Die Almagtige se leiding in Ahasveros se sprokiesagtige fees

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-08-28
Teks: 
Ester 1 : 1-12
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 28 Augustus 2016 AD, 10:15
(doop)

Votum

Seën

Ps 100:1,4

Wet

Ps 61:1,2

Gebed

Doopsformulier
& Gebed

Bediening
Doop aan Ian Bouwman

Sb 17:1,2,6

Dankgebed

Skriflesing:
Ester 1

Ps 68:10,11

Teks: Ester
1:1-12

Preek

Ps 9:3,4,5

Gebed

Kollekte

Ps 9:6,7

Seën

Preek: Ester 1:1-12

Vandag se
teks gaan oor ‘n sprokiesagtige fees.

Vandag se
teks gaan oor ‘n koning wat vir 180 dae die wyn laat inskink het.

Prag en
praal. Maar gemeente, vandag se teks gaan oor meer as net die uiterlike
vertoon. Dit is waaraan ons spesifiek in hierdie preek aandag gaan skenk. Ons
gaan kyk na die hand van Hom wie se Naam nie in Ester genoem word nie. Maar wie
se hand kragtig aktief is in elke hoofstuk.

Ek mag u die
Woord bedien met hierdie tema:

Die Almagtige se leiding in Ahasveros se
sprokiesagtige fees

Ons let op
drie aspekte:

  • beskrywing en doel van die fees

  • kritiek op die fees

  • bittere afloop van die fees

    Wie presies
    die kanonieke boek Ester geskryf het, is nie meer bekend nie.

    Daar is al
    geopper dat Mordegai self die outeur was, omdat ons uit Ester 9:20 weet dat hy
    self kon skryf en ook die gebeure opgeskryf het.

    Tog word
    desondanks in die ou Joodse tradisie Mordegai nie as skrywer beskou nie. Daar
    is enkele aanwysings wat daarop dui dat die boek eers ‘n periode na die gebeure
    geskryf is. In hoofstuk 1:1 word koning Ahasveros voorgestel as ‘n vors uit die
    verlede, wie se naam by die lesers in herinnering geroep word.

    En uit die
    slot van Ester blyk verder dat die Purimfees al ‘n bestaande fees was. Wel is
    Esther in Hebreeus geskryf, en die skrywer beskryf die Persiese gewoontes en
    toestande op so ‘n manier dat dit duidelik is dat hy daaraan gewoond was. Dit
    dui daarop dat die boek ontstaan het voordat die Griek Alexander die Grote die Persiese
    Ryk vernietig het, wat in ongeveer 330 voor Christus was.

    In die
    eerste hoofstuk beskryf die outeur Ahasveros in al sy prag en praal.

    Die
    hoofkarakter in hoofstuk 1 is koning Ahasveros. Hy het in ‘n lyn van beroemde
    konings gestaan.  Mens kan dink aan
    Cyrus, die stigter van die imperium, in die Bybel staan hy bekend met die naam
    Kores (Jes 45:1).

    Sy beleid
    was om die volke nie swaar te onderdruk nie. Hy het hulle godsdienste eerbiedig
    en alle, deur Nebukadnesar in ballingskap weggevoerde volke, die vryheid gegee
    om na hulle eie land terug te keer.

    God het
    hierdie makro-wêreldpolitiek so gelei dat sy volk, die suidelike Ryk Juda, na
    70 jaar, weer uit ballingskap kon terugkeer. Ook sy opvolger, koning Darius,
    het dieselfde milde politiek gevolg.  Toe
    stadhouer Tattenai hom versoek het om die herbou van die tempel in Jerusalem te
    verbied, het hy die besware van die hand gewys. Hy het die Edik van Kores (Esra
    1:1) weer bevestig, en selfs bevel gegee om die tempelbou finansieel te steun
    uit die ryksbelastings. Darius is opgevolg deur sy seun Ahasveros.

