Eers as jy Christus ken, ken jy jou redding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-04-20
Teks: 
Johannes 20 : 8-9
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 20 April 2014
AD, 10:15 (Paassondag)

Voorsang: Ps
58:1-4

Votum

Seën

S: Ps 75:1,2

Wet

S: 119:22

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 16:21-23 & 17:22-23

S: Ps
118:1,2

Skriflesing:
Johannes 19:38-20:9

S: Ps
118:3,11

Teks:
Johannes 20:8-9

Preek

S: Sb 24:5,6

Gebed

Kollekte

S: Sb 8:2,5

Seën

Preek: Johannes 20:8-9

Wanneer ken
jy iemand?

Ken jy
iemand as jy net sy naam ken?

Of moet jy
meer van iemand weet om te kan sê: ek ken hom?

’n Vrou het
my ’n keer vertel dat sy vir jare uitgegaan het met ’n vriend, maar dat dit
eers na hulle troue was dat sy regtig leer verstaan het hoe sy kop werk.

Ken en ken
kan daarom heel verskillende dinge wees.

In ons teks
vir hierdie Paassondag lees ons die opmerking dat die dissipels nog nie die
Skrifte verstaan het nie.

Ons sal in
hierdie preek kyk wat hiermee presies bedoel word.

 

Tema: Eers as jy Christus ken, ken jy jou redding.

 

Het die
dissipels dan nie die Skrif geken nie?

Ongetwyfeld
het hulle.

Miskien het
hulle – Petrus en Johannes – nie die ensiklopediese hoeveelheid kennis gehad
wat ’n apostel soos Paulus gehad het nie, maar nog steeds...

Hulle was
gelowige Jode, opgevoed in die Skrifte.

Hulle het
hulle geloof bely – op die manier hoe dit toe gedoen is – deur ’n seun van die
wet, ‘n ‘bar mitswa’ te word op
twaalfjarige ouderdom.

En mens moet
veral noem: hulle het drie intensiewe jare van onderrig agter die rug gehad,
terwyl hulle hulle Leermeester, die Here Jesus, gevolg het.

Ongetwyfeld
het die Here Jesus vir hulle die Skrifte van A tot Z onderrig.

Maar nog
steeds, ons teks sê, hulle het die Skrif nog nie verstaan nie.

En dit was
die rede hoekom die gebeure op Sondagoggend hulle totaal onverwags betrap het.

 

Op die
eerste dag van die week het Maria Magdalena vroeg haar huis verlaat.

Dit was nog
donker.

Saam met ’n
paar ander vroue het hulle na die graf gegaan, om die liggaam van Jesus te
behandel, onbewus van die feit dat Jesus opgestaan het.

Hierdie
Maria Magdalena was afkomstig uit die gebied rondom die meer van Galilea.

Sy het vir
Jesus begin volg nadat Hy sewe demone uit haar uitgedryf het, wat haar gees
gevange gehou het.

Sy was ook
aanwesig by die kruisiging en begrafnis van Jesus.

Op die dag
toe Hy gesterf het, kon sy nie veel vir haar Leermeester doen nie.

Die dag
daarna was dit Sabbat, en hulle moes hulle aan die sabbatsreëls hou, soos om
nie ’n afstand groter as ’n sabbatsreis af te lê nie.

Heel
waarskynlik was dit dus nie moontlik om ’n besoek aan die graf te bring op die
sabbat nie.

Maar direk
na die Sabbat het hulle na die graf gegaan.

Toe hulle
daar aankom, sien hulle dat die klip weggerol was van voor die ingang van die
graf.

Maria
Magdalena het dadelik teruggehardloop na die stad.

Eers na
Simon Petrus en toe na die een vir wie Jesus liefgehad het.

Johannes,
wat die auteur van hierdie Evangelie is, verwys hier na homself.

Ons kan uit
die Griekse teks aflei dat hierdie twee dissipels nie op dieselfde plek was

nie.

