Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon
Kopiereg word
voorbehou.
PRETORIA-MARANATA,
25 Oktober 2015 AD, 10:15
Votum
Seën
Ps 78:1
Wet
Ps 119:43
Gebed
Skriflesing: Deuteronomium 28
Ps 78:3,7,8,11
Teks: 2 Kronieke 7:11-22
Preek
Ps 78:16,19,20
Gebed
Kollekte
Ps 78:23,25
Seën
Preek: 2
Kronieke 7:11-22
In ons teks bevind koning Salomo
hom op ‘n skarnierpunt.
Hy het ruim twintig jaar regering
agter die rug.
Groot bouprojekte is voltooi –
die tempel, sy eie paleis.
Maar nou, hoe nou verder in die
toekoms?
Dit is op hierdie skarnierpunt
wat die HERE weer aan koning Salomo verskyn.
Tema: Die
HERE sorg dat Salomo sy regering weer afstem op sy geopenbaarde wil
In die eerste preek oor Kronieke,
dit is nou al ‘n rukkie gelede, het ons gekyk na God se eerste verskyning aan
Salomo.
By die eerste verskyning het die
Kronis ons aandag gevestig op die volgende: naamlik dat God Homself en sy wil
bekend maak op die plek waar Hy Hom laat vind.
Ons het toe gesien dat Salomo
bewus na Gibeon gereis het, om die HERE daar te raadpleeg.
Dit was toe die plek.
In Gibeon het die tabernakel toe
nog gestaan.
Daar, by die tabernakel, het God
Hom laat vind.
Maar nou is dit al weer ‘n
klompie jare later.
Toe was dit kort na sy
troonsbestyging.
Nou is dit al meer as twintig
jaar later, die tempelbou is voltooi, die inwyding is agter die rug.
Salomo het ook vir homself ‘n
skitterende paleis gebou.
En nou lees ons dat die HERE in
die nag weer aan Salomo verskyn het.
In die vorige preek oor Kronieke
het ons aandag geskenk aan drome.
Dit klink dalk snaaks dat die
HERE in ‘n droom met ‘n mens praat.
Is dit dan wel betroubaar, het
ons toe gevra?
Hoe het Salomo geweet dat dit God
was wat met Hom gespreek het?
Die duiwel, of jou eie inbeelding
kan tog ook die oorsprong van die droom gewees het?
Aan die ander kant het ons gesien
dat dit ook so is dat ons as klein mense nie die reg het om te beweer dat God
nooit in drome met mense kan kommunikeer nie.
God is almagtig, en Hy kan op
verskillende maniere sy eie skepsels opsoek.
Meer nog, God ontmoet ons op al
ons weë, ook helder oordag.
Alles om ons heen, alles wat ons
lewensweg kruis, in alles merk ons die roepstem van God op.
Wat wel so is, en dit was in die
vorige preek ook aan die orde, is dat dit nooit los van die Bybel kan staan
nie.
Die Bybel is God se geopenbaarde
wil.
Waar jy met drome, ervarings, belewenisse
en dergelike dinge nooit aan ‘n ander kan bewys dat God dit vir jou gesê het
nie, is dit anders met die Bybel.
Die Bybel is God se Woord, swart
op wit, histories betroubaar.
En daarom geld vir elke mens as
riglyn: bysondere openbarings, drome en sulke dinge is net van waarde in
soverre hulle ooreenstem met die geopenbaarde wil van God in die Bybel.
Dieselfde het uiteraard ook vir
Salomo gegeld.
Dit is eintlik opvallend dat
hierdie twee altyd hand in hand gaan.
Wie naby God se Woord leef, sien
ook hoe die lewende God aktief is in elke dag van jou lewe.
Wie ver van God se Woord leef,
wie die Bybel nie elke dag oopmaak nie, ervaar hoe langer hoe meer die
afwesigheid van God.
Dink maar aan koning Saul.
Alles het so goed begin met Saul.
Maar op ‘n stadium het duidelik
begin word dat Saul eerder sy eie wil gevolg het as God se geopenbaarde wil.
