Volharding in gebed tot en gehoorsaamheid aan die hemelse Heiland

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-06-15
Teks: 
Handelinge 1 : 12-26
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 15 Junie 2014 AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps
90:4,8,9

Votum

Seën

Ps
69.1,11,12

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 27.1-10

Ps 109:1,2

Teks:
Handelinge 1.12-26

Preek

Ps 43:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 43:4,5

Seën

Preek: Handelinge 1:12-26

Met Jesus se
hemelvaart het die dissipels na die hemel bly staar.

Toe het daar
twee engele gekom.

Hulle het
die dissipels se blik weer op die wêreld gerig.

Solank as
wat Jesus nie op dieselfde manier terugkom nie, het hulle hier op aarde ’n
taak.

Die boek
Handelinge beskryf hoe die apostels hierdie taak aangepak het.

Die
hooftema, naamlik dat hulle getuies moet wees in Jerusalem, Judea, Samaria en
tot aan die uiterste van die aarde.

En ook hoe
hulle die krag van die Heilige Gees daarvoor ontvang het, om die volkewêreld
tegemoet te trek met die blye boodskap, in elke volk se eie taal.

 

 

Tema: Volharding in gebed tot en gehoorsaamheid aan die hemelse Heiland

 

In hierdie
preek wil ek met u stap vir stap kyk na die verskillende aspekte van die teks:
die beskrywing van die eerste gemeente, hulle volharding, die leemte wat
opgevul moes word, agv die dood van Judas, die twee kandidate, die lot, die
aanwysing van Matthias, en dan ten slotte, die betekenis van dit alles vir ons
vandag.

 

Ons teks
begin met die woordjie ‘daarop’.

In hierdie
woordjie proe mens gehoorsaamheid.

Hulle het
teruggekeer na Jerusalem.

Daar moes
die apostels volgens Jesus se bevel wag op die Heilige Gees.

Hulle het
die helling van die Olyfberg weer afgeklim rigting die stad.

Het dit u,
gemeente, al opgeval hoe dikwels Lukas ‘n plek- en tydsaanduiding gee?

Uit al
hierdie details kan die leser aflei dat dit ’n betroubare verslag is.

Sien vers 12
byvoorbeeld: die Olyfberg, naby Jerusalem, ’n sabbatsreis ver.

’n Sabbatsreis
is ongeveer 800 meter.

Dit was die
afstand wat mens op sabbat kon aflê sonder om die gebod te oortree.

In Exodus
16:29 staan naamlik dat die volk op sabbat nie hulle stad of dorp mog verlaat
nie.

Die afstand
van 800 is afgelei van die gemiddelde grootte van ’n stad, sien Numeri 35.

As Lukas dus
hier skryf oor ’n sabbatsreis, hoor mens die stem van ’n ooggetuie, wat die
afstand na die stad op ’n Joodse wyse omskryf.

 

En toe hulle
in die stad aankom, lees ons dat hulle na die bovertrek gegaan het, waar hulle
gewoonlik saamgekom het.

Hierdie
ruimte was vir hulle ’n vertroude plek.

Ruim genoeg
vir ’n aantal mense om bymekaar te kom.

Daar is die
samekomste gehou.

Daar het
hulle biddend die koms van die Gees afgewag.

Dit was die
apostels, met enkele ander volgelinge.

Maria, Jesus
se ma, en sy broers.

Ons weet dat
Jesus ’n paar broers gehad het, onder ander Jakobus en Judas, die skrywers van
die twee gelyknamige briewe in die Bybel.

Later in
Handelinge kan mens lees dat Jakobus ’n leier in die kerk van Jerusalem geword
het.

Daar was ook
’n paar vroue.

In daardie
dae was dit die gewoonte, om as daar getel word, die vroue oor te slaan.

Dit was nie
’n soort diskriminasie nie.

