PRETORIA-MARANATA,
12 April 2015 AD, 10:15
Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 81:1
Wet
Ps 81:9,11
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed
Sing Onse Vader
Geloofsbelydenis (apostoliese)
Sb 27:4,5 (tafel in gereedheid)
1e Tafel: Skriflesing: Markus 8:27-9:1;
Sb 22:1,2
2e Tafel: Skriflesing: Markus
9:2-13; Sb 22:8,9
3e Tafel: Lofverheffing &
Dankgebed; Sb 22:11
Teks: Markus 8:31-33
Preek
Ps 118:7
Gebed
Kollekte
Ps 81:2
Seën
Preek:
Markus 8:31-33
Tema: Die
goeie nuus is dat Christus moes ly
Christus moes ly.
Dit is die boodskap van ons teks.
Goeie nuus oor die lyding van
Christus.
Dit is die goeie nuus van die
Evangelie, hoe teenstrydig dit mag klink.
Dit is daarom heel voorstelbaar
dat Petrus hom hierteen verset het.
Teen hierdie woorde van die Here
Jesus, waarin Hy sy lyde aankondig.
Hy het Jesus vir ‘n oomblik apart
geneem, om onder vier oë met Hom te praat.
Beslis, hy het baie respek vir sy
Heiland gehad, maar hierdie het te ver gegaan.
Ons teks sê dat Petrus vir Jesus
begin bestraf het.
Ons kan ons goed voorstel hoekom
Petrus dit gedoen het.
Soms is dit mos nodig om jou
rabbi, jou leraar reg te help.
Hoe kan Hy sulke negatiewe dinge
oor homself sê?
Is dit nie ‘n bietjie oordrewe
nie?
Hy, die Messias van Israel, die
Koning, die erfgenaam van die troon van Dawid, hoekom is Hy so negatief?
Hoekom sê Hy: die Seun van die
mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en
skrifgeleerdes en gedood word?
Kyk, Petrus kan verstaan dat
Jesus somtyds ‘n moment van twyfel gehad het, en dat Jesus dalk met Homself sou
praat, om uiting te gee aan sy emosies dat Hy bang is vir die pad wat vorentoe
lê, dat sy pad na die troon moeilik sal wees.
Dit is heel verstaanbaar dat die
gedagte hieraan Jesus vir ‘n oomblik of twee depressief kon maak.
Maar die feit dat Jesus nou,
publieklik, almal inlig dat Hy verwerp sal word en selfs om die lewe gebring
sal word – nee dit is onaanvaarbaar.
Dit is ook nie moontlik nie.
So iets kan mos nie met Jesus gebeur
nie?
Hy is mos die profeet van God!
Hy is mos die Messias!
Weet u, die oortuiging wat Petrus
hier uitspreek is presies dieselfde as die manier hoe Moslims oor Jesus dink.
Volgens die Koran, die heilige
boek van die Moslims, kan ’n profeet van God nie ly nie.
Dit is onmoontlik.
‘n Profeet kan slegs oorwin.
Dit is die storie wat die Koran
ook oor Jesus vertel.
Jesus – volgens die Koran – het
glad nie gely nie.
Jesus is nie gekruisig nie.
Die Koran beweer dat dit ‘n fout
was.
Die mense het net gedink dat Hy gekruisig is.
Maar eintlik is iemand gekruisig,
iemand wat baie soos Jesus gelyk het.
‘n Dubbelganger.
Dit is die storie van die Koran
oor Jesus.
Nou hoekom vertel die Koran
hierdie storie?
Omdat in die sisteem van die
moslim geloof, die Islam, ‘n profeet nie kan ly nie.
‘n Profeet moet per definisie ‘n
oorwinnaar wees.
En daarom dat Mohammed gesê het
dat dit wat in die Bybel oor Jesus staan, nie waar kan wees nie.
Mohammed kon homself nie voorstel
dat dit wat die Bybel sê oor Jesus die waarheid is nie.
Hoe is dit moontlik dat ‘n
profeet van die Allerhoogste moet ly en dat Hy selfs gekruisig word?
Volgens sy oortuigings kon ‘n
profeet van God nie verloor nie.
‘n Profeet kan slegs die wêreld
oorwin.
