Preek: Psalm 16
Koning Dawid is bekend vir die liedere wat hy gedig en gesing het.
Ek het onlangs op YouTube geluister na hoe musiek geklink het uit die tweede millenium voor Christus.
En ek is seker dat die melodie waarop Dawid sy psalms gesing het, heel anders geklink het as die Geneefse melodië wat ons vandag gebruik.
Ook het sy musiekinstrumente heel anders gelyk as die instrumente wat ons vandag gebruik, soos die orrel byvoorbeeld.
Maar wat so ongelooflik besonder is, is dat die woorde wat hy toe gesing het, drieduisend jaar gelede, en die woorde van Psalm 16 wat ons nounet gesing het, nog presies dieselfde is.
Hoe besonder is dit nie, dat al is dit met heel ander musiek en instrumente en in ‘n heel ander taal, ons tog nog die Here prys met presies dieselfde woorde.
Dawid was die digter van hierdie gedig of kleinood.
‘n Gedig boordevol blydskap in die HERE, gelaai met vertroue op Hom.
Ons mag ook vandag, in ons omstandighede, troos put uit hierdie ou lied.
‘n Geskenk van die Heilige Gees vir Christus se kerk van alle tye.
Tema: Die HERE is my erfenis vir ewig
- Die pad van die afgode
- Die pad van die lewe
- Die pad van die afgode
Om hierdie gedig goed te verstaan, is dit noodsaaklik dat ons die historiese konteks in ag neem.
Hierdie gedig bevat naamlik nie net vroomheid in die algemeen nie, maar dit gaan oor spesifieke omstandighede.
En die belangrikste om te noem is dan dat Dawid gelewe het toe die Rigtertyd nog vars in die geheue was.
Dawid is gebore in die oorgangstyd.
Hy is self nog deur die rigter Samuël tot koning gesalf.
God se volk het nog maar onlangs begin om op te staan uit die diepe verval van die Rigtertyd.
Dawid het gevolg in die reformatoriese voetspore van Samuël.
Die liefste wou Dawid self vir die HERE ‘n huis bou (2 Sam 7).
Dit het die HERE egter vir sy opvolger bestem.
Wel het Dawid die ark na Jerusalem gebring (2 Sam 6).
Dawid het die offerdiens daar gereël. die tempelmusiek laat herleef, en veral ‘n groot deel van die musiek self verskaf, in sy Psalms.
Terselfdertyd was daar nog oorblyfsels uit die afvallige Rigtertyd.
Die heidense Kanaäniete was nog sterk verteenwoordig in die beloofde land.
En in Dawid se tyd het baie uit God se volk self ook nog offers bly bring aan die afgode op die hoogtes.
Aan die een kant was daar dus ‘n voortgaande lyn van afval.
Aan die ander kant was daar die vars rivier van reformasie, wat weer onder God se volk begin begin vloei het.
Is dit, gemeente, nie in alle tye so nie?
Sien mens nie ook in ons tyd beide lyne nie?
Die moeras van afval en wêreldgelykvormigheid, waar die water stil begin staan en sleg word.
Maar ook op plekke waar die vars water van die rivier bly stroom en weer deurgang vind.
So was koning Dawid se posisie as reformator ook kwesbaar.
As mens jouself afvra – wanneer het Dawid hierdie Psalm geskryf – is dit moeilik om te beantwoord.
Uit die Psalm spreek die besef dat hy by die HERE skuil te midde van lewensgevaar.
Maar, feitlik was daar nie ‘n periode in Dawid se volwasse lewe, wat hy nie in lewensgevaar was nie.
Hierdie Psalm pas dus eintlik by elke periode van sy turbulente lewe.
Die groter konteks is daarom veral relevant: Dawid het as reformator opgetree tydens die naweë van die Rigtertyd.
En in hierdie Psalm kom Dawid met ‘n helder belydenis:
In sy lewe en in sy huis is dit klaar met die afgode!
Jahweh is my enigste HERE!
Hy is my hoogste geluk!
Ons moet nie die suigkrag van die afgode onderskat nie.
