Die HERE het vir sy volk weer rus geskenk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-12-04
Teks: 
Ester 9 : 20-10 : 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 4 Desember 2016 AD, 10:15
(Nagmaal)

Votum

Seën

Ps 68:1

Wet

Ps 32:2

Gebed

Nagmaalsformulier
(p.14) – selfondersoek

Ps 32:5

Nagmaalsformulier
(p.17)

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 68:2

1e tafel:
Skriflesing: Ester 9:20-23; Ps 103:1

2e tafel:
Skriflesing: Ester 9:23-26a; Ps 78:2,4

3e tafel:
Skriflesing: Ester 9:26-10:3; Sb 3:1,2

Lofverheffing

Dankgebed

Kollekte

Sb 8:2

Seën

Preek: Ester 9:20-10:3

Tema: Die HERE het vir sy volk weer rus
geskenk

Die boek
Ester sluit af met die instelling van die Purimfees. Hierdie woord is afgelei
van die Persiese woord Poer, wat lot
beteken. Poerim is die meervoud. Met
hierdie fees dink ons terug hoe God se volk by die dood omgedraai het. Ons lees
oor ‘n klein verskil tussen die datums. Die stryd was op die platteland vroeër
beëindig.  In die stad Susan het die
stryd nog ‘n dag langer voortgeduur. Nie net die 13e Adar nie, ook die 14e.

Daarom dat
Mordegai, nou die magtigste man in die ryk na koning Ahasveros, die fees instel,
vir die 14e en 15e Adar.

Dit was die
dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande. Hy stel die Purimfees vas
oor die hele ryk. Ook dit word vasgestel as onherroeplik (Ester 9:27). Hierdie
fees mag onder die Jode nie afgeskaf word nie. Die gedagtenis daaraan mag onder
die nageslag nie ophou nie. Briewe hieromtrent is weer na al die 127 provinsies
gestuur.

Meer dikwels
lees ons in die Bybel dat die HERE sy volk rus gegee het.

Dit was
meestal na ‘n oorwinning op hulle vyande. In hierdie geval was dit nie sommer
‘n vyand nie. Haman was ‘n Amalekiet. Tussen Amalek en Israel was daar al ‘n
eeue oue stryd aan die gang.(Ex 17; Num
24:20; Deut 25:17-19).

Die feit dat
die HERE vir sy volk soms rus gegee het van hulle vyande, was nie omdat die
HERE altyd onvoorwaardelik aan sy volk se kant was nie.

Daar is ook
baie gedeeltes in die Ou Testament, waar mens kan lees dat die HERE sy volk
juis nie rus gegee het nie. Soms het die HERE die vyande van die volk juis kans
gegee om sy volk te straf en te verdruk. Wat hier aan die einde van die boek
Ester gebeur, moet mens daarom nie nasionalisties opvat nie. Nasionalisties
beteken dat jy altyd, onvoorwaardelik, vir jou volk kies. Dis nie wat ons uit
die Bybel leer nie. Die stryd waarvan ons in Ester lees, was nie ‘n etniese
stryd nie. Dit gaan hier oor die groot stryd tussen goed en kwaad. Tussen Satan
en sy bondgenote, teenoor die wat aan die HERE trou bly.

Die doel van
die fees volgens vers 22 is om te herdenk. Herdenk dat kommer in vrolikheid
verander het. Rou in ‘n feesdag.

Die wyse van
viering was dat daar feesmaaltye gehou is, met lekkernye.

Ook die
armes is blygemaak deur aan hulle gawes te stuur (Deut 15:7).

Die datum en
wyse van viering is noukeurig deur Mordegai en Ester vasgestel. Dit is in ’n
boek geskrywe (vers 32). Nie net om in die argief te bêre nie, maar om alles te
bewaar vir die nageslag, sodat hulle, as hulle die fees van die Purim gevier
het, sou weet waaroor dit gaan. Heel waarskynlik het die skrywer van Ester van
hierdie boek as historiese bron gebruik gemaak, toe hy die Bybelboek Ester
geskryf het.

Die boek
Ester sluit af deur weer eens te beklemtoon wat Mordegai vir die Jode gedoen
het. Hy het sy magtige posisie in die Persiese Ryk gebruik.

En die Jode
het hom gewaardeer en liefgekry, omdat, soos daar staan, hy die heil van sy
volk gesoek het, en tot welsyn van sy hele nageslag gespreek het. Soos ek al in
‘n eerdere preek genoem het, die boek Ester is van literêr hoogstaande gehalte.
Onderdeel hiervan is hoe die karakterontwikkeling geteken word, van Ester, en
ook van Mordegai. Waar die boek begin het deur Mordegai voor te stel as ‘n
hardkoppige man, wat net sy eie voorspoed gesoek het, het hy, deur God se
leiding, ontwikkel tot ‘n persoon wat die belang van sy hele volk, God se volk,
op die hart gedra het. Mordegai is selfs tot seën gestel vir die hele ryk. Die
boek Ester sluit af met die opmerking dat koning Ahasveros belastings opgelê
het oor sy hele koninkryk. Van Indië in die ooste, van Suid-Rusland in die
noorde, van Turkye in die weste, tot Egipte in die suide, is belastings na die
Persiese hof gebring. Om belastings oor so ‘n groot gebied te kan hef, vereis
dat daar vrede in die ryk moes wees. Belasting hef vereis orde en rus. Tydens
Mordegai se bewind was dit moontlik, hy is tot seën gestel vir die groot ryk
met al sy inwoners.

