Die gesag van die Skrif berus op die gesag van sy Outeur

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-02-22
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 4,5 en 6
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
22 Februarie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Ps 148:2,4,5

Votum

Seën

Ps 125:2

Geloofsbelydenis (apostoliese)

Ps 125:3

Skriflesing: Daniël 6:1-12;
9:1-19

Gebed

Kollekte

Sb 43:2,3,4

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis
artikels 4-6

Preek

Ps 124:1,2

Gebed

Ps 124:3,4

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 4-6

Genesis, Exodus, Levitikus, ens.
tot en met Openbaring.

Dit is die lys van Bybelboeke wat
kinders van jongs af al op skool leer, op katkisasie ensovoorts.

Die boeke waaruit Bybelstudie
gedoen word op vereniging.

Waaruit daar by die huis gelees
word, as gesin in huisgodsdiens.

Hierdie boeke vorm die rigsnoer
vir ons geloofslewe.

Hulle neem ‘n baie spesiale plek
in.

Saam vorm hulle die heilige
Skrif.

Die bedoeling is dat ons daagliks
dit oopmaak.

God se Woord is ‘n lamp vir ons
voet, ‘n lig op ons pad, elke dag.

Die Bybel is die boek wat die
meeste verkoop word, wêreldwyd.

Tog is dit ook ‘n feit dat die
Bybel in heelwat huise net op die boekrak bly staan.

In die eerste deel van die NGB
word ekstra aandag gevra vir die Bybel.

Verskillende aspekte kom aan die
orde, met die bedoeling dat ons weer opnuut onder die indruk raak van hoe uniek
die Skrif is.

Vandag kyk ons na die omvang van
die Bybel.

Watter boeke hoort in die Bybel,
watter nie.

Oftewel die kanonieke en die
apokriewe boeke.

Die gesag
van die Skrif berus op die gesag van sy Outeur

-         
Volgorde

-         
Kanoniek en apokrief

-         
Aard van die apokriewe boeke

-         
Die selfgetuienis van die Skrif

Volgorde

In art 4. word die Ou
Testamentiese boeke genoem in die volgorde soos aan ons bekend is.

Hierdie volgorde gaan terug op
die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Dit is ‘n baie ou tradisie, want
die Griekse vertaling van die Ou Testament het al voor die geboorte van
Christus tot stand gekom.

Tog is dit ook goed om te weet
dat die Joodse tradisie ‘n ander volgorde geken het.

In die Bybel self, in die Nuwe
Testament, word na die Ou Testament verwys as die wet, profete, en geskrifte.

Die wet verwys na die 1e vyf
boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium.

Dit is as’t ware die fondament
van God se openbaring.

Dan volg die profete: dit is nie
net die groot en klein profete, waarna die NGB verwys, van Jesaja tot Maleagi
nie.

In die Hebreeuse Ou Testament is boeke
soos Josua, Rigters, Samuël en Konings ook profetiese boeke.

Die Hebreeuse OT word dan afgesluit
met die sogenaamde Geskrifte, ook wel genoem die wysheidsliteratuur.

Dit is die boeke Psalms, Job,
Spreuke, Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere, Ester, Daniël, Esra, Nehemia,
Kronieke.

Tussen hakies, die NGB noem ook
‘n ander naam vir die boeke Kronieke:

Paralipomenon – in die vroë kerk
het sommige eksegete Kronieke so genoem.

Dis ‘n Griekse woord wat
‘uitgelaat’, of ‘oor die hoof gesien’, beteken.

Hierin klink die opvatting deur
dat Kronieke ‘n soort supplement, ‘n aanhangsel, by die boek Konings was.

In die tradisie van die Hebreeuse
Ou Testament is die boek egter Kronieke genoem.

Kronieke beteken geskiedskrywing, die van dag tot dag
beskrywing van gebeurtenisse.

 

Nou is dit nie die bedoeling van
die NGB art. 4 om die volgorde vas te stel, asof dit die enigste goeie volgorde
is nie.

Die bedoeling van art. 4 is om
die kanonieke boeke te lys, nl. wat wel en wat nie die kanonieke boeke is nie.

Dit is ook nie die bedoeling van
art. 4 om vas te stel wie elke Bybelboek geskryf het nie.

