Die nagmaal in perspektief

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-10-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 28 vraag en antwoord 76 en 77
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 28 v/a 76-77

‘n Gemiddelde belydende lidmaat sal, na skatting, ongeveer 300 keer in sy lewe nagmaal vier. Dit is bereken uitgaande van die gewoonte in ons gemeente om ses keer per jaar nagmaal te vier. Gesien hierdie aantal is dit belangrik dat ons goed deurdronge daarvan is wat die nagmaal eintlik inhou, watter doel hierdie fees in jou lewe het.

Tema: Die nagmaal in perspektief

1 Terug na die allereerste begin

2 Onder leiding van Christus se Gees die toekoms in

1 Terug na die allereerste begin

Kom ons begin met die vraag wat baie van u al besig gehou het. Hoekom ken ons ‘n sogenaamde geslote nagmaalstafel? Hoekom mag ongelowiges, en mense wat nie lid van die kerke is, en mense wat in sonde lewe, nie aan tafel kom nie? Alle eredienste is naamlik publiek. Die kerk se deure staan vir ieder en elk oop. Maar nie die nagmaalstafel nie. Hoekom nie?

Sommige meen – ontereg – dat dit te make het daarmee dat brood en wyn towermiddels is. Dat Christene daardeur ‘n bepaalde soort energie binnekry.

Iets wat slegs bestem is vir hulle wat volwaardig lid is. Maar dis nie waar nie. Dit sou neerkom op diskriminasie. Wat wel die geval is, verduidelik die Kategismus. Aan die nagmaalstafel is brood en wyn slegs tekens. Dit gaan uiteindelik oor geloof. Dat jy met ‘n gelowige hart heel die lyde en sterwe van Christus aanneem. Wie nie met ‘n gelowige hart aan die nagmaal sit nie, sit daar vir niks. ‘n Ongelowige ontvang niks van die nagmaal, sou hy aan tafel gaan. Want wie nie glo nie, kry geen vergewing van sondes op grond van Christus se offer nie. Nie dat geloof ‘n prestasie of goeie werk sou wees, waarmee jy vergewing verdien nie. Geloof is net die instrument, oftewel die hande waarmee jy die groot geskenk in ontvangs neem. Wie sy hande nie uitsteek nie, ontvang nie die geskenk nie. Wie nie glo in God se almag en alles van Hom verwag, kry ook nie vergewing van sondes nie. En daarom dat ‘n ongelowige, of ‘n gelowige wat nie met sy sondes wil breek nie, tevergeefs aan die nagmaal sit. Meer nog, hy sit daar dan selfs tot sy eie oordeel. Want, so staan dit in die nagmaalsformulier: Hy onderskei nie die liggaam van Christus nie. Wat beteken dit? Eerstens dat hy nie in God se almag glo nie. Hy glo nie dat Christus se offer daadwerklik die skuld kan vergewe nie. En tweedens tas hy die geloofwaardigheid van Christus se liggaam op aarde aan. Daarmee bedoel ek die kerk.

Dit kan ons leer uit die gedeelte wat ons gelees het. Ons gaan nou dus terug na die allereerste begin, die allereerste keer toe die nagmaal gevier is, om sodoende die regte perspektief te kry op hierdie fees. Christus se vyand, die een wat Hom sou verraai, was een van sy twaalf dissipels, ‘n huigelaar. Selfs al is jy in die binnenste kring, as jy nie van harte daar is nie, as jy die sonde koester en nie daarteen stry nie, loop jy die risiko om deur die duiwel oorweldig te word. So het dit helaas met Judas gegaan. Judas was ‘n dissipel aan die voete van sy Meester. Jesus het egter die verraad al voorsien. Ons het in vers 23 gelees:  “Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai.” Jesus se woorde was nie ‘n soort orakel nie. Asof Judas, wat sy verraad vir die ander dissipels geheim gehou het, sy hand heel toevallig saam met die van Jesus in die skottel gesteek sou word, en dat dit die openbaring vir die ander dissipels sou wees wie die verraaier is. Dit was nie die bedoeling van Jesus se opmerking nie. Wat Hy wel bedoel het, was: Een van julle, een uit die binnenste kring, naaste aan My, wat elke dag met ons saamgeleef het, wat selfs saam met ons aan tafel sit, wat ook, net soos die res, uit dieselfde skottel eet, hy sal my verraai.

