Die Gees van die verhoogde Christus bepaal Paulus se koers

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-05-15
Teks: 
Handelinge 16 : 6-12
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 15 Mei 2016 AD, 10:15
(Pinkster)

Votum

Seën

Ps 84:2,5

Wet

Ps 114:1-4

Gebed

Skriflesing:
Handelinge 15:40-16:12

Ps 84:4

Skriflesing:
Handelinge 21:1-14

Ps 84:6

Teks:
Handelinge 16:6-12

Preek

Sb 13:3,8,9

Gebed

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën

Preek: Handelinge 16:6-12

Van die
Noord-Kaap in Noorweë tot Kaap Aghulhas in Suid-Afrika vind mens deesdae in
omtrent elke stad ‘n kerkgebou.

Maar toe
Paulus destyds op sy sendingsreise uitgetrek het, was die gebiede waardeur hy
gereis het, nog heeltemal heidens.

Niemand het
nog gehoor van ‘n God wat aan die mensdom genade bewys het deur sy Seun as
Verlosser na die aarde te stuur nie.

In Romeine 1
skets Paulus die wêreld van sy dae.

Die beroemde
Grieks-Romeinse kultuur was eintlik ‘n rioolput waaruit ‘n walm van
ongeregtigheid opgestyg het.

Die mense
het die lewende God ingeruil vir afgode.

Hulle was
verduister in hulle verstand.

Die het ook
vir Europa gegeld. Ons Germaanse voorouers het sonder hoop en sonder die
lewende God geleef.

Jesus, die
Oorwinnaar oor dood en graf, het hulle nie geken nie.

Hulle het die
afgode Wodan en Donar gevrees.

Hulle hele
wêreldbeeld is beheers deur die bose geeste, wat in diens staan van die satan.

Maar in ons
teks lees ons oor ‘n ander Gees.

Die Heilige
Gees.

Tema: Die Gees van die verhoogde Christus
bepaal Paulus se koers

  • Hy lei Paulus na die Weste, na
    Europa

  • Hy lei ons lewe volgens God se
    wil

  • Hy lei Paulus na die Weste, na
    Europa

    Dit was die
    Heilige Gees wat die apostel Paulus met die Evangelie in die rigting van Europa
    gestuur het.

    As mens na
    die geografiese gegewens in ons teks kyk, is dit so dat Paulus hier die oorstap
    maak vanuit Asië na Europa, die wêrelddeel waar die meeste van ons voorouers
    vandaan kom.

    As hy voet
    aan wal sit in Neapolis, was dit die eerste keer wat hy hom op Europese
    grondgebied bevind het.

    Dit is
    teenswoordig êrens in die grensgebied tussen Macedonië en Bulgarye. Ons teks
    handel oor ‘n gebeurtenis wat, veral as mens na 20 eeue weer terugkyk, van
    enorme historiese konsekwensies was.

    In ons
    geskiedenis is die moment waarop Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het aan
    die Kaap, van historiese betekenis.

    Maar die
    moment waarop die apostel Paulus vir die eerste keer voet aan wal gesit het op
    die kontinent Europa, is vir ons van nog veel groter historiese betekenis. Hier
    begin naamlik die kerstening van Europa.

    Die
    koerswending waarvan ons in ons teks lees, was nie toevallig nie, maar dit was
    bewus so aangestuur deur die Heilige Gees.

    En soos ons
    weet, die kerstening van Europa het op sy beurt weer bygedra tot die kerstening
    van ander wêrelddele, ander kontinente, soos Amerika, Australië asook Afrika.

    Maar,
    gemeente, as dit toe van Paulus afgehang het, sou hy op die vasteland van
    Klein-Asië gebly het. Lukas, skrywer van hierdie reisverslag, vestig ons aandag
    daarop dat nie Paulus nie, maar die Heilige Gees die reisroete bepaal het.

    In ons teks
    beskryf Lukas hoe die Heilige Gees drie keer heel bewus ‘n koerskorreksie
    aanbring in Paulus se reisplanne.

    Die eerste
    korreksie van die Gees was dat Hy Paulus verhinder het om die Evangelie op
    daardie oomblik in die provinsie Asië te verkondig.

