Geliefde broeders en susters,
Dié van u wat op Kersdag hier in die erediens was – en goed geluister het! – sal onthou dat die openingsvers van Johannes se evangelie ons terugvat na die allereerste begin. “In die begin was die Woord” (Joh. 1:1) neem ons terug na Genesis 1:1: “in die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Daarmee wys Johannes dat die Woord, wat vlees geword het in die krip in Betlehem, lankal bestaan het. Dat Hy voor die skepping reeds bestaan het, dat Hy by die skepping aanwesig was, en meer nog: dat Hy self geskep het. Want “alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (vers 3). Nou, in die vervolg van hoofstuk 1 en die eerste deel van hoofstuk 2 bou Johannes voort op hierdie verbinding met Genesis 1. Net soos, ná Genesis 1:1, die sewe skeppingsdae volg, so volg daar in Johannes 1 en 2 ook sewe dae. In ‘n soort dagboekvorm beskryf Johannes sewe agtereenvolgende dae. Kyk maar saam met my...
Ons het gesê dat hoofstuk 1:1-18 die proloog / inleiding tot Johannes se evangelie is. Daarna, vanaf vers 19-28, volg die eerste dag, waartydens Johannes die Doper deur die priesters en Leviete ondervra is oor wie hy is. Dit word in vers 28 afgesluit met die woorde: “Dit het gebeur in Betabara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.” Dan begin vers 29 met: “Die volgende dag...” – dit is dus dag 2. Tydens hierdie dag wys Johannes Jesus aan as die Lam van God. Sien hoe die aandag verskuif van Johannes die Doper na Jesus! Daarna begin vers 35 weereens met: “die volgende dag...” – dit is dag 3. Tydens hierdie dag roep Jesus sy eerste twee dissipels. En, sê vers 40 dan, hulle het dié dag by Hom gebly. Hieruit kan ons aflei dat in vers 41 weer ‘n nuwe dag begin (die vierde dag), waartydens die eerste twee dissipels (Andreas en Johannes) hulle onderskeie broers (Petrus en Jakobus) roep en by Jesus bring (dus, Jesus het nou vier dissipels). Vers 44 begin dan weer met: “die volgende dag...” – dit is nou al die vyfde dag. Tydens hierdie dag roep Jesus nog twee dissipels, Filippus en Natanael (nou het Jesus al ses dissipels).
Die volgende tydsaanduiding wat ons kry, is in hoofstuk 2:1, waar ons lees: “en op die derde dag...” Hoe moet ons dít verstaan? Wel, volgens die Joodse tydsberekening wat Johannes gebruik, beteken dit twee dae ná die laasgenoemde gebeurtenis (dink hier ook aan Jesus se kruisiging op Goeie Vrydag en sy opstanding twee dae daarna, op die Sondag [terwyl ons nogtans bely: “op die derde dag opgestaan het uit die dood”]). Dus, ‘op die derde dag’ is twee dae ná die roeping van Filippus en Natanael – en dit is dan dag 7. Ons spring eintlik van dag 5 na dag 7. Wat op dag 6 gebeur het? Johannes sê niks daaroor nie – dit is baie goed moontlik dat die sesde dag op ‘n sabbat geval het. Met die gevolg dat die bruilof te Kana op die eerste dag van die week begin het.
Hoe dit ook al sy, die verbinding met Genesis 1:1 (“in die begin...”), en die daaropvolgende sewe skeppingsdae is onmiskenbaar. In Genesis 1 het God deur die Woord die hemel en die aarde geskape. In Johannes 1 en 2 is die Woord wat vlees geword het, besig om iets nuuts te skep! En dit bereik ‘n hoogtepunt op die bruilof te Kana.
Tema: die vleesgeworde Woord kom skep iets nuuts!
- Hy lui die nuwe toekoms in
- Hy bewys sy vervulling van die wet
- Hy toon sy beheer oor menseharte
1. Ons betree die verhaal van Jesus se eerste werksweek op die hoogtepunt. Dag 7 – Jesus en sy dissipels is genooides by ‘n bruilof, ‘n groot geleentheid in die Joodse kultuur. En wanneer die fees dreig om plat te val – omdat die wyn op is – dan verrig Jesus sy eerste wonder. Hy verander die water in wyn – goeie wyn! Sodat die fees kan voortgaan en die feesvreugde nie gedemp hoef te word nie.
