Preek – Intrede VGK Pretoria – 01/12/2019
Lees: Lukas 5:27-32, 18:9-14, 19:1-10; Handelinge 1:12-14
Geliefde broeders en susters in ons Here Jesus Christus,
Dominee Boon het vanoggend se erediens gelei aan die hand van Jesus se roeping van die tollenaar Mattheus (oftewel, Levi, soos wat hy in Markus en Lukas genoem word). Jesus het Mattheus van sy tolhuis – sy winsgewende bedryf – af weggeroep met die woorde: “Volg My.” “En Mattheus het opgestaan en Hom gevolg.” Jesus maak van hierdie tollenaar sy dissipel, sonder om eers van hom ‘n Fariseër te maak, só het ons gehoor. Hy word ‘n volgeling van die Messias van Israel; meer nog, hy word ook ‘n gestuurde, ‘n apostel, van die evangelie. En met dié boodskap is ek vanoggend aan hierdie gemeente, aan u, verbind – ‘n sondaar wat gered is, en wat geroep word om daardie goeie nuus ook aan ander, in die besonder aan hierdie gemeente, te verkondig. En hierop wil ek in vanaand se erediens voortborduur…
Want die roeping van Mattheus is natuurlik nie die enigste keer dat daar in die sinoptiese evangelies oor die tollenaars gepraat word nie (en as ek praat van die sinoptiese evangelies, dan bedoel ek daaarmee die evangelies volgens Mattheus, Markus en Lukas; hierdie drie saam word die sinoptiese evangelies genoem. Die evangelie volgens Johannes het ‘n effens ander karakter en staan daarom dikwels ‘n bietjie apart; en interessant genoeg word daar in die Johannes-evangelie nie een keer na die tollenaars verwys nie). Maar in die sinoptiese evangelies kom ons die tollenaars steeds weer teë. En dit geld in die besonder vir die evangelie volgens Lukas. In al die belangrikste fases van Jesus se lewe en werk bring Lukas die tollenaars op die toneel, verskeie kere met unieke materiaal wat ons nie by die ander evangelies vind nie:
- ons kom die tollenaars teë tydens die bediening van Johannes die Doper, waar Johannes, in antwoord op die vraag van die tollenaars wat hulle moet doen, aan hulle die opdrag gee om nie méér in te vorder as wat aan hulle voorgeskrywe is nie (Luk. 3:12-13);
- daarna ontmoet ons die tollenaars tydens Jesus se Galilese bediening, die periode waarin Jesus spesifiek in die noorde, in Galilea gewerk het - dit is waar ons die geskiedenis vind van die roeping van Levi/Mattheus en die maaltyd in sy huis (Lukas 5:27-32);
- vervolgens ontmoet ons die tollenaars weer tydens Jesus se opgang na Jerusalem; nou, Jesus se opgang is ‘n periode in sy lewe wat Lukas vanaf hoofstuk 9:51 aan ons beskryf; ons lees daar: “En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis.” En vanaf daardie oomblik tot by sy intog in Jerusalem in hoofstuk 19 bevind ons onsself saam met Jesus oppad na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word – en binne hierdie uitgebreide reisbeskrywing vind ons die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar wat altwee na die tempel gegaan het om te bid, ‘n gelykenis wat ons slegs in Lukas se evangelie vind (Luk. 18:9-14);
- en ten slotte ontmoet ons die tollenaars weer kort voor Jesus se intog in Jerusalem, wanneer Saggeus (‘n hoof van die tollenaars) in ‘n boom klim en daar deur Jesus ontdek word (weereens ‘n verhaal wat net in Lukas voorkom; Luk. 19:1-10).
