God is die oorsprong van alle goeie gawes

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-11-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 23 November 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps 132:1-3

Votum

Seën

Ps 148:1,3

Gebed

Skriflesing: Handelinge 13:50-14:20

Ps 127:1,2

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 50

Preek

Ps 146:2,3

Gebed

Geloofsbelydenis (Apostoliese)

Ps 145:6

Kollekte

Ps 145:9,11,12

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 50

Dit is ‘n normale verskynsel
dat regerings vlak voor ‘n verkiesing beloftes maak.

Die mooiste dinge word gesê om
die guns van die kiesers te wen.

Na soveel jare van wanbestuur en
geldverkwisting, belowe die regering dan eweskielik dat daar iets aan misdaad
gedoen gaan word. 

Dat daar soveel
werksgeleenthede geskep gaan word.

So was dit eintlik nog maar al
die jare, deur die eeue heen. 

In die Nuwe Testamentiese tyd,
as daar destyds in Rome ‘n nuwe prokonsul, sê maar iets soos ‘n president,
aangewys moes word, dan het die kandidate ook allerhande goed gedoen om steun
te werf.  Daar is brood uitgedeel vir die
bevolking van Rome.

Daar is ‘n week lang gratis
toegang gegee na die spele, die sportgebeure en gevegte in die amfiteaters van destyds.

En glo dit of nie, elke keer
weer laat die publiek hom om die bos lei. 

Brood en spele het daardie tyd
in Rome goed gewerk. 

En vandag is dit eintlik nie
anders nie.

Hoe sou dit kom dat soveel
mense hulle keer op keer laat bedrieg deur die politici? 

Hoekom leer mense dan nooit
nie, deur die eeue heen?

Wel gemeente, die rede
daarvoor is een van die onderwerpe waar dit vanaand oor gaan. 

Met die 4e bede, “gee ons
vandag ons daaglikse brood” leer ons bely dat net God die oorsprong van alle
goeie gawes is.

Dit is dan ook die tema vir
die preek:

Tema: God is die oorsprong van
alle goeie gawes

Inderdaad, jy vra jouself af
hoekom mense steeds weer dieselfde fout begaan.

Hoekom hulle keer op keer weer
in die slaggat trap. 

Mense hou aan stem vir
politieke kandidate en partye wat nooit hulle verkiesingspraatjies waarmaak
nie.

Maar dit geld vir meer as net
die politiek. 

In ons daaglikse lewe is nog
baie meer voorbeelde. 

Voorbeelde van hoe mense hulle
hoop op ander mense stel.

Of dalk op geld, of op dinge.

Ons as mense is so gou geneigd
om ‘n afgod van iets te maak. 

‘n Afgod... dit beteken dat
iets so belangrik geword het in jou lewe dat jy nie meer daarsonder kan
nie.  As jy daardie een ding nie meer het
nie, dan kan jy nie meer jou lewe geniet nie. 

Jy kan niks meer geniet of
waardeer daarsonder nie. 

En as jy so ver is, dan is jy
vas, daardie afgod laat jou nie meer los nie, en jy kan dit ook nie meer los
nie, en op die lange duur maak dit jou hele lewe stukkend. 

 

So kan die regering of die
politiek ook ‘n afgod word.

Mense neem nie meer self
inisiatief nie, die regering moet alle probleme oplos.

Dikwels is politici daarop uit
om jou te laat glo dat dit goed met jou gaan juis danksy hulle. 

Hulle weet net hoe om jou op
die regte oomblik te beïndruk, maar die dag as jy hulle regtig nodig het, dan
is daar niks nie.

 

Hoekom?  Wel, heel eenvoudig – omdat politici nie gode
is nie. 

Ja, baie behandel hulle
miskien as gode, en bes moontlik geniet hulle dit om so behandel te word, maar
hulle is heel eenvoudig mense soos jy en ek. 