Dit het geblyk uit hoe hy die
land geregeer het.
Dit het geblyk uit die manier hoe
hy oorlog gevoer het.
Dit het geblyk uit sy omgang met
die erediens, bv. dat hy self wou offer, pleks van dit aan die bevoegde
priesters oor te laat.
En wat was die gevolg?
Saul het hoe langer hoe eensamer
begin voel.
Hy het al hoe minder van God
gemerk.
Dit het vir hom al hoe meer
gevoel of hy in ‘n lugleegte lewe.
Ons lees in die Bybel dat God se
Gees van Saul gewyk het het.
Nou moet ons dit nie uitlê asof
die HERE Saul laat val het nie.
Inteendeel, dit was duidelik dat Saul nie rekening gehou het met God se
geopenbaarde wil nie.
God se Gees en sy Woord, dit kan
mens nie skei nie.
Daarom dat God se Gees ook van
Saul gewyk het, omdat Saul God se Woord verontagsaam het.
En toe God se Gees van hom wyk,
het dit hom radeloos gemaak.
So erg dat hy hulp gaan soek het
by bose geeste.
Hy het behoefte gehad aan kontak
met die goddelike.
Maar aan God se wil wou hy
homself nie meer hou nie, met die gevolg dat hy sy toevlug gesoek het by die
heks van Endor.
By koning Salomo het dit gelukkig
anders gegaan.
Nie dat Salomo sonder sonde was
nie.
Maar mens leer wel hieruit dat
die Here gehoorsaamheid beloon.
Salomo het dus die tempel laat
bou.
By die bou het hy rekening gehou
met die voorskrifte in die wet van God.
Hy het nie sy eie gang gegaan,
deur ‘n heiligdom op te rig volgens sy eie smaak nie.
Dink byvoorbeeld hoe koning
Jerobeam dit na hom sou doen.
Salomo het ‘n tempel gebou
ooreenkomstig God se instruksies.
Dit was afwykend van die mode van
daardie tyd, hoe die omliggende heidenvolke hulle tempels en heiligdomme
ontwerp en gebou het.
Maar dit het vir koning Salomo
minder swaar geweeg as God se wil.
Om maar ‘n enkele voorbeeld te
noem, wat in God se wet staan.
In Exodus 20:26 het God ‘n
instruksie gegee ten aansien van die bou van ‘n altaar:
“Jy mag ook nie met trappe na my altaar opklim
nie, dat jou skaamte nie daarop ontbloot word nie.”
God wou dus dat die altaar wat
vir Hom gebou sou word, nie ‘n trap mog hê nie.
Hoekom nie?
Hieragter was ‘n inhoudelike
rede.
In die omliggende wêreld van die
heidendom was die tempeldiens en die priesterkultus vermeng met onsedelikheid.
Seksuele omgang tussen die
priesters en die mense wat hulle offers kom bring het, was deel van die
tempelritueel.
In hierdie konteks het die HERE
baie pertinent bepaal: Ek wil nie hê dat my altaar trappe het nie.
Die Kanaänitiese priesters het bewus
so aangetrek, dat as hulle die altaar beklim het, dat hulle seksuele organe
sigbaar was van onder af.
Hierdie soort priesterkultus het
die HERE verafsku.
En so was daar verskillende
voorskrifte wat God gegee het met die oog op die tempelbou, gerig op daardie
tyd en kultuur.
Salomo het, in gehoorsaamheid aan
God se wet, hierdie voorskrifte in ag geneem by die bou van die nuwe tempel.
En wie God se wil eerbiedig, mag
ook seën daarop verwag.
Konkreet: seën in die vorm van ‘n
gesonde tempeldiens, gesond in leerstellige opsig, gesond in eties morele
opsig, gesond selfs in ekonomiese opsig.
‘n Tempeldiens sonder sulke
losbandigheid en ander dinge wat mense uiteindelik stukkend en ongelukkig maak.
Wie God se wil eerbiedig, mag
seën daarop verwag.
Ook seën in die vorm van ‘n
gesonde samelewing, waar alles in goeie bane loop danksy God se voorskrifte wat
die regte rigting aandui asook die noodsaaklike grense.