Nou, reeds die feit dat Jesus se eerste werksweek op ‘n bruilof sy hoogtepunt vind, en dat Hy juis hier sy eerste wonder verrig – water wat in wyn verander – moet ons laat nadink. Alreeds hierdie breë lyne van die verhaal, binne die konteks van die skeppingsweek (soos wat ek in die inleiding verduidelik het), is opmerklik! Dit wys ons dat wanneer die vleesgeworde Woord iets nuuts kom skep, dan is hierdie motiewe van bruilof en van wyn baie bewustelik deel van sy optrede, deel van sy groter plan! Dit is nie maar net toevallig dat Hy juis op dag 7 van sy eerste werksweek by ‘n bruilof aankom en water in wyn verander nie. En as ons enigsins ons Bybels ken, meer spesifiek die Ou Testament, dan hoef dit ons geensins te verbaas nie. Al hierdie motiewe kom ons naamlik daar al teë.
In die Ou Testament word op verskeie plekke gepraat oor die verbondsverhouding tussen die HERE en sy volk as ‘n huwelik, die verhouding van ‘n bruidegom en sy bruid. Dink aan Jesaja 62:5: “Want soos ‘n jonkman ‘n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” Dink ook aan die pragtige Psalm 45, ‘n lied van die liefde, ‘n bruilofslied. En moenie vergeet van die boek Hooglied nie – hoewel dit in die eerste plek die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou beskryf, is die onderliggende tema tog ook die HERE se liefdevolle verhouding tot sy volk.
Dit is egter opmerklik dat, in die Ou Testament, die beeld van die bruidegom en die bruid veral op ‘n negatiewe manier gebruik word. Baie dikwels in die profete – veral Jesaja en Jeremia – beskuldig die Here sy volk dat hulle ontrou was en die huwelik verbreek het; dreig Hy dat Hy die huweliksvreugde gaan wegneem. Die profeet Hosea is die mees uitnemende voorbeeld van ‘n profeet wat hierdie boodskap nie net verkondig het nie, maar prakties gelééf het. Hy moes met ‘n prostituut trou, om daarmee die ontrou van die volk en die genade van die Here uit te beeld.
Dus, wanneer Jesus op die hoogtepunt van sy eerste skeppingsweek by ‘n bruilof opdaag, dan moet dít ons onmiddellik laat nadink – hoekom eindig Hy sy week juis hier? Watter verband is daar met die beeld van die bruidegom en die bruid van die Ou Testament? En as ons nog gewonder het watter rol Jesus presies vervul in die beeld van die bruidegom en die bruid en die bruilof, dan laat Johannes die Doper in die volgende hoofstuk van die Johannes-evangelie geen twyfel daaroor bestaan nie. Hy sê in hoofstuk 3:29 oor sy verhouding tot Jesus die volgende: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom.” Jesus is die bruidegom, Johannes die Doper sy vriend wat met blydskap na Hom luister. En die bruid dan? Waar is sy? Wie is sy? Wel, onthou u nog hoe Jesus tydens dae 3, 4 en 5 van sy eerste werksweek vir Homself ses dissipels uitgekies het? Andreas en Johannes (dag 3), Petrus en Jakobus (dag 4), Filippus en Natanael (dag 5) – dáár is die bruid! Dis waar, hulle is nog nie voltallig nie. Die twaalf dissipels, verteenwoordigend van die twaalf stamme van Israel (die nuwe Israel, die kerk) – nee, hulle is nog nie almal daar nie. Maar die Bruidegom is reeds besig om sy bruid te versamel, die bruid wat Hy voorberei en waarvoor Hy bereid is om met sy lewe te betaal. In hierdie ses dissipels sien ons alreeds iets van die bruid wat Christus besig was om te skep.
En deel van die bruilof is die vreugde wat deur wyn verhoog word! Ook hierdie motief vind ons deurlopend in die Ou Testament, veral as ‘n belofte vir die tyd wanneer die Messias sou kom. Wanneer Jakob sy seuns in Genesis 49 seën en by Juda kom (en onthou dat die Messias uit die geslag van Juda gebore is!), dan profeteer hy dat die Messias sy jong esel sal vasmaak aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed (Gen. 49:11). En wanneer Jesaja die Messiaanse tyd aankondig, dan profeteer hy dat die Here van die leërskare op Sion ‘n maaltyd van vetspyse sal berei, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn (Jes. 25:6). Wyn is deel van die Messianse tyd! Wyn is deel van die vreugde wat Christus deur sy skeppingswerk moontlik gemaak het. En dit word bevestig in Kana wanneer Jesus water in die beste wyn verander. En nie net verander Hy water in wyn nie, Hy gee ook oorvloed – die 6 klipkanne waarvan ons teks in vers 6 praat, kan in totaal tussen 500 en 700 liter bevat. Veels te veel vir die groep mense wat daar in Kana bymekaar is. Ja, veels te veel vir hulle, maar passend by die fees wat die egte Bruidegom besig is om te skep!