So het Mohammed gedink, dit is
die skewe oningeligte beeld wat hy van Jesus vir homself gevorm het.
Om terug te kom na ons teks –
eintlik het Petrus presies dieselfde idee op daardie stadium oor Jesus gehad.
En by die ander dissipels was dit
tien teen een ook die geval.
Hulle kon hulleself nie voorstel
dat hulle geliefde Meester sou moes ly nie.
Hy, wat so sterk was, en wat
sulke spektakulêre wonders kon verrig.
Hy wat ander uit die dood opgewek
het, hoe is dit moontlik dat Hy sou sterf?
Maar, dit is wel die hart van die
boodskap van Markus, ja van die hele Evangelie.
Dit is ‘n boodskap van lyde.
Dit is die groot geheim,
geheimenis.
Wat God aan die mensheid in
Christus openbaar het.
Die geheim dat die kwaad oorwin
gaan word, nie deur die swaard nie, maar deur liefde, deur ‘n Middelaar wat uit
liefde sy eie lewe gaan opoffer.
Dat God sy geliefde Seun as
losprys, as plaasvervanging, as betaling, as genoegdoening, beskikbaar gestel
het.
Hierdie geheim is al voorspel en
voorafgebeeld deur al die offers van die Ou Testament.
Al die diere wat geslag is, al
hulle bloed wat nie die sonde en die kwaad kon wegneem nie.
Al daardie offers was ‘n tydelike
oplossing tot die dag dat die Messias sou kom.
Sy offer aan die kruis het die
kwaad weggeneem.
Dit is die geheim van God wat ons
nie met ons menslike verstand kan verstaan nie.
Dit is die geheim van God wat
indruis teen wat ons van nature sou gedoen het.
Nie ‘n oorwinning deur jouself as
die sterkste te bewys nie, maar deur die swakste te wees.
Deur sy swakheid is sy krag
geopenbaar.
Deur sy volharding.
Christus is nie suksesvol deur
die satan versoek, die satan wat Jesus uitgedaag het om die wraak in sy eie
hande te neem nie.
Hy het geduldig gely.
Hy het die oordeel in die hande
van sy hemelse Vader gelaat.
En soos God die Vader besluit
het: Hy, die Seun, moes ly as plaasvervanger.
Op daardie stadium het Petrus nog
niks hiervan verstaan nie.
Hy het nog nie die geheim van God
begryp nie.
En daarom het hy Jesus bestraf.
Hy was nie bewus daarvan dat hy,
juis deur dit te doen, God se verlossingsplan geblokkeer het nie.
Ons weet hoe dinge daarna
ontwikkel het.
Nadat Petrus vir Jesus bestraf
het, het Jesus omgedraai en Petrus nog meer indringend bestraf.
Gaan weg agter My, Satan!
Want jy bedink nie die dinge van
God nie, maar die van die mense.
Tog het Petrus nog nie verstaan
nie.
Dit kom mens agter uit die
volgende gedeelte wat ons ook gelees het.
Die gedeelte na ons teks, wat
handel oor die verheerliking op die berg.
Hierdie gedeelte wys ons hoeveel
geduld Jesus met sy dissipels gehad het.
Tydens hierdie verheerliking het
Petrus vir Jesus gesien in die geselskap van Moses en Elia.
Hierdie twee manne is deur die
Jode beskou as die twee figure uit die Ou Testament met die hoogste gesag.
En hier het die dissipels gesien
hoe hulle met Jesus in gesprek is.
Geen diskussie nie, geen
woordewisseling nie, maar ‘n harmonieuse gesprek.
Dit was ‘n duidelike teken vir
die dissipels dat Jesus, en alles wat Jesus vir hulle geleer het en gesê het –
inkluis hierdie aankondiging van sy lyde in ons teks – dat Jesus nie daarin
verkeerd was nie.
Want as Jesus daarin verkeerd
was, dan sou hierdie twee – Moses en Elia – beslis ook vir Hom bestraf het, net
soos Petrus gedoen het.
Maar dit het nie gebeur nie,
inteendeel.
Dus, die dissipels moes eenvoudig
die boodskap van Jesus oor sy aanstaande lyde en sterwe aanvaar.
As selfs Moses en Elia Jesus nie
hieroor bestraf nie, wie is hulle om dit te doen?
