Om te kan onderhandel, is ‘n belangrike karaktereienskap.
Sonder onderhandeling sou daar baie meer oorloë op aarde gewees het, baie meer huwelike op die rotse geloop het, baie meer onopgeloste konflikte tussen bure, families en vriende gewees het.
Om te kan onderhandel is onmisbaar in hierdie gebroke wêreld.
Wat onderhandelinge egter laat misluk, is as mense nie kan uitstyg bo eiebelang, trots of selfhandhawing nie.
As ons oor onderhandelinge praat, is daar nog ‘n vraag wat hom opdring.
Mag mens met God onderhandel?
In ons teks ontmoet ons Jefta, wat ‘n bobaas onderhandelaar was.
Van al die Rigters was hy seker die beste onderhandelaar.
Ons het gelees hoe hy onderhandel het met sy volksgenote, met die vyand, en selfs met God!
Tema: Christus leer ons in die Jefta geskiedenis wat volledige vertroue is
- Jefta vertrou op sy onderhandelingstalent en nie op die HERE nie
- Jefta se valse vertroue kom hom duur te staan
- Jefta vertrou op sy onderhandelingstalent en nie op die HERE nie
Die geskiedenis in aanloop tot Jefta se optrede word in Rigters 10 beskryf.
Behalwe vir die reeds bekende refrein, dat die kinders van Israel weer gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE (vers 6), word daar hierdie keer wel veel swaarder woorde gebruik.
Dit was nie net afval om die Baäls en Astarte te dien nie, maar liefs sewe afgode van die omliggende nasies word hier genoem.
Die gevolge was dan ook swaarder.
Israel beland in ‘n knyptang.
Die Ammoniete val hulle uit die ooste aan, en die Filistyne uit die suidweste.
Jefta se optrede as rigter het met die Ammoniete te make.
‘n Paar hoofstukke verder sal ons lees van die rigter Simson se optrede teen die Filistyne.
Hierdie keer is daar ook nie ‘n wonderbaarlike kitsoplossing nie.
Ons weet uit die geskiedenis dat die Filistyne die volk sou bly lastigval tot in die tyd van Dawid toe.
Ja daar hang altyd ‘n pryskaartjie aan afval van die diens aan die HERE.
Die mense van Gilead, oos van die Jordaan, het dit eerste gevoel, toe die Ammoniete hulle begin verpletter en verdruk het (10:8).
Maar met verloop van tyd het die Ammoniete ook die Jordaan oorgesteek en stamme soos Juda, Benjamin en Efraïm op hulle knieë gedwing.
Maar toe die volk hierdie keer in nood na die HERE roep, het hulle ‘n ander antwoord gekry.
Die HERE was nie meer lus om hulle te help nie.
Laat die volk maar gaan hulp soek by die sewe verskillende afode waarvoor hulle Hom ingeruil het.
Die verbond was op die punt om te breek, en daar was geen profeet, priester of middelaar om tussenbeide te tree nie.
In hoofstuk 10 kan ons lees hoe die paniek toegeslaan het, en dat Israel uiteindelik tog hulle vreemde gode weggegooi het.
Toe het God ongeduldig geraak oor hulle moeite.
Ja God se onverklaarbare genade, dit is ‘n sondaar se enigtse hoop.
Jefta verskyn op die toneel as dit vyf voor twaalf is.
Die Ammoniete staan gereed vir die beslissende slag, by Mispa in Gilead, om Israel van die kaart af te vee.
Die leiers van Gilead vertoon egter geen leierskap nie.
Onthou u nog die leiers van Gilead?
Hulle was byvoorbeeld daardie dertig seuns van Jaïr wat op dertig esels gery het.
Rykmanseuntjies wat geen woema gehad het nie.
Noudat die uur van die waarheid aanbreek, is hulle niks werd nie.
Hulle laat roep vir Jefta.
Volgens hoofstuk 11:1 was Jefta ‘n dapper held.
