Die oordeel van die koningin van Skeba

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-11-01
Teks: 
II Kronieke 9 : 1-12
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 1 November
2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb
50:1-7

Votum

Seën

Ps 119:38,39

Wet

Ps 119:37

Gebed

Skriflesing:
2 Kronieke 9:1-12

Ps 72:1,4,5

Skriflesing:
Mattheüs 12:22-45

Ps 72:6

Teks: 2
Kronieke 9:1-12

Preek

Ps
72:8,10,11

Gebed

Kollekte

Ps 90:7,9

Seën

 

 

 

 

 

Preek: 2 Kronieke 9:1-12

Die teks
handel oor ‘n gebeurtenis wat dikwels uitvoerig in Kinderbybels beskryf word.

Dit gaan oor
die koningin van Skeba wat by Salomo op besoek gekom het.

Ons lees
hierdie verhaal dikwels as ‘n sprokie van lang gelede.

Die
bedoeling van hierdie preek is om hierdie geskiedenis bietjie nader te bring.

En om
duidelik te maak dat ons nie met net ‘n sprokie te make het nie, maar met ‘n
belangrike episode uit die heilsgeskiedenis van God se volk.

‘n Voorbeeld
hoe God se Woord van wysheid in die verre verlede al op mense en samelewings
ingewerk het.

‘n Voorbeeld
hoe mense tot uiteenlopende reaksies gekom het by die aanhoor van die wysheid
wat van bo kom.

 

Tema: Die oordeel van die
koningin van Skeba

 

Wie was die
koningin van Skeba?

Daar is
verder weinig oor haar bekend, behalwe vir dit wat ons in die Bybel lees.

Daar bestaan
wel heelwat legendes oor haar.

Ons het
gelees dat sy verskillende gerugte oor koning Salomo gehoor het.

Watter
gerugte?

Dat hy ‘n roemryke
koning was.

Dat hy ‘n
gedugte mededinger vir haar in die wêreldhandel kon word.

En selfs nog
meer.

In 1 Konings
staan dat die gerug omtrent koning Salomo te make gehad het met die Naam van die HERE.

Wat die
gerug dus oor hierdie buitengewone koning gesê het, het saamgehang met sy
buitengewone God!

Nadat sy dit
alles gehoor het, het die koningin van Skeba besluit om ‘n staatsbesoek aan
Jerusalem te bring.

As ons
hierdie hoofstuk lees, is baie duidelik dat die vir haar nie net oor
handelsbetrekkinge gegaan het nie, maar veral ook oor die wysheid van Salomo.

Sy was
nuuskierig na hierdie wyse man.

Sy wou met
hom nie net handelsprodukte nie, maar ook wysheid, kennis en lewensinsigte
uitruil.

Sy het
naamlik self ook uit ‘n land gekom met ‘n beroemde tradisie van wysgere.

 

Uit watter
land het die koningin van Skeba eintlik gekom?

So te hore
dus uit Skeba.

Waar was
dit?

Soos ek
genoem het, bestaan daar nogal legendes oor hierdie koningin.

So beroep
die Ethiopiese koningshuis hulle daarop dat hulle afstam van die koningin van
Skeba.

En selfs in
Zimbabwe in die suide van Afrika doen soortgelyke gerugte die ronde.

Ons kom
later daarop terug.

Maar uit
geskiedkundige bronne weet ons verder niks hiervan nie.

Ons word
eerder in die rigting gewys van die ryk van die Sabeërs in die suidelike deel
van wat vandag bekend staan as die skiereiland van Saoudi-Arabië, die
teenswoordige Jemen.

Dit is ‘n
landstreek wat strategies geleë is vir seehandel en wat in daardie tyd ‘n
bloeiende ekonomie beleef het.

 

Waarom het
hulle koningin besluit om Jerusalem te besoek?

Daar staan
dat sy Salomo met raaisels op die proef wou stel.

Ons moet
hier nie dink aan raaiseltjies in ons sin van die woord nie; maar aan raaisels
waarby die dieper vrae van die lewe ter sprake gekom het.

