Aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-03-10
Teks: 
Rigters 8:27
Preek Inhoud: 

Almal van ons ken wel ‘n voorbeeld van iemand wat goed begin maar sleg geëindig het.  Dit is hartseer, veral as dit oor leiers gaan.  In die Bybel is daar verskeie voorbeelde.  Mens kan dink aan koning Saul, of koning Salomo.

En helaas was dit by Gideon ook die geval.  Rigters beskryf die tragiese einde van ‘n leier wat so goed begin het.

 

Tema: Aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel

 

Rigters 8 begin nog positief.  Oor hoe Gideon ‘n dreigende konflik met die stam Efraïm kon oplos, deur ‘n wyse antwoord te gee.  En hoe Gideon al die oorblyfsels van heidense verset opgeruim het, ook oorkant die Jordaan.  Seba en Salmuna, twee konings van Midian wat ontsnap het.  Oorkant die Jordaan kon hulle hergroepeer.  Dit blyk dat hulle nog steeds ‘n mag van omtrent vyftien duisend man sterk was.  ‘n Potensiële toekomstige gevaar vir Israel.

Maar Gideon en sy driehonderd man het baie moed gehad.  Hulle was dapper verby.  Maar hulle was wel moeg.  Vandaar dat hy, toe hulle verby die dorpe Sukkot en Pnuel kom, vir sy manskappe brood gevra het van die bevolking.

Hierdie twee dorpe se reaksie was egter astrant.  Spottend het hulle gevra:

Is die handpalm van Seba en Salmuna al in u hand, dat ons aan u leër brood moet gee?  Onthou, dit was die Rigtertyd.  Elkeen het gedoen wat goed was in sy eie oë.  Daar was nie veel bereidheid om vir mekaar uit te help nie.  En hierdie twee dorpe se reaksie was dus: Hoekom moet ons betaal om kos te gee vir jou manne?  Wie sê jy gaan die veldslag teen hierdie twee vorste wen?

Die uitdrukking – die handpalm van Seba en Salmuna – verwys na ‘n gewoonte uit daardie tyd.  Wanneer ‘n vyand verslaan is, het die oorwinnaar dikwels al die vyand se koppe afgekap en op ‘n hoop gegooi.  ‘n Ander gewoonte was dat al die hande van die vyand afgekap en op ‘n hoop gegooi is.  Die koning, die aanvoerder se kop en hand is dikwels saamgeneem om tuis te wys, as ‘n bewys dat die vyand verslaan is.  Dus hierdie dorpe, Sukkot en Pnuel, wou eers Seba en Salmuna se handpalms sien, voordat hulle bereid was om te help met kos.  Inderdaad ‘n nie baie broederlike reaksie nie.  Hulle het primêr aan hulle eie belange gedink.  Hulle het waarskynlik ervaring gehad met Seba en Salmuna, twee gedugte bendeleiers uit die woestyn.  Sê nou maar Gideon en sy handjie vol mense delf die onderspit, dan sou hierdie twee Midianiethoofmanne hulle ongetwyfel kom afstraf, as hulle vir Gideon met kos sou gehelp het.

 

Maar op hierdie punt sien ons dan ook ‘n krakie ontstaan in Gideon se onbesproke persoonlikheid.  Gideon se reaksie is nie meer versoenend en samebindend nie.  Gideon is in sy eer gekrenk, en hy reageer bitter.  So dikwels moet ‘n leier kritiek en vernedering en afkraking maar oor sy rug laat afloop soos water van ‘n eend se rug.  So dikwels moet ‘n leier maar die minste wees, ter wille van die groter saak.  Hierdie keer was dit te veel vir Gideon.

En hy reageer aggressief.  Hy dreig met wraak.  Hy vergeet hoeveel geduld die Engel van die HERE destyds met hom gehad het, toe hy ook aan ‘n oorwinning getwyfel het.  Hoe die Engel van die HERE hom geduldig, stap vir stap, met wonders oorreed het.  Maar met sy mede Israeliete het Gideon nou egter geen geduld nie.  Sy nuwe leierskapstyl begin om Israel te verdeel pleks van te heel.

