Jesus Christus is die hoeksteen van die kerk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-03-12
Teks: 
I Petrus 2 : 4-8
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 12 Maart 2017 AD, 10:15

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 100:1,2

Wet

Sb 25:4

Gebed

Doopsformulier

Bediening
doop: Lohan Douwe de Jong

Ps 105:5

Skriflesing:
Exodus 19:1-6

Ps 132:6,8,9,10

Skriflesing:
1 Petrus 2:1-10

Sb 15:1,4,7

Teks: 1
Petrus 2:4-8

Preek

Sb 8:2

Gebed

Kollekte

Ps 100:3,4

Seën

Preek: 1 Petrus 2:4-8

Ons kerk se
naam is Maranata.

Ek dink die
meeste kinders weet al wat dit beteken. Maranata beteken: Kom, Here Jesus. Kom
gou terug!

Nou is daar
ander kerke wat ook hulle eie spesifieke name het. Heelwat kerke het as naam
die woord wat in ons teks so ‘n belangrike plek inneem.

Daar is
heelwat kerke wat se naam Die Hoeksteen is.
En net soos met die naam Maranata, verwys Die
Hoeksteen
natuurlik na ons Here Jesus Christus, wat die hoeksteen van ons
bestaan is. Dit is ook waaroor die preek vanoggend handel.

Ek verkondig
u die Evangelie van ons Heiland met die volgende tema:

Tema: Jesus Christus is die hoeksteen van die
kerk

Die
hoeksteen is die belangrikste, en dikwels ook grootste steen in die muur. As
die mense in Israel ‘n huis begin bou het, was die eerste steen wat neergelê is,
die hoeksteen. ‘n Groot swaar klip, wat een mens nie alleen kon optel nie. Vervolgens
is die res van die muur en die huis op daardie steen gebou.  As die hoeksteen nie daar was nie, as die
mense maar net met klein klippe vanaf die grond begin bou het, dan sou die muur
by die eerste die beste stormwind, of as iemand daarteen stamp, inmekaar stort.
Maar as iemand teen die hoeksteen stamp, sou niks gebeur nie. Daardie groot
swaar klip het die res van die muur en huis dus regop gehou.

So word
Jesus Christus die hoeksteen van die kerk genoem. Hierdie metafoor spreek
natuurlik boekdele! As die kerk ‘n muur was van klein los klippe wat direk op
die grond gebou is, maar net opmekaar gepak, en as iemand dan teen die muur sou
stoot of stamp, sal dit instort. Maar as die kerk se mure op die hoeksteen
Jesus Christus gebou is, kan niks gebeur nie.

As iemand
teen daardie muur aanskop, sal die muur regop bly, maar die persoon wat skop
sal sy voet ernstig seermaak.  Soos daar
in die teks staan:

Hierdie
hoeksteen sal vir hom ‘n steen van aanstoot word.

Die persoon
sal homself vererg omdat hy seergekry het toe hy daarteen aangeskop het. ‘n
Groot rots wat hom laat struikel. Ja hy sal hom vererg omdat daar niks met die
kerk gebeur nie, hoe hard hy ook stamp en skop en stoot.

Jesus
Christus is die hoeksteen van die kerk. Ten minste, as dit goed is.

Want dit is
nie vanselfsprekend nie. Menselik gesproke altans.  Ons lees in ons teks: die steen wat die
bouers verwerp het, juis daardie steen het die hoeksteen geword. Daar is in ons
gemeente ook bouers. Hulle weet hoe om huise te bou. Hulle weet hoe om die
regte fondament te lê. Hulle weet hoe diep die fondament moet wees. Vroeër, in
die Bybelse tyd, was daar ook bouers.  Hulle
het presies geweet watter klip mens die beste as ‘n hoeksteen kon gebruik. Dit
moes byvoorbeeld nie ‘n ronde klip wees nie.

Dit moes ook
groot genoeg wees.

Maar dan
staan daar in ons teks, en dit sou mens nie verwag nie: Die bouers het die
steen afgekeur, daardie klip wat uiteindelik tog die hoeksteen geword het. Hulle
het dus ‘n vergissing gemaak. Mens kan sê: hulle het nie goed genoeg gekyk na
die hoop met klippe, wat tot hulle beskikking was nie. Maar, gemeente, ons teks
sê nog meer:  Dis nie net dat hulle ‘n
vergissing gemaak het nie. Dit was nie net ‘n kwessie van oor die hoof sien
nie. Nee, hulle het hierdie steen ook bewus geïgnoreer! Hoe is dit nou
moontlik? Welke bouer sal soiets doen? Dan benadeel hy mos net homself?

Inderdaad,
hulle wou die kerk op ‘n wankelrige fondament bou.  Hoekom wou hulle dit so doen?