Moontlik het
elkeen van hulle weggekruip op ’n aparte plek.

Na Jesus se
arrestasie het die dissipels gevlug en nou het hulle weggekruip op verskillende
plekke in Jerusalem.

Maar Maria
Magdalena het geweet waar hulle was.

 

Uit die feit
dat die klip weggerol was, het Maria gekonkludeer dat iemand die liggaam van
die Here weggeneem het.

En omdat sy
liggaam uit die graf verwyder is, wou sy onmiddelik die dissipels daaroor
inlig.

En die vraag
wat haar die meeste besig gehou het, was: waar het hulle Hom neergelê?

Waar is sy
liggaam nou?

Uit haar
opmerkings kom mens agter dat sy onder die indruk was dat iemand sy liggaam op
’n ander plek herbegrawe het.

Dalk was dit
Josef van Arimathea, en Nikodemus, wat albei met Jesus gesimpatiseer het.

Dalk was dit
hulle intensie om vir Hom net tydelik in hulle nuwe graf te lê.

Dalk het
hulle nou ’n herbegrafnis gereël.

Maar waar?

Sy moes
weet!

Anders kon
sy nie aan haar Leermeester die laaste eer bewys nie.

 

Maria
Magdalena se boodskap was genoeg vir Petrus en Johannes om op te spring en
dadelik na die graf te hardloop.

Johannes,
wat waarskynlik jonger was as Petrus, het vinniger gehardloop.

Toe Johannes
by die graf aankom, het hy ingegaan.

’n Graf het
in daardie dae bestaan uit ’n uitgekapte grot of kamer in ’n heuwel.

Meestal was
daar ’n soort ingangskamer of voorportaal, en dieper in was daar die kamer of
kamers met grafte of nisse in die mure uitgegrawe waarin die liggame neergelê
is.

Die ingang
is afgesluit met ’n groot gekapte ronde klip.

Toe Johannes
die graf binnegaan, moes sy oë eers gewoond raak aan die donkerte.

Maar hy het
direk in die rigting van die plek gekyk, waar Jesus op Vrydagmiddag neergelê
is.

En in die
skemer het hy daar klere sien lê, doeke.

Hy het nie
nader gegaan nie.

Wat hy
gesien het, was genoeg om te besef dat Maria Magdalena verkeerd was.

Jesus was
nog steeds daar.

 

Maar toe kom
Petrus daar aan in die grafkamer.

Hy storm sommer
by Johannes verby tot vlak by die betrokke plek.

En toe maak
hy ’n belangrike ontdekking.

Die doek wat
rondom Jesus se kop gedraai was, het nou eenkant gelê.

En met sy oë
gewoond aan die skemer, besef hy skielik dat hy staan en kyk na leë doeke.

Hy het nie
mooi verstaan nie.

 

Ondertussen
het Johannes ook versigtig nader gekom.

En eers toe
begin hy besef dat die liggaam in werklikheid nie daar was nie.

Net die
oorblyfselfs het daar gelê.

Die doeke
wat hard geword het omdat die olie en balsem opgedroog het.

Duidelik was
dit dus nie so dat Hy herbegrawe is nie.

As jy iemand
herbegrawe, vat jy die grafdoeke rondom die liggaam outomaties saam.

Johannes,
wat hierdie toneel beskrywe, sê dan oor homself:

Toe ons dit sien, het ons begin glo.

Soos op ’n
bewokte dag wanneer die son net nie wil deurbreek nie.

Maar dan
skielik skyn die helder strale deur die wolke van ongeloof.

Sy verstand
is verlig.

Hy het
gesien en geglo.

Hy het begin
om te besef dat Jesus lewendig is!

 

Johannes,
wat later hierdie woorde opgeskryf het, erken hier eerlik oor homself en sy
kollega dissipel Petrus:

Ons het nie
die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.

Dit is ’n
eerlike belydenis van sy ongeloof op daardie stadium.

Dis nie ’n
verskoning nie.

