Preek: Psalm 65
As dit oor reën gaan, sien mens deur alle eeue al ‘n teenstelling tussen geloof en ongeloof.
Die gelowige Israeliet het die reën van die HERE verwag en Hom daarvoor gedank.
Die uitbly van die reën het hy as ‘n rede tot verootmoediging gesien, ‘n rede om ‘n biddag uit te roep en geloftes af te lê.
Daarenteen het die heidene in Kanaän die reën van die afgode, Baäl en Astarte, verwag.
Ook ons Europese voorouers was heidene, en hulle het die reën en vrugbaarheid van hulle afgode verwag.
Gode soos Wodan, Donar en Frya.
Wodan en Donar kan mens goed vergelyk met Baäl.
En Frya met die godin Astarte.
Die weeksdae wat ons tot vandag toe gebruik, is na hierdie afgode vernoem: Woensdag – Wodan; Donderdag – Donar; en Vrydag – Frya.
Ook hier in Afrika het die heidene van die afgode hulle reën verwag.
En soos die Kanaäniete allerlei rituele gehad het om Baäl om te koop, so ook hier in Afrika.
Mens kan aan die sogenaamde reënmakers dink, wat kontak kon maak met die afgode of voorvaders.
Vandag is dit Biddag vir Gewas en Arbeid.
As ons die nuwe seisoen inkyk, met die hoop dat dit een of ander tyd gaan begin reën, waarop is ons hoop gevestig?
Kyk ons op na Hom, wat deur Christus weer ons Vader geword het?
Met Psalm 65 roep Dawid, geïnspireer deur God se Gees, ons op tot ‘n lofsing aan die lewende God.
Kom ons kyk vandag, op hierdie Biddag, na die ryke en diepe boodskap wat tot ons kom uit hierdie Psalm.
Tema: Op Biddag nader ons die Hoorder van die gebed
- Beproewing
- Verootmoediging
- Verhoring
- Beproewing
Na bange tyd van somerdroogte.
So begin Totius sy beryming van hierdie Psalm.
Hoewel hierdie Psalm nie eksplisiet met ‘n droogte begin nie, maak dit wel sin.
Want die begin van hierdie Psalm moet ons inderdaad lees in die konteks van die hoogtepunt waarop die lied eindig.
As mens na die inhoud van die Psalm kyk, fokus Dawid eerstens op God se verbondskinders, maar daarna ook op alle bewoners van die aarde, tot die eindes van die aarde.
Dit wat God in sy skepping doen, dit doen Hy ter wille van alle aardbewoners, en nog meer spesifiek, ter wille van sy kinders.
Daar is ‘n korrelasie tussen die reëns, die aanbreek van die reënseisoen, of dit ‘n goeie of slegte seisoen gaan word, en hoe die aardbewoners, en meer spesifiek, God se verbondskinders, voor sy aangesig lewe.
En daarom pas die lofsang juis in Sion!
Na bange tyd van somerdroogte ...
In die grootste deel van Palestina, die westelike helfte van die land, is daar nie standhoudende riviere nie.
Die landbougronde was vir hulle opbrings daarom heeltemal van die reën afhanklik.
Die welvaart van die Israelitiese boer, of sy bankrotskap, het volledig van die reën en dou afgehang.
En net soos in die Kaap, val Palestina se reëns in die winter.
Die somermaande is droog en warm.
En net soos ons nou beleef as mens deur die dor bosveld en grasvlaktes ry en jou afvra, of dit ooit weer groen kan word, so het die Israeliete elke jaar weer hulle hart vasgehou, smagtende na die eerste wolke en lafenis van reën om die lang brandende en uitmergelende somermaande tot ‘n einde te bring.
Ons kan onsself goed hierin inleef.
As damvlakke daal en prognoses uitgespreek word dat daar nog net soveel weke of dae se water oor is.
As ons berigte hoor ‘n ‘day zero’, die dag as daar nie meer water uit die krane gaan kom nie.
In die Weskaap was die mense die afgelope jare in die greep hiervan.
Onlangs hoor ek op die radio dat Gauteng die volgende provinsie is wat ‘n moontlike ‘day zero’ in die gesig staar.
