PRETORIA-MARANATA,
22 November 2015 AD, 17:30
Voorsang: Ps 3:1,2
Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 8:1,2
Gebed
Skriflesing: Handelinge 16:9-34
Ps 115:1,2
Skriflesing: Kolossense 2:1-12
Ps 51:4
Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 33 & 34
Preek
Sb 15:1,2,3,7
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 14:1,2
Seën
Preek: NGB
art. 33-34.
Christus het in die Nuwe
Testament vir ons twee tekens en seëls ingestel.
Ons noem dit deesdae sakramente.
Ter wille van ons
stompsinnigheid, skryf die NGB, het die goeie God dit vir ons ingestel, omdat
Hy met ons swakheid rekening hou.
Met stompsinnigheid word nie
bedoel dat ons ‘n lae IK of soiets het nie, maar dat ons kleingelowig is en
soms so moeilik kan glo dat die goeie nuus van die Bybel waar is.
Tema: Christus
skenk vir sy kerk sakramente
-
wat is ‘n sakrament?
-
die doop as teken en seël
-
die doop van volwassenes en
kinders
-
-
wat is ‘n sakrament?
Hoe definieer mens ‘n sakrament?
Die woord kom nie in die Bybel
voor nie, maar die saak wel.
Dit is iets wat (eerstens)
Christus self ingestel het, met as spesifieke doel (tweedens) om ons aandag te
vestig op sy versoeningsoffer aan die kruis.
Die Roomse kerk het meer
sakramente, 7 in totaal.
Art. 33 is teen daardie
agtergrond geskryf.
Teen daardie agtergrond verstaan
mens die opmerking in art. 33 beter: ons is tevrede met die aantal sakramente
wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het.
‘n Sakrament is ‘n teken en ‘n
seël.
As teken wys dit na Christus se
versoeningswerk, as seël waarborg dit sy werk.
Die sakrament is egter nie ‘n
voertuig van genade, soos die Roomse kerk dit noem nie.
Dis nie dat ons God se genade
deur deelname aan die sakrament kry nie.
Die sakrament wys net vir ons
waar om God se genade te kry.
Die sakrament druk ons na
Christus toe.
Dit geld vir sowel die nagmaal as
die doop.
Christus se bloedvergieting aan
die kruis het elke bloedvergieting van diere by die tempel voortaan oorbodig
gemaak.
Daarom het die besnydenis, wat
met bloed gepaard gaan, oorbodig geraak.
Dit is afgeskaf en in plek
daarvan is die doop ingestel.
Dink aan Christus se opdrag in
Mattheüs 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle
in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.
Daar staan nie meer: besny hulle,
nie.
Dit is die opdrag wat God aan
Abraham destyds gegee het: “’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny
word” (Gen 17:12).
Nou gee Christus ‘n nuwe opdrag:
doop hulle.
-
die doop as teken en seël
Die doop gebeur met gewone water.
Water wat simbool staan vir
Christus se bloed.
Soos die water vuiligheid van jou
liggaam aan die buitekant afwas, so was Christus se bloed die sonde uit jou
lewe weg, aan die binnekant.
Ons weet dat daar verskillende
tradisies is in hoe die doop plaasvind.
In ons doopsformulier word onderdompeling
en besprinkeling genoem.
Beide is legitieme moontlikhede.
Die onderdompeling is visueel
baie duidelik en gaan terug op die manier hoe daar byvoorbeeld in die Nuwe
Testamentiese tyd in die Jordaanrivier gedoop is.
Die besprinkeling gaan terug op
die tradisie in God se volk van besprinkeling met bloed by die tempel of
besprinkeling met simboliese reinigingswater.
Mens kan dink aan Esegiël 36:25:
“Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word”
En Hebreërs 12:24, waar gepraat
word oor die bloed van die besprenkeling van Jesus ons Middelaar.
In die tyd van die Reformasie is
babas besprinkel nie soos ons gewoond is, oor die koppie nie, maar deur water
oor die baba se rug te giet.
Daar is verskillende tradisies,
belangrik is om te bly besef dat dit oor gewone water gaan, wat ‘n simboliese
betekenis het.
Art. 34 vergelyk die doop met die
Rooisee.
God se volk moes deur die Rooisee
trek om te ontsnap aan die slawerny van Farao.
Dit is deur Christus se bloed dat
ons kan ontsnap aan die slawerny van die duiwel.
Die doop, wat na Christus se
bloed wys, simboliseer dan die Rooisee.