Dis nie ’n
onderbeklemtoning nie.

Nee, ons het
die Skrif nie verstaan nie.

Die hele
Skrif was duister vir ons tot op daardie oomblik.

 

Gemeente, is
dit werklik waar?

Bedoel Hy
dit werklik so ernstig?

Is dit nie
bietjie oordrewe nie?

Moontlik het
hy met ’n bepaalde detail aspek van die Skrif nie rekening gehou nie.

Maar hulle
het mos die Skrif geken, en die Skrif verstaan? Tog?

Dit kan met
enigiemand gebeur, dat jy ’n bepaalde detail vergeet.

Die Skrif,
die Ou Testament, is mos baie dik!

Het jy elke
dag al die antwoorde gereed op vrae oor die Skrif?

Onthou jy
elke dag elke detail?

Ons ken dalk
globaal die Bybelse geskiedenis soos ons dit in die Ou Testament vind.

Maar mens
onthou nie elke detail nie.

Wat was
byvoorbeeld die naam van Simson se pa?

Onthou u
nog?

Miskien het
jy dit geleer toe jy nog jonk was.

Miskien het
jy onlangs deur die boek Rigters gelees en kan jy dit onthou.

Maar anders?

Of wat was
die naam van die profeet Jeremia se sekretaris, sy skriba?

Wie was
koning oor Juda toe hulle in ballingskap gegaan het?

Hoe oud het
Adam geword? En Noag?

Onthou u
nog?

Dalk het die
dissipels iets vergeet.

Dalk het
hulle nie elke detail van Christus se onderrig onthou nie.

Byvoorbeeld
dat Jesus wel gepraat het oor die feit van sy opstanding.

 

Gemeente, om
eerlik te wees, dit was nie so nie.

Dit was nie
net ’n detail nie.

Die feit van
die opstanding was nie iets om toevallig te vergeet nie,

dit was nie
iets soos die name van Simson se ouers, of die ouderdom van Noag toe hy gesterf
het nie.

Hierdie feit
– Christus se opstanding – staan op ’n totaal ander vlak.

Kort daarna
het Jesus begin verduidelik vir die Emmaüsgangers hoe al die Skrifte op Hom
betrekking het (Luk 24:27).

Die hele Ou
Testament bereik sy hoogtepunt in die gebeurtenisse van die afgelope paar dae:

Jesus
Christus, oorgelewer; Jesus Chrisuts, gekruisig; Jesus Christus, begrawe. Maar
ook: Jesus Christus, opgestaan! Die eersteling, die eerste vrug van die ewige
lewe.

Wat aan die
begin van die Skrifte belowe is, in Genesis 3:15, naamlik dat die kop van die
slang vermorsel sal word, het op hierdie einste dag in vervulling gegaan.

 

Hoe kon
hulle, Petrus en Johannes, dit oor die hoof gesien het?

En dan moet
mens nie vergeet dat Jesus self hulle by herhaling hieroor ingelig het nie.

Ek dink byvoorbeeld
aan Markus 8:31, waar ons lees:

“Toe het Hy
hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur
die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae
opstaan.”

Op daardie
stadium het Petrus dit nie verstaan nie.

Petrus het
Jesus naamlik opsy geneem en hom begin bestraf.

Duidelik het
Petrus se toekomsscenario anders gelyk.

 

Ek kan ook
verwys na Mattheüs 16:22, waar dieselfde gebeurtenis beskryf is.

“Toe neem
Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal
U nooit oorkom nie!”

Daarna lees
ons dat Jesus terug reageer.

Hy het dit
nie aanvaar soos Petrus Hom behandel het nie.

Inderwaarheid
is dit die hoofrede hoekom Hy na die aarde gekom het.

Dus het
Jesus omgedraai en vir Petrus gesê:

“Gaan weg
agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God
bedink nie, maar die dinge van die mense.”

En die dinge
van God, God se raadsplan, was inderaad dat Hy moes sterf, en na drie dae
opstaan.