Psalm 65 begin met ‘n pragtige belydenis: o Hoorder van gebed, tot u moet alle vlees kom.
Die gelowige Israeliet het geweet na wie om te gaan met sy angste en sorge vir die toekoms.
As almal wanhopig, na ‘n hele seisoen se droogte en versengende hitte, hulleself afgevra het wanneer die reëns gaan begin.
En dit is ook hoekom ons vandag Biddag het.
Net soos die gelowige Israeliet geweet het dit help nie om na die afgode te gaan nie.
“Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jeremia 14:22)
Nou gaan Psalm 65 nie net oor die eerste reënbui na die droë seisoen nie.
Elke boer sal weet dat, as daar nie opvolgreëns kom nie, die eerste bui niks beteken nie.
Dit maak dalk net die stof nat, maar deurweek nie die aarde nie.
Om ‘n oes van die land af te haal, was in Israel die laat reëns ook onmisbaar.
As in Maart en April die reëns uitgebly het, was die kans om te oes en wins te maak maar bitter skraal.
Dit lyk of historiese oorsprong van Psalm 65 net na ‘n ernstige droogte in die middel van die reënseisoen lê.
Die winterreëns het goed op gang gekom, maar toe het dit skielik net gestop.
Die gewasse wat belowend op die land gestaan het, het skielik uitdroging in die gesig gestaar.
Die so noodsaaklike opvolgreëns het uitgebly.
Dit was, en is, seker een van die benouendste tye vir ‘n boer.
As dit aan die begin van die seisoen nie begin reën nie, is dit erg, maar tot daar aan toe.
Die boer sal dan gewoon nie saai nie.
Maar as die eerste reëns gekom het, en die boer het sy kapitaal in die grond gesaai, dit het opgekom, maar dan skielik begin alles te verdroog ... dit was die boer se grootste nagmerrie.
In daardie noodtoestand het Psalm 65 tot stand gekom.
Na indringende gebed, na geloftes gedoen is.
Die droogte het God se volk op hulle knieë gebring.
Hulle weer laat besef dat alles genade is, en dat ‘n goeie oes nie hulle reg is nie.
En toe het die HERE gehoor gegee.
Toe het op indringende gebed ook indringende reëns gevolg.
Toe is die oes gered.
Nou pas ‘n loflied!
Nou het die tyd aangebreek om die geloftes te betaal!
Dit was die omstandighede waarin Dawid hierdie Psalm geskryf het.
Ons lewe vandag in ‘n netwerk van ‘n wêreldwye ekonomie.
As by ons die mielieoes misluk, kan daar nog uit Amerika of Brasilië mielies ingevoer word.
Dit is dan miskien bietjie duurder, maar hongersnood is daar nog nie.
Nie vir die boer nie, ook nie vir die stadsbewoner nie.
Destyds was dit egter anders.
As die oes in Israel uitgebly het, was daar regtig hongersnood.
Nie net vir die mens nie, ook vir die vee.
Want met geen reën was daar ook nie weivelde nie.
En skape, beeste en bokke moes noodgedwonge geslag word, wat op den duur ook gebrek aan melk beteken het.
Die heidense boere, en die afvallige Israeliete, het dan tot Baäl geskreeu.
In 1 Konings 18 kan ons lees hoe so ‘n ‘biddag’ vir Baäl gelyk het.
Priesters het urelank geskreeu: Baäl, antwoord ons! Baäl, antwoord ons!
Baäl se antwoord sou dan donderweer en bliksem wees, reën in aantog.
Maar niks daarvan nie.
Elia het spottend opgemerk: Miskien slaap hy, en moet hy nog wakker gemaak word.
Moontlik het Elia gesinspeel op die ou heidense legende, dat gedurende die droë seisoen Baäl in die onderwêreld was, en ‘n ander god, die god Môth, geregeer het, en dat Astarte eers hierdie afgod moes oorwin en haar man Baäl uit die onderwêreld moes gaan haal.
Die Baälpriesters het nog harder geroep.
Volgens hulle gewoonte het hulle hulleself gekerf, sodat die bloed gedrup het.
