Gemeente van onse Here Jesus Christus. Brs en srs. Twee weke gelede is die wêreld se mees gesogte terroris Abu Bakr al-Bagdadi deur 'n Amerikaanse spesialis eenheid in Noord Sirië sodanig in die noute gedryf dat hy homself saam met 'n aantal van sy kinders met plofstof opgeblaas het. Ek dink nie een van ons sal oor die dood van die terroris treur nie. Inteendeel. Iemand wat die dood van honderde mense op sy gewete het, verdien die dood.
Wel wil ek julle 'n ernstige vraag stel. Het een van julle die afgelope week moontlik iets gedoen wat minstens so erg is as wat Abu Bakr gedoen het? Kom ek begin by ons seuns en dogters: Het een van julle onlangs iets gedoen wat die doodstraf verdien? Natuurlik nie, nie waar nie? Julle het immers niks gedoen wat die dood van honderde mense veroorsaak het nie. Ja, miskien wel in ‘n rekenaar-speletjie, maar dis nie die werklikheid nie. Die kans is selfs groot dat julle nog nooit met die polisie of die gereg te make gekry het nie.
Het julle dan heeltemal geen verkeerde dinge gedoen nie? Ja, natuurlik was daar wel verkeerde dinge. Maar dis nie dinge wat die doodstraf verdien nie.
Tog het ek moeite met dié antwoord as ek dit stel teenoor die Here Jesus se uitspraak oor die wet. Ek verwys na Sy gesprek met die Fariseërs. Die Fariseërs het gemeen dat dit wat hulle verkeerd gedoen het, nie so ernstig is nie . Maar die Here Jesus sê baie duidelik (Mat 5v21-22: “Julle het gehoor ... Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”
Dit is ernstige woorde. En daar is nog meer voorbeelde wat die Here Jesus gee van dinge wat ons glad nie as ernstig beskou nie maar wat die Here Jesus wel as ernstig beskou. As ons die woorde van die Here Jesus letterlik opneem, dan het ons almal die doodstraf dubbel en dwars verdien.
Maar kyk dan na die Nagmaal, wat ons vandag gevier het. Die Here sê nie: Julle is skuldig, en daarom moet julle sterf nie. Daarom gaan Ek julle van honger laat sterf nie. Julle sal geen voedsel van My ontvang nie. Nee, die Here sê: “Hier aan die nagmaal ontvang julle presies wat julle nodig het om aan die lewe te bly”. Is dit nie besonder nie? Ons verdien straf, maar ons ontvang liefde. Ons verdien die dood, maar ons ontvang die lewe. Dit het alles te make met die trou van die Here. En dit is die tema van vanaand se preek:
Die Trou van die Here aan Sy verbond, is vele mate groter as wat ons besef.
Brs en srs. Die teks vir hierdie nabetragting is afkomstig uit die profesieë van Miga. Laat ek iets meer van hierdie profeet vertel. Miga het in 'n betreklik onbekende dorp 23 km suid van Jerusalem gewoon. Sy vader en moeder het hom die naam Miga gegee. Ons ken ook die naam in 'n bietjie langer vorm: Michael. Dit is die naam van 'n baie kragtige engel. Michael beteken: Wie is soos God? Dus is dit eintlik 'n uitroep vol verwondering waarin God lof ontvang: Wie is soos God?
Miga was as profeet van die Here tydgenoot van die meer bekende profeet Jesaja. Soos Jesaja, het ook hy gedurende 'n baie lang tyd as profeet opgetree. Dit beteken byvoorbeeld dat Miga gelewe het in die tyd dat sy vaderland Juda bedreig is deur die broedervolk Israel wat 'n verbond gesluit het met die koning van Damaskus. Dit is die geskiedenis van Rezin en Pekah, wat saam probeer het om Jerusalem in te neem in die tyd van koning Agas. Dit omvat ook die geskiedenis van die teken wat koning Agas deur die woord van Jesaja ontvang het: Dit is die teken van Immanuel. Miga was ook getuie van Israel se wegvoering in ballingskap. Die geskiedenis sou Miga beslis raak. Die koning van Assur het vir drie jaar Samaria, die hoofstad van Israel, beleër en dit uiteindelik ook ingeneem. Na aanleiding van hierdie gebeure kon Miga ook die mense van Juda waarsku. Hy kon wys op die dodelike gevaar van afgodediens. Afgodediens is vir die Here ‘n vorm van absolute ontrou aan Hom. Ons kan ons dit moeilik voorstel, maar koning Agas van Jerusalem het selfs sy eie seun geoffer. Hy het sy seun gedood en verbrand om die afgode gunstig te stem sodat dié hom sou beskerm. Koning Agas het ook die oorspronklike groot brandofferaltaar na die sykant van die tempel verskuif en in die plek daarvan 'n replika van die heidense altaar van Damaskus opgerig wat hom baie beïndruk het. Dit is seker dat hierdie dinge die Here ernstig sou gekwets en beledig het.
