Christus se lewe het die pad van ‘n koringkorrel gevolg

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-03-25
Teks: 
Johannes 12:23-25
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 12:24

Oor minder as ‘n week hoop ons weer Goeie Vrydag te vier. Ons herdenk dat Christus gesterf het, soos ‘n koringkorrel wat in die grond gesaai word.

‘n Koringkorrel sterf onder die grond, sodat dit kan ontkiem. As dit opkom en groot word, begin dit vrug te dra. Sodat uit een korrel ‘n veelvoud van nuwe korrels ontstaan. So herdenk ons op Goeie Vrydag die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk, versamel uit alle volke, nasies en tale. Die teks vir vanoggend het plaasgevind enkele dae voordat Jesus gekruisig sou word. Vir oulaas kondig Hy sy lyde aan vir sy dissipels, wat maar net nie dit kon begryp nie. Maar ons Heiland was self heeltemal daarvan bewus. Hy het aan die een kant daarteen opgesien. Dit het Hom angstig gemaak. Aan die ander kant het Hy gehoorsaam hierdie pad gestap. Beseffende dat die teenswoordige lyde nie opweeg teenoor die heerlikheid wat Hy daarna sou ontvang nie.

Tema: Christus se lewe het die pad van ‘n koringkorrel gevolg

  • Hy lei sy dissipels om dit te erken
  • Hy lei sy dissipels om dieselfde pad te stap
  • Hy lei sy dissipels om later sy getuies te wees tot die eindes van die aarde
  • Hy lei sy dissipels om dit te erken

    Die gebeure van ons teks volg kort na Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem op ‘n donkie. Toe het die skare geroep: Hosanna. Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Die skare was baie entoesiasties, want die opwekking van Lasarus was nog vars in hulle geheue. Lasarus is in Betanië opgewek, naby Jerusalem. Die Fariseërs was egter nie so entoesiasties nie.

    Hulle het al hoe meer in ‘n hoek gedryf gevoel. Duidelik het hulle begin verloor teenoor Jesus. Desperaat het hulle vir mekaar gesê: ons vorder niks nie.

    Die hele wêreld loop agter Hom aan!

    Vers 20 getuig inderdaad daarvan. Nie net Jode nie, selfs Grieke het agter Hom aangeloop.Daar was naamlik Grieke wat ook daar was om op die fees te aanbid – die Paasfees wat op hande was. Ja ook in die Ou Testament was God se Naam en sy Woord onder die heidenvolke bekend. En daar was van hulle, al was dit maar min, wat die ware God van die Jode aanbid het.

    Godvresendes, en Proseliete.

    Hierdie Grieke was nuuskierig na die man, oor wie almal gepraat het. Hierdie man wat skynbaar verlede week nog ‘n dooie lewendig gemaak het! Moontlik het die Grieke ook gehoor van Jesus se optrede by die tempel. Dat Hy die tempel gereinig het, en toe uitgeroep het, verwysende na Jesaja se profesie:

    Is daar nie geskrywe: my huis moet ‘n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? (Mark 11:17)

    Die Grieke wou Hom dus sien. Hy het skynbaar nie net vir die Jode gekom nie.

    Hulle het toe na Filippus gegaan, een van die dissipels. Hier word spesifiek genoem waar Filippis vandaan gekom het. Daardie Filippus, skryf Johannes, wat van Betsaida in Galilea was. Dit was ‘n gebied waar naamlik heelwat Grieke gewoon het. Mens kan dink aan die nabygeleë Dekapolis. Filippus het self ook ‘n Griekse naam gehad. Filippus kon dalk goed Grieks praat, meer as die ander dissipels. Die Grieke het hom gevra: ons wil graag vir Jesus sien.

    Met sien word hier bedoel: ontmoet. Filippus het toe met Andreas daaroor gepraat, nog ‘n dissipel met ‘n Griekse naam, en ook afkomstig uit dieselfde gebied.

    Hoekom het Filippus nie direk na Jesus gegaan nie?

