Elke erediens word begin met votum en seëngroet. Votum is ‘n Latynse woord wat beteken: gelofte, of gebed. Mens kan dit ook noem: ‘n afhanklikheidsverklaring.
Aan die begin van die erediens bely ons ons afhanklikheid. Die votum wat ons altyd aan die begin van die diens gebruik, kom uit Psalm 124:8.
“Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”
Vanaand het ons as ons afhanklikheidsbetuiging Psalm 121:1 gesing.
Hierdie Psalm is die teks vir vanaand. Dit is toepaslik want vir die doopouers, Pieter & Cornelia, is dit ‘n wesenlike dag in hulle lewe. Hulle het ‘n gelofte afgelê wat betref hulle dogtertjie, waarby hulle die HERE se hulp baie nodig gaan hê. En ook vir Correlie is dit ‘n wesenlike dag, al besef sy dit nog nie.
Vir die res van haar lewe gaan sy die hulp van die HERE ook baie nodig hê.
Ons vra almal onsself af: wat sal die toekoms bring?
Die tema vir die preek is ook ‘n afhanklikheidsverklaring:
Ons verwag ons hulp van die HERE alleen
- Hy het die hemel en die aarde gemaak
- Hy het ook die gesin gemaak
1 Hy het die hemel en die aarde gemaak
Ek slaan my oë op na die berge. Hoë woeste berge. Berge waarvan mens die top nie kan sien nie, omdat dit bedek is in die wolke. As die digter na die massiewe berge kyk, wel die vraag in hom op: Waar sal my hup vandaan kom?
Nou staan daar bo aan hierdie Psalm: ‘n Bedevaartslied. Letterlik vertaal beteken dit: ‘n lied van die opgang. Die bedevaarts, oftewel opgangsliedere is vroeër in die Ou Testament gesing as die mense opgegaan het na die tempel.
Die tempel het ook op ‘n berg gestaan, die berg Sion. Om op te gaan na die huis van die HERE, dit het ‘n vaste uitdrukking geword. Selfs vandag sê mense dit soms nog deftig: ons gaan op na die huis van die HERE.
Maar as die digter – ons weet nie wie hy was nie – in vers 1 sê: ek hef my oë op na die berge, watter berge het hy bedoel? Ons weet nie presies, al was dit waarskynlik nie die berg Sion, waar die tempel gestaan het nie. Dit was eerder die berge daar waar hy gebly het, of dalk die berge oppad na Jerusalem. Die van ons wat al ooit in Isael was, sal weet dat daar behoorlike bergreekse in daardie land is.
As mens te voet moes reis, was dit nie eenvoudig nie. Die berge het veral vir ‘n voetganger ‘n bedreigende uitstraling. Dan moet mens nie net dink aan die majestueuse indruk wat die berge op ‘n mens gemaak het nie. In die heidense wêreld is die berge ook beskou as die blyplek van die gode. Op die hoogste berge, waar die wolke al begin het, daar het die gode gewoon. Vandaar kon die gode na al die omliggende land kyk. Vandaar het die gode oor die omliggende landstreek geheers. Die digter, oppad na Jerusalem, vra homself dus af: waar sal my hulp vandaan kom? Hoe kom ek verby die vreemde gode op hierdie hoë berge? Hoe kom ek deur hulle landstreek sonder gevaar?Is ek ook bang vir die berge, net soos die heidene van hierdie landstreek?
En dan kom die pragtige geloofsbelydenis oor sy lippe:
My hulp is van die HERE, wat HEMEL EN AARDE gemaak het!
Hoog bo hierdie godeberge troon my God en Skepper. Hy het hemel en aarde gemaak. Daarom weet ek seker: Hy sal nie toelaat, dat jou voet wankel nie.
Gemeente, die digter kyk dus eintlik baie nugter na die wêreld. Om nugter na die wêreld te kyk, is nie so vanselfsprekend as mens dink nie. Ook vandag nie.
Nog steeds glo mense hier in Afrika dat die berge die blyplek is van die gode, of die voorvadergeeste. Nog steeds loop baie mense hier in Afrika ‘n wye boog om die berge. Nog steeds is so baie mense bygelowig. Om ‘n voorbeeld te noem. As ‘n baba gebore word – en dit geld waarskynlik vir die meeste mense in Suid-Afrika – sal die ma die baba vir drie maande in die huis los. Sy sal nie waag om die baba voor drie maande om is, kerk toe te vat nie. In die kerk sit baie mense, en jy weet nie of een van hulle dalk ‘n bose gees het nie. ‘n Bose gees kan baie maklik in ‘n jong babatjie inkom, omdat ‘n klein babatjie nog ‘n sagte fontanel het.