Hulle kan jou van alles
belowe, soos gode, maar hulle kan dit nooit waarmaak nie. 

Daar is net een wat dit wel
kan waarmaak, wat dit kan waarmaak om ‘n God te wees – en dit is die enige ware
God. 

Mense het van ouds af aan die
behoefte, of die neiging om hulleself as god te verhef, om net soos God te wil
wees, maar hulle kan dit nooit waarmaak nie, die dag as jy hulle regtig nodig
het, daardie oomblik wanneer dit juis saak maak, dan laat hulle jou net so val.

 

En gemeente, dis daarom nie
vir niks wat die Here Jesus hierdie bede laat opneem het in die Onse Vader nie.

Dat ons tot God in die hemel
bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Dit is die enigste plek waar
jy met hierdie bede moet wees. 

Miskien kan jy vlak voor
verkiesingstyd nog regkom by die regering vir brood, maar elke dag? 

Nee! 

En dit is nou juis wat jy van
God vra, gee ons vandag ons daaglikse brood. 
Elke dag.

 

En Jesus leer ons juis met
bede om ons nederigheid en afhanklikheid te besef. 

Om elke dag weerstand te bied
teen die natuurlike menslike neiging om op iets of iemand anders te gaan
vertrou. 

Soos die Kategismus sê:  “Laat ons daardeur erken dat U die enigste
Bron is van alles wat goed is”. 

Die enigste bron!

 

Van hierdie menslike neiging om
van alles en almal ‘n afgod te maak, daarvan het ons ‘n treffende voorbeeld in
die Bybel gelees. 

Paulus en Barnabas is op ‘n
rondreis deur Klein-Asië. 

Al evangeliserende trek hulle
verder, en dikwels bly hulle langer op een plek. 

Ikonium was so ‘n plek. 

In hoofstuk 14:1 lees ons dat
baie Jode en Grieke daar tot geloof gekom het. 

Maar ons lees ook dat daar
verdeeldheid ontstaan het in die stad, grootliks aangewakker deur die Jode wat
nie tot bekering gekom het nie. 

Dit ruk hand uit en daar is ‘n
betoging. 

Hulle wou Paulus en sy mense
mishandel en stenig.

 

Dan lees ons dat Paulus en
Barnabas  vlug na die stede L ikaónië, Listre en Derbe en
daar ook die evangelie verkondig. 

En toe in Listre gebeur daar
iets heel besonders wat Lukas apart by stilstaan om te vertel.

Daar was in Listre ‘n man wat
al vanaf sy geboorte verlam was. 

Hy luister ook na Paulus se
prediking en dan lees ons dat Paulus hom baie indringend aankyk. 

Sy bedoeling was om agter te
kom of hierdie man, soos dit daar staan, die geloof gehad het om gesond te
word. 

Dat hy nie maar net ‘n skeptiese
omstander was of iemand wat uit verveling net saamgeluister het. 

Maar Paulus sien dat die man
verlang het om gesond te word en dat hy Paulus se prediking geglo het.

 

U weet wat verder gebeur het. 

Paulus het vir hom gesê:
“Staan regop op jou voete”.

Die man staan toe net daar en
dan op. 

Nou moet u dink hierdie man
het sy lewe nog nie sy bene gebruik nie, en hier begin hy net so loop, geen
lang herstelproses om die spiere wat nog nooit gebruik is sterk te maak
nie. 

Geen fisioterapie nie.

God herskep as’t ware hierdie
man se liggaam in ‘n oogwink, so veel so dat hy orent kan spring!

 

Geen wonder dat die skare wat
dit gesien het, heeltemal oorbluf was deur hierdie wonder.

Soiets het hulle nog nooit
gesien nie. 

En dan roep hulle uit in hulle
eie taal: “Die gode het soos mense geword
en neergedaal na ons toe
”.

 

Sien u, daar het jy dit. 

Die tipiese menslike neiging
om van iets of iemand ‘n afgod te maak. 