Dit was om
vinniger ’n aanduiding te kry hoeveel mense daar was – daar is ook voorbeelde
hiervan in die Evangelies.

Uitgaande
van die aanname dat daar in elk geval net soveel vroue as mans sou wees.

Lukas tel
egter verskeie kere die vroue bewus saam.

Juis omdat
hierdie vroue ’n onmisbare plek in sy ooggetuie verslag inneem.

So het Lukas
ook al in sy Evangelie noukeurig beskryf hoe enkele vroue die eerste was wat
Jesus se opstanding gesien het.

Hulle was
die eerste ooggetuies by die leë graf.

Ook in
Handelinge sien mens reëlmatig hoe Lukas die rol van vroue beskryf vir die
verbreiding van die Evangelie.

Dink aan
Lydia in Filippi.

Dink aan
Damaris in Athene.

Dink aan
Priscilla in Korinthe.

En ook hier
in ons teks speel hulle ’n belangrike rol.

Terselfdertyd
kom hulle nie in aanmerking as daar ’n opvolger vir Judas Iskariot gekies word
nie.

Elkeen
ontvang sy eie plek in die gemeenskap.

Elkeen sy
eie unieke plek in die struktuur van God se skepping.

En elkeen
vanuit sy eie posisie werk saam aan die verspreiding van die blye boodskap, en
die opbou van Christus se kerk en koninkryk.

 

Hierdie groep,
in die bovertrek, het eendragtig volhard.

Die woord
volhard is in die boek Handelinge baie kenmerkend vir die eerste gemeente.

Volharding
in gebed.

Die gebed
het veral hardop plaasgevind.

Die gewoonte
om stil te bid vind ons in die Bybel nie so baie nie.

In die
sinagoge het die gebed van ouds ’n sentrale plek ingeneem, hierdie eerste  Christene het dus daarmee opgegroei.

Die gebed in
die sinagoge was nie formuliergebede nie, dit was vry geformuleerde gebede.

Maar daar
was wel vaste tema’s.

Ook was dit
in die sinagoge die gewoonte dat meerdere persone tegelykertyd hardop gebid
het, elkeen sy eie gebed.

Ons weet dat
hierdie gewoonte ook later in die kerk van Korinthe plaasgevind het.

Daar het dit
soms te wanordelik geword.

In sy eerste
brief aan die Korinthiërs wys Paulus daarop.

 

Hierdie
groep in die bovertrek het egter besef dat die apostels nie voltallig was nie.

Jesus was
nie meer liggaamlik in hulle midde nie, maar ook Judas Iskariot nie.

In die
gedeelte wat volg lees ons hoe hierdie twee leë plekke opgevul word.

In hoofstuk
2 het ons laasweek gelees hoe die Heilige Gees die plek van Jesus ingeneem het.

Hier in ons
teks, dit was enkele dae voor Pinkster, lees ons hoe die leë plek van Judas
Iskariot opgevul word.

Petrus het
naamlik opgestaan.

Hy het die
leiding geneem oor hierdie groep van ongeveer 120 persone.

Petrus het
bewus hierdie punt aangespreek: die herstel van die twaalftal.

Duidelik het
dit ’n simboliese waarde gehad.

Twaalf
apostels om in die nuwe bedeling die opvolgers van die twaalf stamme van Israel
te word.

Petrus het
begin deur te wys op God se leiding in alles wat gebeur.

Dit het nie
net gegeld vir die kruisiging en opstanding van die Heiland nie.

Dit het ook
gegeld vir dit wat met Judas gebeur het.

Dit
illustreer Petrus met woorde uit die Ou Testament.

Toe al het
die Heilige Gees, by monde van Dawid, gepraat oor Judas.

Wat naamlik
met Judas gebeur het, was nie sommer net iets nie.

Gemeente,
mens vergeet soms welke verslaentheid die aksie van Judas teweeg moes gebring
het.

Die verbystering
onder die dissipels dat een hulle eie midde dit gedoen het.

