U word opgeroep om uit vergewing te lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-08-21
Teks: 
HK Sondag 21 vraag en antwoord 56
Preek Inhoud: 

Lewe vanuit die vergewing is die kern van die Christelike geloof.

Hierin verskil die Christelike geloof van alle ander wêreldgodsdienste.

Die Bybel leer ons die godsdiens van vergewing. Vergewing deur Christus, gratis. Lewe uit genade. Dit kan ‘n moslim, ‘n boeddhis, ‘n hindoeïs, ‘n atheïs nie sê nie. Om te lewe vanuit vergewing is aan die een kant maklik, maar aan die ander kant ook baie moeilik.

Daar is helaas baie mense wat dit nie regkry nie.

Daar is selfs ook Christene wat nog nie hierby uitgekom het nie.

Wat nog nie die bevrydende en transformerende krag van die Evangelie in hulle lewe ‘n plek gegee het nie.

En daarom dat God, ons hemelse Vader, wat lankmoedig is, en nie wil, dat sommiges van ons verlore gaan, maar dat elkeen tot bekering kom, daarom dat Hy deurgaan om Sondag na Sondag die blye Evangelie te laat verkondig, aan kerkmense en nie-kerkmense. Dit is dan ook die doel van hierdie preek, om aan u die goeie nuus voor te hou, en u op te roep: Kies vir die goeie lewe. Kies vir ‘n lewe vanuit vergewing. Beantwoord God se beloftes.

Tema: U word opgeroep om uit vergewing te lewe

Mens sou kon dink: het ek regtig vergewing nodig? Ek voel myself nie skuldig nie. Laat staan dat ek gebuk gaan onder ‘n skuldelas.

Wil die Bybel my nou vir my ‘n skuldgevoel aanpraat, terwyl ek dit nie het nie? Vra hierdie vraag ‘n keer aan iemand wat wel onder ‘n skuldelas gebuik gaan. En dan sal jy besef hoe maklik dit jou kan oorkom dat ook jy ‘n ondraaglikse skuldelas op jou skouers kry. Dink byvoorbeeld aan iemand wat geen innerlike rus kan kry, omdat die opvoeding van sy kind misluk het. Dink aan iemand wat geen innerlike rus meer het omdat sy kind oorlede is, en hy mede skuldig voel. Dink aan iemand wat vir ‘n oomblik sy aandag nie by die verkeer gehad het nie, en daardeur ‘n geliefde opgesaal het met ‘n lewenslange gestremdheid. Dink aan ‘n vrou wat onder druk toegegee het en ‘n aborsie ondergaan het. Dink aan iemand wat vreemdgegaan het en so sy huwelik geruïneer het.

En so kan daar baie voorbeelde genoem word.

Alles vorme van skuld waar daar langtermyn gevolge van oorbly.

Mens kan die saak ook van ‘n ander kant bekyk. As iemand teen jou oortree het. As jy die een is wat lewenslank met die brokke agterbly: gestremd, of beskadig, of in die steek gelaat. Dit sou, menslikerwys gesproke, beteken dat jy nou lewenslank met ‘n wrok rondloop. En elke dag daaraan herinner word dat jou lewe deur iemand anders verwoes is. Lewenslank ongelukkig.

Maar gemeente, hier is die Christelike geloof uniek.

Ons mag en ons kan glo in die vergewing van sondes.

Deur God se krag, deur sy Heilige Gees wat in ons woon, kan ons onsself bevry van skuldgevoelens, haatgevoelens en wrok.

Deur God se krag kan die res van ‘n lewe, al is dit ‘n gestremde of gebroke of eensaam lewe, tog ‘n mooi lewe weer word.

Ja die Evangelie leer jou hoe om vergewingsgesind te wees.

Tot dusver het ons aandag geskenk aan skuld en vergewing in die verhouding tussen mense onderling - horisontaal.

Maar v/a 56 van die Kategismus handel in die eerste plek oor die verhouding tussen God en mens – vertikaal. Elke mens staan skuldig teenoor God. En die skuldelas is so groot dat dit soos lood op jou skouers behoort te druk. Die las is so groot dat dit alle lewensvreugde wegneem.

Dink maar aan die bekende lewensverhaal van Martin Luther.

Net die gedagte aan ‘n regverdige God het hom depressief gemaak.

Hy was bang om as mens voor sy aangesig te verskyn.

Hy het geweet dat God fout met hom sou vind.

