Die troue Verbondsgod laat sy volk swaar sug, maar ook lekker lag

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-10-07
Teks: 
Rigters 3:12-30
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 3:12-30

Ons gaan verder met die serie uit die boek Rigters. ‘n Boek wat handel uit ‘n donker tyd in die geskiedenis van God se volk. Maar waaruit tog ‘n helder boodskap straal.

Tema: Die troue Verbondsgod laat sy volk swaar sug, maar ook lekker lag.

Ons teks begin met die refrein, die bose kringloop in Rigters: Die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Die woord ‘verkeerd’ moet in die boek Rigters nie net in die algemeen gedefinieer word nie. Hulle het nie net in die algemeen, verkeerde, stout dinge gedoen nie. Verkeerd dui hier spesifiek op die afgodediens. Hulle het getrou met die wêreldse Kanaänitiese meisies. En deur hierdie verbindtenisse is hulle ook in die Kanaänitiese afgodediens ingetrek. Hulle het weer, en ook dieper, afvallig geraak. Ons begin aan die refrein gewoond raak, dit skok mens nie meer nie. En juis dit op sig is nog meer skokkend, dat mens daaraan gewoond raak! As God se kinders gewoond begin raak aan die afval. Wat ook baie erg is, is dat hierdie afval volg op die veertig jare van rus wat die HERE vir sy volk geskenk het, gevolg het, nadat Otniël hulle uit Kusan Risataim se hand bevry het. Nou kry die HERE stank vir dank.

In reaksie het die HERE toe weer ‘n roede teen sy volk verwek. Hy het Eglon, die koning van Moab, teen Israel sterk gemaak. Hierdie keer onderdruk hy sy volk nie agt jaar nie, maar agttien jaar. Eglon het ‘n bondgenootskap met ander volke gesluit: Ammon en Amalek. Ironies, dat juis hierdie drie volke, wat in die verlede die onderspit moes delf teen Israel, nou deur God as roede gebruik word om sy eie volk te straf! Ironies ook dat hulle die Palmstad in besit geneem het. Dit verwys na Jerigo, aan die westelike oewers van die Jordaanrivier. Israel het oorwegend wes van die Jordaan gewoon, en Moab ten ooste. Maar Eglon was nou so brutaal dat hy sommer sy paleis by Jerigo, op die westelike oewer gebou het. Net weer ‘n bewys hoe swak Israel geword het.

Ook die feit dat daar afgodsbeelde by Gilgal gestaan het, waar die Moabiete ongesteurd in Benjamin se grondgebied hulle afgodsdiens kon bedryf, bewys hoe Israel se posisie verswak het. 18 jaar lank moes Israel vir Eglon dien. Die boek Rigters maak vir ons duidelik dat hierdie nie net ‘n natuurlike politieke ontwikkeling was nie. Dit was nie maar net ‘n toevallige verloop van die volkeregeskiedenis, dat Eglon dit reggekry het om die oorhand oor Israel te kry, in samewerking met Ammon en Amalek nie. Nee, Rigters maak duidelik dat hierdie die HERE se reaksie was op sy volk se sonde. Sonde verswak naamlik ‘n volk. Sonde maak ‘n volk kwetsbaar vir oorheersing deur ander. Hierin sien die Rigterskrywer konkreet ‘n handeling, ‘n straf van die HERE. Hy het hierin die leiding gehad. Hy het vir sy volk in ‘n vyand verander, soos Jesaja sê in Jes 63:10.

Maar, vervolg die siklus: toe Israel weer die HERE aanroep, het die HERE vir hulle ‘n verlosser verwek. Is dit nie verbasend dat die HERE aanhou om tog sy volk weer te red, ook al sondig hulle elke keer weer teen Hom nie? As God nie so was nie, sou dit maar sleg met Israel voorgestaan het, en laat ons eerlik wees, ook met onsself. Want in hierdie lewe kan ons net nie loskom van die sonde nie, hoe hard ons ook probeer. As God ons sou afskryf, dan was dit gedaan. Maar dit is wat so verbasend is in Rigters. Eerstens, Israel se aanhoudende afval. Maar nog meer, tweedens, die HERE se aanhoudende bereidheid om te red. Hy het ‘n spesiale plan gehad met hierdie volk. Hy het hulle voorbestem om die Messias vir die hele wêreld voort te bring.