Die Rigterskrywer gee vir ons bietjie agtergrond oor hierdie man.
Omdat hy die seun van ‘n prostituut was, is hy uit Gilead verdryf deur sy familie.
Hy gaan hou hom vervolgens op in die land Tob, ‘n eensame gebied, soort van niemandsland, noordoos van Gilead, waar hy ‘n bende om hom versamel en daar uitgroei tot ‘n onverskrokke vegter.
Dalk het u al gehoor van die plek Crook’s Corner.
Dis hoe die drielandepunt tussen Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe genoem word, in die mees noordoostelike puntjie van wat deesdae die wildtuin is.
Crook’s Corner was ‘n ideale plek vir misdadigers, crooks, om te gaan wegkruip vir die gesag.
Nou in so ‘n tipe gebied het Jefta gaan bly, en daar uitgegroei tot ‘n bendeleier.
Maar noudat die leiers van Gilead desperaat is, sien hulle geen ander uitweg as om die deur hulle veragte Jefta se hulp in te roep.
Jefta is egter ‘n goeie onderhandelaar.
Hy besef dis vir hom ‘n geleentheid, en hy gebruik dit tot sy maksimum voordeel.
Julle het my gehaat en weggejaag.
Waarom soek julle my nou, noudat julle in die probleme is?
Jefta stop nie met onderhandel nie totdat hulle belowe dat hy hoof oor al die mense van Gilead mag word!
En hy kry dit selfs reg dat hulle dit bevestig met ‘n eed in die HERE se Naam!
“Die HERE sal hoorder wees tussen ons.” (11:10)
Eerste prys vir hom!
Al wat Jefta, die verstoteling, van kon gedroom het, dit val nou deur die sameloop van omstandighede in sy skoot.
Hoewel, daar is natuurlik nog die groot veldslag wat voor die boeg lê.
Ook met die vyand toon Jefta homself ‘n bobaas onderhandelaar.
In hoofstuk 11 lees ons ‘n aantal komplekse argumente oor wie die grootste aanspraak op die grond maak.
Eerstens word daar historiese redes gegee: Wie het hierdie grond in die verlede deur oorlog verower?
Tweedens word daar teologiese redes gegee: Aan wie het die betrokke godheid die grond toegeken?
In hierdie argumentasie proe mens ‘n mate van heidense denke by Jefta.
Dit lyk wel of die HERE en die god Kamos op een lyn gestel word.
Jefta argumenteer: as julle in die verlede gewen het, dan was dit duidelik dat Kamos die gebied vir julle gegee het.
Maar omdat Israel in die verlede gewen het, is dit duidelik dat Israel se God dit vir hulle gegee het.
En dan ten slotte gebruik Jefta nog ‘n soort logiese argument, as hy vir die Ammoniete vra:
Hoekom kla julle nou eers dat die grond by julle afgevat is?
As julle regtig ernstig was daaroor, hoekom het julle nie al driehonderd jaar terug gekla nie?
As mens hierdie drievoudige argumentering van Jefta so lees, kry mens nie werklik die indruk dat sy doel daarmee was om ‘n skikking te bereik om sodoende oorlog te vermy nie.
Dit klink eerder as ‘n regverdiging vir die feit dat hy klaar besluit het om oorlog te voer.
En vervolgens roep hy dan die hulp van die HERE in, vers 27: “Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon.”
Hoe sterk en suiwer Jefta se geloof was, is moeilik om te bepaal.
Maar wat wel duidelik is, is dat hy – al was dit sinkretisties tot ‘n mate – tog ‘n vertroue op die HERE gehad het.
Soos die Kategismus sê, niemand van ons is op grond van die waarde van ons geloof vir God aanvaarbaar nie.
En dit het beslis ook vir Jefta gegeld.
Sy geloof was verre van onbesproke.
Tog is daar ‘n vertroue op die HERE.
En feit is dat dit die HERE behaag het om Hom te gebruik.
