Ons hulp is in die naam van die onbegryplik almagtige God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-08-04
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1c
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is onbegryplik)

 

Die feit dat God, soos die NGB bely, onbegryplik is, kom op verskeie plekke in die Skrif na ons toe.

Nou het die woord onbegryplik verskillende konnotasies.

En dit is belangrik dat ons die regte konnotasie hier beet het.

Want in alledaagse spraakgebruik word onbegryplik soms gebruik om aan te dui dat iemand wispelturig, onvoorspelbaar, onredelik is.

As mens sê: Dis ‘n onbegryplike persoon, dan klink dit nou nie juis positief nie.

As onbegryplik hier in die NGB so opgevat moes word, dat God so sou wees, dan sou dit nie sin maak nie.

Want God is nie wispelturig, onvoorspelbaar en onredelik nie.

Dit sou juis in botsing kom met ander karaktereienskappe van God, soos byvoorbeeld die feit dat Hy onveranderlik is.

In verlede week se preek het ons gesien dat onveranderlik beteken dat God betroubaar is, konsekwent, eerlik en standvastig.

Dit is die omgekeerde van om wispelturig, onvoorspelbaar en onredelik te wees.

 

Die woord onbegryplik hier in art. 1 moet ons dus anders verstaan.

En dit is juis die Bybelstekste wat ons vanaand hoop te behandel, wat ons op die regte spoor bring.

 

Tema: Ons hulp is in die naam van die onbegryplik almagtige God

Ontsagwekkend groot

Ondeurgrondelik indrukwekkend

Onbegryplik wys

 

Ontsagwekkend groot

Onbegryplik beteken veral dat God so groot is, dat Hy ons verstand te bowe gaan.

Ons denkvermoë, ons voorstellingsvermoë, ons verstaanshorison is te beperk om God te kan begryp.

God is altyd groter.

Wanneer ‘n olifant en ‘n mier bymekaar kom, is die mier se lewe in gevaar, vir die eenvoudige rede dat ‘n olifant so groot is.

Hierdie is maar ‘n swak vergelyking om iets duidelik te maak oor God se grootheid en almag.

Sy onbegryplikheid word in die Skrif soms uitgedruk in terme van die feit dat Hy in duisternis gehul is.

Dink aan Exodus 20:21: “So het die volk dan op ‘n afstand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was.”

En Deuteronomium 4:11: “Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid.”

‘n Mier wat naby ‘n olifant kom, doen dit by wyse van spreke al bewende, beseffende dat daar ‘n risiko daarin skuil om naby so ‘n groot wese te kom.

God is so onbegryplik groot en almagtig, dit het die volk laat bewe.

Hulle het terdeë besef dat hulle nou naby ‘n Wese gekom het wat net soveel anders en soveel groter en sterker is as wat hulle was.

 

Ondeurgrondelik indrukwekkend

‘n Bybelboek waarin God se onbegryplikheid indrukwekkend na vore kom, is die boek Job.

“Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.” (Job 36:26)

“God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.” (Job 37:5)

Al het Job alle rede gehad om te kla, gesien sy omstandighede, nog steeds moes hy swyg voor God, en ‘n wag voor sy mond plaas, voordat hy iets verwytend teenoor God sou durf sê.

Sy vriende het ‘n verkeerde teologie aangehang in hulle redenasie dat Job gestraf word vir ‘n verborge sonde.

Ons weet dit was nie so nie.

Die eerste hoofstuk van die boek Job openbaar aan ons die werklike aanleiding vir die ellende wat Job getref het.

Nietemin, tog is dit waar wat sy vriend Sofar sê, Job 11:7-9: “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? Hoogtes van die hemel is dit – wat kan jy doen? Dieper as die doderyk – wat kan jy weet? Langer as die aarde is die maat daarvan en breër as die see.”

Die besef hiervan moes nie net Job nie, maar ook sy vriende, versigtiger gemaak het om konklusies oor God te trek.