En na twee ingrypende gebeurtenisse in sy lewe, eerstens dat sy vriend Alexis skielik gesterf het, en tweedens dat hyself daarna amper deur die weerlig getref is, na hierdie twee gebeurtenisse het Luther besluit om die klooster in te gaan en daar te probeer om ‘n volmaakte mens te word.

‘n Mens waarop God nie meer kritiek sou kon hê nie.

In die klooster het hy homself gemartel deur onophoudelik te werk, te vas en wakker te bly. So erg het hy homself verwaarloos, dat dit hom op den duur ernstig siek gemaak het.

En nog steeds het die gedagte aan ‘n regverdige God aan hom bly knaag.

Tot op ‘n dag ‘n ou monnik sy aandag gevestig het op die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis, dieselfde woorde as waaroor dit vanaand gaan: Ek glo in die vergewing van die sondes.

Eers toe het daar lig in Luther se lewe begin skyn.

Geleidelik het hy begin insien wat dit beteken om te lewe vanuit die vergewing van sondes. Of soos Paulus in Romeine 1 skryf:

Die regverdige sal uit die geloof lewe.

Toe het hy die bevrydende boodskap van die Evangelie begin voel, begin voel dat die loodswaar las van sy skouers afgelig word.

Luther, wat Christus gesien het as die streng Regter, vir wie hy, soos hy self erken het, banger was as vir die satan,

vir Luther het die lig van die Evangelie deurgebreek.

Nou lewe ons vandag in ‘n ander tyd as Luther.

En ek vermoed dat daar nie baie mense in Suid-Afrika so bang vir God sal wees as wat Luther destyds was nie. Baie mense is eerder geneig om nie eers aan God te dink nie. Hulle lewe asof Hy nie bestaan nie, hulle word nie in die minste gepla deur ‘n skuldgevoel teenoor  God nie.

Vir sulke mense het die Evangelie nie in die eerste plek ‘n vertroostende boodskap nie, maar ‘n konfronterende boodskap.

Want lewe vanuit vergewing is bitter noodsaaklik.

Geen mens op aarde, en geen mens van die 55 miljoen in Suid-Afrika, kan op enige ander wyse ontkom aan die ewige straf nie.

Want alhoewel baie mense lewe met die houding asof God nie bestaan nie, dit bly wel die werklikheid.

God is Skepper van hemel en aarde, van alle mense, en sy voorsienigheid is die enigste rede hoekom mense nog ‘n enigsins aangename lewe op aarde kan lei. Mense wat God ignoreer, is besig om ‘n toringhoë skuld op te bou.

‘n Skuld wat in der ewigheid nie afbetaal sal kan word nie.

Op geen ander manier as net deur Jesus Christus nie.

Wie God nie die eer gee wat Hom toekom nie, woon wederregtelik op hierdie aarde. En die dag sal kom dat God sy regte gaan kom opeis.

Jy kan dit vergelyk met iemand wat in ‘n huurhuis woon, maar sy huur nie betaal nie. Elke dag wat hy langer in die huis woon, maak hy sy skuld groter. En die dag sal kom, miskien duur dit wel lank, dat die deurwaarder voor die deur staan, en dat al sy besitings uit daardie huis verwyder sal word.  Wie God nie eer nie, woon wederregtelik op hierdie aarde.

Meer nog, wie God nie eer nie, woon wederregtelik in sy eie liggaam, wat ook deur God geskape is. En hoeveel versinsels mense ook bedink om onder God uit te kom, die dag sal kom dat Hy sy regte kom opeis.

Mag u, gemeente, tog op daardie dag beskerm word deur die bloed van ons Heiland Jesus  Christus, as God kom om hierdie aarde van alle sonde en opstand teen Hom te suiwer.

Sonder Christus is elke mens op aarde in ‘n ellendige toestand.

Jy kan nie self die loodswaar skuldelas afbetaal nie. Daarom roep God die Vader mense op: Hou op daarmee om self ‘n oplossing te soek.

Hou op om self boete te doen. Hou op om self jou geluk in die lewe te probeer vind. Kom hier, keer terug na My, Ek sal sorg.

Christus het voldaan. Dit is die kern van die Evangelie. Christus het voldaan. Gryp sy verdienste aan. In Christus het jy alles. In Christus vergeef God jou. Jy kan nou lewe uit vergewing.

Het u uself al afgevra hoe dit sal wees op die oordeelsdag?

As die boeke geopen word en elkeen volgens sy dade geoordeel word?

As God die bladsy oopslaan waar jou naam staan, wat sal Hy daar vind?

