Ons Heiland het Homself vrywillig as Paaslam oorgegee

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-03-25
Teks: 
Lukas 22 : 39-53
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA & PRETORIA, 25 Maart
2016 AD, 9:30 (Goeie Vrydag)

Voorsang: Ps
22:5,6,7

Votum

Seën

Ps 23:1-3
(2e beryming)

Gebed

Skriflesing:
Lukas 9:18-22, 43b-45, 18:31-34

Ps 22:1,3

Teks: Lukas
22.39-53

Preek

Ps 22:9,12

Geloofsbelydenis
(NGB art. 21 & 26)

Sb 7:5,8,10

Gebed

Kollekte

Sb 9:1,5,6

Seën

Preek: Lukas 22:39-53

Ek het ‘n
keer ‘n film gesien oor die Tweede Wêreldoorlog in Frankryk.

Daar was ‘n
dorp êrens op die platteland wat ‘n groot aantal Joodse kinders as onderduikers
weggesteek het.

Die geheim
het egter na die Nazi’s uitgelek.

Tog het die
dorp dit reggekry om op die laaste nippertjie die kinders te laat ontsnap.

In die nag
voor die volgende oggend waarop die Nazi’s sou kom om alle huise te deursoek en
die kinders weg te voer, het ‘n paar bewoners die kinders in die middel van die
nag die berge ingeneem, waar hulle deur ander versetstryders weer verder geneem
is.

Toe die
Nazi’s die volgende oggend met groot kabaal aankom, het hulle tot hulle ontsteltenis
agtergekom dat al die Joodse kinders verdwyn het.

Hulle het
toe aan die dorp voorgestel:

As die
persoon wat die Joodse kinders gehelp het om te ontsnap, homself nie sou
oorlewer nie, dan sou al die manne van die dorp doodgeskiet word.

Die einde
van die film is dat ‘n jong man wat die leiding gehad het in die reddingsaksie,
homself oorgegee het.

Hy is nog
dieselfde aand deur ‘n vuurpeleton neergeskiet.

Wat in die
film die meeste indruk gemaak het, was die bereidheid van die jong man om
homself op te offer vir die dorp.

Dit het my
aan ons Here Jesus Christus laat dink.

Hoe ons
Heiland homself oorgegee het tot spot en smaad, tot marteling, ja tot die dood
aan die kruis.

 

Tema: Ons Heiland het Homself vrywillig as
Paaslam oorgegee

Die periode
voor Christus se kruisiging staan bekend as die lydensdae.

In ons teks
is dit die nag voor die dag van die kruisiging.

Een nag voor
die dag wat bepalend sou word vir die hele wêreld.

Een nag
voordat ons getroue Heiland die ergste lyde van alle tye sou deurstaan.

In hierdie
nag het Hy geweldig daarteen opgesien.

In hierdie
nag het Hy geen steun ervaar van die kant van sy dissipels nie.

Hulle wat
Hom tot dusver trou gevolg het.

‘n Nag wat
die voorbode was van die volgende dag.

Die volgende
dag waarop Hy die allerergste sou ondergaan.

Naamlik om
deur God verlaat te word.

Maar hierdie
nag was dit nog nie sover nie.

Deur sy
dissipels wel in die steek gelaat, maar deur sy hemelse Vader nog nie.

Die Vader
het naamlik ‘n engel gestuur om ons Heiland te versterk.

Ons praat
nou oor die nag van gebed van ons Heiland in Getsémané.

Die woord
Getsémané staan wel as opskrif bo die perikoop in ons Bybel, maar in die teks
van die Lukasevangelie kom dit nie voor nie.

Ons weet uit
die ander Evangelies dat Hy Homself in Getsémané bevind het.

Die Olyfberg
noem Lukas wel.

Die woord
Getsémané beteken olyweboord.

‘n Tuin of
hof vol olyfbome.

Dit het aan
die voet van die Olyfberg gelê.

Die Olyfberg
was vir Jesus en sy dissipels geen onbekende gebied nie.

Ons weet uit
hoofstuk 21 dat hulle al meerdere nagte daar deurgebring het.

Vir Judas
was dit dus ook bekende gebied.

Hy het
geweet dat Jesus graag daar was, net buite die stad, waar dit rustig was, met
die natuur om Hom heen, waar Hy in alle rus kon bid, en sy dissipels kon
onderrig.

Ook hierdie
nag het Jesus dus met sy dissipels na die Olyfberg gegaan.

Dit was ‘n
besige dag vir Hom gewees.

Net soos die
afgelope tyd was Hy die hele dag in die stad, in Jerusalem.

Hulle het
ook pas die Paasmaaltyd gevier, Hy met die twaalf.

Aan die een
kant ‘n pragtige gebeurtenis, die instelling van die nagmaal.

