Nie arbeid nie, maar die seën van die HERE maak ryk!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-11-19
Teks: 
Psalm 127 : 1a
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 127:1a

As mense geloofsbelydenis doen, dan dink mens aan die toekoms. Wat sal hulle te wagte staan in hulle lewe? Sal dinge voorspoedig gaan  of sal daar teenslae wees? Sal hulle trou bly aan Christus en sy kerk? Is daar ‘n houding van diensbaarheid wat hulle deur die lewe gaan dra? Of is die eie ek tog aan die einde van die dag die belangrikste?

Die Heilige Gees het Psalm 127 in sy Woord gegee, om vir die kerk steun te bied. Deur die eeue heen het die kerk aan hierdie psalm steun gehad.

Telkens kon die kerk, te midde van weerbarstige omstandighede, hulle optrek aan die pragtige boodskap in hiedie psalm. Ek wil een voorbeeld uit die kerkgeskiedenis noem, waar hierdie Psalm houvas gebied het. By die maak van hierdie preek het ek dankbaar gebruik gemaak van ‘n preek wat Marten Luther oor dieselfde psalm geskryf het. Hy het sy preek in die jaar 1524 geskryf. Hy het die preek spesifiek geskryf vir die gelowiges in die stad Riga.

Riga is ‘n groot stad aan die Oossee, in Letland. Die gelowiges daar het Luther versoek om ‘n opbouende woord aan hulle te skryf. Daar was baie Protestante in hierdie stad. Luther het toe aan hulle hierdie preek oor Psalm 127 gestuur, met as doel: Om die harte van die mense af te trek van hebsug en die bekommernis oor tydelike behoeftes en besit, en hulle harte te bring tot geloof in God. Om die mense te leer hoe om hulle as Christene te gedra by die verwerf van besittings, by die verdedig van jou besittings, by die gehegdheid aan jou besittings. Om jou aandag nie primêr te rig op die skep van ‘n aangename leefklimaat hier op aarde nie, maar om jou aandag te rig op die beërwing van die koninkryk van God.

Tema: Nie arbeid nie, maar die seën van die HERE maak ryk!

As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs swoeg die bouers. Met huis moet ons hier nie net dink aan ‘n huis van baksteen en sink, aan mure en ‘n dak nie.

Maar ons kan dink aan alles wat by ‘n huishouding hoort. Die gebou, ook die meubels, gordyne, kombuis, yskas, oond, televisie, braai, alles wat mense in hulle huis wil hê. Dit is tog waarvoor mense swoeg en sweet? Allereers om alle rekeninge en jou lening te kan betaal. En hopelik ook om genoeg oor te hou om jou huis ‘n lekker plek te maak. Swoeg en sweet om darem ‘n bepaalde materiële vlak te handhaaf. Nou geld die woord swoeg dalk nie vir almal nie.

Daar is ook baie mense wat plesier aan hulle werk beleef, en dan ook nog geld daarvoor verdien. Vir sommiges is hulle werk hulle lus en lewe. Hoe dit ook sy, ons wil ten minste wel iets terugkry, geniet van dit wat jy verdien het.

Dit waarvoor jy so hard gewerk het.

Gemeente, juis op hierdie punt bring Psalm 127 ons tot stilstand. Nie omdat ‘n luukse lewe verkeerd sou wees nie. Dit staan nêrens nie. Wel bring Psalm 127 ons tot stilstand as ons die volgende konneksie maak: Ek het hard gewerk, en daarom het ek reg op ‘n goeie inkomste, ‘n luukse lewe. Of om dit anders te verwoord. Ek werk hard, en daarom het ek reg op ‘n goeie lewe. Op hierdie punt stop Psalm 127 ons. Dit is ‘n verkeerde gedagte.

Asof ‘n goeie lewe jou reg is, omdat jy hard gewerk het, omdat jy die regte keuses in jou lewe gemaak het. Nee, sê Salomo, en dan rig hy ons gedagtes op God. Die werklikheid is anders. Daar is mense wat vir jare en jare hard werk, en dan tref ‘n siekte hulle. Daar is mense wat, hoewel hulle hard gewerk het, geen wins of dalk selfs geen inkomste ontvang nie. Dit kan wees deur allerlei redes. Droogte, of dalk te veel reën, ‘n ekonomie wat inmekaar sak, dalk onverwagte kompetisie, of owerheidsbeleid, daar is honderde redes wat mens kan noem. Dit is die werklikheid. En dus kom die vraag na ons: wie is dit wat alles bestuur in die wêreld? Dit is Hy, oor wie Salomo hier sê:

As die HERE nie die huis bou nie, dan is alle moeite, geswoeg en sweet, verniet.