Sal al jou sondes daar gelys wees? Die Kategismus gee die antwoord: dat God aan al my sondes nooit meer wil dink nie.

Hierdie antwoord gaan terug op die woorde van Psalm 103.

Sover as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. As God die boek oopmaak by jou bladsy, dan sal daar staan: Christus het voldaan. En God die Vader sal na jou kyk asof jy nooit enige sondes gedoen het nie. Wat ‘n pragtige, wat ‘n kragtige boodskap!

Vanuit hierdie Evangelie kan jy elke dag krag put.

Voel jy ook die bevryding, as Christus die las van jou skouers afhaal?
In die Bybel leer God ons om hierdie vryheid te vind.

In die eerste plek is daarvoor nodig die regte selfkennis.

Wie dit nie het nie, sal tot die dag van sy dood op homself bly vertrou, die sware las self bly dra.

Maar wie sy ellende leer ken het in die spieël van God se Woord, en wie sy Verlosser self leer ken uit sy Woord, ervaar die bevryding. Wat ‘n voorreg om die hemelse Vader wat Psalm 103 ons openbaar, te mag ken.

Wat geduldig is, wat telkens vergeef.

Dink aan die geskiedenis van die volk Israel, soos dit in die Ou Testament staan. Wie daardie geskiedenis bestudeer, leer God lief te kry.

Want uit hierdie geskiedenis leer jy wie en hoe God is.

Hoe Hy trou gebly het aan sy verbond met sy volk.

Heel die lange geskiedenis van God se omgang met sy volk staan nie vir niks in die Bybel nie. Want elkeen wat dit bestudeer, leer God se karakter ken. Leer om in te sien hoe goed dit is om jou lewe aan Hom te wy.

Wie die Bybel bestudeer, voel hoe deur die werk van die Gees alle belemmeringe, alle drumpels, alle weerstande weggeneem word wat jou nog verhinder om jou lewe voluit aan God te wy.

Daarom dat Bybelstudie, ook uit die Ou Testament, so belangrik is.

Wie nie daagliks die Skrifte ondersoek om God te leer ken nie, moet ook nie verbaas wees as hy sukkel om sy lewe in God se hand te lê nie.

 

Dink vir ‘n oomblik aan wat God se vergewingsgesindheid vir Israel se daaglikse lewe beteken het. Ek noem ‘n voorbeeld uit Rigters 10.

Die volk het hulle eie koers gekies, hulle het vergeet wie hulle uit Egipte bevry het. Hulle het allerlei afgode agternageloop.

God, wat konsekwent is, het dit nie ongestraf gelaat nie.

En die volk het die straf pynlik ervaar. Hulle kon niks teen die Filistyne begin nie. En dan staan daar in vers 16, nadat die volk na die HERE teruggekeer het: “En hulle het die vreemde gode uit hul midde verwyder en die HERE gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.”

Mens kan ook vertaal: toe kon God Israel se ellende nie langer aansien nie.

So is God dus. Hy beproef sy kinders, ook met strawwe.

Maar die oomblik as sy kinders gehoor gee aan sy oproep, dan is Hy vinnig om na hulle uit te reik. Dan laat Hy Hom vind. Soos ons lees in Jesaja 55:

“Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.

Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees, en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Gryp jou kans!

Jy hoef nie bang te wees vir die Almagtige nie, want Hy is genadig.

Mense wat bang is, skuldbewus, sal Hy nie afwys nie.

Aan die ander kant laat Hy nie met Hom spot nie.

Mense wat lewe asof Hy nie belangrik is nie, dit verdra Hy nie.

Dink maar wat met die volk Israel gebeur het, na jarelange hoogmoed en ongehoorsaamheid. Toe het die verbondsdreiging ook ‘n werklikheid geword met die ballingskap.

Toe is vervul wat God al aangekondig het in Deuteronomium 29:

“Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.” (vers 20) Maar die oomblik as die volk hulle nek buig, is die HERE ook daar om uit te red. Dink aan die feit dat God daarvoor gesorg het dat die Israeliete wat tot inkeer gekom het, die geleentheid ontvang het om terug te keer uit ballingskap. Soos ons na die preek uit Psalm 85 sal sing:

“U het, o HEER, u land weer guns bewys ... U het u gramskap eind’lik afgeweer; die hitte van u toorn was daar nie meer.”

