Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 51
In elke kerkdiens hoor ons die naam van die Here Jesus.
Hy was bereid om vir ons sondes aan die kruis te hang.
Jou sondes wil Hy ook vergewe.
Maar as jy nie vra vir vergewing nie, kry jy dit ook nie.
Daarom leer die Here Jesus ons in sy volmaakte gebed dat ons dit van die Vader moet vra.
En as ons dit vra, dan het dit ook ‘n implikasie.
Dit leer Jesus ons ook in die volmaakte gebed.
Dink aan die gelykenis wat ons gelees het.
‘n Dienskneg moes baie geld aan sy koning betaal.
Maar hy het die geld nie gehad nie.
Die koning het op die punt gestaan om sy vrou en kinders te verkoop.
Maar in reaksie op die dienskneg se gesoebat het hy medelyde gekry.
Die geld is hom toe kwytgeskeld!
Die res van die verhaal is ‘n antiklimaks.
Die opgewonde dienskneg ontmoet ‘n rukkie later ‘n mededienskneg.
Teenoor hom het hy egter geen medelyde gehad nie.
En omdat daardie mededienskneg hom ‘n klein bedrag geskuld het, het hy nie gerus tot daardie mededienskneg in die gevangenis was nie.
Toe die koning dit ter ore kom, het dit hom natuurlik baie gegrief.
Hy het die dienskneg so baie kwytgeskeld.
Kon hy sy mededienskneg dan nie net ‘n bietjie kwytskeld nie?
Met hierdie gelykenis leer die Here Jesus ons dat as jou eie sondes vergewe word, jy ook hulle moet vergewe vir wie jy kwaad is.
En wat is so mooi?
As jy die Here vra om jou daarby te help, dan sal jy dit ook regkry.
Tegelyk mag jy weet dat jou sondes ook om Christus’ wil vergewe is.
Tema: In die bede om vergewing skyn die bevrydende lig van die Evangelie
1 Jy is seker van die vergewing
2 Jou lewe verander deur die vergewing
1 Jy is seker van die vergewing
Soos u weet, is daar ‘n groot verskeidenheid aan godsdienste in die wêreld.
Die meeste van ons ontmoet op ‘n daaglikse basis mense van ander godsdienste: moslims, hindus, boeddhiste, Afrika tradisionele godsdienste, ensovoorts.
Nou is daar min dinge waar die verskil tussen godsdienste so duidelik na vore kom as by die vyfde bede.
Hier staan die een godsdiens van vergewing teenoor alle ander godsdienste van pligte.
In die vyfde bede ontmoet ons die kern van die Evangelie.
Nêrens skyn die lig van ons goeie en barmhartige God so helder nie as in die leer oor die vergewing van sondes.
In die Westerse wêreld is daar egter ‘n proses gaande dat hierdie lig al hoe flouer begin brand.
Dit is nie die eerste keer wat dit gebeur in lande waar vir generasies lank die rykdom van die Evangelie gesmaak het nie.
In die Ou Testament het dit ook al gebeur dat God se volk, wat onder sy seën ryk en voorspoedig geword het, geestelik lui en ongeïnteresseerd geraak het.
Die HERE gebruik ‘n koosnaam vir sy volk, Jesurun, as Hy sê:
“Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop--jy het vet geword, dik geword, spekvet geword--en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.” (Deut 32:15)
Ook in die tyd wat aan die Reformasie voorafgegaan het, het die felle lig van die Evangelie al hoe flouer in die kerk begin skyn.
Die boodskap van onvoorwaardelike vergewing het in die Middeleeue ‘n dik laag stof opgekry.
Dit is ingeruil vir die leer van die goeie werke, die leer van die vaevuur, die gebruik van die aflaathandel.
Die Heilige Gees het mense soos Marten Luther, Johannes Calvyn en meer geskenk om die lig van die Evangelie weer met krag in die kerk te laat deurbreek.
Onvoorwaardelike vergewing van skuld vir sondaars!