    Ons ken
    Ahasveros ook uit buite-Bybel bronne.  In
    Grieks is hy Xerxes genoem, soos by die Griekse geskiedskrywer Herodotus.

    Kort nadat
    hy die troon by sy pa oorgeneem het, hy was toe ongeveer 30 jaar oud, het daar
    opstande uitgebreek in Babilonië en Egipte. Hy het egter geslaag om die
    opstande neer te slaan. Herodotus is nie baie positief oor sy karakter nie. Hy
    word geskets as ‘n baie wispelturige man, ‘n wrede tiran, iets wat heeltemal
    ooreenstem met die beeld wat ons van hom in die boek Ester kry. Dis geen wonder
    dat Ester baie daarteen opgesien het om voor so ‘n grillige despoot in die
    troonsaal te verskyn. Dit kon haar dood beteken – Ester 4:10,16. Maar, soos dit
    meestal gaan in die geskiedenis: wie die swaard opneem, sal self deur die
    swaard val. Wie hom wend tot geweld, sal self ook deur geweld oorrompel word.  Toe Ahasveros ongeveer 55 jaar oud was, is hy
    in sy slaapkamer vermoor. Vandag kan mens nog in die Midde-Ooste na opgrawings
    van sy argitektuur gaan kyk.

    Maar goed,
    in hoofstuk 1 bevind ons ons nog aan die begin van sy heerskappy. Die boek
    Ester begin met die beskrywing van ‘n sprokiesagtige fees. Eintlik was dit twee
    feeste. Een vir al sy vorste, vir al die vernames in sy ryk. En een daarna vir
    al die bewoners van die vestingstad Susan.

    Hoekom het
    die koning eintlik hierdie feeste georganiseer?

    Dit kon wees
    om sy nuwe paleis in te wy, om sy triomf oor Egipte en Babilonië te vier, ons
    weet nie.

    Die Skrif
    noem dit nie, wel word genoem dat die koning al sy rykdom, prag en praal wou
    laat sien. Koning Ahasveros wou indruk maak. Hy wou wys hoe ryk en magtig hy
    was. Wie haal dit in sy kop om vir 180 dae, dit is meer as ‘n half jaar lank,
    fees te vier?

    As mens kyk
    na wat die Griekse historikus Herodotus skryf oor Ahasveros, is dit moontlik om
    te konkludeer dat Ahasveros hierdie halfjaar se feesvier en vertoon van sy mag
    en rykdom, gebruik het om ‘n veldtog teen Griekeland te beplan.

    Hierdie
    groot uitspattige fees was juis bedoel om al die vorste aan sy kant te kry, sodat
    hulle hom sou ondersteun in hierdie groot militêre veldtog wat hy van plan was
    om uit te voer. Tussen hakies, agteraf gesien, tydens hierdie veldtog het hy
    swaar nederlae gely. Tallose van sy soldate het dood op die slagveld agtergebly.
    Maar nou, tydens die groot fees, was hy nog besig om alles te beplan, onder die
    genot van drank en vroue. Ja Ahasveros was magswellustig. Hy wou ook Griekeland
    by sy ryk voeg.

    Hy het nie
    omgegee vir jong soldate se lewens nie. Aan die verdriet van hierdie jong
    soldate se ouers, wat hulle seun nooit weer sou terugsien nie, het hy nie
    gedink nie. Hy het ook nie omgegee vir jong meisies se lewens, sal ons later in
    hoofstuk 2 sien, wat hy vir sy harem opgeëis het nie.

    Na die
    honderd tagtig dae durende fees vir die aansienlikes, volg dan nog die fees vir
    die burgers in die vestingstad Susan. Daar word beraam dat daar in die stad
    Susan in daardie tyd ongeveer ‘n half miljoen mense gewoon het. Maar die
    vestingstad was net ‘n deel van die groter stad, ‘n aparte stadsdeel, wat op ‘n
    plato gebou is en bo die res van die stad uitgesteek het. Dit was die mooiste
    en rykste deel van die stad.

