Christus salf ons tot profeet, priester en koning in die alledaagse lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-04-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 12 vraag en antwoord 32
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 12 v/a 32

Vanaand word dit ‘n baie praktiese preek. Ons gaan kyk na wat ons taak as profeet, priester en koning behels. Ons gaan fokus op een onderwerp. Maar dit is nie die bedoeling dat die boodskap van hierdie preek tot die een onderwerp beperk bly nie. Die bedoeling is dat u aan die hand van die boodskap ook ander onderwerpe, ja u hele lewe, sal ondersoek.

Tema: Christus salf ons tot profeet, priester en koning in die alledaagse lewe

Ons gaan kyk na wat hierdie beteken vir jou standpunt, jou houding teenoor die ongebore lewe, teenoor kinders kry, as die Here jou seën met vrugbaarheid. Maar moenie dink: o, ek is nie getroud nie. Of, ek het nie kinders nie. Of, my kinders is al uit die huis uit. Dus is die preek seker nie vir my bedoel nie. Juis wel, want hierdie is maar een onderwerp. Hoe jy profeet, priester en koning in die praktyk kan wees. Ons fokus veral op iemand wat in sy of haar beroep baie te make het met die ongebore lewe.

Dink aan ‘n verpleegster, of ‘n dokter. Maar vir dieselfde geld dat ons ‘n ander onderwerp en beroep kon gevat het, soos ‘n onderwyser, of ‘n bouer, of ‘n ingenieur, of ‘n huisvrou, en hoe hulle profeet, priester en koning is. As profeet, priester en koning woeker jy met jou talente, die gawes wat die Here jou toevertrou het.

Ons gaan agtereenvolgens kyk na wat jou taak hierin is.

1 As profeet;

2 as priester;

3 as koning.

1 Profeet

Wat doen jy as profeet? Die Kategismus sê: ek bely sy Naam. Wat beteken dit?

Laat ek dit toespits op die ongebore lewe. As profeet kan ek bely dat dit God is wat ‘n nuwe lewe skep. Ons kan bely dat God ook vir elke kind alreeds in die baarmoeder, ja selfs nog eerder ‘n plan uitgewerk het, ‘n lewensdoel, ‘n lewenstaak. Dit geld selfs vir ‘n ongebore baba wat gestremd is.

Verder is dit die taak van ‘n profeet om leuens uit die wêreld uit te help. Om op te kom vir die waarheid. So kan ons alle persepsies en praktyke weerlê wat God as die Skepper van die ongebore lewe ontken. Dit beteken dat jy as profeet standpunt inneem teen hulle wat hulleself aan die ongebore lewe vergryp. Wat God se alleenreg op die gee en neem van lewe ontken. Hoe weerlê mens hierdie sondige opvattings en praktyke? Deur mense profeties te wys op die Skepper van die lewe. As profeet wys jy dan ook daarop dat die Here ‘n doel het met die lewe van elke kind. Nie dat ons altyd daardie doel self kan omskryf nie. Soms hou ons as mense baie vrae oor. Maar ons vrae is nie vir God onoplosbaar nie. Dink aan die geskiedenis van die blindgebore man in Johannes 9. Die doel van sy lewe was nie vir homself en ook nie vir sy ouers bekend nie. Jesus het daarop gewys: hierdie man is blind gebore sodat die werke van God in hom openbaar sou word. Ja God het ook ‘n doel met die lewe van ‘n gestremde kind. Al is dit al om te getuig in ‘n moderne afvallige wêreld dat die mensheid nie self alles op aarde sal kan regmaak nie. Dat die lewe onvolmaak sal bly, solank Christus nie teruggekom het nie. En dat elkeen Christus se verlossing en herskepping bitter nodig het. Dit is ‘n profetiese taak, ook vir ‘n gestremde. Ja ook gestremdes is profete!