Regverdiging van die sondaar, heeltemal gratis!
Sekerheid van die ewige lewe, vir elkeen wat in vertroue op Christus sterf.
In die Roomse kerk gebeur dit soms dat mense salig verklaar word.
Na jare van ondersoek gebeur dit soms dat ‘n oorlede pous salig verklaar word.
Dit het ook met iemand soos moeder Teresa gebeur.
Sy is, volgens Roomse begrippe, in ‘n rekordtyd salig verklaar.
Die kommissie wat haar lewe ondersoek het, het binne enkele jare tot die slotsom gekom dat sy salig verklaar kon word.
Binnne minder as vyf jaar na haar afsterwe het die pous amptelik verklaar dat sy salig is.
Toe ek dit hoor, het ek net opnuut weer besef, gemeente, hoe oneindig veel ryker ons is as die mense in die Roomse kerk, of van welke ander godsdiens ook.
Nie omdat ons uit onsself beter is nie.
Maar omdat ons, danksy die Reformasie, weer die kragtige sonstrale van die Evangelie in ons lewe voel.
Want, vergeleke met ons, het moeder Teresa se saligverklaring eintlik baie lank geduur.
Danksy die Reformasie het ons weer nuwe sig gekry op vergewing, en op saligheid.
Ons bely in Sondag 22 dat jy as gelowige, na afsterwe, dadelik in die hemelse heerlikheid opgeneem word.
Selfs al het ons by benadering nog nie soveel goeie werke gedoen as wat moeder Teresa op aarde gedoen het nie.
By die oomblik van sterwe word ons dadelik opgeneem in hemelse heerlikheid.
Hoekom?
Omdat ons salig word puur en alleen op grond van die verdienste van Christus.
Onmiddelike hemelse heerlikheid was daar vir die moordenaar aan die kruis.
Direkte hemelse heerlikheid is daar vir jou en my, ons onverbeterlike sondaars.
Dit is, geliefde gemeente, waaroor Sondag 51 handel.
Onvoorwaardelike en onmiddelike vergewing van sondes.
Dit mag ons elke dag van ons hemelse Vader vra.
Vra nie in onsekerheid nie, maar in sekerheid.
Omdat ons bid in die naam van Jesus Christus.
Omdat die Vader sy verdienste agter ons naam skryf.
‘n Helder lig, ‘n helder stralebaan, wat bevrydend in ons lewe skyn!
Ja die bevryding mag ons ervaar, elke keer as ons hierdie bede uitspreek:
Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie. Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind, dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.
Dit bring ons by die tweede punt.
(Tema: In die bede om vergewing skyn die bevrydende lig van die Evangelie
1 Jy is seker van die vergewing)
2 Jou lewe verander deur die vergewing
Die indruk kan by ons opkom dat die vergewing wat ons van God kry, afhang van die vraag of ons ons naaste wel vergewe.
Dit is nie so nie.
Dis nie soos Sondag 51 hierdie bede verduidelik nie.
Ons lees in Sondag 51: Ons vind hierdie bewys van u genade in ons, dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.
God se vergewing is dus onvoorwaardelik.
Wel is dit so dat die vryheid waarin God ons plaas, ‘n radikale invloed op ons lewe het.
Ons kan gewoon nie meer dieselfde bly nie.
Ons kan nie meer ons ou mense bly nie.
Dit beteken outomaties dat ons houding teenoor ons naaste radikaal verander.
En, sê hierdie bede, as’t ware in die teenoorgestelde rigting redenerend, uit hierdie vrug van God se vergewing, die vrug naamlik dat jy die bereidheid het om ook jou naaste te vergewe, daaruit kan jy dus ook weer aflei dat God jou regtig vergewe het.
Want as Hy jou nie regtig vergewe het nie, dan sou jy ook nie die vermoë gehad het om jou naaste te vergewe nie.
Ons ervaar God se vergewing in ons lewe, en daardie onbeskryflike mooi ervaring laat ons ook deurstroom na ander toe.