Jy sou kan sê so sit ons as
mense nou maar eenmaal in mekaar, ons moet iemand hê om op te vertrou, om na op
te sien. 

‘n Skepsel is afhanklik van sy
Skepper, so is die mens geskape.

Maar sedert die sondeval is
die mens se afhanklikheidsgevoel aangetas.

Dis soos ‘n antenna wat nie
meer goed ingestel is nie. 

Die kontak met God is verbreek
en nou dwaal die mens rigtingloos rond op soek na vastigheid. 

So soek die mensdom in alles
en in almal ‘n god om aan vas te klou, ons soek ons vastigheid orals en in
almal behalwe in die ware God.

 

Die kennis van die ware God verdring
ons juis.

Nie vir niks leer Jesus ons
bid in hierdie vierde bede: Leer ons ons vertroue van alle skepsele aftrek en op
U alleen stel. 

Want, van nature, vanaf die
sondeval dus, van nature klou ons vas aan enige moontlike ding, enige ding
behalwe God self. 

En dit sien jy hier by die
mense van Listre. 

Toe hulle die wonder sien gebeur
wat Paulus gedoen het, toe klou hulle dadelik aan Paulus en Barnabas vas.

Hulle dog: hierdie twee manne moet
ons hier hou.

Die gode het neergedaal na ons
toe! 

Solank ons hulle hier kan
vashou kan ons elke dag voordeel trek uit hulle.

 

Soos ‘n eend wat goue eiers
lê. 

As jy so ‘n eend in ‘n
kooitjie kan sit, en elke dag ‘n goue eier uithaal, dan is die saak goed gereël. 

Jou god het jy soos ‘n
outomatiese masjientjie mooi in ‘n kooitjie opgesluit, en jy kan by hom alles
bestel wat jy wil hê.

Die mense van Listre was
sekerlik baie ingenome met hulleself. 

Die mense van Ikonium het
hierdie twee manne weggejaag maar hulle sou soiets nooit doen nie!  Miskien het hulle wel by hulleself gedink die
skip met geld het aangekom, ons sou sê hulle het die jackpot geslaan. 

En hulle noem vir Barnabas
Jupiter en vir Paulus Mercurius.

 

Hierdie naamgewing is heel
besonder, gemeente, ons kan heelwat daaruit aflei. 

In die eerste plek moet ons
natuurlik weet wie hierdie twee gode was. 

Jupiter en Mercurius was
Griekse gode, maar Jupiter en Mercurius is hulle Romeinse name.

Hulle Griekse name was Zeus en
Hermes. 

Die Grieke en Romeine het baie
gode gehad, tientalle, maar Jupiter, oftewel Zeus, was soort van die oppergod.

Hy was die belangrikste van al
hierdie gode. 
En Mercurius oftewel Hermes was volgens die Griekse mitologie sy boodskapper,
sê maar sy woordvoerder. 

Daarom dat hulle Paulus
Mercurius noem, want Paulus was voortdurend aan die woord. 

En as Paulus Mercurius was,
dan moes die man by hom seker Jupiter wees.

Barnabas is dus die oppergod,
so het hulle afgelei.

 

En onmiddelik kom hulle in
aksie. 

Die priester van Jupiter kom
daar aan by die stad se poorte met stiere en wil graag saam met die mense
offers bring aan Paulus en Barnabas. 

Kyk, dis mos nie iets wat
aldag gebeur nie, Jupiter self met sy woordvoerder Mercurius, in mensegedaante,
op besoek in die stad, dan moet jy hulle solank as moontlik daar hou. 

En dan moet hulle natuurlik goed
versorg word en vereer word.

Hulle moet voel hulle word
waardeer en aanbid in hierdie stad.

 

En presies dit, gemeente, is
in die tweede plek so opmerklik oor die name, want dit sê iets van die
godsbeeld van die mense in Listre. 

