Ons goeie Vader het ons voor die grondlegging van die wêreld uitgekies, sodat ons toegewyd en suiwer in sy diens sal lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-08-14
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1 ; 7-14
Preek Inhoud: 

Rekenaars, selfone, tablette, robotte, afstandsbedienings, sensors, al hierdie dinge speel in die dagelikse lewe ‘n rol wat ons nie meer kan wegdink nie.

Orals om ons heen is die tegnologie so geprogrammeer dat dit ons lewensstyl kan ondersteun. En so stadigaan begin ons as mense ook oor onsself in rekenaarterme te praat. Ons praat oor ons harde skyf hierbo. Ons praat oor menslike harde- en sagteware. Ons praat oor iemand wat voorgeproggrameer is om iets te doen. Ensovoorts.

As ons vandag aandag skenk aan die Dordtse Leerreëls, sou mens, as jy dit oppervlakkig lees, die indruk kon kry dat daarin ook so oor die mens gepraat word. Die mens, wat skynbaar voorgeproggrammeer is volgens God se ewige raadsbesluit. Alles wat hy op aarde doen, is al van ewigheid af al bekend. Net soos ‘n robot is alles gedetermineer, vooruit geproggrammeer.

Nou het ons in die vorige preek oor die Dordtse Leerreëls gesien dat dit hoegenaamd nie die geval is nie. Tussen hakies, gemeente, ek wil u aanraai om daardie preek nog ‘n keer deur te lees. Dit was ‘n lang preek, en nie altyd ewe maklik nie. Die doel van die preek was om ons manier van denke oor die uitverkiesing om te buig. Lees daardie preek hierdie week rustig nog ‘n keer deur. U kan dit aflaai vanaf die internet by ons kerkverband se webwerf: www.vgk.org.za

Hierdie preek van vandag sal ook daarop staan. In die vorige preek het ek onder andere die voorbeeld gebruik van die twee kante van dieselfde muntstuk. Die een kant van die muntstuk laat ons God se raadsbesluit van ewigheid af sien. Sy uitverkiesing en verwerping. Die ander kant laat ons God se dringende oproep aan mense sien, dat hulle hulle moet bekeer, dat hulle aktief moet kies vir die ewige lewe – dis nou of nooit, jou ewige saligheid hang daarvan af! Hierdie beide kante van die munstuk laat die Bybel ons sien. Hierdie twee kante mag teenstrydig klink. Tog is dit nie so nie. Dit oorstyg ons verstand – die harde skyf waarmee ons geskape is – om dit te begryp. Maar beide kante kom in die Skrif na ons toe. En dus ook in die belydenis, in die Dordtse Leerreëls. Ons is nie robotte nie. Ons is nie voorgeproggrammeer van ewigheid af nie. God het ons geskape as mense met ‘n eie wil. Mense wat kan kies. God se uitverkiesing sal ons nooit verstaan nie. Maar dit wat God sy Woord daaroor vertel, dit weet ons wel.

In die preek vandag kyk ons verder na die wonder van die uitverkiesing.

Tema: Ons goeie Vader het ons voor die grondlegging van die wêreld uitgekies, sodat ons toegewyd en suiwer in sy diens sal lewe

In hierdie preek fokus ons spesifiek op die paragrawe 7-14 van die eerste hoofstuk. In hierdie paragrawe kom verskillende aspekte aan die orde, wat ek vir die duidelikheid nou eers op ‘n rytjie sit:

  • die oorsaak van die uitverkiesing
  • die gevolge van die uitverkiesing
  • die onomkeerbaarheid van die uitverkiesing
  • die sekerheid van die uitverkiesing
  • die manier waarop ons oor die uitverkiesing behoort te praat

Kom ons begin nou by artikel 7.

Hier word bely dat die uitverkiesing die onveranderlike voorneme, en die aktiewe keuse, van God is om ‘n baie groot aantal mense in Christus te red.

Verwerping is nie ‘n aktiewe keuse van God nie. Verwerping is die gevolg van volgehoue opstand en verharding by mense. Mense wat hulle hele lewe lank geen antwoord op God se roepstem wil gee nie. Dit word hier genoem in reaksie op die Remonstrante. Hulle het beweer dat daar naamlik ‘n voorlopige en ‘n definitiewe uitverkiesing is. Die definitiewe besluit sou afhang van hoe ‘n mens hom in sy lewe gedra. As jy hierdie stelling van die Remonstrante goed op jou laat inwerk, besef mens dat hulle siening God se uitverkiesing van die mens se keuse afhanklik maak. Dit probeer die Dordtse Leerreëls kragtig te weerlê.

