Die Gees van Christus lei ons op die pad van getuie na gelowige

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-07-20
Teks: 
Handelinge 2 : 32-36
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 20 Julie 2014 AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps
101:1-4

Votum

Seën

Sb 24:1,2

Gebed

Skriflesing:
Handelinge 2:1-40

Ps 16:2,5

Teks:
Handelinge 2:32-36

Preek

Ps 110:1,2,3

Gebed

Geloofsbelydenis

Ps 16:3

Kollekte

Ps 110:4,5

Seën

Preek: Handelinge 2:32-36

As jy iets
gesien het, beteken dit nog nie outomaties dat jy dit ook glo nie.

Om ooggetuie
te wees, is nie altyd maklik nie.

Iemand wat
byvoorbeeld ’n misdaad gesien gebeur het, het dikwels eers terapie nodig
voordat hy vir die polisie of in die hof kan getuig.

Sommige
dinge kan te erg wees, of dalk te raar, om te glo.

Jy glo jou
oë dan nie meer nie, of jy verdring wat jy gesien het.

 

Dieselfde
kan ook gebeur in ’n heel ander opsig.

As ’n seun
en meisie verlief raak, dan kan dit ook wees dat hulle die eerste tyd dit nie
kan glo nie.

Dan moet
daar eers ’n tyd oorheen gaan, voordat die werklikheid tot hulle begin deur te
dring.

 

As Petrus op
Pinksterdag vir die Jode sê:

Ons is almal
getuiges dat God Jesus uit die dood opgewek het, dan proe mens ook iets
hiervan.

Hulle was
getuies, hulle het dit met hulle eie oë gesien, maar glo hulle dit ook werklik?

 

Tema: Die Gees van Christus lei ons op die pad van getuie na gelowige

1                  
Getuie

2                  
Gelowige

 

1                  
Getuie

Daar is dus
’n pad om te stap vanaf die punt dat jy self getuie van iets geword het, tot
die punt dat jy self sover kom om dit te aanvaar, en ook deur te vertel.

Eers moet jy
dit self verwerk.

Tot die
besef kom dat dit werklik gebeur het.

En, durf jy
om dit te vertel soos dit eg gebeur het?

Of is jy
bang vir iets, sodat jy net ’n deel vertel?

 

Die Jode vir
wie Petrus in ons teks sy pinksterpreek hou, was ook getuies gewees van Jesus
se aanwesigheid op aarde.

Oog- en
oorgetuies.

Veral die
afgelope drie jare, toe die Here Jesus sy amptelike werk deur die hele land
verrig het.

Hulle het sy
wonders gesien.

En hulle het
die woorde van Jesus gehoor.

Hulle het
besef dat Jesus sy wonders gedoen het om sy prediking te onderstreep.

Aan die een
kant het hulle agtergekom dat Jesus die wet van Moses eerbiedig, selfs nog meer
nougeset as die Fariseërs.

Aan die
ander kant is daar bepaalde dinge wat Hy nie gedoen het nie.

Soos
byvoorbeeld om te vas, of om net met sy eie stand om te gaan.

Ander dinge
het Hy bewus wel weer gedoen.

Soos are
pluk op sabbat; mense gesond maak op sabbat.

Hulle het
gesien hoe die Fariseeërs Hom verwerp het.

Hoe hulle
geprobeer het om Hom dood te maak.

En dat hulle
dit uiteindelik reggekry het.

Maar toe Hy
aan die kruis hang, het die vrae nie opgehou nie.

Want die
mense het besef: Hy word nou wel doodgemaak, maar Hy het ander mense uit die
dood opgewek.

Dink aan sy
vriend Lasarus.

Hy was al ’n
paar dae dood, maar hy is tog opgewek.

Heel
Jerusalem was in beroering.

Duisende
mense het gaan kyk in die dorpie Betanië, naby Jerusalem.

En daar het
hulle Lasarus inderdaad gesien, lewendig.

Hierdie
wonder het so ’n impak gehad, dat die Fariseërs bang was dat hulle al hulle
steun sou verloor.

Hulle het
daarom met mekaar oorleg gepleeg om Lasarus op ’n slinkse manier tog weer om
die lewe te bring.

Hulle wou –
so te sê – die bewysmateriaal vernietig.

