Die nagmaal in perspektief

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-10-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 29 en 30
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 29 & 30

Verlede week het ons saam nagmaal gevier. Ons het toe begin om na die nagmaal in die regte perspektief te kyk. Die perspektief van die allereerste viering, toe Christus dit ingestel het, asook die perspektief van die wederkoms van Christus. Vanaand gaan ons verder, aan die hand van die Kategismus, om die nagmaal te bestudeer.

Tema: Die nagmaal in perspektief

1 Gaan aan die nagmaal

2 Onthou van die nagmaal

1 Gaan aan die nagmaal

In Sondag 29 en 30 word verskillende opmerkings gemaak oor die verskil tussen die nagmaal en die pouslike mis. In Sondag 30 kom dit eksplisiet ter sprake, v/a 80. In Sondag 29 bepaal die teenstelling tussen nagmaal en mis ook die manier van skryf. Dit is baie goed denkbaar, omdat die Kategismus opgestel is tydens die groot debat tussen Rome en die Protestante. Die stad Heidelberg, waar die Kategismus opgestel is, was op daardie oomblik in ‘n Protestantse gebied. Daarom moes hulle hulle wyse van nagmaalsviering verantwoord teenoor die Roomse manier in die omliggende gebiede. Daarom dat daar in die Kategismus oneweredig baie aandag bestee word aan die nagmaal. Vir hierdie preek het ek besluit om nie in diepte op die verskil tussen nagmaal en mis in te gaan nie. Nie net omdat daar in Pretoria maar weinig Rooms-Katolieke kerke is nie, maar veral omdat ek in voorgaande preke al wel aan hierdie verskil aandag geskenk het. Nou wil ek fokus op aspekte ten aansien van die nagmaal wat ons meer besig hou.

Die eerste punt lui dus: Gaan aan die nagmaal. Meer spesifiek: In die eerste punt gaan dit oor die gewoonte van nagmaalsmyding of nagmaalsvermyding. Iets wat nie werklik aan die orde is in ons kerk nie. Gelukkig maar, kan ons dankbaar konstateer. Maar tog ‘n onderwerp waar elkeen van u ‘n duidelike en veral Skriftuurlike mening oor moet vorm.

Daar is Gereformeerde groeperings waar nagmaalsmyding redelik algemeen is. Deelname aan die nagmaal is slegs voorbehou aan hulle wat nie net bekeer is nie, maar wat ook ‘n spesiale openbaring of sinjaal van God ontvang het dat hulle sy kind is en gered is. Ek het ‘n keer ‘n bekeringsverhaal gelees van ‘n persoon uit hierdie kringe, wat ongeveer soos volg gegaan het: Vanaf my sesde jaar het die gevoel van dood en ewigheid my al besiggehou.

Want, as iemand in my omgewing gesterf het, of as dit erg gedonderweer het, was ek braaf, maar sodra dit verby was, was my braafheid ook weer verby. Een keer het ek op ‘n Sondagmiddag gaan wandel. Toe ek terugkom, het ek die kerkklok hoor lui. Dit het my gewete wakker gemaak, en ek het myself afgevra of ek wel weet dat dit Sondag was, en dat ek in die kerk moes wees. Daarop het skielik ‘n stem na my geroep: Hoekom vervolg jy my? Maar omdat ek die stem van die Here nie geken het nie, het ek nie besef wie dit was nie. Tog het dit so ‘n indruk op my gemaak, dat ek net daar begin huil het. Toe ek tuis kom, het ek vir my baas by wie ek gewoon het, gesê: Julle is baie gelukkig, want julle kan nog salig word, maar ek kan nooit meer salig word nie. Ek moet vir ewig verlore gaan, om ewig in die hel te brand.

‘n Hele tyd later, op pad na ‘n vriend toe, het ek weer ‘n stem gehoor, wat vir my gesê het: As jy nie uitverkore is nie, sal jy nooit daar kom nie. Ek was dus nie uitverkore nie, en die wanhoop het gevoel of dit my versmoor het, omdat ek nooit salig kon word nie. Toe ek daardie aand bed toe gaan, het die hele hel vir my oopgegaan. Ek het voor my oë net vuur en vlamme gesien, en ook dat ek op die randjie van die hel gestaan het. Daarbinne het ek die verdoemdes sien lê en hoor hoe hulle kerm. Dit sou dus ook my ewige lot word. En al my sondes het in my gedagtes opgestoot. So is ek meer en meer as sondaar voor God ontdek. En so het dit ‘n hele tyd deurgegaan. Tot een dag, toe ek in die oggend weer oppad was om êrens heen te loop. Toe het skielik ‘n ligstraal van bo af op my geskyn. Ek het soos dood op die grond geval, en die trane het vanself gekom. Maar toe voel ek die skaduwee van ‘n hand oor my en hoor ek ‘n stem, wat sê: Los hierdie een uit, want Ek het versoening vir hom gevind.