By die meeste Bybelboeke word die
skrywer nie genoem nie.

Hoewel by ‘n groot aantal
Bybelboeke die skrywer bekend is, is dit nie by almal die geval nie.

Soms is dit ook so dat daar
onsekerheid heers.

Art. 4 volg bv. die tradisie om
Hebreërs aan Paulus toe te skryf, al bestaan daaroor nie eenstemmigheid nie.

Nêrens staan dit naamlik met
soveel woorde in die Hebreërboek nie, al is dit nie onmoontlik nie.

Oor wie die Bybelboeke geskryf
het, het art. 3, die vorige artikel van die NGB gehandel, waarna ons laasweek
gekyk het.

Naamlik dat die Heilige Gees
apostels en profete vir hierdie taak in diens geneem.

Dit is wat saak maak.

Maar weer eens, die bedoeling van
art. 4 is primêr om die kanonieke boeke te lys.

Die volgorde is nie kanoniek nie.

 

Kanoniek en apokrief

Kanoniek, soos u dalk weet,
beteken daardie boeke wat in die Bybel hoort, wat normatief is, waarteen niks
ingebring kan word nie, soos hier staan.

Die Griekse woord kanwn dui op ‘n rigsnoer, of ‘n lineaal,
iets wat maatgewend is, wat die norm aandui.

Die norm, soos art. 5 sê, om ons
geloof daarvolgens te rig, daarop te grondves, daarmee te bevestig.

 

Die kanonieke boeke word hier in
die NGB duidelik onderskei van die apokriewe boeke.

Die woord apokrief het oorspronklik verborge of onduidelik beteken.

In die konteks van watter boeke
tot die Skrif behoort en watter nie, dui die term apokrief dus op die omgekeerde van kanoniek.

Die apokriewe boeke openbaar nie
God se wil soos die kanonieke boeke nie, dit is eerder onduidelik.

 

Die NGB skenk uitvoerig aandag
aan die apokriewe boeke, omdat dit in die tyd van die Reformasie baie aktueel
was.

Die Roomse kerk het die apokriewe
boeke as deel van die Bybel beskou.

Die Roomse kerk het wel ‘n
onderskeid aangebring.

Die Roomse kerk gebruik self nie
die term apokrief nie, maar praat van
deutero-kanoniek.

Deutero is die Griekse woord vir
tweede.

Dit gaan dus oor tweederangse
kanonieke boeke.

Die Roomse kerk bring dus self
ook ‘n onderskeid aan, en erken ook dat die kanonieke boeke van hoër gehalte is
as die apokriewe boeke.

Die Reformasie het egter ‘n stap
verder gegaan, en duidelik uitgespreek dat die apokriewe boeke nie deel is van die Bybel nie, ook nie
eers as tweederangse boeke nie.

 

Aard van die apokriewe boeke

Dit wil egter nie sê dat dit
gevaarlike boeke is nie.

Daarom staan daar: die kerk kan
daaruit lees en daaruit lering trek.

Sommige van die apokriewe boeke
wat in art. 6 genoem word, bevat historiese foute, bv. die boek Judit.

Ander is histories betroubaar,
soos bv. die twee boeke van die Makkabeërs.

Hulle is nuttig om
agtergrondinligting te kry oor die Bybelse tyd, met name die periode tussen die
Ou en Nuwe Testament.

 

Maar, hulle mis die gesag en krag
van ‘n Bybelboek.

‘n Bybelboek openbaar vir ons wie God is, en hoe God met sy kinders omgaan.

‘n Bybelboek leer vir ons hoe om die HERE te dien.

‘n Bybelboek openbaar aan ons die
weg tot saligheid vir sondige mense.

Dit is wat bedoel word met die gesag en krag van ‘n Bybelboek.

In ‘n Bybelboek praat die HERE
met sy kinders.

Soos die tema sê: die gesag van
die Skrif berus op die gesag van sy Outeur.

 

Die apokriewe boeke verskil wat
dit betref.

Die apokriewe boeke bevat ook
waardevolle inligting, maar dit bly boeke wat ‘n ander fokus het as die
Bybelboeke.