Dis asof die tollenaars ‘n lyn is – ‘n tema! – in Lukas se evangelie. Waarskynlik nie die hooftema nie, maar sekerlik ‘n subtema. En daardie lyn wil ek vanaand saam met u volg. Dus, ek preek vanaand nie uit een spesifieke teks nie, maar ons volg die tollenaarslyn in Lukas se evangelie. Want dit bring ons by die hart van die evangelie – daardie evangelie wat ek van vandag af hier mag bring. En dit toon ons die karakter van die kerk – die kerk waarvan ook hierdie gemeente deel is. Ek verkondig aan u:
Tema: Lukas se penskets van die gemeente van tollenaars waar die Geneesheer berou en nuwe lewe werk…
- Die Geneesheer en sy vriendskap
- Sondaars en hul berou
- Tollenaars en hul nuwe lewens
1. [Lees Lukas 5:25-32]
Ek het die Skriflesing begin by die einde van die vorige perikoop – daar gaan dit oor die genesing van die verlamde man, wie se vriende hom deur die oop dak tot voor Jesus laat afsak het. En wat sien ons aan die einde van hierdie verhaal? Hoe reageer die skare nadat die verlamde man sy bed opgeneem en huistoe gegaan het? Verbasing gryp hulle aan! Hulle verheerlik God: “Ons het vandag ongelooflike dinge gesien!” (Luk. 5:26). En dádelik daarop (vers 27: “en ná hierdie dinge…”) volg dan (in al drie die sinoptiese evangelies!) die roeping van Levi – die tollenaar, die sondaar, wat ‘n volgeling van Jesus word. In Mattheus, Markus en Lukas se evangelies vind ons presies dieselfde: eers die genesing van die verlamde man, en dadelik daarna die roeping van Levi. Asof Jesus wil sê: “Julle dink julle het ongelooflike dinge gesien? Ja, natuurlik is dit ongelooflik dat verlamdes loop, en dat blindes sien, en dat siekes gesond word. Maar ek sal julle wys wat werklik ongelooflik is. Want dit is nog soveel wonderliker dat tollenaars volgelinge van die Messias word; dit is nog soveel aangrypender dat sondaars genees word van hulle dodelike siekte!”
En om hierdie aansluiting by die geskiedenis van die genesing van die verlamde man te bevestig, maak Jesus aan die einde van die gedeelte wat ons saam gelees het, gebruik van presies dieselfde beeld. Die beeld van genesing, van die geneesheer: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is” (Luk. 5:31). In ‘n sekere sin kan ons sê dat die genesing van die verlamde man ‘n voorspel is, ‘n klein inkykie in wat hierdie hemelse Geneesheer wérklik kan doen. Hy kan korrupte en gehate tollenaars tot bekering bring, Hy kan sondaars tot lewe bring uit hulle geestelike dood. Mattheus is die lewende bewys hiervan! Dis ons Geneesheer, broers en susters – Hy is die rede vir ons bestaan as gemeente, Hy is die rede vir my roeping as bedienaar van die Woord, Hy is die middelpunt waarom ons verbintenis draai, Hy is die rede waarom ons nie ophou om die evangelie te verkondig nie. Want Hy genees sondaars!
Maar waar is dan die verbasing, wat ons ná die genesing van die verlamde man gesien het? Waar is die verheerliking van God? Ons hoor niks daarvan nie. Dis asof die skare verdwyn het. Al wat ons hoor is die gekla van ‘n groepie skrifgeleerdes en Fariseërs: “Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?” (vers 30). En as ons nou twee hoofstukke verder blaai – hoofstuk 7:34 – dan word hierdie klag die direkte aanleiding vir die beskuldiging wat ons dáár vind: “Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is ‘n mens wat ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” Die hemelse Geneesheer, wat op aangrypende wyse die verlamde man op sy voete laat staan het, word nou neerhalend die ‘vriend’ van tollenaars en sondaars genoem.
En weet u, gemeente, ironies genoeg is dit presies wat Jesus is. Hierdie geneesheer is inderdaad die vriend van tollenaars en sondaars. Maar op ‘n ander manier as wat die Fariseërs dit bedoel het. Jesus se vriendskap lê nie daarin dat Hy hom met die tollenaars en sondaars vereenselwig, dat Hy hom met die wanpraktyke van die tollenaars en die sonde van die sondaars inlaat nie. As vriend wandel Hy nie in die raad van die goddelose, en staan Hy nie op die weg van die sondaars, en sit Hy nie in die kring van die spotters nie (soos Psalm 1:1 daaroor praat). Ons sou sy vriendskap verkeerd beoordeel as ons dit net sou sien in die lig van die maaltye wat Hy met die tollenaars en sondaars genuttig en die kontakte wat Hy met die hoere onderhou het. Sy vriendskap is ‘n egte vriendskap. En egte vriende is daar vir mekaar, maar egte vriende vertel mekaar ook die waarheid wanneer dit nodig is. In Jesus se vriendskap met die tollenaars en die sondaars en die hoere en die heidene (terloops, hierdie groepe word in die evangelies dikwels in een asem genoem), sien Hy nie hulle sonde oor die hoof nie, maar roep Hy hulle kragtig op tot bekering. Dit is waarmee Hy sy roeping van die tollenaar Mattheus in Lukas 5:32 ook afsluit: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” En dit is nie slegs by Levi die geval nie, maar dit is die patroon van Jesus se hele bediening! Só ontvang die boetvaardige sondares, wat Jesus se voete gesalf het, vergewing van sondes vanweë die oorvloedige liefde wat sy toon (Luk. 7:44-50); en só kan Jesus vir die owerspelige vrou in Johannes 8 sê: “Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). En in Lukas 15:1 lees ons dat die tollenaars en sondaars die gewoonte gehad het om na Hom te kom en na Hom te luister. En wanneer die Fariseërs en skrifgeleerde – weereens! – hieroor kla, dan vertel Jesus aan hulle die gelykenisse oor die afgedwaalde skaap en die verlore penning, en sluit dit af met die woorde: “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor elke sondaar wat hom bekeer” (Luk 15:10). In al hierdie gedeeltes wys Jesus wat uiteindelik die doel is van sy omgang met die tollenaars en sondaars – hulle bekering, hulle redding. Dit is wat sy vriendskap so eg en so kosbaar maak.
