sy hemelvaart gee Jesus nog aan sy leerlinge ‘n soort opfrissingskursus. Wanneer die apostels daarna uitgaan om te preek, dan preek hulle dus nie hul eie uitvindsels nie, maar soos goeie ambassadeurs het hulle getrou oorgelewer wat deur Jesus aan hulle toevertrou was. En presies om daardie rede kan Paulus in Efesiërs 2:20 sê dat God se gebou, die kerk, gebou is op die fondament van die apostels en die profete; en om dieselfde rede bestaan die muur van die nuwe Jerusalem in Openbarig 21 uit twaalf fondamente waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan. Want die leer van die apostels is die leer van Jesus Christus, en die leer van Jesus Christus is die leer van die Skrif, en die leer van die Skrif is die fondament van die kerk, met Christus as die hoeksteen. En dít is waarin die eerste gemeente volhard het!
Dit is so anders as wat ons vandag dikwels sien. Baie Christene vandag wil graag die Gees van Pinkster ervaar, hulle wil graag die sigbare, die skouspelagtige van daardie unieke Pinksterdag terughê, maar om soos die eerste Pinkstergemeente te bly by die leer van die Skrif, is eenvoudig te gewoon. Ons vind vandag ‘n duiwelse aversie teen die ‘leer’, teen die ‘doctrina’. Natuurlik lees mense nog wel die Bybel, natuurlik lees hulle nog Bybeltekste, sulke los teksverse wat mense per sms vir mekaar stuur – immers, wat is Christenskap sonder die Bybel. Maar die feit dat die Bybel ‘n leer verkondig, wat samehangend en eenvormig en allesomvattend is, daaraan wil min mense vandag nog byt. Maar besef goed: as jy die leer van die Skrif ontken, dan ontken jy wat die Skrif leer – immers, tot viermaal toe in sy pastorale briewe (1 en 2 Timotheus en Titus) praat Paulus van ‘die gesonde leer’. Hierdie leer is goed vir jou, dit maak jou gesond! Ja, dit proe dalk nie altyd so aangenaam soos die spookasem wat die sogenaamde Pinkster-beweging jou bied nie, want dit vertel jou van sonde en oordeel. Soms is die smaak maar redelik bitter wanneer jy jou eie ellende daarin ontdek. Maar uiteindelik maak dit jou gesond, want dit bring jou by Jesus Christus!
Ma’s, julle weet mos dat julle kinders nie kan groei van McDonalds en Spur-kos nie. En daarom doen julle moeite om ‘n gesonde dieet vir julle kinders te bied. Wel, die Here weet watter dieet ons vir ons geestelike lewe nodig het – die leer van die Skrif. God wil daarom dat die Woordbediening en die skole (kortweg: die teologiese opleiding) in stand gehou moet word (begin van antwoord 103). Laat ons dus voortgaan om die Skrif te preek en onsself onder daardie prediking te plaas, laat ons voortgaan om saam die Skrifte te ondersoek, want so het ons Geesvervulde broers en susters daar in Jerusalem dit gedoen. Pinkster bepaal die gesig van die openbare erediens, en die heel eerste wat jou moet opval van die openbare erediens is die stewige, gesonde kos wat op ‘n deurlopende basis hier gegee word – volharding in die leer van die apostels. Dit is die siel van die kerk – haal die leer weg, en al waarmee jy oorbly is ‘n dooie liggaam, ‘n lyk.
