PRETORIA-MARANATA,
31 Augustus 2014 AD, 17:30
Voorsang: Ps
109:1,8,9,10
Votum
Seën
Ps 138:3
Geloofsbelydenis
(apostoliese)
Ps 138:4
Gebed
Skriflesing:
Psalm 36
Kollekte
Ps 4:3,4
Teks: Psalm
36:10
Preek
Ps 36:1,2
Gebed
Ps 36:3
Seën
Preek: Psalm 36:10
Elke mens
ken dae waarop sy gemoed af is.
Ek bedoel,
dat jy net opsien teen alles.
Daar is
teenslae, in jou eie lewe, in jou gesin of jou familie, in jou werk.
Jy weet nie
hoe dinge in die toekoms gaan uitwerk nie.
Daar is vrae
en onsekerhede wat jou oorweldig.
Dalk voel jy
juis as gelowige ook depressief.
Die feit dat
jy kerklid is, die feit dat jy elke dag bid, en Bybel lees, dit voel nie of dit
jou gelukkiger maak nie.
Dit voel nie
of dit ’n positiewe impak op jou lewe het nie.
Watter
voordeel het dit, as jy sien dat mense wat dit nie doen nie, lyk of hulle tog
baie gelukkig is, en welvarend.
Dit lyk of
Dawid, wat Psalm 36 geskryf het, ook deur so ’n dip gegaan het.
Hy kyk om
hom heen, en hy sien mense wat nie God vrees nie.
Hulle het
nie ’n saak met Hom en sy gebooie nie.
In hulle
selfsug trap hulle op ander.
Dawid voel
bedreigd.
Dit is
waaroor hierdie psalm gaan.
Ons gaan in
hierdie preek kyk na Dawid se depressie.
Wat hom so
somber gemaak het.
En of hy
weer lig kon sien, aan die einde van die tonnel.
Tema: Die HERE is die fontein van die lewe en die bron van die lig
In kort net
eers iets oor die struktuur van hierdie psalm:
Dit bestaan
globaal uit drie dele.
Dit begin
met ’n beskrywing van mense wat leef asof God nie bestaan nie.
Wat hulle
doen en hoe hulle gedrag ander beïnvloed.
Vers 2-5.
Dan skielik
skakel die psalm oor op ‘n lofprysing, vers 6-10.
Oor God se
goedertierenheid en trou en geregtigheid.
En tot slot
volg dan ’n gebed met ’n uiting van sekerheid dat die gebed verhoor sal word –
vers 11-13.
’n Versoek
van Dawid dat God sy goedertierenheid sal laat voortduur oor hulle wat opreg
is.
Op eerste
gesig lyk dit of hierdie drie dele los van mekaar staan, en niks met mekaar te
make het nie.
Veral die
oorgang van vers 5 na 6 klink baie onlogies.
In vers 5
kla Dawid steen en been.
In vers 6
klink skielik die mooiste loflied.
Tog vorm
hierdie psalm wel ’n eenheid, as mens besef wat die rooi draad is.
Die tema,
die rooi draad van hierdie psalm is naamlik die vraag:
Wie bepaal
uiteindelik jou lewenslot?
Wie bepaal
of jou lewe gelukkig gaan wees of nie?
Wie bepaal
dat jy in hierdie lewe ryk word, of dalk arm bly?
Wie bepaal
of jy ’n sieklike lewe gaan hê, of dalk kerngesond bly tot negentig jaar?
Wie bepaal
of jy sal trou of nie?
Wie bepaald
of jy gelukkig getroud sal wees of nie?
Dat al
hierdie vir Dawid, die digter van hierdie psalm, ook brandende vrae was, is wel
duidelik uit sy eie lewe.
Dawid was
die jongste uit ’n gesin.
Hy moes die
skape oppas.
En later,
nog voordat hy koning geword het, weet ons dat hy deur ’n geweldig moeilike
periode gegaan het in sy lewe.
Daar was ’n
klompie jare wat hy die heeltyd op die vlug was.
Koning Saul
was die heeltyd agter hom aan.
Nêrens en
nooit kon hy rustig slaap nie.
Orals moes
hy op sy hoede wees.
Dink aan hoe
koning Saul in die bergland van die woestyn in die suide van Israël ’n
uitgebreide soektog na hom geloods het.
Sy leërs,
maar selfs Saul ook persoonlik, het hom agtervolg.
Dawid het op
’n stadium weggekruip in ’n diep grot.
Saul en sy
lyfwagte het die nag deurgebring aan die ingang van die grot.