Of van die ander kant af besien:
Ons kan die vergewing van ons sondes deur God nie ervaar nie, as ons nie bereid is om sy vergewing ook na ander te laat deurstroom nie.
Alle deure wat jy toegesluit het rigting ander mense, bars oop as die vloedgolf van God se genade in jou lewe binnestroom.
Dit kan gewoon nie anders nie.
Want dit is wat Hy van ons vra.
Dat ons ons skuldenare net so vergewe soos Hy ons vergewe.
As ons dit nie doen nie, dan lewe daar nog steeds wrok en bitterheid in ons hart.
Dan is daar nog ‘n verstopping binne in ons.
Dan is nie net ons verhouding met ander nie, maar ook ons verhouding met die hemelse Vader, versteur.
Vandaar dat daar in hierdie bede in een asem gepraat word oor vergewing ontvang en vergewing skenk.
God se genade is ‘n rivier.
Dit moet bly stroom.
Jy kan nie in jou eie lewe ‘n damwal bou, sodat die rivier net jou eie lewe laat volloop nie.
As dit gebeur, kies die rivier ‘n ander weg.
Hierdie rivier kan jy nie net vir jouself hou nie.
Die rivier van genade kan wel deur jou plaas, deur jou lewe heenstroom, maar dit behoort nie net aan jou nie.
God vra vir jou:
Wat doen jy met die vergewing, wat Ek skenk?
Stroom dit ook verder?
Soos die koning wat sy dienskneg in die posisie geplaas het om sy mededienskneg maklik te kon vergewe.
Hy het nie meer die druk agter hom gehad om ‘n geweldige groot bedrag vir die koning terug te betaal nie.
Dit het hom die ruimte gegee, in staat gestel, om nou ook toeskietlik teenoor sy mededienskneg te wees.
Maar as ons dan moet erken, dat dit nie so is nie, dan sal Hy op den deur die sluise na jou lewe ook weer toemaak, soos die koning met sy dienskneg oplaas gedoen het.
Omdat jou sluise na ander toebly.
In plaas daarvan dat Hy ons daaglikse skulde sal vergewe, sal Hy ons dan kasty, as ons in ons liefdelose houding teenoor ons skuldenare volhard.
Hy kasty ons as ‘n Vader.
As ‘n Vader sy kinders kasty, bly hulle wel sy kinders.
So gemeente, as ons nou weet, dat Hy van ons vra om sy vergewing te laat deurstroom, hoe durf ons nog tot Hom te nader, as ons die sluise na ons naaste toehou?
Maar as ons die sluise oopgemaak het, as ons van harte bereid is om ook vergewingsgesindheid aan die dag te lê, dan mag ons met vrymoedigheid na Hom kom en vra: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
Die Kategismus noem ons: arme sondaars.
Dit wil sê: Ons besit niks nie. Ons is in onsself arm. Ons is ellendig.
Maar in Christus is ons ryk, onnoemlik ryk.
Ons is dus arm en ryk tegelykertyd.
Onheilig en heilig tegelykertyd.
Soos Luther in die tyd van die Reformasie dit beskryf het:
Simul justus et peccator.
Dit beteken: Sondaar en regverdige op dieselfde oomblik.
Wat ons sondaar-wees betref, is daar voortdurend sprake van misdade en boosheid wat ons nog aankleef.
Dit is nog altyd in ons, sê Sondag 51.
Deur die krag van God se genade gee ons egter nie daaraan toe nie.
Ons kom daarteen in opstand.
Deur God se genade mag ons ook weet, dat Hy dit alles ons ter wille van die bloed van Christus nie toereken nie.
Dit is egter nooit iets wat vanselfsprekend word nie.
Gelet op ons daaglikse skuld, ons daaglikse misdade en boosheid, bly dit elke dag ‘n wesenlike gebeurtenis, naamlik om te pleit op die bloed van Christus.
En dit mag ons dan ook ontvang.
Die bloed van Christus tot wegneming van ons skuld.