Want ons is soos ‘n bruid en bruidegom, omdat Ek jou liefgehad het van voor die grondlegging van die wêreld af. Maar toe ek net weer begin bykom, het die gedagte by my opgekom, dat dit alles maar net inbeelding was. Ek was totaal verward.

Na drie dae het ek op ‘n eensame plek ‘n hoekie gesoek om te bid. Toe het God Homself as Regter in al sy heiligheid en regverdigheid aan my geopenbaar. Ek was so onder die indruk van God se regverdigheid, dat ek liewerste vir ewig verdoem wou word, as dat God se reg enigsins gekrenk sou moes word. En op daardie oomblik, toe ek vir die eerste keer berusting in God se oordeel gevind het, het Jesus Homself aan My geopenbaar as ‘n medelydende hoëpriester. Ek het Jesus hoor praat: Verlos hom, moenie hom verder lastig val nie. Ek het versoening vir hom gevind. Hy staan gegraveer in my handpalm. Niemand sal hom daaruit ruk nie.

Dit was, gemeente, kortliks die betrokke persoon se bekeringsverhaal. Nou beteken nagmaalsmyding in sommige Gereformeerde groeperings dat slegs mense met so ‘n tipe verhaal die nagmaal mag bywoon. Iemand wat so ‘n tipe persoonlike versekering gekry het dat hy uitverkore is, mag die vrymoedigheid neem om aan die nagmaalstafel te gaan. En om dus daar, aan tafel, gevoed te word tot die ewige lewe. Wie so ‘n spesiale versekering nog nie in sy lewe gehad het nie, mag nie die vrymoedigheid neem om aan tafel te gaan nie.

Gemeente, as mens dit so hoor, wonder jy dalk: moet ek nou hieraan ‘n voorbeeld neem of nie? Wie hierdie vraag vra, kan die beste direk die vraag aan die Bybel vra. Net soos vorige week, toe ons gesien het dat die nagmaal in die regte perspektief kom, as mens teruggaan na die allereerste begin, so doen ons dit nou weer. As jy fokus op daardie eerste nagmaalsviering, hoe Jesus dit self ingestel het. As jy jouself dan afvra: Sê nou maar ons pas hierdie streng vereistes vir die deelname aan die nagmaal toe op daardie eerste keer. Dit wil sê, as ons hierdie praktyk van nagmaalsmyding toets aan die Skrif. Dan, om eerlik te wees, sal mens tot die gevolgtrekking moet kom dat iemand soos Petrus daardie eerste keer nie nagmaal mog gevier het nie. Jesus sou hom moes afgehou het. Dit gebeur naamlik in sulke Gereformeerde groeperings. ‘n Vrou het ‘n keer aan die nagmaalstafel gekom. Maar, omdat sy na die mening van die predikant te veel juwele gedra het, het die dominee haar toe weer weggestuur. Eintlik moes Jesus ook vir Petrus weggestuur het.

Of het Petrus tog wel ‘n ware geloof gehad? Het hy nie die versekering van Christus ontvang dat die kerk op hom, die rots, verwysende na sy naam, gebou sou word nie? Maar neem dan ‘n ander dissipel. Neem Thomas byvoorbeeld. Met Thomas se geloof was daar nog baie nie in orde nie. Thomas het tot op daardie stadium nog geen enkele versekering van God ontvang, dat dinge reg was met hom nie. Thomas was nog kleingelowig tot en met. En eintlik was dit ook so met die ander dissipels. Hulle sou naamlik almal vir hulle Heiland in die steek laat.

Dus, gemeente, as mens hierdie praktyk van nagmaalsmyding aan die Bybel toets, kom jy al gou agter dat dit nie die toets van die Bybel deurstaan nie.

Christus het naamlik daardie eerste keer die nagmaal gevier saam met sondige en gebrekkige mense. Mense wat nog lank nie ‘n onbesproke geloof of lewe gehad het nie. Mense wat nog lank nie hulle eie ellende goed genoeg besef het nie. Mense wat nog lank nie goed genoeg God se grootheid en almag en regverdigheid besef het nie. Mense wat tot op daardie stadium nog nie van God, of van Jesus, ‘n spesiale woord van versekering ontvang het, dat hulle gered was nie. Maar tog het Jesus hierdie gebrekkige dissipels van Hom aan tafel geroep. Want juis deur hierdie maaltyd wou Hy hulle voed. Voed nie in letterlike sin nie, maar hulle vertroue. Met sy geofferde liggaam en vergote bloed, met sy kruisiging wat op die punt gestaan het om plaas te vind. Op grond hiervan kan mens dus konkludeer: Om nagmaal te vier is ‘n verpligting.

