Christus leer ons lofprys en vertrou as afsluiting van ons gebed

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-06-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 52, 128-129
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 128-129

 

Een van die eerste woordjies wat ‘n baba leer, behalwe pappa en mamma, is: amen.

Ten minste, in ‘n gelowige gesin, waar die Bybel elke dag oopgaan, waar daar daagliks gebid word.

Vir ‘n gedoopte kind is dit dus net so vanselfsprekend dat daar amen gesê word, as wat daar kos op tafel staan.

Wie nie amen gesê het nie, kry ook nie kos nie.

 

Ons weet as volwassenes dat dit ‘n bietjie ingewikkelder is.

Daar is baie mense op hierdie aarde wat nie bid nie en wat tog kos kry.

Terselfdertyd besef ons as gelowiges terdeë dat ons van God afhanklik is, as die enigste Bron van alle goeie gawes.

As volwassenes weet ons dat daar heelwat tussenstadiums is tussen jou bord kos en God as die Gewer.

Daar is iemand wat die kos gaargemaak en voorberei het in die kombuis.

Daar is iemand wat die kos in die supermark gekoop het.

Daar is iemand wat die kos vanaf die fabriek na die supermark vervoer het.

Die fabriek het die grondstowwe van die boere gekry.

Die boere het die kos - koring, mielies, aartappels of wat ook al - geoes van die land.

Op die land het die kos gegroei danksy reën en son en vrugbare grond.

Maar, hoewel daar heelwat tussenstadiums is, bly dit tog 100% waar dat jou bord kos van God af kom.

En is dit 100% waar en reg as ouers hulle klein kinders leer om eers te bid en amen te sê, voordat hulle mag begin eet.

Uiteindelik, maak nie saak hoeveel tussenstappe daar is nie, kom alles tog van God af.

Dis die Here wat in sy voorsienigheid die wêreld so regeer dat alles kan leef.

Hoe eenvoudig ook, ‘n kinderlike gebed soos: Here, dankie vir hierdie kos, Amen is uit en uit die waarheid.

 

Tema: Christus leer ons lofprys en vertrou as afsluiting van ons gebed

1 Lofprysing

2 Vertroue

 

1 Lofprysing

Ons het gekom by die laaste preek oor die Onse Vader, en tegelyk die laaste preek voorlopig oor die Kategismus.

Ek begin deur net weer te wys op die opbou, die struktuur, van die Onse Vader.

Hierdie gebed het begin met die aanhef: Onse Vader ...

Daarmee het Christus ons geleer wie God vir ons is.

Daarna het gevolg: wat in die hemel is.

Dit het Christus ons geleer om ons te herinner aan God se almag en grootheid.

Vervolgens het die drie bedes aan die orde gekom wat primêr op die Here gerig is:

  • laat u Naam geheilig word;
  • laat u koninkryk kom;
  • laat u wil geskied.

Daarna het die volgende drie bedes gekom, gerig op ons:

  • gee ons vandag ons daaglikse brood;
  • vergeef ons ons skulde;
  • en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Daarna kom ons by die doksologie, waarna ons vanaand kyk.

Dit is ‘n deftige woord vir die einde van die Onse Vader.

Doksologie beteken lofprysing.

Die Onse Vader eindig met lofprysing: Want aan U behoort die koninkryk, en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid.

Mens kan dus sê, as jy na die opbou, die struktuur, van hierdie gebed kyk, dat dit begin en eindig met lof aan God.

 

Ons gaan nou kyk, wat met elke woord in hierdie lofprysing bedoel word.

Eerstens: aan U behoort die koninkryk.

Dit klink op eerste gehoor vreemd.

Want ons het in die tweede bede gebid: Laat u koninkryk kom.

Is dit dan reg om nou te sê dat die koninkryk al aan God behoort?

Moet dit dan nie nog kom nie?

By die tweede bede het ek destyds verduidelik, gemeente, dat die volle verwerkliking van God se koninkryk nog moet kom.

Dit sal wees op die dag as elke knie voor Hom sal buig en elkeen Hom as Here sal erken.

Ons dink dan aan die koms van die nuwe hemel en aarde.

Tog neem dit nie weg dat vandag se wêreld, met al sy gebrokenheid en opstand, wel deeglik aan God behoort.

Hy is Koning, vandag ook al.

Die Kategismus sê: U is ons Koning en het alles in u mag.

Daarom is hierdie lofprysing in die kol.

Ons kan dink aan die uitspraak in Psalm 103:

“Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (vers 19)

 

Dan die woord: Aan U behoort die krag.

Mens kan wel koning wees, maar as jy geen krag of mag het nie, help dit niks.

Dit gebeur soms dat daar in ‘n land ‘n opstand is, en dat die koning na die buiteland moet vlug.

Dat hy in ‘n vreemde land in asiel, as vlugteling, moet lewe.

Dan het hy geen krag of invloed in sy eie land nie.

By die Here is dit dus anders.

En in ons lofprysing gee ons blyk daarvan.