Dit was een
geval waar Dawid in geweldige groot lewensgevaar was.
Wonder bo
wonder het hy dit oorleef, net soos die kere toe Saul hom met sy spies gegooi
het.
Teen hierdie
agtergrond is dit voorstelbaar dat Dawid met hierdie vraag geworstel het.
Wie bepaal
eintlik my lewenslot?
Is dit die
magtige mense op aarde?
Hulle wat al
die geld en mag in hande het?
Die angs het
Dawid na die keel gevlieg as hy aan hierdie soort mense gedink het.
Oor God
worry hulle nie.
Dit klink
dalk bietjie oneerbiedig, maar herdie gevoel roep vers 2 op.
Hulle worry
nie.
Hulle het
nie ’n saak met God nie.
Hulle het
die mag en die geld.
Ontsag vir
God en sy gebooie het hulle nie.
Hulle is
blind vir hulle eie sondes.
In luukse
huise lê hulle en uitslaap op hulle fluweel bedde.
Hulle word
wakker met ’n kater na die vorige nag se fees.
Hulle lê
daar en beraam onsalige planne.
Hulle skrik
nie daarvoor terug om misdaad op klaarligte dag te pleeg nie.
Keer op keer
kies hulle die verkeerde weg.
Wat sleg is,
verfoei hulle nie.
Hulle het
die mag en die geld, wie sal hulle keer?
Geen wondat
dat jy as gewone mens dan terugdeins, en in jou skulp kruip.
Dat jy jou
maar op die agtergrond hou, as jy so ’n owerheid bo oor jou het.
Ons hoor
gereeld die berigte oor die verkwisting en wetteloosheid van owerheidsmense.
Mense wat
dink dat hulle bo die wet staan.
En hoe die
gewone man op die straat daaronder ly.
Despoties,
is die woord wat hiervoor gebruik word.
En ja,
koning Saul het – hoe ouer hy geword het – ook despotiese trekke begin vertoon.
’n Despoot
wat niemand meer kon keer nie, en vir wie almal bang was.
En Dawid het
alles hiervan geweet.
Koning Saul
het veral op hom gepik.
Daar was
oomblikke dat Dawid ’n insinking beleef het.
Dan het hy
nie meer ’n toekoms gesien nie.
Soms het hy
juis op so ‘n oomblik ’n psalm gedig, ’n lied gebore uit ’n angstige hart.
As hy heeltemal depressief was.
So ’n lied is Psalm 36.
In sy
intense nood het Dawid sy toevlug by God gesoek.
Maar hy moes
eers sy gedagtes weer orden.
Wie het
eintlik die toutjies in hande op aarde?
Wie deel die
lakens uit?
Het die
aardse despote die laaste woord?
In die
tweede gedeelte van hierdie psalm sien ons hoe die Heilige Gees Dawid se
gedagtes bo die aarde uittel.
Hy kyk weer
omhoog, en dit bring verademing.
O HERE,
hemelhoog is u goedertierenheid.
U trou reik
tot die wolke.
U
geregtigheid is soos die berge.
U oordele is
soos die oseaan.
O HERE,
vergewe my, as ek alweer bysiende geraak het.
Hoekom het
ek weer begin vaskyk teen die magtiges van hierdie aarde?
Asof u nie
myle en myle ver bo hulle uitrys nie.
Hoekom sou
ek bang wees vir die despote van hierdie aarde?
U kan hulle
mos maak of breek.
Bepaal hulle
opinies die reg op aarde?
Het hulle
selfverryking en selfverheerliking die laaste woord op aarde?
Ek is
jammer, HERE, ek het weer vir ’n oomblik die regte proporsies vergeet.
Asof ’n
stoffie dit sou kon opneem teen die onbeweegbare gebergte van u regverdigheid.
Asof ’n
druppeltjie ’n invloed sou hê op die oseaan van u oordele.
Dawid se
gedagtes klaar op.
Sy
somberheid verdwyn soos mis voor die son.
O HERE, ek
dank u, dat U my dit weer laat besef het.
Dit doen ’n
mens goed om weer tot stilstand te kom.
Tot rus en
besinning.
Die oë na bo
gerig.
Uitkyk bo
die jagtige en ellendige van die aardse gewoel.
Weer oog kry
vir die afmetings van God se grootheid.
O HERE, u
liefde, u goedertierenehid is hemelhoog.
Om dit te
ervaar is van onskatbare waarde vir ’n mens.
Van
onskatbare waarde as ’n mens kan skuil in die skaduwee van u vleuels.