Johannes 12:9-11:
“En 'n groot menigte uit die Jode het verneem dat Hy daar was, en het gekom,
nie alleen ter wille van Jesus nie, maar ook om Lasarus te sien, wat Hy uit die
dode opgewek het. En die owerpriesters het besluit om Lasarus ook om die
lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus
geglo het.”

Hulle was
dus ooggetuies, maar die pad van getuie na self ook getuig, het hulle nie
gestap nie.

Hulle kon
dit nie verwerk nie.

Hulle bose
en sondige hart het in opstand gekom.

Hulle oë is
verblind.

Al siende
kon hulle nie meer sien dat hulle te make gehad het met die Messias, wat al vir
eeuelank verwag is.

 

Dieselfde
het met die kruisiging gebeur.

Christus is
gekruisig weens Godslastering.

Hy het
Homself aan God gelykgestel.

Voor die
Sanherin het Hy dit gewaag om te sê:

“Van nou af
sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.” (Lukas
22:69)

Nog nooit
het hulle – siende blind wat hulle was – so ’n groot Godslastering gehoor nie.

Sou hierdie
Man plaasneem aan God se regterhand?

Wat verbeel
Hy Homself?

En daarom is
Hy gekruisig.

 

Toe Hy
gekruisig is, het dit drie ure lank so donker geword as wat dit nog nooit was
nie.

Weer het
daar mense uit hulle grafte opgestaan.

Die mense
het die dooies weer tussen hulle sien rondloop.

Familielede
wat hulle al na die graf gedra het.

Die volgende
dag, Paasfees in Jerusalem, sou wel ’n rare dag gewees het.

Selfs ’n
Romein, ’n heiden, die hoofman by die kruis, kon nie sy gevoelens onderdruk
nie:

“Waarlik,
hierdie man was regverdig”, het hy uitgeroep (Lukas 23:47)

God se volk
was siende blind.

Maar in de
loop van die dag het ongeloof weer die oorhand begin kry.

 

Dit kon mens
ook sien op die dag daarna, toe Jesus uit die graf opgestaan het.

Dink aan die
Romeinse wagte by die graf.

Hulle, wat
nie bekend was met God se Woord nie, met sy beloftes in die Ou Testament, hierdie
soldate hulle het getuies geword van hierdie wêreldskokkende gebeurtenis.

Hulle het
die engele gesien, en die dooie wie se liggaam hulle moes bewaak, het in ’n
skitterende liggaam die graf verlaat.

Hulle het
dit bewende vir die Sanhedrin gaan vertel.

Maar dit is
waar die getuienis gestop het.

Teen ’n muur
van ongeloof.

Siende
blind, horende doof.

Om in die leun
te glo is makliker as om die waarheid onder oë te sien.

 

En nou, op
die Pinksterdag, een en ’n halwe maand later, verwys Petrus terug na al hierdie
gebeurtenisse.

Hy
konfronteer sy volksgenote met die feite:

Hierdie
Jesus, wat julle gekruisig het, het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.

Petrus wys
die Jode op hulle verantwoordelikheid.

Om getuie te
wees hou ’n opdrag in, ’n taak.

Jy MAG nie
swyg nie.

En daarom
moet jy die feite ook aanvaar, en verwerk.

En dit was
nou juis so moeilik.

Want om die
feite te aanvaar het ‘n geloofskeuse ingehou.

Daarom het
hulle liewerste vir die leuen gekies.

Want die
waarheid het konsekwensies vir hulle eie lewe gehad.

Hulle het
hierdie Man gekruisig omdat Hy gesê het: julle sal My sien sit aan die
regterhand van God.

Maar, daardie
Man wat hulle aan die kruis verhoog het, het God inmiddels opgewek, en nou
inderdaad verhoog tot in die hemel, en ’n plek gegee aan sy regterhand.

Hierdie
Jesus wat julle gekruisig het, is deur die regterhand van God verhoog.

En ons is
almal getuies daarvan.

 

Ons kom nou
by die tweede punt. Die tema is: Die Gees
van Christus lei ons op die pad van getuie na gelowige
. God se eie volk was
getuie. Ons kyk nou tweedens na:

 

2                  
Gelowige

Die
toespraak of preek waarvan ons teks ’n deel is, het Petrus gehou op die
Pinksterdag.