Aan die
ander kant ‘n gebeurtenis met enorme spanning, vanweë die feit dat Judas, die
verraaier, daarby was.

En ook
vanweë die feit dat Jesus toe al presies geweet het wat in daardie nag sou
gebeur.

 

Daarom het
Jesus nou ook, noudat hulle by die Olyfberg aangekom het, en die tuin van
Getsémané binnegegaan het, by sy dissipels daarop aangedring dat hulle moes
bid.

Hy het
geweet wat hulle te wagte gestaan het.

“Bid dat
julle nie in versoeking kom nie” het Hy hulle op die hart gedruk (vers 40).

Self het
Jesus ook indringend begin bid.

Hy het
Homself opsetlik op ‘n kort afstand van hulle verwyder.

‘n Klipgooi.

Sê maar 50
meter of soiets.

In die
verslag van Lukas lees ons nie dat Jesus tot drie keer toe teruggekom het by sy
dissipels nie, en dat Hy hulle tot drie keer toe slapende gevind het, en dat Hy
telkens weer weggegaan het om opnuut te bid nie.

Wel weet ons
dit uit die ander Evangeliebeskrywings.

Nie dat
Lukas nie hiervan op die hoogte was nie.

Hy gebruik
‘n werkwoordsvorm wat mens so sou kon vertaal, sien vers 41:

Jesus het
elke keer opnuut gebid:

“Vader, as U
tog maar hierdie beker van My wil wegneem!”

Hierdie
beker van My wil wegneem ...

‘n Beker is
in die Bybel ‘n bekende woord.

Dit word
gebruik as ‘n beeld vir ‘n groot hoeveelheid goed of kwaad.

In Psalm 11
staan byvoorbeeld:

Die HERE sal
“op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal
die deel van hulle beker wees.” (vers 6)

Of in Psalm
23 as aanduiding vir oorweldigende goedheid:

“U maak my
hoof vet met olie; my beker loop oor.” (vers 5)

Ons Heiland
bid hier dus vurig dat die lydensbeker Hom bespaar sal bly.

Nederig maar
baie indringend lê Hy hierdie versoek voor sy Vader neer.

Ons weet wat
daar gebeur het.

God het die
versoek nie ingewillig nie.

Tog het God
Homself nie onbetuig gelaat nie.

Hy het Hom
gehelp om deur hierdie uur van ontsettende benoudheid te kom.

Hy het ‘n
engel uit die hemel gestuur, om Jesus krag te gee.

Die mense,
die dissipels, het gelê en slaap.

Die kroon
van God se skepping, die mens, kan leer by hulle wat minder as hy is.

By die
engele, God se diensknegte, God se gewillige boodskappers.

As die seuns
afdwaal, aan die slaap raak, bly die diensknegte getrou op hulle pos.

So verskyn
‘n dienskneg van God, ‘n engel, op sy bevel om Jesus krag te gee, sodat Hy deur
hierdie uur kon kom.

Vandag nog
wel.

Môre nie
meer nie.

Môre sou
daar geen engel meer kom nie.

Geen engel
om Hom krag te gee, toe Hy aan die kruis gehang het nie.

Môre sou God
self sy rug op Hom draai.

Jesus het
geweet dat dit sou kom.

Dit was die
rede vir sy angs.

Vir die
sweetdruppels van sy angs, wat soos bloeddruppels geword het hierdie nag in
Getsémané.

Iets wat
baie selde voorkom, volgens die dokters.

Lukas was
self ‘n dokter.

Hy was
skynbaar geweldig onder die indruk.

Dat angs en
stress, die opsien teen iets, sulke fisiologiese gevolge kon hê!

Gemeente, ek
wil graag u aandag vra vir die volgende.

Jesus het
naamlik reeds alles geweet wat sou volg.

Meerdere
male het Hy met sy dissipels al daaroor gepraat.

Hulle kon
Hom toe nog in alles verstaan nie.

Maar Jesus
het presies geweet wat Hom te wagte gestaan het.

En waarvoor
ek u aandg vra is vir die feit dat ons Heiland dit nie uit die weg gegaan het
nie.

As profeet
van die Allerhoogste het Hy trou aan sy opdrag gebly.

Uit die Ou
Testament ken ons verskillende profete wat hulle opdrag as baie swaar ervaar
het.

Soseer dat
hulle hulle taak neergelê het.

Dink aan
Jona, wat na die Weste pleks van die Ooste gereis het.

Dink aan
Elia, wat, heeltemal depressief, in die woestyn die eensaamheid opgesoek het.

By ons
Heiland sien ons dieselfde.

In die sin
dat sy taak loodswaar op sy skouers gedruk het.

Tog het Hy
nie ingegee nie.

Hy het die
konfrontasie nie uit die weg gegaan nie.

Hy het
geweet dat Judas hom op die Olyfberg, in die tuin van Getsémané, sou kom
verraai.