Wat ‘n vriend het ons in Jesus! Nee, nie soos wat die ietwat soetsappige liedjie dit beskryf nie – ‘n Jesus wat voel met al ons swakheid en wat wil deel in al ons leed; dierbare Heiland, onse toevlug, aan sy boesem is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer. Ja, dit ook. Maar nie net dit nie. Jesus Christus is ‘n vriend vir tollenaars en sondaars omdat Hy ons kan en wil genees van die dodelike siekte van die sonde; Hy is ‘n vriend vir tollenaars en sondaars omdat Hy ons eerlik wys waar die probleem lê en wat die oplossing is. En in ons verbintenis met mekaar – predikant en gemeente – is dít die Geneesheer en Vriend wat ons nodig het, en is dít die Geneesheer en Vriend wat ek van voorneme is om aan u te verkondig. Die Geneesheer wat bereid is om met tollenaars en sondaars, met hoere en heidene vriendskap te beoefen – en hier sit hulle; hier staan hy. Maar Hy doen dit met die oog op ons genesing! En daarom sal ook die oproep klink – soms hard, soms pynlik – om ons te bekeer van ons verkeerde weë. Hierdie Jesus mag en wil ek aan u verkondig. Hierdie tollenaar sal nie onnodige tolgelde aan u oplê nie, maar hy gaan wel die Christus in sy volheid aan u voorhou. In die prediking, in die katkisasie-klasse en in die huise. Wees dan soos die tollenaars en die sondaars, en luister graag na Hom. En wanneer daar bekering kom, laat ons ons daaroor verwonder! Dan sal dit met ons gemeente goed gaan, dit mag ek u verseker.
Ons let vervolgens op sondaars en hul berou.
2. Ons het reeds in Lukas 5:32 gesien dat Jesus gekom het om sondaars tot bekering te roep – en dit sal, soos ek gesê het, ook in my taak as predikant uitkom. Maar hoe reageer ons daarop? Wat doen ons met die oproep tot bekering wat van Jesus uitgaan in die weg van die prediking? Wat doen ons wanneer ‘n huisbesoek ons raak op daardie plekke in ons lewens waar dit seermaak? Hoe reageer julle, jongmense, wanneer in die katkisasieklas ‘n sonde in jou lewe aangespreek word? Kom ons volg die tollenaarslyn verder: lees Lukas 18:9-14.
In Lukas 18 is Jesus al ‘n geruime tyd op reis na Jerusalem, daar waar die hoogtepunt van sy lewe hier op aarde vir Hom wag. Hy is oppad om die beker te gaan drink wat die Vader vir Hom bestem het. En op sy pad gaan ‘n verdeelde skare met Hom saam. Een deel van die skare luister graag na Hom; ons sien dit in Lukas 15:1: “En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.” Die ander deel, egter, het ‘n houding van vyandigheid. Húlle vind ons in Lukas 15:2: “En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Die tollenaars aan die een kant, die Fariseërs aan die ander kant. En dit is hierdie einste twee groepe wat Jesus nou in hoofstuk 18 gebruik as verteenwoodigers van twee verskillende houdings teenoor sy boodskap, twee verskillende houdings jeens Homsélf.
