Die Gasheer en gaste aan die nagmaalstafel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-03-16
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29 en 30
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
16 Maart 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps 52:1-4

Votum

Seën

Ps 89.1,2

Gebed

Skriflesing:
Jakobus 4.1-10

Ps 89:7,13

Skriflesing:
2 Johannes

Ps 89:17,18

Teks: HK
Sondag 29-30

Preek

Sb
19.1,2,5,6,7

Gebed

Geloofsbelydenis
(Nicea)

Ps 66:7

Kollekte

Slotlied: Ps
66.8,9

Seën

Preek: HK 29-30

Tema: Die Gasheer en gaste aan die nagmaalstafel

-         
Hoe die Here
as Gasheer aanwesig is

-         
Wie as gaste
aan tafel moet gaan, wie hulle moet onthou, en wie afgehou moet word

1       
Hoe die Here
as Gasheer aanwesig is

In die
Kategismus word oneweredig baie aandag bestee aan die nagmaal.

Die rede is
omdat toe dit geskryf is, daar baie debatte geheers het oor die nagmaal.

Dit was
eintlik pynlik.

Juis oor die
tafel wat die eenheid tussen gelowiges simboliseer, was daar verdeeldheid.

Nie net
tussen Rooms en Protestants nie.

Ook tussen
die Protestante onderling: Luterane, Zwingliane, en Calviniste.

Dis hoekom
die Kategismus so baie aandag hieraan bestee.

As iets baie
gevoelig en ingewikkeld is, het mens ook meer woorde nodig om dit duidelik te
maak.

 

Die
Kategismus kies eintlik ’n middeposisie tussen uiterstes.

Die een
uiterste was dat die nagmaal puur ’n herinneringsmaaltyd is.

Ons herdenk
wat Jesus in die verlede gedoen het, en nie meer nie.

So was dit by die Zwingliane.

Die ander
uiterste is dat brood en wyn deur ’n towerspreuk verander in egte vleis en
bloed.

So was dit
in die  Roomse kerk.

Die woorde
van die priester het soos ’n towerspreuk geklink.

Ons ken daardie
spreuk tot vandag nog.

Hocus pocus.

Hocus pocus is ’n verdraaing van die Latynse woorde Hoc est corpus.

Die mense in
die Middeleeue kon nie Latyn verstaan nie en hulle het Hocus pocus gehoor.

Maar die
Latynse woorde Hoc est corpus
beteken, as mens dit vertaal: Dit is my
liggaam.

Hierdie
spreuk is dus ’n fragment uit die woorde wat die priester by elke nagmaal
uitgespreek het.

Dis ’n
aanhaling uit Mattheüs 26, waar Jesus gesê het: “Neem, eet, dit is my liggaam.”
(v26)

 

Dieselfde
geld vir die tweede deel van die spreuk: Pilatus
pas
.

Hierdie
fragment kom uit die apostoliese geloosbelydenis, wat ook by die nagmaal,
oftewel die mis, deur die priester in Latyn uitgespreek is.

Pilatus pas is wat die volk gehoor het van die Latynse woorde: Pilatus passus.

As mens dit
vertaal beteken dit: wat gely het onder
Pilatus –
’n gedeelte dus uit die apostoliese geloofsbelydenis.

Hocus pocus, Pilatus pas.

 

Maar in die
Kategismus lees ons nie oor so ’n towerspreuk nie.

Christus is
nie liggaamlik aanwesig nie, want Hy is nou in die hemel.

Daarom hef
ons ons harte op, soos die nagmaalsformulier sê, tot Christus in die hemel.

D.w.s., ons
rig ons gedagtes gelowig op Hom.

Maar
andersyds, verduidelik die Kategismus, is Christus wèl deur sy Gees aanwesig by
die nagmaal.

Die Gees
versterk ons geloof deur die brood en wyn.

 

Miskien dink
u nou: moet ek regtig al hierdie ingewikkelde dinge verstaan, voordat die
nagmaal vir my iets beteken?

Nee, nie
noodwendig nie.

Maar hierdie
vrae skerp ons wel op, sodat ons ’n beter sig kry op wat die nagmaal presies
is.

 

Nou staan
daar in die Kategismus tussen al die troosvolle woorde oor die gemeenskap met
Christus, skielik baie harde woorde rigting die Roomse kerk van die 16e
eeu:

Die mis is
in die grond van die saak niks anders nie as ’n verloëning van die enige
offerande en die lyde van Jesus Christus en ’n vervloekte afgodery.