Soos ons in vers 29 lees: “Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom”.
God het hom inderdaad uitverkies om Israel te verlos.
(Tema: Christus leer ons in die Jefta geskiedenis wat volledige vertroue is
- Jefta vertrou op sy onderhandelingstalent en nie op die HERE nie)
- Jefta se valse vertroue kom hom duur te staan
Maar ons is in vir ‘n skok.
Want wat sien ons, Jefta die bobaas onderhandelaar, begin nou ook met God te onderhandel!
Met die uur van die waarheid op hom, voel hy ineens nie meer so seker nie.
Sal God hom goedgesind wees?
En dan maak Jefta ‘n gelofte.
Ons hoor hom met God onderhandel: “As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deur van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring.” (vers 30-31)
Hierdie gelofte was totaal onnodig.
God het reeds vir Jefta gekies.
Sy Gees het op hom gekom.
Die oorwinning het reeds vasgestaan.
Desnietemin is Jefta onseker, kleingelowig.
Hy besef wat op die spel staan.
As hy die veldslag verloor, is dit in alle opsigte met hom gedaan.
Dit is op of onder.
Onder hierdie geweldige druk val Jefta terug op dit waarin hy die beste was: onderhandel.
Dit wat hom in die verlede al uit die probleme gehelp het, dit probeer hy nou weer.
Al verskil is, en dit is ‘n wesenlike verskil, hierdie keer onderhandel hy met God!
Vir alle praktiese redes was hierdie gelofte niks anders as omkopery nie.
Jefta belowe vir die HERE ‘n brandoffer.
Uit die Hebreeuse teks kan mens aflei dat Jefta alreeds hier aan ‘n mens gedink het, en nie byvoorbeeld aan ‘n dier nie.
Dit maak ook nie sin dat een van sy diere uit sy voordeur hom tegemoet sou kom nie.
Onthou, in daardie tyd het mense nie honde as troeteldiere gehad nie.
As mense diere gehad het, was dit dinge soos bokke of skape of beeste.
Maar soos ek genoem het, uit die Hebreeus blyk dat Jefta van die begin af ‘n mens op die oog gehad het.
Effektiewelik stel hierdie gelofte dus alle mense in sy in lewensgevaar.
Jefta se gelofte is nie impulsief nie.
Nee, dit is ‘n berekende voorstel van ‘n bobaas onderhandelaar, wat hom op hierdie stadium onseker voel.
Uit hierdie optrede van Jefta kom ons iets agter oor sy godsbeeld.
In werklikheid was daar ernstige heidense invloede op sy godsbeeld.
Dat Jefta gedink het die HERE, Jahweh, die lewende Verbondsgod, sou mensoffers op prys stel.
Dat so iets Hom enigsins goedgunstig sou stem.
Bisar om so te dink, in die lig van wat die HERE in sy eie wet hieroor geopenbaar het!
Maar ja, Jefta se kennis van God se wet was waarskynlik minimaal.
Daar in niemandsland waar hy met sy bende gebly het, was daar nie priesters om hulle te onderrig nie.
Die geskiedenis vervolg deur te vermeld dat Jefta toe inderdaad ‘n groot oorwinning behaal het.
Die HERE het die vyand in sy hand gegee.
Maar dit is nie die einde van die verhaal nie.
Jefta se gelofte het sake gekompliseer, en die leser wag nou in spanning af wat sou gebeur.
Vers 34 word vanuit Jefta se oë beskryf.
Toe hy by die huis kom, daar kom sy eie dogter, sy enigste kind, by die deur uit.
Eerste by die deur uit!
Jefta besef onmiddelik dat die vonnis onafwendbaar is, vir homself en vir sy dogter.
Uit sy reaksie blyk egter hoe selfgesentreerd hy was: “Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jy stort my in die ongeluk!” (vers 35)
Jefta is meer bekommerd oor homself as oor haar.