    Hierdie was moontlik ‘n sensitiewe saak. Dit was vlak voor die groot fees in Jerusalem, en soos ons weet, is heidene nie naby die tempel toegelaat nie, net tot by die voorhof vir die heidene. Verder sou omgang met heidene Jode wat die tempel wou besoek, ook kulties onrein maak. Was dit wel verstandig vir Jesus om op hierdie stadium met Grieke deurmekaar te raak, het die twee hulleself afgevra? Jesus was bekend daarvoor dat Hy nie teruggeskrik het om met hoere, tollenaars en heidene om te gaan nie. Filippus het eers vir Andreas gepols, of dit wel verstandig was, om hulle Meester op hierdie stadium bloot te stel aan die heidene. Saam het hulle toe die versoek aan Jesus oorgedra.

    En dan kom Jesus met ‘n opmerking wat mens diep laat nadink. Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Met uur word hier bedoel: die spesifieke oomblik wat die Vader hiervoor bepaal het. Met verheerlik verwys Jesus na wat in die komende dae sou gebeur, naamlik dat Hy sou opstaan uit die graf, met ‘n verheerlikte liggaam. En dat Hy spoedig na die hemel sou opvaar om daar op die troon plaas te neem. Ja spoedig gaan die Seun van die mens verheerlik word! Opvallend dat juis hierdie versoek van die Grieke vir Jesus die aankondiging van die uur was. Grieke, heidene, wat na Jerusalem kom om te aanbid. Is dit werklik waar? Ja, dit is. Die uur het nou gekom dat ook die heidene na die Verlosser begin vra!

    Jesus kyk as’t ware oor kruis en graf heen, en sien hoe dit sal wees, nadat die koringkorrel gesterf en ontkiem het. Dan sal die oes kom, uit alle volke en tale en nasies. Hy voorsien ‘n oorvloedige oes van bekeerlinge uit die heidene.

    En hierdie paar Grieke wat na Hom op soek is, was as’t ware die eerstelinge.

    Ja nou word dit werklikheid! Nou het die uur gekom! Die versoek van die Grieke het Jesus sowel bly gemaak as angstig. Dit is nou sover!

    Die tyd het gekom dat die koringkorrel nou eers moet sterf!

    Hierdie besef raak Jesus tot in sy siel. Soos ‘n koringkorrel ontbind, so gaan dit met Hom ook gebeur. Aan die kruis sal al sy heerlikheid weggeneem word.

    Dit gaan aanstootlik wees om te sien. En vir Homself gaan dit hel wees.

    Ja Hy het gemengde gevoelens. Sy siel is baie verskrik (Ps 6:4).

    Tog bid Hy nie, soos Dawid in Psalm 6 wie se siel ook verskrik was, dat die Vader Hom sal verlos nie. Nee, Jesus bid: Vader, verheerlik u Naam!

    Hierdie bede het dieselfde strekking as wat Jesus later in Getsemane sou bid:

    Vader, laat u wil geskied! Hy besef, dis die uur van die waarheid, die spilpunt van sy Vader se plan. Vir Hom geld, Hy wat die Middelaar is, dat die koringkorrel nou eers sal moet sterf. Hy vergelyk dit met die saai van ‘n saad.

    Christus gaan sy lewe aflê, vrywillig, in die vaste hoop op sy Vader se belofte, dat dit vrug sal dra.

    Jesus benadruk sy woorde in ons teks met ‘n dubbele Amen – Voorwaar, voorwaar! Ons het al in ‘n vorige preek gesien dat die evangelis Johannes pertinent aandag skenk aan hierdie uitsprake van Jesus. Ons vind dit ook by die ander evangeliste terug, maar dan telkens ‘n enkele amen. In die Johannesevangelie vind ons telkens die dubbele amen. Met Amen, amen het Jesus telkens ‘n belangrike uitspraak ingelei. ‘n Uitspraak wat die gehoor as omstrede kon ervaar. ‘n Uitspraak wat ‘n gelowige beaming daarvan uitgelok het, juis deur die dubbele amen aan die begin van die uitspraak.

    Nou wat was omstrede aan hierdie uitspraak van Jesus? Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen, maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wel, die hele punt van Jesus se sterwe was omstrede.