Sy eie seun, Salomo, het in sy oudag tog weer teruggegly rigting die afgodediens.
Om die afgode te dien, soos Baäl en Astarte, was die aansteeklike tydsgees van daardie dae.
Maar in hierdie Psalm maak Dawid ‘n keuse:
Ek skuil by die HERE, Hy wat met ons by Horeb ‘n verbond gesluit het:
Ek is die HERE jou God, jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Onthou, die terugkeer na die Horebverbond was nog pril na die Rigtertyd.
Die land was nog vol afgodediens.
Orals was daar nog mense, heidene en Jode, wat die Baäls gedien het en van Astarte hulle reën verwag het.
Orals is daar nog volksfeeste gehou op die hoogstes, soos met Balak en die Midianiete destyds, feeste ter ere van die afgode, waartydens almal met almal seksuele omgang gehad het.
Hierdie kuierplekke het soos ‘n magneet die Israeliete aangetrek en bekoor.
In Psalm 16 neem Dawid met sy huis egter standpunt in.
Hy assosieer met die heiliges wat op die aarde is (vers 3).
Heiliges is hier nie sondeloses nie, maar hulle wat by die HERE skuil en Hom dien.
Soos ons in die Heidelbergse Kategismus bely: die gemeenskap van die heiliges (Sondag 21).
Ja God se vriende is ook Dawid se vriende.
Calvyn skryf oor hierdie vers: Daar is geen offer meer aangenaam vir God nie as wanneer ons opreg en van harte aansluit hier op aarde by die groep van die regverdiges, by hulle wat die Here dien.
Calvyn skryf dit teen die agtergrond van die sogenaamde Nikodemiete, wat te bang was om standpunt in te neem en te assosieer met die getroues.
Hulle wat hulle lewens aan Hom toewy en nie aan die afgode en hulle wêreldse lewensstyl nie.
Dawid assosieer met die ootmoediges, hulle onder die volk wat teruggekeer het na die Woord.
En wel beskou, wat lewer die afgodediens ‘n mens eintlik op?
Is hulle wat so meeding na die guns van die afgode, en na die goedkeuring van die wêreld, is hulle werklik soveel gelukkiger?
Nee, sê Dawid.
Wel beskou is hulle smarte menigvuldig!
Dawid kon gedink het aan die verskriklike groot offers wat die afgode van tyd tot tyd gevra het.
Dink aan die smart van ‘n pa en ma, wat hulle kind aan ‘n afgod moes offer.
Ja inderdaad, afgode soos Baäl het van tyd tot tyd kinderoffers geëis.
En gemeente, vandag, eis die moderne afgode van vandag nie ook kinderoffers nie?
Dink bietjie daaroor na!
Wat ander doen, moet hulle weet.
Maar Dawid sal selfs die afgode se naam nie op die lippe neem nie!
Inderdaad, nêrens in die Psalm noem hy ‘n afgod nie.
Hy besoedel sy mooi lied nie met hulle name nie.
Hierin is hy gehoorsaam aan die HERE se wet, sy Torah: “En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.” (Ex 23:13)
Ons hieruit kan ons iets leer, gemeente.
Daar is ‘n tyd om die kwaad by die naam te noem.
Maar daar is ook ‘n tyd om nie woorde vuil te maak aan alles wat verkeerd gaan in hierdie wêreld nie.
Daar is ook ‘n tyd om op die positiewe te konsentreer.
En dit is presies wat Dawid doen in hierdie Psalm.
Hy laat sy humeur nie beïnvloed deur al die heidendom om hom heen, selfs binne God se verbondsvolk nie.
Bly en dankbaar fokus hy op die HERE en kies die regte koers vir sy lewe.
Vir hoër diens verkore, van die hele wêreld vry!
Ja die pad van die afgode lei na baie smarte.
Dit lei na die dood.
Maar God se dank is daar nog ‘n pad – die pad van die lewe (vers 11)!
(Tema: Die HERE is my erfenis vir ewig
- Die pad van die afgode)
- Die pad van die lewe
Ja, skryf Dawid, my erfdeel is lieflik.