 

Gemeente, hierdie wat ek tot
dusver verduidelik het – die verskil tussen kanoniek en apokrief – mag dalk nog
baie abstrak vir u klink.

Dalk is dit die beste om dit met
‘n voorbeeld te laat sien, wat die verskil is.

Die boek Daniël kan as ‘n goeie
voorbeeld dien.

Ons ken die boek Daniël uit die
Ou Testament.

Dit begin met die geskiedenis van
Daniël en sy drie vriende aan die koninklik hof in Babel.

Die droom van Nebukadnesar, wat toe
deur Daniël verklaar is.

Die feit dat Daniël dit kon
oorvertel en verklaar, was geensins aan Daniël se vernuf te danke nie.

Daniël was 100% van God
afhanklik.

As God dit nie aan hom sou
geopenbaar het nie, sou Nebukanesar hom doodgemaak het, net soos hy met al sy
geleerders, besweerders en towenaars wou doen wat die droom nie kon oorvertel
nie.

Daarna vervolg die boek Daniël
met die geskiedenis van die goue beeld wat almal moes aanbid.

Daniël se drie vriende het egter
uit prinsipiële redes geweier om dit te doen.

Hulle het in die vuuroond beland.

Hulle sou ongetwyfeld tot as
verbrand het, en hulle het self ook gedink dat dit hulle voorland was, as ‘n
Engel van die HERE nie saam met hulle in die vuuroond was nie.

Koning Nebukadnesar het dit
raakgesien, dat daar skielik vier persone in die vuuroond was.

Nadat Sadrag, Mesag en Abednego
toe ongedeerd uit die oond gekom het, het die koning hulle nie geloof oor hulle
vernuf of krag nie, maar hy was totaal verbaas en oorbluf, onder die indruk van
hulle God wat ‘n Engel gestuur het om hulle te beskerm.

Die boek Daniël vervolg daarna met
Nebukadnesar se kranksinnigheid, en hoe die Allerhoogste in sy lewe ingegryp
het en sy trots en hoogmoed tot ‘n val gebring het, en hom gedwing het om te
erken dat hy ook maar net ‘n skepsel is.

Soos Nebukadnesar dit self
uitgedruk het: “Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.”

Daarna volg ‘n nuwe periode in
die boek Daniël, oor die regeerperiode van koning Belsasar, en oor die fees wat
hy gehou het, en hoe God ook vir hom verneder het.

Sy ryk is toe ingeneem deur die
Meders en die Perse.

Daniël het baie oud geword, en
aan die hof gedien tydens verskillende konings se regeerperiode.

Ook die van Darius.

Uit sy regeerperiode ken ons die
geskiedenis van Daniël in die leeukuil.

Ook in hierdie gedeelte val die
klem nie op Daniël se vernuf en slimheid nie, maar eerder op sy gehoorsaamheid.

Hy het elke dag bly bid in die
rigting van Jerusalem, selfs toe dit vir hom lewensgevaarlik geword het.

Die klem val op die almagtige
God, wat hom op ‘n onverwagte en wonderbaalike manier uit die leeukuil gered
het.

Die boek sluit daarna af met ‘n
gebed van Daniël, asook ‘n aantal profesië.

In die gebed verootmoedig Daniël
homself.

Hoewel hy trou aan die HERE gebly
het, in teenstelling tot baie ballinge, verootmoedig hy homself saam met die
hele volk.

Hy erken die skuld, dat die
ballingskap welverdiend was.

En hy vra om vergewing: “Neig u
oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad
waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons
ons smeking voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.
Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U
ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.” (Dan 9:18-19).

Verder, deur middel van sy
profeet Daniël het die HERE vir sy volk uitsig, troos en bemoediging gegee in
moeilike tye.

Daniël se profesië maak ook
duidelik dat nog meer swaar tye vir God se volk op koms was, byvoorbeeld die
periode van die Griekse oorheersing, wat toe nog moes kom.

Maar deur sy profesië klink ook
die belofte van God dat Hy sy volk deur daardie periode heen sou dra.

 

Dit is dus, in kort, in voëlvlug,
die Bybelboek Daniël, hfst 1 t/m 12.

Maar, daar is ook ‘n apokriewe boek
wat oor Daniël gaan.