‘n Lieflike plig. Net soos die doop ook ‘n verpligting is vir elke gemeentelid. En daarom kan ‘n nagmaalsviering nooit vryblywend wees nie. Daarom moet u ook rekening hou, in u persoonlike beplanning, met die nagmaalsondae.

As dit nagmaal is, en daar is geen besondere omstandighede nie, dan sorg jy dat jy hier is. En as jy ‘n erediens bywoon in ‘n buurgemeente of waar ook al juis op daardie Sondag nagmaal gevier word, dan is dit maar ‘n klein moeite om ‘n attestaat by jou wyksouderling aan te vra, sodat jy kan saamvier.

Verstaan u dus die bedoeling van ons Heiland? Hoe Hy die nagmaal ingestel het? Hy wil juis dat ons gereeld nagmaal vier, omdat ons so dikwels kleingelowig is, omdat ons so dikwels twyfel. Dit is sy bedoeling. Die nagmaal is nie om te wys wie se geloof op standaard is nie. Die nagmaal is ‘n instrument om ons geloof te versterk. Om die dowwe lamppit nie uit te blus nie. Om die geknakte riet nie te verbreek nie (Jes 42:3). Maak daarom gebruik van sy uitnodiging aan tafel. Bly gehoorsaam aan sy bevel om te vier.

(Tema: Die nagmaal in perspektief

1 Gaan aan die nagmaal)

2 Onthou van die nagmaal

In die eerste punt het ons aandag geskenk aan die praktyk van nagmaalsmyding. In die tweede punt fokus ons op iets anders, naamlik nagmaalsoutomatisme.

Waar nagmaalsmyding gelukkig weining in ons kerk voorkom, is dit met nagmaalsoutomatisme helaas wel die geval. Een van die belangrikste oorsake vir nagmaalsoutomatisme is sosiale druk. As u vir ‘n oomblik terugdink aan die gedeelte wat ons gelees het, was dit ook die geval. Judas, hoewel hy in sonde en ongeloof geleef het, het tog saam die nagmaal gevier. Ons het gelees dat hy kort daarvoor sy Heiland verraai het. En nou het hy ‘n geskikte geleentheid gesoek om Jesus oor te lewer. Daarom dat Jesus die plek waar Hy met sy dissipels die nagmaal sou vier, so lank moontlik vir hulle verborge gehou het. Judas het naamlik ‘n eensame plek gesoek om sy Heiland te kon oorlewer. ‘n Plek waar die skare dit nie sou agterkom nie. Maar Jesus het gesorg dat Hy nie voortydig uitgelewer sou word nie. Hy het naamlik nog een belangrike ding gehad om te doen saam met sy dissipels. Dit was die instelling van die nagmaal. Hierdie taak moes Hy nog doen. Eers daarna het Hy Homself beskikbaar gestel om oorgelewer te word, daardie nag, na die maaltyd. Maar goed, Judas het gewoon saam met die groep die pasga gevier. Hy wou nie afwesig wees nie. Want dan sou die res van die dissipels vermoed dat daar iets met hom aan die hand was. Daarom het hy homself as ‘n huigelaar gedra en gewoon meegedoen. Ook hy het, soos gebruiklik in daardie tyd, neergelê aan tafel.

Ons Heiland was egter nie onkant betrap nie. Sy maaltyd is nie bestem vir huigelaars nie, en dit het Hy toe ook goed duidelik gemaak, met die woorde: Wee die mens, deur wie Ek verraai word. In ander woorde kan mens sê:

Hierdie mens, Judas naamlik, het aan die nagmaal deelgeneem tot sy eie oordeel. Met dieselfde woorde waarsku die nagmaalsformulier ons. Wie in sonde leef, maar tog saamvier, byvoorbeeld as gevolg van sosiale druk, hy doen dit tot sy eie oordeel.

Miskien wonder u nou: Wat hou dit presies in: om te lewe in sonde? Waar is die streep, waar is die grens tussen wel nog saam nagmaal mag vier, en nie meer nie? Geliefdes, met in sonde leef word nie net bedoel hulle wat van die sonde hulle beroep gemaak het nie, soos byvoorbeeld ‘n prostituut of ‘n dwelmhandelaar nie. Lewe in sonde dui ook op hulle wat van die sonde ‘n gewoonte, oftewel ‘n verslawing gemaak het. Byvoorbeeld: wie aan drank verslaaf geraak het. So iemand mag nie nagmaal vier nie. Diegene wat van die sonde ‘n gewoonte gemaak het, wat leef in sonde, hy vier die nagmaal tot sy eie oordeel. En miskien dink u nou: Ja maar iemand wat verslaaf geraak het, kan nie meer anders nie, al wil hy ook. Dit word ‘n verslawing, dit kry jou in sy greep. Self kom jy nie meer los nie. Dit is ook die rede hoekom mense in die hel kom. Want wie sou vrywillig hel toe wil gaan?