Want die HERE is die deel van my erfenis.
Dawid gebruik hier baie mooi beeldspraak.
Elke stam het naamlik van die HERE ‘n grondgebied as erfdeel gekry.
Elke stam, behalwe die stam Levi.
Oor die stam van Levi sê die Skrif: “die HERE is sy erfdeel” (Deut 10:9).
Nou Dawid was self uit die stam Juda, wat ook ‘n grondgebied as wettige erfdeel ontvang het.
Maar dis nie waarna Dawid in hierdie Psalm verwys nie.
Hy skaar homself by die Leviete as hy sê: die HERE is my erfdeel.
My erfenis is vir my mooi.
Ja die HERE styg ver uit bo grond en besittings en wat ook al op aarde.
Die HERE is my beker.
Nog so ’n mooi beeldspraak.
As die HERE jou lewensbeker volgooi, beteken dit Hy seën jou ryklik.
Dawid se lewensbeker is vol, loop oor – dink aan Psalm 23 “my beker loop oor” – omdat hy die HERE mag ken, omdat hy in sy diens mag staan!
Gemeente, laat dit vir ons ook so wees.
Ons lewe in ‘n land waar die besit van grond verafgod word, sowel deur blank as swart.
Om nog nie te praat van ander besittings nie – huise, motorkarre, juwele, noem maar op.
Hoe definieer jy jou lewensbeker?
Loop jou lewensbeker oor, omdat jy die HERE ken, en in sy diens mag staan, ook al is jy nie ‘n groot grondbesitter of besitter van alle materiële welvaart wat die hart begeer nie?
Om naby die HERE te lewe is ‘n vervulde lewe.
Dawid skryf: Die heeltyd gee die HERE my raad, dag en nag.
Dit is in kontras met die afgode, wat doof en stom is.
Afgode kan nie raad gee nie.
Die ‘bling’ van die afgode skitter, maar wanneer jy voor die poorte van die dood kom, het die afgode niks om te sê nie.
Dawid mag egter lewe met die lewende God se Woord.
Sy Woord mag hy indrink, dit oorpeins.
Snags vermaan sy niere hom.
God se Woord het heeltemaal deel van sy sisteem geword.
Niere dui in die Skrif op die menslike gevoelslewe.
En ja, dit is die hoogtepunt waarmee die Psalm eindig.
By die poorte van die dood kan hierdie God, die HERE, wel raad gee!
Psalm 16 is ‘n skitterende Oud-Testamentiese getuienis van die opstanding uit die graf.
Ons moenie dink dat die mense in die Ou Testament nog nie met daardie hoop gelewe het nie.
Hulle het.
Die opstanding op die jongste dag (Joh 11:24) was, net soos vir ons, hulle houvas in lewe en sterwe.
Die besef dat hulle siel, hulle lewe, altyd naby die HERE sal wees.
Toe die Sadduseërs met Jesus geredetwis het oor die opstanding uit die dood – onthou die Sadduseërs het ‘n lewe na hierdie lewe ontken – toe het Jesus hulle na die Ou Testament verwys.
Daar het die HERE gesê: Ek is die God van Abraham, en die God van Isak, en die God van Jakob (Matt 22:23-33).
Die HERE is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.
Ja daardie mense uit die Ou Testament, Abraham, Isak en Jakob, leef nog steeds!
Hierdie wete spreek ook uit die slot van Psalm 16.
Abraham het, toe hy Isak moes offer, oorweeg dat God by magte is om hom selfs uit die dood op te wek (Hebr 11:18).
Net soos Paulus, en Dawid baie goed besef, en dit spreek uit hierdie Psalm:
As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus gebou het, is ons die beklaenswaardigste van alle mense (1 Kor 15:19).
Maar nee, U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie.
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
U sal my die pad van die lewe bekend maak.
Pad van die lewe, vers 11, staan hier teenoor die pad wat lei na die doderyk.
Die HERE plaas my op die pad wat lei na die ewige lewe.
Hy lei my aan sy regterhand.