Juis in ons tyd is daar veels te min mense wat daarvan getuig. Wat bely dat egte lewenskwaliteit nie gesoek moet word in geld, besit, welvaart,  gesondheid en materiële vooruitgang nie. Die diepste lewenskwaliteit ervaar hy wat met sy lewe God loof. Wat deurdronge daarvan is dat God ‘n unieke doel met sy of haar lewe het.

Verder kan ons, diegene van ons wat volgens die geldende norm dalk nie gestremd is nie, juis as profete ook vir hulle wat wel gestremd is, bemoedig.

Ons mag hulle wys op die wederkoms van Christus, wanneer Hy alle gebreke volkome sal hestel.

Ook hoort dit by ons profetiese taak dat ons nie bang is om wanpraktyke aan te spreek nie. Dat ons nie skaam is vir ons standpunt nie. Ook nie as ons in die minderheid is nie. Dat ons tydig en ontydig daarop bly wys dat aborsie van ‘n ongebore kind moord is. Dat aborsie allesbehalwe ‘n mediese handeling is, al noem mense die plek waar dit gebeur ‘n hospitaal of ‘n kliniek. Die plek waar aborsies plaasvind, sal ons nie klinieke noem nie, ons sal dit eerder vergelyk met die gaskamers van Auswitz. Dit klink baie konfronterend. En mense sal ons al gou van onverdraagsaamheid beskuldig. Maar dit bly wel die waarheid.

Dis nie ons wat onverdraagsaam is as ons profeties vir die waarheid uitkom nie. Wie moet beskuldig word van onverdraagsaamheid? Onverdraagsaamheid teenoor ‘n onskuldige lewe? As profeet moet ons opkom vir die waarheid. Dit laat my dink aan wat ‘n profeet uit die Ou Testament ‘n keer gedoen het. Op ‘n feesdag in Jersualem het hy ‘n klaaglied begin sing (Amos 8:10). ‘n Lied wat mens normaal in ‘n begrafnisstoet sou sing. Dit is hom nie in dank afgeneem nie. Maar hy het wel die waarheid beetgehad.

Jerusalem het op daardie stadium ver van hulle God af gelewe. Daar was geen rede om fees te vier nie. Daar was veel meer rede om te kla.

Dieselfde sien ons by ons Heiland. Toe Hy by die tempel aangekom het, vir die eerste keer tydens sy ampsdiens, het Hy nie netjies soos al die ander ‘n offerdier gekoop en dit gaan offer nie. Inteendeel, Hy het die tafels van die geldwisselaars omgegooi, Hy het almal weggejaag. Van God se huis maak mens mos nie ‘n handelshuis, ‘n rowerspelonk nie! Ook dit is Hom nie in dank afgeneem nie. Dus gemeente, hou daarmee rekening dat ‘n profeet teen die stroom moet inswem. Dit is nie maklik nie. Maar onthou: dis slegs lewendige visse wat teen die stroom inswem.

Die kerkvader Augustinus het die volgende geskryf oor die ongebore lewe.

In sy tyd het die mense nog nie geweet presies wanneer die lewe in die baarmoeder begin nie. Was dit met die bevrugting, of was dit as die ma vir die eerste keer beweging in haar voel? Augustinus het hierop geantwoord: dit mag geen rede wees om aborsie te pleeg nie. Hoewel ons nie weet wanneer presies nie, laat ons die ongeborene die voordeel van die twyfel gee. Aldus Augustinus. Vandag kan ons, danksy alle tegniese moontlikhede, baie akkurater bepaal wanneer die lewe begin. Ons hoef die ongeborene nie meer die voordeel van die twyfel te gee nie. Ons kan ons nou laat lei deur die sekerheid van die feite.

So kom ons op as profete vir die waarheid. Ons hou ons oë gerig op ons hemelse Sender, ons hoogste Profeet en Leraar. Ons is slegs gefokus om sy Woord te spreek, en ons let nie op wat mense om ons heen dink nie. Ons let op Hom wat mag het om siel en liggaam in die hel te verderwe (Matth 10:28). In hierdie preek spits ek dit toe op die ongebore lewe. Maar u kan dit verder uitwerk, vir alle lewensterreine, vir alles waarmee u in die daaglikse lewe te make kry. In die tweede plek kom ons nou by ons roeping as priester.