’n Fariseër en ‘n tollenaar gaan na die tempel om te bid – dit is ‘n gelykenis, maar die gelykenis weerspieël die werklikheid. Die houding waarmee die twee bid, verskil radikaal van mekaar. Die Fariseër se houding weerspieël presies waarom Jesus hierdie gelykenis vertel: hy ag sy eie goeie werke voldoende en hy spreek sy dankbaarheid teenoor God uit dat hy nie soos die tollenaar en ander soortgelyke sondaars is nie. Let wel, Jesus ontken nie dat die Fariseër se werke goed is nie; Hy ontken ook nie dat die Fariseër in baie opsigte ‘n beter lewe lei as die tollenaar nie. Maar nogtans sê Jesus aan die einde van sy gelykenis: elkeen wat homself verhoog, sal verneder word. Ook die regverdige Fariseërs, wat sonder twyfel ‘n beter lewe as die tollenaars gelei het, moet hulleself voor die gesag van Jesus verneder. En dit is presies wat hulle nie wou doen – reeds toe Johannes die Doper, nog vóór Jesus se bediening, hulle tot boetedoening opgeroep het, het hulle geweier om hulle te laat doop; en ook voor die eenvoudige rabbi uit Nasaret wil hulle nie buig nie. Hoe anders is dit met die tollenaar, wat ver weg bly staan, wat selfs sy oë nie na die hemel wou ophef nie, en wat met gebare van berou en spyt die Here smeek om hom, ‘n sondaar, genadig te wees. Dit is hierdie einste tollenaars wat hulleself deur Johannes in die Jordaan laat doop het en wat saam met ander sondaars Jesus se geselskap opgesoek het. Hulle, sê Jesus, sal verhoog word; hulle gaan geregverdig huistoe.
Gemeente, dit is die houding wat pas by tollenaars en sondaars. Dit is die houding wat pas by enige mens wat met die gesag van Jesus gekonfronteer word. Selfs voor sy verhoging was dít die houding wat Jesus geëis het, hoeveel te meer noudat Hy verhoog en verheerlik is. Die verhoogde Here wil saam met sy gemeente van tollenaars eet en drink (pragtig sien ons dit aan die nagmaalstafel), Hy wil ons vriend wees, maar dan roep Hy ons op tot ‘n houding van nederigheid, van berou, van spyt. Wanneer die prediking jou aanspreek in jou lewe, wanneer jy deur ‘n ampsdraer tydens ‘n huisbesoek vermaan word, wanneer ons mekaar – jy vir my en ek vir jou – aanspreek op sonde of tekortkomings, dan vra dit dat ons nederig en berouvol sal buig voor die gesag van Jesus Christus. Dis moeilik, dis soms baie pynlik, maar só kom daar blydskap in die gemeente én in die hemel, só kom daar redding vir kinders van Abraham.
En as iemand nie so ‘n houding het nie? As iemand na die vermaning van Jesus Christus, ook by monde van die ampsdraers of ander mede-gelowiges, nie wil luister nie? As iemand hom willens en wetens verhard? Wel, sê Jesus in Mattheus 18:17, laat hom dan vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Sien u, daar kry ons hulle weer – die tollenaars. Iemand wat nie na die vermaning van die Woord wil luister nie, word uiteindelik van die gemeente afgesny en word vir ons soos die heiden en die tollenaar. En ons moet sover as moontlik van hulle wegbly en hulle vermy, of hoe? Ja, die Fariseërs het hulle vermy; volgens die Fariseërs was hulle onrein, volgens die leiers van die volk was die tollenaars se getuienis in ‘n hofsaak niks werd nie, volgens die leiers kon hulle liefdesgawes ook nie aangeneem word nie. Maar die Vriend van heidene en tollenaars wys vir ons ‘n ander weg. Hierdie Geneesheer soek hulle op! En dit is presies wat ons ook mag doen – as iemand na die vermaning en tug nie wil luister nie, dan word hy/sy vir ons soos die heiden en die tollenaar. En wat maak ons met die heiden en die tollenaar? Wel luister maar na die woorde van die Formulier vir Uitsluiting: “Ons vermaan u om hom/haar nie as ‘n vyand te beskou nie. Inteendeel, probeer om hom/haar te vermaan soos u ‘n medegelowige sou vermaan.” Dit is die weg van vriendskap wat Jesus ons gewys het. Ons soek die heiden en die tollenaar op, en ons roep hulle op tot berou en bekering. Ons wys vir hulle die weg van die tollenaar in die tempel: wees my, sondaar, genadig. En self beoefen ons daardie weg dag vir dag teenoor mekaar. Ek teenoor jou: “Jy is reg, broeder, ek sal dit anders doen; Here, vergewe my.” En jy teenoor my: “Dankie, ek sal luister na die vermaning, want ek hoor daarin die roepstem van die Here.”