Dus, in teenstelling tot
byvoorbeeld koning Saul, het Salomo nie ervaar dat God vir hom ‘n vreemde was
nie.
In ons teks verskyn God nou weer
aan Salomo in ‘n droom.
Die inhoud van hierdie droom is
baie opvallend.
As ons na die inhoud van hierdie
droom kyk, stem dit heeltemal ooreen met God se geopenbaarde wil.
Ons het in verband hiermee ‘n hoofstuk
uit Deuteronomium gelees.
Hoekom?
Die boek Deuteronomium was
onderdeel van God se geopenbaarde wil in daardie tyd.
Vandag is dit die Bybel.
Toe was die Bybel nog nie
volledig soos ons dit nou het nie.
Maar die Pentateug, die eerste
vyf boeke van die Bybel, was toe al wel daar.
As ons die inhoud van die
verskyning in Salomo se droom daarmee vergelyk, dan stem dit heeltemal ooreen
met die woorde van Deuteronomium 28.
Mens kan dit in twee dele
verdeel.
Twee dele wat wesenlik is aan die
verbond wat God met sy volk gesluit het.
Eers stel die HERE ‘n voorwaarde
aan sy volk in Deuteronomium, en hier in ons teks aan Salomo.
Hy wys hom op sy
verantwoordelikheid.
As Salomo en sy volk na God vra,
aan Hom die eer gee, erken dat hulle al hulle voorspoed aan Hom te danke het, opreg
voor Hom wandel, ootmoedig en nederig is voor Hom, dan sal God hulle oorlaai
met sy beloftes.
Maar die tweede deel is die
omgekeerde.
As Salomo afkering word van God
se insettinge en gebooie, as Salomo hulle begin afskaf, dan sal God dit nie
deur die vingers sien nie.
En dan volg daar ‘n lys strawwe
as bedreiging.
God sê: Ek sal die volk uitruk
uit die land wat Ek aan hulle gegee het.
Ek sal sorg dat hierdie mooi
tempel wat Salomo gebou het, verwoes word.
Ek sal die gebou van My af
wegwerp.
Ek sal julle tot ‘n spreekwoord
en bespotting onder die volke maak!
Mens hoor hier al ‘n voorspelling
van die ballingskap, in die geval van ontrou by Israel.
Dit is dus die inhoud van die
droom of die nagtelike gesig van Salomo.
Nie vir misverstand vatbaar nie.
God vra trou van sy koning.
As daar berou is, sal God altyd
te vinde wees, dit staan vas.
Dit is nooit te laat nie.
Maar wanneer mense hulle eie gang
gaan, laat God nie met Hom spot nie.
Salomo het God se geopenbaarde
wil geken.
Deuteronomium 28 was vir hom
bekend.
Hy het hom daardeur laat lei, in
die manier waarop hy die tempel gebou het, in die manier hoe hy sy land
geregeer het.
En nou kry hy ook nog bevestiging
in ‘n nagtelike gesig.
God verskyn spesiaal aan hom.
Dit is wonderlik, hoe God hom ontmoet
op sy lewenspad.
En gemeente, mag dit tog ook so
met u en my gaan.
Wie volgens God se gebooie lewe,
wandel saam met God; ervaar geen Godsverduistering nie.
Wie God se leefreëls in ag neem,
weet en voel dat God naby is.
Lank gelede is daar al oor Henog
gesê dat hy met God gewandel het.
Maar dit kan ook van ons gesê
word, en van elkeen wat met die Woord van God deur die lewe gaan.
Dit is die versekering wat die
HERE aan Salomo gee in hierdie verskyning.
Ek sal vanuit die hemel luister!
Ek sal jou sondes vergeef!
As jy, Salomo, voor my aangesig
wandel, soos jou vader Dawid gedoen het – nie dat Dawid sonder sonde was nie
inteendeel – maar hy het wel elke keer sy sondes bely – as jy, Salomo, ook so
lewe, as jy alles doen wat Ek jou gebied, my insettinge en gebooie in ag neem,
dan sal Ek jou koningstroon bevestig.