Vervolgens word van die eerste gemeente gesê dat hulle volhard het in die gemeenskap (die bekende Griekse woord koinonia word hier gebruik). Hier gaan dit oor die saamwees van die lede van Christus se liggaam en die gepaardgaande sorg vir die liggaam van Christus en vir die lede afsonderlik. Om ‘n gelowige te wees – vervul met die Heilige Gees – beteken dus nooit dat ek op my eie kan bly staan nie, want die Gees van Pinkster bring gelowiges bymekaar – daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring, toegevoeg tot die kerk. Nie as ‘n byvoordeel nie, maar as ‘n wesenlike kenmerk van die geloof. Ons bely mos: “ek glo in die Heilige Gees”, maar dan volg onmiddellik ook: “ek glo aan ‘n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. Dit hoort bymekaar! En moenie dink dat, net omdat jy Sondae in die kerk is, jy ook besig is met gemeenskapsoefening nie. Want gemeenskapsoefening is ‘n aksie, dit is ‘n aktiewe daad. As ons week na week ‘n aanwesigheidslys van die eredienste sou byhou, dan sou dit vir ons ‘n klomp getalle gee, maar op sigself sou dit nog niks sê van ons saamwees en ons een-wees nie! Koinonia (gemeenskap) is nie net om die kerk vol te maak nie, maar dit is die feit dat jy en ek nie hier verby mekaar kan loop sonder om ons Familie-band te verstewig nie. Koinonia is dat jy en ek ons stemme bewustelik bymekaarvoeg in ons lof op God, dat ek met verwondering na jou luister terwyl ons sing, en jy na my.
En koinonia is óók dat ons, soos wat antwoord 103 dit verwoord, die Christelike liefdegawes sal gee. Ja, die kollektes wat opgeneem word, is waarskynlik die mees sigbare vorm van gemeenskapsbeoefening in die erediens. En daarom hoort dit ook voluit in die erediens. In die geskiedenis was daar gereeld ‘n debat oor die vraag of die kollekte eintlik in die erediens tuishoort. En die antwoord op daardie vraag behoort ‘n onomwonde ‘ja’ te wees. Die kollekte-moment in die erediens is gemeenskapsoefening met diegene wat finansieel swaarkry, ook al weet ek nie wie hulle is nie.
Gemeente, waak vir die geeste van hierdie eeu wat propageer dat geloof slegs gaan oor my vertikale lyntjie met God, en dat ek slegs in die kerk kom om daardie lyntjie te verstewig. Oppas vir daardie gees, want die Gees van Pinkster leer ons iets anders: koinonia, gemeenskap met my mede-gelowiges, omdat ons een Hoof het, Jesus Christus.
In die derde plek word van die gemeente in Jerusalem gesê dat hulle volhard het in die breking van die brood. Sommige meen dat dit hier gaan oor gemeenskaplike maaltye wat gemeentelede gehou het, maar onthou: in hierdie vers word vir ons die openbare gesig van die kerk geskets. En aangesien ons reeds die koinonia behandel het, sal dit hier móét gaan oor die sakrament van die nagmaal. Dus, ook die sakramente – nagmaal én doop – is deel van die openbare gesig van die kerk. Ons kan nie daarsonder nie. Die Gees van Pinkster bind die kerk aan die tekens van water en brood en wyn; Christus gee hierdie tekens aan die kerk as bevestiging van die leer van die apostels.
En ten slotte word van die gemeente gesê dat hulle volhard het in die gebede. Ja, die aanroeping van die Here is ‘n belangrike deel van die openbare gesig van die kerk. Die kerk leef in afhanklikheid van haar God, en sy wys dit vir almal om haar heen deur op haar knieë te gaan. Ook vir die kerk geld dat die gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is, soos wat Sondag 45 ons leer. En in hierdie gebede bring ons alles voor die Here – ons behoeftes, ons dankbaarheid, ons bekommernisse, ons seer. Dit wat ons gemeenskaplik aangaan bring ons Hom, en dit beteken uiteraard ook dat ons baie konkreet, by die naam, vir mekaar mag bid. Want waar een lid ly, ly die hele liggaam saam, en waar een lid bly is, daar is die hele liggaam saam bly. Die kinders kla dikwels dat die dominees se gebede so lank is – en natuurlik hoef ons nie mekaar se geduld te beproef met uitgerekte gebede nie. Maar as ons werklik biddende kerk wil wees, dan het ons baie om vir die Here te sê. Kom ons neem die tyd daarvoor!