Weer was die
volk getuie van een van God se groot heilsdade, naamlik dit wat Pinksterdag
gebeur het.

En weer sien
mens die ou vyandskap sy kop opsteek.

Die groot
geding tussen God en sy volk.

Sy afvallige
verbondsvolk, in die greep van die satan.

Weer
ontstaan daar spontaan leuens.

Hierdie
manne sou te veel soetwyn gedrink het.

Hulle het
nie bekend gestaan as drinkers nie, en nou sou hulle ineens dronk wees, al om 9
uur in die oggend.

 

Maar juis in
hierdie heilsfeit, Pinkster, sien ons God se oneindige genade.

Sy groot
geduld met ’n afvallige volk.

Want
Christus het sy Heilige Gees juis om hierdie rede gestuur:

om sy volk
te lei om die pad te stap van getuie tot gelowige.

Soos Jesus
aangekondig het:

“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die
Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan
alles wat Ek vir julle gesê het.” (Johannes 14:26)

Van getuie tot gelowige.

Hierdie pad kan moeilik wees.

En vir ’n sondige mens is dit beslis moeilik.

Petrus sê: “Laat dan die hele huis van Israel
sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wt julle
gekruisig het.” (vers 36)

Wat ’n kontras!

Mensehande slaan Hom aan ’n kruis.

Maar God se hand, sy regterhand, gee Hom ’n
ereplek.

Hierdie omslag, hierdie totale vernuwing van jou
denke oor Jesus, dit is waarby God se Gees help.

Die pad van getuie na gelowige maak Hy
begaanbaar.

 

Vir die Jode was dit iets om te slik.

Dit het in die eerste plek gegeld vir die
profesie van Joël.

Ons lees dit in vers 17-21 van hierdie hoofstuk.

Petrus het hierdie profesie toegepas op Jesus,
asook dit wat daardie einste Pinksterdag gebeur het.

Dit was vir die Jode ’n omskakeling.

Dat hulle Bybel, hulle heilige boeke gebruik
word om hierdie gebeure te verklaar.

Nie soetwyn nie, maar ’n profesie wat in
vervulling gaan.

En elkeen wat daar was, kon die heilsfeit
aanhoor in sy eie moedertaal.

Elkeen kon dit verstaan, en kontroleer, vanuit
hulle eie Bybel.

 

En dan kom die volgende, nog meer skokkend vir
die Jode.

Die feit dat Petrus beweer dat hulle koning
Dawid in twee van sy psalms oor Jesus praat.

Petrus haal Psalm 16 en Psalm 110 aan.

Dawid was die Joodse volk se held, se
ideaalbeeld van ’n koning.

En so was hulle Messiasverwagting ook.

Maar aan ‘n koning soos Jesus het hulle geen
behoefte gehad nie.

Hy is gekruisig.

Maar nou blyk dat Hy tog die ware was.

Nou blyk dat wat Dawid oor die Messias
geprofeteer het, tog op Jesus gemik was.

Hulle, die Jode, het vir Jesus aan ‘n kruis
gehang.

Maar God het Hom verhoog, en aan sy regterhand
laat plaasneem.

Net soos Dawid geprofeteer het.

En hulle is getuie daarvan.

Dat hierdie Jesus opgestaan het uit die graf.

Maar aan hulle hande kleef bloed.

 

Gemeente, so wil die Heilige Gees sy volk lei:
van getuie na gelowige.

En die Gees doen dit deur die prediking van
Petrus.

Die konklusie wat Petrus aan die einde van sy
preek trek, is:

“Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet
dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig
het.” (vers 36)

Hulle moet sekerlik
weet.

Ek dink hier aan wat daar in die Heidelbergse
Kategismus staan oor ‘n ware geloof.

Dit is ‘n vasstaande
kennis
.

Die Heilige Gees wil die volk lei, of soos die
Kategismus sê, in my hart werk, dat ek dit in die eerste plek weet, en tweedens
ook aanvaar.

Daarin glo.

Myself nie teen beter wete verset nie.

Hierdie Jesus is die Messias, die Christus, wat
so lank verwag is.

Hy is die Here, Hy regeer nou oor die wêreld.

 

So werk die Heilige Gees.

Deur die prediking van Petrus.

Ons is soms onseker oor hoe die Gees in ons
werk.

Wat is die gawe van die Gees?