Die gebeure by Kana, broers en susters, is dus ‘n baie belangrike oomblik; dis baie meer as net ‘n troue waar Jesus te gas was en die bruidspaar uit hulle penarie gehelp het. In alles wys Jesus hier dat die Messiaanse era aangebreek het, en wat eie is aan daardie Mesiaanse era. Daardie era word gekenmerk deur ‘n hernude liefdesverhouding tussen die Here en sy volk, tussen Christus en die kerk, tussen die Bruidegom en die Bruid. Dit is ‘n liefdesverhouding wat deur Christus moontlik gemaak is toe Hy sy lewe vir sy bruid afgelê het, om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord – só verduidelik Paulus vir ons in Efesiërs 5:25-27. En dit is ‘n huwelik wat gekenmerk word deur vreugde en oorvloed, die vrug van die wynstok.
En in daardie herskeppende werk, waarmee Christus tot op vandag besig is, staan ons ook, gemeente. Ons is deel van daardie herstelde liefdesverhouding, en ons vier met blydskap – en met wyn! – die bittere lyding van ons Here Jesus Christus wanneer ons nagmaal vier. Laat ons onsself daarom toets aan die profesieë van die Ou Testament om te kyk of ons ‘n troue bruid is vir wie die Here Jesus sy lewe nie verniet gegee het nie. Laat ons voortdurend by onsself te rade gaan of ons trou is aan ons Bruidegom – in die leer, maar ook in die lewe. Toets jouself: kyk ek net na Christus, my Bruidegom, of laat ek my oë dwaal na ander manne, na ander here, na ander gode? En ook al laat ons nie ons oë dwaal nie, het ons Christus nog werklik lief as gemeente? En gee die lewe met Hom ons ook nog werklik die vreugde wat Hy daarvoor bestem het? Ja, die volle vreugde het ons nog nie hier nie, dis waar; in die lewe is daar nog baie hartseer en gebrokenheid, dis waar. Maar nogtans was dit wel Christus se bedoeling om deur sy herskeppingswerk (soos afgeskilder by die bruilof te Kana) nuwe vreugde te bring. Word ons christelike lewens gekenmerk deur daardie vreugde? Word ons eredienste gekenmerk deur daardie vreugde? Sing ons nog met uitbundigheid, bid ons met passie, gee ons met oorgawe? Laat ons gedurig, maar veral ook voor elke vreugdemaal, voor elke nagmaal, onsself op hierdie punte toets en ondersoek. Laat ons enersyds leer uit die sonde van Israel, die bruid wat telkens weer ontrou was aan haar Bruidegom. En laat ons andersyds vervul word met die herskeppende werk wat Christus kom doen het. Sodat ons werklik deel mag wees van sy werk. En dan mag ons ook seker wees van die belofte wat Hy reg aan die einde van die evangelies vir sy dissipels gee. Die belofte dat Hy eendag die vrug van die wynstok saam met ons sal drink in die Koninkryk van sy Vader. Laat ons daarom bly wees, ons vreugde wys, en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom!
In die tweede plek bewys Jesus sy vervulling van die wet.
2. Ons het nou na die breë lyne van die verhaal gekyk. En dit is belangrik dat ons daardie breë lyne – en die konteks wat daarmee saamgaan! – die hele tyd voor oë sal hou. Veral die konteks van die skeppingsweek – die Woord wat vlees geword het, kom skep iets nuuts! As ons in ons lees van die Skrif die vermoë verloor om terug te staan en die breë lyne en die breë konteks en die geheel van die Skrifte voor oë te hou, dan gaan ons wegsink in puntenerige eksegetiese details.
En tóg is daar in die teks details wat allesbehalwe puntenerig is en wat ons nie oor die hoof mag sien nie. Een daarvan is die details wat Johannes vir ons gee rondom die ses klipkanne. Hierdie klipkanne was, volgens vers 6, daar ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode. Onder die Jode was dit naamlik die gebruik om voor die maaltyd die hande, en dikwels ook die kombuisgereedskap en die eetgerei, te was. Dit is op ‘n stadium, in Mattheus 15, dan ook die beskuldiging van die skrifgeleerdes en Fariseërs aan die adres van die dissipels, eintlik aan die adres van Jesus: “Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie” (Mt. 15:2; sien ook Mk. 7:3-4). Jy kan net kosher eet as jou hande – en die direkte omgewing – rein is.
