Die heerlikheid van die HERE verlaat die tempel, maar nie die gebrokenes van hart nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-02-15
Teks: 
Eségiël 11 : 16-21
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 Februarie 2015 AD, 10:15  

(Viering nagmaal)

Voorsang: Ps 146:1,4,5

Votum

Seën

Ps 95:1,2

Gebed

Lees nagmaalsformulier
(gekombineer met 10 gebooie)

Gebed (afgesluit met sing van
Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

S: Ps 95:4

1e tafel: Esegiël 10, Sb 30:1

2e tafel: Esegiël 11, Sb 30:5

3e tafel: Lofverheffing,
Dankgebed, Sb 30:6

Teks: Esegiël 11:16-21

Preek

Ps 72:7,9

Gebed

Kollekte

Ps 72:11

Seën

 

 

 

 

Preek:
Esegiël 11:16-21

Tema: Die
heerlikheid van die HERE verlaat die tempel, maar nie die gebrokenes van hart
nie.

1 Die
aanleiding tot hierdie stap

2 Die
tussenstop

3 Die uitsig
op ‘n nuwe begin

4 Troos vir
gebrokenes van alle tye

 

1 Die
aanleiding tot hierdie stap

Voordat ons die teks behandel,
kom ons kyk net vir ‘n oomblik wat tot dusver gebeur het, soos beskryf deur
Esegiël.

In Esegiël 4 moes Esegiël ‘n
dramastuk opvoer.

Dit het daarop neergekom dat God
van plan was om die stad Jerusalem uit te honger en dan te verwoes.

Vervolgens kan mens in hoofstuk 6
lees dat God belowe dat daar ‘n res sal oorbly.

Hulle sal gered word, juis deur
middel van die ballingskap.

In ‘n vreemde land sal hulle
uiteindelik aan My dink, sê die HERE.

Daar sal hulle ontugtige hart
gebreek word.

In hoofstuk 7 kondig Esegiël die
einde van die land Israël aan.

Vers 9: julle sal weet dat dit Ek
die HERE is, wat slaan.

Ons lees dan oor die verskriklike
trio van swaard, pes en honger wat oor God se volk uitgestort word.

In hoofstuk 8 bring die HERE
Esegiël in ‘n visioen vanuit Babel na Jerusalem.

Onthou, Esegiël bevind homself
tussen die ballinge in Babel.

Maar nou laat die HERE dus vir
Esegiël dus as’t ware in ‘n film sien, wat in Jerusalem gaande is.

Die HERE laat hom ‘n afgodsbeeld
sien wat presies by die ingang van die tempel geplaas is.

En dan sê die HERE vir Esegiël:

Mensekind, sien jy wat hulle
doen?

Die groot gruwels wat die huis
van Israël hier aanrig, met die gevolg dat Ek
ver van my heiligdom af moet weggaan.

En dit is nog nie die ergste nie.

Die HERE laat Esegiël vervolgens
nog ‘n paar voorbeelde sien.

By die poort van die huis van die
HERE sit daar vroue wat die afgod Tammus beween.

Tammus was ‘n soort natuurgod,
die god van die koring.

Aan hom het die heidene die
oestyd, die maande Junie en Julie in die noordelike halfrond, toegewy.

Terwyl die manne besig was om
koring te maai, het die vroue hierdie ritueel uitgevoer – gesit en huil –
sogenaamd omdat die lewenskrag van die koringare afgesny word.

Tammus was ‘n heidense
vergoddeliking van die kiemkrag in die koringare.

 

Verder het Esegiël manne sien
kniel, nie in die rigting van die tempel nie, maar in die rigting van die ooste
om die son te aanbid.

Redes genoeg dus vir God om ‘n
einde aan dit alles te maak.

Ons kan in hoofstuk 9 lees hoe ‘n
doodseskader die stad Jerusalem binnetrek.

Ses manne, swaar gewapend.

Voorop het ‘n man geloop wat ‘n
inkpot gedra het.

‘n Inkpot met ink waarmee daar in
vroeër dae geskryf is.

Hulle het direk na die tempel toe
beweeg.

En dan lees ons in vers 3 dat die
heerlikheid van God opgestyg het na die drumpel van die huis toe.

Die heerlikheid van God – dit
gaan hier oor God self, God persoonlik,

soos Hy onder sy volk gewoon het
in die allerheiligste van die tempel.