Ons sou vandag
sê – ‘n gesprek tussen geleerdes.

En dan lees
ons dat geeneen van die raaisels vir Salomo te diepsinnig was om op te los nie.

Die koningin
was verwonderd oor die insig en lewenswysheid van Salomo.

Ons het ‘n
voorbeeld hiervan in die boek Konings, toe twee vroue na hom gekom het, een met
‘n dooie, en die ander een met ‘n lewendige baba.

En in die
Bybelboeke Spreuke, Prediker en Hooglied vind ons verder nog ‘n magdom aan
lewenswysheid van Salomo.

 

Ons lees
verder dat die koningin van Skeba kamele vol geskenke saamgevat het.

Sê maar
relasiegeskenke: speserye, goud en edelgesteentes.

Honderd-en-twintig
talente goud.

Speserye in
groot oorvloed.

Daar was
nooit soveel speserye as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het
nie (vers 9).

En
edelgesteentes.

Kosbare
geskenke, relasiegeskenke as voorbereiding tot die sluit van uitgebreide
handelsbetrekkinge.

Die speserye
waaroor ons lees, het heel waarskynlik uit lande in die Ooste gekom, lande soos
Indië.

En koningin
Skeba se land en hawens – die teenswoordige Jemen – was onderdeel van die
handelsroete vanuit die Ooste na die Weste.

Mens kan dit
‘n bietjie vergelyk met die rol wat die VOC gespeel het, en hulle handelsroete
tussen Oos en Wes.

Deur die
speserye in die Ooste aan te koop, en met hulle skepe na die Weste te vervoer
en daar weer te verkoop, het hulle skatryk geword.

Speserye was
seldsame produkte en dus, soos die uitdrukking sê, peperduur.

En dieselfde
het ook vir die goud gegeld.

Waarskynlik
het die koningin van Skeba se handelaars die goud in Afrika gaan aankoop.

Ons lees in
1 Konings 10 dat goud uit Ofir met skepe na Israel aangevoer is.

Ofir is
waarskynlik ‘n ou naam van Afrika.

Die skepe
het gevaar op die hawestad Esion Geber geleë aan die Rooisee, die hedendaagse
Eilat, die suidelikste puntjie van die Israel.

 

Die
bedoeling van hierdie besoek was dus om uitgebreide handelsbetrekkinge tot
stand te bring.

Salomo het
moontlik deur hierdie ooreenkoms ‘n markaandeel gekry in die goudhandel.

Met sy skepe
mog hy nou ook op Afrika vaar, en dit deur die vaarwaters van die koningin van
Skeba, van die Sabeërs, heen.

Dit is,
tussen hakies, belangrik om net nog te noem dat die handel in die ou nabye
Ooste veral ‘n staatsmonopolie was.

Dit blyk ook
uit hierdie hoofstuk, uit die onderhandelinge tussen koning Salomo en die
koningin van Skeba.

 

Uiteraard is
sy en haar gevolg op ‘n vorstelike wyse in Jerusalem onthaal.

Uit alles
het die grootheid en rykdom van Salomo geblyk.

Hulle mog sy
paleis besigtig.

‘n Besoek
aan die tempel, ten minste, tot sover dit geoorloof was vir die heidene om te
kom, was sekerlik ook deel van die program.

Verder was
daar ongetwyfeld feestelike maaltye.

In alles het
Salomo sy grootheid en rykdom uitgestal.

En die
buitelandse koningin het die dienaars van Salomo gelukkig geprys.

Dat hulle in
so ‘n omgewing hulle werk mog verrig.

 

Ons vervolg
hierdie boeiende geskiedenis.

Daar staan:
koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee.

Hierdie
vertaling kan misverstand oproep, veral as mens hieraan die legende toevoeg dat
Salomo by haar ‘n kind sou verwek het.

Die
bedoeling van hierdie sin lê in ‘n heel ander sfeer.