Dit is die houding in die gemeente van tollenaars. Dit is die houding waartoe ons almal vanaand opgeroep word. Ons verhouding is nuut, ons sien saam uit na die toekoms. Maar daar gaan tye kom dat ons mekaar sal moet vermaan, daar gaan tug kom, daar gaan soms pynlike woorde moet val.... van vriende! En dan wys die tollenaar in die tempel ons die regte houding teenoor Jesus Christus: “Here, wees my, sondaar, genadig. Dat die Here dit in elkeen van ons sal werk wanneer ons saam voor sy aangesig as gemeente lewe.
Dan is daar nog een gedagte waarop ons moet let: tollenaars en hulle nuwe lewens.
3. Ons tel nog een keer die draad van Jesus se lewensgang op. En ons doen op sy laaste stop voordat Hy Jerusalem ingaan om die wil te doen van sy Vader in die hemel. En daardie laaste stop is Jerigo. Ons lees Lukas 18:42-19:10.
Hier kry ons iets soortgelyks as wat ons in Lukas 5 gesien het: Jesus genees die blinde man van Jerigo, en hy sowel as die skare het God verheerlik en aan Hom die lof gegee. En dadelik daarop volg dan die bekende verhaal van Saggeus. Weereens is dit asof Jesus wil sê: “Hier – in hierdie kort mannetjie – sien julle nou die egte wonder, naamlik dat ‘n tollenaar – nee, meer nog: ‘n hoof van die tollenaars (sien u die klimaks waarnatoe Lukas opbou!) – dat hierdie hoof van die tollenars ook ‘n seun van Abraham is. Hier kom Lukas se aandag vir tollenaars as’t ware tot ‘n soort hoogtepunt – hierdie hoof van die tollenaars was verlore, maar die Seun van die mens het gekom om ook hom te soek en te red. Maar daar is nog ‘n ekstra element wat bykom, ‘n element wat ons help om Lukas se prentjie van die tollenaars heeltemal in te kleur. En dit is die effek wat Jesus se verlossingswerk op Saggeus se lewe het. Wanneer Jesus roep, klim hy sonder enige aarseling uit die boom en hy ontvang Jesus met blydskap in sy huis. En wanneer die skare vervolgens murmureer omdat Jesus by ‘n sondige man tuisgegaan het, dan blyk dat Saggeus se blydskap nie sommer oppervlakkige skyn was nie. Saggeus word deur die Here daartoe gebring om sy blydskap om te sit in dade van liefde en regverdigheid. Hy gee die helfte van sy goed aan die armes (daar is die liefde), en hy belowe om vierdubbel terug te gee as hy iets van iemand afgepers het (daar is die regverdigheid).
En hier word vir die hele skare die wonder van Saggeus se bekering ‘n tasbare werklikheid. ‘n Arme bedelaar vóór Jerigo leer om te sien, en ‘n ryk sondaar ín Jerigo leer om te gee. En die laaste wonder is groter as die eerste, want onthou: dit is vir ‘n ryk man moeiliker om in die Koninkryk van God in te gaan as vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan. Hier pas dit nog soveel te meer om God te loof vir sy wonderwerk! Maar weereens swyg die skare; hulle swyg in alle tale. Maar Jesus kan nie swyg nie: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom!” Jesus wys hoekom Hy op aarde gekom het en wat die doel is van sy reis deur Jerigo na Jerusalem: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” So wys Jesus sy mag en gesag bó die van die Romeinse keiser – ons weet dat die keiser van daardie tyd hard probeer het om die moraliteit – die etiek – onder sy onderdane te verbeter; hy het geweet van die korrupsie onder die tollenaars. Hy het hard gewerk om dit uit te roei, maar hy kon dit nie regkry nie; hy was nie in staat om hierdie deel van die lewe van sy onderdane te reguleer nie. Jesus, egter, kan dit wel doen met sy goddelike mag as die Verlosser van Israel. Hy bewerk dat die tollenaar Saggeus ‘n nuwe lewensweg inslaan met sigbare en tasbare bekering.
