Dr JA Breytenbach Kopiereg
Geliefde Gemeente
Blydskap in ons lewe, blydskap in die Here, is die regte toekoms waarna die gemeente saam en elke gelowige afsonderlik uitsien. En hierdie toekoms word nie begrens deur jaareindes nie, want die lewe in die Here is vir ewig.
Ons lees die oproep van Paulus om vas te staan in hulle blydskap aan die gemeente in Filippi – maar ons kan dit net so aanhoor as oproep na die gemeentes in Pretoria. Die naam Filippi kan enige tyd vervang word met PTA of PTA Maranata. Ja ons konteks of omstandighede verskil, maar die behoefte en afhanklikheid van die gemeente van Christus is dieselfde. Die voorbeeld van Paulus van sy lewe in Christus vir die Filippense dien eweneens as voorbeeld en motivering vir ons.
Blydskap in Christus is elke gemeente en elke gelowige se deel wanneer ons vanuit die sekerheid in die Here en sy beloftes, vas staan in Hom. Paulus roep in ons teks die gemeente in Filippi op tot blydskap in die Here, en lê vir hulle uit langs watter weg dit hulle deel word, om met die sekerheid van Christus se werk in hulle vas te staan in die Here.
Filippense 3 is ‘n bemoediging aan almal wat in Christus glo in ‘n heftige konfrontasie van Paulus met die valse geloof of ongeloof. Teenoor die vreugde van glo in Christus het Paulus die vyandige roem van die Joodse volk in die wet en besnydenis gestel. En dan gee Paulus ‘n beskrywing van hoe hy homself daarvan losgeskeur het en dat redding alleen deur Jesus Christus is.
Hy en alle Christene het burgerskap nie op aarde maar in die hemel. Die regeersentrum, die regeringshoofstad is in die hemel, vandaar lei Christus die gelowiges. Die toekoms is van Christus in die hemel. Daarom moet die gelowiges die koers van Paulus om deur Christus gelei te word, bly volg.
Paulus skryf breed oor homself. Oor sy worsteling om homself vry te maak van sy Joodse selfvertroue en homself oop te stel vir die geregtigheid van die geloof in Jesus, en sy bekering tot Christus. Hy gebruik homself as voorbeeld om die gemeente te bemoedig. As hy as Jood voldoende het aan sy regverdiging in Christus, dan sekerlik die gelowiges uit die heidene te Filippi ook. As hy in boeie en gevangenskap hom in Christus verheug en in Hom kan leef vir die Evangelie, dan sekerlik hulle ook. Hulle identiteit kan nie in besnydenis en tradisie wees soos by Israel nie, ook nie in afgodsdiens en bygeloof soos by die heidene nie. Nee, hulle innerlike geloofsekerheid in Jesus Christus en in die hemelryk is nodig om blywende vreugde in te vind.
Vir ons is daar nie ‘n bedreiging van die Joodse godsdiens nie, maar wel die eiegeregtigheid van ons sondige hart, en bedreiging om afkoms of identiteit voor ons Christenwees te span, en ook nie die heidendom met afgode nie, maar die sekulêre godsdiens, wat horisontaal is, wat ons so maklik najaag.
Dit pas ons om God te dank vir die werk van die evangelie wat Hy in ons begin het en deurgans aan ons doen en te bid dat hy dit ook sal voleindig. Laat ons God bid dat ons ook komende jaar mag toeneem in liefde, in kennis en ervaring. En vir onderskeidingsvermoë, en vervuldheid met die geregtigheid van Christus tot heerlikheid en lof van God.
Die kennis en vervuldheid met die geregtigheid van Christus om in blydskap vas te staan in die Here is waaroor ons teks gaan.
Tema:
Sekerheid in die Here Jesus Christus maak blydskap in Hom moontlik
- Blydskap vanuit sekerheid
- Voorbeeld van Paulus: hoe Christus ‘n Jood verander het
- Voorbeeld van Paulus: doelgerig vir Christus
- Ons verwagting van Christus
- Blydskap sonder onsekerheid
Die blydskap waaroor Paulus dit het, is blydskap wat gemeenskap met Christus, wat heerskappy voer, is. Daarom moet hulle hulle in Christus verbly. Blydskap is kenteken van die koms van die ryk van God. Rom 14:17. Dit is ook vrug van die Gees. Gal 5:22.