Gemeente, in hierdie vier elemente – die leer van die apostels, die onderlinge gemeenskap, die breking van die brood en die gebede – neem die kerk haar vorm aan voor die oog van die publiek. Hierdie dinge behoort die profiel van die gemeente te kenmerk. Soos wat my facebook-profiel vir mense sê wie ek is, waar ek woon en werk, en of ek getroud is, net só het die kerk ook ‘n profiel. En hierdie profiel 1) word bepaal deur die Gees van Pinkster, 2) dit het as voorbeeld die eerste gemeente in Jerusalem, en 3) dit kom tot uiting in ons openbare samekomste, veral die Sondagse eredienste.
En laat ons onsself maar daaraan toets. Ons gaan baie maklik en baie staties om met die drie kenmerke van die ware kerk, soos wat ons dit vind in artikel 29 van die NGB. Maar hier in Handelinge 2 word konkrete invulling gegee aan daardie kenmerke, hier kry die drie kenmerke van artikel 29 vlees en bloed, hier kry dit lewe – hier besef ons dat ons kerk-wees gaan oor mense wat saam, in die eenheid van die geloof die Skrifte ondersoek; mense wat werklik omgee vir mekaar, ook al kom almal nie noodwendig ewe goed oor die weg nie; mense wat bewustelik saam die sakramente vier; mense wat saam hulle hande kan vou en kan bid. Dit is die gemeente wat deur die werk van die Gees dít doen, wat die vierde gebod onderhou. Dán heilig ons die dag van die Here. En dan is daar baie om te doen op die Sondag, dan word my Sondag vol met arbeid in diens van die koninkryk!
Maar kom ons gaan verder: ons het nou eers gelet op die gesig van die kerk in die openbare erediens; ons let nou vervolgens op die gesig van die kerk in die daaglikse lewe.
2. Die mooiste van Sondag 38 is waarskynlik die feit dat dit die lewe met die Here en die lewe in sy gemeente, wat veral op Sondae tot uiting kom, nie tot die Sondag beperk nie, maar dit deel maak van die hele lewe. Die Kategismus kan in elk geval nie daarvan beskuldig word dat dit Sondagschristene kweek nie, want die Sondag werk deur na elke ander dag: “Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.” Nou, dit wat Sondag 38 hier op ‘n negatiewe manier verwoord – “elke dag van my lewe van my bose werke rus” – dit verwoord Handelinge 2 eintlik maar net op ‘n positiewe manier. Ons sien naamlik in die laaste verse van Handelinge 2 dat dieselfde elemente wat die gesig van die kerk in haar openbare erediens bepaal het, ook weer terugkom in die daaglikse lewe van die gemeentelede. Wanneer die kerk in Jerusalem op Sondae uitgegaan het, het daar waarlik iets van die kerk uitgegaan. Dit wat die christene in die erediens beoefen het, dit het hulle ook gaan uitleef!
Ons sien dit al baie konkret in verse 44 en 45: “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het”. Dit is die gemeenskap waarvan vers 42 praat. Die gemeentelede was bymekaar, en in hulle bymekaar-wees het hulle gedeel – uiteraard het hulle die geloof gedeel, maar hulle het ook hulle kos en hulle klere en hulle geld gedeel. Aan elkeen is uitgedeel soos wat hy nodig gehad het. Dit beteken regtig nie dat elkeen dit op hierdie manier gedoen het nie, en hierdie teks kan ook nie as bewys van een of ander vorm van sosialisme gebruik word nie. Maar dit wys vir ons iets van die gees en die houding in die gemeente van Jerusalem. Sou dit nie wonderlik wees as dit onder ons ook so kon wees nie? Ek sê nie dat dit nie so is nie, maar ons moet nog verder daarin groei, die Pinkstergees wil nog meer onder ons werk. Want is ons nog werklik bymekaar? Kom ons regtig bymekaar? Deel ons nog met mekaar? En dit is nie die dominee wat wil hê dat die VVB opgestoot moet word nie; nee, dit is die Gees van Pinkster wat ons aanspreek.