Nou, dit is hierdie klipkanne met reinigingswater wat Jesus die fokus maak van sy eerste teken. Dit is hierdie einste reinigingswater wat Jesus in wyn verander. En dit is nie toevallig nie. Want daarmee wys Jesus dat Hy die vervulling is van die wet van Moses. Nee, Hy skaf dit nie af nie; Hy gooi die klipkanne nie om en sê dat dit alles onbelangrik is nie. Hy verander die reinigingswater in wynwater! In Christus kry Moses se wet sy diepste vervulling en sy hoogste betekenis. Dit is nie verniet nie dat Johannes in sy proloog alreeds gesê het dat die wet deur Moses gegee is, maar dat die genade en die waarheid (dus, die vervulling van daardie wet!) deur Jesus Christus gekom het (Joh. 1:17).
En in die vervolg bevestig Johannes hierdie beginsel telkens wees. Net hierna, vanaf vers 13, volg die reiniging van die tempel; die huis van God het ‘n handelshuis geword; die huis van gebed het ‘n rowerspelonk geword – en Jesus het volmag om dit skoon te maak, te reinig; sy dood en opstanding – só sê Hy – is sy volmag! Hoofstuk 3 gaan vervolgens oor die feit dat die Levitiese bepalings nie voldoende is om mense te red nie, maar dat elke mens weergebore moet word uit water en Gees. In sy gesprek met die Samaritaanse vrou in hoofstuk 4 wys Jesus dat die tempel in Jerusalem voorlopig is: “daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid” (Joh. 4:23). In hoofstukke 5 en 9 genees Jesus mense op die sabbat, om daarmee te wys dat Hy Here van die sabbat is en wat die werklike bedoeling van die sabbat is. In hoofstukke 6-10 verskyn Jesus op die Paasfees en die Loofhuttefees in Jerusalem, en toon Hy aan dat hierdie feeste maar slegs skaduwees is en dat Hy die vervulling van hierdie feeste is. Dus, in al hierdie voorbeelde gaan dit oor die reiniging van die volk, en die feit dat Jesus gekom het om dit te doen. Want Hy is meer as Moses! Hy is die vervulling van die skaduwees. Hy is die Een wat reinig, die volmaakte Reiniger! Sy heerlikheid oorskadu Moses se reinigingskanne.
En hoe moeilik was dit nie vir baie onder Israel om hierdie boodskap te aanvaar nie. Onder baie in Israel het Moses ‘n doel op sy eie geword; vir baie was Moses die hoogste openbaring. Met die gevolg dat daar baie klem gelê is op die nakoming van die wet van Moses – en die Fariseërs en Skrifgeleerdes het veral hierin uitgeblink. Maar Jesus wys telkens dat die wet van Moses maar net ‘n skaduwee was, dat die reinigingswette van Moses nooit die mens kan skoonwas nie. Al hierdie wette, al die seremonies, al die offers, die tabernakel en die tempel en al hulle bybehore – dit het alles gewys na iets groters, na iets beters, na iets heerlikers. Dit was uiteindelik Jesus Christus wat iets beters sou kom skep – Hy kom verander die kanne van reiniging in kanne van vreugde. Hy kom wys dat hierdie kanne, wat altyd maar weer herinner het aan sonde en gebrokenheid, deur Hom vervang word. Want Hy bring die ware reiniging, sodat mense wat gebuk gaan onder die juk van die sondelas, werklik bevry kan word en vreugde kan beleef. Deur geloof in Hom is die reiniging ‘n feit en word feesvreugde met wyn ‘n werklikheid
En hoe belangrik is dit daarom, broers en susters, dat ons nie opnuut kanne van reiniging hier in die kerk sal inbring nie, dat ons nie die seremoniële wette van Moses sal laat herleef asof Christus nie gekom het nie. O, dit sit so in ons om daardie wette weer in te stel en mekaar daardie las op te lê. Maar as ons dit doen, dan is Christus vir ons van géén waarde nie, sê Paulus in sy brief aan die Galasiërs, en is ons verplig om die hele wet te onderhou. Onthou daardie kosbare artikel in ons belydenis, artikel 25 van die NGB: “Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christus afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan; in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.” En dit is presies wat die Here Jesus daar op die bruilof te Kana so pragtig uitbeeld: Ek vervul die seremonies, sê Hy, Ek is die ware reiniging, deur my bloed was en reinig Ek julle van alle sondes, en geen klipkanne met reinigswater gaan daarop verbeter nie. En daarom, gemeente, hou ons hier in die kerk geen klipkanne met reinigswater oor nie, geen mensgemaakte seremonies waardeur ons dink dat ons gered kan word nie, maar slegs die wynbeker by die nagmaal. Daardie enkele beker is vol van die herinnering aan die bloed van Christus wat ons skoonwas van alle sonde. Hy is die vervulling van die hele wet van Moses; Hy het dit alles volbring.