Ondanks teenspoed en moeilikhede. Dit word deur Christus gegee aan ons en gevra van ons.
Die Filippense het hierdie blydskap broodnodig om teenstand teen die suigkrag van kleingeloof en wankelmoedigheid te bied. Wanneer die Here Jesus Christus nie hulle vreugde is nie sal hulle nie meer teenstand in Hom kan bied nie. Sonder Christus is daar moedeloosheid en apatie. En word die Joodse godsdiens aanloklik.
Hulle word egter deur Paulus opgeroep om hulle gelowig te onderwerp aan Christus se heerskappy deur sy heilswerk te deurdink en te koester. Hy sal hulle meer en meer vervul met blydskap oor Hom. So kan hulle standhou en onderling een wees in die inhoud van wat hulle glo van Christus.
Dit gaan nie net om vreugde teenoor verdriet nie maar vreugde in die Here in teenstelling met vertroue op valse godsdiens. Paulus het voortdurend in sy evangelieprediking soos wat ons dit in Handelinge en sy briewe het opgeroep tot geloof in Christus waarmee vreugde in die Heer alleen onskeibaar verbind is.
Dit was altyd deel van sy prediking, en nou kom hy wanneer hy aan die gemeente in Filippi skryf vanuit die gevangenis in Casarea steeds daarop terug. Ook vanuit die tronksel kom die boodskap: bly vind julle vreugde in die Here. Hy deins nie terug hiervoor nie. Sy persoonlike omstandighede kon hom laat terugdeins het, maar nee - hy hef hieroor ‘n loflied aan.
Paulus wil hê hulle moet in hulle geloof bevestig word, so 4:1: Daarom, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes. Hy gee hulle sekerheid deur sy onderrig van hulle. Die boodskap van die evangelie aangaande Christus gee hulle houvas. Versterking in geloof kan onderling meer eensgesindheid werk. In vers 2 wys Paulus die negatiewe wyse van die Jode wat nie in Christus glo nie en gee opdrag aan die Filippense dat hulle moet waaksaam wees vir die honde, die slegte arbeiders, die versnyding.
Paulus in die gevangenis was beperk en verhinder om die gemeente meer te help, alles moes per brief oorgedra word. Die gevaar was werklik dat die jode die gemeente met hulle besnydenis en eiegeregtigheid kon oorweldig. Paulus waarsku. Let op! Versigtig! Hy wys die gevaar drievoudig aan: honde – slegte arbeiders (mense) – versnyding ( praktyk). Hierdie gevaar staan teenoor die getroues van vers 3. Honde is gevaarlik, onrein, wilde agtervolgers, dreigend, vol grimmige gulsigheid. Die Jode het die wet. Maar hulle is verkeerd besig, hulle is slegte arbeiders. Versnyding sien op iemand in stukke sny. Vermink. Wie die Messias verwerp hou in hulle besnydenis alleen maar verminking oor.
Paulus beskryf waarin die verskil tussen Christene en nie-christelike Jode bestaan. “ons”, vers 3, meervoud dus – “ons” is die besnydenis. Dit wil sê almal wat in Christus glo: die apostel Paulus en die gelowige Filippense. Hulle deel in die gemeenskaplike vernuwing in Christus. Besnydenis by die Jode is teken van God se verkiesing. Besnede wees hoort tot God se volk. Sover jy dan die volk wat deur God aangeneem is, besnydenis noem, “ons”, dit wil sê Paulus en die gemeente is dit, hulle mag so genoem word, want dit gaan om die besnydenis van die hart in Christus. Reeds in OT is daarop gewys dat die uiterlike besnydenis nie voldoende was nie. Maar besnydenis van die hart Deut 10:16: Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.