Judas het
die leiding geneem oor die bende wat Jesus gevang het.

Jesus is
verraai deur ’n vriend.

Hoe kon
Jesus, met als sy krag, wat selfs mense uit die dood opgewek het, hoe kon Jesus
dit nie voorkom het nie.

Die
dissipels was totaal verslae.

Nadat dit
gebeur het, weet ons uit die Evangelie, het hulle in alle rigtings gevlug.

Maar nou
plaas Petrus hierdie bisarre gebeurtenisse in die regte perspektief.

Hy verwys na
Psalm 69 en 109, psalms van Dawid.

Juis in die
lewe van Jesus het die wrange woorde uit hierdie psalms tot vervulling gekom.

In Psalm 69
kan mens lees dat die giftigste venyn uit die kring van die broeders gekom het.

En in Psalm
109 het die aanval gekom van die kant van diegene wat sogenaamd vir die koning
liefgehad het.

Op dieselfde
manier het Jesus op ’n intense wyse meegemaak waaroor Dawid in hierdie psalms
kla.

 

In vers 18
en 19 vertel Petrus dan oor die dood van Judas.

As ons
hierdie beskrywing vergelyk met die weergawe van Mattheüs (hfst 27), dan lyk
dit nogal verskillend.

In Mattheüs
27 smyt Judas die geld wat hy vir Jesus se verraad ontvang het, voor sy
opdraggewers se voete.

Maar volgens
Petrus koop hy ’n stuk grond met die geld.

In Matthëus
hang Judas homself op uit wroeging.

Hier in
Handelinge sterf hy deur ’n soort ongeluk.

In Mattheüs
27 koop die opdraggewers ’n stuk grond met die geld wat Judas nie wou hê nie,
en dit word ‘Bloedgrond’ genoem, verwysende na die onskuldige bloed wat hy
verraai het.

Hier in
Handelinge kry die stuk grond waar Judas sy bloedige dood gesterf het, hierdie
naam.

By Mattheüs
word die lewenseinde van Judas van binneuit beskryf.

Daar is
sprake van berou en skuldbelydenis.

Die
selfmoord vind plaas as Judas sonder vergifnis deur sy opdraggewers die
priesters weggestuur word.

Maar die
strekking van Petrus se woorde is eenvoudig: die verraaier kry sy verdiende
loon.

Hierdie twee
weergawes van Judas se lewenseinde klink heel verskillend.

Tog kan die
meeste dinge, wat op eerste gehoor teenstrydig klink, gekombineer word.

Twee
oogpunte van dieselfde saak.

Belangrik is
ook om die konteks van beide beskrywings in gedagte te hou.

Mattheüs en
Petrus, oftewel Lukas, beskryf Judas se lewenseinde naamlik uit verskillende
oogpunte.

Mattheüs
skryf meer hoe Judas alles persoonlik beleef het.

Hoe hy
heeltemal in ’n hoek gedryf is.

’n
Beskrywing wat psigologies baie sin maak.

Mattheüs was
ook ’n dissipel en hy het Judas persoonlik geken.

Mattheüs was
oorspronklik van beroep ’n tollenaar.

Hy het die
suigkrag, die aantrekkingskrag van geld geken.

Hy het
waarskynlik ook geweet dat juis dit – die liefde vir geld – Judas se swakplek
was.

Hy het dalk
simpatie gehad met Judas, wat juis deur sy liefde vir geld in Satan se lokval
geloop het.

 

Petrus plaas
die gebeure rondom Judas se lewenseinde in die kader van God se raadsplan.

En in die
konteks van die verkiesing van ’n nuwe apostel.

Maar miskien
wonder u nog steeds in u agterkop:

Wat het toe
uiteindelik met Judas gebeur?

Het Judas
salig geword, of het hy verlore gegaan?

Op hierdie
vraag kan ek u geen antwoord gee nie.