Ja die HERE
het sy volk weer rus geskenk.

En die hele
wêreld het daarby gebaat.

xxxxxxxxxxxxxxxxxx

Tema: Herdenk dat die HERE sy volk se lot
gewend het

Die naam
Purimfees kom van die woord Pur: wat die lot beteken. Verwysende na Haman wat bygelowig
was, wat sy astroloë opdrag gegee het om die lot te werp, om uit te vind wat
die mees geskikte dag van die jaar sou wees om die Jode uit te roei. Die lot
het toe op die 13e Adar geval (sien Ester 3:7).Maar deur die HERE se
voorsienigheid en leiding het hierdie dag van ‘n rampdag verander in ‘n dag van
uitredding. God se volk het op die randjie van die afgrond geloop. Sedert die
dae in Egipte, eeue gelede, het dit nooit weer voorgekom dat daar so ‘n bewuste
poging was om God se volk in sy totaliteit uit te roei nie. Farao het gepoog om
die Joodse volk uit te roei. Hy het bevel gegee dat alle seuntjies wat gebore
word, doodgemaak moes word. En so het Haman, die Agagiet, nou geprobeer om met
een slag die hele Joodse volk te tref. Maar God almagtig het dit gekeer. Hy het
die lot gewend, wat ‘n pikswart dag sou word, het uitgeloop op ‘n dag van
uitredding en vrolikheid.

Deur die
fees so te noem: Purimfees, ons sou in Afrikaans sê: Lotsfees, bely God se
kinders dat dit die HERE is wat die lot bestuur, dat daar geen toeval bestaan
nie, maar dat alles in sy hand lê. Soos ons uit Spreuke 16:33 leer: “In die
skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.”

Ons herdenk
dat die HERE sy volk se lot gewend het. Aan die tafel van ons Heiland herdenk
ons ook hoe Hy ons lot gewend het. Ons wat eers sy vyande was. En so bring die
herdenking blydskap:

As Christus
vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, as Hy ons met God versoen het toe
ons nog vyande was, hoeveel te meer sal ons gered word!

xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

Tema: Vier fees met die oog op die toekoms

In Ester
9:28 vind ons die oproep dat die Purimfees nie afgeskaf mag word nie. Het
hierdie vers nog ‘n boodskap vir ons vandag?

In
teenstelling tot die ander feeste waarvan ons in die Ou Testament lees, soos
die Sabbat, die Pasga, Pinkster, Groot Versoendag, Loofhuttefees, wat deur die
HERE self ingestel is, was dit by die Purimfees nie die geval nie.

Die boek
Ester beskryf hoe hierdie fees spontaan ontstaan het, na die groot bevryding op
13 en 14 Adar. Mordegai het hierby aangeknoop. Hy het alles op skrif gestel, en
so gesorg dat die instelling vir die nageslag bewaar word.

Ester het
ook nog hieraan bygedra, deur te bepaal dat daar eers gevas moes word,
voorafgaande aan die fees (9:31, vgl. 4:16).

Mens kan
hierdie fees daarom vergelyk met feesdae wat ons vandag gewoond is om te vier, wat
ook nie deur God in die Bybel ingestel is nie.

Dink aan ‘n
dag soos Kersfees. Mens sou ook aan Hervormingsdag kon dink.

Hierdie
feeste berus nie op ‘n gebod van Christus nie. Hulle is nie in die Skrif met
soveel woorde voorgeskryf nie. Dit maak dit egter nie verkeerd, dat die Jode
die Purimfees gevier het, en dat ons vandag ook ander feeste vier nie.

In lyn met
Kolossense 2:16 behoort ons mekaar nie te veroordeel op sulke gebruike nie,
hetsy op die handhawing daarvan, hetsy op die nalaat daarva.

In die eeue
tussen Ester en die koms van Christus is die Purimfees algemeen onder die Jode
gevier. In die apokriewe boek 2 Makkabeërs word byvoorbeeld na die fees van
Mordegai verwys (2 Mak 15:36). Die geskiedskrywer Flavius Josefus, wat ‘n
tydgenoot van die apostels was, vermeld ook dat hierdie fees deur die Jode reg
oor die wêreld in ere gehou is. Ons kan daarvan uitgaan dat dit dus ook die
geval was toe Jesus op aarde was. En dat Hy ook saam met sy ouers en familie en
volksgenote hierdie fees gevier het. Al vind ons in die Evangelies nie
eksplisiete verwysings hierna nie. Onder die Jode is die Purimfees tot vandag
toe nog ‘n tradisie.