 

Vervolgens behaal Gideon die oorwinning.  Dit het ondertussen geblyk dat hy baie dapper is, en ook militêre insig het.  Hy oorval die vyand onverwags en met ‘n sterk minderheid kry hy dit tog reg om hulle uit te skakel.  Hy.  Dit is opvallend.  Die manier hoe hierdie oorwinning in hoofstuk 8 beskryf word, val die klem veral op Gideon, en nie meer op die feit dat die HERE die oorwinning geskenk het nie, soos dit die geval was in hoofstuk 7.

 

Ons vind hier in hoofstuk 8 ook dat Gideon besig is om aan sy opvolging te werk.  Duidelik dat hy sy oudste seun, Jeter, geoormerk het om hom op te volg.  Om dit vir sy manskappe duidelik te maak, dra hy sy seun op om die vyandige konings, nadat die gevang en saamgeneem is, te dood.  Maar Jeter was nog maar ‘n seun.  Hy het nog nie ongenaakbaarheid in hom gehad, wat die soldatelewe aan ‘n man doen nie.  Dit was uiteraard veral vir Gideon ‘n groot vernedering, wat toe direk weer die hef in hande geneem het en Seba en Salmuna self van kant gemaak het.

 

Die feit dat Gideon na die oorwinning toe vir die dorpe Sukkot en Pnuel ‘n les gaan leer het, was een van die groot dieptepunte in die Rigtertyd.  Sukkot en Pnuel was nie die vyand nie, maar was hulle eie broers.  Nietemin het Gideon hulle soos vyande behandel.  Veral Pnuel het dit ontgeld met tientalle dooies wat geval het.  Dit is wat gebeur as trots en eer by ‘n leier kop toe gaan.

 

En ook die feit dat die volk, die manne van Israel, Gideon na die oorwinning opgeroep het:  Heers oor ons.  U sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.  Dit was ook ‘n dieptepunt.

Al die aandag en eer val hier op Gideon.

Daar word nie meer melding gemaak van die feit dat die HERE die oorwinning gegee het nie.  En volgens Kanaänitiese gewoonte moet Gideon nou die koning word, omdat hy die oorlog gewen het, as ‘n egte heidense ‘warlord’.

 

Uit Gideon se reaksie daarop blyk dat hy self nog nie heeltemal heidens geword het nie.

Vers 23: “Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun wil nie oor julle heers nie, die HERE sal oor julle heers.”

Maar al is Gideon nog nie heeltemal heidens nie, hy is wel sinkretisties.  Dit wil sê, sy denke en optrede is al vermeng met heidense gewoontes.  Hy versoek die manskappe om vir hom van die goud te gee wat hulle op die Midianiete buitgemaak het.  Hy wou daarmee ‘n skouerkleed maak, in Hebreeus genaamd ‘n efod.  Hierdie efod was dit wat die hoëpriester moes dra.  Dit was ‘n ryk versierde skouerkleed, gemaak van gouddraad, amper ‘n soort harnas of pantserkleed.  Daarin was ook die twee klippies, die urim en tummim, waarmee die HERE geraadpleeg kon word.  Want, soos Gideon tereg gesê het, die HERE heers oor Israel, en nie hyself nie.  Hierdie efod het Gideon toe in sy tuisdorp, Ofra, opgestel.

 

Maar die manier waarop daar toe met hierdie skouerkleed omgegaan is, was eintlik nog ‘n dieptepunt in die Rigtertyd.  Op eerste gesig lyk dit goed, lyk dit asof Gideon ‘n instelling uit Moses se wet in ere herstel.  En baie mense het hom hierin gevolg.  Wanneer iemand ‘n groot reputasie gekry het, is mense graag bereid om sy tekortkominge oor die hoof te sien, ja selfs sy foute te prys.

Maar die Rigterskrywer laat geen onduidelikheid nie as hy skryf:

“die hele Israel het dit agternagehoereer, en dit het vir Gideon en sy huis ‘n strik geword” (vers 27).

Die Rigterskrywer gebruik die woord ‘strik’ elders om te verwys na wanneer God se volk in die ban van ander gode geraak het (Rig 2:3).  Ook die Hebreeuse woord wat met “agternagehoereer” vertaal is, dui daarop dat die volk ‘n onwettige verhouding aangegaan het en in die proses owerspel bedryf het, ja van haar wettige man af weggedraai het.  Hierdie ding wat Gideon nou met die efod gedoen het, was nie soos God dit bedoel het nie.  Hierdie was eiewillige godsdiens, oortreding van die tweede gebod.  Die efod het soos ‘n afgodsbeeld geword.  En Gideon was nie die hoëpriester nie, hy was ook nie uit die stam van Levi nie.  Hy, en sy seuns en kleinseuns, is nie deur die HERE aangewys om vir die volk te offer nie.  Ook nie om die HERE vir die volk te raadpleeg nie.