Vroeër het die mense, as hulle ‘n maaltyd geniet het, nie aan tafel gesit op stoele nie, maar aan tafel gelê op kussings. Dan was daar brood, nie in die vorm soos ons dit gewoond is nie, maar platter, breër, en groter. Elkeen het daarvan stukkies afgebreek, en dit vervolgens in die skottel gedoop. In die skottel was ‘n soort dipsous. Om saam jou hand in die skottel te steek, dit is ‘n uitdrukking van vertroue. Dit wil sê: jy behoort aan dieselfde huisgesin, jy behoort aan dieselfde vriendekring. So moes Christus dus met droefheid meedeel: Dit is nie die Fariseërs wat my sal verraai nie, dit is iemand uit ons eie kring. Judas self was totaal nie onkundig hieroor nie. Was hy verbaas dat Jesus dit reeds geweet het? Hy het kwasi-onskuldig gevra of dit dalk hy was (vers 25). Waarop Jesus nie doekies omgedraai het nie: jy het dit gesê!

Ons kyk nou  na die allereerste nagmaalsviering. Die aand toe Jesus hierdie maaltyd as sakrament ingestel het. Ons moet goed kyk na wat daardie aand gebeur het, as ons reg wil doen aan Jesus se bedoeling met die nagmaal. Daarom dat Sondag 28 ook eksplisiet vra na die gegewens uit die Bybel. In antwoord 77 het ons ‘n aanhaling uit 1 Korinthiërs gelees. Paulus gee daar ‘n kort opsomming van die instelling van die nagmaal. Net soos ons, moes die Christene in Korinthe op hoogte gebring word met die oorspronklike bedoeling van Christus met die nagmaal. Want in Korinthe was daar destyds skeefgroei. Hulle het die nagmaal nie meer gevier in ooreenstemming met Christus se bedoeling nie. In Korinthe het dit ‘n vreetparty geword, waarby sommiges nie meer hulle grense geken het wat betref eet en drink nie, terwyl ander die gevoel gehad het dat hulle uitgesluit word. Paulus vermaan hulle dat ‘n nagmaalsviering ordelik moet verloop.

Nou is die kans by ons manier van nagmaal vier nie so groot dat dit ontaard in ‘n vreetparty nie. By ons gebeur alles eintlik buitengewoon ordelik. Die gevaar van te veel eet of drink bestaan eintlik nie. By ons kry ons so min, dat dit moeilik is om jouself voor te stel dat Christus ons siele met sy vlees en bloed werklik voed en verkwik. Voed en verkwik tot versadigings toe. Beslis het die dissipels destyds by daardie eerste nagmaal, meer brood gekry as die stukkie waaraan ons vandag gewoond is.

In elk geval, in 1 Korinthiërs gee Paulus ‘n kort samevatting van hoe Christus die nagmaal ingestel het. Sy samevatting gaan terug op die Evangelies. Paulus was naamlik nie een van die twaalf dissipels nie. Hy was nie aanwesig by die allereerste viering nie. Paulus vertel nie net hoe die eerste nagmaal plaasgevind het nie. Hy verduidelik ook die betekenis van die verskillende elemente. Dit doen hy in navolging van Christus. Neem byvoorbeeld Jesus se woorde: Neem, eet, dit is my liggaam.

Jesus het nie net brood uitgedeel nie. Hy het ook ‘n betekenis aan die brood toegeken. Daarna het Hy ‘n beker geneem, die danksegging uitgespreek en aan die dissipels gegee en gesê: Drink almal daaruit. Want – en dan volg die betekenis wat Jesus daaraan toeken – dit is naamlik die bloed van my verbond, wat vir vele vergiet word tot vergewing van sondes.