Dit is,
broers en susters, die raaisel wat betref elke mens. Dat die mens geneig is tot
sulke onverklaarbare, onlogiese gedrag. Maar danksy die feit dat ons die Bybel
het, kry ons sig op wat daar met die mens aan die hand is.

Onthou, die
Bybel openbaar ons nie net wie die ware God is nie. Die Bybel leer ons ook wat die
ware mensbeeld is. Wat die mens se oorsprong is.

Hoekom die
mens is soos hy is. Die Here openbaar vir ons in sy Woord wat daar met die mens
aan die hand is.  Die mens het in opstand
gekom teen sy Skepper. Die mens het in sonde geval. Die mens het nou die
neiging om alles stukkend te maak, wat die Skepper goed geskape het. So gee die
Bybel ons sig op die diepste ellende van die mens. Uit homself is die mens nie
tot die goeie in staat nie. Hy kies bewus vir die kwaad, en om dit wat goed is
te ignoreer.  Soos die bouers wat bewus
nie die ideale hoeksteen wou raaksien nie. Hulle het willens en wetens die
hoeksteen oor die hoof gesien.

Maar daardie
steen het toe vir hulle ‘n rots van struikeling geword.

Mag dit
nooit met ons kerk gebeur, dat Christus nie meer die hoeksteen is, dat Hy nie
meer sentraal staan in alles wat ons doen nie. Dat ons Hom ignoreer. Want dan
word Hy ook vir ons ‘n steen van aanstoot. In ons teks staan: Vir die
ongelowiges geld die woord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n
hoeksteen geword, en: ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling. Maar
vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar!

Wat so mooi
is aan ons teks is dat God self hier die Boumeester is.

Hy is besig.
Ons lees: “Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat
in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” (vers 6)

As daar in
die Bybel oor Sion gepraat word, dan word daarmee in die Nuwe Testament die
kerk bedoel. In die Ou Testament was Sion die berg waarop God se tempel gebou
is. Vir die kerk van die Nuwe Testament geld dit nou ook. God het self die
hoeksteen uitgekies, waarop Hy sy kerk van die nuwe verbond wil bou. Hierdie
hoeksteen is so groot, dat geen mens in staat is om dit te lê nie, laat staan
dit in beweging te bring. Hierdie hoeksteen is ideaal van vorm.  Daarop kan ‘n gebou gebou word, wat vir eeue,
ja vir altyd sal standhou! Dink vir ‘n oomblik aan ‘n ruïne, ‘n ou gebou wat
inmekaar gestort het. Dalk staan net nog ‘n paar pilare regop. Die kerk van
Christus is egter die teenoorgestelde. Hierdie gebou staan nog steeds, na twee
duisend jaar. En die rede is eenvoudig.  Omdat
God self die Boumeester is.

Omdat Hy die
regte hoeksteen neergelê het, naamlik Jesus Christus.

U verstaan
natuurlik. Dit gaan hier nie oor ‘n gewone gebou nie. Maar dit gaan oor ‘n
gebou met lewende stene. Dit lees ons ook in ons teks:

“Kom na Hom
toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God
uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n
geestelike huis.” (vers 4-5)

God, die
Boumeester van die kerk, is dus besig met ‘n astronomiese groot en skitterende
bouwerk. Die bouwerk gaan steeds voort. Die bou aan God se huis. En u, julle,
seuns en meisies, is die lewende stene. En ook die groot mense. En veral die
volwassenes moet goed na die volgende luister:

Hier staan
nie dat jy saam moet bou aan God se huis nie. 
Dis nie wat hier staan nie. Daar staan: laat julle ook soos lewende stene opbou.

Dus: God is
en bly dus die Boumeester. Jy kan nie die kerk self bou nie.

Ons bely in
die Heidelbergse Kategismus: Die Seun van
God
vergader, beskerm en onderhou die kerk. Dit kan jy as mens nie doen
nie.

Jy kan jou
slegs laat gebruik.

Ek wil nog
‘n voorbeeld noem om dit te verduidelik.

As ons op
die TV na die weerberig kyk, dan staan daar iemand wat verduidelik watter weer
dit môre gaan word. Maar ons moenie vergeet dat dit nie daardie persoon is wat
die weer maak nie.  Ons kan nie die weer
beheer nie, selfs nie vir ‘n enkele dag nie. En so kan mense ook nie die kerk
bou nie. Hulle bepaal nie hoe die kerk gaan lyk nie.

Want as dit sou
gebeur, dan stort die kerk inmekaar.

In ons teks
staan: julle is ‘n heilige priesterdom (vers 5). Dit beteken: deur God
afgesonder en spesiaal aan sy diens toegewy. Dit was wat destyds met die
priesters in Israel gebeur het. Uit die twaalf stamme is hulle as stam van Levi
afgesonder om spesiaal die erediens aan God te versorg.  In die Nuwe Testament, skryf die apostel
Petrus, geld dit nou vir almal in God se volk.