Hierdie hele gedoente herinner ons aan die episode toe Aäron vir die volk ‘n goue kalf gemaak het (Ex 32:2-8).  Hulle het gedink dat hulle die HERE daarmee dien.  Maar die realiteit was dat dit afgodsdiens geword het, wat die volk juis weg van die HERE af gelei het.  Tragies dat Gideon en sy familie verstrik geraak het in hierdie eiewillige afgodsdiens.  Tragies dat hy wat sy ampswerk ook hier in Ofra begin het deur die volk van afgodsdiens te bevry – hy was dit mos wat die altaar van Baäl omgegooi en die heilige boomstam afgekap het – hy Jerubbaäl! – tragies dat hy nou aan die einde van sy ampsperiode juis die volk weer teruglei na die afgodsdiens toe.  ‘n Hartseer voorbeeld van ‘n leier wat goed begin maar sleg geëindig het.

 

Wat was eintlik die onderliggende rede vir hierdie tragiese einde van Gideon se loopbaan?  Ons kry ‘n bietjie duidelikheid hieroor in sy woorde aan Seba en Salmuna.  Voor hy hulle van kant gemaak het, wou hy nog duidelikheid kry oor een ding.

Vers 18: “Wat vir manne was dit wat julle by Tabor gedood het?”

Uit die konings se antwoord het toe geblyk dat dit Gideon se broers was.  Hiervoor wou Gideon hulle dus terugbetaal.  Sy optrede was dus gedrewe deur die begeerte na wraak.  Nou blyk dus dat die hoofrede hoekom Gideon die Jordaan oorgesteek het om hierdie konings nog te agtervolg, nie in die eerste plek was om alle toekomstige gevaar vir God se volk weg te neem nie.  Nou blyk dus dat hy hier veral met sy eie agenda besig was.  Op sig verstaanbaar – hy wou die dood van sy broers in die verlede wreek.  Maar, dit was sy eie agenda, dit was nie die taak wat God hom gegee het nie.  En die feit dat hy so geobsedeer was met sy eie agenda, het sy karakter laat verhard.  Vandaar sy ongenaakbare optrede teen die stede Sukkot en Pnuel.  Dus, hoewel hy daardie twee konings uiteindelik van kant gemaak het, en die gevaar vir Israel weggeneem het – die land kon veertig jaar rus, desnieteenstaande het hierdie ekspedisie van hom uiteindelik God se volk meer kwaad as goed gedoen.  Dit het die volk beskadig en verdeel.  En Gideon het ontaard in ‘n leier wat nie meer na die HERE se wil gevra het nie.  Maar wel self gedink het hy weet wat die HERE wil hê.  Met die kwalike gevolg dat hy toe die volk gelei het op die pad van eiewillige godsdiens.

 

Hierdie geskiedenis moet ons laat nadink, en veral vir hulle wat ‘n leierskapsposisie van die HERE ontvang het.  Hierdie geskiedenis wys vir ons hoe maklik selfs ‘n goeie man sleg kan eindig.  As ‘n leier nie self elke dag sy knie buig voor die hemelse Leier nie, as hy nie elke dag eerbiedig luister na sy Woord nie, as sy daaglikse lewe nie deur gebed gedra word nie, en die daaglikse bede vir vergifnis van sondes nie, dan gaan hy nie standhou nie.

Dan sal die versoekings hom oorweldig.  Die grootste versoeking kom dikwels uit homself, uit sy eie ou mens.  Soos by Gideon, waar sy trots die oorhand geneem het.  Laat elke leier, ook hier in die kerk, elke ampsdraer, ook myself as prediker, laat ons Paulus se woord baie ernstig op onsself toepas:

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1 Kor 10:12)

Elke sonde kan vergewe word.  Maar vir hulle in leiersposisies kan sondes fataal word.  Volgens ons Kerkorde word kerklidmate wat leef in sonde, onder die tug geplaas.  Leef in sonde beteken dat iemand ‘n sonde oor en oor doen.