Die eerste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls weerlê hierdie sentrale stelling van die Remonstrante, naamlik dat God mense verkies op grond van die geloof wat Hy in hulle vooruitsien. Dat God wat alwetend is, sogenaamd vooruitgekyk het in die toekoms in en gesien wie ‘n goeie lewe op aarde sou lei. En dat Hy hulle uitgekies het. Verstaan u wat ek bedoel as ek daarom sê dat hierdie redenering die uitverkiesing uiteindelik van die mens en sy goeie lewe afhanklik maak?

Hierteenoor beklemtoon Dordtse Leerreëls in hoofstuk 1 dat God se uitverkiesing allesomvattend is. Die uitverkiesing IS NIE God se reaksie op ons goeie lewe nie. Dis omgekeerd! Ons goeie lewe IS DIE GEVOLG van God se uitverkiesing. Die uitverkiesing is inderdaad allesomvattend. God se besluit om uit te verkies omvat nie net die eindresultaat – die ewige lewe nie – nee, die omvat ook die middele waardeur ons dit bereik.

 

Artikel 8 gaan in hierdie lyn verder. Daar is slegs ‘n eensoortige uitverkiesing.

Dit word genoem teen die bewering dat daar ‘n bepaalde en ‘n onbepaalde uitverkiesing sou bestaan. Vervolgens is die bepaalde uitverkiesing nog verder deur die Remonstrante onderverdeel in ’n volkome en onvolkome een. Mens kan dit lees in die verwerping van die dwalings, agteraan hoofstuk 1, paragraaf 2.

‘n Onvolkome uitverkiesing was volgens die Remonstrante nog herroepbaar.

Verder het die Remonstrante beweer dat daar ‘n uitverkiesing tot geloof bestaan, asook ‘n uitverkiesing tot saligheid. Weereens twee verskillende dinge volgens hulle. Wil jy dus salig word, het ‘n mens nie net die uitverkiesing tot geloof nodig nie, maar ook die uitverkiesing tot saligheid. Jammer dat ek u vermoei met al hierdie spitsvondighede van die Remonstrante, maar dit moet nou eenmaal in hierdie leerpreek. Want as u moeg en sat raak vir al hulle teologiese konstruksies, sal u des te beter verstaan waarop die Dordtse Leerreëls steeds hamer. Naamlik dat al hierdie teologiese spitsvondighede ‘n uitvinding is van die menselike brein. Ons lees dit nêrens in die Bybel nie.

In die Bybel is daar eerder sprake van ‘n goue ketting. Dan dink ons aan die pragtige teks uit Romeine 8:30: hulle “wat hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik.”

Vervolgens lê artikel 9 die oorsaak vir ons saligheid volledig by God se vrye welbehae. God het besluit om ons die geloof in Christus te skenk. Kortom: ‘n mens word nie uitgekies omdat hy glo nie, maar sodat hy kan glo. Geen uitverkiesing op grond van ‘n geloof wat God vooruit by iemand raakgesien het nie. Nooit kan die sekerheid van die geloof op die geloof self gebou word nie.

God se eie onvoorwaardelike besluit is die bron van ons geloof. Die bron van alles wat goed is. Vergelyk Efesiërs 1:4: Hy het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld, ”om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”

Om kan ook vertaal word met sodat. Dit is ‘n absoluut wesenlike boodskap wat vanaand tot ons kom vanuit die gedeelte wat ons gelees het, Efesiërs 1. God se uitverkiesing is die oorsaak vir die Efesiërs se geloof. God se ewige genadige uitverkiesing is en het ook veroorsaak dat ons hier vanaand in die kerk sit.

Elkeen wat vanaand kan bely, jy ek glo van harte in God, kan, as hy agterom kyk, die spoor sien wat die HERE in sy of haar lewe reeds getrek het, om ons tot geloof te bring. Weereens: ons word nie uitverkies omdat ons vanaand keurig in die kerk sit nie. Ons sit in die kerk, omdat God reeds met ons ‘n pad gestap het, ja van ewigheid af al.

Hierdie is iets wat ons dikwels in die Bybel vind. Byvoorbeeld, as die volk Israel hulleself afvra hoekom God nou juis vir hulle as verbondsvolk gekies het, het hulle hierdie selfde antwoord gekry: Nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad het (Deut 7:7-8).

Of Deuteronomium 9:6: “Weet dan dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.”

Artikel 10 gaan verder met hierdie tema. Die oorsaak van ons behoud lê by God.

Ons het dit nie aan onsself nie, maar aan Hom te danke. Onvoorwaardelik. Ons was nie beter as die heidene nie. Dit is nie so dat God in die toekoms ingekyk het nie. Gekyk het wie op aarde ‘n keurige lewe sou lei. En dat Hy vervolgens daardie mense uitgekies het. Nie omdat nie, maar sodat.

God het nie in die toekoms ingekyk nie, nee, Hy het self die toekoms gevorm.