Die doop is nie ‘n teken van my
bekering en toewyding aan God nie.
Net soos die nagmaal is die doop
as sakrament ‘n teken van Christus se versoeningsoffer.
Dit is die definisie van ‘n
sakrament.
Dit is iets wat deur Christus
ingestel is, en wat sy versoeningsoffer simboliseer.
-
die doop van volwassenes en
kinders
Vervolgens skenk die NGB, net
soos in ander artikels, weer aandag aan die Wederdopers.
Soos ek in ‘n eerdere preek
genoem het, het die Wederdopers ‘n belangrike rol gespeel in die onstaan van
die Nederlandse Geloofsbelydenis.
In die suidelike dele van België
wat Guido de Brès gewoon en gewerk het, was daar baie Wederdopers.
Hulle het baie onrus veroorsaak.
Hulle het die sogenaamde
beeldestorm geloods, wat tot strafmaatreëls van die Roomse owerheid gelei het.
Die Gereformeerdes was streng
gekant teen die beeldestorm.
Die geestelike stryd mog nie op
‘n fisiese manier gevoer word nie.
Guido des Brès het die NGB geskryf
om aan die Roomse owerhede duidelik te maak dat hulle as Gereformeerdes nie
opstandig was nie, en die owerheid wel gerespekteer het.
Soos ons in eerdere artikels
gesien het, was daar verskillende meningsverskille tussen die Wederdopers en
die Gereformeerdes.
Die bekendste was uiteraard die
een waaraan ons artikel aandag skenk, naamlik dat hulle die doop van kinders
veroordeel het, en dus geëis het dat mense weergedoop moes word.
Deur die eeue het hierdie een van
die verskilpunte gebly tussen die Gereformeerdes en die – soos hulle vandag
bekend staan – Baptiste.
As mens die hedendaagse Baptiste
vergelyk met die Wederdopers van toe, is daar wel verskille.
Oor die algemeen het hedendaagse
Baptiste nie meer die opstandige houding teenoor owerhede soos destyds nie.
Die Wederdopers van destyds het
aardse owerhede as oorbodig beskou, en wou net aan God onderdanig wees.
In art. 36 gaan ons sien dat
aardse owerhede juis deur God aangestel word.
Dis nie iets wat die NGB
uitgedink het nie, lees maar Romeine 13 waarop dit gebaseer is.
En as ons nou oor die kinderdoop
praat, is dit ook nie iets wat die NGB uitgedink het nie, maar wat op die Skrif
gebaseer is.
Daar word verwys na Kolossense
2:11, waaruit duidelik word dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.
Nou is dit so dat baie Baptiste
opregte gelowiges is wat hulle geloof slegs op die Bybel wil bou.
En juis daarom keur hulle die
kinderdoop af, omdat daar volgens hulle in die Bybel geen voorbeeld is van
kinders wat gedoop word nie.
Hulle is reg.
Daar is nie ‘n eksplisiete
voorbeeld nie.
Maar implisiet vind mens dit wel.
Neem byvoorbeeld Handelinge 2:39.
In vers 38 roep die apostel Petrus die
mense op om hulle te laat doop.
En dan sê hy direk daarna in vers 39:
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders
en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”
Of, neem die volgende teks: Handelinge
16:27-34.
Daarin
lees ons hoe die tronkbewaarder van Filippi tot geloof gekom het.
Ook
lees ons dat hy vervolgens gedoop is, hy en al sy mense.
En
hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.
In
dieselfde hoofstuk word ook oor Lydia vertel, dat die Here haar hart geopen het
om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.
Daarna
is sy en haar huisgesin gedoop (Hand 16:14-15).
Om
te herhaal, nêrens in die Bybel lees ons dus eksplisiet dat kinders gedoop word
nie.
Maar
implisiet lê dit voor die hand, en dit sou ’n rare redenering wees om, as die
hele konteks dit impliseer, tog die konklusie te trek dat nie sou gebeur het
nie.
As mens aan die doop aandag skenk, is dit
belangrik om ook aandag te skenk aan hoe mens die Bybel lees.
Daar is verskillende manier hoe mense die
Bybel lees.
Roomse en Protestantse mense lees die
Bybel byvoorbeeld verskillend.
Roomse mense vat byvoorbeeld die volgende
sinne uit die Bybel, “dit is my liggaam” en “dit is my bloed”, letterlik op.