Hulle moes sy woorde maar
aanvaar, alhoewel hulle op daardie stadium nog weinig daarvan verstaan het.
God se profeet moes ly.
Tog, as mens die Ou Testament
noukeurig lees, sal jy hierdie boodskap wel daarin vind.
Was dit nie die lot van baie ware
profete in die Ou Testament nie?
Van die bloed van Abel, die
regverdige, tot die bloed van Sagaria, wat vlak voor die tempel deur die
owerhede vermoor is (Luk 11:50-51).
Maar soos ek gesê het, dit is
baie menslik om anders te dink.
Om dit merkwaardig te vind dat
dit die roeping van ‘n profeet is om te ly en om gekruisig te word en om te
sterf.
Maar weereens, presies hierdie is
die geheim van die Evangelie.
Die hart van die Evangelie.
Nie met mag en geweld word die
wêreld oorwin nie, maar deur die liefde van God.
Niks het God se liefde beter
gewys as sy inisiatief om sy eie beminde Seun te stuur nie.
Deur sy eie Seun op te offer het
Hy die pad oopgemaak na oorwinning oor die dood en oor die sonde en oor die satan.
Jesus het self ‘n slagoffer van
die dood geword.
Hy het in ons plek gesterwe.
Maar die dood kon Hom nie vir
ewig vashou nie.
Dit is die Evangelie.
Elkeen wat ontken dat Jesus moes ly en moes sterf, as plaasvervanging vir ons skuld, elkeen wat hierdie werklikheid ontken, is nie’n Christen
nie, en is nie op datum met die realiteit van God se verlossingsplan nie.
Daar is baie godsdienste in die
wêreld.
Sommige mense beweer dat alle
godsdienste in beginsel, in die kern van die saak, dieselfde is, hoewel die
kulturele omhulsel baie kan verskil.
Sommige mense beweer dat dit nie
baie saak maak aan watter godsdiens jy behoort nie, as jy maar vir God dien.
Maar, gemeente, in die Bybel leer
ons iets anders.
Naamlik dat daar slegs een ware
geloof is, en dat daar baie valse godsdienste is.
Hoe bepaal mens wat is waar en
wat is vals?
Dit hang af van wat jy dink oor
Jesus, die Christus.
Oor wat Hy gedoen het.
As jy in Jesus Christus glo, en
as jy erken dat dit God se wil was, dat Hy gely het en gekruisig en gesterwe
het vir my en jou skuld, maar dat Hy ook opgewek is uit die dood, dan het jy
die enige ware geloof.
Hierdie geloof hou jou nederig.
Want jy moet jou eie skuld erken,
wat dit nodig gemaak het vir Jesus om te ly en te sterf.
Hierdie geloof maak jou ook intens
gelukkig en dankbaar, want jou weet en jy ervaar dat jy aan Jesus Christus
toebehoort.
Deur sy genade is jy gered.
Dit is die verskil met ander
godsdienste.
In Islam is dit nie Mohammed of
Allah wat jou red nie.
Jy moet jouself red, deur goeie
werke te doen, deur die voorgeskrewe handelinge te verrig.
Dit hang alles van jou af.
Geen genade nie.
Maar ware geloof, soos die Bybel
dit openbaar, leer ons wat genade is.
Die genadige God, wat in die Ou
Testament sy volk nie gestraf het nie, maar tydelik diere-offers aanvaar het,
tydelik die skuld bedek het met dierebloed, en so sy volk aan hulle skuld
herinner het, maar nog steeds hulle toegelaat het om aan te hou lewe en hulle
selfs geseën het.
En in die Nuwe Testament het
hierdie selfde genadige God sy geliefde Seun gestuur, sy bloed aan die kruis
het die finale versoening gebring, en ons word deur Hom gered.
Elkeen wat nederig en opreg in
Hom gelo, sal gered word.
Wat ‘n wonderlike boodskap!
Genade vir die grootste sondaar.
Genade vir die dissipel Petrus,
wat sy Heiland verloën het.
Genade vir die misdadiger wat langs
Jesus aan die kruis gehang het.
Genade vir die apostel Paulus,
wat die Christene vervolg het voordat Jesus aan Hom verskyn het.
Genade ook vir jou en my!
Amen.
(kyk in preek)