Tussen hakies, as ons nagmaal vier, hoor u altyd die woorde: Dit is die beker van danksegging waaroor ons die danksegging uitspreek. Hierdie formulering kom oorspronklik uit vers 27. Daar staan: “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.”

Onder “gedank het” kan ons aan ’n dankgebed dink. Net soos ons dikwels aan die einde van die maaltyd ’n dankgebed uitspreek. Dit was ’n gewoonte om die beker eers na die maaltyd te drink. Nie dat daar tydens die maaltyd niks gedrink is nie, maar ook daarna. Dit lees ons in Lukas 22, waar Jesus tydens die maaltyd die beker laat rondgaan het, asook na afloop nog ’n keer. Hierdie beker na afloop het in die volksmond bekend gestaan as die beker van danksegging. Die beker wat geniet is na afloop van die dankgebed.

Deur die eeue het dit die naam van die nagmaalsbeker gebly – die beker van danksegging. Hierdie beker het eintlik ‘n nuwe, dieper betekenis gekry. Die beker, waaruit ons die wyn drink, teken vir die bloed van Christus wat vir ons vergiet is. Elke keer as ons hierdie beker vashou, sê ons God as’t ware dank vir die vergote bloed van Christus. Ons spreek ‘n dankgebed uit, in ons hart, as ons aan tafel sit en die beker vashou. ‘n Diep gevoel van dankbaarheid. Ons dank ook almal saam daarna, direk na afloop van die viering. Tot sover oor die beker van danksegging.

Ons keer nou terug na hoe Jesus by die eerste viering betekenis gegee het aan brood en wyn. Dis nie so dat die dissipels dit eers agteraf uitgedink het nie. Dit is ‘n gedagte wat mens hoor by Skrifkritici, wat nie in die opstanding van Christus glo nie. Hulle beweer dat die dissipels na Jesus se dood teruggedink het aan hierdie maaltyd: wat ‘n heerlike maaltyd was dit. Ons laaste maaltyd saam, toe Jesus nog in lewe was. Laat ons ‘n tradisie daarvan maak, ‘n soort reünie, ‘n gedagtenismaaltyd, dat ons bymekaar kom en dink aan die goeie ou tyd, toe ons Meester nog gelewe het.

Dit is dus nie so nie. Jesus ons Heiland, wat self ook ewig God is, het hierdie maaltyd self vir die toekoms ingestel. Hy het self aan sy dissipels die bevel gegee om hierdie maaltyd te vier. Hy het self aan die brood en wyn hulle betekenis gegee. Hulle moes naamlik tekens word van Hom, die Paaslam. Ons vier hierdie fees dus op uitdruklike bevel van ons Here.

En die funksie van die brood en wyn word duidelik as ons daardie eerste viering goed bestudeer. Hulle word as tekens ingestel. Daar staan nêrens dat daar ‘n wonder plaasgevind het, asof die brood vleis en die wyn bloed geword het nie. Die dissipels het aan ‘n gewone maaltyd deelgeneem. Hulle het gewone brood en gewone wyn gekry. Net so die Here Jesus ook. Hy het nie sy eie vleis en sy eie bloed geëet en gedrink nie. Judas ook nie. Ten minste, hy het wel van die brood geëet en van die wyn gedrink. Hy het die tekens ontvang, maar dit waarvoor die tekens simbool staan, dit het hy nie ontvang nie. En juis daarom gaan dit! Wie nie in geloof die nagmaal vier nie, ontvang niks nie.

Uiteindelik gaan dit nie oor die stukkie brood en slukkie wyn nie. By die huis kan mens ook wel brood eet en wyn drink. Dit gaan uiteindelik oor die betekende saak. Christus se liggaam en bloed, geoffer vir jou. Met geloofshande neem jy dit in ontvangs. Wie geen geloofshande, geen geloof het nie, ontvang niks nie. Hy sit daar selfs tot sy eie oordeel. So was dit ook met Judas.

