‘n Vaste burg is onse God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2019-11-10
Teks: 
Psalm 46
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 46

 

In die belydenisdokumente wat die belydenisgroep hierdie jaar geskryf het, het ek meer as een keer raakgelees dat hulle moontlik nie altyd in Suid-Afrika gaan bly nie, maar hulle geluk elders gaan beproef …

Wat is die rede hiervoor?

Wat is eintlik die geluk wat ons hier op aarde wil vind?

Is daar dinge in Suid-Afrika wat mens minder gelukkig kan maak?

Is daar dinge elders in die wêreld wat mens meer gelukkig kan maak?

Deesdae kry mens sogenaamde ‘life-coaches’ wat jou help om vir jouself ‘n lewensplan uit te werk.

Nou is die belydenisdokument nie ‘n lewensplan in daardie sin van die woord nie, hoewel daar ‘n hele paar vrae was wat die jongmense oor die toekoms moes laat nadink.

In die liturgieboekie vir hierdie erediens vind u enkele uittreksels uit daardie belydenisdokument.

En sonder uitsondering is dit duidelik op watter fondament hierdie jongmense hulle lewe wil bou.

Ek het daarom het ek as teks vir hierdie belydenisdiens ‘n Bybelgedeelte gekies wat ons ook direk na hierdie fondament terugneem.

Psalm 46 se refrein is wat dit betref duidelik: die HERE van die leërskare is vir ons ‘n bergvesting.

‘n Veelsprekende boodskap vir hierdie jongmense, en vir elkeen van ons.

 

Tema: ‘n Vaste burg is onse God

  1. ‘n Lied wat getuig oor God se beproefde hulp in die verlede
  2. ‘n Lied wat oproep tot onbevreesde vertroue in die hede

 

  1. ‘n Lied wat getuig oor God se beproefde hulp in die verlede

Gemeente, om hierdie psalm te verstaan en te waardeer, en regtig onder die indruk daarvan te kom, sal ons eers aandag moet skenk aan die historiese omstandighede waarin dit geskryf is.

Dit is geskryf deur die kinders van Korag.

Hulle was deel van die Leviete, wat diens gedoen het by die tempel in Jerusalem.

Die kinders van Korag was spesifiek gemoeid met die sang en musiek by die tempel.

Hierdie psalm is dus van hulle afkomstig.

Maar uit watter tyd presies?

Alles dui daarop dat hierdie psalm stam uit die spannende tye toe Assirië die wêreldmag was.

In die jaar 722 voor Christus val Assirië die tienstammeryk aan en kom die hoofstad Samaria tot ‘n val.

Dit was onderdeel van ‘n veldtog van die Assiriese koning na die westelike grense van sy wêreldryk.

In die westelike gebied was daar naamlik ‘n klomp kleiner koninkryke wat hulle opstandig teen Assirië begin gedra het.

Hulle het daarby die hulp ingeroep van Egipte.

Assirië wou hierdie opstande in die kiem smoor, en het dus met ‘n leër bestaande uit honderdduisende soldate, perde en strydwaens na die weste uitgeruk.

Twintig jaar na Samaria se val verskyn die Assiriese leër ook voor die poorte van Jerusalem.

Hierdie angstige tyd, asook die onverwagse afloop daarvan, dit is die historiese konteks waarbinne Psalm 46 ontstaan het.

 

Hierdie was die tyd van koning Hiskia.

Hy was die seun van ‘n geweldig goddelose koning, koning Agas.

Maar Hiskia het Godvresende ma gehad: Abi.

Sy het ‘n onuitwisbare invloed ten goede op sy lewe gehad.

Sy het hom geleer om werklik op God as Immanuël te vertrou.

Hierdie was ook die tyd van die profeet Jesaja.

Vir jare lank het Jesaja se profetiese prediking gewentel rondom die woord: Immanuël – God met ons.

Juda moes nie hulp soek by Egipte of by ander bondgenootskappe nie.

Allereers moes hulle opkyk na God, en by Hom hulp soek.

Jesaja se prediking het Hiskia se oë oopgemaak.

Assirië was in God se magtige hand die stok, waarmee Hy Juda wou tugtig (Jes 1-4).

In hierdie angstige tyd het Juda steeds meer sy vertroue op bondgenootskappe begin stel.

Vir die meeste in Juda het gegeld, nie dit wat in Psalm 46:2 staan nie, maar: Egipte is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede in hoë mate beproef.

Pleks van op God is daar op Egipte vertrou.

Jesaja is deur God ingeskakel om hierteen te waarsku: Wee hulle wat na Egipte trek om hulp.