Huis bou, soos ek genoem het, verwys dus na die breë huishouding van ons lewe. Daarom is die boodskap van hierdie psalm: hou rekening met Hom!

Daar is nie ‘n een op een verhouding tussen hard werk en sukses in die lewe nie. Die HERE staan daartussen. Alles hang nie af van hard werk nie  maar alles hang van die HERE af! Hy gee dit aan sy beminde immers in die slaap.

Slapende ryk word. Ryk of arm, siek of gesond, voorspoed of teëspoed, daarin moet ons die hand van die HERE sien. Soos Marten Luther detyds aan die gelowiges geskryf het:

Daarom laat God sulke dinge in die wêreld gebeur, om ... die vermetelheid van mense se redenasies met hulle eie wysheid te skande te maak, en om hulle te dring tot geloof.

Dit bring ons by die volgende. Mens sou net so goed slapende ryk kon word.

En vir iemand wat met die HERE lewe is dit inderdaad die geval. Want elkeen wat op die HERE vertrou, seën Hy met oorvloed. Iemand wat op die HERE bou, voel homself ryk. As die HERE aan jou kant is, sien jy kans vir die lewe. Ons sing so mooi in Psalm 37:

37:15 Ek was aanskouer van veel kwaad,

maar nooit dat God sy volk verlaat,

dat hul geslag, hoeseer geplaag,

ooit aan die bedelbrood moes knaag.

37:16   Veeleer skenk hy genadebrood

aan wie al wankel in hul nood.

Sy nageslag strooi om hul heen,

en op hul spoor ontspruit 'n seen.

 

Jy is ryk as jy besef dat die HERE die Een is wat jou lewe lei.  Hy beloof jou nie ‘n maklike lewe nie – soos Psalm 37 sê, God se kinders kan ernstig geplaag word. Tog beloof hy dat wie op Hom vertrou, nie aan die bedelbrood sal knaag nie.

Sien daagliks sy hand in jou lewe. Want laat dit duidelik wees. Daagliks praat God met sy kinders. Deur sy Woord. Maar nie net dit nie. Ook deur dit wat daar gebeur. Soos die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 2 sê:

Hy praat met ons deur sy skepping, onderhouding en regering van die wêreld.

In gesondheid of siekte, in promosie of afdanking, in swangerskap of die uitbly van swangerskap, in alles stap die HERE ‘n pad met ons.

Selfs die kwaad laat Hy meewerk ten goede. Die duiwel gaan rond soos ‘n leeu.

Maar ook die kwaad maak God diensbaar aan sy plan. Vertrou jou lewensweg aan Hom toe, Hy maak dit goed.

Gemeente, laat ons hierdie psalm goed verstaan. Dit is nie so dat God ons afraai om te werk nie. Ons moet werk, solank ons kan. Maar om ons oorvloed aan ons eie arbeidsprestasies toe te skryf, dis ‘n drogredenasie. Huis, inkomste, besit, kinders, al hierdie dinge skryf ons toe aan die goedheid en seën van God. As jy sê: my inkomste, my welvaart, dis omdat ek hard daarvoor gewerk het – as jy so redeneer – dan is jy ‘n maklike prooi vir hebsug. As jy steeds meer wil hê, en dink dat jy dinge self na jou hand kan sit. Dikwels is die lewe dan ‘n harde leermeester.

Daar is baie mense op aarde wat ontsettend hard werk, maar wat tog arm bly.

En ook al sou jy hard werk – of soos Luther gesê het – al sou jy honderd jaar lank geploeg het, en alle moontlike arbeid verrig het, dan nog steeds sal jy dit nie regkry om een koringaar uit die grond te laat opkom nie. Maar God sorg daarvoor, terwyl jy slaap, dat uit ‘n korreltjie ‘n halm te voorskyn kom, waaraan dertig, sestig of selfs hondervoudig nuwe saadkorreltjies kom.

Hierdie psalm roep dus op om ons arbeid trou te doen, maar wys besorgdheid en hebsug af. Om niks te doen, om slap te lê, is teen God se wil. Maar ‘n werkesel wat nie meer tyd het vir Bybelstudie, vir sy gesin, vir sy geloofsgenote, dis net so erg. Ja die HERE roep op tot arbeid.