Die vorige keer was die rigter Otniël. Hierdie keer Ehud. Ontiël was ‘n modelrigter. Afkomstig uit die stam Juda, ‘n dapper held, en getroud met die regte vrou, ‘n gelowige vrou wat karakter gehad het. Vergeleke met hom was Ehud heel anders. Hy was linkshandig, onhandig, vanuit militêre oogpunt gestremd, ongeskik vir die weermag. En hy was skelm, hy was ‘n sluipmoordenaar. Tog gebruik die HERE hierdie keer hom as ‘n uitredder van sy volk. ‘n Krom stok waarmee die HERE ‘n reguit hou slaan. Van nou af is dit eintlik net nog krom stokke wat oorgebly het: Ehud, Jael, Jefta, Gideon, Simson. Tog gebruik God hulle.

Ehud se afkoms was uit die stam Benjamin. Benjamin het nie, soos die stam Juda, veel gehad om op te roem nie. In Rigters 1 word nie ‘n enkele militêre sukses van Benjamin beskryf nie. Al wat daar genoem word, is dat Benjamin die Jebusiete nie uit Jerusalem verdryf het nie (1:21). ‘n Rigter uit Benjamin was dus hoogs onwaarskynlik. Net soos Natanaël later verbaas sou vra: Kan daar enigiets goeds uit Nasaret kom? (Joh 1:45-46) So kon die Israeliete dit oor Benjamin gevra het. Tog het die HERE dit so gelei, dat juis uit die gebied van Jerigo, wat aan Benjamin toebedeel was, ‘n rigter sou opstaan. En dat Ehud die rigter sou word, was net so onwaarskynlik. Hy was nie net van die verkeerde stam nie, hy was fisies ook ongeskik. ‘n Sterk regterhand was die grootste bate van ‘n krygsman. Ehud het dit gemis. Hy was links. Dit was waarskynlik ook die rede hoekom hy die belasting elke keer na Eglon moes bring. Hy is as ongevaarlik beskou deur die vyand. So was dit sy taak om telkens die belasting aan Moab te gaan afdra. Waarskynlik het sy eie mense ook nie van hom gehou nie. Hy was die tollenaar van die vyand. Die vyand onder wie se belastingdruk hulle swaar gesug het.

Maar, juis sy swakpunt het toe sy sterkpunt geword. In Ehud se gedagtes het die HERE ‘n plan wakker gemaak. Sy gestremdheid sou hom dalk juis kon help. En die feit dat hy een van die weinig Israeliete was, wat direkte toegang tot koning Eglon gehad het. Ehud het ‘n plan begin beraam vir ‘n sluipmoord. Die skrywer wek die indruk dat Ehud heeltemal alleen te werk gegaan het.

Hy het sorgvuldig die regte swaard gemaak. ‘n Swaard aan beide kante skerpgeslyp, vir maksimum impak. Maar slegs ‘n el lank, staan daar, sodat dit maklik onder sy klere weggesteek kon word. In die Hebreeus staan egter nie dat dit ‘n el lank was nie, maar daar staan die woord “gomed” wat slegs hier in die Ou Testament voorkom. Dit is dus moeilik om presies te bepaal hoe lank die swaard was. In die ou Griekse vertaling, die Septuaginta, staan dat dit ‘n ‘span’ lank was. ‘n Span is die afstand van ‘n uitgespreide hand, van duim tot pinkie. Mens kan dus eerder aan ‘n dolk as aan ‘n swaard dink. Hierdie dolk het Ehud aan sy regterheup vasgegord – ‘n onverwagte plek waar die vyand nie ‘n wapen sou verwag nie, maar omdat hy links was, het dit vir hom gewerk. Ehud het net een kans gehad. Of hy sou slaag, of hy sou misluk.

Hy het toe die belasting aan Eglon gebring, saam met die draers. Duidelik was dit swaar sakke, een persoon kon dit nie alleen dra nie. Die woord wat hier vir belasting gebruik word, wek die indruk dat dit nie geld was nie, maar die landbou-opbrengs. Sakke met koring byvoorbeeld.

Op die terugpad draai Ehud egter om, met die smoes aan die draers dat hy nog ‘n geheime opdrag gehad het. Ehud het buitengewoon takties sy plan uitgevoer. Hy het koning Eglon nie by die eerste besoek aangeval nie. Hy het valslik vertroue by hom gewek, deur netjies die belasting te oorhandig.Omdat sy sluipmoordplan heeltemal sy eie was, wou hy nie dat die draers daarby was nie. Dit sou onnodige komplikasies kon veroorsaak. Dus bring hy hulle eers weg. Derdens die feit dat hy omgedraai het by die gesnede beelde, dit is afgodsbeelde, by Gilgal (vers 19). Daardeur maak hy sy bewering dat hy ‘n woord van God aan die koning het, meer geloofwaardig. Hy wek die indruk dat, toe hy by die afgodsbeelde verbykom by Gilgal, daardie god, wie se beelde dit was,  onverwags iets aan hom geopenbaar het, waardeur hy direk moes omdraai om dit aan die koning te vertel. Ook maak hy die koning nuuskierig deur te sê dat dit geheim is. Daardeur kry hy dit ook reg dat die koning al sy dienaars wegstuur. So, heel geraffineerd, skep Ehud sal die ideale omstandighede vir sy sluipmoord.