    As u op ‘n
    kaart kyk, sal u sien dat Klein-Asië destyds in verskillende provinsies verdeel
    was. Een van hulle het die naam Asië gehad.

    Ons weet dat
    Paulus eers later, op sy sogenaamde derde sendingsreis, geleentheid gekry het
    om ook in hierdie provinsie die Evangelie te bring.

    Hoe die
    Heilige Gees hierdie koerskorreksie bekend gemaak het, vermeld Lukas nie. Was
    dit deur ‘n profesie? Of was dit deur ‘n gesig?

    Was dit deur
    omstandighede, wat hulle weerhou het om langer in Asië te bly? In elk geval het
    dit vir Paulus duidelik geword dat Hy nie na die westelike provinsie Asië nie,
    maar in noordelike rigting moes verder reis.

    Sodoende het
    hulle deur die provinsies Frigië en Galasië getrek.

    Daar is
    gemeentes gestig.

    En toe hulle
    by die grens van Misië gekom het, wou hulle nog verder noord deurreis, in die
    rigting van Bithinië, dit was een van die mees noordelike provinsies van
    Klein-Asië, wat gegrens het aan die Swart See.

    Hier het
    stede gelê soos Nicea en Chalcedon. Stede met groot Joodse bevolkings. Paulus
    se oogmerk was om die hele vasteland van Klein-Asië deur te trek.Dit is op sig
    nie verbasend nie, aangesien Paulus self ‘n persoon was wat afkomstig was uit
    Klein-Asië. Gebore in Tarsus, in die suidelike provinsie Silisië. As dit aan
    hom sou gelê het, het hy in Klein-Asië bly arbei, en het die Evangelie op
    daardie stadium nie vir Europa bereik nie.

    Maar nou
    volg daar ‘n tweede ingreep van die Heilige Gees.

    Ons lees in
    ons teks: “maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie” – naamlik om na
    Bithinië te gaan.

    Die Heilige
    Gees is een Persoon in God Drieënig.

    Op
    Pinksterdag is Hy uitgestort.

    Sedert
    Pinkster is Hy besig om Christus se verlossingswerk op aarde voort te sit. Die
    Seun is weer in die hemel, Hy het plaasgeneem op die troon.

    Die Gees sit
    die werk op aarde voort.

    En omdat die
    verheerlikte Christus sy kerk ook in Europa wil plant, sorg Hy dat sy Gees
    Paulus se reisroete bepaal.

    Paulus is
    nie toegelaat om deur te reis na die Noorde en die Ooste nie.

    Nee, op
    hierdie oomblik stuur Christus hom deur sy Gees na die Weste.

    By hierdie
    koerskorreksie deel Lukas ons ook nie mee hoe die Gees dit aan Paulus te kenne
    gegee het nie.

    Hulle het
    dus verder getrek, gehoorsaam aan die leiding van die Gees, deur Misië totdat
    hulle die hawestad Troas bereik het.

    Dit is aan
    die kus van die Egeïese See, in die uiterste weste van Klein-Asië.

    Maar,
    waarheen moes hulle nou gaan? Waar wou die Here hulle nou stuur?

    En dan kom
    ons by die derde koerskorreksie.

    Hierdie keer
    is dit nie ‘n verhindering soos die voorafgaande kere nie.

    Hierdie keer
    is dit ‘n positiewe rigtingaanduiding.

    En oor
    hierdie derde koerskorreksie vermeld Lukas wel meer details.

    Dit het in
    die nag gebeur.

    Paulus het
    ‘n gesig in die nag gesien, waarin daar duidelik ‘n man uit Macedonië was wat
    hom gesmeek en gesê het:

    Kom oor na
    Macedonië en help ons!

    Macedonië
    het aan die oorkant van die Egeïese See gelê.

    In vers 10
    lees ons vervolgens dat Paulus en sy geselskap hierdie gesig ernstig geneem
    het.

    Hulle het
    tot die slotsom gekom dat in die oproep van die Macedoniër die stem van God
    geklink het.

    En dus het
    hulle dadelik in Troas na ‘n geleentheid begin soek om oor te vaar.

     

    Ek weet nie
    of dit u al opgeval het nie, maar vanaf hierdie vers – vers 10 – verander Lukas
    sy reisverslag van die derde persoon – hy het tot dusver die heeltyd oor hulle geskryf, na die eerste persoon – ons.

