By die agtste gebod dink ons meestal direk aan iemand met ‘n balaklawa oor sy kop en ‘n wapen in sy sak. Sulke tipes mense sit hopelik egter nie vanaand in die kerk nie. Tog is die agtste gebod ook daar vir ons.
Soos ons nounet uit die Kategismus gelees het, kan diefstal naamlik op so baie maniere plaasvind, van vervalsing van goedere tot tyd steel van jou baas.
Selfs het die agtste gebod te make met hoe jy die geld wat jy eerlik verdien het, uitgee. Want, sê Sondag 42, ook misbruik en verkwisting van God se gawes is oortreding van hierdie gebod. En so behoort al ons geld, en alles wat ons het en is, uiteindelik aan God, en Hy het die ultieme seggenskap daaroor.
Ek bring u vanaand die genesende Evangelie oor die agtste gebod, met die volgende tema:
Tema: God stel mense as rentmeesters aan
1 Respek vir besit as gawe van God
2 Omgang met besit as gawe van God
1 Respek vir besit as gawe van God
“Eiendom is diefstal”! Dit was die opmerking van een van Karl Marx se vriende. En soos u weet, Karl Marx was die vader van die kommunisme.
Alles wat jy vir jouself hou, onttrek jy uit die samelewing sodat ander dit nie kan gebruik nie, en dit is in wese diefstal. Marx en sy aanhangers het dit gesê in die tyd van die industriële rewolusie. Arbeiders het toe dikwels in gruwelike omstandighede geleef, terwyl die groot kapitaalbesitters in oormatige weelde geleef het. Te midde van hierdie mensonterende toestande het onder die werkersklas ‘n vrugbare voedingsbodem vir die kommunisme ontstaan. Hulle ideaal was dat alles van almal saam sou wees. Hulle het verlang na geïdealiseerde voorstellings van lank gelede, toe onder die ou Germaanse stamme in Europa alle weivelde gemeenskaplike besit was. Dit het haaks gestaan op die Romeinse reg, wat privaatbesit as uitgangspunt geneem het. Ook vandag hier by ons in Suid-Afrika is die ideale van die Marxisme nog springlewendig. En ook hier by ons in Suid-Afrika idealiseer mense soms hulle verlede, asof alle weivelde, alle grond en vruggebruik toe vir almal beskikbaar was.
As ons nou na die agtste gebod kyk en wat die wil van die Here hiermee is, is die eerste wat beklemtoon moet word die feit dat die HERE God ons uittel bo hierdie teenstelling tussen privaatbesit en gemeenskaplike besit. Hy doen dit deur aan ons duidelik te maak dat alles aan Hom behoort. Dink aan Psalm 24, soos ons nounet gesing het: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.” (vers 1)
God het die Eiendomsreg. Hy deel uit aan wie Hy wil en soveel Hy wil. Die verdeling van die land Kanaän onder die twaalf stamme destyds is hiervan ‘n sprekende voorbeeld. Elke familie het ‘n onvervreembare erfdeel ontvang. In wese het dit die HERE se besit gebly, maar sy volk mog daar woon, dit bebou en daarvan leef. Wel moes hulle dit op ‘n verantwoordelike wyse doen. Hulle was naamlik rentmeesters op die landgoed van God. Uit die Skrif is ook duidelik dat daar nie soiets soos ‘n ewigdurende besit van grond bestaan nie.
Soos die Kanaäniete hulle reg op die land verloor het deur hulle lewenswyse, so word die Israeliete ook meermale in die Skrif gewaarsku dat hulle hulle reg om in die beloofde land te woon sal verbeur, as hulle die HERE nie dien volgens sy wil nie.
Die volk het dus slegs in afgeleide sin privaatbesit gehad. Hulle het dit naamlik van die HERE in bruikleen ontvang. Wel bly die woord privaatbesit van toepassing, al is dit ‘n situasie van bruikleen. Wat God aan een persoon toebedeel, is nie die besit van ‘n ander nie. Nabot het op sy regte gestaan toe hy geweier het om sy wingerd aan die koning te verkoop. En al wou hy, hy mog dit nie eers aan Agab verkoop nie, hoe rojaal Agab se bod ook was.