Teen die aand het hulle in ‘n trans geraak, maar daar het geen geluid gekom nie.
Ons kan aanneem dat tonele soos hierdie een by die berg Karmel, gereeld in Kanaän voorgekom het.
Dit in reaksie op uitmergelende droogtes.
Maar dis nie die weg wat die HERE sy kinders voorgehou het nie.
Die reaksie wat die HERE verwag op beproewing is anders.
Dit is die weg van verootmoediging.
- Verootmoediging
Psalm 65 het, net soos Elia in sy tyd, ‘n beter weg gekies.
Verootmoediging en gebed, beseffende dat alles uit die lewende God se hand kom.
Ja ook die droogte.
Ja selfs as daar ‘n erge droogte is, selfs as die reëns in die reënseisoen uitbly, wanneer dit veronderstel is om te reën, selfs as ons ‘n ‘day zero’ in die gesig staar, dan kom dit ook uit sy hand.
En dit dring ons tot verootmoediging.
Soos die profeet Amos die volk ingeprent het:
“Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?” (Amos 3:6)
Die Skrif leer ons dat daar ‘n korrelasie tussen hierdie noodtoestand en ons gehoorsaamheid aan die HERE.
Dink aan ‘n teks soos Levitikus 26.
“As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.” (vers 3-4)
Maar die omgekeerde is net so waar, verse 18-19:
“En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.”
In beide gevalle bly die HERE trou aan sy verbond.
En Hy span die skepping in, reën en droogte, om sy kinders by die verbond te bewaar, ja by Hom.
Hy beproef hulle.
Want nog kosbaarder as indringende reën, is om met Hom in sy verbond te lewe!
En dis net Hy, soos ons leer uit die geskiedenis van Elia en die volk by die berg Karmel, dis net Hy wat ’n hemel van yster kan vul met wolke.
En Hy kan dit ook vinnig doen.
Die boodskap vir die Israeliete was dus, en dit is ook die boodskap vir ons:
Is daar in ons lewe sondes wat oorsaak is vir ’n droogte?
Laat ons ons dan verneder onder die magtige hand van die HERE.
Laat ons ons verootmoedig
Laat ons op die knieë gaan.
Laat ons na Hom gaan, om te bid vir uitkoms.
Laat ons teenoor Hom skuld bely.
Psalm 65 maak ons oë oop vir die oorsaak van die droogte: “Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad” (vers 4).
Ook vandag, op hierdie Biddag, is dit die houding wat van ons gevra word.
Verootmoediging.
Gaan daar genoeg reën kom, of gaan daar ‘n ‘Day Zero’ kom?
Daar is iets wat my steeds meer bekommer, gemeente, in ons geledere.
En ons kan dit ook breër trek, die Afrikaanssprekende blanke samelewing in ons land.
Ons het die afgelope jare so gewoond geraak om die regering en die swartmense vir alles te blameer, ons het al hoe meer afgeleer om na ‘n moontlike fout by onsself te soek, om onsself te verootmoedig.
As daar ‘n skoolmeisie ontvoer word, is ons eerste gedagte dat dit weer die swartmense is, of dalk kom daar ‘n ander woord in u kop op.
Ons dink nie eers aan ‘n ander moontlikheid nie.
Gemeente, laat ons oog hiervoor hê.
Ons sit in ‘n baie ongesonde geestelike situasie.
En ons sal hard daarteen moet stry, moet keer da tons karakters nie hoe langer hoe meer verhard, dat ons net geneig is om fout daarbuite te vind, maar nooit in onsself nie.
Die Jode in die tyd toe Jesus op aarde was, was in ‘n soortgelyke situasie.
Hulle is deur die Romeine oorheers, en hulle het die Romeine die skuld gegee vir alles wat fout gegaan het.
Ons lees in die Evangelies egter weinig dat Jesus die Romeine gekritiseer het.
Christus het die selfgenoegsame houding onder die Jode wel keer op keer aangespreek.
Wat sal dit mooi wees, as ons as gemeente weer daardie houding kan terugkry.
‘n Houding wat nie gekenmerk word deur die hele tyd net kritiek, almal die skuld gee behalwe jouself nie.