As ‘n
koningin wat geweldige ekonomiese belange verteenwoordig het, het sy met Salomo
onderhandel en het sy alles met hom bespreek en gevra wat sy haar voorgeneem
het.

Ons sou
vandag sê: die onderhandelinge het op ‘n baie konstruktiewe wyse verloop.

Tydens die
besoek het daar geen verwydering ontstaan nie, maar juis toenadering tussen
hierdie twee politieke magte.

Daar is
afsprake gemaak t.o.v. intensiewe ekonomiese samewerking.

Luukse
produkte is aangebied deur die koningin uit die Suide: goud, speserye,
edelgesteentes, ivoor ensovoorts.

En koning
Salomo was bereid om produkte soos koring, vrugte en hout beskikbaar te stel.

Dinge
waaraan die bewoners van die Arabiese woestyn dringend behoefte gehad het.

‘n
Handelskontrak is dus gesluit.

 

Koning
Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, in terme van die
handelskontrak.

Ek het
nounet verwys na die legende dat Salomo ‘n kind by haar sou verwek het.

Daarvoor
bestaan geen historiese bewys nie.

Tog leef
hierdie legende tot op vandag in sommige lande.

In Ethiopië
beweer die koningshuis dat hulle afstam van Salomo.

En in
Zimbabwe staan daar die ou Zimbabwe ruïnes, waaroor daar ook beweer word dat
hulle afkomstig was van die koningin van Skeba.

As dit waar
moes wees, was haar reis na Jerusalem wel enorm lank, vele duisende kilometers
per kameel, ‘n reis wat ten minste ‘n jaar moes gevat het.

Dit is maar
‘n legende.

Salomo het
nie aan die koningin van Skeba ‘n kind geskenk nie.

Met hierdie
uitspraak in vers 12 het die skrywer iets anders bedoel.

Hy wou die
aandag daarop vestig dat dit oor meer as net die handelskontrak gegaan het.

Dit het nie
net oor produkte gegaan nie, maar ook oor Salomo se wysheid.

In 1 Konings
10:2-3 staan: geen vraagstuk was vir Salomo te diepsinning dat hy dit nie vir
haar kon verklaar nie.

By die
aanhoor van al die wysheid van Salomo was die koningin duidelik onkant gevang:

“Die woord
was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u sake en oor u wysheid ... kyk,
die helfte ... is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het.”
(vers 5-6)

En die
koningin het geweet waarvan sy praat.

Dit was nie
net beleefdheid dat sy Salomo se wysheid aangeprys het nie.

Sy het gekom
uit ‘n land met ‘n beroemde wysgerige tradisie.

As u sou
blaai na die Spreukeboek in die Bybel – aan die begin van hierdie boek staan
dat die spreuke afkomstig is van Salomo.

Hoewel, nie alle spreuke in hierdie boek kom van
Salomo nie.

Bo die
laaste twee hoofstukke staan twee ander name: die spreuke van Agur die seun van
Jake en van Lemuël.

Hierdie twee
persone was Arabiere.

Hulle het
dus gekom uit die land van die koningin van Skeba.

Weer eens,
die koningin het geweet waarvan sy praat, sy’t gekom uit ‘n land met groot
wysgere.

En miskien
is dit wel moontlik dat deur haar besoek aan Salomo, dat hierdie twee laaste
hoofstukke van Spreuke ‘n plek in die Bybel gekry het.

Dat Salomo
hierdie twee laaste hoofstukke van Agur en Lemuël as ‘n soort bylae aan sy boek
toegevoeg het.

 

Maar goed,
Salomo het diepgaand gesprek gevoer, en die koningin was opreg verbaas.

Hoe kon
iemand so baie insig en wysheid hê?

Ons weet
waar Salomo sy wysheid vandaan gekry het.

Dit was ‘n
geskenk van God.

Tog, as mens
die voorafgaande hoofstukke van Kronieke lees, sal jy agterkom dat hierdie
geskenk van God hande en voete kon kry deurdat Salomo hom aan God se gebooie
gehou het.

En oor God
se gebooie word daar gesê dat geen volk op aarde sulke wyse wette gehad het as
die Israeliete nie.