En in Rom 2:25-29 helder uiteensetting wat hy daar besnydenis van die hart noem: Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ‘n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie? En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis ‘n oortreder van die wet is nie? Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Paulus gee hier 3 kenmerke van die ware besnydenis: 1. dien van God in die Gees, 2. roem in Jesus Christus, 3. geen vertroue op die vlees. Besnydenis van die hart ontvang ons deur die Gees van Christus. Dus aanneming deur God in Jesus Christus is beslissende kenmerk van ons verhouding met God. Die Jode mag op die vleeslike besnydenis en werke roem, maar Paulus en die gemeente prys Christus as hulle verlosser. Hulle geloof is in Christus en nie in werke van die wet nie. Besnydenis van die vlees word heeltemaal uitgesluit.
Dus kan Paulus bly wees in die Here ook as gevangene ervaar. En daarom vind hy dit nodig om die gemeente meer sekerheid te gee deur hulle na homself as voorbeeld te wys: naamlik hoe Christus hom as Jood verander het. Hulle moet hulle nie laat intimideer deur die Jode nie, al het die Jode hom in die gevangenis laat sit. Die gemeente kan uitverkore volk van God wees deur deur die Gees aan Christus vas te hou in alle omstandighede.
2. Voorbeeld van Paulus: Hoe Christus ‘n Jood verander het
Paulus tree in vers 4 na vore met ‘n persoonlike woord. Hy het ‘n dubbele paspoort. Hy is salig deur Christus maar hy kan die Jode aanvat op hulle terrein met die wapens wat hulle gebruik want dit is waaruit hy kom. Maar hy gebruik hierdie wapens nie meer nie, omdat dit hom nie kan red nie. Laat dit dan vir die Filippense en ons bemoedig. Paulus gee aan hulle ‘n selfportret van sy verlede en sy toekoms. Hy wys Filippense hy kan hom wel aan die Joodse teenstaanders meet, hy oortref hulle selfs . Maar dit het vir hom geen waarde meer sedert hy sy meerdere in Christus gevind het. Hy spoor daarom die lesers aan om hom te volg en in die Here voldoende grond te vind vir onbegrensde vreugde omdat hulle nou in Hom staande bly.
In verse 5 en 6 gee hy motivering waarom hy die Jode sou kon aanvat met hulle wapens op hulle terrein. Daar is die aspekte van sy afkoms en verwagting van hom vers 5, en dinge wat hy in ywer gedoen het om aan die verwagting te voldoen, vers 6. Hy was binne Joodse godsdiens onberispelik voor God en daarom ook voor die mense.
Maar dit lê nou agter hom. Verse 7-11 beskryf die groot omvang van verandering wat in sy lewe plaasgevind het. Vers 7 ...Beskryf sy roeping tot geloof en die openbaring wat hy ontvang het vir prediking van Christus aan die volke. Dit beskryf die omwenteling in sy eie lewe. Hy beskryf hier nie sy roeping nie, maar die gevolg daarvan – sy bekering tot die kennis van Christus en sy geloof in Christus.
Alles wat vroeëer belangrik was, is nou vir hom skade vanwee Jesus Christus. Paulus gebruik hier besigheidsbegrippe: Wins en Verlies. Dit is duidelik. Verdienste by God en mense kon Paulus vroeër verwerf deur die wet. Om Christus nou te dien moes hy meer waarde aan die Messias as aan sy eie voortreflikheid hê. Verse 8-11 verduidelik verder hierdie verlies en wins. Wat hy nou as verlies ervaar is nie alleen verlies nie, maar vuilheid, drek. Sentraal in verse 8-11 staan die Persoon van Christus en die kennis van Hom. Paulus wens vier dinge: 1, Christus te ken 2, Hom as wins te verkry 3, in Hom gevind te word met die geregtigheid deur die geloof 4, Krag te ken van sy opstanding en die gemeenskap met sy dood. Hy onderskryf in verse 8-11 wat hy in 7 gesê het. Op die balansstaat staan wins as kennis van die Here wat Hy verkry het. Dit is geen intellektuele kennis, maar ervaringskennis deur deelname. Hy sê nie dat hy oor Christus een en ander te wete gekom het maar Jesus Christus het sy persoonlike Heer geword. Jesus het Saulus van Tarsus gekoop en in sy diens geneem. Hy sorg nou vir Paulus en wys hom die weg wat hy moet gaan. Die oortreffende kennis van Christus oortref alle ander dinge. Al die ander goed staan hy nou af.