Maar volgens ons Kerkorde word ampsdraers wat val in bepaalde sondes, onder die tug geplaas.  Die tug oor ampsdraers is strenger, juis vanweë hulle verantwoordelike posisie.  Die gemeente is ekstra kwetsbaar vir ampsdraers wat die verkeerde leiding gee.  So was dit ook by Gideon.  Die volk het na hom opgekyk.  Hulle het hom gevolg.  Maar ongelukkig het hy sy eie agenda begin dryf, en nie na die Here se wil bly vra, soos in sy jong dae nie.  Ook in ons tyd is daar ek weet nie hoe baie leiers, en ampsdraers, wat as hulle ouer word, eiewys word.  Ou broeders in die gemeente wat verhard, wat nie meer sagmoedig is nie, maar onverdraagsaam.  Dinge moet net op hulle manier gebeur, anders is dit verkeerd.  Broeders wat sukkel om te erken dat hulle ook soms fout is.  Broeders, of susters, vir wie dit nie meer oor die saak gaan nie, maar hulle laat hulle lei deur ou frustrasies uit die verlede.  Wat die verlede nie kan laat rus nie, en steeds weer ou koeie ophaal.  So begin die ou sondige mens weer die botoon voer.  Jy mag dalk ‘n argument wen, net soos Gideon die veldslag gewen het.  Maar in die proses maak jy baie stukkend.  Deur Gideon se trots het hy twee stede geruïneer.  Sy leierskap was nie meer ‘n seën vir die volk nie, maar het die volk beskadig.  Pleks dat hy vir hulle ‘n sagte antwoord gegee het, sodat die grimmigheid kon bedaar.  Daarom, as die ou mens nie in bedwang gehou word nie, dan sal hy jou lewe en die hele reputasie wat jy deur al die jare opgebou het, vernietig.  Ja die ou mens sal nie stop totdat dit die hele gemeente ook in die afgrond saamgesleur het nie.  Daarom moet die geestelike stryd voortduur teen ons ou mens, ook as ons al in die bejaardehuis sit.  Ons moet hom elke dag kruisig, tot ons sterfdag toe.

 

En dan is daar ook nog die konstante druk van die wêreld.  Hoeveel predikante en teoloë het met verloop van jare nie geswig voor die druk vanuit die samelewing nie?

Van die teologiese professore by wie ek klas gekry het, het ten minste die helfte ingegee onder die maatskaplike druk van geslagsgelykheid, of die maatskaplike druk van ewolusionisme.  So begin kerke al hoe meer die koers van eiewillige godsdiens vaar.  Nie om dowe neute waarsku die Hebreërskrywer:

“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” (Hebr 13:7)

Hou dus rekening met hoe hulle hulle lewenswandel eindig.  Moenie hulle slaafs navolg nie.  Moenie hulle navolg nie, maar volg hulle geloof na.  Ons is al te maklik geneig om te heg aan ‘n voorganger.  Ons het so gou die neiging om ‘n voorganger op te hemel, of andersom, af te kraak.  Ons moet ons heg aan Christus.  Die voorgangers is slegs ‘n instrument, en so dikwels ‘n gebrekkige instrument, om ons by Christus te bring.  As ons ons aardse voorgangers verafgod, en hulle kom tot ‘n val, dan trek hulle ons saam die afgrond in.

Ons mag die HERE dank vir wat Hy deur Gideon gedoen het, sonder om Gideon op ‘n standbeeld te plaas.

Laat ons eerder, soos die Hebreërskrywer ons oproep, die oog gevestig hou “op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebr 12:2).

Jesus het sy ampsperiode nie net goed begin nie, maar Hy het ook goed geëindig.  Hy het nie toegelaat dat trots of eiewysheid sy Middelaarswerk ruïneer nie.  Hy het nie die grense, die gebooie, wat God daargestel het, oortree nie, al het die satan hoe probeer om dit by Hom reg te kry.  Daarom het God die Vader Hom verhoog en Hom die ereplek aan sy regterhand op die troon gegee!  Vandaaruit regeer Hy.  Hy is die enigste Leier wat ons blindelings kan volg!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 66:2,3

Wet

Ps 66:6,8

Gebed

Skriflesing: Rigters 8:1-28

Ps 78:20,21

Skriflesing: Hebreeërs 11:32-12:3

Ps 72:1

Teks: Rigters 8:27

Preek

Ps 72:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 31:17,19

Seën