Maar, lees ons dus hier, die
heerlikheid van God het in beweging gekom en het die allerheiligste verlaat en
het beweeg tot by die drumpel, dit wil sê tot by die ingang van die tempel.

Daar het die HERE die man met die
inkpot naderby geroep en aan hom die volgende opdrag gegee:

Trek deur die stad, en maak ‘n
teken met die ink op die voorkoppe van almal wat sug en kerm oor alle
gruwelikhede wat daar plaasvind.

Almal dus wat nie daarmee
saamstem nie en wat daaronder gebuk gaan.

Loop jy voorop, en die res – die
gewapende manne – moet agter die man met die inpot aantrek en elkeen wat nie ‘n
teken op sy voorkop gekry het nie, moet hulle afmaai.

Die man met die inkpot was in wit
gekleed.

Nie toevallig nie.

Hy het ‘n reddende taak gehad.

Almal wat met hom in aanraking
gekom het, is gevrywaar van die swart doodseskader wat agter hom aangetrek het.

Hulle het dadelik aan die werk
gespring.

En dan lees ons dat Esegiël
eintlik in ‘n paniekreaksie geraak het.

Moet dit werklik gebeur, HERE??

Besef U wel wat U doen?

Waarop die HERE vir hom die
antwoord gegee het dat dit nie anders kon nie.

Na ‘n rukkie het Esegiël die man
met die inkpot sien terugkeer met die boodskap:

HERE, ek het gedoen soos U my
beveel het.

As afronding van sy taak het God
toe aan hom die opdrag gegee om twee hande vol vurige kole oor die stad uit te
strooi.

 

2 Die
tussenstop

Vervolgens sien ons in hoofstuk
10 dat daar beskryf word hoe die HERE – op ‘n wyse aan ‘n koning waardig – die
tempel verlaat.

Begelei deur sy cherubs, sy
soldate engele, waarvan die geruis van hulle vlerkte soos magtige onweer
geklink het.

So verlaat die Koning van alle
konings sy tempel, begelei deur magtige cherubs.

Ook lees ons dat ’n wolk die
tempel en die binnenste voorhof vervul het.

Die wolk is simbool vir die
heerlikheid van die HERE.

Sien vers 4: die voorhof was vol
van die glans van die HERE se heerlikheid.

Ons dink terug aan hoe – ongeveer
400 jaar gelede – die tempelgebou ook gevul is deur ‘n wolk, by die inwyding
van die tempel deur Salomo.

Toe het die heerlikheid van die
HERE die tempel gevul op ‘n vir almal sigbare wyse.

God het in hierdie gebou
ingetrek.

Maar nou verlaat Hy – ook weer op
sigbare wyse – hierdie selfde tempelgebou.

En, lees ons, onder begeleiding
van die cherubs beweeg die heerlikheid van die HERE na die oostelike poort van
die stad.

Maar, Hy verlaat die stad nie
dadelik nie.

Hy maak ‘n tussenstop.

Soos Hy by die drumpel van die
tempel stilgehou het, hou Hy hier by die oostelike poort ook vir ‘n wyle stil.

In etappes verlaat die HERE die
stad.

Daar, by die oostelike poort,
sien Esegiël ‘n stuk of 25 manne wat saamgekom het.

Dit was almal belangrike persone
uit die stad, die vorste van die volk.

 

Esegiël kry die opdrag om teen
hulle te profeteer.

Nou is dit belangrik, gemeente,
dat u op hierdie punt ‘n bietjie agtergrondinligting het.

Soos ek al genoem het in eerdere
preke uit Esegiël, was daar twee ballingskappe vanuit Jerusalem.

Twee wegvoerings, met ongeveer 10
jaar tussenin.

Nadat die eerste een plaasgevind
het, het daar redelik vinning ‘n persepsie begin ontstaan onder die burgers van
Jerusalem, hulle wat dus nie weggevoer
is nie, dat diegene wat na Babel geneem is, dat hulle die skuldiges was.

En, dat hulle wat agtergebly het,
deur God oorgeslaan is, omdat God dit nie nodig geag het dat hulle ook gestraf
moes word nie.

Dit was nou teen hierdie
persepsie waarteen Esegiël moes ingaan, dit moes hy krities aanspreek in sy
profesie.