Moet ‘n Christen alles prysgee om aan Jesus te behoort? Goed, eer, afkoms, volk is gawes van God wat nie verag moet word nie. Ons moet egter onderskei tussen die dinge self en die waarde wat ons daaraan heg. Staan dit die geloof in die weg en is dit ‘n belemmering om Christus te wen of ‘n belemmering vir voortgang van die Evangelie, dan moet ons daarvan afstand doen. Beskadigde skepe waarvan lading in die see gegooi word om behoue in die hawe te kom. Die lading hoe kosbaar op sigself moet as skade en sonder enige nut gereken word by die noodsaak om die bemanning en die skip te red.
Vir Paulus alleen maar om Christus te wen. Dit is die persoon van Christus. Hy gee alle vroeëre wins prys om alles in Christus te wen, soos die koopman wat al sy skatte verkoop het ter wille van een kosbare perel.
Hy wil in Christus gevind word, 9. In Christus te wees in verbondenheid aan Hom. Hy wil graag deur omgewing herken word, as behorende tot Christus. Hy span hom hiervoor in asof hy die opstanding kan gryp soos hy deur Christus gegryp is, hy span hom hiervoor in in sy gevangenskap. Hy hoop om te deel in die verandering van die gevange en vernederde lewe 3:20,21 omdat hy dan deur die regter van die hele wereld in Christus gevind sal word. Hy sit alles daarop dat God hom op die dag van verheerliking sal vind as iemand wat in Christus is. As hy in Christus is, het hy nie sy eie geregtigheid wat uit die wet is nie (vers 6). Maar hy het die geregtigheid wat uit Christus is. Paulus het geleer dat God ‘n ander en beter manier gegee het om te lewe voor sy aangesig.Die geregtigheid uit God het hy nie self deur wetgehoorsaamheid verkry nie, maar hy het dit as gawe ontvang, dit het sy deel deur geloof geword. Dit blyk geloof het niks verdiensteliks, dit is ‘n leë hand wat aanneem wat God gee. Geloof in Christus is die weg waarop die lewe ontvang word uit genade. Wie ewig wil lewe voor God se aangesig as regverdige en deur God aanvaarde, moet by Christus wees. Oortref ver die weg van die gehoorsaamheid aan die wet wat self verdien moet word. Dit is geregtigheid uit die geloof, 9.
Kennis aangaande Christus is waarom dit gaan, vers 10. Waarin dit veral bestaan: kennis van die krag van sy opstanding en van die gemeenskap aan sy lyding. Paulus dink aan die krag van die opgestane Christus wat werksaam is in die lewe van die gelowige. Krag van die opgestane Heiland, word as lewevernuwende krag in die gelowige geopenbaar (Ef 1:19.20). As onuitputlike kragbron, as lewende stort Hy sy Gees uit in die gelowiges. Deur die Gees vertoon hulle liefde, blydskap, hoop. Geroepe christene moet deur baie verdrukkinge ingaan in die hemelryk. Lewendmaking met Christus word gevolg deur lyding met Christus (beproewing van die geloof en afsterwe van die sonde). Lyding ter wille van die evangelie en wat ander aan jou toedoen.
Filipense het te make met hierdie lyding en Paulus is al geruime tyd geboeide en aangklaagde.1:4,7,13-16, 20, 2:17. Paulus verbind sy eie lyding aan die lyding van Christus. Hy het op aarde gely maar hy ly ook in syne Kol 1:24. Lyding van volgelinge gaan nie buite Hom om nie. Hulle lyding is sy lyding. Die sterwende Stefanus sien sy Heer in die hemel staan. Dit is sy geskiedenis. Gelykvormig word aan Christus en sy dood. In teken van gehoorsaamheid. Paulus 20 wens dat Christus in sy liggaam grootgemaak word in lewe of dood. Apostel hoop om tot en met dood in diens van die Heer te staan en Hy wil hom navolg in sy gesindheid en selfopoffering en gehoorsaamheid. Sterwe in dienstyd.