2 Priester

Wat is jou taak as priester? Die Kategismus skryf: dat ek myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom toewy. Wat beteken dit vir die ongebore lewe? ‘n Christen het respek vir die ongebore lewe. As Christen, as gesalfde priester, gaan jy dus nie met die trend saam, om ‘n ongebore lewe te aborteer, as blyk dat die kindjie ‘n siekte of afwyking het nie. Sulke kinders moet juis versorg word, so goed as wat ons kan. Persone wat op die neonatale afdeling in ‘n hospitaal werk, doen priesterlike werk. En ook ons almal, hoewel ons dalk nie verpleegsters of dokters is nie, ons kan hierdie werk van harte ondersteun.

Ons gee geen geld vir aborsieklinieke, soos ons regering en baie ander regerings op aarde doen nie. Ons ondersteun en beskerm juis die ongebore lewe. As priesters mag ons ook in gebed die ongebore kwetsbare lewe aan God opdra. Net soos die priesters in die Ou Testament vir die volk moes bid. So behoort ons vandag, omdat ons priesters is, vir mekaar te bid, en vir almal wat swak is.

In ons tyd het dit moontlik geword om uiteenlopende ondersoeke op ongebore baba’s uit te voer. Wat mense vroeër nie kon sien nie, sien ons wel vandag. Wat Dawid gesing het in Psalm 139: “U oë het my ongevormde klomp gesien” (vers 16), hierdie wonderlike proses in die baarmoeder kan ons deesdae tot ‘n groot mate met ‘n sonar sien. Maar met ‘n sonar en ander toetse is dit deesdae ook moontlik om gebreke op te spoor, ‘n afwesige nier, ‘n hartafwyking, of down sindroom, ensovoorts. Die vraag kom op ons af:

Hoe en waarvoor gebruik ons hierdie mediese tegnieke? As priesters in diens van God maak ons ‘n ander gebruik van al hierdie tegnieke. Ons misbruik die tegnieke nie vir verkeerde doeleindes nie.

So dikwels kry swanger vroue met die vraag te make: moet daar vir afwykings gekyk word, sodat betyds ‘n aborsie kan plaasvind? As rede word dan dikwels gesê: so ‘n kind sal geen lewenskwaliteit hê nie. Dit is ongewens vir ‘n gesin om ‘n gestremde kind te hê. Die gesinslewe word daardeur te veel beïnvloed.

Of nog erger: Gestremde kinders is ‘n las vir die samelewing. En so word die mediese tegnieke vir ‘n verkeerde doel misbruik. Ons wat as priesters gesalf is, staan nie negatief teenoor mediese tegnieke nie. Ons gebruik hulle egter vir die beswil van ma en kind.

Dit gaan aan die einde van die dag oor watter lewensbeskouing jy het. As Christen maak jy gebruik van al die moontlikhede wat jy het, maar jy misbruik nie die tegnieke soos die wêreld doen nie. As priester raak jy nie wêreldgelykvormig nie, jy laat jou lewensbeskouing transformeer deur die Skrif. As priesters stel ons ons liggame as ‘n lewende, heilige, aan God welgevallige offer beskikbaar. (Rom 12:1,2)

Laat ons as priesters die ongebore lewe, gestremd of nie, gewens of nie, versorg en beskerm, vir sover God die middele skenk. Laat ons as priesters bid vir die ongebore lewe. Laat ons bid vir die gestremdes. Bid dokters en verpleegsters wel vir hulle pasiënte? Dis nie minder belangrik as om daardie pasiënte te behandel nie. As priesters dra ons hierdie wêreld, en almal wie God op ons pad plaas, in gebed aan Hom op.

3 Koning

Wat is jou taak as koning? Jy is ook as koning gesalf. Die Kategismus skryf: dat ek in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel stry.