Hierdie
uitdrukking – ’n vervloekte afgodery – het die Kategismus al baie kritiek op
die hals gehaal.

En wat
opvallend is, is dat hierdie woorde – vervloekte afgodery – nie in die
oorspronklike weergawe van die Kategismus, wat Ursinus geskryf het, te vinde
was nie.

Dit is eers
later bygevoeg.

Dit is
bygevoeg as ’n reaksie op die sogenaamde Konsilie van Trente.

Konsilie is soort
van wat die Roomse kerk hulle sinode noem.

Hierdie
konsilie het plaasgevind in die Noord-Italiaanse stad Trente en het geduur van
1545 – 1563.

As mens kyk
na die besluite van hierdie Roomse sinode of konsilie, val dit op dat hulle
veral uitgevaar het teen die Protestante.

Hierdie
konsilie het meerdere VERVLOEKINGE uitgespreek teen die Protestante.

Uit hierdie
konsilie met sy vervloekinge het dan ook die bloedige vervolgings van die
Protestante voortgevloei.

Dink aan die
Bartholomeüsnag in 1572 waartydens duisende Franse Protestante of Hugenote
vermoor is.

In reaksie
op hierdie Roomse vervloekinge, is dus later hierdie frase aan Sondag 30 in die
Kategismus ingelas.

 

Nou kan mens
dalk redeneer:

ja maar as
jy self vervloek word, mag jy mos nie die ander met gelyke munt terugbetaal
nie?

Die Here
Jesus leer ons mos om ons vyande lief te hê en vir hulle te bid?

Inderdaad is
dit so.

Maar
terselfdertyd mag en moet mens dinge wat onbybels is, duidelik afwys.

 

In
teenstelling tot wat die Konsilie van Trente gedoen het, is hierdie frase in
Sondag 30 nie ’n vervloeking van mense nie, maar van ’n valse leer.

In daardie
sin kan mens die Kategismus nog steeds onderskryf, ook omdat die Roomse kerk sy
nagmaalsleer nooit aangepas het nie.

Dit neem nie
weg dat ons nie waardering mag hê vir die dinge wat nog goed is in die Roomse
kerk nie.

So staan ons
vandag in die wêreld sy aan sy met die Roomse kerk in die stryd teen abortus,
feminisme, homoseksualiteit, morele verval, en sekularisasie.

Terselfdertyd
het ons ook vandag nog die taak om dwalings in nie onduidelike terme af te wys.

Ook wat
betref die nagmaal.

 

(Tema: Die
Gasheer en gaste aan die nagmaalstafel

-         
Hoe die Here as Gasheer aanwesig is)

 

2       
Wie as gaste
aan tafel moet gaan, wie hulle moet onthou, en wie afgehou moet word

Ons het die
taak om dwalings af te wys, dwaling in leer, sowel as in lewe.

Die laaste vergeet
ons soms bietjie vinnig.

Wie kritiek
het, moet by homself begin.

Hier in
Pretoria is daar nie baie Roomse kerke nie.

Dwalings
m.b.t. die nagmaal begin in ons eie leer en lewe.

En ook
daaroor moets ons ’n vervloeking uitspreek.

Dit bring
ons by die vraag:

Wie roep
Christus eintlik aan die nagmaalstafel?

Die laaste
twee vrae van Sondag 30 gaan hierop in.

Christus het
die nagmaal ingestel vir almal wat Hom ken, liefhet, en navolg in hulle
alledaagse lewe.

 

In antw 81
vind ons die bekende driedeling terug: ellende – verlossing – dankbaarheid, wat
die struktuur vorm van die hele Kategismus.

Aan die hand
van hierdie driedeling vind die selfondersoek plaas, die voorbereiding op die
viering.

Ons kyk in
die spieël, dit is God se wet, en besef ons sondes en tekorte.

Ons dink
daaroor na hoe die duiwel elke dag probeer om strikke vir ons te stel.

Soms kry ons
dit reg om sy strikke te vermy, raak te sien, nie daarin te trap nie.

Ander kere
kom ons eers te laat agter, dat die satan ook hier ’n strik gespan het.

So val ons
daagliks in sondes.

Waardeur dit
so belangrik is om elke dag die hemelse Vader vir vergewing te vra.

 

Dit is
belangrik om te besef dat daar ’n verskil is tussen val in sonde, en leef in
sonde.