As ons, hopende op die begin van die reënseisoen, nou boontoe kyk, dat ons besef: Dit is nie ons reg nie.
Nie omdat dit sleg met ons land gaan en daar wanbestuur is nie.
Maar eerstens omdat dit sleg met my gaan, omdat my siel besig is om te verhard.
Verootmoediging is dat Christus se Gees die hart van klip sagmaak.
Laat ons nie die Gees verder bedroef nie.
Laat ons met ’n houding van verootmoediging, verwagtingsvol dan van die Skepper verwag dit wat ons elke dag nodig het.
Ons doen ons geloftes aan die HERE.
In die Ou Testamentiese konteks van hierdie psalm kan ons aan die gelofteoffer dink.
As die HERE sy volk se smeekbedes verhoor het, het hulle hulle geloftes ingelos, aan die einde van die seisoen.
So staan vandag Biddag en Dankdag ook in verbinding met mekaar.
As ons vandag Biddag hou, omdat ons die reën in die komende maande bitter nodig gaan hê, dan moet ons ook bereid wees, dit moet as ’t ware ’n gelofte van ons kant wees, om Dankdag te hou.
Meestal hou ons in September of Oktober Biddag vir gewas en arbeid, en dan êrens in Maart of April Dankdag vir gewas en arbeid.
Hierdie twee hoort bymekaar.
Ons kan nie bid, as ons nie ook wil dank nie.
Vandag bid ons.
Vandag maak ons ’n gelofte.
As die HERE ons seën met reën hierdie seisoen, dan sal ons ’n Dankdag hou, en ons sal daar wees, as die Dankdiens vir gewas en arbeid in sy huis gehou gaan word.
Ons skryf dit nou al in ons dagboekies.
Ons maak ’n plan dat ons daar kan wees, daardie betrokke Donderdagaand.
Dit sal natuurlik die grootste ondankbaarheid wees, as jy vandag by Biddag is, maar op Dankdag daag jy nie op nie.
Verbondskinders wat volhard in so ’n lewensstyl, vir hulle sê Christus:
Werp hom uit in die buitenste duisternis.
Julle is nou nie meer my volk nie! (Hos 1:9)
Ons maak vir die HERE vandag ’n gelofte.
Aas daar hierdie seisoen geen hongersnood gaan wees nie, dan sal ons, as Dankdag aanbreek, ook rojaal gee uit dit wat ons ontvang het.
Watter dag is belangriker?
Biddag of Dankdag?
Beide is ewe belangrik.
Die een kan nie sonder die ander nie.
Met Biddag toets die HERE of ons alles van Hom verwag.
Of Hy die lewende God vir ons is, of dat ons ons voorspoed van elders verwag.
Met Dankdag toets die HERE ons ook, of ons dankbaar is.
Of ons sy hand sien in dit wat ons ontvang het.
Of ons vrygewig is.
Psalm 65 gaan oor Bid- en Dankdag.
Die twee is onafskeidelik aan mekaar verbonde.
So rig hierdie Psalm ons aandag op die HERE.
En nie net ons s’n nie, maar alle skepsels, tot hulle wat die eindes van die aarde bewoon (vers 9).
Dit is Hy wat die uitgange van die môre en die aand laat jubel.
Aan Hom behoort al die strome en riviere op aarde, standhoudend of seisoensgebonde.
Sy reënbuie voed hulle.
Dis Hy wat die vore en die kluite natmaak, die aarde deurweek, sodat ’n boer kan plant.
In vertroue op Hom gaan ons die seisoen tegemoet.
As Hy besluit om die reën skaars te maak, dan aanvaar ons dit geduldig uit sy voorsienige Vaderhand.
As dit sy plan is om hierdie seisoen ’n tyd van oorvloed te maak, om die jaar met sy goedheid te kroon, as sy voetspore gaan drup van vettigheid, dan gaan ons Hom dubbel daarvoor dank op Dankdag.
Aan God kom ‘n lofsang toe.
Aan Hom moet ‘n gelofte betaal word.
Op Biddag lê ons die gelofte af.
Op Dankdag sal ons dit inlos.