3:11 gaan oor Paulus se eie liggamlike opstanding, en oor die wenslikheid en grootheid van die doel: om daar te mag kom. Dan is alles oortref en die lyding was nie vergeefs nie. Kom tot ,,,,,beteken dat na moeisame tog die bestemming hoop bereik te word, naamlik opstanding uit die dode.
4-11 het Paulus sy eie verandering beskryf, van perfekte Jood na man wat deur Christus lewe, sterwe, en opstaan met Jesus, so mag die Filippense seker wees. Al hoort hulle nie by Jode of heidense Grieke nie, met Christus is hulle op die regte weg. Met hom kan hulle lewe en sterwe en bevryding hê uit die dood. Hulle nie tot twyfel laat bring deur die aardse sekerheid van ander nie, maar Paulus voorbeeld volg en alles van minder waarde ag as kennis van Christus hulle Heer en Heiland. Indien hulle hulle in Hom beroem sal hulle ook hulle blydskap in Hom vind.
3. Voorbeeld van Paulus: doelgerig vir Christus
Paulus het sy hart oopgemaak vir sy lesers. Hy plaas sy vertroue alleen op Christus. Hy laat hulle sien wat laat hom innerlik beweeg. Hy wil bemoedig en aanspoor. Hy wil hê hulle moet niks anders as Christus bedink nie. Hy wou met sy lewe voorbeeld gee aan lesers om na te volg, 17. Roete waarop Christus gevolg word is sy opstandingskrag, deelname aan sy lyding, gehoorsaamheid tot sterwe, teruggebringwees uit die dood. Die opstanding is nog nie bereik nie, dit vra baie inspanning, naamlik lyding en sterwe. Paulus wys op die inspanning gepaard met die kennis van Christus en spoor die lesers aan om hom na te volg in die wedloop. Paulus is nog opweg maar hy is wat sy wins betref volkome seker. Hy het die volmaaktheid as doel nog nie bereik nie. Gevolg dat hy met alle inspanning daarna gryp, hy wil sy hand daarop lê. Maar eintlik is hy alreeds deur Chrtistus gegryp. Jesus het hom in sy greep gekry toe hy oppad was Damaskus toe. Die wins van Christus is vir Paulus duidelik vir tyd en ewigheid.
Hy het een doel voor oë. Hy volhard in gehoorsaamheid en nederigheid en mik vir die eindstreep. Daaraan is die beloning of prys verbind. In verse 15,16 ek jaag na die doel, laat ons dan saam. Alle gelowiges as volmaaktes word betrek – hy doen ‘n beroep op almal. Die gemeente is aanspreekbaar om doel te bereik. Gelowiges moet dieselfde eindstreep najaag.
4. Ons verwagting van Christus
In verse 17 – 4:1 rig Paulus die lesers om staande te bly in die Heer. Want 4:1: Bly julle vreugde vind in die Heer. Die Filippense moet navolgers van Christus word, hom en ander as voorbeelde neem om na te volg in die wedloop om die geregtigheid en die opstanding in Christus te verkry. Daar is alreeds ‘n band: Paulus spreek hulle aan as geliefde broeders. Mense wat dieselfde lewenswandel het as waarvan julle in my ‘n voorbeeld het(13,14): Jaag na die doel om die prys van die hemelse roeping te verkry en vergeet alles wat agter lê en strek julle uit na wat voor is. Hulle moet geheel gerig wees op die toekoms met Christus.
Paulus waarsku vers 18 dat baie wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle het ‘n afkeer van die kruis en wil nie weet van ‘n lewe in hoop van sy wederkoms nie. Baie beskou die kruis as ‘n ergernis of dwaasheid. 1 Kor 1,2. Paulus het smart oor die nie-christelike Jode. Hulle wat so bevoorreg was het teenstaanders van die evangelie van verlossing geword. Sedert God sy seun laat sterf het uit liefde vir die hele wereld staan elke lewenswandel wat nie van Christus wil weet nie in vyandskap van die evangelie. Omdat die evangelie aanspraak maak op alle mense, is lewe buite Christus om nie neutraal nie maar vyandig teenoor die kruis van Christus.
Wie is nou die baie wat wandel as Christus se vyande, vers 18? Omskrywing van hulle gedrag, 19: Gerig op aardse, hulle buik is hulle God, hulle skande is hulle eer, hulle bedink die aardse dinge.