    En dit was
    net vir hierdie deel van die stad, hierdie ryk voorstad, wat die tweede fees
    bestem was. Hierdie fees was, net vir die duidelikheid, dus nie bedoel vir
    elkeen van die half miljoen inwoners van die stad Susan nie, maar net vir die
    burgers van die vestingstad, daardie rykste voorstad.

    En nog meer
    spesifiek, net vir die mans. Vir die vroue het koningin Vasti ‘n aparte fees
    georganiseer. Mordegai en Ester was waarskynlik ook by hierdie festiviteite
    aanwesig, aangesien ons in hoofstuk 2:5 lees dat hulle woonagtig was ook in die
    vesting Susan.

    Dit dui
    daarop dat Mordegai deel was van hierdie hoër sosiaal-ekonomiese stand.

    Die fees vir
    die mans het in ‘n binnetuin van die koninklike paleis plaasgevind. Dit was
    sprokiesagtig mooi ingerig.

    Soos ons in
    vers 6 gelees het: Linne, katoen- en pers stowwe was met linne- en purperrooi
    band vasgemaak aan silwerringe en marmerpilare.

    Hierdie
    stowwe was gordyne, wat gebruik is, nie net as versiering nie, maar ook vir
    skaduwee teen die warm son.

    Verder was
    daar goue en silwerrusbanke op ‘n plaveisel van malachiet en van witmarmer en
    perlemoensteen en gevlekte marmer.

    Volgens die
    kultuur in daardie tyd was die rusbanke lae banke sonder leuning, waarop mens
    op jou sy kon lê.

    Vers 7
    beskryf die kosbare goue bekers waaruit die mans gedrink het.

    En die wyn
    was al net so koninklik. Ook het die personeel opdrag gekry om vir elkeen te
    skink soveel hy wou hê. Die Griekse skrywer en historikus Xenophon skryf dat
    die Perse bekend gestaan het daarvoor dat hulle baie kon drink, totdat hulle
    nie meer op hulle bene kon staan nie.

    Die luukse
    rusbanke of –bedde het dus beslis hulle doel gedien.

    Maar soos
    dit maar altyd werk met sprokiesagtige feeste, êrens kom daar ‘n kink in die
    kabel. Erens is daar iemand wat die pret bederf.

    En hierdie
    keer was dit die koning self, in sy wispelturigheid, en meer spesifiek, sy
    dronkenskap, wat die pret bederf het.

    Soos gesê,
    ja, koning Ahasveros was ‘n baie wispelturige man. En sy dronkenskap het
    daartoe gelei dat hy in ‘n oomblik van onbesonnenheid sy vrou en koningin die
    trekpas gegee het. Wat hy van haar verwag het, was natuurlik geweldig onterend.
    Dit kom dalk nie in die vertaling goed uit nie, maar hy het van haar verwag om
    met haar kroon op, maar verder naak voor die koning en sy gaste te verskyn –
    vers 11. Hy wou haar skoonheid toon. Soos telers op ‘n skou spog met die
    mooiste hond, of die mooiste skaap, of watter dier ook al uit hulle stoetery,
    wat hulle geteel het, so wou Ahasveros spog met die toppunt van skoonheid uit
    sy harem.

    Normaalweg
    sou selfs hy nie so iets verwag het nie.

    Maar sy
    dronkenskap het hom nou oor die laaste drumpel gestoot.

    En die maatreëls
    wat hy daarna getref het om sy gesig te red, toe Vasti naamlik tereg geweier
    het om soiets te doen, daardie maatreëls was ronduit pateties en lagwekkend. Sogenaamde
    wyse raadgewers het planne gemaak hoe sy gesig gered kon word. Aan alle
    provinsies moes berigte gestuur word dat die man in sy huis baas moet wees en
    sy volkstaal praat.

    So ‘n soort
    baasskap is heidens, dit het niks met die Bybelse gesag te make wat God aan ‘n
    man gegee het nie.