Maar dit is dus die punt. Wie te vriendskaplik raak met wat sondig is, speel met vuur. Want dit is nou eenmaal die aard, die werking van sonde. Dit is verslawend, en jy raak daarin verstrik. Die verslawing trek die bande steeds stywer, totdat jy self nie meer loskom nie. Wie dus self nie meer in staat is om sy sonde agter hom te laat nie, hy leef in sonde. Hy mag nie aan die nagmaal nie.

Tensy, en dit is ‘n baie belangrike tensy, tensy daardie persoon hulp soek. In hierdie woordjie tensy hoor ons die Evangelie! Aan die nagmaal sit naamlik slegs sondaars. Maar dit is nie sondaars wat moed opgegee het nie. As jy self nie van die drank af kom nie, dan is jy verplig om hulp te soek. Daardeur gee jy te kenne, al het jy hoe verstrik geraak, dat jy tog wil stry teen dit wat verkeerd is. Christus wil juis dat ons die hulpmiddele aangryp wat daar is. Wie dit nie doen nie, mag nie in die hede aan die nagmaal nie. Hy neem dan deel tot sy eie oordeel. Tensy, tensy daar hulp gevra word. Dit is nie voldoende om vergewing te vra vir die sonde wat jy gedoen het, maar in jou hart weet jy dat jy die volgende dag maar weer dieselfde gaan doen. Christus wil die sonde uitban. As iemand self nie van sy sonde kan afkom nie, en ook al duur die hulpverlening lank om daarvan af te kom, dan word daar wel die goeie stryd gevoer. Wie opreg stry teen die sonde, word aan tafel geroep. Wie nie bereid meer is om teen die sonde te stry nie, bring ‘n oordeel oor homself. Ek het nou steeds een voorbeeld genoem. Maar daar is natuurlik meer.

Dit geld vir jou verhouding met ander, leef jy in ‘n onopgeloste konflik met ander? Dit geld vir die verhouding in die huwelik. Die geld vir die verhouding met kinders. Die verhouding met ouers. Die manier hoe jy jou beroep uitoefen. Die sondige kante van jou karakter. Ensovoorts, ensovoorts. Christus, die Hoof, wil nie dat sy liggaam die sonde gedoog nie.Ons kan moedeloos raak, ons kan die gevoel hê dat ons die sonde nooit sal kan oorwin nie, dat mens maar net besig is om water uit die see te skep. Maar dan geld des te meer: wie self nie kans sien nie, moet hulp vra. Christus bied hulp. Hy gee sy Gees om in jou sondige lewe reinigend te werk. Hy gee ander om jou te help. In die kerk, die ouderling, diaken, predikant, mede-broer of –suster. Familie, dokters, terapeute, noem maar op. Christus wil dat die sonde ter sprake kom. In die goeie sin van die woord. Dus nie dat daar oor die sonde geskinder word nie. Wie dit doen, moet ook homself van die nagmaal onthou. Maar, dat die sonde bely word. Bely met die doel om vooruitgang te boek in die stryd teen die sonde.

Nagmaalsmyding kom onder ons nie werklik voor nie. Gelukkig maar. Laat ons die regte perspektief op hierdie fees hou. Maar dalk kom onthouding van die nagmaal by ons soms te min voor. Sou dit daarop dui dat ons ‘n wapenstilstand met die sonde gesluit het? Met ons sondige geaardheid? Met die sondige wêreld? Dat wêreldgelykvormigheid al deur die agterdeur in ons lewe ingekom het?

Danksy die Heidelbergse Kategismus het ons die afgelope weke indringend na die nagmaal gekyk. Laat hierdie fees, wat ons elke tweede maand vier, nie ‘n leë tradisie onder ons word nie. Ons kry dit as ‘n waardevolle geskenk van Christus, wat dit ingestel het vir ons, swak en sondige mense. Mag die viering daarvan ons elke keer weer vul met met die dankbare wete dat al ons skuld vergewe is. Mag die viering ons ook vul met krag en moed, ja met sy Heilige Gees, om meer en meer aan Hom gelyk te word.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Seën

Ps 51:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 22:1-38

Ps 139:1,2,4

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 29 & 30

Preek

Ps 51:4,5,6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 51:8

Kollekte

Ps 139:10-12

Seën