Die Egiptenaars is mense, hulle is nie God nie.

Maar wat moes Juda dan wel doen?

Jesaja se raad was: Sê vir julle bondgenote:

Die HERE het Sion gegrondves.

Die ellendiges van sy volk sal daarin skuil (Jes 14:32).

Jesaja se boodskap is duidelik: Deur bekering sal julle verlos word, in stilheid en vertroue op die HERE.

Sion sal ontkom aan die gevaar deur reg te begin doen, geregtigheid na te jaag (Jes 1:27).

Soos ons weet, het slegs ‘n minderheid uit God se volk, ‘n res, na hierdie oproep geluister.

Onder hierdie res kan ons die Koragiete skaar, waaronder die digter van hierdie psalm.

Jesaja se profesie het toe uitgekom.

Hy het Juda gewaarsku dat hulle bondgenote nie betroubaar is nie, en dat Egipte ‘n geknakte rietstok is (Jes 36:6).

Toe die supergroot leër van Assirië opdaag, het die geallieerde bondgenote mekaar die een an die ander in die steek gelaat.

Selfs op die gerug van die Assiriese opmars het hulle al gesmelt.

Tirus en Sidon het hulleself sonder verset oorgegee.

En toe gebeur dit, in die 14e jaar van koning Hiskia, dat Assirië Juda binnetrek, Hulle maak die een dorp na die ander met die grond gelyk.

Die platteland word verwoes.

In ou Assiriese bronne word melding gemaak dat meer as 200 000 duisend mense uit Juda deur hulle saamgevoer word, en ook baie vee.

Daar word ook genoem dat Jerusalem met sy koning Hiskia omsingel is, soos ‘n voël toegesluit in ‘n hokkie.

Waar het bondgenoot Egipte nou gebly, toe Juda hulle die meeste nodig gehad het?

Van Egipte is geen taal of teken verneem nie.

 

En wat doen Hiskia nou?

Hiskia betaal miljoene om die Assiriese beleg van Jerusalem af te koop.

Desondanks eis die meedoënlose Sanherib nog steeds die stad op.

Sy woordvoerders skreeu na die Judese soldate op die mure, dat hulle nou maar moet ophou om op Jahweh te vertrou.

Die beleëring duur voort, met die doel om, as Hiskia sy stad nie oorgee nie, dit heeltemal uit te honger.

 

Maar op hierdie oomblik sien ons hoe Hiskia se ma, Abi, se invloed op haar seun die deurslag gee.

So dikwels al was dit ‘n ma wat haar kind se lewe gered het.

‘n Ma wat onopvallend agter die skerms elke dag daar was vir haar kind.

Haar kind in elke dag se lewe op God leer vertrou het.

En so pluk die hele volk nou die vrugte van die godvresende opvoeding wat sy vir Hiskia gegee het.

Hiskia trek rouklere aan en begeef hom na die huis van die HERE (2 Kon 19:1).

En wie se raad vra hy?

Hy stuur ‘n gesantskap na die profeet Jesaja, die profeet wat alle hooggeplaastes in Jerusalem goed geken het, maar na wie niemand wou luister nie.

Hiskia vra voorbede vir die reddelose stad.

Hiskia beroem hom nie op sy eie werke nie.

Hy stuur ‘n brief saam wat hy van Sanherib ontvang het, waarin die naam van die HERE van voor tot agter gelaster word.

Sal dit HERE toelaat dat dit ongestraf bly?

 

En gemeente, dan gryp die Engel van die HERE in.

Die Engel van die HERE, dit is God se eie Seun, Jesus Christus, soos ons Hom uit die Nuwe Testament ken.

Hy knak die geweldige groot leër van Assirië in een nag.

Toe die son die volgende oggend opkom, blyk dat daar 185 000 dooies in hulle kamp was!

Daar was vir Sanherib geen ander keuse as om stert tussen die bene na sy hoofstad terug te keer nie (2 Kon 19:35v).

 

Gemeente, hierdie is dus die historiese agtergrond van Psalm 46.

Dit was ‘n tyd waarin nasies gebruis en koninkryke gewankel het (vers 7).

Die HERE se onverwagse uitredding was die aanleiding waarom hierdie gedig, hierdie loflied, gebore is.

 

Nou kon Juda weer opgelug asemhaal.

Die vlugtelinge uit die platteland wat halsoorkop na Jerusalem gevlug het, kon weer terugkeer na hulle plase.

En noudat Sanherib die aftog geblaas het, het die oomblik aangebreek om die HERE vir die uitredding te dank.

Daarin het die Leviete die voortou geneem.

En, soos genoem, onder hulle was veral die Koragiete as die sangers en ook as die psalmdigters.

Aan die HERE is die verskuldigde dank gebring, omdat Hy alweer bewys het dat Hy ‘n toevlug, ja ‘n rotsvesting vir sy volk is.

Hierdie is die refrein van Psalm 46: God is ‘n bergvesting vir sy volk.

As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.

Daardie woord, benoudheid, het Hiskia ook gebruik, die dag toe hy sy rouklere aangetrek het.

Sien 2 Konings 19:3: “So sê Hiskia: Vandag is ‘n dag van benoudheid en straf en lastering”.

Gemeente, ‘n stad wat beleër word, was iets verskrikliks.

Die bevolking het die dood in die gesig gestaar.

En in die tussentyd is hulle steeds meer uitgehonger, totdat hulle hulle eie drek en urine begin eet en drink het, soos die profeet Jesaja al geprofeteer het (Jes 36:12).

In die tussentyd het hulle tevergeefs op die geknakte rietstok Egipte gewag.

Maar die Engel van die HERE was ‘n staatmaker.

Indien julle Hom soek, sal Hy Homself laat vind.

Maar indien julle Hom verlaat, sal Hy julle vir altyd verstoot (1 Kron 28:9)

Die HERE het Homself weereens as die betroubare Een bewys.

Ja, selfs al waggel die aarde, al wankel die berge weg in die see.

Die Koragiete dig hier met die sterkste bewoording wat hulle kon bedink.

Die HERE is met ons – Immanuël!

 

Vir jare het Jesaja teen die volksopinie in geprofeteer.

Egipte is nie betroubaar nie.

Toe die nood op sy hoogse was, het die HERE sy Engel gestuur.

Hy alleen kon in een nag 185 000 Assiriese soldate dood.

Sanherib kon dosyne en dosyne versterkte stede inneem, maar die God van Jakob was vir sy volk ‘n rotsvesting.

Hiskia het bely: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ‘n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God” (2 Kronieke 32:7-8).

In hierdie uur van benoudheid het Hiskia teruggekeer tot dit wat sy ma hom geleer het: Immanuël.

God is met ons.

Verwag die onmoontlike van Hom, Hy sal nie teleurstel nie.

Bly by Hom, daar is jy veilig.

 

Die Koragiete kontrasteer die bruisende waters van die onstuimige volkeresee met die stroompies van die Godstad.

In Jerusalem is die HERE se aanwesigheid soos lewende water, wat deur die stad vertak en almal blymaak.

‘n Lieflike rivier.

Jerusalem het nie ‘n standhoudende waterfontein gehad nie.

Die HERE was dit vir die stad.

Die seën wat vanaf die tempel uitgaan word vergelyk met die seën van ‘n rivier vir ‘n stad.

Uit God se huis vloei daar ‘n stroom van seëninge.

 

En omdat God in hulle midde is, sal dit nie wankel nie.

God sal help as die dag aanbreek (vers 6).

Hy is die Grootkoning, voor wie elke koning op aarde die knie moet buig.

Sanherib het dit na daardie een nag ervaar.

En Hiskia en die volk het weer geleer:

Dis nie supermagte op aarde wat God se volk beskerm nie.

Dis nie groot wêreldleiers, of organisasies of bondgenootskappe van alliansiegenote nie.

Deur alle eeue sal God se kinders getuie wees van die feit dat nasies bruis en koninkryke wankel.

Geen supermag bly altyd aan bewind nie.

Sanherib het opgeruk om orde te herstel in die suidwestelike hoek van sy wêreldryk.

God het hom stert tussen die bene teruggestuur huistoe.

Dit is die waarheid wat die Koragiete al singende die volk voorhou.

God verhef sy stem.

Wêreldmagte en wêreldoorloë is in sy hand.

Assirië het geskrik vir die HERE se stem.

Hulle het sy roede danig gevoel.

Ja selfs die heidene het sy oppergesag erken.

 

(Tema: ‘n Vaste burg is onse God

  1. ‘n Lied wat getuig oor God se beproefde hulp in die verlede)

 

2. ‘n Lied wat oproep tot onbevreesde vertroue in die hede

Geliefdes, glo ons vandag nog dat wêreldmagte in God se hand is?

Psalm 46 se refrein het vir ons ‘n belangrike boodskap.

Die HERE van die leërskare is met ons, die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons (vers 8).

Deur skande en skaamte moes God se eie volk dit opnuut leer.

Dertig jaar eerder het die goddelose pa van Hiskia, koning Agas, juis die Assiriërs se hulp ingeroep.

Die Assiriërs het toe gekom en God se tempel geskend.

Die voorportaal is toegesluit, die lampe doodgeblaas, geen reukwerk aan die brand gesteek, geen brandoffer meer gebring nie (2 Kron 29:7).

Agas het selfs ‘n Assiriese altaar in die tempel geplaas (2 Kon 16:10-15).

So het Agas en saam met hom die hele Juda die Assiriërs as ‘n stok van die HERE uitgenooi, om hulle te kom slaan.

Dit was net genade dat God vir Hiskia ‘n Godvresende ma gegee het.

Met Hiskia het die volk weer teruggekeer na die HERE.

Hy het die tempel gereinig, die tempeldiens herstel (2 Kron 29:34).

Die pasga kon weer gevier word (2 Kron. 30:1-31).

Terwyl die noordelike ryk in ballingskap gevoer is, het die HERE vir Juda nog ‘n eeu van uitstel gegun.

Hiskia se skuldbelydenis en terugkeer tot die HERE het sy brandende toorn afgewend.

 

Dit is dan ook waaroor die laaste deel van Psalm 46 handel.

Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring.

Hy laat toe dat verskriklike oorloë ontstaan, maar Hy bring hulle ook weer tot rus.

Die Koragiete roep ons op om God se hand in die wêreldgeskiedenis te sien.

Glo ons vandag werklik nog, heel prakties, dat God die wêreldpolitiek lei?

Ervaar jy onrus en oorloë as die roede, die stok van die HERE?

Hiskia het daardie les geleer.

Hy en sy stad is gered, nie danksy slim politieke raadgewers nie.

Ook nie omdat hy op die geallieerde bondgenootskap van volke rondom hom, wat ook kwaad was vir Assirië, vertrou het nie.

Ook nie omdat hy op die grootmag Egipte vertrou het nie.

Hy en sy stad is gered deur die kinderlike vertroue wat sy ma hom bygebring het.

 

Totaal onverwags het daar vrede aangebreek, en het Jesaja se woorde uitgekom, dat die swaarde weer tot pikke omgesmee is, en die spiese tot snoeimesse (Jes 2:4).

Die HERE se Engel het slegs enkele woorde gespreek: Hou op! Weet dat Ek God is! (vers 11)

En toe het dit in die kwessie van een nag opgehou.

 

Nou is daar nog een aspek van hierdie psalm wat aandag moet kry, gemeente.

En dit is dat hierdie lied van die Koragiete, so vol uitbundige blydskap, so vol van vaste vertroue, nie sommer op elke situasie toegepas kan word nie.

God se volk het dit self met skade en skande geleer.

Want ruim honderd jaar later, toe Jerusalem weer omsingel is, hierdie keer deur die Babiloniërs, toe het Psalm 46 heel moontlik geklink in die stad.

En ook ruim 500 jaar later, 70 na Christus, toe die Romeine Jerusalem omsingel het, het die Jode hierdie psalm ook weer uit die kas gehaal.

Maar hierdie kere was dit tevergeefs.

Die Babiloniërs, en later weer die Romeine, het Jerusalem ingeneem, die stad en tempel verbrand.

Hoe kon dit gebeur?

Daar was ‘n belangrike verskil.

Die verootmoediging, waarin Hiskia die volk voorgegaan het, was toe nie daar nie.

Christus het geprofeteer oor die stad Jerusalem: “Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom” (Luk 17:37; Matt 24:28).

Die afvallige volk was soos ‘n liggaam, ‘n dooie lyk, wat gelê en wag het vir die vyande om saam te drom.

Dit leer ons dat ons, God se kinders, nie Homself en sy uitredding vir onsself kan claim, as ons ons nie voor Hom wil verootmoedig nie.

Die Jode wat die Messias gedood het, hoe kon hulle nog op God se beskerming reken?

Psalm 46 is ‘n lied van uitredding, spesifiek gesing deur hulle wat gebroke is van hart.

 

So was Psalm 46 ook Martin Luther se geliefde psalm.

In die gesig van ‘n oormag waarteen hy nie opgewasse was nie, het hy gevlug na die vaste rotsvesting.

‘n Vaste burg is onse God.

Hy is ‘n God van onverwagte uitreddinge.

Dit mog Martin Luther, net soos koning Hiskia, ervaar.

 

Geliefdes, en in besonder julle jongmense wat van vandag belydenis doen, mag julle dit ook so gaan ervaar in die toekoms.

Soos Jerusalem standgehou het teen die Assiriërs, so is die HERE jou bergvesting.

Jerusalem het nie standgehou op eie krag nie.

Dis net omdat God daar binne-in was, dat dit standgehou het.

 

As ons na die wêreldgebeure vandag rondom ons kyk, sien ons ook baie onseker faktore.

Hier in ons eie land sien ons des te meer onseker faktore.

Soos ek aan die begin van die preek na verwys het, sommige van hierdie belydeniskatkisante vra hulleself nou al af of hulle in hierdie land hulle toekoms moet opbou.

Hulle voel dalk onseker – sal ek myself en my gesin in hierdie land ‘n goeie toekoms kan bied?

Onwillekeurig voel ons die neiging om dan steun te soek by ander moëndhede, buite Suid-Afrika.

Australië bied dalk meer stabiliteit.

Ons soek ook onwillekeurig steun by die Westerse wêreld.

Daar is ons manier van lewe meer gegarandeerd.

Ons kyk op na die wêreldleiers.

Trump doen darem wat hy beloof het.

Amerika beskerm darem ons tipe mense se belange.

En so, voor ons dit besef, is ons besig om te gryp na geknakte rietstokke om op te steun.

Wie weet gaan die 21ste eeu die eeu van die ondergang van die so welvarende Westerse wêreld wees.

Lande wat vandag stabiel en welvarend lyk, wie sê hulle gaan dit altyd wees?

Laat ons die waarheid onder oë sien: Ook die Westerse wêreld, ook Amerika het afvallig geword.

En as daar nie verootmoediging is nie, kan ons God se uitredding nie claim nie.

 

Verstaan my goed, jongmense, ek sê nie dis verkeerd om in die buiteland te gaan bly nie.

Julle moet julle wel afvra: Op watter fondament bou ek my lewe?

As materiële welvaart vir jou ‘n belangrike faktor is, dan sal dit dalk beter vir jou wees om hier in Suid-Afrika te bly, waar dit miskien steeds moeiliker gaan word om die Westerse vlakke van welvaart te handhaaf.

Maar as daar hier in Suid-Afrika vriende of familie is, wat jou moontlik gaan verlei tot ‘n oppervlakkige geestelike lewe, in daardie geval is dit dalk beter om buiteland toe te verhuis.

Verstaan julle, dit gaan aan die einde van die dag oor jou prioriteite in die lewe.

Verootmoedig jy jou soos Hiskia, soek jy jou sekuriteit in die rotsvesting van Psalm 46?

Stel jy al jou vertroue op die Engel van die HERE?

Hy wat met sy kosbare bloed jou gekoop en verlos het?

Ja stel jou onbevreesde vertroue op Hom!

Hy is jou rotsvesting.

Daar kan jy skuil deur al die storms van die lewe.

 

Na die verskriklike benoudhede met die Assiriese beleg van Jerusalem, roep die Koragiete die volk terug.

Keer terug na Hom wat die enigste toevlug in die nood is!

So roep ek julle vandag ook op: soek jou sekerheid in die rotsvesting van die HERE van die leërskare.

Waar jou lewenspad ook heen mag lei, of jy jou gaan vestig hier in Pretoria, of in Kaapstad, of in Perth, of in Nieuw-Seeland, Canada, Amerika, China, Nederland, Engeland.

Waar jy ook al neerstryk, sorg dat jy in die Godstad bly.

Vrede, welvaart en voorspoed moet nie jou hoofprys in die lewe wees nie.

Maar dat jy en jou gesin, as die HERE jou dit skenk, bly drink uit die rivier van lewende water.

Die HEER is daar, Hy hou die wag; so gaan die donker uur dan om.

Ja ons sien uit na die finale bevryding van die beleëring, daardie dag as die Engel van die HERE op die wolke verskyn om finaal terug te kom.

Ja ons lewe is aan Hom toegewy, ons Here Jesus Christus!

Sy oorwinnings laat ons elke keer weer verbaas staan, laat ons elke keer weer lofprys!

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 10 November 2019 AD, 10:00 (Openbare Geloofsbelydenis)

 

Votum

Seën

Ps 46:1

Wet

Ps 34:1,6

Gebed

Skriflesing: 2 Konings 18:1-6, 28-38 & 19:1-7, 15-37

Ps 34:4

Teks: Psalm 46

Preek

Ps 46:4-6

Openbare Geloofsbelydenis

Seën oor hulle wat geloofsbelydenis afgelê het

Psalm 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 46:2,3

Seën