Lieflikhede is in u regterhand, vir ewig.
Hierdie slot van Psalm 16 is die Ou Testamentiese weergawe van Paulus se woorde in Romeine 8: Want ek is verseker dat geen dood nog lewe ons sal kan skei van die liefde van God nie ... (vers 38v.)
Dawid verwys hier op vier verskillende maniere na homself: my hart, my vlees, my siel, u gunsgenoot.
Vierdubbel word beklemtoon: niks van my sal vir altyd aan dood en verderwing prysgegee word nie.
God sal dit nie toelaat nie.
Die HERE, wat my erfenis is, plaas my naamlik op die pad van die lewe!
Die hoop op die ewige lewe, na liggaam en siel, spreek baie sterk uit hierdie Psalm.
Die Heilige Gees het hierdie woorde in Dawid se mond gelê.
Hierdie Psalm is daarna gesing in die tempelliturgie, in die Ou Testamentiese erediens.
En toe Christus na die aarde gekom het, was hierdie Psalm nog steeds welbekend.
En die apostels, sowel Petrus as Paulus, getuig hoe hierdie Psalm in Christus vervul is.
In sy Pinksterpreek verwys Petrus na Psalm 16 (Hand 2:22-32).
Die aartsvader Dawid het gesterf en is begrawe, sy graf is by ons tot vandag toe.
Maar, sê Petrus, Dawid was ‘n profeet, en God het deur hom voorspel dat sy nakomeling, Christus, se siel nie in die doderyk agtergelaat is en sy vlees nie verderwing gesien het nie.
Want Christus, wat julle gekruisig het, is weer opgewek!
In Christus kom Psalm 16 vir die eerste keer volledig in vervulling.
Dawid kon in rus en vertroue sterf, wetende dat sy siel nie aan die doderyk oorgegee sou word nie, maar veilig by sy God sou wees.
Maar, soos Petrus in sy preek noem, Dawid se graf, sy stoflike oorskot, is nog steeds met hulle.
Maar in Christus se geval het Psalm 16 se profesie die eerste keer volledig waar geword:
In Christus, die tweede Dawid, se opstanding uit die graf is siel én liggaam herskep.
Paulus preek dieselfde boodskap in die sinagoge in Antiochië, Pisidië (Hand 13:35-37).
Vanuit hulle eie Ou Testament bewys hy vir die Jode dat dit reeds geprofeteer was dat Christus sou opstaan uit die dood.
“U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie. Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.”
Nog nooit het die Jode daar in die sinagoge Psalm 16 so uit volle bors gesing, na hierdie prediking van Paulus, nie.
Dit sal mens hoop, altans!
Ons mag vandag hierdie selfde Psalm nog steeds uit volle bors sing, wetende dat dit volmaak in Christus vervul is.
En, soos Paulus skryf, omdat Christus die Eersteling is wat opgestaan het uit die dood, sal hulle ook volg wat aan Hom behoort.
Kan jy ook sê, broer, suster: Die HERE is my erfenis?
Die HERE is die belangrikste erfenis van my lewe?
Kan jy ook sê: die afgode van hierdie wêreld is vir my niksseggend?
Ek stel nie belang in die pad van die afgode nie ...
Christus is die Eersteling, en Hy het ons op die pad van die lewe geplaas.
In sy regterhand is enkel lieflikhede!
Daarom kan ons met net soveel sekerheid oor onsself sing:
“U sal my siel nie oorgee in die dood,
my pad buig op langs skone heuwelrye.
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot
verderwing sien in donker doodsvalleie.
By U is ewig vreug en volle vrede,
en in u hand ‘n snoer van lieflikhede.”
(Ps 16:5 – berymd)
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 124:1,2
Wet
Ps 18:2,3
Gebed
Skriflesing: Psalm 16
Ps 16:1,2
Skriflesing: Handelinge 2:22-32 & 13:30-43
Ps 16:3
Teks: Psalm 16
Preek
Ps 16:4,5
Gebed
Kollekte
Ps 23:3 (2e beryming)
Seën