    Al met al,
    gemeente, proe mens hier in die beskrywing van Ester 1 ‘n totaal ander styl van
    koningskap as wat die HERE aan sy volk in die wette van Moses voorgehou het!

    Die manier
    hoe die festiviteite hier in Ester beskryf word, is nie gedoen om koning
    Ahasveros te komplimenteer nie, inteendeel. Tussen die lyne lees mens die
    kritiek. Die skrywer hou ons ‘n spieël voor. Is dit soos ‘n koning behoort te
    wees? Is dit waaraan ‘n suksesvolle koning gemeet moet word?

    Dan kan ons
    terugdink aan wat die HERE in Deuteronomium 17 aan sy volk voorgehou het.

    As hulle ‘n
    koning sou kry, dan moes hulle koning nie soos die van die heidene wees nie! Deuteronomium
    17:16: “Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie...”

    Vers 17:
    “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie... hy mag ook vir hom nie uitermate baie
    silwer en goud aanskaf nie.”

    Ja gemeente,
    die boek Ester moet ons lees teen die agtergrond van die Torah, spesifiek God
    se koningswette in Deuteronomium.

    En as mens
    dit doen, dan val Ahasveros deur die mand, juis omdat hy so ryk was en so baie
    goud en silwer gehad het, juis omdat hy ‘n harem met so baie vroue gehad het,
    juis omdat hy so baie perde gehad het en so graag teen Griekeland wou gaan
    oorlog voer, om sy mag uit te brei.

    Dus
    nogmaals, die beskrywing van hierdie fees deur die skrywer van Ester was nie
    bedoel om ons te laat watertand nie, maar om te dien as bewysmateriaal, om as
    aanklag teen Ahasveros te gebruik.

    Soos
    joernaliste vandag dalk uitgebreid ‘n fees van president Zuma sou beskryf, saam
    met die Guptas, met al die uitspattige vertoon van weelde en rykdom. So ‘n beskrywing
    van al die rykdom dien nie as kompliment vir die president nie, maar eerder as
    aanklag! Ahasveros het oor die rug van baie van sy onderdane heen, en oor die
    lyke heen van baie jong soldate heen, oor die liggame heen van baie jong
    meisies heen, sy mag gevestig, uitgestal en gevier. Maar gelukkig, almagtig was hy nie. Dit is wat die boek
    Ester ons baie duidelik leer. En sy eie vrou, Vasti, was die eerste wat dit aan
    hom begin duidelik maak het.

    En dit bring
    ons by ‘n belangrike boodskap uit hierdie eerste hoofstuk van Ester. Deur
    hierdie patetiese vertoning van koning Ahasveros heen, gemeente, werk God aan
    die uitvoering van sy plan.

    Al het Hy
    voorbereidings getref, sodat as die dag kom dat Haman sy wetsvoorstel indien,
    om die Joodse volk uit te roei, dat daar teenwigte sou wees om dit te stuit. Dat
    op daardie oomblik Vasti nie meer koningin sou wees nie, maar dat daar juis op
    daardie oomblik ‘n Joodse koningin was.

    En dat
    Mordegai juis op daardie oomblik bekend sou word as die man wat ‘n aanslag op
    die koning verydel het. Die boek Ester wys uit dat al hierdie dinge soos ‘n
    legkaart inmekaar gepas het. Al word sy Naam nie eksplisiet genoem nie, was God
    se hand in al hierdie dinge.

    God se leiding
    het gesorg dat Kores sy edik uitgevaardig het, dat die Jode mog terugkeer na
    Jerusalem.

    God se
    leiding het daarvoor gesorg dat Darius nie geswig het onder die druk van die
    stadhouer Tattenai, om die herbou van die tempel en die muur van Jerusalem te
    verbied nie. En nou, in die boek Ester, sien ons ook weer God se leiding, in sy
    bemoeienis met Ahasveros.

    As mens oor
    God se leiding praat, moet mens nie net dink aan wonders en spektakulêre dinge
    nie.