Die Bybel
skryf nie eksplisiet iets hieroor nie.

Ons lees net
dat Judas in hierdie lewe gestraf is vir sy verraad.

Oor wat na
hierdie lewe met hom gebeur het, lees ons nie.

Maar in
hierdie lewe het Judas totaal ongeskik geword om verder sy amp verder uit te
oefen.

“Laat ’n
ander een sy opsienersamp neem.” - sê Petrus en hy haal aan uit Psalm 109.

En daarmee
kom Petrus tot sy eintlike punt:

Daar
ontbreek iemand in die twaalftal.

Die leë plek
moet gevul word.

Petrus gee
in vers 21-22 ’n omskrywing van hierdie amp.

Dit gaan
bewus oor iemand wat ooggetuie moes wees!

Die apostels
het naamlik die taak van Jesus ontvang om sy getuies te wees “in Jerusalem
sowel as in die hele Judea enSamaria en tot aan die uiterste van die aarde.”
(Hand 1:8)

 

Dus voordat
die 120 daar bymekaar die geleentheid kry om name op te gee, moet eers duidelik
wees aan watter vereistes die persoon moet voldoen.

Vers 21:
”manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by
ons in- en uitgegaan het, van die doop van Johannes af” – dit was die oomblik
toe Jesus sy amp offisieel aanvaar het.

Tot en met
die dag van die hemelvaart.

’n Oog- en
oorgetuie dus van Jesus se prediking, genesings, wonderwerke, kruisiging, opstanding,
verskynings en hemelvaart.

 

Nadat die
groep van 120 na die vereistes geluister het, het hulle met twee name vorentoe
gekom.

Twee manne
waarvan hulle oortuig was dat beide hierdie amp sou kon beklee.

Naamlik om
die Evangelie, die Blye Boodskap in die volkerewêreld in te dra.

Josef, wat
genoem is Barsabas, met die bynaam Justus.

En Matthias.

Albei dus
Joodse manne, gesien hulle name, hoewel die een ook ’n Latynse bynaam gehad het
– Justus.

Israel was
in daardie dae ’n Romeinse kolonie.

In die
strate van Jerusalem is ook baie Latyn en Grieks gepraat.

 

Die loting
tussen die twee is voorafgegaan deur gebed.

Hulle is aan
God opgedra.

Daar is
gevra of God die keuse wil maak.

Toe is die
lot gewerp.

Gemeente, is
dit iets vreemds?

Is mens dan
nie besig om God te versoek nie?

Speel mens
nie met sy voorsienigheid nie?

Nee, want
die lot word hier gebruik in ’n bepaalde konteks.

Petrus en
die 120 aanwesiges doen nie iets wat teen God se gebooie indruis nie.

Jy kan nie,
argumentsonthalwe, die lot werp tussen iemand wat wel en iemand wat nie geskik
is vir die amp nie.

Hulle het
die Here nie op die proef gestel nie.

Hulle het
twee manne voorgestel wat – gemeet aan God se geopenbaarde wil – beide geskik
was.

Maar die
eindbeslissing is aan die Here oorgelaat.

Hy, as Kenner
van die harte, het geweet wie die plek van Judas moes inneem.

Judas het
deur sy persoonlike optrede homself ongeskik gemaak om langer die amp te
beklee.

Sy plek wat
hy moes vervul, het hy verlaat deur sy optrede.

Die
apostelskap het hy ingeruil vir ’n ander funksie.

In vers 25
kontrasteer Lukas die plek wat Jesus vir Judas gekies het, met die plek wat
Judas self gekies het.

En in vers
26 lees ons dan dat die lot op Matthias geval het.

 

Ons lees
verder in die Nuwe Testament niks meer oor Matthias nie.

Maar hy was
ook daarby toe die Heilige Gees enkele dae later uitgestort is.

Hy het ook
in ’n vreemde taal begin praat.