Nou wat daar vervolgens met Jefta se dogter gebeur het, daaroor is al heelwat tussen eksegete gedebatteer.
Dit is daarom belangrik dat mens fokus net op dit wat daar staan, en nie dinge tussen die lyne inlees nie.
Ook is dit belangrik om vanuit die grondteks in die Hebreeus presies te lees wat daar staan.
Ons lees dat sy vir twee maande vra om haar maagedelike staat te gaan beween saam met haar vriendinne.
Jefta het haar toegelaat.
Toe sy terugkom, is al wat ons lees, die feit dat Jefta toe die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek het, en sy het geen man beken nie (vers 39).
Nou ‘n gangbare uitleg wat mens dikwels hoor, is dat Jefta eintlik sy dogter aan die HERE se diens gewy het.
Sê maar vergelykbaar met wat Samuël se ma Hanna met hom gedoen het.
Hierdie uitleg is beïnvloed deur die Roomse denke, dat die hoogste vorm van toewyding aan God is wanneer jy nie trou nie, maar maagd bly.
Mens kan hierdie uitleg egter anachronisties noem.
Dit wil sê, iets uit ‘n later tyd word teruggeprojekteer.
Want laat ons wel wees, in die Rigtertyd was die selibaat onbekend.
Selfs iemand soos Samuël, wat as ‘n soort nasireër aan die HERE gewy is, het nie selibatêr gebly nie.
Ook hy het getrou en kinders gekry.
Dit uitleg dat Jefta se dogter dus ‘n soort non geword het, berus dus nie op wat daar staan nie, maar dit lees gegewens in die teks in.
Nou wat beteken dit dan dat Jefta sy gelofte aan haar voltrek het?
Volgens vers 31 het Jefta belowe om daardie persoon as ‘n brandoffer aan die HERE te bring.
Op grond van wat hier dus staan, is die voor die hand liggende gevolgtrekking dat hy inderdaad sy dogter geoffer het, as ‘n offer verbrand het.
Maar wat vir haar skynbaar die ergste was, was nie om te sterf nie, maar om as ‘n maagd te sterf.
Dit wil sê, sonder om aan ‘n man te behoort het, sonder om ‘n kind te kon gekry het.
Niemand wat haar naam die toekoms in kon dra nie.
Dit is in daardie tyd as baie erg beskou.
Maar, vermeld die Rigterskrywer dan, haar naam het nie in die vergetelheid geraak nie.
Elke jaar, vier dae lank, het dit ‘n soort wegbreek vir Israel se dogters rigting die berge geword, om aan haar terug te dink en te besing.
Die HERE het dit so gelei dat sy, as slagoffer van Jefta se onheilige gelofte, ten minste onthou is.
Dit bring ons terug by Jefta se gelofte.
Want dit was inderdaad ‘n onheilige gelofte.
Uit sy gelofte het sy heidense denke oor God na vore gekom.
Hy, die bobaas onderhandelaar, het gedink dat hy God kon omkoop met so ‘n groot gelofte.
Maar liefs ‘n mens uit sy eie huis!
Dit is dalk goed om weer terug te gaan na die HERE se wet, en daar duidelikheid te kry wat ‘n gelofte eintlik behoort te wees.
Nou as daar een ding duidelik is, dan is dit dat ‘n gelofte altyd ‘n persoonlike saak is.
Nêrens lees ons in die Skrif dat jy vir iemand anders ‘n gelofte kan maak nie.
Dit was ook nie toelaatbaar dat jou gelofte ‘n negatiewe impak op iemand anders sou hê, sê maar dat iemand anders die slagoffer van jou gelofte word nie.
Die Skrif waarsku ons juis daarteen dat jou geloftes aan die einde van die dag ‘n ander negatief benadeel (Num 30).
Jefta se gelofte was onversigtig, dit was ook egoïsties.
Nie vir niks waarsku die Skrif ons om twee keer te dink voor jy ‘n gelofte aflê.