En ten slotte let ons daarop dat Hy in beheer is van menseharte.
3. ‘n Laaste detailpuntjie is nog opvallend...
Wanneer Jesus se moeder Hom bewus maak van die fees-verleentheid, dan gee Hy haar ‘n opmerklike antwoord: “Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie.” ‘n Goeie Afrikaanse omskrywing van die eerste woorde – wat vir ons effens hard in die ore klink – sou kon wees: “Hoekom betrek u my in hierdie saak?” Jesus se rede is dat sy uur nog nie gekom het nie. Nou, in die evangelie volgens Johannes verwys hierdie uitdrukking eintlik altyd na Jesus se lyding en sterwe. Maria sien die wyn-krisis as ‘n ideale geleentheid vir Jesus om Homself in die openbaar te presenteer. Maar Jesus self dink anders daaroor. Die wonder wat Hy vervolgens doen, is daarom ook nie ‘n openbare wonder nie. Die wonder gebeur as’t ware agter die skerms – en die effek daarvan bly ook beperk. Nêrens lees ons dat die dienaars, of die bruidegom, of die hoofdienaar verstaan het wat hierdie gebeur het nie. Net die dissipels – en dit is ook vir hulle wat dit bedoel was. Met hierdie eerste een van sy tekens het Jesus sy heerlikheid geopenbaar – dink hier aan ons teks op Kersdag: “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou!” (Joh. 1:14). Jesus openbaar in hierdie eerste teken sy heerlikheid, sy glorie – en... sy dissipels het in Hom geglo. Sien u waartoe hierdie eerste ‘teken’ die dissipels bring? Opmerklik, hier staan nie dat dit Jesus se eerste ‘wonderwerk’ was nie. Nee, dit was sy eerste ‘teken’. ‘n Teken verwys altyd na iets ander, ‘n teken het altyd ‘n verwysende funksie. In hierdie geval wys die teken op Jesus. Hy is die Here wat besig is om iets nuuts te skep. Hy wys sy heerlikheid. En dit bring die dissipels tot geloof in Hom!
En dit is by Johannes steeds weer die doel van alles wat Jesus doen. Net soos hierdie eerste teken, reg aan die begin van die evangelie, die dissipels bring tot geloof in hulle Meester, so sluit Johannes ook sy evangelie af in hoofstuk 20:30-31: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” Baie vandag glo nie meer in die tekens van Jesus nie; hulle dink nie dat dit moontlik was dat Jesus dit gedoen het nie. En ons? Ons ken hulle al van kindstyd, dit is verhale waarmee ons opgroei. Maar bring dit ons ook tot die doel waarvoor Johannes hulle neergeskryf het – geloof in Jesus Christus? Werklike geloof, oorgawe? Jesus is besig om iets nuuts te skep, Hy is besig om sy volk te versamel – sy Koninkryk, sy nuwe Israel. En ons bevind onsself in die laaste ure van daardie werk, ons is in die pylvak. Laat ons steeds weer verwonderd wees oor sy mag, sy werk, wanneer Hy water in wyn verander, blindes laat sien, verlamdes laat loop en dooies opwek. Hy is die Almagtige God wat dit doen, Hy is die Here wat sy lewe vir ons gegee het. Hy toon aan ons sy heerlikheid in die Skrifte. Laat ons dan in Hom glo. Laat ons gaan in die voetspore van Andreas en Johannes, van Petrus en Jakobus, van Filippus en Natanael, wat alles opgegee het vir hulle Here. Mag die Here deur sy Gees gee dat dit by ons nie anders is nie.
Amen
- Afkondigings
- Votum: Ons hulp is in die Naam van die Here, wat die hemel en die aarde gemaak het.
- Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here, Jesus Christus // Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen
- Sing Ps. 108:1
- Lesing van die wet
- Sing Ps. 86:3 en 6
- Gebed
- Lees: Johannes 2:1-12
- Sing Ps. 23:3 (eerste beryming – spesifiek om die wyn in vers 3 uit te lig)
- Teks: Johannes 2:1-12
- Preek
- Sing Skr. 29:8 en 9
- Gebed
- Kollekte
- Sing Skr. 22:9-11
- Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God, die Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly met julle almal // Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee [Amen]