- Verhoring
Psalm 65 eindig deur die beloofde land te skets, hoe dit na ‘n jaar van oorvloedige reëns lyk.
Selfs die woestyne drup!
En inderdaad, niks is so uitbundig as ‘n woestyn nadat dit reën gekry het nie.
Dink aan Namakwaland en die Kalahari hier by ons.
Die weivelde is bekleed met troppe vee.
Die dale bedek met koring.
Of die HERE dit ook vir ons gaan gee in die nuwe seisoen, dit sal ons geduldig afwag, maar ons weet Hy kan!
Vir die wat op Hom alleen vertrou sal Hy sorg.
Dit is sy belofte.
Hulle sal nie aan bedelbrood hoef te knaag nie.
Hy is mos die een wat die berge gegrondves het.
Soos ons weet beïnvloed berge die klimaat.
As gevolg van berge reën dit op een plek baie, en op ‘n ander plek glad nie.
Maar dit is die HERE wat die berge gegrondves het daar waar hulle staan.
Voorts, sê Psalm 65, is Hy dit wat die oseane kan stilmaak.
Soos ons weet, het die oseane ook ‘n groot invloed op die klimaat.
Ons kry ons reëns uit die oseane.
Die makro-weerpatrone op aarde word bepaal deur die oseane.
Maar op hulle beurt, is dit die HERE wat die oseane kan laat opbruis of laat bedaar.
En, sê hierdie psalm, dit is ook Hy wat die rumoer van die volke kan laat bedaar.
Dit is moontlik dat die tempo waarmee die mensdom tans fossiele grondstowwe verbrand, weerpatrone ingrypend begin verander het.
Maar op sy beurt, sê hierdie Psalm, kan die HERE die rumoer van die volk laat bedaar.
Dit is ‘n troos.
Dus bo alles wat die weer kan beïnvloed, berge, oseane en mensdom, daarbo troon die HERE.
Laat die bewoners van die aarde Hom vrees.
Laat sy kinders Hom vertrou.
Aan Hom die lofsang gee.
As dit oor reën en droogte gaan, sien mens deur alle eeue ‘n teenstelling tussen geloof en ongeloof.
As die aardbewoners God nie prys en dank vir sy reën nie, laat dit in Sion, in sy kerk, wel gebeur!
‘n Goeie oes is nie ons reg nie.
‘n Goeie oes is ook nie ‘n boer, al is hy hoe ‘n goeie boer, se reg nie.
Met ‘n droogte bring die HERE ons weer tot die besef: Alles is genade!
Tot die besef dat ons in alle omstandighede, in voor- en teëspoed, dankbaar kan wees.
Welgeluksalig is die mens wie U uitkies om te woon in u voorhowe, versadig te word met die goeie van u huis.
Ja in sy huis vind ons nog veel meer as water, ons vind hier die lewende water!
Soos Christus gesê het: “Hy wat in My glo ... strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh 7:38)
Vandag, op 2019 se Biddag, nader ons die Hoorder van die gebed.
Dis net Hy wat reën uit die hemel kan gee, en selfs veel meer as dit.
Dis Hy wat die lewende water, sy eie Seun, uit die hemel gestuur het.
In Christus weet ons net nog soveel beter dat God alle dinge laat meewerk ten goede vir die wat God liefhet.
Ons vertrou die HERE luister, as ons vandag tot Hom bid.
Ons weet dit is sy reg, en Hy doen dit uit liefde, as Hy ons beproef.
Ons luister na Christus se ernstige waarskuwing, dat die buitenste duisternis wag vir hulle wat hulleself nie verootmoedig nie, en net heeltyd fout by ander vind.
‘n Paar weke gelede het ons op katkisasie die volgende Bybelteks uit ons kop geleer?
“Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” – Jeremia 14:22.
Met hierdie vertroue gaan ons ‘n nuwe seisoen tegemoet.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 65:1
Wet
Ps 65:2,3
Gebed
Skriflesing: Psalm 65
Ps 65:4-6
Teks: Psalm 65
Preek
Ps 65:7-9
Gebed
Kollekte
Ps 84:3,4
Seën