Die gawe van die Gees op Pinksterdag was nie
soseer die vuur op die koppe van die apostels nie, maar die feit dat elkeeen
verstaanbaar die Evangelie te hore gekry het.

As Petrus in Handelinge 2:14 met sy prediking
begin, dat is die uitstorting van die Gees nie verby nie, dan begin mens dit
eers agter te kom!

Deur die prediking van die Evangelie word die
mense na die geloof gelei.

En die impak van die werk van die Gees merk mens
aan dit wat na Petrus se preek gebeur het.

In vers 37 staan: “Toe hulle dit hoor, is hulle
diep in die hart getref.”

Hulle het wanhopig aan die apostels gevra:

Wat moet ons nou doen?

Daar kleef bloed aan ons hande.

Ons het die Messias van God gekruisig.

 

En dan breek die sluise van God se genade oop.

Petrus sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van
julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en
julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle to
en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal
roep.” (vers 38-39)

 

Die gawe van die Heilige Gees.

Ook hier gaan dit nie oor die vuur op die koppe
van die apostels nie.

Dit gaan oor geloof en bekering.

Dit is die gawe van die Gees.

Dat Hy jou lei op die pad van getuie na
gelowige.

Toe Jesus die Heilige Gees, die Trooster, aan sy
dissipels beloof het, het Hy ook juis hierop gewys.

Aan die een kant, het Jesus gesê, sal die Gees
die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.

As hier oor die
wêreld gepraat word, kan ons ook dink aan ons ou mens.

Soos die
Gees besig is met die sondige wêreld, is die Gees besig met ons ou mens.

Dit oortuig
ons ou mens van sonde.

Dat jou ou
mens iets wat sondig is, sonde begin noem – erken dat dit sonde is.

So slyp die
Heilige Gees jou gewete.

Dit is
miskien een van die kosbaarste gawes van die Gees.

Die feit dat
jy ‘n gewete het, en dat jou gewete steeds meer geslyp word deur die Evangelie.

Mense vra
dikwels, hoe kan ek die Gees voel?

Dit is dalk
die duidelikste hoe ons die Gees voel.

As jou
gewete jou pla.

As jy
skuldig voel dat jy iets gedoen of gesê of gedink het wat
nie volgens God se wil was nie.

Die feit dat
jou gewete jou pla, is ‘n vrug van
die Gees.

 

Aan die een
kant oortuig die Gees jou dus van sonde en oordeel.

Aan die
ander kant lei Hy jou in die waarheid.

Hy wys jou
die pad van geloof, deur die woord van Jesus aan jou voor te hou, die
Evangelie.

Dat jy dit
aanvaar, en ook selfs bereid is om dit met ander te deel.

Dit is ook
‘n vrug van die Gees.

Dat jy
bereid is om die blye boodskap verder te vertel.

Met woorde,
maar ook met jou lewenstyl.

Jou dade
spreek boekdele.

 

Dit is ‘n
groot voorreg as die Gees mense lei op die pad van getuie na gelowige.

Die Jode was
getuie van God se groot dade.

Hulle kon
dit nie meer ignoreer nie, hulle moes kies.

Of ek
verwerp die feite, wat God in ons midde gedoen het.

Of ek
aanvaar dit in geloof, met die gevolg dat dit my lewe ook werklik gaan
verander.

 

Gemeente,
ook ons is vandag getuie van God se groot dade.

Dag aan dag
dra Hy jou.

Hoe kyk jy
na die lewe?

Hoe kyk jy
na die werklikheid om jou heen?

Sien jy die
werklikheid onder oë? Dat dit God se werklikheid is?

Dat hierdie
hele aarde die werk van sy hande is?

Dat jou hele
lewe die produk van sy leiding is?

Die pad wat
die Jode moes gestap het, van getuie tot gelowige,

dit is die
pad wat elkeen van ons moet stap.

En net soos
destyds, gee Christus ook vandag vir ons sy Gees en Woord,

sodat ons
daardie pad kan stap.

Ook vandag
maak die Gees jou gewete wakker, en slyp dit.

Ook vandag
stap die Gees met jou die pad tot aanvaarding van die waarheid.

Ook vandag
neem die Gees jou na die punt dat jy met oorgawe glo in die waarheid, en
daarvan getuig.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)