Dawid dink
hier waarskynlik aan die enorme arende, wat in die woestyn gewoon het.
Hulle nes
gebou het hoog op die kranse.
Wat in ’n
sublieme rus en verhewendheid kon sweef bo oor die lewensgevaarlike rotsklowe
van die woestyn.
Wat grasieus
kon neerstryk op hulle nes, onbereikbaar vir mens en roofdier, om hulle vlerke
uit te sprei oor hulle kuikentjies.
’n Sublieme
beeld van beskerming en onaantasbaarheid.
Hoe graag
sou Dawid nie ’n kuiken in die nes wou wees nie.
En dit is
die vraag: wie bepaal nou eintlik jou lewenslot?
Veilig, ver
weg van alle bedreiging, met magtige vleuels bo oor jou.
Dan dring
die besef tot jou deur dat die HERE teenwoordig is.
Jy ’n
weerlose kuiken, maar beskerm deur God se magtige vleuels.
By die HERE
is jy veilig.
En dan,
vanaf vers 8 tot vers 10, gebruik Dawid die een beeldspraak na die ander.
Oor hoe goed
’n mens dit by God het.
Hulle
verkwik hulle aan die vettigheid van u huis.
Vroeër, in
teenstelling tot vandag, was die vet die lekkerste stukkie van die vleis.
Iets wat net
die ryk mense kon bekostig.
In die HERE
se huis is daar oorvloed.
U laat hulle
drink uit die stroom van u genietinge.
Alle
seëninge en vreugde wat God aan sy kinders skenk, is ’n onafgebroke koel helder
waterstroom.
Dit bring ’n
woestyn tot lewe.
Ja by U is
die fontein van die lewe.
Hierdie sin
borduur voort op die beeld van die waterstroom.
Die
waterstroom wat die woestyn tot lewe bring, ontspring by die fontein.
En God is
die fontein.
Hy is die
bron van alles wat begin lewe.
En dan eindig
hierdie tweede deel van die psalm met die woorde:
In u lig
sien ons die lig.
Dit sluit
aan by die fontein-beeldspraak.
Net soos die
koel helder water êrens vandaag kom, uit die bron,
so kom die
lig ook êrens vandaan.
Die lig laat
alles opfleur.
Die lig is
noodsaaklik vir plante, diere en mense om te groei, om te leef.
U is die
bron van die lig.
Ons
produseer as skepsels self nie lig nie.
Ons kan
slegs die lig wat U skenk, opvang.
Lig is nie
net ’n natuurverskynsel nie.
Juis die
feit dat daar lig is, dat die son skyn, is ’n teken dat God die wêreld gunstig
gesind is.
Dat Hy
geduldig is, en barmhartig.
Dat Hy ter
wille van sy kinders die oordeel uitstel.
Ter wille
van mense, sodat hulle tot bekering kan kom.
Uit die feit
dat daar lig is om ons heen spreek God se aanhoudende genade.
In u lig,
dit wil sê, in u goedheid en geduld en genade, sien ons, bestaan daar vir ons
lig.
En dan sluit
hierdie psalm af met ’n gebed.
’n Bede, ’n
versoek aan God.
Noudat Dawid
weer sig gekry het op die juiste proporsies,
hoeveel
groter en magtiger die HERE is,
nou vra hy
vir die HERE:
Laat u
goedertierenheid voortduur vir die wat u ken.
Laat u
geregtigheid voortduur vir die opregtes van hart.
Laat die
voete van die trotsaard my nie inhaal nie.
Laat die
hand van die goddelose mense my nie wegjaag nie.
Ek weet u
kan, o HERE!
Ek sien al
hoe die werkers van ongeregtigheid val.
Hulle word
neergestamp, en hulle kan nie weer opstaan nie.
Hierdie bede
is vandag nog steeds toepaslik.
Dan dink ek
nie net aan die arrogante trotsaards in ons land, byvoorbeeld op politieke
gebied nie.
Ons kan ook
dink aan mense in die wêreld wat die Christene vervolg, hetsy subtiel, hetsy
baie eksplisiet soos tans in Irak plaasvind.
God sorg vir sy kinders.
Hulle
hulpgeroep val nie op dowe ore nie.
Terselfdertyd
mag ons dankbaar wees dat ons soveel moontlikhede het om self die HERE te dien,
aktiewe kerklid te kan wees, die lig van sy evangelie uit te dra in hierdie
land.
Ons is soms
pessimisties oor die toekoms.
Jong mense
onder ons wat op trou staan, vra hulleself dalk af of daar vir hulle ’n toekoms
is in hierdie land.