Die beeld van die heidene word hier geteken: hulle gaan hulle eie ondergang tegemoet in die verderf, in teenstelling met die gelowiges wat deur Christus behoue bly. Hulle het geen redder, hulle god is hulle buik. Dinge van die aarde, godsdiens in diens van aardse welsyn. Skandes is hulle lewenswyse.
Daarteen kontras van die gelowiges 20,21: ons is gerig op die hemel, ons verwag van Christus ‘n verheerlikte lewe.
Ons burgerskap of regeersentrum is in die hemel. Soos kolonie in Filippi vanuit Rome geregeer, so word lede van die kerk Filippi vanuit hemel bestuur. Christus op troon 2:9: Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is
Hy regeer vanuit die hemel sy kerk op aarde.
Die gelowiges word bestuur vanuit die hemel waar Christus troon. In maar nie van die wereld. Reikhalsend (hoop wat gerig is op eindverlossing) verlang hulle na die terugkeer van die een wat hulle bestuur. Hulle verwag uit die hemel Jesus Christus as hul Verlosser en Heer. Nie die keiser nie, maar Jesus Christus is die werklike Verlosser.
Verlossing deur Christus by sy wederkoms word in 21 beskryf in betrekking op ons liggaam. Hy sal ons liggaamlike bestaan omvorm, ons vernederde liggaam (as gevolg van swakheid van die sonde) so verander dat dit gelykvormig aan die verheerlikte liggaam van Jesus Christus sal wees. Dit is die totale mens as persoon. Dus volgens sy patroon. Christus se liggaam is reeds met heerlikheid beklee, dan, na sy voorbeeld ons. Nie gelyk aan Christus, wel dieselfde vorm of gedaante.
Terwyl die heidene hulle op die aardse rig en hulle ondergang tegemoet gaan, verwag Christene die toekomstige verheerliking van die verganklike lewe.
Gemeente moet nie twyfel aan die werklikheid hiervan nie. Christus sal die verandering bewerk met die krag waarmee hy in staat is om alle dinge aan hom te onderwerp, vers 21. Die verheerlikte Christus beskik oor ‘n krag, letterlik energie, so groot dat Hy alles aan Hom onderwerp. Omdat hy alles kan onderwerp kan hy ook die gelowige verander en heerlik maak.
Hoofstuk 4:1 is gevolgtrekking uit die voorgaande: hartlikheid van Paulus vir die gemeente straal daaruit. Aanspreek van hulle: Geliefde broeders van my, sy verlange gaan na hulle uit, aan einde van vers weer geliefdes. Om sy sterk geneentheid tot hulle tot uitdrukking te bring. Hy noem hulle sy blydskap en krans. Hy vergelyk die gemeente met die erekrans wat die oorwinnaar in die stadion omgehang word. Die gemeente is ook die krans van oorwinning, die bekroning van sy arbeid onder hulle. Sal hy die krans dra op die dag van wederkoms van Christus? Vanuit die warmte en toegeneentheid kom Paulus se finale oproep. Die gemeente moet vasstaan in die Here.
3,1 het begin met oproep aan die Filippense tot vreugde in die Here. Hulle moet as christelike gemeenskap hulle nie laat intimideer deur die groot Joodse gemeenskap met sinagoge en besnydenis nie, of deur die heidense godsdiens van die aarde en oombliklike skynwinste van bygelowigheid nie. In waarheid is die gemeente se vreugde alleen wanneer sy sterk verbind is aan Christus omdat sy Christus ken en liefhet. Dan is sy onwankelbaar.
Paulus self bly in die wedloop van Christus. Ondanks opposisie van volksgenote. So moet ook die gemeente beslis die verheerliking van hulle vernederde liggaam bly verwag en die wedloop hardloop om die eindstreep te bereik. Die toekoms met Christus is wins.
Amen
Psalm 100:1,2,3,4
Psalm 97:4,6,7
Psalm 105:5,6
Skriflesing Fil 1:3-11
Psalm 33:1,2,11
Teks Fil 3:1-4:1
Psalm 86:2,3,4,6
Psalm 76:1,5,6