‘n Koning is iemand wat stry teen dit wat verkeerd is, beginnende in sy eie lewe. “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” (Rom 6:12)

Ons is deur Christus vrygemaak van die slawerny aan die sonde. Ons is nie meer slawe nie, maar konings! ‘n Koning beskerm homself en sy onderdane.

‘n Koning gee die regte leiding aan sy onderdane. So sal ons, elkeen in sy eie lewe en beroep, koning wees. Om dit weer eens toe te pas op die ongebore lewe. Laat ons stry teen gedagtes, by onsself en ander, wat die ongebore lewe as minder waardevol beskou. Laat ons, as iemand in verwagting is, daardie persoon met respek behandel. Laat ons iemand, byvoorbeeld ‘n werknemer of bediende, nie benadeel as sy swanger raak nie. Of dit nou ‘n ongewenste swangerskap is of nie.

Ons het die koninklike taak om die lewe te beskerm totdat die natuurlike oomblik van sterwe aanbreek. Koninklik kom ons ook op vir die regte van die ongebore kind. Dat geen kind ongewens is nie.

As ons aan die ongebore lewe aandag skenk, is daar ook nog ander sake wat hiermee verband hou. Mens kan dink aan vrae soos:

Hoeveel kinders behoort mens te kry, as God die vrugbaarheid skenk?

Mag mens die kry van kinders uitstel?

Mag mens daarvoor voorbehoedmiddels gebruik?

Ook wat hierdie sake betref, behoort ons onsself koninklik te gedra. As gesalfde is jy onderkoning, onderkoningin van Christus, en jy sal teenoor Hom verantwoording moet aflê wat jy met jou lewe gedoen het, ook wat jy met jou eie liggaam gedoen het, ook met die vrugbaarheid van jou liggaam, wat God skenk. As onderkoning behoort ons in die eerste plek te luister na die stem van die Koning, soos dit in die Skrif tot ons kom. Die Skrif leer ons dat die ontvang van kinders ‘n groot seën is. Dit is nie iets waarop mense reg het nie.

Dit is ook nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n geskenk.

Wie bepaal hoeveel kinders daar in jou gesin sal kom?

Hieroor sê die Bybel dat God dit bepaal. Net soos God as met sy eie hand jou lewensmaat na jou gelei het, so bepaal God ook wanneer en hoeveel kinders Hy aan jou toevertrou. Uiteraard gebeur hierdie dinge nie buite die mens om nie. God se voorsienige leiding omvat die mens en sy besluite, sy optrede.

Ons is nie vir niks onderkonings nie. En in Christus, deur die werking van sy Gees, word ons vrye wil weer vernuwe. Dus, net soos jy jou laat lei deur die vereistes wat God se Woord stel vir ‘n lewensmaat; so behoort jy jou ook te laat lei wat betref jou kinderwens, wanneer, en hoeveel.

In die Skrif word die begeerte om kinders te ontvang, hoog aangeprys. Langs hierdie weg wil die Here vir Hom ‘n volk. ‘n ontelbare skare, versamel, om Hom te loof en prys. Dit was nie God se wens dat net twee mense, Adam en Eva, op aarde sou woon nie, maar soos Hy hulle opgedra het, dat die aarde gevul sou word (Gen 1:28). Ons lewe ondertussen duisende jare na Adam en Eva. Ondertussen is die aarde redelik gevul met mense. In so ‘n mate dat ons onsself afvra: in hoeverre geld hierdie opdrag nog, wat God aan Adam en Eva gegee het? In die 19de eeu was daar ‘n persoon met die naam Maltus. Hy het die opinie gehuldig dat die hoeveelheid mense op aarde vinniger toeneem as hulle bestaansmiddele. Vanaf sy tyd het regerings begin praat oor geboortebeperkings, om die bevolkingsaanwas te stuit. As die wêreldbevolking minder vinnig sou groei, sou dit die oplossing wees vir die voedselskaarste. Latere ondersoek het egter uitgewys dat daar nog nooit op aarde voedselskaarste was as gevolg van oorbevolking nie, maar meestal as gevolg van wanbestuur. Dit is opvallend dat juis in daardie lande, veral Westerse lande, waar oorvloed en welvaart is, die bevolking afneem. Daar is dus nie ‘n direkte verband tussen voedselskaarste en bevolkingsgroei nie.