Die koning het almal weggestuur, nuuskierig na wat die geheime boodskap was. Dit was net Ehud en die koning alleen in die koel bo-kamer. Ehud was ‘n tipiese heerser wat van sy mag geniet het. Hy het vir hom, bo op die dak van sy paleis, ‘n koel bo-kamer laat bou, waar hy sy oorgewig liggaam heerlik kon laat afkoel deur die verfrissende briesie wat daar gewaai het. Hy het selfs vir hom daar langs die bo-vertrek ‘n privaat toilet laat installeer, sodat hy nie heeltyd trappe hoef te geklim het as hy, u verstaan wel, kamer moes verlaat nie.

Die skrywer voeg by dat koning Eglon baie vet was. Nou was vet wees in die Bybelse tyd nie noodwendig ‘n belediging nie. Dit is algemeen beskou as ‘n teken van voorspoed. So word Daniël en sy vriende ook byvoorbeeld ‘vet’ genoem, nadat hulle opgehou het om die kos aan die hof te eet, en hulle dieet aangepas het volgens Joodse voorskrifte. Maar, wat hier wel bystaan, is dat koning Eglon baie vet was. Duidelik was hy dus obees. Duidelik het hy homself tegoed gedoen aan al die koring en landbouprodukte wat as belasting uit Israel aangedra is.

Daar staan Ehud toe, voor koning Eglon. Hy kry die koning selfs so ver dat hy, by die vermelding dat hy ‘n boodskap van God vir hom het, opstaan. Wat dan volg, word in ‘slow motion’ beskryf. Terwyl die vet koning met moeite van sy stoel af opstaan, gryp Ehud onverwags met sy linkerhand die dolk van onder sy klere, en steek dit in die koning se buik. Hy het dit so diep in sy dik maag ingesteek, dat die hef selfs ingedring het. Die vet het by die wond uitgepeul.

Hy het die swaard net daar laat sit en gemaak dat hy wegkom. Ehud grendel die deur van die bo-kamer van binne-uit, en ontsnap dan via die galery. Die oorspronklike woord in vers 23 dui eerder op die trap, nie op ‘n galery nie.

Ehud het waarskynlik deur die raam geklim, om so by die trap uit te kom wat buite die huis was. En so kon hy heeltemal ongemerk ontsnap.

Die gevolg was dat die koning se dienaars gedink het, toe hulle sien die deur was vergrendel, dat hy besig was om sy voete te bedek. Ons sou vandag gesê het: dat hy op die toilet gesit het. Die oop wond in sy buik, waar die ingewandes uitgepeul het, het waarskynlik ook ‘n stank versprei, wat die dienaars geruik het, waardeur hulle indruk versterk is dat hy op die toilet besig was. Hulle het gewag en gewag tot hulle verleë was, hulle was natuurlik as dienaars bang om die etiket te verbreek. Maar ten einde raad gaan haal hulle toe maar die sleutel om die deure van die bo-kamer self oop te sluit. Waar hulle toe die koning dood op die grond gevind het.

In die tussentyd het Ehud daardie kosbare minute gebruik om so gou as moontlik weg te kom. Hy het na Seïra ontsnap, waarskynlik geleë in die bergagtige Efraïm, noord van Jerusalem. Daar aangekom, blaas hy die ramshoring op die berge van Efraïm. ‘n Oproep tot oorlog.Duidelik roep hy nie net sy eie stam, Benjamin, op nie, maar die hele Israel. En soos wat die nuus van Eglon se dood versprei, het die Israeliete moed geskep en gehoor gegee aan die oproep. Ehud, die onhandige, linkshandige, word die onwaarskynlike leier. Hy praat die volk moed in: Die HERE gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand! En so trek Ehud weer rigting Moab, hierdie keer nie met manne wat die belasting dra nie, maar met gewapende soldate. Hulle het beheer oorgeneem van die driwwe van die Jordaanrivier, niemand toegelaat om daardeur te gaan nie. Soos genoem, Moab het hulleself, omdat Israel so swak was, ook wes van die Jordaan begin vestig. Eglon was selfs so vermetel om sy paleis wes van die Jordaan by die Palmstad te bou. Maar nou het juis dit vir hulle fataal geword. Soos wat die gety nou gekeer het, het die Moabiete probeer om oos te vlug rigting die land Moab, om in veiligheid te kom. Maar hulle moes eers deur die Jordaan. En Ehud en sy manne het beheer oorgeneem van al die driwwe. So het die Moabiete in die val geloop. In die tyd het hulle van Moab omtrent tienduisend man verslaan! Daar word spesifiek bygevoeg: soldate, die goed geboude en dapper manne. Die term goed geboude het, net soos die verwysing na koning Eglon wat baie vet was, ook ‘n sarkastiese element. Goed geboude bedoel hier eintlik wel deurvoed, te wel deurvoed.