Dit was naamlik familiebesit. Besit as sulks word dus in die Bybel nie afgekeur nie. Van die groot rykdom van Abraham, wat in vandag se terme ‘n multimuljoenêr was, word niks verkeerd gesê nie. Ook was Lydia nie onder verdenking nie, omdat sy ‘n suksesvolle besigheid in die tekstielindustrie gehad het nie. Ryk wees is dus nie gelyk aan ‘n dief wees, soos die kommunisme ons voorhou nie. Wat volgens die Bybel wel belangrik is, is hoe ons aan ons rykdom gekom het, en hoe ons daarmee omgaan. In hierdie verband vind ons in die Skrif baie riglyne en instruksies om te kom tot ‘n regverdige verdeling in die samelewing. Die teenstellings tussen ryk en arm mag nie handuitruk nie. Ons sien dat daar in die Bybel allerlei maatreëls is om skrynende armoede te voorkom. Die armes word in beskerming geneem.
Dink aan instellings soos die sabbats- en jubeljaar. Elke sewende en elke vyftigste jaar. In daardie jare moes daar ‘n landswye skuldkwytskelding plaasvind. Die hele samelewing het die moontlikheid gekry om ‘n nuwe begin te maak.
Hiermee hang saam die baie duidelike veroordeling van die jaag na rykdom.
Dink aan wat ons lees in Jakobus 5: “Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.” Julle het skatte vergader, terwyl dit die laaste dae is. Pleks dat julle julle tyd gebruik het om belangriker dinge te doen! Dus gemeente, om te lewe om ryk te word, om geobsedeerd te wees met rykdom, dit word deur die Skrif afgekeur. Dit is selfs lewensgevaarlik.
Sondag 42 begin by dié vorme van diefstal, wat die owerheid straf. Die owerheid het wat hierdie gebod betref ‘n onmisbare taak in ‘n land. Sy vervul haar amp as dienares van God, as sy die land so regeer dat burgers mekaar se besittings uitlos. Dit kan slegs werk as daar strawwe ingestel is, en ook opgelê word.
Tog het die agtste gebod ‘n nog veel breër reikwydte. Dit gaan nie net oor daardie vorme van diefstal wat die owerheid straf nie. Ook dinge wat buite die radar van die owerheid val, word as diefstal hier aangedui. Ons respekteer ander se besittings, nie net omdat ons bang is vir owerheidstrawwe nie, maar veral omdat ons so die HERE wil dien. Al het ons nie die wetboek van die land oortree nie, nog steeds kan ons ‘n dief wees. Die Kategismus lê die vinger by allerlei streke waardeur mense hulleself verryk ten koste van hulle naaste.
Met geweld byvoorbeeld. Nie net fisies nie, maar ook psigies. Mens kan byvoorbeeld bejaarde familielede, wat kwetsbaar is, onder druk plaas om geld af te staan. Soms word ook geestelike geweld gebruik. In naam van Godsdiens word mense geld afgerokkel. ‘n Groot probleem hier in Afrika met die sogenaamde welvaartsteologie. Verder is daar wat mens kan noem finansiële geweld. Mense met baie kapitaal manipuleer die mark, probeer die minder gegoedes uit te skakel. ‘n Bekende taktiek van die sogenaamde ‘multinationals’.
Behalwe geweld en die mag van die groot kapitaal, is daar ook slinksheid.
Mense kan aan verkeerde optrede so ‘n mooi verduideliking gee, sodat dit die skyn van reg kry. Die Kategismus noem ‘n aantal dinge op die gebied van handeldryf. Ons moet by hierdie voorbeelde onthou dat die Kategismus in die sestiende eeu geskryf is. Valse gewig, el, maat, ware, munt. Vandag kan ons dink aan die ombudsman, en verbruikers-organisasies wat hulle hande vol het met vervolging van produkte, dienste, besighede wat die verbruiker bedrieg. En is dit nie so dat ons ook uit onsself dink dat ons slim is, as ons dit regkry om ‘n motorkar te verkoop vir ‘n prys wat dit glad nie werd is nie?
Die Kategismus noem ook woeker. Buitensporige hoë rente wat opgelê word aan mense wat noodgedwonge geld moet leen. Kortom, enige middel, wat ons – sondige mense – kan uitdink. Werknemers wat so min moontlik werk doen en tog elke maand ‘n salaris trek. Wergewers wat hulle werknemers nie eerlik betaal nie. Sakemense wat ‘n bankrotskap misbruik om hulle skulde nie te betaal nie. Allerlei maniere waarop ons aan die einde van die dag geen respek toon vir die besit wat God aan ‘n ander gegee het nie. Want, dit is die basiese beginsel uit die Skrif: besit is ‘n gawe van God. Hy stel ons as rentmeesters daaroor aan. En daar waar hierdie gebod na letter en gees in praktyk gebring word,vind daar genesing plaas. Genesing van die verhoudings onderling, in families, gemeentes, samelewings. Genesing van ons verhouding ook met die HERE. Christus het dit vir ons moontlik gemaak, Hy wat arm geword het om ons ryk te maak.