Volgens hulle gebeur daar ’n wonder,
naamlik dat wyn in bloed verander.
Hulle besef nie dat hierdie sinne eintlik
’n metafoor is nie.
Net soos Jesus byvoorbeeld ook in die
Bybel gesê het:
Ek is die ware wynstok.
Of: Ek is die lewende water.
Of: Ek is die Lam van God.
Hierdie uitsprake moet mens nie letterlik
opvat nie, maar metafories.
Nou wat het hierdie met die doop te make?
Wel, as mens regtig wil verstaan wat die
Bybel oor die doop leer, is daar meer sake wat aan die orde moet kom as slegs
’n diskussie of die doop van kinders korrek is of nie.
Dit gaan uiteindelik oor jou hele manier
van Bybellees.
Dit
bring ons by die vraag: waaraan moet ons as Christene ons hou?
Moet
ons slegs die dinge doen wat eksplisiet in die Bybel staan?
Ek
vra hierdie vraag om die volgende rede.
Aan
die een kant dink Baptiste dat Gereformeerdes die spoor byster is, omdat hulle
die kinderdoop handhaaf.
Aan
die ander kant dink Gereformeerdes dieselfde oor Baptiste.
Sou
dit so kon wees dat Gereformeerdes die spoor byster geraak het in die loop van
die eeue?
Dit
is naamlik wat Baptiste oor die Gereformeerdes sê.
Almal
stem saam dat daar ’n Reformasie moes kom uit die Roomse kerk.
Maar,
volgens die Baptiste het die Gereformeerdes halfpad vasgehaak.
Hulle
moes nie net breek met die Roomse leer van die doop – dat dit towerwater sou
wees – nie. Hulle moes ook opgehou het om kinders te doop.
Want
dit staan nêrens in die Bybel nie.
Volgens
Baptiste is Gereformeerdes dus nog steeds die spoor byster, omdat hulle halfpad
die Reformasie vasgehaak het.
Ek
het hierbo al gepraat oor die manier waarop mens die Bybel lees.
Dit
is naamlik nie so dat jy simpelweg kan sê:
As iets in die Bybel staan, moet jy dit
doen; en as iets nie in die Bybel staan nie, mag jy dit nie doen nie.
As mens so redeneer, sal jy voor ’n
aantal onaangename verrassings te staan kom.
Laat ek ’n voorbeeld noem.
Daar staan naamlik nêrens in die Bybel
met soveel woorde dat ’n vrou nagmaal mag vier nie.
Ons vind in die Bybel ook geen enkele
voorbeeld van ’n vrou wat nagmaal gevier het nie.
As jy nou die redenering volg, dat jy
slegs mag doen wat met soveel woorde in die Bybel staan, dan het jy hier ’n
probleem.
By sowel die Gereformeerdes as Baptiste
vier vroue die nagmaal.
Dus, as jy so redeneer, loop jy vas.
Die konklusie lê dan ook voor die hand
dat mens eerder soos volg moet redeneer:
Wat daar in die Bybel staan, moet ons
goed bestudeer, veral wat betref die strekking of implikasie daarvan.
As ons dit byvoorbeeld op die nagmaal
toepas.
Die kern waaroor dit in die nagmaal gaan,
is dat alle gelowiges, in onderlinge eenheid, saam ’n maaltyd geniet, en so die
redding van hulle lewe deur die vlees en bloed (dit is die kruisiging) van
Christus herdenk.
Dit is betekenis, die strekking van die
nagmaal.
As mens vanuit hierdie kern verder dink,
byvoorbeeld oor die vraag of vroue wel nagmaal mag vier, dan is die antwoord op
hierdie vraag eintlik nie moeilik nie.
Ten minste, as jy die kernboodskap goed
verstaan, naamlik wat die doel van die nagmaal is.
Dan is dit eintlik voor die hand liggend
dat ’n vrou ook aan die nagmaal mag deelneem.
Die voorbeeld van die nagmaal het ek ter
illustrasie genoem.
Dit is ’n illustrasie van die vraag wat
ons besig hou:
Op watter manier moet jy die Bybel lees?
In jou manier van Bybellees moet mens dus
goed let op die bedoeling van ’n uitspraak.
Ten aansien van die doop geld dit net so
veel.