‘n Gelofte mag nie op gespanne voet staan met God se geopenbaarde wil nie.
‘n Gelofte kan jy ook nie vir ‘n ander aflê nie.
Jy mag dit ook nie ten koste van ‘n ander aflê nie.
‘n Ewigdurende gelofte is ‘n innerlike teenstrydigheid.
Ons moet baie versigtig wees om met die HERE te wil onderhandel.
So dikwels is dit die geval dat ons deur ons eie sondigheid, hardkoppigheid en ongehoorsaamheid in ‘n benarde posisie beland.
In so ‘n geval pas nie ‘n gelofte waarin ons belowe om die HERE terug te betaal as Hy ons tog asseblief net wil uitred nie.
In so ‘n geval pas verootmoediging en skuldbelydenis.
So dikwels sien ons in die Rigterboek dat die HERE sy volk tog maar weer uitred, ten spyte van hulle ontrou.
En nog ‘n refrein is dat die HERE van ‘n rigter gebruik maak, wat elke keer self ook so gebrekkig en kleingelowig was.
‘n Modelrigter het nie bestaan nie.
Gideon, Jefta, Simson, hulle optrede was dikwels meer ‘n verleentheid as iets anders.
Die rigterskrywer, geïnspireer deur die Heilige Gees, hemel hulle nie op as volkshelde nie.
Hulle lewens word baie krities beskryf.
So ‘n spieel wat hulle foute en heidense en sondige optrede nie verswyg nie, maar aan die lig laat kom.
‘n Geknakte rietstok (Jes 36:6), om die profeet Jesaja se uitdrukking te gebruik, dit was elkeen van hulle vir die volk.
Moenie op die rigter vertrou nie, vertrou op die HERE.
Vertrou op die enigste betroubare Rigter wat Hy gestuur het, Jesus Christus!
Hy het nie met die Vader onderhandel nie, maar het gebid: laat U wil geskied.
Sy gelofte-offer op Golgota het niemand beskadig nie.
Hy het nie, soos Jefta, ‘n ander die dood ingejaag nie.
Maar Hy het Homself opgeoffer om ons te red!
Wat ‘n genade!
Wat ‘n toewyding!
Geliefde broer, suster, het jy al ooit ‘n gelofte vir die HERE gemaak?
Watter soort gelofte was dit?
Miskien was jou kind baie siek, en het jy vir die HERE belowe dat as hy beter word, jy ‘n ekstra geldbedrag in die kollekte sou gooi?
Miskien was jy bang jy gaan jou eksamens druip, en het jy die gelofte gedoen dat as die HERE jou deurhelp, jy voortaan die Bybelstudies sal begin bywoon?
Miskien wag jy op die uitslag van ‘n mediese ondersoek, en belowe jy dat jy iets ekstras vir die HERE sal doen of gee as die uitslag positief is?
Miskien belowe jy vir die HERE dat jy sal ophou rook, as die HERE jou spesifieke wens vervul.
Miskien wil jy graag ‘n kind hê, maar sukkel jy om kinders te kry, en jy begin al hoe meer nadink oor of dit ‘n moontlikheid is om ‘n gelofte vir die HERE af te lê, waardeur jou kans om kinders te kry, vergroot word?
Is hierdie voorbeelde vir u herkenbaar, gemeente?
Daar kan seker nog heelwat voorbeelde toegevoeg word.
Maar waar dit oor gaan, is die vraag: wat is ‘n gelofte?
En in hoeverre mag mens met die HERE onderhandel?
As jy ‘n goeie onderhandelaar hier op aarde is, as jy ‘n talent het om mense na jou hand te sit, gee dit jou ook ‘n groter kans by God?
Die geskiedenis van Jefta leer ons dat sy skrander onderhandelingstaktiek hom duur te staan gekom het.
Juis sy sterkste punt het hom tot ‘n val gebring.
As rigter het Jefta uiteindelik teleurgestel.