 

Hierdie 25 manne het nie
toevallig by die oorstelike poort gesit nie.

Soos dit die gewoonte was, het
die leiers van die volk hulle vergaderings in die poort gehou.

En hier het die heerlikheid van
die HERE dus vir ‘n oomblik stilgehou.

‘n Laaste kans vir hierdie
hooggeplaastes.

Twee van hulle word by name
genoem: Jaäsanja en Pelatja.

Hulle wat meen dat hulle veilig
is hier in Jerusalem.

Hulle wat meen dat God sy tempel
sal beskerm.

God sal mos nooit sy tempel
verlaat nie?!

Dis wat hulle gedink het.

Persoonlik het die heerlikheid
van die HERE by hulle stilgehou, met die mededeling, net soos die Here Jesus
later vir die Fariseërs sou sê:

“Kyk, julle huis word vir julle
woes gelaat!” (Mattheüs 23:38)

Of soos die apostel Petrus dit
verwoord het:

“Want die tyd is daar dat die
oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petrus 4:17)

God herinner hierdie vorste aan
die verkeerde koers wat hulle gekies het.

Vers 12: julle het nie in my
insettinge gewandel en my verordeninge nie gehou nie, maar gehandel volgens
verordeninge van die nasies wat rondom julle is.

 

Terwyl Esegiël besig was om te
profeteer – dis nou in die visioen – het een van die vorste, Pelatja, skielik
op die grond geval en gesterf.

Op hierdie punt het Esegiël weer
in paniek geraak.

Here HERE, wil u ‘n einde maak
aan die oorblyfsel van Israël?

Waarop God hom geantwoord het:

Luister mooi, Esegiël.

Volgens My verstaan jy as profeet
nog nie mooi nie.

Esegiël, ook jy moet al jou
verwagtinge wat jy het van hierdie stad en hierdie tempel het, laat vaar.

Jy moet nou voortaan slegs op My
fokus!

Dit is nie so dat Ek my volk
volledig laat val nie.

Maar die feit dat die mense wat
hier in Jerusalem oorgebly het, dat hulle dink hulle is veilig – dit is nie so
nie.

Van hulle wat hier nog in
Jerusalem is, sal maar weinig oorbly.

Ek gaan die stad verwoes.

Hulle klamp hulleself vas aan die
gebou van die tempel, ‘n gebou waarin Ek nie meer woon nie.

Hulle het nie meer my beskerming
nie.

Daarenteen sal Ek juis hulle wat
nou ver weg in ballingskap is, op my tyd weer terugbring.

Ja die HERE verlaat wel sy
tempel, maar nie die gebrokenes van hart nie.

 

Ek, gaan die HERE voort, is nou
wel besig om te verstrooi.

As ballinge word hulle orals heen
saamgesleur.

Maar Ek verloor hulle nie uit die
oog nie.

Daar kom ‘n tyd dat Ek hulle weer
sal vergader uit alle lande, dat Ek hulle saam sal bring.

Daar kom ‘n tyd dat Ek aan hulle
‘n ander hart sal gee, en ‘n nuwe gees.

Ek sal – en dan volg die pragtige
woorde uit vers 19 – Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle
‘n hart van vlees gee.

Ja ‘n hart van vlees.

‘n Hart soos wat Adam gehad het
toe hy in die paradys geskape is.

Dan dink ons nie in die eerste
plek na hoe ‘n hart anatomies lyk nie, maar dit waarvoor jou hart spreekwoordelik
staan.

Die sentrum van jou lewe, waar jy
jou beslissings maak.

Jou lojaliteite kom uit jou hart.

‘n Hart soos van Adam, soos van
voor die sondeval.

‘n Hart, sê die HERE, wat volgens
my insettinge sal wandel.

Wat noulettend my gebooie sal onderhou.

Hulle sal vir My ‘n volk wees en
Ek sal vir hulle ‘n God wees.

 

3 Die uitsig
op ‘n nuwe begin

Gemeente, hierdie is een van die
eerste kere wat ons ‘n ligpuntjie in Esegiël se profesië teenkom.

Miskien het u tot op hede gedink:
hoekom is die preke uit Esegiël so somber?

En ja, dit is so.

Die eerste hoofstukke, die hele
eerste deel van die boek Esegiël draai nie doekies om nie.