    Voortaan
    sluit hy homself dus by die reisgeselskap in.

    Ons kan
    hieruit aflei dat Lukas vanaf hier – vanaf Troas – by Paulus se reisgeselskap
    aangesluit het.

    ‘n Deel van
    Paulus se reis het Lukas dus werklik as ooggetuie meegemaak.

    Hoe Lukas
    hier in  Troas uitgekom het, waar Lukas
    woonagtig was, waar Lukas as dokter gewerk het, dit word nie beskryf nie.

    Maar
    sedertdien het Lukas vir Paulus tot groot steun geword, vir die res van sy
    lewe.

    Aan die
    einde van Paulus se lewe, as hy ‘n brief aan Timotheüs skryf, noem hy dat Lukas
    ook op daardie oomblik by hom is – 2 Timotheüs 4:11.

    So het dit
    dus gebeur, op die môre na die nag waarin Paulus die gesig ontvang het, dat
    daar vier manne langs die hawe van Troas geloop het, saam op soek na ‘n skip
    waarmee hulle so spoedig moontlik na Macedonië sou kon oorvaar.

    Want, skryf
    Lukas, toe ons die feite op ‘n rytjie geplaas het, het alle stukkies soos ‘n
    legkaart inmekaar gepas.

    Goddelike
    leiding sluit menslike oorleg nie uit nie.

    Hulle het
    saam tot die slotsom gekom dat God hulle na die oorkant van die see roep.

    God het
    hulle prediking in Asië, in Misië en Bithinië opsetlik verhinder, omdat Hy
    hulle na die oorkant van die see wou stuur.

    Hulle
    reisdoel was nou dus: die hawe van Neapolis en die stad Filippi.

    Dit sou die
    poort word vir die Evangelie na Europa.

    Nou dink u
    dalk: sjoe, so baie name, so baie geografiese aanduidings, al die provinsies,
    dorpe en stede wat genoem word.

    Dit klink
    inderdaad soos ‘n baie noukeurige reisbeskrywing.

    Tog gee
    Lukas eintlik maar net globaal die roete aan wat Paulus afgelê het.

    Die
    provinsiename. En dit was behoorlike groot provinsies.

    Lukas skenk
    eintlik veel meer aanag aan die Goddelike leiding, wat vir hulle duidelik gemaak
    het dat Paulus sy werkterrein moes verskuif van Klein-Asië na Griekeland.

    As ons
    onsself nou afvra wat hierdie teks vir ons vandag beteken, watter boodskap dit
    vir ons het, dan moet ons begin om in die eerste plek ons dankbaarheid uit te
    spreek.

    Juis op ‘n
    dag soos vandag, waarop ons die Pinksterfees, die uitstorting van die Heilige
    Gees herdenk.

    Dank aan ons
    verhoogde Here, wat gesorg het dat sy Evangelie oor die wêreld versprei is.

    Dat Hy dit
    so gelei het dat Europa die Evangelie mog ontvang, dat Europa gekersten is.

    En nie net
    Europa nie, daarna ook Amerika, en ook Afrika waar ons woon.

    Soos ek
    genoem het, vanaf die Noordkaap in Noorweë tot by Kaap Aghulhas vind mens
    teenswoordig in omtrent elke stad ‘n kerkgebou.

    Dit is,
    alhoewel, nie ‘n waarborg dat dit altyd so sal bly nie.

    Ons word
    vandag gekonfronteer met masale afval van die Evangelie, in Europa, en ook hier
    in Suid-Afrika.

    Volke wat in
    die verlede gekersten is, begin weer los en vervreemd van die kerk te lewe. Die
    geestelike en materiële seëninge wat die Westerlinge ontvang het, hulle
    welvaart, het juis aanleiding geword dat hulle begin dink het dat hulle God nie
    meer nodig het nie.

    Hulle het
    God die rug begin toekeer, meer spesifiek, hulle het begin beweer dat Hy nie
    bestaan nie. Hoeveel atheïste of agnostisiste is daar nie deesdae in die
    Westerse wêreld nie. Volgende naweek, DV, gaan ons op die jeugkamp veral na
    hierdie ontwikkeling in die Westerse wêreld kyk, en hoe dit jou as jongmens
    vandag raak.