En moontlik
het hy daarna die Evangelie gaan verkondig juis in daardie land of onder
daardie mense wie se taal hy ontvang het om te praat.

Maar sy naam
word verder in die Nuwe Testament nie weer genoem nie.

Ook uit die
kerkgeskiedenis weet ons weinig oor hom.

Die
kerkhistorikus Eusebius, en die kerkvader Clemens, verwys op ’n stadium na hom
in die konteks van die bestryding van die leer van die Nikolaïete, waarvan mens
in Openbaring 2 lees.

Dus, in
kort, Matthias het een van die pilare geword op wie se getuienis die Nuwe
Testamentiese kerk gebou is.

Maar verder
weer ons oor hom as persoon, en waar hy gearbei het, omtrent niks nie.

 

Wat beteken
hierdie teks eintlik vir ons vandag?

As ons iets
vir onsself wil leer, dan moet ons eerstens kyk na die plek van ons teks in die
boek Handelinge.

Die kern van
die boek Handelinge vind ons in hoofstuk 1:8.

Die laaste
woorde van die Here Jesus aan sy dissipels voor sy hemelvaart.

“Julle sal
krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies
wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste
van die aarde.”

Die res van
die boek Handelinge is ’n uitwerking van hierdie vers.

Wanneer die
eerste Christene dan bymekaar is in die bovertrek, sien ons dat hulle in die
eerste plek gehoorsaam was aan Jesus se bevel.

Hulle het
nagedink, en tot die konklusie gekom:

As ons ons
toekomstige taak sal wil uitvoer, dan moet die apostels weer voltallig wees.

’n
Twaalftal. Twaalf pilare.

Op hulle
getuienis moet die kerk gebou word.

En so sien
ons hoe die eerste gemeente, al was hulle nog maar klein, in gehoorsaamheid ’n
begin gemaak het.

Geen blinde
gehoorsaamheid nie.

Hulle het
goed nagedink, hulle het twee manne voorgestel, wat ook ooggetuies was.

En so het
hulle daarvoor gesorg, in die tien dae tussen hemelvaart in Pinkster, dat die
twaalftal weer voltallig word.

Matthias is
aangewys.

En toe die
Pinksterdag aanbreek, toe was hulle gereed.

 

Nou hoef ons
as kerk vandag nie weer ’n apostel te kies nie.

Toe die
twaalf gesterf het, is hulle nie opgevolg nie.

Die
fondament van die apostels is maar een keer gelê.

Wel gaan die
bou van die kerk deur.

Daarvoor is
ampsdraers nodig.

Christus
verwag vandag van ons as kerk om deur te bou.

Gehoorsaam
die bou-instruksies wat Hy gegee het, uit te voer.

Ook dit is
nie net ’n dom, blinde gehoorsaamheid nie.

Ons gebruik
ons verstand en al ons gawes.

Ons doen
kennis op, ons leer vaardighede, wat ons dan in die praktyk toepas.

 

En ons moet
daarop voorbereid wees, ook vandag in ons tyd kan daar teëslae die kop opsteek.

Moenie die
werk van die Satan onderskat nie.

Soms gebeur
dit dat ’n deel van die gebou inmekaar stort, omdat dit op sand gebou is, en
nie op die fondament van die apostels nie, of omdat Christus se instruksies nie
opgevolg is nie.

Moenie dink
kerkstryd, kerkskeurings, is net iets van die verlede, net iets uit die
kerkgeskiedenis nie.

Moenie dink
jou ouers, of jou oupas en oumas het dalk gestry oor die kerk, maar ons is
beter, ons bewaar die vrede.

Dit mag blyk
dat dit ’n valse vrede is.

En dan word
die teenslag wat ons dalk in die toekoms gaan tref, net nog groter.

Moenie stryd
wat nodig is, uitstel nie.

Stry liewer,
maak liewers reg, solank dit nog moontlik is.