Dit alles vra ons van U, omdat U ons alles wat goed is wil en kan gee.

U het naamlik alle dinge in u mag.

‘n Geweldige gerusstelling is dit.

Ek dink in hierdie verband aan die woorde van die Here Jesus in Mattheüs 10: 28:

“En moenie vreees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.”

Ek dink ook aan die pragtige psalm wat ons gelees het.

Hoe indrukwekkend kom God se krag nie daarin na vore nie!

Kyk vers 6: “Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.”

Sien ook vers 11: “Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.”

En vers 13: “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.”

Soos ‘n kind rotsvas oortuig is dat die krag van sy pa hom altyd sal beskerm.

En dan dink ek ook nog aan die kontras wat ons in verse 15-17 vind.

Die kontras tussen ons swakheid en God se krag:

“Die mens – soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders.”

God se krag uit en uit!

Hy het krag omdat Hy ewig is.

Hy het krag omdat Hy goed kan doen, ja goedertierenheid – die oortreffende trap van goed.

Hy het krag omdat Hy reg kan laat geskied – geregtigheid!

 

En dan kom ons by God se heerlikheid: aan U behoort ook die heerlikheid.

Die woordjie heerlik gebruik ons meestal as die kos lekker gesmaak het.

Of ons sê dalk: Dit was ‘n heerlike dag.

Maar wat beteken eintlik die heerlikheid van die HERE?

Wat beteken dit dat sy Naam heerlik is?

Die Hebreeuse woord vir heerlik kan mens ook vertaal as gewigtig.

Iemand wat gewigtig is, is baie belangrik.

So kan mens sê dat die HERE gewigtig is.

Hy is indrukwekkend.

Hy het ‘n ontsettende hoë posisie.

Die heerlikheid van die HERE het duidelik geword by sy verskyning aan die volk Israel by die berg Sinaï.

Daardie verskyning was asemrowend:

Storm, vuur, wolke, weerligstrale, donderslae, gedruis.

Om die waarheid te sê: Die mense kon die aanblik van God se heerlikheid nie uithou nie, so indrukwekkend was dit.

 

Die heerlikheid van die HERE sien ons ook terug in Psalm 103.

Ons lees daar dat die HERE ‘n hele leër van engele het om sy bevele uit te voer.

Engele, dit is nie vlieënde babas, soos hulle soms uitgebeeld word nie.

Maar hulle is soos vers 20 sê:

“kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!”

Wanneer jy ‘n leër engele sou sien, sou jy diep onder die indruk kom van God se heerlikheid!

En dan bly dit nie net by die engele nie, hoeveel hulle ook is.

Die oproep klink verder in vers 21:

“Loof die HERE, al sy leërskare”!

En vers 22: “Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy!”

As jy dit insien, dat engele, skepsele, alle dinge in die heelal deur God geskape is met die doel om Hom te loof, dan raak mens diep onder die indruk.

Diep onder die indruk van sy heerlikheid, sy gewigtigheid.

Dan kan jy nie anders as om self ook voor Hom te kniel nie.

Daartoe roep die laaste sin van Psalm 103 ons op:

“Loof die HERE, o my siel!”

Dan kan mens maar net uitroep: aan U behoort al die heerlikheid!

 

Dit is daarom goed dat ons elke dag die Onse Vader ‘n keer bid, ook dus hierdie lofprysing.

Want elke dag leef ons in God se koninkryk.

Elke dag word ons gedra deur God se krag.

En elke dag kom ons in aanraking met sy heerlikheid.

 

(Tema: Christus leer ons lofprys en vertrou as afsluiting van ons gebed

1 Lofprysing)

 

2 Vertroue

In die inleiding het ek al verwys na die woord amen.

Een van die eerste woordjies wat ‘n kind in ‘n gelowige gesin leer.

Amen is een van die bekendste woorde in Afrikaans.

Maar oorspronklik was dit ‘n Hebreeuse woord.

Dit is ‘n leenwoord, uit Hebreeus, of soos dit deftig heet: ‘n hebraïsme.

Amen beteken oorspronklik in Hebreeus: waar en seker.

Die persoon wat dit uitspreek, wil daarmee te kenne gee: ek erken die volstrekte geldigheid en waarheid van dit wat gesê is.

As jy dus die Onse Vader gebid het, en jy sê amen, dan erken jy dus die waarheid daarvan.

Jy het die gebed nie net uit sleur gebid nie, maar jy bedoel dit.

Dit is waar en seker.

Jy erken dit is waar.

 

Nou is dit ‘n hele mond vol.

Durf jy dit wel te sê, volmondig iets te beaam?

In die postmoderne tyd waarin ons lewe, waarin niemand meer in ‘n enkele waarheid wil glo nie, klink amen baie stellig.

Hoe kan mens so seker wees?

Hoe kan mens so oortuig van iets wees?

Vandag se tydsgees lê baie klem op outentisiteit, dat jy eg moet wees.

Jy moet jouself wees, jy moet eg wees.

En as jy aan iets twyfel, dan is jy juis eg as jy daarvoor uitkom.