Hy het
geweet dat Judas soldate met hom saam sou vat.

Hy het
geweet dat Judas Hom met ‘n kus sou verraai.

Hier in
Suid-Afrika vind ons dit raar, as jy sien dat manne mekaar soen.

Maar in die
Midde-Ooste was dit nie ongewoon nie, byvoorbeeld dat leerlinge hulle leraar
gekus het.

‘n Gebaar
wat uitdrukking daaraan gegee het dat daar ‘n noue band bestaan het tussen die
twee.

Hierdie
alledaagse gewoonte het egter nou vir Judas ‘n gebaar van verraad geword.

Ook hiervan
het Jesus geweet dat dit sou gebeur.

Hy het Homself
laat kus.

Hy het
Homself laat verraai.

Geliefdes,
dit is so opvallend.

Jesus word
nie gevange geneem nie.

Nee, Jesus laat Homself gevange neem.

Hy verbied
sy dissipels om Hom met die swaard te verdedig.

Dit was alweer
Petrus wat homself nie kon bedwing nie, wat die regteroor van die slaaf van die
hoëpriester afgekap het.

Ook weer so
‘n detail opmerking wat vir ‘n dokter – Lukas – opvallend was.

Jesus het
die oor gevat en die man weer gesond gemaak.

Deesdae maak
dokters soms mee dat hulle iemand se gesig wat in ‘n motorongeluk vermink is,
moet rekonstrueer.

Ons noem dit
deesdae plastiese sjirurgie.

Lukas – die
dokter – verbaas homself oor wat Jesus hier reggekry het.

Sy
doktershart het hoë agting vir hierdie wonderdaad.

Geen urelang
durende operasie nie, met een handeling het Hy die man genees.

Sy oor was
weer vas aan sy kop soos vroeër, selfs geen litteken nie, en die man kon sy oor
weer gebruik om te hoor.

Ook hierdie
slaaf sou met daardie selfde oor van hom drie dae later hoor dat hierdie Jesus
wat hy gevange geneem het, dat hierdie einste Jesus opgestaan het uit die dood!

Gemeente,
ook hierdie detail van die oor van die slaaf bevestig dat Jesus bewus sy lyde
tegemoet gegaan het.

Hy het die
konfrontasie nie uit die weg gegaan nie.

Nie in die
sin dat Hy sy dissipels toestemming gegee het om te veg sodat Hy kon ontsnap
nie.

Nee, Hy het
Homself laat gevange neem, want Hy
het reeds geweet watter taak daar die volgende dag vir Hom gewag het.

Hoe Hy
gegesel sou word.

Hoe sy hoof
en gesig vermink sou word deur die vuishoue, deur die doringkroon, deur die
sweepslae.

‘n Sweep het
in daardie dae yster stukkies aan gehad, wat bedoel was om stukkies vleis uit
jou gesig, uit jou liggaam te skeur.

Jesus,
Profeet van die Allerhoogste, Man wat die oor van ‘n teenstander van Hom genees
het, Jesus het sy wonderbaarlike vaardighede die volgende dag nie vir Homself
gebruik nie.

Sy eie
gehawende gesig het Hy die volgende dag nie op ‘n wonderbaarlike wyse herstel
nie.

Sy
teenstanders het Hy ook nie die see ingejaag, soos Hy destyds met die varke
gedoen het nie.

Die ore van
die soldate wat groot spykers deur sy hande en voete gekap het, het Hy nie
afgekap nie.

Gemeente,
wie ‘n oor het, laat hom luister na hierdie boodskap.

Hiervoor vra
ek vandag u aandag:

Dat Jesus
Homself bewus gevange laat neem het.

Dat Jesus
bewus gely het.

Dat Jesus
Homself vrywillig as Paaslam oorgegee het.

Hy het
Homself ter slagting laat lei.

Hy, wat as
Hoëpriester Homself aangebied het.

Die mense
het nog geskreeu toe Hy aan die kruis gehang het:

Ander het Hy
gered, laat Hy nou Homself red, indien Hy die Christus, die Gesalfde van God
is!

En die
soldate het saamgeskreeu:

Indien U die
Koning van die Jode is, red dan Uself!

Gemeente, as
offerlam het Hy Homself ter slagting laat lei.

Hy, wat as
ons hoogste Profeet en Leraar die konfrontasie opgesoek het.

Die juiste konfrontasie.

Ons sien
daarvan al iets in vers 52 en 53.

Jesus spreek
daar sy verbasing uit oor die feit dat hulle Hom so in die geheim kom gevange
neem het.

Hoekom doen
hulle dit in die middel van die nag?

Dit lyk wel
of Ek ‘n rower is, wat oordag nêrens te vinde is nie.

Hoekom trek
julle teen My uit met swaarde en stokke, asof julle ‘n rower gaan vang?

Julle sien
My mos elke dag in die tempel!