    Dit was nie onderdeel van die dissipels se verwagtingspatroon nie. Dit was nie goeie nuus vir hulle nie. Nou, net na die triomfantelike intog in Jerusalem, nou dat selfs mense uit die buiteland in Jesus belanggestel het, was die dissipels optimisties. Nog nooit het hulle soveel aansien onder die volk geniet nie.

    Die Fariseërs was duidelik besig om tweede te kom, om die stryd om die guns van die volk te verloor. In die dissipels se belewing kon dit nou net beter gaan, en was Jesus vinnig op pad na die troon in Jerusalem!

    Maar die Messias het Homself op iets anders voorberei. En dit was vir Hom ‘n sware plig om sy dissipels se denke om te buig. Daarvoor gebruik Jesus die pragtige beeld van ‘n koringkorrel in ons teks. Ons teks is eintlik die soveelste aankondiging van Jesus se lyde en sterwe, deur Homself. Maar met hierdie beeld verwoord Jesus dit so mooi, om sy dissipels se verwagtings reg te stel.

    Nee, Hy is nie oppad troon toe nie. Nog nie. In elk geval nie die troon in Jerusalem nie. Eers kom daar lyde en sterwe.

    Vir die laaste keer kondig die Messias sy lyde aan. So lei Hy sy dissipels na die punt om dit te aanvaar. Sy lewensplan is wat die Vader besluit het, en Hy volg sy Vader se wil.Nie die aspirasies van sy dissipels nie.

     

     

  • Hy lei sy dissipels om dieselfde pad te stap

    ‘n Vorige keer toe Jesus sy lyde aangekondig het, toe het dit ‘n baie heftige reaksie by die dissipels ontlok. Ons kan dit lees in Mattheüs 16.

    Jesus het begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Petrus het in reaksie hierop Jesus bestraf.

    Mag God dit verhoed, dit sal U nooit oorkom nie. Hierdie reaksie was vir Jesus baie swaar. Onbedoeld en onbewus het Petrus met satan hier saamgespan.

    En Jesus moes vir hom sê: gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok! Jy bedink nie die dinge van God nie, maar van mense. Die dissipels het nog nie God se raadsplan deursien nie. Daarby het hulle menslike aspirasies gehad. Hulle wou langs Jesus op die troon plaasneem.

    In ons teks kondig Jesus nou weer sy lyde aan. Met die beeld van die koringkorrel help Hy sy dissipels verder. Hierdie slegte nuus vir die dissipels, is nie net  slegte nuus nie. Die raad van die hemelse Vader is goed, net soos die Vader self goed is. Hulle mag daarop vertrou. ‘n Korinkorrel wat sterf, is op die punt om te ontkiem. Daaruit sal ‘n plantjie opkom, wat op sy tyd dalk hondervoudig vrug sal dra. Maar ‘n koringkorrel wat nie sterf nie, bly alleen.

    Jesus gaan voort om sy dissipels te bewerk. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor.

    Wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. Die dissipels moet hulle aspirasies vir hierdie lewe los. Christus gebruik hier sterk taal: wie sy lewe haat. Dit is tipiese gelykenistaal.

    Elders het Jesus ook al ‘n keer gesê: as iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja selfs sy eie lewe nie ... (Luk 14:26).

    Christus gebruik hier ‘n hiperbool. Met haat bedoel Hy – as jy hierdie dinge bo Hom plaas. As dit vir jou ‘n groter prioriteit is as Hy, en die volg van Hom.

    Is jy al so ver, dat jy die aspirasies van hierdie lewe kan relativeer? Die dinge wat die wêreld belangrik vind?Die onophoudelike dryf na rykdom, vermeerdering van besittings.Die sug na roem, bekendheid, en erkenning. Vir jouself, of vir jou kinders? Die verlange na rus en gemak, pleks van opoffering?

    Het jy hierdie onderwys al aanvaar, wat Jesus vir sy dissipels gee?Wie die verste wil kom in die lewe, ja bewaar wil word vir die ewige lewe, moet nie strewe na dit wat vir die wêreld belangrik is nie.Die Vader roep jou om net soos sy Seun, jou aardse belange tweede te stel.Ons moet bereid wees om te sterf, as ons vrug wil dra.Ons moet toelaat dat God deur sy Gees ons ou mens doodmaak.Jy moet bereid wees om te sterf, as jy vrug wil dra.