2 Omgang met besit as gawe van God
In die agtste gebod handel dit nie net oor hoe ons ons besit in die hande kry nie, maar ook oor hoe ons dit gebruik. Die Kategismus stel twee grense, die uiterstes aan beide kante. Die een grens is gierigheid. As ons dryfveer in die lewe is om so veel moontlik besit bymekaar te skraap. En dit wat ons het, hou ons angsvallig vas. Dit is vir ons moeilik om weg te gee aan ‘n ander. In 1 Timotheüs 6:10 lees ons: “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels”. In 2 Korinthiërs 9:7 lees ons daarenteen: “God het ‘n blymoedige gewer lief”. So dit is die een grens, die een uiterste: gierigheid.
Die ander uiterste is verkwisting. Vir ‘n groot deel groei ons kinders in welvaart op, waar dit gewoon word om kos wat oor is in die asblik te gooi: verkwisting! Waar groot bedrae aan drank en genotmiddele uitgegee word: verkwisting! Mag ons dan nie geniet nie? Ja, ons mag rojaal lewe. Kyk na die skepping om ons heen. Hoe uitbundig God se skeppingswerk is. Die Skepper het – by wyse van spreke – geld nog moeite gespaar. Blomme van allerlei geur en kleur. Bome en vrugte van allerlei soorte. Dieresoorte in duisende. Ons mag geniet van die rykdom van die skepping, wat God aan ons as rentmeesters toevertrou. Solank ons die regte prioriteite het. Daaroor lees ons in 1 Timotheüs 6(:17-19). Daar adviseer Paulus vir Timotheüs soos volg:
“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” As Christus in ons woon, sal ons nooit kan opgaan in die dinge van hierdie wêreld nie. Dit is nie die bedoeling dat ons agter besit aanjaag nie.
Dit is die bedoeling dat ons rentmeesters is van die besit wat God aan ons toevertrou. Dat ons dit bewaar en inspan met die oog op die herskepping van hierdie aarde. So mag ons, deur Christus se genade, medearbeiders wees van God se herskeppingsplan. Ons leef nie vir die besit nie. Ons skakel dit in vir sy herskeppingswerk.
In vraag en antwoord 111 word hierdie punt nog verder positief uitgewerk. Met dit wat God ons gee, mag ons ander dien. In 2 Korinthiërs 9 prys Paulus die offerbereidheid van die gemeente in Macedonië. Ook ons word geroep om ons patroon van gee te toets aan die wet van die liefde. Soos Jesus ons oproep in die Bergrede:
“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Matt 7:12)
Op unieke wyse het Christus ons hierin voorgegaan.
“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword ... Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is” (Fil 2:6-9).
Die Here Jesus het arm geword, terwyl Hy ryk was, met die bedoeling om ons ryk te maak. Hy het nie gewag tot ‘n ander die eerste stap sou sit nie.
Hy het vrywillig opgedaag, om met sy rykdom ons armoede, ja ons diepste ellende, weg te neem. Hy het ons gekoop met sy eie bloed, wat nog kosbaarder is as al die goud en silwer van die wêreld bymekaar.
Nou mag ons in sy spore volg. Ons wat ryk gemaak is in Christus, ons weet nou hoe om aardse besit te relativeer. Ons maak dankbaar dit gebruik om God te dien. Ons geniet van die oorvloed van sy skepping. Ons het geleer om te deel. Want ons het geleer dat ons besit uiteindelik sy besit is. Hy, die Bron van alle goeie gawes.
Amen.
Votum
Seën
Ps 24:1,3
Gebed
Nagmaalsformulier (p.23)
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 146:1
1e tafel: Skriflesing: 1 Konings 21:1-19 & Filippense 2:1-16; Ps 146:2,3
Lofverheffing & Gebed
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 42
Preek
Ps 37:10,11,12,13,25
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 146:4,5
Kollekte
Ps 146:6-8
Seën