Maar gemeente, in ‘n wêreld vol bygelowe mag ons nugter bly. Die HERE het hemel en aarde gemaak. Hy is die Skepper van alles op aarde. Soos ek die skepping sien, so is dit. En die skepping is goed, ja baie goed, het ons uit Genesis 1 gelees. Vir afgode en bose geeste hoef ek nie bang te wees, as die Naam van die HERE aan my verbind is nie. As ek in sy Naam gedoop is nie.
Die Skepper van alle dinge sal nie toelaat dat jou voet wankel nie. Jou Bewaarder sal nie sluimer of slaap nie.
Hierdie sluimer of slaap, wat Psalm 121 noem, is eintlik indirekte kritiek op die afgode. Die digter is die heeltyd besig om sy God met die afgode van die mense om hom heen te vergelyk. ‘n Afgod soos Baäl byvoorbeeld. Onthou u nog die geskiedenis van Elia en die Baälpriesters? Toe die priesters geen gehoor gekry het, toe Baäl nie antwoord nie, het Elia spottend voorgestel dat hulle nog bietjie harder moes roep. Want miskien was Baäl besig met ‘n slapie, met ‘n middagslapie! Dit klink te snaaks om waar te wees. Maar uit die ou inskripsies van daardie tyd blyk inderdaad dat die mense dit as normaal beskou het dat hulle gode soms ook moes slaap. Of, nog snaakser, dat hulle gode soms op reis was, om ‘n godin op ‘n ander berg te besoek. Die gode was aan die einde van die dag maar net soos die mense. Hulle was uitvergrote mense, afgode. Maar in skril kontras daarmee is die God van Israel! Hy sluimer of slaap nie. Hy is almagtig en alomteenwoordig.
En as julle, Pieter & Cornelia, julle afvra: wat beteken dit vir ons? Die digter skryf: Hy is ook julle Bewaarder. Julle kan op sy almag vertrou. God die almagtige bestee spesiale aandag aan sy kinders. Soos die Psalm sing; Hy is jou skaduwee aan jou regterhand. Hy gaan altyd met jou saam.
Vir son en maan hoef jy nie bang te wees nie. Ook hier moet mens nie net dink aan die feit dat die son jou byvoorbeeld siek kon maak nie. Net soos in Suid-Afrika is die son in die Midde-Ooste brandend warm. Maar met sy verwysing na son en maan dink die digter hier ook spesifiek weer aan die afgode. In Egipte het die mense destyds die songod aanbid. In die land van die Eufraatrivier, die hedendaagse Irak, het die mense die maangod vereer. Maar die geloofsbelydenis van die digter troon hierbo uit:
Die HERE, Hy is Skepper van hemel en aarde, Hy sal jou bewaar vir alle kwaad.
Of dit nag is of dag, ysig koud of versengend warm. Die HERE is jou Bewaarder. Ja Hy bewaar selfs teen die duiwel en al sy bose geeste!
Hy sal jou bewaar vir alle kwaad.
Hy sal jou siel, jou lewe, bewaar.
Hy sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
Die hele wêreld lê in sy hand. Hy, Skepper van hemel en aarde. Ons kyk op, nie net na die berge nie, maar na die hemel. Vandaar verwag ons ons hulp.
(Ons verwag ons hulp van die HERE alleen
1 Hy het die hemel en die aarde gemaak)
2 Hy het ook die gesin gemaak
Ons is vanaand saam in ‘n erediens. ‘n Spesiale diens, waarin die jongste lidmaat van ons gemeente die doop mog ontvang. Vir Correlie se ouers is dit ‘n wesenlike oomblik. Hulle het vanaand ‘n gelofte afgelê voor God. Want hulle het van Hom ‘n kind ontvang. Hulle kyk na die toekoms. Hulle sien baie gevare om hulle heen. Mense sal vir jou vra: waarmee begin jy? Is daar ‘n toekoms vir jou kinders? Sal julle instaat wees om haar op te voed, haar alles te gee wat sy daarby nodig het?