So ook die opmerking van Elifas in Job 15:8: “Het jy in die raad van God afgeluister”?

Inderdaad, daar is niemand wat God se raad kan peil nie.

Laat staan om vir Hom as raadgewer op te tree!

In Job 38 antwoord die HERE God dan self vir Job.

Ons lees dat Hy hom uit ‘n storm geantwoord het.

Soos wanneer ‘n olifant naby ‘n mier kom, dan dreun die aarde vir die mier, een en al aardbewing.

So was dit vir Job toe God hom antwoord.

Dit was soos ‘n storm wat bo sy kop losgebreek het.

In die HERE se woorde hoor ons hoe Hy vir Job op sy plek sit.

Job moenie dink dat hy in staat is om God te begryp nie.

Allermins.

“Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het?” (vers 4)

“Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys.” (vers 12)

“Het jy gekom tot by die bronne van die see?” (vers 16)

“Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet.” (vers 18)

“Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!”, antwoord God half sarkasties vir Job  (vers 21).

“Het die reën ‘n vader?” (vers 28)

“Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ‘n oorvloed van water jou oordek?” (vers 34)

“Kan jy die band van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Orion losmaak?” (vers 31)

“Ken jy die wette van die hemel?” (vers 33)

En so gaan die HERE verder in die laaste deel van die boek, met eindelose vrae wat Hy aan Job stel.

Almal met die doel om Job stil te maak, op die knieë te bring, en die besef van God se grootheid en onbegryplikheid by hom terug te bring.

“Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord! Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord. Ek lê my hand op my mond.” (vers 35-37)

“Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie ... Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” (Job 42:2-6)

So moes Job leer om nie met God teë te praat nie.

 

Ja, wie ook maar net ‘n klein bietjie sig kry op sy grootheid en onbegryplikheid, lê sy hand op sy mond.

Hierin is ons Here Jesus Christus vir ons nog ‘n veel beter voorbeeld as Job.

As daar iemand was wat rede gehad het om God se raadsplan te bevraagteken, as daar iemand was wat volkome onskuldig was en tog almal se onreg moes verduur het, dan was dit Hy.

Tog het Hy nie teëgepraat het, sy mond nie oopgemaak het.

Soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders (Jes 53) ...

Vir Christus was God se raadsplan nie onbegryplik nie.

Hy het besef dat daardie plan die beste is vir hierdie aarde.

En Hy het gewilliglik daaronder gebuig en Homself beskikbaar gestel.

Ons kan hierin Christus volg, wetende dat wat vir ons onbegryplik en onsienlik is, dit nie vir Hom is nie.

Soos Hy God se onbegryplike raadsplan, wat ons verstand te bowe gaan, vertrou het, so kan ons ons vertroue ook daarop stel.

Hierdie wêreld is in goeie hande.

Dit bring ons by die volgende aspek van God se onbegryplikheid: Hy is skitterend wys.

 

Onbegryplik wys

Ons kan baie dinge nie oorsien nie.

Baie dinge in die wêreld is vir ons onbegryplik.

Die skepping is nog steeds vol raaisels vir ons.

Laat staan dat ons die Skepper self kan deurgrond.

Maar, soos ons by die Prediker leer, ons kan onsself daardeur laat lei dat God goed is, en dat sy werk ook goed is.

Hy is skitterend wys in wat Hy doen.

Prediker 3:11: “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.”

Hoe lank ons ook lewe, hoe geleerd ons ook raak, hoeveel lewenswysheid en –ervaring ons ook opdoen, God sal altyd vir ons onbegryplik bly.

Sy raadsplan, sy werkwyse, is net van ‘n ander orde.

Hy is in ‘n liga van Homself.

Niemand kom naby Hom nie.

 

Maar, wat wel so wonderlik is, is dat alhoewel Hy onbegryplik, onsienlik, oneindig is, dit nie wil sê dat Hy onkenbaar is nie.

Dit is die wonder wat die Skrif aan ons openbaar.