     

    Doen jy dit nie, omdat jy jouself en jou aardse belange wil behou, dan sal na hierdie aardse lewe blyk dat jy juis jouself verloor het, ja die lewe verloor het.

    En andersom: as jy Jesus trou volg in hierdie lewe, jou aardse belange tweede stel, enduit tot jou laaste dag so lewe, dan sal blyk dat jy jou siel behou het, en by Jesus se wederkoms blyk dat jy juis nie jouself tekort gedoen het nie, maar dat jy die ewige lewe sal beërf, met liggaam en siel.

    As iemand My wil dien, sê Jesus, laat hom My volg. Die dissipels het gedink dis nie moeilik om Jesus te volg nie.  Die komende dae sou egter iets anders laat sien. Nie een van hulle het enduit by Hom gebly nie.

    Selfs Petrus, wat bereid was om vir Hom te sterf, het Hom verloën.

    Jesus het sy dissipels geken. Hy stel Homself as voorbeeld. Die pad wat Ek nou gaan, moet julle ook gaan. Nie dat die dissipels, nie dat ons ook dieselfde Middelaarswerk as ons Heiland het nie. Maar vir ons geld ook, so Leermeester so leerling, dat heerlikheid eers kom na lyde.

  • Hy lei sy dissipels om later sy getuies te wees tot die eindes van die aarde

    Christus trek hier hard aan sy dissipels. Hy het geweet wat aan kom was.

    Daarom is Hy nou so intensief met hulle besig. Dit wat Hy nou sê, hoor hulle dalk, maar verstaan dit nog nie. In elk geval aanvaar hulle dit nog nie.

    Hopelik dat hulle later, in ander omstandighede, daaraan sal terugdink.

    En die Here het seker gemaak dat hulle dit nie sou vergeet nie. In vers 28 lees ons iets by opmerkliks. Terwyl Jesus met die gesprek besig was, het Hy begin bid. Dinge was vir Hom moeilik. Hy het self geworstel met sy pad vorentoe, die lydensweg wat Hy geweet het sou kom. En daarby moes Hy ook nog die dissipels agter Hom aan trek. Want hulle wou ‘n ander rigting uit.

    Sy siel was ontsteld – vers 27.

    Sy lydensweg het nou in die pylvak gekom. Aan die een kant het Hy gevra: Vader, red My uit hierdie uur. Aan die ander kant het Hy besef dat Hy juis vir hierdie uur, vir hierdie spesifieke moment, na die aarde gekom het. Hy sluit sy gebed af deur nie sy eie belange voorop te stel nie, maar: Vader, verheerlik u Naam. En dan lees ons in vers 28 wat so opmerklik is:

    Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit verheerlik.

    Drie keer lees ons in die Nuwe Testament dat die Vader regstreeks uit die hemel gepraat het. Hierdie was die derde keer. Die eerste keer was by sy doop.

    Die tweede tydens sy verheerliking op die berg. En nou die derde keer.

    Die skare was oorbluf, dit was so onverwags, hulle het hulleself wysgemaak dit moes die donderweer gewees het. Ander het hulle afgevra of ‘n engel met Hom gepraat het.

    Maar dit was nie! Dit was die Vader self. Elke keer van hierdie drie kere was die dissipels aanwesig. Dit moes hulle bevrees gemaak het, bang om teë te praat.Die vorige keer toe Jesus sy lyde aangekondig het, het die dissipels luid geprotesteer, Petrus voorop. Hierdie keer nie.

    Verskrik het hulle die hand voor die mond gesit.

    Al kon hulle die Messias se woorde nog nie plaas nie, hierdie groot gebeurtenis het gesorg dat sy woorde in hulle geheuge gegrif is. Die Vader wat direk uit die hemel hulle aanspreek!Later sou hulle dit presies onthou, later, na die kruis, opstanding, hemelvaart en Pinkster, sou hulle sy woorde ook verstaan. Petrus verwys na hierdie indrukwekkende oomblikke, toe die Vader regstreeks uit die hemel gepraat het, in sy brief – 2 Petrus 1:18.