Dan lees ons verder in vers 46: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel…” Wat sou hulle daar gedoen het? Wel, hulle sou verseker die apostoliese leer bestudeer en ondersoek het – hier vind ons die konkrete invulling van volharding in die leer van die apostels in die daaglikse lewe. En as net hierna ons in Handelinge 3:1 lees dat Petrus en Johannes na die tempel oppad was op die uur van die gebed, dan kan ons aanneem dat hulle daar ook saam gebid het. Dus, Bybelstudie en gebed – dit was die gesig van die eerste gemeente, nie net op Sondae nie. Hoe baie van óns doen dit nog – saam met ander gelowiges die apostoliese leer bestudeer en bid? Nee, nie nét die leer bestudeer nie, maar dit ook konkreet en persoonlik maak in die gesamentlike gebed. Nee, nie nét bid nie, maar ook die stof vir die gebed uit die apostoliese leer haal.
Ons lees verder in vers 46: “hulle het van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk.” Gemeentelede het dus saam geëet, hulle het met mekaar hulle voedsel geniet – nie uitspattig nie, nie luuks nie, nee, met eenvoudigheid van hart. Eenvoudige maaltye met medegelowiges waarin die Here geprys word – dit is ‘n getuienis vir die kerk wat uitleef wat sy preek. Want dit help nie ons sit vroom om een nagmaalstafel, maar in die praktyk van die dag weier ons om mekaar aan te kyk nie. Die gemeenskaplike maaltyd van die Here, moet uitwerking vind in die gemeenskaplike maaltye van broers en susters wat omgee en omsien.
En dan sluit vers 47 af: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Is dit sommer ‘n lukrake toevoeging? Nee, gemeente, dit is die gevolg van ‘n kerk wat lewe volgens haar profiel! Die Here gebruik die gemeente se profiel om mense tot die kerk aangetrokke te maak. Die deursnee ongelowige kom vandag nie meer in ‘n kerk nie, en het ook geen planne om in sy lewe ‘n kerk te gaan besoek nie. En daarom moet ons nie verwag dat die gesig van die erediens mense gaan trek nie. Nee, ons moet mense trek met die gesig van ons daaglikse lewenswandel. Ons moet van ons bose werke rus en begin uitleef wat ons hier op Sondae doen. Dís wat mense gaan raaksien! En as hulle dan, deur die werk van die Gees, uiteindelik die bereidwilligheid uitspreek om ‘n slag kerk toe te gaan, dan moet hulle hier instap en onmiddellik weet: dit wat ek hier in die erediens sien, is presies dieselfde as wat ek in die lewe van lidmaat x of lidmaat y gesien het.
Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig, dis ‘n gebod van die Here. Maar wees ook ‘n alledaagse kerk, ‘n gemeente vir elke dag. Anders word ons strenge Sondagsheiliging ‘n rookskerm vir iets wat dit in werklikheid nie meer is nie. Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig – doen dit nougeset. Maar gedenk ook Maandag en Dinsdag en elke ander dag, dat jy dit heilig. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe. Laat die Gees van Pinkster jou lewe vul en jou profiel bepaal – op Sondag en elke ander dag.
Amen
Liturgie (aand)
- VOORPSALM Skr. 21:4-6
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 139:12
Gebed
Lees: Handelinge 2:37-47
Sing Skr. 27:4 en 5
Teks: HK, Sondag 38
Preek
Kollekte (kom ons beoefen gemeenskap, en dan bely ons daarna ons geloof staande en singende)
Sing Geloofsbelydenis (staande)
Gebed
Sing Ps. 133
Sing Ps. 134:4 (as gebed om die seën; verander ‘hul’ na ‘ons’)
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)