God gee hier op ‘n wonderlike
manier antwoord op die gebed van Salomo.
Salomo se gebed kan mens in die
vorige hoofstuk lees – 2 Kronieke 6.
Dis die moeite werd om hierdie
gebed miskien vandag by die huis te lees.
As mens die gebed lees, val dit
op hoe baie woorde en frases daarin herinner aan Deuteronomium 28.
Die gebed van Salomo is dus ‘n
bewys dat hy die geopenbaarde wil van God, soos dit in Deuteronomium staan,
geken het.
En dat hy dit wat God daarin
destyds vir sy volk gesê het, ernstig geneem het.
In hierdie verskyning van God in
die nag aan Salomo bevestig Hy sy ou woorde opnuut.
Dit was vir Salomo ‘n riem onder
die hart.
Net soos by die vorige
verskyning.
Ek sal by jou bly, ook in die swaar
taak wat jy gekry het om die volk te regeer.
En as jy ook by My bly, by my
gebooie, dan sal dit goed gaan.
Moenie bekommerd wees nie.
Salomo bevind hom hier op ‘n
belangrike skarnierpunt in sy regering.
Hy het twee dekades agter die
rug.
‘n Periode wat beheers is deur
groot bouwerksaamhede.
Groot ideale is nou verwesenlik.
Nou kan hy begin konsolideer.
Maar op so ‘n oomblik kyk mens
nie net met voldoening agteruit nie, mens kyk ook vooruit, die toekoms in.
Watter rigting gaan ons nou op?
Gaan Salomo in die toekoms in
dieselfde rigting verder?
Die weg van God se gebooie,
gehoorsaamheid aan Hom?
Of, noudat hy voorspoedig en
welvarend is, gaan hy agteroor sit, selfvoldaan, dink dat sy bene nou sterk
genoeg is, dat hy sonder God, sonder sy wet ook wel sal vaar?
Juis op hierdie kruispunt verskyn
God spesiaal aan hom.
Die HERE verwys Salomo terug na
die woorde van sy gebed.
Daardie gebed wat hy gebid het by
die inwyding van die tempel, nou weer 13 jaar gelede.
Daardie gebed waarin Salomo bewus
aangesluit het by God se geopenbaarde wil, soos ons gelees het in Deuteronomium
28.
Daarna wys God Salomo nou weer
terug.
My dienaar, sê God vir hom, ook
vir die komende jare, noudat jy ‘n ervare vors is, ook vir die toekoms geld my
ou woord.
Bly nederig, bly nugter, volg my
insettinge, dan sal dit goed gaan.
Besef dat Ek die Een is wat die
hemel kan toesluit.
Dink maar net, gemeente, aan die
droogte wat die land later sou tref ten tye van koning Agab.
Dit was ‘n teken van God aan
daardie afvallige koning dat die welvaart en stabiliteit in die samelewing nie
in sy hande gelê het nie.
God is ook Baas oor die
treksprinkane, die grootste bedreiging vir die landbou in daardie tyd.
Dat ‘n wolk sprinkane op jou oes
sou neerstryk, dat hulle die land kaal agterlaat.
Geen regering of versekering wat
daarteen opgewasse was nie.
Elke boer wens dat dit hom
bespaar bly.
Daarom dat God Salomo hier
nadruklik op die hart bind:
Wees suinig op jou land en op jou
volk.
Bewaar my gebooie.
Eerbiedig my basiese
skeppingsordinansies, dan sal my seën ook volg!
Die keersyde, daaraan wil mens
amper nie dink nie.
Tog bepaal die HERE Salomo by die
nugtere werklikheid, ook in hierdie nagtelike verskyning.
Die keersyde, koning Salomo, as
jy jou afkeer van my insettinge en my gebooie verlaat, dan sal Ek jou en
hierdie volk uitruk uit my land wat ek aan julle gegee het.
Mag dit tog nooit gebeur, dat
julle ‘n spreekwoord word onder die volke nie.
Dat mense sal sê:
Omdat hulle die HERE, die God wat
hulle uit Egipte bevry het, verlaat het, daarom het die HERE nou al hierdie
onheil oor hulle gebring.