    Dit het hom as oog- en oorgetuie altyd bygebly. Dit het so ‘n diep indruk op hom gemaak, dat hy nie meer onder sy Heiland se roepstem kon uitkom nie:

    Volg my! Lei my skape! Laat my lammers wei! Pas my skape op! (Joh 21:16)

    So het Christus sy dissipels agter Hom aangetrek. Hy het hulle voorberei op hulle taak, want hulle as oor- en ooggetuies sou later apostels word.

    Hulle sou sy getuies word tot aan die eindes van die aarde. Hulle getuienis sou die pilare word waarop die kerk van die Nuwe Testament gebou moes word.

    Hier is Chritus self besig, om daardie pilare te plant, stewig te plant. Sodat wanneer die dag sou kom, nadat die koringkorrel gesterf en ontkiem het, dat die vrugte hulle opwagting maak; wanneer die dag sou kom dat die velde wit is om te oes, dat daar dan arbeiders sou wees. Ons Heiland dink vooruit.

    Dit is ook mooi om te sien dat sy onderwys nie net woorde is nie.

    Soos die spreekwoord sê: woorde wek, voorbeelde trek.

    Christus het sy eie belange nie voorop geplaas nie. Dit waarna die wêreld streef, het Hy nie ook selfsugtig nagestreef nie. As Hy sy dissipels oproep om hulle lewe in hierdie wêreld te haat, om Hom te dien en volg, onderstreep Hy hierdie oproep met sy eie voorbeeld. Hy gaan sy bestaan in hierdie wêreld prysgee, om sodoende die ware lewe te verwerf. Hy is bereid om nou sy lewe te offer, omdat Hy fokus op die lewe in die toekomstige wêreld. Lewe nie net vir Hom nie, maar ook vir almal wie die Vader Hom gegee het. Wanneer iemand Hom wil dien, moet Hy Jesus volg op hierdie pad van selfverloëning.

    En aldus het Hy sy dissipels gevorm, voorberei op hulle latere taak. Nadat die koringkorrel gesterf het, sal dit ontkiem, dit sal begin groei, en dit sal veel vrug dra. Ja die koringkorrel – Christus dus – is stel as ‘n lig vir die nasies – Jesaja 42:6. Nie net vir die Jode nie, ook vir die Grieke, ook vir die heidene!

    Sy pad, die pad van die koringkorrel, is soos die profeet voorspel het.

    Dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel. Maar nadat Hy sy siel as skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien – Jesaja 53:10.

     

    Ons, wat vandag in die jaar 2018 hier in die kerk in Pretoria, Suid-Afrika sit, is deel van die nakroos. Die apostels het lankal gesterf. Maar hulle getuienis het gebly, tot in die 21ste eeu. Die koringkorrel wat op Paasfees gesterf het, dra nog steeds vrug. Dit mag ons aanstaande Vrydag herdenk. Dit mag ons aanstaande Sondag, Opstandingsdag, ook hoor, sien en proe, as ons gaan nagmaal vier. Laat ons hierdie week daaroor nadink.

    Jesus moes sy dissipels lei om te erken dat sy dood aan die kruis nodig was.

    Erken jy dit ook? Erken jy voor die hemelse Vader dat sy Seun ook deur toedoen van jou sondes aan die kruis genael is? Erken jy ook dat Christus hierdie pad van vernedering moes gaan deur jou toedoen? Aanvaar jy dat jy dieselfde pad moet loop in hierdie lewe, eers lyde, dan heerlikheid?

    Is jy bereid om dit waarna die wêreld smag en streef, op die tweede plek te plaas? En is jy ook bereid om ‘n getuie te wees, in woord en wandel, net soos die apostels? Sodat die Evangelie die eindes van die aarde kan bereik, sodat die Evangelie ook nuwe generasies kan bereik, tot aan die einde van die tyd?

    Amen.

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 7:1,3

Wet

Ps 6:3-5

Gebed

Skriflesing: Johannes 12:12-30

Ps 126:1-3

Teks: Johannes 12:23-25

Preek

Sb 7:6,8

Gebed

Kollekte

Ps 116:6,7,10

Seën