As ons die gedeeltes waar die Bybel oor
die doop praat, lees (bv. Matt 18:18-20; Mark 16:15-16; Hand 2:37-39; Hand
10:47; Hand 22:16; Rom 6:3-4; 1 Kor 6:11; 1 Kor 12:13; Gal 3:26-29; Ef 5:25-27;
Kol 2:9-15; Titus 3:4-7; 1 Petr 3:18-22), dan is die doop nie die teken dat iemand
tot bekering gekom het nie, maar die doop is ’n verseëling van God se beloftes
aan ’n gelowige, naamlik:
-
Vergewing of afwassing van
sondes
-
Vernuwing deur die Heilige
Gees
-
Ewige lewe
-
Ens.
Dat God sy seën, sy beloftes, aan iemand
toesê.
En of dit gebeur wanneer iemand al
volwasse is, of dat iemand nog ’n baba is, in beide gevalle verbind God sy
beloftes aan daardie persoon.
Om daardie rede is daar nie ’n verskil
tussen die doop van ’n baba en die doop van ’n volwassene nie.
As die doop ’n teken of bewys was van die
feit dat iemand tot bekering gekom het, dan maak dit sin dat ’n baba nie gedoop
kan word nie.
Maar as die doop ’n teken of bewys is dat
God sy beloftes verbind aan ’n persoon, dan maak dit wel sin.
En dit is inderdaad die boodskap wat uit
die Bybel na ons toekom:
God het vir iemand gekies nog lank
voordat die iemand vir God gekies en tot bekering gekom het.
Die doop beeld as sakrament, as ritueel,
nie iets af wat die mens gedoen het nie, maar dit beeld af wat God vir daardie
mens doen.
Daarom is doop altyd ’n passiewe
werkwoord, as dit oor jouself gaan.
Jy WORD gedoop.
Wanneer die doop as seremonie dus ’n
verseëling is van God se beloftes, ’n beklemtoning dat God dit werklik aan jou
belowe, dan is dit wel belangrik om nie die volgende te vergeet nie.
Want daaroor praat die Bybel ook.
As iemand wel gedoop is, maar nooit in
die kerk kom nie, kan hy ook nie baat vind by God se beloftes nie.
Hy leer nie om God se beloftes en
seëninge in sy lewe te gebruik nie.
In daardie geval, as hy nooit in die kerk
kom nie, of in die geval van ’n kind wie se ouers hom nooit kerk toe vat nie,
beteken God se beloftes eintlik weinig.
Dis soos wanneer iemand vir jou ’n motor
present gee, maar jy het nie ’n lisensie nie.
Jy het nie geleer om dit te gebruik nie.
Op dieselfde manier kan jy vra:
Wat help God se beloftes vir jou as hulle
onbereikbaar is?
En dit bring ons by ’n belangrike
voorwaarde by die doop.
As God sy naam aan iemand se lewe
verbind, al sy beloftes beskikbaar stel, dan moet daar ’n waarborg wees, dat sy
beloftes ook daadwerklik benut gaan word.
Daarom moet ’n volwasse persoon wat
gedoop word, eers belydenis van sy geloof aflê.
Hy belowe dan dat hy altyd by die kerk
sal bly, dat hy hom desnoods sal onderwerp aan die Christelike vermaning en tug
(soos die doopsformulier dit verwoord).
Want die kerk is die plek waar jy God se
beloftes ontvang.
Die kerk (daar waar twee of drie of meer
rondom die Woord bymekaar kom) is die gemeenskap wat ons bewaar by God se
beloftes.
As iemand gedoop word, gebeur dit dus nie
vryblywend nie.
Iemand kan hom nie laat doop, as hy nie
die intensie het om kerklid te bly nie.
Net vir die duidelikheid, dit beteken nie
dat die doop nou tog ’n teken van die persoon se bekering is nie.
Die doop bly ’n teken van God se
beloftes, God se beloofde seëning van jou lewe.
Maar dit moet wel duidelik wees dat
iemand in die toekoms daadwerklik God se beloftes sal gebruik.
Dieselfde geld ook as ’n kind gedoop
word.
Die kind kan – as dit nog ’n baba is –
nie self die waarborg gee nie, maar wel sy ouers, wanneer hulle tenminste
gelowige ouers is.
Die gelowige ouers, wat wetlike
verantwoordelikheid dra, gee hierdie waarborg, as hulle op die doopvrae
antwoord.
Hulle beloof om die kind Christelik op te
voed en te laat opvoed.
Hulle aanvaar dit as hulle
verantwoordelikheid om die kind so groot te maak, sodat die kind steeds toegang
kan hê tot God se beloftes, sy seëninge.