Miga se profetiese woorde het 'n sterk indruk gemaak. In die besonder sy profesie dat die Tempelberg 'n woesteny sou word. Miga het letterlik gesê (Miga 3v12): "Daarom sal Sion om julle ontwil soos ‘n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante.” Hierdie woorde is 100 jaar later steeds aangehaal deur die mense in Juda. U kan daarvan lees in die boek van die profeet Jeremia.
Soos met ander profete het die Here ook aan Miga die opdrag gegee om aan die volk te sê dat die Here 'n regsgeding met sy volk sou aangaan. Miga 6 handel daaroor. Die Here self is die openbare aanklaer, en hy roep die berge en heuwels op om getuies te wees. Die berge en heuwels was immers altyd daar en was ook getuies van die slegte dinge wat mense gedoen het. Ons kan dink aan die offers aan afgode wat gebring is op die hoë heuwels. Die berge en heuwels het dit as’t ware van naby aanskou. Hulle was betroubare getuies.
Watter norm gebruik die Here in hierdie saak teen sy mense? Ons lees dit in hoofstuk 6v8: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” As ons goed oplet, dan sê die Here hier niks anders as dat ons volgens die reëls van die verbond met Hom moet lewe. En dit geld ook netso vir ons vandag. Dit is presies dieselfde as wat die Here ook vir ons sê: "Ek het ook 'n verbond met julle aangegaan”. Dis soos 'n huweliksverbond. En ek beoordeel julle daarvolgens: Hoe lewe julle in daardie verbond? Is julle daaraan getrou of nie? Is jou hele hart op My, die Here gerig of nie?
Hoe het Juda op die profeet Miga se waarskuwings gereageer? Hulle het hul nie daaraan gesteur nie. Hulle het nie aan Miga se waarskuwings gehoor gegee nie. En hulle het voortgegaan met hul eie dinge. En dit het veroorsaak dat die swak en onaansienlike mense in die samelewing steeds meer verdruk is. Hulle is uitgebuit. Hulle kon nêrens meer gehoor vind vir hulle reg nie. Weduwees en weeskinders het baie swaar gekry. Hulle is as’t ware stadigaan doodgewurg. As die heuwels en berge uitspraak sou moes lewer in hierdie saak, dan sou hulle sonder twyfel ‘n 'skuldig' uitgespreek het. En dit is die misdaad: Ontrou veroorsaak die dood van ontelbare brs en srs in die kerk.
Laat ek u neem na 'n profetiese tekening van die situasie, wat ons ook hier en daar in ons eie wêreld herken. Dit is Miga 7v 2-3 : “Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net. Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.' In die Nederlandse vertaling lees ons dat hulle hul bekwaam in die doen van daardie euwels. Wel, ek dink ons sien meer as genoeg daarvan op TV. Ons sien bedrog en korrupsie. Dat magtige mense hulleself verryk ten koste van die armes.
Maar ons moet nie dink dat dit slegs oor die gedrag van heidene handel nie. Miga spreek naamlik die kerk aan! En as ons dink aan die woorde van die Here Jesus oor die wet, soos ek in die inleiding aangehaal het, moet ons erken dat ons ook bloed aan ons hande het. Of het jy nog nooit gewens dat iemand moet sterf nie? Het jy nog nooit iemand gedwarsboom om so jou eie planne deur te kan voer nie? Het jy nog nooit 'n dag gehad waar jou liefde vir jou naaste baie ver weg was nie?