Gemeente, ons is vandag bevoorreg
dat ons lidmate mag wees van ‘n kerk wat God se gebooie eerbiedig.
En as iemand God se goeie
insettinge oortree, of probeer uithol, dan word dit in ons kerk aangespreek.
Ons is ook bevoorreg dat ons in
‘n land woon waar God se gebooie in die verlede ‘n stempel op die samelewing gedruk
het.
Mens raak gewoond aan hierdie
situasie, mens vind dit gewoon.
Mens kan begin dink dat dit
normaal is, en dat dit vanself gaan.
Mense besef nie meer die
stabiliteit en veiligheid wat God se Woord tot gevolg gehad het nie.
Mense dink dat van God se gebooie
oudtyds geraak het, en dat dit beter is om hulle af te skaf.
Op etiese gebied, om maar een
gebied te noem, sien ons hoe die samelewing ‘n nuwe koers kies, en daar is ook
kerke wat die samelewing in hierdie nuwe koers volg.
Gewoonlik kom mens eers agter dat
dit die verkeerde koers was, as dit reeds vir baie te laat is.
Dit is ‘n voorreg om God se
woorde in ons teks op ons te laat inwerk, sodat ons ook, net soos Salomo,
betyds gewaarsku word.
As jy teen God se gebooie begin
inredeneer, as jy hulle aan die kantlyn van jou lewe laat lê, dan gaan jy êrens
in die toekoms die rekening betaal.
Soos ek reeds genoem het, ons
vind in die teks alreeds ‘n vae, en ook ‘n kondisionele, voorspelling van die
ballingskap.
Met kondisioneel bedoel ek: in
die geval van ontrou, waarsku God nou al, sal die ballingskap beslis kom.
Maar in die geval van trou sal
daar geen ballingskap nodig wees nie.
Ons weet vandaag dat die
ballingskap helaas wel gekom het.
Dit het nog jare geduur, eeue
selfs, voordat die rekening gekom het.
God se gebooie garandeer ‘n goeie
bestaan in sy skepping.
Sy gebooie is vandag nog
onverkort van krag en aktueel.
Ons leef nog in dieselfde
skepping as Salomo destyds.
Laat ons dit ook vir ons en ons
tyd ter harte neem:
‘n samelewing wat God se
leefreëls aan die kant skuif, gaan daarvoor die rekening betaal.
Dit geld vir elke individu wat
dit doen.
Dit geld vir elke regering wat
dit doen.
Dit geld ook vir elke kerk wat
dit doen.
Daar word soms gesê: die bederf
van die beste is die slegste.
Die kerk en die manier hoe mense
in die kerk met mekaar saamleef, dit kan ons gerus as die beste tipeer.
Dit is van ‘n baie hoë kwaliteit.
Daar heers liefde, daar heers
eensgesindheid, daar heers opoffering vir mekaar, ondersteuning van mekaar,
geborgenheid.
Maar as die kerk van Christus sy
koers wysig, in leer of in lewenspraktyk, dan kan daardie hoë kwaliteit van
saamlewe omslaan in kilte en koudheid in die kerk.
Laat ons almal saam, en elkeen
persoonlik, suiwer bly wandel met die HERE.
Naby Hom lewe.
Elkeen van ons struikel van tyd
tot tyd, en ons sondig almal.
Dit is nie die grootste
bedreiding vir die kerk nie.
Waaroor dit gaan, is dat ons, uit
die krag van Christus se Gees, weer opstaan uit die sonde.
Dat ons leef uit vergewing, naby
aan ons Heiland.
Daar is geen beter lewe.
Dit het destyds gegeld – God het
dit aan Salomo duidelik gemaak in die nagtelike verskyning.
Dit geld vandag nog net so.
‘n Beter lewe is daar nie.
Bly streef na hierdie hoë
kwaliteit van saamlewe.
Bou jou lewe op die pilare van
God se gebooie.
Stem jou lewensbeleid af op die
golflengte van God se geopenbaarde wil.
Amen.
(kyk in preek)