Daar staan nie in hierdie psalm: die HERE moet die huis bou, ons kan niks doen nie. Daar staan: doen jou werk met die regte houding.

Want as jy die huis bou – en nogmaals onthou dit gaan hier nie net oor ‘n huis van bakstene nie, maar oor jou lewenshuis, doen dit met die besef: my inspanning en werk en swoeg en sweet gaan nie die verskil maak nie, maar God moet dit doen. Dalk klink dit teenstrydig. Wie doen dit nou eintlik: God of ek? Miskien dink jy in jou agterkop: die dominee kan almal mooi dinge oor God sê, maar die lewe bly hard. Ek moet werk, anders kom ek nie bo uit nie, anders het ek nie geld nie. As jy so dink, luister dan nog ‘n keer goed na hierdie psalm. Dit sit naamlik so: Jy behoort te werk, dis jou taak op aarde.

Maar dit is God wat jou sal voed. Jy kan nie jouself voed nie. Wees daarom nie oormoedig deur ‘n direkte verband te lê, ‘n oorsaaklike verband, tussen jou werk aan die een kant, en die onderhoud van jou lewe aan die ander kant nie.

In die trant van: dit gaan finansieel goed met my, want ek het die afgelope jaar hard gewerk, en ek was slim gewees. Hierdie konklusie is nie reg nie, dis te vinnig getrek. Juis as gelowige moet jy ‘n ander toon aanslaan.

Dank U Here, dat ek kan werk. Dank U, dat ek gesond is. Dank U, dat daar werk was. Dat daar vrede was, sodat ek kon werk. Dank U, dat U die resultate van my arbeid wou beloon.

As mens hierdie Psalm regtig op jouself laat inwerk, begin mens anders na die lewe te kyk. As gelowige moet mens werk en geld verdien van mekaar loskoppel. As Christen is werk nie primêr ‘n manier om geld te verdien nie.

As Christen is werk ‘n roeping, ‘n opdrag van God. Jy ontvang van God veel werk in jou lewe. Werk op verskillende gebiede. Ook julle, wat vandag geloofsbelydenis doen, word geroep tot die arbeid. Nou studeer julle nog, maar dis nie enigste werk nie. En as jy later ‘n beroep het, gaan dit ook nie jou enigste werk wees nie. Die HERE gaan jou ook roep tot arbeid in die gesin, as Hy jou daarmee seën, en in die kerk, byvoorbeeld as ouderling of diaken, of in ‘n kommissie in die kerk soos die sendingskommissie, of finansiëlekommissie, of die HERE roep jou tot vrywilligerswerk in die samelewing. Ja God se opdrag aan sy kinders is om te werk. Ses dae per week.

Daar is baie werk in God se koninkryk. Dit is ons fokus in die lewe. Ons werk is gerig op die voorbereiding van die koms van sy koninkryk. Die belang van sy koninkryk bepaal ook ons werkverdeling. Iemand kan sewentig of tagtig uur per week op sy kantoor sit, of met sy eie besigheid besig wees, met die gevolg dat sy gesin afgeskeep word. Dan maak hy miskien vooruitgang in sy loopbaan, maar Hy bewys geen diens aan God se koninkryk nie. Watter werk ons doen, en hoeveel tyd ons daaraan spandeer, dit het alles te make met Hom wat ons die opdrag gee om te werk.

Broers, julle is tans besig om te studeer, julle wonder nog: waar gaan ek eendag werk? Maar vra veral die vraag: Waar wil die HERE my in sy koninkryk gebruik? Gaan ek eendag werk waar ek die lekkerste werk, of die bes betaalde werk kry? Dis nie die regte afwegings nie. Die regte afweging is: waar wil die HERE my gebruik? Waar kan ek die beste diensbaar wees in sy koninkryk? Waar kan ek lid bly van sy kerk?

Waar kan ek my kinders, as die HERE my daarmee seën, opvoed en laat opvoed in die diens van die HERE? Die HERE sal sorg, as ek die regte prioriteite stel in my lewe. God sorg vir sy kinders, nog veel meer as wat Hy vir al sy ander skepsels sorg.

Psalm 147: Hy gee aan die vee hulle voedsel, aan die jong rawe as hulle roep (vers 9).

Psalm 145: Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd (vers 15).

Geliefde broers wat vandag geloofsbelydenis aflê, maar ook almal hier vanoggend. Laat ons ons arbeid trou verrig en nooit vergeet:

Die mens word nie deur sy eie arbeid gevoed nie.