    Hoe is dit
    moontlik, dat juis daardie Boek wat die Westerse wêreld so suksesvol gemaak
    het, nou aan die kant gegooi word asof dit onbetroubaar is? Hoe is dit
    moontlik, dat juis daardie godsdiens, wat die Westerse wêreld so stabiel,
    regverdig en verdraagsaam gemaak het, nou massaal verlaat word?

    Maar, soos
    ek genoem het, op hierdie dag, Pinksterdag, in die eerste plek, laat ons ons
    dankbaarheid uitspreek!

    Dank aan
    God. Hy het die geskiedenis gelei. Hy het die voetstappe van Paulus gelei. Hy
    het deur hierdie gesig, waarvan ons in die teks lees, gesorg dat Paulus voet
    aan wal gesit het in Europa.

    (Tema: Die
    Gees van die verhoogde Christus bepaal Paulus se koers

  • Hy lei Paulus na die Weste, na Europa)

  • Hy lei ons lewe volgens God se
    wil

    En dan, in
    die tweede plek, is daar nog iets anders wat ons aandag vra in die teks. En dit
    is die werking, die leiding van die Heilige Gees.

    Juis Hom
    ontmoet ons in die teks. Hom en dit wat Hy gedoen het.

    En dan kom
    onwillekeurig die vraag op ons af:

    Wat doen die
    Heilige Gees vandag? Hoe lei die Heilige Gees vandag jou lewe? Kan jy ook ‘n
    gesig ontvang van die Gees, soos Paulus en sy reisgeselskap ontvang het?

    Dit is vrae
    wat ons veral vandag, op Pinksterdag, besig hou.

    Hoe is die
    Heilige Gees aanwesig in ons lewe vandag?

    Hoe lei Hy
    sy kerk vandag?

     

    In ons teks
    het die Gees tot drie keer toe ‘n koerskorreksie aangebring in Paulus se
    reisplanne.

    Oor die
    eerste twee keer, hoe die Gees dit presies gedoen het, word ons nie nader
    geïnformeer nie.

    Oor die
    derde keer wel, dit het gebeur deur ‘n gesig, ‘n visioen.

    Nou die
    vraag: doen die Heilige Gees dit vandag nog steeds?

    Hoe werk die
    Heilige Gees? Hoe bestuur Hy jou lewe?

    Sê nou maar
    ‘n dominee ontvang ‘n beroep, hoe ervaar Hy die leiding van die Gees, om
    duidelikheid te kan kry wat hy moet doen, watter rigting hy moet opgaan?

    Of sê nou
    maar jy staan voor ‘n belangrike kruispunt in jou lewe, hoe kry jy
    duidelikheid?

    Nou om te
    begin, gemeente, is dit in hierdie opsig belangrik om te besef:

    Ons spreek
    hier oor die Gees van die Vader en die Seun.

    Op grond van
    die Skrif het die kerk deur die eeue heen bely: die Gees gaan van die Vader en
    die Seun uit.

    Dink aan
    hierdie woorde uit die Geloofsbelydenis van Nicea.

    Wat word
    eintlik hiermee bedoel?

    Dit is nie
    net teologie, teorie nie, hierdie belydenis het ook praktiese konsekwensies. Laat
    ons begin met die Vader, God die Vader.

    Ons bely in
    die Geloofsbelydenis dat Hy die Skepper is van hemel en aarde.

    Hy het alle
    dinge laat ontstaan.

    Alle dinge
    getuig van sy magtige Skeppershand, van sy voorsienigheid, van sy onderhouding
    van alle dinge.

    En dit alles
    het Hy gedoen, en doen Hy, deur sy Gees.

    Die Heilige
    Gees is aktief in God se skepping.

    As dit lente
    word, as blomme en blare weer uitspruit, dan bely ons: die Heilige Gees is aan
    die werk. Hy is aktief deur alle seisoene heen.

    So spreek
    God die Vader met ons, deur sy skepping, onderhouding en regering van alle
    dinge, soos ons in NGB art. 2 bely.

    Met skepping
    verwys ek na die hele werklikheid.