Kortom, om
die lewende God en sy gebooie te ken, dit maak jou wys.

Soos ‘n
filosoof ‘n keer gesê het: wie in God glo, verdubbel sy intellegensie.

Wie volgens
die Woord van God leef, kry lewenswysheid en insig in die lewe wat ongelooflik
kosbaar is.

Wie leef
vanuit die Woord, die Woord wat praat oor genade en oor vergifnis ontvang en
vergifnis skenk, verdubbel ook sy sosiale vaardighede, sy konflikhantering.

Wie God se
Woord as kompas in die lewe gebruik, kry energie om te midde van teenslae tog
verder te gaan.

Eintlik was
dit hierdie soort dinge wat vir die koningin van Skeba verbaas het.

Salomo se
ongekende wysheid het te make gehad met die God wat Hy gedien het, en met die
Woord van daardie God.

Waarlik, die
helfte van u buitengewone wysheid is my nog nie eens meegedeel nie, u oortref
elke gerug wat ek gehoor het (vers 6).

Gelukkig is
u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u
wysheid hoor! (vers 7)

Geloofd sy
die HERE u God wat behae in u gehad het (vers 8).

 

Gemeente,
hierdie hoofstuk is nie in die eerste plek ‘n kompliment vir Salomo nie.

Want met
Salomo se wysheid het God se eer ter sprake gekom.

Laat al die
heersers op aarde besef dat daar maar een God is, en dat hierdie lewende God
homself deur hierdie volk van Salomo aan die wêreld kenbaar gemaak het.

Dit was nie
net ‘n oulike bykomstigheid, naas die handelskontrak, dat Salomo vir die
koningin van Skeba met haar raaisels en lewensvrae gehelp het nie.

Hierin het
Salomo God verheerlik, en ook vir die koningin die pad na Hom toe gewys.

Jammer dat
sy dit nie met beide hande aangegryp het nie.

Sy het
vasgehak by, sien vers 8: Geloofd sy die HERE u God.

U God.

Helaas het
sy Hom nie ook as haar eie God en Skepper bely nie.

Nie dat haar
opmerking net beleefdheid was nie.

Sy het dit
bedoel, want sy het met haar eie oë gesien dat daar iets buitengewoons aan die
hand was in Israel en in Jerusalem, wat betref hierdie God van Israel.

Maar helaas
het sy, vir sover ons weet, nie verder gegaan en ook hierdie God begin dien
nie.

Sy het, al
was dit met groot bewondering, van die buitekant af bly staan en toekyk, haar
verwonder oor koning Salomo en sy God.

Maar verder
het sy helaas nie gekom nie.

 

So is daar
deur die eeue mense wat hulle verwonder oor die wysheid van God, maar wat
hulleself nie aan Hom oorgee nie.

Dink maar
aan die tyd toe die Here Jesus op aarde was.

Toe was dit
ook so.

En dan praat
ons nie eers oor ‘n heidense koningin uit ‘n verre land nie.

Nee, Jesus
sê presies dieselfde, en miskien nog wel erger, oor sy eie volksgenote.

In Mattheüs
12:42 verwys ons Heiland na die koningin van Skeba, die koningin van die Suide.

Sy het darem
nog respek gehad vir die wysheid van Salomo.

Maar wat
doen sy volksgenote met Jesus?

Is hulle
bereid om na sy woorde van wysheid te luister?

“Die koningin
van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit
veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid
van Salomo te hoor, en – meer as Salomo is hier!” (Matth 12:42)

Hierdie
waarskuwing van ons Heiland geld natuurlik vir elkeen wat in die bevoorregte
posisie verkeer dat hy in aanraking gekom het met die woorde van wysheid van
Jesus.

Sy woorde
van wysheid wys die rigting deur moeilike lewensvrae heen.

Aan sy
woorde kan jy jouself troos en laaf.

Sy Woord gee
jou lewe diepgang.

Geliefde
gemeente, ek hoop dat dit nooit met ons mag gebeur nie.