En wat van
hulle kinders, as God hulle die skenk.
Sal hulle
hulle kinders in ’n veilige omgewing kan opvoed?.
Sal die pa
in die toekoms werkssekerheid hê?
Sal hulle
finansieel gemaklik kan lewe?
Of sal hulle
as gesin elke sent moet omdraai?
Sal hulle
elke dag kan opstaan en werk toe gaan,
en in die
naweke ander dinge doen?
En op Sondag
kan uitrus, sonder dat die baas hulle by die werk verwag?
Sal hulle
elke jaar kan vakansie hou?
Sal hulle
gesond bly?
Sal hulle as
egpaar gelukkig bly?
Sal hulle
saam van die lewe kan geniet?
Al hierdie
vrae kan ’n beangstigende ondertoon kry, as mens – net soos Dawid aan die begin
van hierdie psalm – oorweldig word deur die besef dat die toekoms nie net van
jouself afhang nie.
Maar dat
daar ook ander mense is – die wat mag en geld het – wat soveel invloed het in
ons land,
dat hulle
jou toekoms hier kan maak of breek.
Sal die
politici hulle verantwoordelikheid besef en dit neem?
Of sal
hulle, gefokus net op eie belang en selfverryking, uiteindelik hierdie land
aftrek na ’n armmoedige bestaan met geen werksgeleenthede nie.
Sal daar in
die toekoms ’n goeie gesondheidsorg wees vir ons en ons kinders?
Nog baie
vrae kan ons hieraan toevoeg.
Wie alles op
’n rytjie sit, alle vrae, alle onsekere faktore, sal waarskynlik nie die moed
hê om te trou nie, laat staan kinders te kry.
Maar soos
Dawid mag ons in sulke momente van depressie ons oë na die hemel rig.
Hemelhoog is
u goedertierenehid.
U trou reik
tot die wolke.
By U is die
fontein van die lewe.
In u lig
sien ons die lig.
Toe Dawid
weer sig gekry het op God, sy almag, sy liefde, toe het hy die toekoms weer
aangedurf.
En het al sy
bekommernisse nie meer die oorhand gehad nie.
Hierdie
psalm help ons om nie bysiende te raak nie.
Jou sorge in
God se hande te plaas.
By Hom te
skuil, onder sy vlerke.
As God sy
eie Seun gestuur het, na hierdie aarde met al sy probleme,
as Jesus
Christus ons allergrootste probleem weggeneem het,
as Hy vir
ons gesterf het, ons sondes uitgedelg,
ons
vrygemaak het van slawerny,
ons kindskap
herstel het, ons die Gees geskenk het,
die ware
vryheid om vir God te lewe,
dan sal Hy
ook al hierdie ander probleme wat ons elke dag kan depressief maak, wegneem.
Hy wys ons
die pad om te stap, in voor- en teëspoed.
Hy leer ons
om elke dag boontoe te kyk.
Want Hy
bepaal ons lewenslot.
Onthou u,
dit is die sleutelvraag, die vraag wat Dawid besiggehou het in hierdie psalm.
Wie bepaal
uiteindelik jou lewenslot?
En die
oorweldigende antwoord is: nie mense nie, wie daardie mense ook al mag wees.
Die HERE
bepaal jou lewensweg.
Hy die goeie
God.
Daarom mag
ons met alle vrymoedigheid vandag dieselfde van die HERE vra, as wat Dawid
destyds gedoen het.
HERE, laat u
goedertierenheid voortduur vir die wat U ken.
En wil U
self sorg, dat die trotsaard, die goddelose, my nie bykom nie.
Dawid het
tien teen een aan koning Saul gedink, wat agter sy bloed aan was.
As ons dit
bid, kan ons dink aan wie ook al, wat – soos die laaste vers sê – werkers van
ongeregtigheid is.
Laat hulle
val en nie weer opstaan nie.
Ons mag vra
dat die HERE sodoende ruimte skep vir hulle wat Hom opreg wil dien,
en bereid is
om volgens sy wil te lewe.
Hy stoot die
werkers van ongeregtigheid neer en laat hulle nie weer opstaan nie.
Hierdie
versekering gee Hy aan die gelowiges en ons mag Hom daaraan herinner.
Die HERE is
die fontein van die lewe en die bron van die lig.
Alles wat
jou onderkry en somber maak, neem Hy van jou oor.
Hierdie
besef laat jou as gelowige weer opstaan en aangaan.
Die lewe is
werd om geleef te word, in sy diens.
Amen.
(kyk in preek)