Dan vestig artikel 11 ons aandag daarop dat hierdie keuse nie ongedaan gemaak kan word nie. Ook kan die keuse nie – by nadere insien – opnuut gemaak word nie. Wat is die konsekwensie hiervan? Dit naamlik: dat die getal uitverkorenes nooit minder gemaak kan word nie. Gelukkig maar! Dit staan hier in reaksie op wat die Remonstrante gesê het. Ek dink aan paragraaf 6 van die verwerping van die dwalings. Die uitverkiesing tot saligheid sou volgens hulle nie in alle gevalle onveranderlik wees nie. Sommige uitverkorenes sou ondanks God se besluit tog verlore kon gaan. Ja volgens die Remonstrante het sommige uitverkorenes inderdaad verlore gegaan. Maar, bely artikel 11, dit leer ons nie in die Bybel nie.

Dink aan wat die Here Jesus in Mattheüs 24:24 gesê het: dit is nie moontlik dat die uitverkorenes verlei word nie. En in Johannes 6:39 sê Christus dat al wat die Vader Hom gegee het, Hy niemand daarvan sal verloor nie, maar sal opwek in die laaste dag.

Artikel 12 stel ‘n vraag aan die orde, wat vir elkeen van ons soms pla. Hoe ontvang jy sekerheid van jou uitverkiesing? Nie, sê die Dordtse Leerreëls, deur die verborgenhede en dieptes van God nuuskurig te probeer ondersoek nie.

Ons hoef nie in die hemel te gaan soek, om vas te stel of daar wel uitverkorenes is nie. Ons hoef nie in die hel te gaan soek, om vas te stel of hulle wat in hulle sondes volhard het, daar tereg gekom het nie. Ons hoef nie eers op soek te gaan, voordat ons kan glo nie. Nee, God het na ons op soek gegaan, Hy het na ons toegekom, en Hy het dit persoonlik aan ons kom vertel. Dink aan wat God sê in Deuternomium 30:  “Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (vers 11-14)

Ja naby u is die Woord, tot u behoud! Hoe ontvang jy sekerheid van jou uitverkiesing? Wanneer jy die vrugte van die Woordverkondiging by jouself sien: Ontsag vir God. Droefheid oor jou sondes. Liefde vir jou Heiland.

Honger en dors na die geregtigheid, of om dit in meer alledaagse terme te sê: dat jy lus is om kerk toe te gaan.

Dat jy daarna uitsien om na God se Woord te luister. As jy hierdie dinge by jouself waarneem, is dit ‘n bewys dat God met jou besig is. Ja dat Hy jou ook uitverkies het! En as jy nou nog bietjie twyfel: gaan voort om sy genademiddele aan te gryp. Lewe met sy Woord. Langs hierdie pad gaan Hy die sekerheid ook in jou hart werk!

Dit het geen sin, skryf die Dordtse Leerreëls, om te filosofeer oor die uitverkiesing nie. Daardeur gaan jy nie meer sekerheid kry nie. Sekerheid kry jy deur jouself met sy Woord besig te hou, en met hulle wat ook sy Woord liefhet.

So word jou oë oopgemaak vir die groot dinge wat God in jou lewe doen, hoe Hy jou lewensweg lei.

Dan stel artikel 13 ‘n volgende vraag: Wat het die sekerheid omtrent jou uitverkiesing tot gevolg? Die antwoord is:

nog meer rede om jou voor God te verootmoedig;

nog meer rede om die dieptes van sy barmhartigheid te aanbid;

nog meer behoefte om jouself te reinig;

nog meer behoefte om Hom vurig lief te hê.

Hierdie uitwerking wat die sekerheid omtrent die uitverkiesing op ‘n mens het, is presies die omgekeerde as wat dikwels gedink word. Naamlik dat sekerheid oor jou uitverkiesing ‘n mens lui sou maak, of van jou ‘n Fariseër sou maak.

Die Remonstrante het naamlik beweer dat dit nuttig vir ‘n mens is, as hy moet twyfel aan sy saligheid. Dit sou vir die mens ‘n prikkel wees om goed te lewe.

Nou is dit natuurlik so dat daar soms ‘n valse gerustheid onder God se kinders kan heers. Die Bybel kritiseer so ‘n houding by herhaling: Byvoorbeeld Jeremia 7:4: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!”

Net omdat iemand by die tempel was, of in vandag se terme, net omdat iemand ‘n kerklid is, is nie ‘n waarborg dat hy sal salig word nie. Selfingenomendheid by kerkmense is baie gevaarlik. Ons moet hulle waarsku wat nie ernstig is oor hulle geloof nie. Maar dit beteken nog nie dat daar glad nie van sekerheid sprake kan wees nie. Die ware sekerheid maak ‘n mens juis nederig. Artikel 13: dit is onmoontlik dat die leer van die uitverkiesing ‘n mens sal laat verslap in die onderhouding van God se gebooie. Dat dit ‘n aanleiding sou wees om slap te lê.