Leef in
sonde, beteken jy gee ’n bepaalde sonde ’n strukturele plek in jou lewe.

Jy soek
bewus die strik van die satan op, waar hy gespan is, by die huis, by die werk, by
jou vakansie, op internet, op televisie, waar of hoe ook al.

Plus dat jy
begin planne beraam hoe om die sonde te kamoefleer.

Voorbereiding
op die nagmaal beteken in so ’n situasie dat jy die sondige gewoonte eerlik
onder oë sien.

Dat jy opreg
daarvoor vergewing vra.

En
vervolgens dat jy opstaan.

Dat jy breek
met die gewoonte.

En as dit
moeilik is, dat jy hulp soek.

Hulp, of
hulpmiddels.

As die sonde
te sterk vir jou is, bly uit die buurt.

As jy
hierdie stappe nie neem nie, is jy ’n huigelaar as jy aan die nagmaal deelneem.

Dwalings in
leer of lewe wat ons by onsself opspoor, behoort ons te vervloek.

 

So te hore
is die voorbereiding op die nagmaal nie iets swewerigs is nie.

Dit gaan
heel konkreet oor jou daaglikse lewe.

Ons kry ‘n
‘afkeer’ van onsself, soos die nagmaalsformulier sê.

Nie dat dit
die bedoeling is dat ons onsself depressief maak nie.

Wel dat ons
ons verootmoedig en klein word voor God.

Besef dat
ons sonder Hom niks is nie.

Kennis van
jou ellende, dit is iets wat ’n Christen lewenslank nederig maak.

Lewenslank
moet ons stry, teen tal van sondes wat op 101 verskillende maniere jou lewe
probeer binnesluip.

Die stryd
hou ons slegs vol, danksy die vaste vertroue dat Christus ons sondes regtig wil
vergewe.

Sy offer aan
die kruis is ook vir jou en my bedoel.

Die geloof
dat Jesus ons red, staan altyd in ’n sekere spanning met ons ervaring.

Vandaar dat
in antw. 81 die woordjie ‘tog’ gebruik word.

TOG mag ons
op Hom vertrou, al is daar nog so baie gebreke, as ons na onsself kyk.

 

Mense wat
nagmaal bywoon, lê hulleself nie neer by hulle swakhede nie.

Bemoedig
deur  Christus, verlang hulle om soos
nuwe mense te leef.

Aangevuur
deur die Gees, span hulle hulle in om hulle lewe te verbeter.

Aan die een
kant is God se genade gratis, aan die ander kant is dit nie goedkoop nie.

 

So te hore
is daar dus duidelik ’n drumpel.

Jy kan nie
sommer na die nagmaal kom nie.

Eers as jy toelaat
dat Jesus alle kompartimente van jou lewe kan skoonmaak.

Jy kan nie
bepaalde kasdeurtjies toesluit, dat Jesus nie daarin mag kyk nie.

As dit
gebeur, kom jy aan die nagmaalstafel, slegs gedeeltelik gereinig.

So onteer jy
die tafel van die HERE.

Die nagmaalsformulier
sê:

Solank jy in
sondes volhard, moet jy jou van die nagmaal onthou, om nie nog swaarder
veroordeel te word nie.

As jy wel
kom, eet en drink jy tot jou eie oordeel.

 

In ons
kerklike tradisie is dit soms die geval of dit lyk of die drumpel na die
nagmaalstafel verdwyn het.

Laat ons
besef, die kerk wat die viering van die nagmaal ontheilig, loop die risiko dat
die Here Jesus daardie kerk verlaat.

Dat – soos
die Bybel dit noem – die kandelaar weggeneem word.

 

Ons moet
deeglik bewus wees van die feit dat die Here Jesus aanwesig is tydens die
viering.

Hy gee jou
ook die moontlikheid om heeltemal rein aan tafel te kom.

Maak jy ten
volle daarvan gebruik?

 

Dit is die
aspek waarvoor v/a 82 ons aandag vra.

Wie
oppervlakkig die nagmaal benader, bring nie net homself in gevaar nie, maar die
hele gemeente.

Antw 82 sê:
so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente verwek.

Hulle wat
nie self verantwoordelikheid vir hulle eie lewe vat nie, mag nie ongehinderd
hulle gang kan gaan nie.

Juis
daarvoor het die Here Jesus gesagsdraers in sy gemeente aangestel.