Eintlik is dit net ‘n paar
hoofstukke wat aan Daniël toegevoeg is.

NGB art. 6 verwys na die Gebed
van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel
en van die Draak.

Kom ons kies een van hierdie
verhale, en vergelyk dit dan met die kanonieke bybelboek Daniël.

Die verhaal oor Daniël en die
beeld van Bel vertel hoe die Babiloniërs hulle afgod Bel vereer het.

Hulle het elke dag kos na sy
tempel gebring: koring, veertig skape en wyn.

Die koning, die Pers Cyrus, het
hom ook aanbid.

Tydens ‘n gesprek tussen hom en
Daniël het Daniël vir hom gesê dat hy slegs die lewende God aanbid, en nie ‘n
afgodsbeeld wat deur mensehande gemaak is nie.

Die koning was verontwaardig oor
hierdie antwoord.

Beweer jy soms dat Bel nie ‘n
lewende god is nie?

Kyk net hoeveel eet en drink hy
elke dag.

Daniël het egter nugter
geantwoord dat Bel ‘n beeld is, klei van binne en brons van buite, en dat hy
nog nooit iets geëet of gedrink het nie.

Die koning het toe woedend
geword, en aan Bel se sewentig priesters opdrag gegee om die kos op Bel se
offertafel in die tempel reg te sit.

Hy sou dan die tempel sluit en
met sy seëlring verseël, sodat daar niemand kon inkom om die kos te steel nie.

As die kos die volgende oggend
opgeëet was, sou Daniël ter dood gebring word.

Voordat die koning egter die
tempel gesluit en verseël het, het Daniël aan hom voorgestel om fyn as op die
tempelvloer te strooi, sonder dat die priesters daarvan bewus was.

Toe die koning die volgende
oggend die tempel weer oopsluit, was die kos inderdaad weg.

Maar net toe hy bevel wou gee om
Daniël te vang en te dood, het Daniël sy aandag op die as op die grond
gevestig.

Orals was daar voetspore sigbaar
in die as, voetspore van grootmense en kinders.

Dit blyk toe dat daar ‘n geheime
ingang onder die offertafel was, waardeur die priesters, hulle vroue en kinders
elke nag binnegekom het om die kos te vat.

Toe die koning dit sien, het hy
die priesters en hulle gesinne laat doodmaak.

So het Daniël, deur sy
skranderheid en vernuf, die afgodsdiens aan die beeld Bel ontmantel.

Soos gesê, hierdie is een
verhaal, daar is nog meer, byvoorbeeld oor Daniël en die draak, of byvoorbeeld
oor Susanna.

 

Ons vra nou die vraag.

Is daar ‘n verskil tussen hierdie
apokriewe hoofstukke, vergeleke met die kanonieke hoofstukke van Daniël?

Daar is ‘n verskil, ja.

Die belangrikste verskil is die
manier waarop daar op die optrede van Daniël gefokus word.

In die apokriewe hoofstukke word
Daniël op die voorgrond geskuif as die skrander, vernuftige, en dapper geloofsheld.

Nie dat daar geen eer aan die
Here gegee word nie, maar dit funksioneer eintlik bietjie op die agtergrond.

In die kanonieke hoofstukke is
die fokus nie soseer op Daniël se prestasies nie.

Hoogstens gaan die aandag uit na
Daniël se geloofsgehoorsaamheid.

Soos hierbo aangedui, die feit
dat Daniël die koning se droom kon oorvertel, was glad nie te danke aan sy
vernuftigheid nie.

Die feit dat Daniël in die
leeukuil oorleef het, net so min.

In die Bybel vind mens nêrens dat
geloofshelde opgehemel word nie.

Dat daar geloofshelde was,
natuurlik, maar die Bybel is ook eerlik oor hulle sondigheid, hulle gebreke,
hulle geloofstwyfels wat daar ook was.

Dink aan figure soos Abraham,
Josef, Dawid, Elia ensovoorts.

En selfs in daardie Bybelgedeeltes
waar die heldedade van ‘n gelowige beskryf word – dink as voorbeeld aan Josef
in Egipte; of dink aan hoe Dawid vir Goliat verslaan het – selfs in sulke
Bybelgedeeltes is die fokus anders as in hierdie apokriewe hoofstukke oor
Daniël.