Dit lê ingewikkelder. Tussen ons arbeid en ons daaglikse voedsel lê die seën van die HERE. Die feit dat ons ons arbeid kan verrig, is afhanklik van soveel faktore wat direk teruggaan op die seën van die HERE:

  • die feit dat jy toegang het tot betaalde arbeid;
  • die feit dat jy die gesondheid het om jou werk te doen;
  • die feit dat daar vrede en stabiliteit is sodat jy jou werk kan doen;
  • die feit dat jy talente en vaardighede ontvang het om jou werk te kan doen;
  • die feit dat daar nie ‘n ongeluk gebeur elke dag op pad na jou werk toe nie;
  • die feit dat die skepping betroubaar is, dat God in sy voorsienigheid sorg dat daar nie elke dag aarbewings of orkane of watter natuurramp ook al plaasvind wat dit vir jou ontmoontlik maak om jou arbeid te doen nie.

    Wie besef hoeveel faktore, hoeveel veranderlikes daar is wat direk teruggaan op die seën en voorsienigheid van die HERE, wie dit besef, waag dit nooit meer om te sê: ek het hard gewerk, en daarom is ek ryk, daarom het ek reg op my brood nie.

    Dis vir sulke mense wat die Here Jesus sê, en dis presies dieselfde boodskap as hierdie psalm: Die land van ‘n ryk man het goed gedra, en hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen? Ek sal my skure afbreek en groter bou, sodat ek al my oes kan bêre. Ek sal vir my siel sê: Jy het baie goed vir baie jare.

    Neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het gesê:

    Jou dwaas, in hierdie nag sal daar ‘n gewapende oorval op jou plaashuis wees.

    Alles wat jy gereedgemaak het, sal vir iemand anders wees. So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.

    500 jaar gelede het Marten Luther ‘n woord van bemoediging geskryf aan die Protestante in die stad Riga. Hy het vir hulle ‘n preek oor Psalm 127 gestuur.

    Wie weet, as Luther vandag sou geleef het, sou hy dan nie ook dieselfde preek aan die Protestante in Suid-Afrika gestuur het nie? Ek dink die Protestante in ons land het beslis ook behoefte aan ‘n woord van bemoediging! Wat sou Luther geskryf het? Is die kans nie groot dat hy dieselfde boodskap aan ons sou gerig het nie? Naamlik om die harte van die mense in hierdie land af te trek van hebsug en die bekommernis oor tydelike behoeftes en besit, en ons harte te bring tot geloof in God. Om die mense te leer hoe om hulle as Christene te gedra by die verwerf van besittings, by die verdedig van jou besittings, by die gehegdheid aan jou besittings. Om jou aandag nie primêr te rig op die skep van ‘n aangename leefklimaat hier op aarde nie, maar om jou aandag te rig op die beërwing van die koninkryk van God. Ja Luther se preek is nog steeds baie relevant vir ons vandag! Luther het maar net die gelowiges se aandag en prioriteite, teruggelei na die Skrif toe.

    Terug na die Skrif, lewe vanuit die Woord! Niemand kan vir ons beter leer hoe om in die lewe te staan, hoe om ons arbeid te verrig, hoe om met ons besittings om te gaan, as die Here Jesus self in sy Woord nie. Hy het na die aarde gekom om sy taak te verrig. Hy het dit nie vir Homself gedoen nie.

    Hy het dit gedoen nie om Homself nie, maar om ons ryk te maak! Gaan daarom elke dag na Hom vir raad. Vra aan die begin van elke nuwe week vir Hom:

    Here, wat wil U hê moet ek hierdie week doen? Waaraan moet ek hierdie week veral aandag skenk? Wat is u mening oor my beroepskeuse? Hoe wil U hê dat ek my geld moet bestee? Laat ons telkens by Hom vir raad gaan vra.

    Hy regeer op die troon. En Hy is dit wat ons in sy Woord op die hart druk:

    Moenie julle kwel nie: wat sal ons eet, wat sal ons drink, wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 
    Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matth 6:31-33)

    Amen.

     

     

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 17:2,3

Wet

Ps 119:41,44

Gebed

Skriflesing: Psalm 127

Ps 37:15,16

Skriflesing: Lukas 12:13-34

Sb 17:4,5,6

Teks: Psalm 127:1a

Preek

Ps 127:1,2

Openbare Geloofsbelydenis

Seën

Psalm 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 127:3,4

Seën