Alle
kerklede is priesters. In die kerk maak jy nie die diens uit nie, maar jy is
diensbaar. God kies wie Hy vir sy bouprojek wil gebruik. In die oë van ander
mense was die gelowiges uit Petrus se dae dalk minderwaardige mense. Hulle is
bespot en verag, lees ons ook in 1 Petrus. Maar in God se oë, en dit skryf
Petrus as bemoediging, is hulle ‘n uitverkore geslag, ‘n heilige volk.  Maak nie saak wat die wêreld van hulle dink
nie, in God se oë is gelowiges kosbaar.

Laat jou
gebruik deur die groot Boumeester. Kom na Hom toe, die lewende steen. Stel
jouself beskikbaar. God doen dit, Hy is die Boumeester.

Maar Hy vra
van jou gehoorsaamheid. Om jou soos ‘n lewende steen in die kerk te gedra, en
nie net soos dooie massa nie.

Petrus
verwys in vers 9 bewus na Exodus 19. Dit was kort nadat God Israel uit Egipte
bevry het, toe hulle by die berg Horeb aangekom het.  Toe het God vir sy volk gesê, wat as
vlugtelinge Egipte moes verlaat:

Julle is vir
My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige volk.

In Egipte is
julle misbruik om groot piramides vir die Farao’s te bou.

Maar Ek het
julle bevry. Nou wy Ek julle tot my priesters. Nou mag julle julleself aan My
wy. Ek is geen slawedrywer nie, Ek is ‘n goeie Vader vir julle. Laat julle dan
nou ook as lewende stene gebruik in my koninkryk.

Presies
dieselfde sê die Heilige Gees, deur die apostel Petrus, nou ook vir ons. Met
die koms van Christus, die kosbare hoeksteen, het God se bouprojek nog veel
groter geword. Internasionaal bou Hy nou aan sy kerk.

Uit alle
lande, tale en nasies kom mense vorentoe om hulle as lewende stene te laat
gebruik.

Dis die
Heilige Gees se werk op aarde.  Orals
waar die instrument van die Gees, die Skrif, oopgaan, gebeur daar dinge. Mense
bring geestelike offers, staan daar in vers 5. Wat is geestelike offers
eintlik? Dis nie moeilik om dit te verstaan nie, mens moet geestelik net met ‘n
hoofletter G skryf.

Dat jou lewe
aangedryf, gestuur word deur die Heilige Gees. Dan is jou hele lewe ‘n offer. Jou
lewe aan Christus gewy. Van jongs af aan.

As kinders
op laerskool al psalmversies leer, en dit uit volle bors tot eer van God sing. Dit
is ‘n Geestelike offer. So begin ‘n pragtige lewe, opreg in diens van die Here.
Elke kind is ‘n steen wat op die hoeksteen gebou word.

Hoe klein jy
ook is, jy word gebou op die hoeksteen.

Dit geld ook
vir Lohan de Jong.  Hy is vanoggend
gedoop. Jesus Christus is ook die hoeksteen onder sy bestaan. Sy ouers moes
vanoggend hier voor in die kerk opstaan, en ja antwoord. Hulle kry die taak om
vir Lohan te vertel op watter hoeksteen hy ingemessel is, nou al vanaf sy
geboorte. Watter beloftes, seëninge dit saambring. Die hele gemeente, ons
almal, is God se eiendom. Sy bouwerk. Ons het dit nie aan onsself te danke nie.  Buiten Christus is ons almal sonder
ontferming, verlore in skuld. Maar nou is ons almal, net soos vandag met Lohan
gebeur het, in ontferming aangeneem.

Ons hart
stroom oor van dankbaarheid en vreugde.

Dit is amper
te mooi vir woorde. Die apostel Petrus struikel omtrent oor sy woorde, soos wat
hy die een gedeelte na die ander uit die Ou Testament aanhaal. Alles
indrukwekkende tekste oor God se onmeetlike goedheid.

Ons bewonder
die Boumeester, wat voortgaan met die bou van sy kerk.

Ons kan Hom
nie naboots nie. Ons kan onsself net beskikbaar stel, laat gebruik, in sy plan.

Jesus
Christus is die hoeksteen van die kerk. Gelukkig, anders het die kerk geen toekoms
gehad nie.  Anders sou die kerk ook ‘n
ruïne geword het, net soos alle ander geboue. Maar danksy Hom, daardie kosbare
hoeksteen, gaan die bou steeds voort. En die opdrag aan jou is om jouself te laat gebruik as ‘n lewende steen. Dit is
God se genade dat Hy ons wil gebruik.

Soos die
spreekwoord sê: die Here kan groot deure laat draai op klein skarniere.

Dis Hy wat
die skarniere sterk en taai maak.

God se Gees
gaan ywerig verder, van eeu tot eeu.

So bou Hy
Christus se kerk van land tot land, met vaste hand.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)