Minder op die mens en sy
vernuftigheid, en meer op geloofsgehoorsaamheid, en op die HERE se leiding.

 

Daar kom nog ander faktore ook
by, wat hierdie konklusie onderstreep, dat die apokriewe hoofstukke van Daniël
nie op dieselfde lyn staan as die kanonieke hoofstukke nie.

Die apokriewe hoofstukke is byvoorbeeld
slegs in Grieks geskryf, terwyl die kanonieke hoofstukke van Daniël al bestaan
het in Hebreeus en Aramees.

Ook dit dui daarop dat die
apokriewe hoofstukke ‘n latere toevoeging was aan dit wat deur die profeet
Daniël geskryf is.

 

In die apokriewe hoofstukke staan
Daniël se vernuftigheid dus baie meer op die voorgrond.

So getuig hierdie apokriewe gedeeltes uit hulleself dat
hulle eintlik nie deel kan vorm van die kanon nie.

En so getuig die kanonieke boeke van die Skrif uit
hulleself, dat hulle goddelike geskrifte is.

Soos artikel 5 van die NGB dit
verwoord:

Die kanonieke boeke het die bewys
in hulleself.

Deur hulle getuig die Heilige
Gees in ons hart dat hulle van God is.

 

Die selfgetuienis van die Skrif

Hierdie is ‘n belangrike aspek
waarop die NGB die aandag rig.

Art. 5: “Ons glo... alles wat
daarin vervat is [naamlik in die kanonieke boeke], nie juis omdat die kerk
hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in
ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in
hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin
voorspel is, plaasvind.”

‘n Blinde persoon mis ‘n sintuig.

As selfs ‘n blinde persoon iets
of iemand kan uitken, naamlik deur te voel, te tas, dan staan ‘n saak eintlik
nog meer vas.

Dan is dit ‘n onomstote feit.

Dis wat die NGB hier bedoel.

Die Bybelboeke is van so ‘n aard,
dat die wat dit lees vanself agterkom dat dit God is wat daarin met die mense
spreek.

 

In die tyd toe die NGB geskryf is,
het die klem eerder daarop gelê dat die Bybel deur die kerk, die Roomse kerk, bepaal word.

En die Roomse kerk het nou
eenmaal besluit dat sowel die kanonieke as apokriewe boeke in die Bybel hoort.

Dit is egter die omgekeerde
volgorde, betoog die NGB.

Deesdae hoor mens ook dikwels
hierdie omgekeerde volgorde, maar dan van die kant van die wetenskap.

Die liberale wetenskap beweer dat
dit vroeër nie duidelik was watter boeke deel van die Bybel was nie.

En dat die kerk eers later,
byvoorbeeld in reaksie op Marcion wat sy eie kanon saamgestel het, tydens ‘n
sinode sou besluit het op die lys van Bybelboeke.

Dat eers veel later, byvoorbeeld
op die sinode van Nicea (325nC), die huidige vorm van die Bybel vasgestel is.

Hierdie redenasie keer sake egter
op sy kop, en dit is nie histories betroubaar nie.

Marcion, byvoorbeeld, het nie sy
eie kanon saamgestel nie, maar hy het gesny uit die kanon wat daar reeds was.

En ‘n sinode soos Nicea het nie
die Bybel saamgestel nie, maar bloot die kanon van die Bybel verdedig teen
ketters wat daaraan gesleutel het.

Skrifkritiek is inderdaad iets
van alle tye.

 

Feit is, dat die Bybelboeke, soos
hulle op skrif gestel is deur die apostels en profete, uit hulleself getuig dat
hulle in die Bybel hoort.

Dit straal uit hulle, dat hulle
van ‘n ander orde is, dat hulle ‘n ander invalshoek het, dat hulle van
Goddelike afkoms is.

En dit is evident, soseer selfs,
sê die NGB, dat dit vir blindes tasbaar is.

 

Vir gelowiges van alle eeue vorm
die kanonieke boeke van die Bybel die kompas in hulle lewe.

Hulle is die maatstaf vir die
ware geloof.

Hulle het gesag.

Hulle weerspieel die gesag van
Hom wat hulle geopenbaar het.