Ons wat so geseënd is om die
ware God uit die Bybel te leer ken het dink miskien dis vreemd, maar hierdie
mense het ‘n heel ander godsbeeld gehad.

Jy of ek sal mos nie sommer
die eerste beste dokter of spesialis as ‘n god vereer nie. 

Goed, Paulus en Barnabas was
nie die eerste beste wat verby gekom het nie, hulle het iemand genees wat van
sy geboorte af verlam was. 

Maar tog, so iemand vereer jy
mos nie as ‘n god nie!

Die Bybel leer ons om God te
dank vir die gawes wat Hy aan ‘n dokter of spesialis gee.

Dat ‘n dokter of medisyne ‘n
instrument in God se hand is, maar dat God wel die oorsprong is van alle
genesing.   

Tog het die mense in Listre
Paulus en Barnabas self as gode vereer. 

Hieruit leer ons iets van
hulle godsbeeld en ons doen goed om mooi hierop te let. 

Die mense in Listre se
godsbeeld kom neer op die idee van ‘n eend wat goue eiers lê. 

Hulle godsbeeld is eintlik
mensgesentreerd.

Hulle sien ‘n god as iets wat
jy baie goed kan gebruik.

 

Ons lees dat Paulus en
Barnabas van hierdie geleentheid gebruik maak om van die ware God te
getuig.  Hulle skeur hulle mantels en
roep uit “Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos
julle...”. 

Julle dink tog nie ons is gode
nie? 

Niks is minder waar nie, ons
is net sulke swak mense soos julle. 

Paulus sê hulle moet hulle
bekeer van hierdie verkeerde godsbeeld en terugkeer na die ware God. 

Die enigste God, Hy wat die
hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is gemaak het. 

Dan staan daar:  Hy, God, het alle volke hulle eie weë laat
begaan, maar Homself nie onbetuig gelaat nie. Hy het self goed gedoen aan
almal, ook die mense hier in Listre, deur reën te gee, vrugbare tye, kos,
vrolikheid vir die hart. 

 

En nou, vandag, broers en
susters, wonder ek of daar eintlik so baie verander het tussen destyds in
Listre en vandag in die moderne Suid Afrika? 

Is dit eintlik enigsins
anders? 

Is dit nie vandag nog steeds so
dat mense dink jy het God nie nodig vir die alledaagse lewe nie? 

Die son kom mos vanself
op? 

Die reën kom vanself. 

En voedsel, vrolikheid vir jou
hart, moet jy God nou regtig daarvoor vra en daarvoor dank? 

Is dit nie bietjie oordrewe
nie?

 

Ja, kyk, ons het God nodig as
ons byvoorbeeld verlam is.

As ek ‘n ongeneeslike siekte
kry.

‘n Siekte waarvoor daar nog
nie genesende medisyne bestaan nie.

As daar nie ‘n dokter is wat
my kan gesond maak nie. 

Dan roep ek uit: Waar is God,
hoekom genees U my nie? 

Maar in die gewone alledaagse
dinge, elke dag se brood, bly God nie buite rekening by ons nie?

 

En tog is dit so dat mens houvas
soek en die neiging het om sommer van enigiets ‘n afgod te maak. 

Soos in Listre toe daar op ‘n
goeie dag twee manne in die dorp opdaag. 

En vandag is ons nog net so
gereed om offers aan die afgode te bring. 

Al het die afgode deesdae
ander name.

 

Vir die alledaagse, elke dag
se brood word God nie gedank nie, die mooiste dinge van die lewe wat alles
gratis is.

In tussentyd word daar wel vir
die afgode geoffer.

Vir die eende wat goue eiers
lê.

As ‘n mens ‘n lot te koop in
die lotery, besef jy dat dit eintlik dieselfde is as om te offer vir ‘n afgod,
soos die heidene vroeër gedoen het?

Dit kom op presies dieselfde
neer.

Vandag verwag massas en massas
mense geluk en seën van die lotery.

Sonder om hulle verstand te
gebruik, te besef hulle vertrou op die onmoontlike.

Werk ‘n slag uit hoe klein die
kans is dat jy die groot bedrag in die lotery kan wen. 

Dis iets soos een uit ‘n
miljoen. 

Sê nou maar daar neem miljoen
mense aan die lotery deel.

Dan is jou kans statisties een
uit ‘n miljoen om die prys te wen.

As jy statisties heeltemal
seker wil wees jy wen darem een keer, sal jy ‘n miljoen keer ‘n lot moet koop.

Sê maar elke dag ‘n lot, vir
‘n miljoen dae agtermekaar.

Maar as jy dan bedink dat ‘n
gemiddelde menseleeftyd net dertig duisend dae duur, werk dan maar uit hoe
klein die kans is dat jy wen. 

Dis soos aan die afgode offer.

Jy slag jou dier vir ‘n god
wat nie eers bestaan nie.

 

Hoekom doen mense dan nog
steeds sulke dinge?

Ons is bevoorreg om te weet
hoekom. 

Dis daardie sondige natuur van
die mens wat maak dat hy êrens aan wil vashou, sy vertroue op iets of iemand
wil stel. 

Dis afgodery, dis wat dit
is! 

En wat gebeur dan? 

Dan soek die mensheid keer op
keer sy vertroue by die mees ongure tipes, wat genadeloos jou geld by jou vat, terwyl
hulle jou keer op keer in die steek laat. 

Dis nou die hartseer gevolg
van die sondeval. 

As jy dit besef dan kry jy oog
vir die diepe val van die mensdom, hoe treurig ons nou daaraan toe is. 

En dat die pad terug na ewige
geluk geblokkeer is deur ons vooroordele, bygelowe, ons eie opstand teen die
hemelse Vader.

 

Daarom roep ek u op vanmiddag
gemeente om die goeie deel te kies. 

Moenie jou geld en jou lewe
weggooi vir die afgode nie. 

Dit maak jou nie gelukkig
nie. 

Jou kans dat daardie skip met
geld ‘n slag binnekom is net so klein soos jou kans om die lotery te wen, al
koop jy ook hoeveel kaartjes.

 

Kom ons dank God eerder vir
die rykdom wat ons al het.

Kom ons besef dat elke dag se
brood van Hom af kom. 

Kom ons besef weer dat ons
heeltemal afhanklik is van die lewende God. 

En kom ons bid elke dag dat Hy
ons sal versorg met alles wat ons nodig het. 

Kom ons erken dat Hy die
enigste bron is van alles wat goed is. 

Besef dat al jou harde werk en
sorge jou niks baat.

Selfs God se goeie gawes wat
Hy jou gee baat jou niks sonder sy seën daarop nie.

“Laat bouers bou al wat hul
kan, vergeefs is alles wat hul bou, as 
God sy hand daaraan onthou.” (Ps 127:1 ber.)

En leer om jou vertroue van
die regering, van die lotery, van jou werk, van jou ouers, van jou eggenoot, ja
van alle skepsele af te trek en op Hom alleen te stel.

In Jakbous 1:16-17 word ons
opgeroep:

“Moenie dwaal nie, my geliefde
broeders. Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die
Vader van die ligte”.

 “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by
wie geen heil is nie.” (Psalm 146:3)

Werp jou sorge op die HERE, en
HY sal jou onderhou (Psalm 55:23).

En in Handelinge 14:17 het ons
die pragtige sin gelees: “Hy het Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te
doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voesel
en vrolikheid te vervul.”

Slegs God is die oorsprong van
alle goeie gawes.

As God dit al vir die heidene
wat van Hom afgedwaal het, gedoen het, hoeveel te meer sal Hy dit nie aan sy
kinders doen nie.

Laat ons daarom elke dag bewus
en in afhanklikheid van Hom vra: gee ons vandag ons daaglikse brood.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)