Dit is die boodskap vir vanaand. Moenie die teken en die betekenis verwar nie. Die teken – brood en wyn – het Judas ook ontvang. Maar dit het hom niks gehelp nie. Dit was naamlik nie towerbrood en towerdrank nie. Dit was tekens. Wat jy wys hoe jy bevryding ontvang van die slawerny van die sonde.

2 Onder leiding van Christus se Gees die toekoms in

Christus is die Gasheer aan die nagmaal. Hy was die Gasheer tydens die eerste viering, soos ons in Mattheüs 26 gelees het. Hy het sy dissipels die opdrag gegee om die maaltyd voor te brei, volgens sy wense. Aan tafel het Hy ook die leiding geneem. Hy het die gebede uitgespreek. Hy het die kos uitgedeel. Nou is dit egter anders. Jesus is nie meer liggaamlik in ons midde nie. Hy het dit toe al voorspel. Waarskynlik met die nodige weemoed in sy stem. Sien vers 29:

“Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”

Met hierdie woorde het Jesus al vooruit gewys op die nuwe hemel en aarde, en op sy wederkoms. Maar, dit wil nie sê dat Jesus nou totaal afwesig is, as ons vandag in die tussentyd nagmaal vier nie. Dis nie net die brood en wyn as tekens van herinnering wat ons het nie. In vraag 76 van die Kategismus word dit duidelik gemaak. Die tweede deel van die antwoord: Ons en die Here Jesus is naamlik deur die Heilige Gees verenig, wat sowel in Christus as in ons woon.

Ook vandag is Christus nog steeds die Gasheer aan tafel, ook hier in ons kerkgebou. Hy is aanwesig, met sy Heilige Gees. Met sy Gees is Christus orals aanwesig. Ook as daar op 1000 plekke op aarde op dieselfde oomblik nagmaal gevier word. Sy Gees is alomteenwoordig. Die Kategismus gebruik ’n baie bekende voorbeeld om dit te verduidelik. Die voorbeeld van ’n liggaam. Christus is die hoof, ons is sy lede. Saam is ons een geheel. Dink aan iemand wat baie lank is.

Soms is daar 2 meter tussen kop en voete. Maar tog is hulle met mekaar in verbinding. Al is Christus in die hemel, en sy liggaam op aarde, dit bly een geheel. Een Gees verbind hulle. So woon dieselfde Gees sowel in Christus as in ons. So mag ons, onder leiding van Christus se Gees, toe toekoms ingaan. Die toekoms is nie donker en onseker nie. Christus se Gees lei ons die toekoms in. Die toekoms behoort aan Christus. Met elke nagmaalsviering kom ons nader aan sy wederkoms. Wanneer Hy die vrug van die wynstok nuut met ons sal drink.

So gaan ons voort om nagmaal te vier, nie as teleurgesteldes, wat net aan die verlede terugdink, toe ons Heiland nog op aarde was nie. Maar ons vier met ‘n opgehewe hoof, omdat Christus in die hemel op die troon sit. Hy regeer, en ons is aan Hom verbonde. Dit is die nagmaal in die regte perspektief. Ons vier dit volgens Christus se eie bedoeling, toe Hy dit ingestel het. En ons vier dit in afwagting van sy wederkoms. Vol vertroue gaan ons die toekoms tegemoet.

Want die tyd behoort aan ons verhoogde Here. Tot ons oudag hou ons dit aan vier, miskien wel vir die 300ste keer. So bly ons verbonde met Christus. Hy wat ons verlos van die ewige dood. Hy wat ons onverganklike nuwe lewe skenk. Loof Hom, wat lewe!

Ons is verbonde met Hom in een Gees. Hy sal weerkom!

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 43:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Ps 43:3

1e tafel: Skriflesing: Mattheüs 26:1-46; Ps 43:4,5

Lofprysing & Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 28 v/a 76-77

Preek

Sb 24:3,5,6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 24:7

Kollekte

Ps 103:10,11

Seën