    Ook die
    mensewêreld. Ook jy as mens, wie jy is, hoe jy gemaak is.

    Ook God se
    leiding van jou lewe.

    So bely ons
    dat ‘n mens nie toevallig sy lewensmaat ontmoet nie.

    Dit is God
    die Gees wat jou lewe so lei.

    Ons kan
    selfs bely, dat geen enkele droom wat ‘n mens het, toevallig is nie.

    In alles, of
    jy waak en of jy slaap, in alles lei die Heilige Gees jou lewe.

    En alles kan
    Hy ook inskakel in die leiding van jou lewe.

    Dit is
    belangrik dat ons met hierdie besef lewe.

    Alles om ons
    heen, die hele werklikheid, spreek van God, sy skepping, onderhouding en
    regering van alle dinge. In alles spreek God tot ons.

    In die
    Nederlandse Geloofsbelydenis word in artikel 2 samevattend die tweede ‘boeke’
    genoem waardeur God tot ons spreek.

    Die dikste
    boek, dit is die boek van die skepping.

    Die Heilige
    Gees openbaar God se heerlikheid daardeur aan ons.

    Dit in die
    eerste plek.

    Maar
    dieselfde Gees is ook die Gees van die Seun.

    Hy gaan uit
    van die Vader en die Seun.

    Die Seun
    spreek tot ons deur sy Gees en Woord.

    Die Gees van
    Christus gebruik die Woord, dit is die tweede Boek, die Bybel, om baie direk
    met ons te spreek.

    Christus het
    daarvoor gesorg dat die wil van sy Vader, sy heilsplan, swart op wit in Bybel
    opgeskryf is.

    Danksy
    Christus se Woord weet ons presies wie die hemelse Vader vir ons is, en wat sy wil
    met ons lewe is.

    Nogmaals:
    Die Gees gaan uit van die Vader en die Seun. Albei.

    Hierdie twee
    mag mens nie teen mekaar uitspeel nie.

    Dit sou
    byvoorbeeld kon gebeur in die volgende geval:

    Sê nou maar
    ‘n mens sou beweer dat hy ‘n boodskap van die Gees ontvang het, dalk’n openbaring,
    dalk selfs ‘n gesig of visioen.

    Maar daardie
    boodskap staan wel op gespanne voet met die Bybel.

    Dit kan dus
    nooit nie. Dit is een Gees. Die Gees
    spreek Homself nie teen nie.

    Alle
    boodskappe wat ons via die eerste Boek, die geskape werklikheid, ontvang, moet
    ons daarom toets aan die tweede Boek, die Woord van Christus. In feite het
    Paulus dit ook gedoen. Hy het ‘n gesig ontvang in die nag. Daardeur is hy
    oorgehaal om na Macedonië te vaar.

    Hy het
    oopgestaan vir God se leiding in sy lewe.

    Maar, aan
    die ander kant, het dit nie beteken dat Paulus alle gesigte, boodskappe en
    visioene wat hy te hore gekry het, klakkeloos nagevolg het nie. Alles moes eers
    getoets word aan die wil van die verhoogde Christus, aan sy Woord.

    So vind ons
    byvoorbeeld ‘n paar hoofstukke verder die opmerklike feit dat Paulus ‘n
    boodskap ontvang het van ‘n aantal dissipels in die stad Tirus.

    Handelinge
    21:4.

    Hulle het
    vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie.

    En in vers
    11 kom dit nog ‘n keer terug, as ‘n waarskuwing dat daar probleme vir Paulus
    wag in Jerusalem:

    Deur die
    Heilige Gees het die profeet Agabus vertel dat boeie en gevangenskap vir Paulus
    in Jerusalem gewag het.

    Sy
    reisgeselskap het hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie.

    Tog,
    desnieteenstaande, het Paulus na Jerusalem vertrek.

    Was hy in
    hierdie geval ongehoorsaam aan die leiding van die Gees?

    Ek glo nie
    so nie.

    Lukas
    beskryf in hierdie Bybelboek juis dat dit God se plan was om deur Paulus se
    gevangenskap hom uiteindelik in Rome te bring.