Dit het ‘n
geleentheid geword tot die uiting van Joodse nasionalisme.

Hiermee word
egter die middelpunt waaroor dit in die Ou Testament gegaan het, gemis. Die middelpunt
van die Ou Testament is dat die HERE die Jode as volk uitverkies het, om draer
van die belofte van die Messias te wees. Om so ‘n lig onder die nasies te wees.
Die uitredding in Ester se dae, was nie bloot ‘n uitredding van die Joodse volk
nie. Hierdie uitredding het die pad oopgehou na die koms van die Messias, wat
nie net vir die Joodse volk bestem was nie, maar vir alle volke. Wie hierdie
element weghaal uit die Purimfees, en uit die omgang van die lewende God met
die Joodse volk in die Ou Testament, hou slegs ‘n leë nasionalisme oor.

Nasionalisme
op sig is ‘n groot gevaar. Die 20ste eeu was ‘n eeu waarin nasionalisme hoogty
gevier het. Veral as gevolg daarvan het die 20ste eeu die mees gewelddadige eeu
in die geskiedenis geword.

Om terug te
kom by die Purimfees. God het Israel bewaar, sonder dat Israel dit enigsins
verdien het. Deur die nuwe lewensruimte wat daar weer vir die Jode gekom het,
kon dit sover kom dat daar ‘n tweede terugkeer uit die ballingskap gevolg het. Ons
het die serie preke oor die boek Ester begin deur daarop te wys dat baie Jode,
toe hulle die kans gekry het, nie uit die ballingskap na die beloofde land
teruggekeer het nie. Baie van hulle het dit uit onsuiwer motiewe gedoen. Die
diens van die HERE, die herbou van die tempel, was vir hulle nie so ‘n prioriteit
nie. Die wel en wee van elke dag was vir hulle belangriker. Maar God het sy
volk in die nou gebring, deur Haman se moordplanne. En deur die uitredding wat
Hy daarna geskenk het, deur Ester en Mordegai, het die HERE sy kinders weer
laat nadink oor hulle prioriteite in die lewe. Daar het na hierdie gebeure
waarvan ons in Ester lees, weer ‘n herlewing plaasgevind, ‘n terugkeer na die
HERE en sy diens.

Dit het
onder andere tot uiting gekom in ‘n tweede terugkeer uit die ballingskap. Dit
het plaasgevind onder leiding van Nehemia. Ons kan daaroor lees in die
Bybelboek Nehemia. Hierdie tweede terugkeer het daarvoor gesorg dat Jerusalem
se mure herbou sou word.

Voortgaande
reformasie onder God se volk.

Die optrede
van Nehemia het begin in die dae van Artasasta, die opvolger van Ahasveros. So
het die HERE ‘n getroue res van sy volk bewaar, en dit met die oog op die koms
van die Messias. Hy het voortgegaan om sy kudde te versamel. En, soos genoem,
sy doel was om so te werk, na die koms van die groot Messias vir die hele
wêreld.

Ja die
Purimfees, in sy eintlike bedoeling, was ‘n adventsfees. Die fokus van hierdie
fees is nie net terugkyk nie, maar ook vooruit: die gelowige verwagting van die
Messias. Mordegai was nog maar net ‘n skaduwee van die Messias. Die Messias wat
nie net die Jode sou red nie, maar wat redding sou bring vir elke volk op
aarde. Verlossing van die draak (Open 12:5,17).

Eintlik was
die oudtestamentiese Purimfees ‘n adventsfees. ‘n Fees wat nie net agterom
gekyk en gedenk het nie. ‘n Fees wat ook verwagtingsvol vooruit gekyk het. Die
oë gerig op die toekoms, wanneer die lewende God die ware en blywende
verlossing sal stuur.

Tans is ons
Messias gesete op die troon, aan die Vader se regterhand.

Hierdie
magtige posisie beteken dat Hy vir sy volk, sy kerk, sal sorg.

Met ons Hoof
op so ‘n magtige posisie, hoef ons nie bang te wees dat sy kerk ooit weer op
die randjie van die afgrond sal moet loop, soos wat met die Jode in Ester se
tyd die geval was nie. In die herdenking van die adventstyd mag ons dankbaar
terugdink. Ons mag ook verwagtingsvol vooruit kyk. Die troue Verbondsgod het sy
belofte gestand gedoen, die lig van die heilsgeskiedenis het nie uitgegaan nie.

Die Messias het gekom.

‘n Lig het
opgegaan.

‘n Helder
stralebaan,

skiet deur
die donker wolke.

Dit is
Immanuel,

die Vors van
Israel,

die Lig van
alle volke.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)