Die Jode uit
die dae van Jesus het gewoond, ja ontevrede geraak met hulle rykdom.

Hulle het
vrye en direkte toegang gehad tot God se Woord, waaronder ook al die spreuke
van Salomo.

Maar in
hulle lewens is dit nie in praktyk gebring nie.

Hoewel
opgeneem in God se verbond, het hulle eintlik soos heidene gelewe, want hulle
het geleef vir hulleself, en nie tot eer van hulle Skepper nie.

Jesus vertel
vir hulle die waarheid.

Selfs die
heidense koningin van Skeba sal teen julle getuig in die laaste oordeel!

Sy het ten
minste nog ‘n verre reis onderneem om die wysheid van Salomo te hoor.

Maar julle
het sy wysheid, meer nog, God se hele Woord binne handbereik, maar julle doen
amper niks daarmee nie.

 

Broer,
suster, sorg dat jy nie afgestomp raak nie.

Sorg dat die
lewe jou nie leef nie.

As jy in die
oggend opstaan, maak jy tyd daarvoor om met die Woord die dag te begin?

Gaan die
Bybel oop in jou huis, voordat jy skool toe gaan?

Voordat jy
in jou kar spring om werk of universiteit toe te gaan?

Satan sal
jou graag help om almal verskonings uit te dink, solank die Bybel maar net toe
bly.

Gereformeerdes
het die goeie gewoonte geërf om daagliks die Bybel oop te maak.

Het jy
hierdie goeie gewoonte oorgeneem, en gaan jy dit weer op jou kinders oordra?

En dan nie
net as sleur nie, maar omdat jy in jou hart bekeer is, en jy werklik die
noodsaak voel om die Bybel elke dag oop te maak.

Nadat jou pa
of ma uit die Bybel gelees het, kan jy nog onthou waaroor dit gegaan het?

Ek hoop nie
dat die koningin van Skeba ook teen ons sal opstaan in die laaste oordeel nie.

 

Net soos die
Jode uit Jesus se tyd, het ons vrye toegang tot God se Wysheidswoord, ons leef
met alle verbondsvoorregte.

Beleef jy
dit as ‘n voorreg, om vanoggend hier in die kerk te sit?

Beleef jy
dit as ‘n voorreg, om vanaand weer hier onder die Woord te kan sit?

Is jy ‘n
lewende lid van hierdie gemeente?

Of is jy ‘n
dorre tak?

‘n
Verdroogte tak wat dalk met die volgende storm gaan afwaai?

Jy is
verbind aan hierdie gemeente.

Hier lê jou
taak.

Hier roep
die HERE jou, vanoggend, ook vanaand, en ook in die week wat kom.

 

Die koningin
van Skeba het onder die indruk gekom van die wysheid van Salomo.

Ons het
toegang nie slegs tot die wysheid van Salomo nie, maar tot die wysheid van
Christus.

Veel meer as
Salomo is hier.

“Christus
Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God, en geregtigheid en
heiligmaking.” (1 Kor 1:30)

Geliefde,
neem sy wysheid ter harte.

Hy is deur
God aan jou gegee tot wysheid, insig en kennis.

Ja tot
saligheid en ewige vreugde.

Sonder Hom
het jy niks. Met Hom het jy alles.

Laat hierdie
besef tot jou binnedring, jou skok, jou bekeer, jou genees.

Jou tot die
absolute besef bring dat jy nie ‘n dag kan deurbring sonder die kompas van sy
Woord nie.

As jy dalk
in die proses was om te verdroog, mag Hy jou weer ‘n lewende lid van hierdie
gemeente maak.

In Hom het
jy toegang tot wysheid.

Wysheid en
insig betreffende alle aspekte van jou lewe.

Hy is ‘n
oneindige bron van alle wysheid.

Christus is
ons hoogste wysheid.

Soos Salomo
self geprofeteer het: Die wat na my luister (bedoelende die wysheid in eie
persoon) hy sal veilig woon en gerus wees in die dag van onheil (Spreuke 1:33).

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)