Moenie dat
probleme sodanig ophoop dat dit later onbestuurbaar geword het nie.

 

Nogmaals,
moenie die Satan onderskat nie.

As hy dit
reggekry het om uit die kring van twaalf rondom Jesus een afvallig te maak, wat
kan hy dan wel nie onder ons regkry nie?

Dit kom dus
aan op onderskeidingsvermoë.

In ’n kerk
kan die strewe om alles tog maar net soveel moontlik bymekaar te hou, ’n
gevaarlike tydbom wees.

Laat ons
eerder die eenheid soek in die waarheid.

As die Satan
dit regkry om mense afvallig te maak, ook as dit vooraanstaande mense in die
kerk is, dan sal daar duidelike taal gepraat moet word.

’n Sfeer van
ons ken ons is baie gevaarlik vir die kerk.

Tradisionele
lojaliteite kan die waarheid begin ondergrawe.

Die giftige
venyn, so was dit met Judas, het nie van ’n buitenstaander gekom nie, maar van
’n broer.

Ook vandag
moet ons bid, soos Petrus en die eerste gemeente, dat God mense soos Judas mag
verwyder.

 

En gemeente,
waartoe ons teks veral oproep, is om te volhard.

Ons het
gelees: hulle het almal eendragtig volhard.

’n Teoloog
het ’n keer toe iemand hom gevra het: hoekom moet ek kerk toe gaan?, die
volgende geantwoord: Om ’n goeie gewoonte vol te hou.

Mens kan en
moet natuurlik meer sê.

Maar moenie
hierdie aspek onderskat nie.

’n Goeie
gewoonte, dit is sinoniem aan: volharding.

As ons as
mense nie hulpmiddels het, soos ’n goeie gewoonte, dan hou ons nie altyd vol
nie.

Laat ons so
eerlik wees om dit te erken.

Om te
volhard, soms teen jou sin en teen jou gevoel in.

Op
volharding rus seën.

“Wie is dan
die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstal
om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer,
as hy kom, so besig sal vind” skryf Lukas in sy Evangelie hoofstuk 12:42-43.

Uiteindelik
gaan dit nie oor jou nie, oor hoe jy oor iets voel nie, uiteindelik gaan dit
oor jou Heiland, en sy eer, sy koninkryk.

 

’n Lewe van
volharding.

Dit begin
met gebed.

Oop lyne na
die hemel.

En
vervolgens geloofsgehoorsaamheid.

Gebed,
gehoorsaamheid, volharding.

Gemeente,
volg u in hulle voetspore?

Die
voetspore van hierdie eerste gemeente?

Is daar by u
sprake van gebed?

Daaglikse
gebed?

En is daar
by u sprake van gehoorsaamheid?

Wie
gehoorsaam wil wees, moet elke dag luister na die stem van sy Heer, na sy
Woord.

Ken u
daardie vaste gewoonte elke dag?

Natuurlik
nie net ’n leë gewoonte nie, maar ’n gewoonte wat ook innerlik deurleef is.

En gemeente,
ken u volharding?

Wie nie
volhard nie, verslap; en word ’n prooi vir die Satan.

Maar as ons
volhard in gebed en gehoorsaamheid, net soos die eerste gemeente, wag daar vir
ons ‘n ryke toekoms.

Ons mag nog
steeds verder gaan op die pad van die nuwe bedeling, waarmee hierdie eerste
gemeente begin het.

Soos in
Handelinge 2:42 oor hulle gesê word: hulle het volhard in die leer van die
apostels, en in die gemeenskap, en in die breking van die brood, en in die
gebede.

Dit is ’n
kernagtige samevatting van die kerklike lewe.

En dit is
wat ons ook nog doen, vandag in die 21e eeu, terwyl ons Christus se
wederkoms afwag.

Ook die
breking van die brood mag ons volgende week weer vier, as dit nagmaal is.

En laat ons
ons hierdie komende week daarop voorberei.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)