Hoekom het
julle nie daar ‘n hand teen My uitgesteek nie?

Of was dit
miskien omdat julle bang was vir die volk?

Of was dit
miskien omdat julle self innerlik getwyfel het?

Jesus het
Homself laat gevange neem.

Gemeente, Hy
het die gang van sake so bestuur dat Hy geen dag te vroeg, maar ook geen dag te
laat, gevange geneem is.

Hy, as
Offerlam vir die wêreld, is gevange geneem as voorbereiding op die Paasfees.

Hy is
veroordeel, en op daardie Paasfees sou Hy geoffer word, die Lam wat deur God
aangewys is.

Geoffer op
die dag wat God in sy wet aan Moses daarvoor aangewys het.

Daarom het
Jesus Homself laat gevange neem juis in daardie nag.

Die
owerpriesters, die hoëpriester, die Skrifgeleerders, die wêreld, hulle het nie
die regie in hande gehad nie.

Ook die
Romeine nie, die Sanhedrin nie, ook Judas nie.

Die
Allerhoogste, waarvan Jesus die Profeet was, Hy het die regie behou.

En Jesus het
geweet wie sy grootste teenstander was in hierdie stryd.

Dit blyk uit
wat Jesus sê in vers 53:

“Maar dit is
julle uur en die mag van die duisternis.”

Want dit was
God almagtig wat net soos by Job destyds, ook nou in hierdie nag die satan
toestemming gegee het om baie ver te gaan.

Dit het wel
gelyk of die satan Hom heeltemal in sy mag kon kry.

Destyds het
God die satan toegelaat om die troue Job te versoek.

U ken die
geskiedenis van Job.

Nadat hy al
sy besittings verloor het, meer nog, na die dood van al sy kinders, meer nog,
nadat ook sy vriende en sy vrou teen hom gedraai het, het Job sy geboortedag
vervloek.

Sou dit by
ons Heiland ook gebeur?

Sou Hy dit
so benoud kry dat Hy sy geboortedag
sou vervloek?

Sou Hy die
dag van die heilige ontvangenis van Maria deur die Heilige Gees vervloek?

Jesus het
dit so benoud gekry, nog meer as Job.

Maar ‘n
woord van vervloeking, ‘n verwyt het nie oor sy lippe gekom nie.

Soos ‘n lam
ter slagting het Hy Homself laat voortlei.

In alle
prosesse wat sou volg, voor die 
Sanhedrin, voor Pilatus, voor Herodes, weer voor Pilatus, onder alle
martelinge, op die lydensweg na Golgota, waar ook al, daar het geen woord te
veel oor sy lippe gekom nie.

Ook geen
woord te weinig nie.

Voor die
Joodse Raad het Hy die waarheid getuig:

“Van nou af
sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.” (Luk
22:69)

Die
waarheid, sy hoë afkoms, het Hy nie verloën nie.

Maar
tegelykertyd het Hy Homself laat voortlei soos ‘n lam, stom na die slagting.

Hy het
gewillig gebuig, Hy het Homself oorgegee, vir ‘n wêreld vol skuld.

Geliefde
gemeente, ook vandag in die 21e eeu, bepaal hierdie beslissende gebeurtenis ons
lewe.

Ook vandag
kom ons onder die indruk van sy lydensweg.

Die weg wat
Hy bewus gekies het, om ons in vryheid te stel.

En dit sal
so deurgaan, dat mense sy lydensweg sal herdenk, tot op die jongste dag.

Totdat Hy,
ons Heiland, vir goed sal terugkeer.

As hemel en
aarde verenig sal word.

Ons weet nie
wanneer dit sal wees nie.

Dit kan in
die 21e eeu wees.

Dit kan oor
‘n week gebeur.

Dit kan ook
eers in die 31e eeu gebeur, of miskien nog wel later.

Vir God is
duisend jaar soos een dag, en een dag soos ‘n duisend jaar.

Ons laat dit
aan Hom oor.

Hy het die
regie in hande.

Hy bepaal
die wêreldgeskiedenis.

Hy bepaal
ook jou en my lewe.

Deur die
Paaslam bied Hy jou vergewing van skuld aan.

Bevryding
van die dood.

Deur Jesus,
die Gesalfde, die Paaslam.

Daardie
Joodse Man, wat toe in Palestina geleef het, afstammeling van koning Dawid.

Daardie
Joodse Man, wat terselfdertyd eg en ewig God was en is en sal wees.

So het God
dit verorden.

Dat die
ewige verlossing deur hierdie Man aan u aangebied sou word.

So het dit
inderdaad gebeur.

Toe, in
Jerusalem.

Bedoel nie
net vir Jerusalem nie, maar vir die hele wêreld.

Bedoel nie
alleen vir toe nie, maar vir alle tye.

Bedoel ook
vir u.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)