As ons die boek Miga aandagtig lees, dan vind ons dat daarin vreeslike sondes vermeld word. Maar terselfdertyd moet ons erken dat die ontrou waarvan dit getuig regtig nie 'n saak is wat slegs in Israel en Juda voorgekom het nie. Ons is ook ontrou. As ons byvoorbeeld nie na die Here luister nie en voortgaan op ons eie pad. Dit getuig van 'n growwe minagting van die verbond wat die Here met ons gesluit het.
Maar nou is die besondere dat die getrouheid van die Here in sterk kontras staan met die ongeloof van sy volk. So eindig ook die boek Miga: "U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met ‘n eed beloof het sedert die dae van die voortyd." Ja, ons beoordeel dit as 'n positiewe wending wat dit natuurlik ook is. Dat die Here ten spyte van ons ontrou, steeds getrou bly. Maar besef ons wel voldoende dat hierdie belofte van die Here nie goed inpas by die reëls van die verbond nie? Want hoe versoen ons die trou van die Here met die erns van ons sonde? Is dit nie eerder so dat die Here slegs aan sy woord getrou kan wees as Hy ons straf vir ons sondes nie? Hoe vele kere het die Here nie gesê dat sy toorn en woede oor die mense sou kom as hulle ontrou aan Hom sou wees nie? En het Miga nie ook geprofeteer van die vernietiging van Jerusalem en die tempel as straf van die Here vir die voortdurende ongeloof van die volk nie? Ja, moet die Here nie eerder ons sonde met straf beantwoord, as hy getrou wil wees aan sy eie woord nie?
Sou nie elke koning, ja, sou nie elke afgod met vlammende toorn antwoord as hy sou uitvind dat sy vriende agter sy rug om met ander konkel nie? En sou nie elke heidense koning met groot respek en instemming kennis neem van die wraak van die Here oor sy volk wat so ontrou aan Hom was nie? Logies gesien moet die verbondstrou van die Here tot uitdrukking kom in Sy woede en toorn oor alle afval en sonde van die volk. Maar wat gebeur hier? Miga spreek profeties dat die nasies van die reaksie van die Here sal kennis neem, maar dat dié reaksie uiteindelik baie anders is as wat die heidense nasies sou verwag. Hulle is sprakeloos van verbasing. Hulle monde val oop. En eintlik is ook Miga hoogs verbaas. Daarom vind ons die uitroep aan die einde van Miga se boek (vers 18): "Wie is 'n God soos U?". Dit is ook ‘n sinspeling op sy eie naam (Michael): Wie is soos God? 'n Uitroep vol verwondering.
Wat sê dit vir ons? Ja, Miga profeteer dat die Here Hom weer oor sy volk sal ontferm. Dit is ‘n heeltemal ander reaksie as wat ons sou verwag. Ja, die Here is getrou, maar in sy trou verdelg Hy nie Sy volk nie, maar Hy buig Hom vol deernis na Sy volk toe.
Gestel ‘n vrou betrap haar man vir die soveelste keer op huweliksontrou. Sy weet dit onmiddellik as hy tuiskom. Hy was weer by die ander vrou. Sou dit nie vanselfsprekend wees dat sy die deur vir hom sluit nie? En dat sy sê: “Ek wil nooit weer saam met jou onder een dak vertoef nie”. Dit sou ons, broers en srs, teen die bors stuit as sy sou sê: “'Kom, liefling. Sit terug en ontspan. Ek gaan haal gou jou koerant en pantoffels. Ontspan en sit gerus jou voete op die tafel. Ek is nou-nou klaar met 'n lekker ete.” Almal wat dit sou aanhoor, sou kon sê: “Die vrou het haar verstand verloor. Sy is heeltemal mal!”'
Hoe, brs en srs, hoe sou die Here ooit kon voorgee dat niks tussen ons gebeur het nie? Dit druis tog in teen alle regsgevoel, hoe afgestomp ons ook mag wees? Hoe kan die Here Hom oor sy volk, selfs oor ons, in medelye neerbuig as daar soveel dade en gedagtes in ons lewens was wat 'n klap in die gesig van die Here was?