Sy bloed, sy genade, stroom jou lewe binne.
En as jy agterkom dat jy iemand wat jou verontreg het en wat jou miskien baie leed aangedoen het, regtig kan vergewe, dit wil sê, ‘n vergewingsgesindheid teenoor daardie persoon kan uitstraal, dit wil sê dat jy wrok en bitterheid kwytgeraak het, dan is dit onmiskenbaar ‘n vrug van die werk van die Heilige Gees.
Of, soos Sondag 51 dit noem: ‘n bewys van God se genade.
Hierdie bewys voel jy, jy beleef dit.
Jy kom agter dat jy oor obstakels heen kan kom.
Jy kom agter dat jou negatiewe gevoelens omtrent ‘n ander persoon verander.
Jy begin met ander oë te kyk na iemand anders.
By wyse van spreke met die oë van die Here Jesus.
Jy voel vergewingsgesindheid.
Met ander woorde: die sluis staan oop.
Die deure gaan oop.
Die rivier van genade vloei verder.
Weet u, gemeente, wat kenmerkend is vir die Satan?
Dit is wat ons in Sagaria 3 gelees het.
Hy is onophoudelik besig om te beskuldig en aan te kla.
Om met sy vinger te wys.
Dit is ook kenmerkend vir iemand wat die lig van die Evangelie nog nie ontvang het nie.
Om na ander met sy vinger te wys.
Gelukkig het God tussenbeide gekom en paal en perk gestel aan Satan se optrede.
Hy het tussenbeide getree en dit opgeneem vir die hoëpriester Josua.
Hy het self vir hom skoon nuwe klere gegee.
Dit was nie meer nodig dat Josua sy amp moes neerlê nie.
Hy mog sy ampsdiens bly vervul.
En toe die Here Jesus sy lewe gegee het, sy bloed laat vloei het aan die kruis,
toe het God die Satan, die aanklaer van beroep, finaal uit die hemel verban.
Al sy beskuldigings wou God nou nie meer hoor nie.
Want God het klaar ‘n plan gemaak.
Sy Seun Christus het nou klaar betaal.
Daar was nou geen rede meer om na die beskuldigings te luister nie.
As God ons vryspreek, wie sal ons dan nog kan beskuldig (Rom 8)?
Ons word opgeroep om Christus se navolgers te wees.
God het ons toringhoë skuld vergeef.
Hoe kan ons dan nog met ons vinger beskuldigend na ‘n ander wys, wat ons iets onbenulligs skuld?
Beskulding, aankla, al maar kritiseer – dit is Satan se werk.
Christus het egter gekom.
Laat die rivier van genade nou deurstroom.
In teenstelling tot die dienskneg uit die gelykenis, kry ons die krag om oor die bietjie onreg wat ons aangedoen is, heen te stap.
Terwyl ons terugdink aan al die onreg wat Christus ons nooit meer wil toereken nie.
Wat ‘n heerlike besef!
Wat ‘n lewensveranderende sekerheid!
So ervaar ons die bevrydende lig van die Evangelie.
Ja in die vyfde bede skyn die bevrydende lig van die Evangelie.
Daar is baie godsdienste op aarde.
Godsdienste kan nie vrede op aarde bring nie.
Godsdienste is dikwels oorsaak vir onmin en oorlog op aarde.
Maar die Evangelie is nie ‘n godsdiens in die aardse sin van die woord nie.
Die Evangelie begin met die goeie nuus van vergewing.
Sekerheid van vergewing.
En soos hierdie rivier van vergewing jou lewe begin binnestroom, verander dit jou hart, jou gesindheid.
En hierdie rivier sal deurstroom, dit sal die sluise oopmaak, die sluise van vergewing na jou naaste toe.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 25:1-3
Gebed
Skriflesing: Sagaria 3
Ps 25:5,6
Skriflesing: Mattheüs 18:21-35
Ps 25:8-10
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 51
Preek
Ps 130:1-4 (2e ber.)
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 86:3,5,6,8
Seën