Die
Christelike Kerk, sê antw 82, is verplig volgens die ordening van Christus, om
sulke mens deur die sleutels van die hemelryk uit te sluit, tot hulle hulle
lewe verbeter.

In die volgende
Sondag – Sondag 31 – word daar uitgebreid aandag geskenk aan die sogenaamde
sleutels van die hemelryk.

Hoe Christus
aan die gesagsdraers in die kerk die taak gegee het om te waak oor die
nagmaalstafel.

Beter gesê:
om te waak oor die welstand van die gemeente.

Want, die
optrede van een sondaar kan die hele gemeente onder  God se toorn bring, as daardie sondaar
ongesteurd sy gang kan gaan.

 

In hierdie
verband het ons ’n gedeelte gelees uit Jakobus en uit 2 Johannes.

In beide
gedeeltes klink die oproep om bepaalde mense nie te ontvang nie, om hulle met
hulle lewenswyse nie die ruimte te gee nie.

Dalk mag
hierdie oproep in stryd klink met die boodskap, dat God mos juis sondaars
opsoek, en ook wil hê dat ons moet opsoek hulle wat dreig om verlore te gaan.

Inderdaad is
dit so.

Maar in
hierdie gedeeltes gaan dit oor iets anders.

Dit gaan
hier oor mense wat bewus volhou met die sonde.

Mense wat
die Woord goed ken, maar tog kies om die sonde vas te hou, wat selfs redenasies
voer en verskonings het dat dit aanvaarbaar is.

Die apostel
Petrus sê byvoorbeeld in sy tweede brief:

“Want as
hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus,
die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge
laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die
eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid
nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van
die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die
ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die
gewaste sog om in die modder te rol.” (2 Petr 2:20-22).

En nou klink
in Jakobus en Johannes die oproep om sulke mense juis te vermy.

2 Johannes,
vers 10: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie
in die huis nie en groet hom nie.”

En Jakobus:
“weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?
Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God... (Jak 4:4)

 

Jy kan nie
met mense – selfs al is hulle gemeentelede – wat openlik bepaalde sondes in
hulle lewe koester, omgaan asof niks aan die hand is nie.

Wie maak of
alles OK is, kry deel aan die skuld en word self besmet.

Dit is
noodsaaklik dat ons God bid dat Hy aan ons onderskeidingsvermoë gee, en
wysheid, om goed met mense om te kan gaan.

Mense binne
en buite die kerk.

Dat ons aan
die een kant die liefde van ons Heiland uitstraal, dat ons kontak soek met elke
mens, hoe groot sondaar hy ook al is, vanuit die besef dat ons ook sondaars is.

Maar dat ons
aan die ander kant ’n afkeer uitstraal van wat onrein is en nie pas in ’n lewe
in diens van God nie.

Wie tot seën
nagmaal wil vier, moet ook ’n vervloeking uitspreek oor alle leer en lewe wat
God se toorn teen die gemeente opwek.

 

Om saam te
vat: aan die een kant bestaan daar geen drumpel by die nagmaalstafel nie.

Christus
roep sondaars by Hom aan tafel, hoe groot ook die skuld, hoe diep jy ook gebuk
gaan onder die las van jou sonde, hoe weinig jy ook ’n nuwe mens voel, hoe
kragtig die ou mens jou nog parte speel.

Christus
roep jou aan tafel!

Kom, sê Hy?

Lê jou las
op my skouers, jou HELE las.

Ontvang
vergewing en ’n nuwe lewe.

Moenie jou
laat ophou deur ’n gevoel van minderwaardigheid nie.

As Ek,
Christus, vir jou kies, as Ek vir jou ’n plek ooplos aan tafel, wie is jy om te
twyfel?

 

Dus aan die
een kant geen drumpel nie.

Maar aan die
ander kant wel ’n drumpel:

Vir wie met
die genade van Christus omgaan soos ’n goedkoop gebruiksartikel.

Wie meen dat
hy sowel aan Christus kan behoort, en terselfdertyd ’n wêreldgelykvormige lewe
kan lei.

Hy behoort
te stop voor die drumpel.

En as hy dit
nie doen nie, behoort die ampsdraers hom te keer, totdat hy sy lewe verander
het.

 

Laat die
Here Jesus Christus dus sy werk doen in jou lewe.

Maak al die
deure van jou hart oop, dat Hy kan skoonmaak.

Lê jou laste
op sy skouers. Want sy las is lig en sy juk is sag.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)