Moab se soldate het bietjie te swaar geword. Hulle het te lekker geëet van al die landbouprodukte wat Israel as belasting moes lewer. En soos ons weet, ‘n polisieman wat oorgewig is, kan nie ‘n boef vang nie. So kon die Israeliete tien duisend Moabitiese soldate verslaan. Hulle was te dik om te vlug, toe hulle by die driwwe aankom en tot hulle skok merk dat Israel nou in beheer daarvan was. So moes Moab ten laaste buig onder die hand van Israel.

En, vervolg ons teks, die land het tagtig jaar gerus. Weer sien ons hoe goed en genadig God vir sy volk was. Na agttien jaar se onderdrukking hoef hulle maar net een keer uitgeskreeu het tot die HERE, die lewende God wat met hulle ‘n verbond gesluit het. En toe was Hy vinnig om te help! Hy was ook gul. Tagtig jaar rus het Hy geskenk! “Al laat Hy ons ‘n oomblik bewe, sy goedheid duur ons ganse lewe.” (Psalm 30:3 ber.)

Die beskrywing van die geskiedenis van Ehud en koning Eglon, is eintlik lagwekkend. Die aandag vir bepaalde details maak hierdie geskiedenis vol humor. Die Heilige Gees laat in hierdie teks God se kinders lekker lag, as Hy hulle oë oopmaak vir hoe God dinge sien. Hierin skuil ook ‘n boodskap vir ons.

Ons word dikwels bekommerd en angstig as ons sien wat tiranne doen.

Konings, presidente, heersers se fratse het pynlike gevolge vir die bevolking van ‘n land. Ook hier in Suid-Afrika sidder ons soms vir wat in die politiek aangaan. Die feit dat president Zuma ongestraf met soveel korrupsie kon wegkom, het baie van ons laat verlang om te emigreer. Sommiges het inderdaad die land verlaat, en ander staan dalk op die punt om dit te doen. Ons teks van vandag, net soos ander Bybelgedeeltes, gee ons egter die vermoë om ‘n slag met God se oë na hierdie tiranne te kyk. En dan is hulle figuur, en hulle optrede, eintlik lagwekkend. Soos Psalm 2 sê: Hy wat in die hemel woon, lag! Die Here spot met hulle. Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde. In ons teks was Ehud die HERE se gesalfde. Met ‘n onhandige, linkshandige man het Hy die magtige en gewigtige Eglon verslaan. As gelowiges kan ons maar lag oor die magtiges van die aarde.

Ons kan maar lag oor Ramaphosa, en Trump, en Poetin. Ons kan maar lag oor Hitler, Stalin, Verwoerd, Clinton, Obama. Vir hulle almal geld: opgaan, blink en versink.

Eglon was maar ‘n klein gesalfdekie, vergeleke by gesalfdes wat God later gestuur het, soos Dawid, en veral die Here Jesus Christus. Maar God het hulle gebruik om oorwinning te bring. Deur hulle het God die owerhede en magte uitgekee en hulle in die openbaar tentoongestel en oor hulle getriomfeer (Kol 2:15). Eglon was ‘n roede deur God verwek. Ehud die redder, ook deur God verwek. Die humor in hierdie geskiedenis nooi ons uit om na die tiranne van hierdie wêreld te kyk soos God hulle sien. Saam met God, wat uit die hemel lag, kan ons ook maar lag. Gelukkig, dat die lewe van ‘n gelowige nie net moeite, erns en verdriet is nie. Juis as gelowiges kan ons ontspanne wees en lekker lag, as die res van die wêreld hulle harte vashou in bekommernis. Die HERE regeer, en sy troon staan vas. Gelukkig is almal wat by Hom skuil. Op sy tyd sal Hy sy Redder stuur. Ja Maranata, kom Here Jesus!

Amen.

 

 

Liturgie: 

Seën

Ps 66:1,2

Wet

Ps 66:6,8,9

Gebed

Skriflesing: Rigters 3:12-30

Ps 126:1-3

Teks: Rigters 3:12-30

Preek

Ps 2:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 2:5,6

Seën