En dit is daardie mag wat steeds werk, gemeente! Dieselfde Jesus Christus, wat na ons toe kom in die verkondiging van die evangelie, in die werk van eenvoudige ampsdraers, in die vermaning van my mede-broer of suster, daardie Jesus werk sy mag in die lewens van sondaars hier in die gemeente. Sodat berou nie slegs bly vassteek in die vraag om genade nie – o ja, dit is waar dit begin (en dit is ‘n heerlike, Godgewerkte begin: “wees my, sondaar, genadig” – pragtig!). Maar vervolgens werk dit ook iets uit. Iets wat sigbaar is, iets wat tasbaar is. Dit werk liefde en geregtigheid. Dit werk trou en gehoorsaamheid. Die Here wil in ons berou werk deur sy Woord, maar dit is ‘n berou wat ook sigbaar word in dade van liefde en van geregtigheid teenoor mekaar en teenoor alle mense. En dit is wat ons van die Here mag vra en van mekaar mag verwag wanneer ons vandag aan mekaar verbind word. In die gemeente van tollenaars werk die Here Jesus berou én nuwe lewe. Daartoe, dit mag u weet, gaan ek in die prediking en in die pastoraat en in die katkisasie-klasse onbevange oproep. Nie omdat u dit self kan doen nie; nie omdat jy, jongmens, self so sterk is nie, maar juis omdat ek van voorneme is om Christus aan u te verkondig. Christus kon met Saggeus doen wat die Romeinse keiser nie kon regkry nie; Christus kan doen wat alle landswette en sosiale norme en afsprake nie kan doen. Hy kan berou omsit in egte bekering en dade van gehoorsaamheid. Sodat selfs die heiden en die tollenaar, wat hulle van ons afgekeer het en wat ons met die tug moes afsny, tot bekering kan kom.
Broers en susters, ek wil met u klaarmaak dáár waar ons begin het – by Mattheus, die tollenaar, wat ‘n volgeling van Jesus geword het. Ons kom hom nog een keer in die Bybel teë. In Handelinge 1 – kom ons lees Handelinge 1:12-14. Hier vind ons Mattheus nog een keer, tussen die ander dissipels, wagtend op die belofte van die Heilige Gees. Met watter veragting die volk ook al na die tollenaars gekyk het, Mattheus vind sy plek tussen die ander dissipels. Hy bid saam met hulle vir die koms van die Gees. Hy bid onder andere saam met Petrus, die voorman, die leier wat soms eers gepraat het en daarna gedink het (sommige van ons lei ook aan hierdie probleem). Hy bid saam met Jakobus en Johannes – Boanerges, die seuns van die donder, soos wat hulle genoem word – wat gewedywer het vir die belangrikste plekke in die Koninkryk van Jesus Christus (daar is van hulle ook onder ons). En hy bid saam met Simon die yweraar (in die Grieks staan daar vir ‘yweraar’ die woord ‘seloot’) – die Selote was ‘n fanatiese groep wat die Romeinse oorheersing so gehaat het dat hulle dit met geweld omver wou werp. Nou, dink daaroor na: ‘n Seloot (‘n fanatieke anti-Romein) en ‘n tollenaar (iemand wat vir die Romeine gewerk het), saam in Jesus se vriendekring, verenig in gebed en in hulle gemeenskaplike verlange na die Gees wat hulle sal lei. Verskillende mense, verskillende persoonlikhede, saam in die gemeente van Jesus Christus. In die meeste ander samelewingsverbande sou dit ongetwyfeld tot konflik en spanning gelei het. Maar in die gemeente van Christus is daar genesing en bekering vir selote en tollenaars, vir heidene en hoere, vir sondaars. Saam mag ons ‘n nuwe lei vir ons Here en agter ons Here aan. Sáám, sonder dat ons ons persoonlikhede hoef op te gee, sonder dat ons ons agtergronde hoef prys te gee. Maar nogtans nuutgemaak deur die Geneesheer. Mag God in sy genade gee dat ons só saam kan leef. En dat ons, tollenaars en sondaars, in vriendskap kan aansit aan die tafel van Hom wat ons genees het.
Amen
Liturgie - aanddiens
- Afkondigings
- Votum: sing Psalm 124:4
- Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen
- Sing Ps. 63:2, 3, 6
- Gebed
- Preek – lees tydens die preek:
- Lukas 5:25-32
- Lukas 18:9-14
- Lukas 18:42-19:10
- Sing Skr. 44:2-4
- Gebed
- Geloofsbelydenis (singende)
- Kollekte
- Sing Skr. 33:1 en 3
- Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee.