Die lewende God het profete en apostels geroep

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-02-15
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 Februarie 2015 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Ps 147:2,3,4

Votum

Seën

Ps 40:8

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed

Sb 28:2

1e Tafel: 2 Petrus 1; Ps 32:1

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 3

Preek

Ps 20:5,6

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Ps 33:5

Kollekte

Ps 33:6

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 3

Tema: Die
lewende God het profete en apostels geroep

-         
Om sy Woord aan sy volk oor te
dra

-         
Om sy Woord op skrif te stel

-         
Om sy Woord aan toekomstige
generasies oor te dra

Die feit dat daar hier op die
kansel ‘n Bybel is, waaruit ek nounet gelees het,

die feit dat elkeen van ons hier
met ‘n Bybel in die kerk sit, ‘n volledige Bybel, dit is nie toevallig nie.

Dit het ‘n lang aanloop gehad.

Ons Bybels is êrens gedruk.

Die feit dat dit gedruk is,
beteken dat almal presies dieselfde teks het.

Die boekdrukkuns het hiervoor
gesorg.

Voor die tyd van die
boekdrukkuns, is die Bybel met die hand oorgeskryf..

Dit is buitengewoon akkuraat
gedoen, maar tog het daar klein verskille ingesluip.

Al die ou manuskripte van die
Bybel gaan uiteindelik terug op die oorspronklike manuskrip, soos dit deur die
betrokke apostel of profeet op skrif gestel is.

Soms het die apostel van ‘n
skrywer, ‘n sekretaris, ‘n skriba of hoe mens dit ook wil noem, gebruik gemaak.

Desnietemin is die manuskrip
vervaardig onder verantwoordelikheid van die betrokke profeet of apostel, wat
deur God hiervoor geroep is.

 

Dit is wat NGB art. 3 baie sterk
beklemtoon.

Hierdie mense – profete en
apostels – is deur God geroep.

By profete dink ons veral aan die
Ou Testament, by apostels veral aan die Nuwe Testament.

Maar hierdie is die belangrikste
wat ons vanaand moet leer.

Die Bybel bestaan nie uit
gedagtes van mense oor God nie.

Die Bybel is nie ‘n bundel van
religieuse literatuur uit die verlede, wat afkomstig is van sommige van die
grootste denkers uit die oudheid nie.

Hierdie Woord van God – skryf die
NGB – is nie deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar – en dan word 2
Petrus aangehaal – die heilige mense van God het deur die Heilige Gees gedrywe,
gespreek.

Die inisiatief het dus van God
gekom.

Die Heilige Gees het hulle
gedryf, aan die werk gesit, geïnspireer.

En hulle – die apostels en
profete – moes praat, of skryf, of hulle nou saamstem of nie.

Dikwels was dit konfronterende
boodskappe van God, wat hulle selfs eers moes verwerk, mee vrede moes maak.

Soms was dit op daardie stadium
vir hulle onverstaanbare boodskappe, of wat hulle net gedeeltelik verstaan het,
waarvan hulle nog nie die volle reikwydte besef het nie.

 

Art 3 van die NGB verwys na ‘n
aantal Bybeltekste wat duidelik maak dat die inisiatief van God uitgegaan het.

Dat Hy tot die apostels en
profete gespreek het.

Hy het selfs, se art. 3, met sy
vinger die wet geskrywe.

Die NGB dink hierdie nie self uit
nie, maar haal Exodus 31:18 aan:

“En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met
hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee,
tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.” 

Aan die einde van sy lewe het Moses hierdie feit
weer benadruk toe hy vir die volk vertel het:

“Met hierdie woorde het die HERE julle hele
vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met 'n
groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels
geskrywe en dit aan my gegee.” (Deut 5:22)

Moses sê dit direk nadat hy die 10 gebooie weer
by die volk ingeprent het – Deut 5:6-21.

Let wel, hierdie gebooie kom nie van my af nie,
dit kom direk van God af!

Moses herinner die volk ook nog aan hoe dit toe
presies gebeur het.

Hoe die HERE eers met die hele volk gepraat het,
maar hoe die volk toe bang geword het:

Vers 24: “Kyk, die HERE onse God het ons sy
heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor;
vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe
bly. 5:25 Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons
verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons
sterwe. 5:26 Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende
God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het? 5:27
Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles
meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen. 5:28
En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het.
Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk
wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek
het. 5:29 Ag, as hulle maar so 'n hart gehad het om My te vrees en al my
gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan
gaan. 5:30 Gaan sê vir hulle: Gaan maar terug na julle tente
toe. 5:31 Maar jy, bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel al die
gebooie en die insettinge en die verordeninge wat jy hulle moet leer, dat hulle
dit kan doen in die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te
neem. 5:32 Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel
het; julle mag nie regs of links afwyk nie. 5:33 In al die weë wat die
HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit
met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in
besit sal neem. 

Hierdie gedeelte volg dus net na
die 10 gebooie, vroeër in die hoofstuk.

Hierdie gedeelte wys op die
besondere posisie wat die profeet gehad het om die Woorde van die HERE na sy
kinders te bring, sowel mondelings as skriftelik.

 

God het dus mense as profeet geroep en sy woorde aan hulle oorgedra, soms
soos die voorbeeld hierbo, deur direk met hulle te praat.

Naas Moses is daar nog ander voorbeelde in die Bybel, dink aan Jesaja,
of Esegiël.

 

Behalwe dit is daar ook Skrifgedeeltes waarin na vore kom dat God vir sy
profete opgedra het om sy woorde neer te skryf.

Die NGB verwys na ‘n paar tekste, soos Exodus 17:14: “Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe
dit as 'n aandenking in 'n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis
van Amalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg.” 
Of Exodus 34:27
Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want
volgens hierdie woorde het Ek 'n verbond gesluit met jou en met Israel. 

In Psalm 102, ook gelys onderaan art. 3, word
verwys na die feit dat God se Woord opgeskryf moet word, juis vir die nageslag.

Vers 19: “Dit sal vir die volgende geslag
opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof” 
Met die te boek stelling van sy Woord, het God dus bewus toekomstige generasies
op die oog gehad.

Dit bring
ons by die verantwoordelikheid wat ons vandag het om die geskrewe Woord na die
volgende generasie oor te dra.

En hierdie taak is meer omvattend
as wat mens dalk sou vermoed.

Dit gaan nie net oor die bewaar
van die Bybel soos ons dit nou hier het nie.

Dit gaan ook oor die Bybel in die
oorspronklike tale, die ou manuskripte

Dit gaan ook oor die oplei van
mense wat daardie manuskripte kan lees en bestudeer

Dit gaan ook oor die
verantwoordelike vertaling van die Bybel vanuit die grondtale vir toekomstige
generasies.

Soos ons weet bestaan daar
deesdae verskillende soorte vertalings, wat nie almal ewe trou bly aan die
grondteks nie, maar wat ‘n groot mate van eie interpretasie ook daarin verwerk
het.

Al met al, hier lê ‘n belangrike
taak vir ons.

As profete vandag ontvang ons
vandag nie meer direkte Godsprake nie, soos uit die tyd van die
openbaringsgeskiedenis nie, maar as profete het ons wel die taak om die
geskrewe Woord te bewaar en getrou na die volgende generasie deur te gee.

Dis nie ‘n taak wat ons aan
wetenskaplikes kan oorlaat nie. Die Westerse wetenskap sekulariseer al hoe
meer, die hoeveelheid mense wat hulle met die ou tekste van die Bybel besig
hou, word elke dekade minder.

 

Vroeër was dit so, dat in elke
kerk daar slegs een Bybel was.

In die allervroegste tye van die
kerkgeskiedenis was dit, net soos in die Ou Testament, ‘n versameling
boekrolle.

Die voorganger van die gemeente,
of biskop soos hy genoem is, het die taak gehad om die boeke van die Bybel te
bewaar, dit aan die gemeente voor te lees – onthou meeste mense was ongeletterterd
– en om dit te verklaar.

Hy het die heilige Skrifte van sy
voorganger ontvang, wat dit weer van sy voorganger ontvang het.

Elke biskop kon sy lyn van
ordinasie terugvoer, tot op die apostels.

D.w.s., wie hom die hande opgelê
het, en daarvoor sy voorganger, ensovoorts.

Dit was  nie net ‘n persoonlike saak nie, dit het ook
alles te make gehad met die bewaring en akkurate oorlewering van die heilige
Skrifte.

Nogmaals, die boekdrukkuns het
nog nie bestaan nie, daar was nie fotokopieermasjiene nie, die Bybel is met die
hand oorgeskryf.

As die boekrolle verslete geraak
het, moes daar ‘n betroubare en akkurate nuwe kopie gemaak word.

 

As ons terugkyk, kan ons met
groot dankbaarheid sê dat die kerk deur die eeue die Woord van God bewaar het.

Ook bewaar het teen aanslae van
buite af en van binne uit.

‘n Aanval van binne uit was
byvoorbeeld deur Marcion, wat die Bybel drasties wou inkort.

God het deur sy wyse leiding
gesorg dat toekomstige generasies, soos ons vandag, dieselfde Bybel in ons
hande mag vashou as amper 2000 jaar gelede.

Maar God se wyse leiding sluit
ons verantwoordelikheid nie uit nie.

Dit maak ons nie passief nie.

God se wyse leiding aktiveer juis
ons verantwoordelikheid.

En so het ons die taak om die
Bybel vandag suiwer te bewaar, vir komende generasies.

En soos gesê, dit hou ‘n aantal
sake in.

Eerstens, die beskerming van die
oudste manuskripte, wat tans in museums lê, reg oor die wêreld.

As dit aan die moslems lê, sal
hulle nie omgee dat hierdie manuskripte vernietig word nie.

Tweedens, die bestudering van
hierdie manuskripte, dit wil sê daar moet ook uit ons geledere mense opgelei
word wat daardie oorspronklike tale en handskrifte kan lees.

Derdens, die betroubare vertaling
van die Bybel, ook in die tale van vandag.

Tale is dinamies, en bly nie
dieselfde nie.

‘n Eeu gelede het Afrikaans as
amptelike taal nog nie bestaan nie.

En soos Afrikaans vandag lyk,
gaan dit oor honderd jaar beslis nie meer lyk nie.

Wel gaan die Woord van God nog
steeds daar wees – as Jesus nog nie teruggekom het nie – die Woord van God wat
betroubaar vanuit die grondteks vertaal moet wees in die gewone taal.

En vierdens is dit ook ons taak
as kerk van Christus om te waak by die korrekte, oftewel die ortodokse uitleg
van die Bybel.

Mense, teoloë, onder invloed van
die tydsgees, kan die Bybel laat buikspreek.

Soos Petrus sy lesers al
gewaarsku het:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk,
net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye
heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige
verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg” (2 Petr 2:1-2)

Wat Petrus hier skryf, sien ons
ook vandag rondom ons gebeur.

Verderflike ketterye word heimlik
ingevoer.

Die woord heimlik dui nie net soseer
dat dit in mense se ore gefluister word nie.

Dit dui veral op die metode dat
‘n kettery met skyn van reg ingevoer word.

Onder die voorwendsel dat dit
heeltemal Gereformeerd of Bybels is.

Mense wat ketterye in die kerk
invoer, gaan baie strategies te werk.

As hulle sien dat daar nog nie
genoeg draagvlak is nie, sal hulle stilbly.

Wel hier en daar dalk ‘n grappie
begin maak in die rigting van die kettery.

As hulle merk dat onder invloed
van die tydsgees mense meer ontvanklik begin raak, sal hulle dalk ‘n spreekwoordelike
ballonetjie oplaat.

Net ‘n gedagte in mense se koppe
plant.

En so stadig maar seker sal hulle
die mense gewoond maak aan dit wat ketters is.

Daar sal vervolgens ‘n periode
kom waarin beide ware en valse leer getolereer word in die kerk.

Maar die oomblik as hulle
duidelik in die meerderheid is, sal hulle die wat ortodoks wil bly, begin
teister.

So is dit nou eenmaal, lig en
duisternis kan mekaar nie verdra nie.

 

Aan ons die opgawe om te bly in
die ortodokse lyn, soos dit vanaf die tyd van die Nuwe Testament oorgelewer is.

Soos die apostel Petrus met
nadruk skryf:

“Ons het nie kunstig verdigte
fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus
bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit.” (1:16)

Petrus was een van die heilige
apostels, soos die NGB skryf.

Heilige apostels beteken nie dat
hy sondeloos was nie, ons weet beter van Petrus.

Maar heilig beteken dat God hom
as apostel afgesonder en toegewy het om ooggetuie te wees van die heilsfeite,
van ons Saligmaker, en om dit op skrif te stel.

Petrus skryf hier as ooggetuie as
hy sê: ons was aanskouers van sy majesteit.

Petrus verwys in hoofstuk 1
spesifiek na een gebeurtenis, uit die tyd van Jesus se bediening, wat van baie
groot betekenis was.

Dit was naamlik toe God die Vader
regstreeks vanuit die hemel gepraat het.

Net soos God destyds by die berg
Horeb regstreeks tot sy volk en met Moses gepraat het, so het Hy tydens Jesus
se aardse tyd drie keer regstreeks met die mense gepraat.

Die eerste een is vir ons
waarskynlik die bekendste.

Toe Jesus gedoop is, het die
heilige Gees soos ‘n duif uit die hemel neergedaal, en het God vanuit die hemel
geroep: “U is my geliefde
Seun in wie Ek 'n welbehae het.” (Markus 1:11)

Die hoogheilige God het Homself aangepas en in
mensetaal sodat almal dit kon verstaan, hierdie woorde uit die hemel gespreek.

 

Daar was nog ’n tweede keer wat dit gebeur het.

Petrus verwys spesifiek hierna in 1:18: “hierdie
stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg
was.”

Hy verwys na die keer toe Jesus vir hom, Jakobus
en Johannes saamgevat het op ’n hoë berg.

Daar het hulle Jesus in gesprek gesien met Moses
en Elia.

En daar het ’n stem uit die wolk gekom: “Dit is
my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” (Markus 17:5)

 

Nog ’n derde keer het God direk uit die hemel
gespreek, ons kan dit lees in Johannes 12.

Jesus het tydens ’n gesprek geroep: “Vader,
verheerlik u Naam!” God het toe uit die hemel geantwoord: “Ek het dit
verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

En dan lees ons verder in Johannes: “die skare
wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag gewees het.
Ander het gesê: ’n Engel het met Hom gespreek.”

Maar Jesus het toe geantwoord: “Hierdie stem het
nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.”

Net soos destyds by die berg Horeb, het God dus
drie keer aan die begin van die Nuwe Testamentiese tyd regstreeks gespreek tot
sy kinders.

Dit was drie keer maar net ’n kort sinnetjie, dit
was nie so lank as by die Horeb nie.

Dit was nie nodig nie.

Die kort sinnetjies het die aandag gevestig op
die Seun, wat na die aarde gekom het.

God se stem uit die hemel het beklemtoon hoe
wonderlik die feit was dat Hy op aarde gekom het.

Luister na Hom, deur Hom sien en hoor julle die
Vader.

Ja Hy
het met baie woorde van die Vader gekom.

 

Petrus verwys in die hoofstuk wat ons gelees het,
dus na een van daardie drie kere.

Hy was oog- en oorgetuie, hy het dit gehoor.

Petrus het daarom ook geen enkele twyfel of
skaamte om te verklaar: Ons het die profetiese woord wat BAIE VAS is.

Julle moet daarop ag gee soos op ’n lamp wat in
’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle
harte.

En weet veral dit: die Skrif is nie ’n saak van
eie uitlegging nie.

Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens
voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van
God gespreek.

 

Wat ’n voorreg dat ons vandag nog staan in
hierdie ortodokse lyn van apostels en profete.

Dat u en jy hier in die kerk sit, met ’n Bybel
byderhand, waarin dieselfde woorde staan as wat die apostels en profete
opgeskryf het, geïnspireer deur die Heilige Gees.

Die woorde wat hulle van God ontvang het.

Ja die Woord van God, dit is wat dit is.

Die heilige en Goddelike Skrif.

Dit is jou kosbaarste besitting wat jy het,
moenie dit ooit vergeet nie.

Kom ons sê dankie.

Ons dank U, hemelse Vader, vir u Woord van
verlossing, ons dank U vir u Seun, ons Saligmaker, wat ons uit u Woord mag leer
ken, ons dank U dat ons, onderrig deur u Woord, vandag nagmaal mog vier, en die
Heiland se kruisdood mog herdenk.

Ons dank U dat u gespreek het deur u Seun.

Ons dank U dat u die apostels en profete
ingespan het om die blye boodskap by ons uit te kry.

HERE, ons sien uit na die dag as U terugkom, as
U weer regstreeks tot u kinders sal spreek.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)