Dis belangrik om net die volgende
misverstand uit die weg ruim.
Dit is nie so dat dat daar twee dope is,
’n volwasse en ’n kinderdoop nie.
Daar is slegs een doop.
Of ’n baba gedoop word of ’n volwassene,
dit bly dieselfde doop.
Die feit dat in een geval die ouers
antwoord, en in die ander die persoon self, maak dit nog nie verskillende dope
nie.
Want waaroor gaan die doop?
Dit gaan oor die feit dat God Drieënig sy
Naam aan ’n sondige mens verbind.
Die doop is nie ’n teken van die mens
nie.
Dis nie ’n teken van sy bekering nie.
Die doop is ’n teken van ’n aksie van
God.
Hy, die Drieënige God, verbind sy Naam
aan ’n mensekind.
Nou hoe werk dit – om vir ’n kind toegang
te gee tot God se beloftes?
Dit hou in dat jy as ouer die kind
saamvat kerk toe.
Dit hou in dat jy jou kind leer bid.
Dat jy jou kind leer om vergewing te vra
vir sy sondes.
Want laat ons wel wees, wie nie geleer
het om vergewing te vra nie, kry nie vergewing nie.
Die belofte van vergewing kry slegs hy
wat opreg en nederig daarvoor vra.
Ouers moet ’n kind ook leer om op God te
vertrou, en nie op homself of wie ook al nie.
Jy moet jou kind voorleef, hoe om elke
dag gevoed te word en geestelike energie te kry uit God se beloftes.
Dit is die manier, baie konkreet, hoe ’n
kind, van jongs af, toegang kry tot God se beloftes.
Langs die weg van ’n Christelike
opvoeding.
Om tot ’n gevolgtrekking te kom: as jy
die bedoeling van dit wat die Bybel sê oor die doop, goed verstaan, kom mens
tot die konklusie dat kinders van
gelowige ouers behoort gedoop te word.
Mens kom tot hierdie konklusie op
dieselfde manier as wat mens besef dat die Bybel ’n vrou nie verbied om nagmaal
te vier nie.
In Kolossense 2 staan dat die doop in die
plek van die besnydenis gekom het.
In Christus is ons met ’n besnydenis
besny, die besnydenis van Christus, deurdat ons met Hom begrawe is in die doop.
Pragtig word hier verduidelik hoe die
doop die besnydenis vervang het.
By die besnydenis het bloed gevloei.
Dit het vooruit gewys op die kruisdood
van Jesus Christus.
Na Christus se kruisdood, nadat sy bloed
gevloei het, is dit nou nie meer nodig dat daar nog steeds bloed moet vloei
nie.
Daarom het Jesus die besnydenis laat
ophou en die doop ingestel, die doop met water.
In die Ou Testament, toe die baba’s besny
is, het dit gesimboliseer dat hulle ook mag deel in God se beloftes.
In die Nuwe Testament mag die kinders ook
deel in God se beloftes.
In gehoorsaamheid aan die bedoeling van
die Bybel, kan mens daarom tot die gevolgtrekking kom, dat God van gelowiges
ouers verwag, as hulle hul taak besef om hulle kinders Christelik op te voed,
om die kinders te laat doop.
So word hulle – om Bybelse taal te
gebruik – ook erfgename van die beloftes van God.
Net vir die duidelikheid, die feit dat
hulle gedoop word, is nie vir hierdie kinders ‘a ticket to heaven’ nie.
As hulle later by die groot word God se
beloftes nie gebruik nie, hulle bevoorregte posisie as verbondskinders nie op
waarde skat nie, dan sal hulle nie gered word nie.
Dan sal hulle selfs – sê die Bybel – nog
swaarder geoordeel word as die ongelowiges.
God is goed vir ons.
So begin art. 33 van die NGB.
Hy kom ons tegemoet met die
sakramente.
Hulle is ‘n geskenk van ons
Heiland.
Christus skenk vir sy kerk
sakramente.
Vir ons is dit belangrik om
hierdie geskenk te bly gebruik soos Hy dit bedoel het.
Dis sal ons net nog meer na sy
wederkoms laat verlang.
Dan sal die nagmaal oorgaan in
die bruilofsmaal op die nuwe aarde.
En almal wat sy naam en die van
sy Vader op hulle voorhoofde ontvang het, en wat trou gebly het tot die einde
toe, sal aansit.
Amen.
(kyk in preek)