Dalk het
Petrus die ‘na drie dae opstaan’ nie eers meer gehoor nie.

Dalk het hy
homself so vererg toe hy hoor dat Jesus praat oor doodgaan, dat hy nie verder
geluister het nie.

Feit bly wel
dat Jesus hierdie nie net een keer gesê het nie, maar meerdere kere.

 

Een hoofstuk
later kan ons lees dat Mattheüs weer skryf: “en hulle sal Hom doodmaak, en op
die derde dag sal Hy opstaan.” (Matt 17:23)

Na Jesus dit
hierdie keer gesê het, het Petrus en Johannes nie weer gewaag om met Jesus
hieroor te praat nie, laat staan Hom apart te neem en Hom te bestraf. Ons lees
nou slegs dat hulle baie bedroef geword het.

 

Aan die een
kant is dit verstaanbaar, dat hulle bedroef was, want Jesus het hier vanuit
hulle optiek oor ‘n ‘worst case scenario’ gepraat.

Maar aan die
ander kant kan mens vra: was die dissipels dan nie ook gelukkig nie?

Want Jesus
het mos ook van sy opstanding gepraat!

Weer eens,
hierdie laaste deel van Jesus opmerking het waarskynlik by hulle ore ingegaan,
maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.

Dit was nog
nie deel van hulle denkraamwerk nie, dit het nog nie daarin gepas nie.

Hulle het
net gekonsentreer op sy eerste opmerking, naamlik dat Hy sou sterf, en dit het
hulle bedroef gemaak.

 

Daar was
selfs ’n derde keer dat Jesus hierdie boodskap aan hulle oorgedra het.

’n Derde
aankondiging, nie net van sy lyde nie, maar ook van sy opstanding.

Maar nog
steeds het die boodskap nie geland nie.

Met die
gevolg dat hulle op hierdie Sondag totaal onkant betrap is.

Eers nadat
Johannes na die graf gehardloop het in reaksie op die boodskap van die vroue,

eers nadat
hy die doeke in die graf sien lê het,

eers nadat
Petrus daar ingebars het, verby hom,

eers nadat
Johannes skrikkerig nader gekom het,

eers toe hy
sien dat die hoofdoek van Jesus aan die kant lê, en dat die ander doeke leeg
was,

eers toe het
die woord van Jesus, sy herhaalde aankondigings, by Johannes begin binnedring.
Soos ons teks sê: hulle het nog nie verstaan
dat Hy uit die dode moes opstaan nie.

Maar nou
eers, uiteindelik, het hy gesien en geglo.

Tot daardie
oomblik het die Skrif vir hom duister gebly.

 

Geliefde
gemeente, die doel van hierdie preek is nie dat ons ons koppe skud oor Johannes
en Petrus en hulle kleingeloof nie.

Wie is ons
om dit te doen?

Ons is ook
swak in die geloof.

Die doel van
hierdie preek is eerder dat ons ons verbaas oor hierdie wonderlike gebeurtenis.

Dat ons
besef: dit was die heel belangrikste dag in die wêreldgeskiedenis.

Dit is die
hart van die Evangelie.

Die hele
Skrif wentel rondom hierdie gebeurtenis.

Jesus
Christus, gekruisig én opgestaan!

Hoewel
Johannes die Skrif van kaf tot kaf geken het, so lank hy nie dit besef het nie,
dit wat die doel van Christus se koms na die aarde was, naamlik sy kruisiging
EN opstanding, het hy die Skrif nog nie verstaan nie.

En dit erken
hy ruiterlik in ons teks.

Slegs na
hierdie oomblik het sy geloof die regte vorm begin aanneem.

 

Dit is vir
ons net so belangrik om te besef.

In die kerk,
in ’n christen se lewe, is kennis van alle verskillende feite en aspekte van
die Bybel waardeloos, as hierdie wonderlike feit nie jou lewe beheers nie.

Daarom kan
ons, kan jy jouself op hierdie Opstandingsondag afvra:

Het my
geloof die regte fokuspunt?