Al ken ons nie alles van Hom nie, by verre na nie, tog ken ons uit sy Woord soveel van Hom, dat ons Hom kan vertrou, dat ons Hom kan liefhê.

Ja deur Christus, wat God se Woord tot ons gebring het, ken ons die hemelse Vader in sy hart.

Soos ‘n klein kind nog lank nie alles oor sy pa weet nie, maar tog weet hy dit wat saak maak.

Hy kan hom volledig vertrou.

God is onbegyplik, Hy gaan ons verstand totaal te bowe.

Terselfdertyd is sy wil vir ons begryplik, en weet ons dat Hy volkome wys, regverdig en eerlik is!

 

Dit is ook die boodskap wat tot ons kom in die gedeelte wat ons uit Jesaja gelees het.

Net soos in Job se geval, moes God se volk ook worstel met hulle omstandighede.

Daar was tye wat dit voor die wind gegaan het met die Israeliete.

In sulke tye is dit nie moeilik om dit eens met God se raadsplan te wees nie.

Maar Jesaja kondig aan dat daar dae sou kom waarin alle voorspoed van God se volk afgevat sou word.

Ook hulle stad en land, al hulle welvaart.

Jesaja profeteer dat hulle in ballingskap gevoer sou word.

Daar, aan die riviere van Babel, het die Jode begin worstel met God se raadsplan.

Baie van hulle het tot die slotsom gekom dat hulle God nie in beheer is nie.

“My weg is vir die HERE verborge” – het hulle gekla (Jes 40:27).

Die HERE sien nie wat met ons gebeur nie.

Dit help nie om nou nog hulp van Hom te verwag nie.

Tye het verander ... Omstandighede het verander ...

“My reg gaan by my God verby”.

Skynbaar is Hy nie meer geïnteresseerd daarin dat my reg gehandhaaf word nie.

Soos Job, soos die Jode dit gehad het, so kan dit met ons ook gaan.

God se weë met jou lewe, en met die van jou kinders, is dikwels vir ons onbegryplik.

Hoekom moet sommige kinders so vroeg sterf, en voor hulle ouers begrawe word?

Hoekom geskied daar so dikwels nie reg op aarde nie?

Hoekom word daar teen my gediskrimineer?

Op die werk, in hierdie land?

Belowe die HERE dan nie ‘n goeie lewe vir wie Hom opreg dien nie?

Gemeente, net soos Job, net soos die Jode, is ons so maklik geneig om God aan te kla.

Om self met al ons vrae en verwyte op die regterstoel te gaan sit.

Die Jode in ballingskap het hulle vertroue op God kwytgeraak.

Hulle het hulleself vergelyk met dorre doodsbeendere (Esegiël 37), waar niemand meer lewe in kon bring nie.

Wat doen die HERE dan in sulke omstandighede?

Hoe help die HERE sy kinders?

Hy help nie deur met hulle simpatie te betuig en saam te ly nie.

Maar, soos ons byvoorbeeld hier in Jesaja 40 sien, Hy help sy kinders deur hulle weer bewus te maak wie Hy is!

Hy maak hulle oë weer op vir sy grootheid, sy almag, sy onbegryplikheid!

Daar is geen beter medisyne as dit nie.

Wie dit besef, hoe groot en onbegryplik God is, sy probleme verdwyn soos mis voor die son.

En daarom dat die HERE vir Jesaja opdra om die volgende vrae aan die volk voor te hou:
Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet? (vers 12)

Wie het die hemel gemeet? (vers 12)

 

Wie het die berge gemeet met ‘n weegskaal? (vers 12)

Met wie het Hy raad gehou? (vers 14)

Wie kan aan Hom verstand gee? (vers 14)

Wie kan Hom iets leer? (vers 14)

Vir Hom is die nasies soos ‘n druppel in die emmer, soos ‘n stoffie op ‘n weegskaal. (vers 15)

Al die nasies is voor Hom soos niks. (vers 17)

Met wie kan julle God vergelyk? (vers 18)

Hy sit bo die kring van die aarde.