Gemeente, uit die Bybel weet ons dat die HERE nie net hemel en aarde gemaak het nie. Hy is ook die Skepper, die Ontwerper van die gesin. Dit is ‘n skeppingsinstelling van Hom, dat man en vrou saamkom, en in die huwelik tree. En so skep God die ideale omstandighede vir ‘n kind om op te groei. God het aan alle geskape dinge hulle vaste orde gegee. Sterre en planete, die bane waarin hulle beweeg. Ons noem dit deesdae die natuurwette. Daaraan bly hulle gehoorsaam. God het die vaste orde van die seisoene gegee. God het die planteryk geskep, en die diereryk. Elke lewende wese funksioneer op basis van die vaste orde wat die Skepper daarvoor ontwerp het. Presies dieselfde geld ook vir die mens. God het nie net die mens geskape nie. Hy het ook orde in sy bestaan geskep, of ontwerp. Toe Hy die mense gemaak het, het Hy hulle manlik en vroulik gemaak. Hy het dit so beplan dat hulle bymekaar kom en ‘n twee-eenheid vorm. Dis die manier soos Hy dit bedoel het, sy skeppingsinstelling. Binne hierdie struktuur het die God behaag om kinders te gee. Wie hulle aan hierdie geskape strukture hou, vind geluk. Die Skepper het alles nie vir niks so beplan nie. Ons leef in ‘n era, veral in die Westerse wêreld, waar die mens al hoe meer self op die Skepperstroon wil plaasneem. Hy wil die skepping manipuleer so dit homself goeddink, biologies manipuleer, maar nie net dit nie. Ook sosiaal, of sosiologies manipuleer. ‘n Huwelik word deesdae nie meer gedefinieer as ‘n verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie. Wat van ‘n vrou en ‘n vrou? Of ‘n man en ‘n man? En kinders word deesdae nie meer gebore in die veilige nes van ‘n man en vrou wat lewenslank aan mekaar trou belowe het nie.
Orals sien mens hoe die sonde, die opstand van die mens, die orde en harmonie wat God geskep en ontwerp het, op los skroewe plaas. Maar juis daarom is ons vanaand hier in die kerk. Ons vra konkreet God se seën en hulp, en ons bid vir hierdie ouerpaar. Dat hulle, in ‘n wêreld wat al hoe meer vyandig raak teenoor die HERE en sy wil, dat hulle staande sal kan bly.
Ons spreek vanaand ons afhanklikheid uit:
My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
As Hy kinders skenk, dan kan ons ook op sy hulp reken. Ook in die hede sal sy kinders nie tevergeefs na Hom opkyk nie. Wie, omring deur ‘n sondige en afvallige wêreld, tog in geloof ja sê vir die HERE en sy diens. Wie sy skeppingsorde eerbiedig, in die huwelik, in die gesin, mag nog steeds reken op vreugde en voorspoed. Om in die HERE se weë te gaan, bespaar ons veel verdriet, twyfel, onsekerheid, ongelukke. Ja ons hulp is in die Naam van die HERE, wat hemel en aarde, en ook die gesin gemaak het.
Broers en susters, as jy êrens sonde in jou lewe toelaat, hou dit nooit op nie.
Die satan is nooit tevrede nie. Maar as jy die pad stap wat die HERE vir jou wys, dan plaas jy die satan buite spel. Natuurlik gaan daar moeilike tye kom, ook in gelowiges se lewens, ook in hulle huwelike en gesinne. Maar juis dan gaan jou huwelik, jou gesin, vir jou beskerming gee. En ook vir jou kinders.
Die statistieke wys maar net oor en oor dat kinders wat uit gesonde gesinsomstandighede kom, net soveel verder kom in die lewe. In ons land, en ek dink dit geld ook vir baie ander lande, groei die meeste kinders op in enkelouerhuishoudings.
Wat ‘n seën is dit dat in die kerk hier die statistieke die omgekeerde is van wat dit in die wêreld is. Dat in die kerk, waar die HERE se Woord ernstig geneem word, enkelouergesinne die uitsondering is. Watter vreugde skenk ‘n gesonde gesinslewe nie. Watter seën gee die HERE daardeur nie aan die kinders, aan die kerk, aan die hele samelewing nie. Hy wat die HERE vrees, wat sy skeppingsorde eerbiedig, ook in huwelik en gesin. Hy vir wie God een en al is, hy sal geseënd wees! (Psalm 128).
En so is ons dankbaar vandag.
Dankbaar ook saam met die oupas en oumas. Op hulle bede het hulle van God ‘n nakroosseen verkry (Ps 128:4). En die nuwe generasie van gesinne, van kinders, vertrou ons toe aan die HERE.
Ja laat Hy ook die skaduwee wees van jou gesinslewe.
Laat Hom orals saamgaan, in alles wat julle as gesin doen.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 124:1,2
Gebed
Doopsformulier
Bediening doop: Correlie Botha
Ps 100:1,4
Dankgebed
Skriflesing: Genesis 1:1-2:3 & 2:18-25
Ps 128:1,2
Skriflesing: Psalm 121
Ps 124:3,4
Teks: Psalm 121:2
Preek
Ps 121:2,3,4
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 128:3
Kollekte
Ps 128:4
Seën