Dit is ook nie so dat groot gesinne meer belastend vir die aarde is as klein gesinne nie. ‘n Amerikaanse gesin met twee kinders, wat per vliegtuig vakansie gaan hou, is baie meer belastend op die aarde as ‘n gesin in Afrika met baie kinders.

Wat beteken dit vir ons? Dit: dat ons nie argumente soos voedselskaarste of die bewaring van die aarde kan gebruik om te pleit vir minder kinders nie.

Laat ons eerlik wees. Dit is ook nie waarom ouers besluit op klein gesinne, of om kinders kry uit te stel nie. Sulke besluite word meestal geneem uit materiële oorwegings. En dit is nie ‘n oorweging wat by ‘n Christen, ‘n gesalfde onderkoning, pas nie. Gelowiges neem nie ‘n kind eers wanneer dit kwansuis hulle beursie pas nie. En dikwels staan ander materiële dinge dan nog bo die kinders op die wenslysie. Dan word voorbehoedmiddele misbruik, as ‘n middel om ekonomiese welvaart te beskerm. As Christene, gesalfdes in diens van ons Koning, besef ons daarenteen die geweldige rykdom van die geskenk van nuwe lewe. Laat ons lewenstyl, ook ons gesinslewe, hierdie hoë roeping weerspieel! Laat dit in ooreenstemming wees met sy leefreëls. Met wat Hy belangrik vind. In die huwelik, en in die gesinslewe, laat ons ons lei deur God se wil, nie deur ons omgewing, nie deur die samelewing se patrone nie! As onderkonings gebruik ons alle gawes en tegnieke wat God skenk, om in sy diens te lewe, om sy kerk en koninkryk te bevorder. Laat ons bereid wees om ons motiewe te toets aan God se Woord. Enersyds gebeur die kry van kinders nie buite God om nie, God bly altyd in beheer. Andersyds gee God aan elke gesin ‘n groot verantwoordelikheid. God regeer juis deur die gehoorsame keuses wat ons maak. As koning mag en moet jy in hierdie lewe ‘n vrye gewete hê, skryf die Kategismus. Dit hou in dat ons op ‘n verantwoordelike wyse sy skepping beheer. Sy skepping sluit ons eie liggame ook in.

Gemeente, soos ek aan die begin van die preek genoem het: ons het vanaand gefokus op een onderwerp. Die bedoeling is egter nie dat die boodskap beperk bly tot hierdie een onderwerp nie. Die bedoeling is dat u, profete, priesters en onderkonings, u hele lewe onder die loep neem. Jou profeetskap, priesterskap, koningskap, het baie te sê vir jou lewe, ja alles! Probeer in hierdie week bewus hieroor verder na te dink. Moet ek, na dit wat ek vanaand gehoor het, bepaalde gewoontes, of bepaalde opinies, in my lewe verander? Omdat ek miskien onbewus, al geleidelik, wêreldgelykvormig begin raak het? Wat beteken dit vir my lewe, dat ek profeet, priester en koning is? Wat beteken dit vir my beroep? Wat beteken dit vir my huwelik? Wat beteken dit vir my gesin?

Hoe leef ek my Christen-wees, met gesalfde-wees, uit? Deur die geloof is jy ‘n lid van Christus. Dit stel hoë eise. Moenie die Gees blus nie, moenie sy genade verag nie.

Gesalf met sy Gees stel Hy jou ook in staat om dit te doen wat Hy vra.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 45:1-4

Gebed

Skriflesing:  Mattheüs 10:24-42

                        Romeine 12:1-8

                        Romeine 6:12-23

Ps 101:1-3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 12 v/a 32

Preek

Ps 101:4-6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 72:9-11

Seën