Die leer van die uitverkiesing spoor juis verder aan om volgens God se gebooie te lewe.

Vervolgens skryf artikel 14 oor die manier waarop. Die leer van God se uitverkiesing vind ons terug in sowel die Ou as Nuwe Testament. Daarom moet die leer van die uitverkiesing ook aan die gelowiges verkondig word. Predikers mag hierdie aspek van God se openbaring nie verswyg nie. Dit staan naamlik in die Bybel. Daarom mag ons dit nie oorslaan nie. Dit is juis bedoel om die gelowiges te troos. Artikel 14 skryf dan vervolgens hoe hierdie leer oor die uitverkiesing aan die orde moet kom. Dit moet op die regte tyd en plek onderrig word. So kom die onderwerp van die uitverkiesing op katkisasie eers in die later jare aan die orde. En op die sendingsveld het ek hierdie onderwerp ook eers aan die orde gestel, nadat daar duidelike blyke van bekering, geloof en toewyding by iemand was. Want oor die uitverkiesing kan mens slegs in ‘n atmosfeer van eerbied en toewyding praat, met die nodige onderskeidingsvermoë. Hierdie randvoorwaardes is nog nie daar in ‘n gesprek met ‘n ongelowige, of ‘n soeker nie. Dit is in sekere sin ‘n onderwerp vir gevorderdes. Daarmee bedoel ek mense wat geleer het om eerbiedig oor iets te kan praat, mense wat ‘n nederige houding teenoor God het, mense wat al onder die indruk van God se heiligheid is. Op die regte tyd en plek dus. Die regte plek, noem artikel 14, is die kerk. Juis aan die kerk is hierdie leer toevertrou, om die gelowiges te troos en houvas te gee in onseker tye, wanneer die doodsvyande nie ophou om hulle aan te val nie.

Praat oor die uitverkiesing op die regte manier, op die regte tyd en plek. Wie nie met onderskeidingsvermoë, wie nie eerbiedig, wie met ‘n brutale nuuskierigheid hierdie onderwerp behandel, behandel dit tot sy eie verderf. Pêrels gooi mens nie vir die varke nie, het Jesus gesê. Pêrels koester mens. En die uitverkiesing is ‘n pêrel, ‘n besit van onskatbare waarde. En vandag, vanaf die kansel, word hierdie pêrel vir u aangebied. ‘n Skitterende geskenk. God bied dit jou aan.

En julle mag dit hou, elkeen van julle. So, sluit artikel 14 af, is die uitverkiesing ‘n lewende troos vir sy kinders, en tot eer van God. Nog een keer: om die regte tyd en plek te bepaal, vereis die nodige onderskeidingsvermoë. Net soos ouers die regte tyd en plek kies om iets aan hulle kinders te vertel. Soms moet mens vir ‘n klein kind wat te nuuskierig is, sê: Nie nou nie, ek sal later vir jou vertel. ‘n Kind het nie altyd onderskeidingsvermoë nie. ‘n Kind is wel nuuskierig.

Maar wie volwasse geword het, kry oog vir die regte tyd en plek. En so wil God dat die leer van die uitverkiesing in die kerk aan die orde kom. Ons mag dit nie oorslaan, omdat dit so ‘n ingewikkelde onderwerp is nie. Maar dit is wel belangrik dat dit op die regte tyd en plek gebeur. Sodat hierdie leer ook die beoogde effek het. Wie oor ‘n gevoelige onderwerp praat sonder nuanses, sonder fyngevoeligheid, sonder skroom, maak die onderwerp self ‘n bespotting.

Maar wie plek en geleentheid sorgvuldig kies, sal die beoogde resultaat ook behaal. Die Dordtse Leerreëls prent ons goed in: die manier waarop mens dit doen, maak ook saak. Die manier waarop is van essensiële belang. Op Bybelstudievereniging diskussieer oor die uitverkiesing – met hete hoofde en koue harte – dit is nie die manier waarop dit moet gebeur nie. Maar, wanneer ons oor sy ewige raadsplan begin praat, dan begin ons outomaties sagter te praat, met groter eerbied, maak die toon van diskussie plek vir ‘n toon van verwondering. Dan wyk die ‘ek weet beter’-houding vir een van heilige eerbied.

Dit is die toon wat Paulus ook tref in Romeine 11, waarmee ek vanaand wil afsluit:

“o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë. Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit Hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (vers 33-36)

Liturgie: 

Aand:
Votum
Seën
Ps 71:1,2
Gebed
Skriflesing: Efesiërs 1
Ps 4:2
Teks: Dordtse Leerreëls 1,7-14
Preek
Sb 24:5,6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 24:7
Seën
Preek: Dordtse Leerreëls 1,7-14