Ken jy
werklik die Here Jesus?

Besef jy dat
Hy vir jou gelewe en gely het, hier op aarde?

Besef jy dat
Hy vir jou gekruisig is?

Besef jy dat
Hy regtig opgestaan het?

Besef jy die
implikasie hiervan?

Soos die
tema sê: slegs as jy Christus ken, ken jy ook jou eie redding.

 

Vir Johannes
het die ware lig op daardie dag deurgebreek.

Daarna sou
die lig net helderder en helderder in sy lewe begin skyn.

Hy het
eerlik bely dat tot op daardie moment die duisternis sy lewe beheers het.

Ons het nog
nie die Skrif verstaan nie.

Maar daardie
oggend in die grafkelder het alles verander.

Wat ek daar
gesien het, het my kop reggeruk.

Daar het die
besef begin deurdring, dat dit wat Jesus al die tyd gesê het, nie net vroom
swewerige praatjies was nie, maar dat Hy oor die werklikheid gepraat het.

Wat Hy die
heeltyd gesê het oor ’n opstanding, en ’n ewige lewe, nie net vir die siel nie,
maar ook vir die liggaam, dit was nie net mooi woorde nie, dit was nie net
simbolies nie, dit was nie net teologies nie, dit was WAAR, EG, die
WERKLIKHEID.

Hy het
regtig my verwagtings oortref.

 

Voortaan het
Johannes anders oor sy Heiland gepraat.

Met veel
meer ontsag.

Met veel
meer bewondering.

Dink
byvoorbeeld hoe hy skryf in Openbaring: “Jesus Christus, die getroue getuie,
die eersgeborene uit die dode [!]” (Open 1:5)

Johannes was
een van die eerstes wat dit besef het, wat ooggetuie hiervan geword het.

Eersgeborene
uit die dode!

Onthou net,
Johannes was ook daarby toe Jesus byvoorbeeld vir Lasarus opgewek het, of die
dogtertjie van Jaïrus, of die seun van die weduwee van Naïn.

Maar hulle
noem hy nie die eersgeborene uit die dode nie.

Hierdie
titel behoort aan Christus.

Want Hy was
die eerste wat opgestaan het om nooit weer te sterf nie.

Hy was die
eerste wat die dood werklik oorwin het.

 

Ook die
apostel Petrus sou later skryf oor dit wat hy hier in die graf gesien het.

In sy eerste
brief skryf hy dat God, in sy barmhartigheid, ons die wedergeboorte geskenk
het, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode (1 Petr 1:3).

Op ’n manier
sê Petrus dus hier: my wedergeboorte het daar in die grafkelder plaasgevind.

Eers daar
het my oë oopgegaan vir die bedoeling van die Skrif.

Eers daar
het ek begin verstaan.

 

Daar is ’n
mooi gesang wat hierdie woorde van Petrus uit sy brief, 1 Petrus 1:3-5, berym
het.

Mens vind
dit as Hymn 28 in die gesangboek van ons Canadese en Australiese susterkerke:

“The God and Father of our Lord

Be blest for evermore.

Great is the mercy He has shown:

Him honour and adore!

He caused us to be born anew:

A living hope He gave

Through Jesus Christ, who rose again

Triumphant
from the grave.”

 

Nou het
Petrus sy Heiland nie meer vermaan, as Hy iets gesê het waarvan hy nie gehou
het nie.

Voortaan het
Petrus gekniel, en sy Heiland aanbid, die Opgestane uit die dood!

Meer as ooit
het hy nou besef, sy Heiland is nie net sy Leermeester nie, maar ook sy God.

Ons mag
vandag instem saam met Johannes en Petrus.

Ons mag ons
Heiland aanbid.

Ek sluit af
met die woorde van Petrus heeltemal aan die einde van sy tweede brief (1 Petrus
3:18):

“Maar julle
moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus
Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die
ewigheid.

Amen.”

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)