Vir Hom is die bewoners van die aarde soos sprinkane (vers 22).

Hy span die hemel uit soos ‘n doek (vers 22).

Hy blaas op die heersers van die aarde, sodat hulle verdor (vers 24).

Soos ‘n stoppel is hulle in sy storm (vers 24).

Met wie kan julle Hom vergelyk? (vers 25)

Kyk op na die hemel. Wie het al daardie miljarde sterre geskape? (vers 26)

Hy roep hulle almal by die naam ... daar word nie een gemis nie.

 

Gemeente, so spreek die HERE tot sy volk deur Jesaja.

Die beste medisyne vir hulle is om weer tot die besef te kom dat Hy in beheer is.

Dat Hy onbegryplik groot van krag en vermoë is.

Wie dit besef, sal nie waag om te sê: My weg is vir die HERE verborge nie ... die HERE ‘worry’ nie oor my omstandighede op aarde nie ... (vers 27)

Fokus op Hom, fokus op sy onbegryplike majesteit.

Ja Hy is ‘n ewige God.

Hy is Skepper van die eindes van die aarde.

Hy word nie moeg of mat nie.

Daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

 

Geliefde broer en suster, hierdie besef is medisyne.

En dis wat die HERE ook aan Jesaja openbaar.

Want dis Hy, die Onbegryplike, wat aan die vermoeide krag gee.

Dis Hy wat hom wat geen kragte het nie, weer sterk maak.

Die jonges word moeg en mat, jongmanne struikel selfs.

Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag.

Hulle vaar op met vleuels soos die arende.

Hulle hardloop en word nie moeg nie.

Hulle wandel en word nie mat nie.

Wat ‘n openbaring, wat ‘n geweldige bemoediging, wat ‘n aansporing om alles van God te verwag.

God is onbegryplik groot.

God is onbegryplik indrukwekkend.

God is onbegryplik wys.

God is onbegryplik in beheer!

 

Dit is ook die gevoel, die boodskap, wat die volgende gedig oordra, wat ek wil voorlees.

Dis ‘n gedig geskryf deur Louis Britz, vir die meeste van ons dink ek welbekend:

 

In die hemel is die Heer
En sy glans is soos kristal
Hy's die heilige van God
En hy heers oor die heelal
Daar is mag in Sy Woord
Soos die waters bruis Sy stem
Soos die son op die see se blou
So’s die rykdom van Sy trou
En aan U is die mag
En die heerlikheid en krag
En aan U is die eer
En die lof want U regeer
Miljoene in gereedheid
Staan die engele om Sy troon
Verbysterend Sy sieraad
En die weelde van Sy kroon

 

En so gaan die gedig verder ...

 

Om saam te vat, geliefde gemeente, God se onbegryplikheid is nie iets wat ons vir God bang maak nie, dis nie iets wat God meer afstandelik maak nie, dis nie iets wat ons desperaat maak nie.

God is onbegryplik, ja, en juis daarom vertrou ons Hom.

Al is God onbegryplik, sy wil vir ons lewe is bekend, sy wil is begryplik.

In Christus het Hy ons sy hart laat sien.

Soos Paulus skryf in 1 Korinthiërs 2:16: Want wie het die insig van die HERE geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die insig van Christus.

Ons lewensweg is vir Hom nie verborge nie.

Hy het sy eie geliefde Seun gestuur, om ons lewensweg terug te buig na die volmaakte heerlikheid.

Ja in Christus sal Hy alle dinge herstel, in hemel en op aarde.

Ons mag rus vind in Hom, juis omdat Hy so onbegryplik almagtig is.

Ja ons hulp is in die naam van die onbegryplik almagtige God.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum: Sing Ps 121:1

Seën

Ps 97:1

Gebed

Skriflesing: Job 38

Ps 97:2,3

Skriflesing: Jesaja 40:12-31

Sb 34:1

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 1

Preek

Sb 34:2,3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 145:2,3,4

Seën