Die gesag van die Skrif berus,
soos die tema sê, op die gesag van sy Outeur.

Daarom is hulle die laaste
instansie van appèl.

Nie die kerk bepaal die waarheid
nie, maar die Skrif.

Die getuienis van apostels en
profete waarop die kerk gebou word, wat die fondament van die kerk is.

Danksy God se Woord is die
kerklike lewe moontlik.

Kan die gemeentes van Christus
groei en bloei, in watter eeu van die mensegeskiedenis ook al, in watter
uithoek van die wêreld ook al, in watter taal ook al.

Orals en altyd is die Woord
rigsnoer vir die waarheid.

Ook rigsnoer vir elkeen van ons
se persoonlike geloofslewe.

 

Wat dit betref het die onderwerp
van vanaand, wat die NGB aandra, naamlik die verskil tussen kanoniek en
apokrief, ook ‘n belangrike boodskap, leermoment, vir die manier waarop ons die
Bybel gebruik, hetsy persoonlik, hetsy as ‘n groep in Bybelstudie, hetsy in die
kerk.

As jy die Bybel so gebruik, dat
jy veral fokus op die geloofshelde in die Bybel, dat jy hulle bewonder, dat jy
soos hulle wil wees,

soos ‘n Daniël, of soos ‘n dapper
Dawid, of soos watter Bybelse persoonlikheid ook, dan gebruik ons die Bybel
verkeerd, dan mis ons die punt.

Want dit is nie die doel van die
kanonieke boeke, om hulle as geloofshelde, as rolmodelle aan ons voor te stel
nie.

In die kanonieke boeke openbaar
God homself.

In die kanonieke boeke leer ons
hoe God met mense werk, sy verbondsomgang met sy kinders.

En sy kinders bly sondige mense.

Daardeur word God se geduld en
barmhartigheid net nog meer onderstreep.

Die kanonieke boeke verberg ook
nie die sondige kante van Bybelse persoonlikhede nie.

Dink aan Abraham, of Josef, of
Dawid, of Salomo.

Oor sommige mense lees ons in die
Bybel nie iets negatiefs nie.

Die rede is meestal dat daar maar
min oor hulle in die Bybel staan.

Hoe beter jy ‘n mens leer ken,
hoe groter die kans dat jy ook sy swakhede ontdek.

Oor Jonatan word daar in die
Bybel nie iets negatiefs gesê nie, maar daar staan ook weinig in die Bybel oor
hom.

Oor sy vriend Dawid staan daar
baie in die Bybel, en dus ook sy sondes en gebreke.

 

Laat ons dit dus veral leer
vanaand.

Uit die Skrif kan ons ons hemelse
Vader persoonlik en betroubaar leer ken.

Danksy die Skrif kan ons Hom leer
liefhê.

Hoor ons hoe sy liefde so
oorweldigend is, en sy verkiesende liefde ons geloof en liefde gevorm het, lank
voordat ons dit besef het.

Uit die Skrif leer ons ons
Heiland ken, wat die verbond herstel het deur sy kruisdood.

Die Skrif is rigsnoer vir ons
persoonlike lewenstyl, as kinders in die verbond.

In die Skrif vind ons voorbeelde
uit die verlede hoe die HERE met sy kinders in die verbond omgegaan het,
voorbeelde waaruit ons baie kan leer.

Want daardie mense was maar net soos
ons.

En die HERE is ook nog steeds
dieselfde, geduldig en barmhartig.

 

Die Skrif wys selfs vir ons die
pad vorentoe, in die toekoms.

Dit Skrif openbaar aan ons dat
daar ‘n pragtige toekoms wag, vir wie aan Christus behoort.

Ja die Skrif is volmaak, dit
bevat volkome alles wat die mens vir sy saligheid moet weet.

Dit is die onderwerp van art. 7,
waarna ons in die volgende preek oor die NGB gaan kyk.

Kom ons wys ons dankbaarheid vir
die HERE, die lewende God, wat Homself so duidelik aan ons geopenbaar het.

Ons dank die Heilige Gees, wat
dit so gelei het dat die kanonieke boeke geskryf is, en ook saamgevoeg is tot
een Skrif, die kanon, die maatstaf vir die waarheid, die rigsnoer vir ons lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)