    Ons sien dat
    elke boodskap wat Paulus ontvang het, dat hy dit geweeg en beoordeel het, en
    homself afgevra het wat God se plan presies met sy lewe was. Soos hy in
    Handelinge 21:13 sê: “ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook
    om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus. Toe hy dan nie oor
    te haal was nie,” – skryf Lukas – “was ons tevrede en het gesê: Laat die wil
    van die Here geskied!” (vers 14)

     

    Vandag, op Pinksterdag,
    staan ons stil by die uitstorting van die Heilige Gees en sy werking in ons
    lewe. Die Heilige Gees gaan van die Vader en die Seun uit. Dit is baie
    belangrik dat ons dit goed vashou, en met hierdie besef lewe. Die besef dat ons
    lewe onder ‘n oop hemel, dat God daagliks met ons kommunikeer. Elke dag is daar
    baie boodskappe wat ons bereik.

    Deur sy
    skepping, deur die mense wat ons ontmoet, deur die gang van ons eie lewe. Maar
    of iets ‘n boodskap van God is, kom ons agter wanneer ons dit toets aan sy
    geopenbaarde Woord. So lei die Heilige Gees ons lewe.

    Die Gees van
    die Vader, wat alles geskape het en onderhou.

    Hy wat ook
    die Gees van die Seun is, wat aan ons die wil van die Vader so duidelik geopenbaar
    het, in sy Woord.

    In ons
    Gereformeerde tradisie is ons soms geneig om te vergeet dat die Gees ook van
    die Vader uitgaan. Dat die Vader daagliks tot ons spreek in sy skepping. Deur
    die hele geskape werklikheid.

    Daarom, vra
    u elke dag af, hoe God met u kommunikeer.

    Deur die
    skoonheid van die skepping, die prag van die seisoene.

    Maar ook
    deur byvoorbeeld natuurrampe.

    Of as u deur
    ‘n siekte getref word.

    Of as u
    geseën word met welvaart, met kinders, met kleinkinders, met vriende en
    vriendinne.

    Of as u in
    die nag, veral op die platteland, omhoog kyk na die sterrehemel.

    Soos Psalm
    19 sing: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die
    werk van sy hande.” (vers 2)

    Dit gebeur
    sonder spraak en sonder woorde, maar tog vertel die skepping ‘n groot verhaal
    oor sy Skepper. (vers 4)

    Maar daar is
    ook ‘n ander uiterste, wat in ons samelewing hier in Suid-Afrika baie algemeen
    is.

    Die feit dat
    mens nooit die Heilige Gees, en sy leiding van jou lewe, mag uitspeel teen die
    Bybel, teen God se geopenbaarde wil, nie.

    Want nooit
    sal die Gees boodskappe aan mense gee wat teen die Skrif ingaan nie. Om ‘n
    voorbeeld te noem.

    As iemand sy
    vrou in die steek laat, en ‘n ander een vat, en dan as argument gebruik:

    Ek het dit
    aan die Here in my gebed verduidelik, en sy Gees het my rus gegee, Hy het my die
    gevoel gegee dat God verstaan en vrede daarmee het.

    So ‘n
    persoon maak of hy met God gekommunikeer het, en asof God saamstem met iets wat
    juis in stryd is met God se wil in die Bybel.

    In so ‘n
    geval was dit beslis nie die Heilige Gees wat daardie persoon ‘n geruste gevoel
    gegee het nie, maar eerder ‘n bose gees, wat van die duiwel af kom. Die Heilige
    Gees en die Woord kan en mag dus nie van mekaar geskei word nie. Hy is die Gees
    van die Vader en van die Seun.

    Vandag
    herdenk ons dat Hy uitgestort is. Hy lei ons lewe.

    Hy spoor ons
    aan om elke dag by ‘n oop Bybel te lewe, en om van daaruit ook sy stem te hoor
    in die skepping om ons heen.

    Ook jou lewe
    lei Hy, net soos Paulus s’n, al is jy nie ‘n apostel of evangelis nie. Hy lei
    sy kerk, en elke lidmaat, se lewe.

    Staan oop
    daarvoor, moenie jou daarteen verset nie.

    Want Hy gaan
    uit van jou Vader, wat jou Skepper is, en Hy gaan uit van die verhoogde
    Christus, wat jou Redder is.

    Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)