Hoe meer mense twyfel, hoe egter, hoe outentieker lyk hulle.

In so ‘n tydsgees het die woordjie amen nie eintlik ‘n plek nie.

Wie durf nog op iets amen te sê?

Dat dit waar en seker is?

Baie ongelowige mense het juis die persepsie dat gelowige mense oneg is.

Omdat hulle maak asof hulle so seker van alles is.

Ongelowiges kies lewers om ‘eg’ te bly as om hulle gevoel geweld aan te doen.

 

Maar, geliefdes, hierdie denkwyse van ons tyd is ‘n jammerlike vergissing.

En hoe triest is dit dat mense juis daarom nie meer in die onwankelbare waarheid van die Skrif wil glo nie.

En die vergissing lê veral in daardie woordjie gevoel.

Want die oomblik as ‘n mens op sy gevoel afgaan, dan gaan hy inderdaad nooi sekerheid kry nie!

Wie na sy gevoel luister, word nooit seker nie.

Op hierdie punt is daar ook geen enkele verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige nie.

Die gevoel van elke mens is labiel, veranderlik.

Vastigheid vind ‘n mens nooit in sy gevoel nie.

Dit is ook nie wat dit beteken om te glo nie.

Om te glo is nie om een of ander gevoel te hê nie.

Wanneer jy byvoorbeeld amen sê nadat jy die Onse Vader gebid het, sê jy dit nie omdat jy lekker voel nie, of omdat jy in jou hart voel dat God na jou gaan luister nie.

As dit so was, as amen ‘n uitdrukking van jou gevoel was, dan sal jy waarskynlik dikwels nie amen na jou gebed kan sê nie.

Want dit gebeur nie selde dat gelowiges nie die gevoel het asof God na hulle luister nie.

Dit gebeur ook met gelowiges dat, as hulle op hulle gevoel afgaan, vir hulle gevoel God ver is en nie na hulle luister nie.

Dit gebeur selfs met gelowiges, dat God volgens hulle gevoel nie eers bestaan nie!

MAAR, en dit verduidelik die Kategismus nou baie mooi:

Dit gaan glad nie oor jou gevoel nie.

Jou gevoel is labiel, jy kan nie daarop vertrou nie.

As jy ‘n huis wil bou, moenie dit op los sand bou nie.

Jou gevoel is nie ‘n vaste fondament nie.

As jy ‘n huis wil bou, soek ‘n rots as fondament.

Net so kan jy nie die sekerheid van verhoring van dit wat jy gebid het, in jou gevoel soek nie.

Jy het ‘n baie vaster sekerheid nodig.

‘n Sekerheid wat baie betroubaarder is as jou gevoel.

Oor hierdie sekerheid skryf die Kategismus, in navolging van die Skrif:

God het my gebed baie sekerder verhoor, as wat ek in my hart voel.

Hoe is dit moontlik?

Dit is iets wat jy nie aan jouself te danke het nie, veral nie aan jou gevoel nie, hoe eerlik en outentiek jou gevoel ook is.

Dit het jy slegs en alleen te danke aan Jesus Christus.

Nie vir niks eindig ons ons gebed met: ons bid dit in Jesus se Naam.

Want die vastigheid en sekerheid wat ek nie self te biede het nie, dit bied Christus wel.

Dus, om saam te vat, bou jou sekerheid, bou jou lewe nie op die lossand van jou gevoel nie, maar bou dit op die rots Jesus Christus.

Dan bly jou lewenshuis stewig staan.

En dan kan jy dus altyd, aan die einde van elke gebed amen sê, sonder om oneg te wees.

Want Christus is gister en vandag en altyd dieselfde.

Op Hom kan jy altyd staatmaak.

As Hy iets beloof, bedoel Hy dit en maak dit waar.

Sy beloftes is vas en seker, ‘n onwankelbare fondament.

 

Dit geld vir elkeen, jonk en oud.

Ook die klein kindertjies wat dalk nog nie in die kerkbanke sit nie.

Wat soggens in die oppasdiens is, en nou dalk al in die bed lê.

Ook hulle kan al amen sê.

En al verstaan hulle nog nie alles nie, desnieteenstaande werk daardie woordjie ook vir hulle.

Nie danksy hulle eie gevoel nie.

Maar danksy Christus, in wie se Naam hulle ook gedoop is.

Dit is God se belofte, wat vasstaan.

Daarop kon ons altyd amen sê, met ‘n geruste hart, en selfs in tye as ons nie ‘n geruste hart het nie.

Want Christus staan daarvoor waarborg.

Laat ons nou daaroor sing, oor die betroubaarheid van God se beloftes, met die woorde van Psalm 103:7

“Soos hoog bo ons verrys die hemelboë,

so sal sy guns, uit eewge mededoë

geweldig hoog bo al sy kinders staan.”

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 103:1,2,5

Gebed

Skriflesing: Psalm 103

Ps 99:1-4

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 128-129

Preek

Ps 103:6-9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 103:10,11

Seën