En dink aan wat ons gesing het uit Psalm 32:

“Welsalig wie van skuld en straf onthewe, die woord mag hoor: jou sondes is vergewe. Want God wat groot is in barmhartigheid, het hom vergeef’ en skeld die skuld hom kwyt”

God is nie karig nie. Ter illustrasie hiervan het ons ook die gelykenis van die verlore seun gelees. Hieruit kry ons pragtige sig op wie en hoe die hemelse Vader is.

Die vaderfiguur in hierdie gelykenis demonstreer wat vergewe en vergeet is. Wat dit beteken dat God ons oortredinge van ons verwyder, so ver as die ooste verwyderd is van die weste. In hierdie gelykenis kyk ons ook met ‘n spieël na onsself. Wie hierdie gelykenis goed lees, kom agter dat daar twee verlore seuns was. Aan die begin was daar twee. En uit die gelykenis weet ons dat een uiteindelik sy vader regtig leer ken het.

Geleer het wat dit is om uit vergewing van sondes te lewe.

Vir die ander seun het hierdie lewe uit genade nog onbekend gebly.

Sou die oudste seun ooit nog verander? Dit vertel Jesus nie verder nie.

Jesus het met hierdie gelykenis ‘n waarskuwende spieël aan die Jode voorgehou, wat elke dag met hulle hemelse Vader omgegaan het, maar wat Hom nog nie werklik geken het nie.

Wat nog nie uit vergewing geleef het nie.

Jesus hou hierdie gelykenis ook aan ons voor, kerklede vanaf ons geboorte, wat dalk ook verval het tot ‘n lewenswyse vergelykbaar met die houding van die oudste seun. Heeldag in die Vader se teenwoordigheid, heeldag onder sy beskerming, maar tog word die ou mens nie gekruisig nie.

Om te leef uit vergewing, sover is dit nog nie.

Geliefdes, hierdie kosbare skat is binne handbereik.

Oorwin u selftrots, en soek daagliks vergewing by God.

Moenie hierdie skat begrawe nie, maar leef vanuit die vergewing.

En dan nog ten slotte: Lewe uit vergewing beteken nie dat daar vergewing bestaan vir toekomstige sondes nie. Dit is ‘n houding waaraan kerkmense hulle skuldig kan maak. So van, ag, ons weet God is genadig.

Môre sal Hy ook wel weer vergewe.

Gemeente, God skenk ons slegs vergewing in die weg van berou.

Daar is naamlik ‘n groot verskil tussen val in sonde en leef in sonde.

Daar is ‘n groot verskil tussen die sonde liefhê en dus sondig; of die sonde haat, maar tog weer daarin val, hoe jy ook geprobeer het om dit te voorkom. By die laaste houding pas die uitspraak van Paulus: Ek, ellendige mens! Ek is teleurgesteld in myself!

Daarom mag die vraag vir vergewing nooit ‘n uitgeslete formule word nie.

Laat ons die sonde haat en ook daarvan wegvlug.

Moenie dink dat God jou sal vergewe vir ‘n sonde wat jy geniet om te doen nie. God vra berou, Hy vra ‘n gebroke hart. God wil juis dat jy groei.

Dat jy nie vashaak in ‘n sondige lewenspatroon nie.

Laat ons dit leer uit die gelykenis van die verlore seun, die twee verlore seuns welteverstaan. Die berou moet opreg wees, soos die Kategismus sê, dit moet ‘n stryd wees teen jou sondige aard.

Dan is die vergewing ook daar, onmiddelik.

Dan skenk God jou die geregtigheid van Christus.

Dit mag ons vier aan die nagmaalstafel.

En soos die nagmaalsformulier ons ingeprent het, laat hierdie tog nooit ‘n vanselfsprekendheid word nie.

Dan raak ons soos die oudste seun in die gelykenis.

Die alledaagse lewe in sy pa se huis het eentonig geraak, hy het nie meer sy rykdom besef nie.

Raak die nagmaalsviering, ses Sondae per jaar, vir jou eentonig?

Luister dan weer bietjie beter na wat die Vader sê, na wat die Vader gee.

En gaan heen, bring dit in praktyk.

‘n Lewe uit vergewing.

Amen.

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 21 Augustus 2016 AD, 17:30 (nagmaal)
Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 103:6,9
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 32:1 (tafel in gereedheid)
Aan tafel: Skriflesing: Rigters 10:1-16 & Lukas 15:11-32; Ps 32:2,3
Lofverheffing & Gebed
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 56
Preek
Ps 85:1,2
Gebed
Geloofsbelydenis: Nicea
Ps 85:3
Kollekte
Ps 85:4
Seën