    God se
    leiding gebeur ook deur onopvallende dinge. God se leiding gebeur selfs deur
    raar en baie onverwagte dinge. God gebruik selfs die kwaad in hierdie wêreld
    vir die uitvoering van sy planne. Ester 1 gee vir ons ‘n baie goeie voorbeeld
    hiervan. In hierdie hoofstuk maak die HERE gebruik van Ahasveros se dronkenskap
    om sy planne uit te voer. Ja God se leiding lê nie net in spektakulêre wonders
    nie, maar ook in onopvallende dinge, soms selfs in raar en bisarre dinge. Dinge
    soos die koning se dronkenskap.

    Dinge soos
    ‘n slapelose nag van die koning, soos ons later in hoofstuk 6 sal sien.

    Gemeente,
    hierdie hoofstuk kan ons eintlik baie troos bied in ons huidige omstandighede. Ons
    voel dikwels moedeloos as ons sien hoe pateties die president van ons land
    optree. Maar wie weet, het God ook hierin ‘n hand.

    Soms gee die
    HERE die mense oor aan hulle eie sondes, en dat hulle die gevolge van hulle eie
    sondes moet smaak. Sodat die wal die skip kan keer.

    Sodat dit
    selfs vir ongelowiges, vir heidense mense, te erg word.

    Soos ‘n
    swart filosoof onlangs gesê het: Zuma is die beste wat die land kon oorkom. Want
    deur sy patetiese optrede begin die swart bevolking na te dink, en loop hulle
    nie meer soos skape agter hulle sogenaamde bevryders uit die verlede aan nie. Ja
    die HERE werk nie net deur wonders en spektakulêre dinge nie. Eintlik is dit
    net so ‘n groot wonder, dat hy die gang van die geskiedenis stuur, dat niks wat
    op aarde gebeur toevallig is nie.

    Waarheen die
    HERE ons land se lot gaan stuur, dit weet ons nie. Ons kan maar net vir Hom bid
    dat Hy sal bly sorg dat daar ruimte vir sy kerk bly.

    Dat die
    Evangelie ook sal klink vir toekomstige generasies in hierdie land.

    Want laat
    dit wel wees, dit is waaroor dit gaan.

    God se
    beskerming van die Joodse volk in Ester se dae was gerig op die koms van die
    Messias.

    Dit het nie
    gegaan oor die Joodse volk of die Joodse taal as sulks nie.

    Net so is
    daar geen belofte van God dat Hy, om ‘n voorbeeld te noem, die Afrikaner volk,
    en die Afrikaanse taal, altyd sal bewaar nie.

    Maar daar is
    wel die belofte dat Hy sy kerk altyd sal bewaar.

    Soos ons in
    die Kategismus bely: die Seun van God vergader, beskerm en onderhou vir Hom ‘n
    gemeente, uit die ganse menslike geslag, van die begin van die wêreld af tot
    aan die einde toe (Sondag 21).

    So het ons
    vanoggend die Almagtige se leiding gesien in Ahasveros se sprokiesagtige fees.  Dit het ‘n bittere afloop gehad, daarvoor het
    God gesorg. Want Hy het sy beloftes op die oog gehad, dat Hy sy kinders sou
    bewaar. Dit is vir ons ‘n groot troos. Die HERE sal self hiervoor sorg.

    Hoe, dit
    doen Hy op sy eie onnaspeurlike manier, vertrou Hom maar!

    Soos ons in
    Spreuke 19:21 kan lees: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van
    die HERE, dié sal bestaan.”

    Elke eeu
    blyk dit tog weer die waarheid te wees.

     

    Daarom mag
    die baba wat vanoggend gedoop is, en sy ouers, in geloofsvertroue die toekoms
    tegemoet gaan.

    Die Almagtige,
    in wie se Drieënige Naam Ian gedoop is, sal ook in die toekoms uitkoms skenk. Vertrou
    Hom maar.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)