U moet uself voorstel dat die
boek Esegiël bestaan uit ‘n bundel profesië van Esegiël.

Wat uitgespreek is oor ‘n aantal
jare.

Wat hy in die eerste jare van
Godsweë moes vertel, was gewoon somber.

En wat so opvallend is aan die
boek Esegiël, is dat die oomblik toe die berig binnekom dat Jerusalem verwoes
is, vanaf daardie oomblik verander die toon heeltemal.

Eintlik op eerste gesig
teenstrydig.

Vanaf die oomblik dat die
ballinge aan die Kebarrivier, die mense van die eerste ballingskap, die berig
ontvang dat hulle stad geval het, vanaf daardie oomblik raak Esegiël positief.

Die HERE verbied Esegiël selfs om
te treur oor die val van Jerusalem.

Vanaf daardie oomblik mag Esegiël
begin profeteer oor ‘n pragtige nuwe toekoms.

So is naamlik God se bedoeling.

Die oordeel baan die weg na ‘n
nuwe begin.

Die straf bring loutering voort.

 

Maar op hierdie oomblik – hfst 10
en 11 – bevind ons ons dus nog in die voorfase.

Onophoudelik het Esegiël bly
preek.

Bly waarsku.

Want dinge sal nie regkom as die
volk hulle nie verootmoedig nie.

Hulle sal die werklikheid moet
besef, soos vers 21 sê: wie se hart agter die hart van hulle verfoeisels en
hulle gruwels aan loop – hulle wandel laat Ek op hul hoof neerkom, spreek die
Here HERE.

 

Hoofstuk 11 eindig met die
mededeling dat die HERE, begelei deur sy cherubs, na die tussenstop by die
oostelike poort, nou defnitief die stad verlaat.

Die tempel bly leeg agter.

En, lees ons, op ‘n afstand
verwyderd van die stad, op die Olyfberg wat oos van die stad lê, neem die HERE
posisie in.

Dit herinner ons weer aan die
drama uit hoofstuk 4.

Hoe Esegiël, nadat hy op ‘n
kleitablet ‘n kaart van Jerusalem moes geteken het, vir meer as ‘n jaar daarna
moes gaan lê en kyk het.

So neem die HERE – soos in die
drama aangekondig – nou stelling in op ‘n afstand van die stad.

 

4 Troos vir
gebrokenes van alle tye

Gemeente, wat is vir ons die
waarde van hierdie eerste hoofstukke uit Esegiël?

Hulle het ‘n plek in die Bybel
gekry.

Is dit die moeite werd om jouself
hierin te verdiep?

Gemeente, die ou kerkvader
Augustinus het ooit ‘n keer gesê:

Die Nuwe Testament lê in die Oue
verborge, en die Ou Testament word in die Nuwe geopenbaar.

As ons hierdie uitdrukking toepas
op ons verhouding met die Here Jesus, dan beteken dit vir ons, dat wil ons die
woorde van Christus goed verstaan, in al hulle diepte en rykdom, ons die Ou
Testament ook sal moet bestudeer.

Dit bring ons weer by die boek
Esegiël.

Want Jesus het in sy prediking
ook by die profeet Esegiël aangesluit.

In Markus 8 sê Hy byvoorbeeld vir
die mense:

Het julle oë maar tog sien julle
nie?

Het julle ore maar tog hoor julle
nie?

Het julle dalk ‘n verharde hart?

Hierdie opmerkings haal Jesus uit
Esegiël uit.

Dink maar aan ons teks, wat praat
oor ‘n hart van klip.

Met Esegiël se profesie as
agtergrond, kry Jesus se woorde meer reliëf.

Dit geld ook vir ‘n Bybelboek
soos Openbaring.

Openbaring is nie ‘n maklike boek
om te verstaan nie.

Maar as mens die profesië van
Esegiël goed ken, word die boodskap van Openbaring baie duideliker.

Want in Openbaring wemel dit van
aanhalings uit Esegiël.

As Esegiël egter vir ons ‘n
geslote boek is, dan verstaan ons miskien nie eers die helfte van die Bybelboek
Openbaring nie.

En die boek Openbaring profeteer
oor die nuwe hemel en aarde, en die nuwe Jerusalem.

En dit is nota bene die land
waarheen ons oppad is!

Liturgie: 

(kyk in preek)