Hoe is jou beeld van God?
Is dit ook soos Jefta s’n?
Dink jy jy kan met geloftes en goeie werke vir God iets terugdoen?
Christus se Woord bevry ons van so ‘n Godsbeeld.
Wat ‘n voorreg om die hemelse Vader deur sy Woord te mag leer ken!
Hy het geen behae in brandoffers en slagoffers nie, maar in gehoorsaamheid aan sy Woord.
En soos ek reeds genoem het, die Skrif waarsku ons ook teen die doen van onversigtige of onverstandige of ongeoorloofde geloftes.
Laat ons allereers begin om te lewe volgens die geopenbaarde wil van God.
Laat ons nie geloftes doen wat daarteen indruis nie.
As ek belowe dat ek voortaan Bybelstudie toe sal gaan, sodra ek my eksamens deurkom, dan is ek op ‘n sondige manier besig om met God te onderhandel.
Want God se geopenbaarde wil het dit reeds aan my duidelik gemaak dat ek Bybelstudie toe moet gaan, of ek nou slaag of nie.
En as ek dink dat ek my kans vergroot om ‘n kind te kry as ek ‘n gelofte aflê, grens ook aan omkopery.
Het die HERE ons nie beveel om alles van Hom in ons gebed te vra nie, en dat Hy sal skenk dit wat Hy vir ons die beste ag?
En as jy beloof om vir die HERE iets ekstras te doen as Hy sorg dat die mediese ondersoek positief is, besef jy wel dat jou hele lewe in elk geval diens aan die HERE moet wees?
En as jy beloof om iets ekstras vir die HERE te gee, besef jy wel dat alles in elk geval aan die HERE behoort?
Aan die einde van die dag moet ons doel met ‘n gelofte nie wees om God daardeur te verander nie.
Ons doel moet wees om onsself te verander.
Om onsself nog meer aan te spoor tot gehoorsame diens aan die HERE.
Christus leer ons in hierdie Jefta geskiedenis wat volledige vertroue is.
In hierdie week van voorbereiding op die viering van die nagmaal mag ons hierby stilstaan.
Hoe is jou verhouding met die HERE?
Kyk na sy Seun, Christus.
Hy het alles gedoen.
As jy in Hom ingelyf is, sal God in elk geval alles vir jou ten goede laat uitwerk.
Met geloftes hoef jy Hom nie in beweging te bring nie.
Voel jy, ervaar jy dit dalk te min?
Moenie op jou eie gevoel fokus nie.
Moenie jouself afvra of jy Christus wel genoeg in jou lewe voel nie.
Maar doen wat Christus jou opdra.
Gebruik sy genademiddele.
In die gehoorsame stap van die pad wat Hy wys, sal Hy ook op sy tyd die geloofservaring skenk.
Maar as jy en jou kinders besig is met eiewillige godsdiens, wêreldgelykvormige godsdiens, as julle julle eie lyn trek en nie deur Christus of sy kerk wil laat voorskryf nie, moenie verbaas wees nie as die HERE se verbondsstraf jou deel word, net soos by sy volk destyds.
Vir ons aan wie Christus geopenbaar en gepredik is, is die konsekwensies net nog groter, soos die Hebreërskrywer ons waarsku:
“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het--om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebr 6:4-6)
Laat ons ligloop om met die HERE te onderhandel.
Christus leer ons in die Jefta geskiedenis wat volledige vertroue is.
Werp jouself in sy Vaderarms sonder om vrae te vra.
Hy sal sorg.
Berus daarin.
Salig is elkeen wat bewe voor God, voor sy Gesalfde, voor sy Woord.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 116:7,8
Wet
Ps 65:1,2
Gebed
Skriflesing: Rigters 11:1-28
Ps 56:3,4
Teks: Rigters 11:29-40
Preek
Ps 103:2,3
Gebed
Kollekte
Ps 4:3,4
Seën