Maar dan hoor ons waarom Miga kan uitroep: Wie is soos U (Michael)? Wie is 'n God soos U? Dan antwoord die Here daarop met die woorde wat Miga mag uitspreek. Die Here het ons ongeregtighede uitgewis. Die Here sal dit vertrap. Die onderliggende gedagte is dat ons sonde ‘n vuur is wat ons verteer. Ons sonde is 'n krag wat ons direk na die doderyk toe voer. Dit is slegs 'n kwessie van tyd dat dit sal plaasvind. Die vuur van die sonde sal ons beslis verteer. Maar nou mag Miga namens die Here sê dat Hy, die Here, die vuur van ons sondes sal vertrap. Hy sal alle spore daarvan uitwis. Miga maak dit duidelik in sy tweede beeldspraak. Hy spreek in sy verwondering direk die Here aan: "U sal, Here, al hulle sondes in die dieptes van die see wegwerp." Sodat hulle in die dieptes van die see verdwyn. Vir altyd uit die pad uit.
Dit is moontlik, brs en srs, dat hierdie beeld van sondes wat in die dieptes van die see weggewerp word, in vorige tye meer mense aangespreek het as vir ons vandag. Ek lees ‘n opmerking oor die teks uit die verre verlede dat die Here ons sondes, net soos gifstowwe, in die dieptes van die see stort. Ons verstaan dat dit geskryf is in ‘n tyd voor die opkoms van bewegings soos Greenpeace. Ons weet vandag dat vate vol gifstowwe met verloop van tyd sal deurroes sodat die gifstowwe in die see uitlek met moontlike vernietigende effek. Dink ook die vele pogings wat aangewend is om die Russiese kernduikboot Koersk vanaf die bodem van die see na die oppervlakte te bring. Dit is waarskynlik gedoen nie om die liggame van die bemanning te berg nie. Nee, dit is gedoen om te voorkom dat die radio-aktiewe uraan in die seewater vrygestel word. Vir ons vandag is die seebodem nie meer 'n veilige afval stort terrein nie.
Maar om die beeld wat Miga van die Here gebruik, behoorlik te verstaan, moet ons ons verplaas na Miga se tyd. Mense het destyds ‘n ander beeld van die see gehad as ons vandag. Hulle het aanvaar dat die aarde plat is, en dat dit soos ‘n groot pannekoek op die see dryf. Die see was geheel los van die land oppervlakte. Die see het verder geen bodem gehad nie. Wat mens in die see stort, het oneindig in die dieptes weggeraak. Dit het nie op die seebodem bly vassteek nie. Nee, dit het vir ewig in die dieptes verdwyn. En so kry die prentjie dat Miga gebruik presies dieselfde seggenskrag as die beeld wat ons ken uit Psalm 103: "So ver as die Ooste verwyder is van die Weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons". As jy nie weet dat die aarde rond is nie, dan is dit 'n baie sterk uitdrukking. Die Here verwyder ons oortredings oneindig ver van ons af. Dit is goed om die betekenis daarvan goed tot jou te laat deurdring, brs en srs. Ons sondes bly nie vir ons lê soos 'n tydbom op die bodem van die see nie. Sodat ons byvoorbeeld by ons sterwe steeds die afrekening vir ons sondes sal ontvang nie. Nee, Miga sê dat ons sondes werklik weggeneem is. God het dit weggeneem. Vir ewig. In groot trou aan sy beloftes aan Abraham, het God 'n manier gevind om die sonde wat die lewens van sy volk letterlik met die dood bedreig het, vir ewig weg te doen. En al het Miga nie ‘n idee gehad van hoe die Here dit sou doen nie, tog mog hy profeteer dat die Here dit sou doen.
Ons het vandag Nagmaal gevier. En die Here het nie daarin na ons toe gekom in Sy toorn nie, maar in Sy liefde. Ja, die sakrament maak melding van die dood as gevolg van die sonde. Maar dit was nie ons dood nie. Dit was die gebreekte liggaam en vergote bloed van die Here Jesus wat aan ons uitgedeel is. Want dit was Hy, wat belaai met ons sondes, neerge-daal het in die oneindig diep oseaan van die hel. En dit was Hy wat Homself laat vertrap en vernietig het.
Die Heilige Nagmaal is die fees van God se wonderbare trou. Omdat die Here nie ons sondes tydelik verberg nie. Hy vee nie ons sondes onder die mat nie. Maar Hy het ons sonde geheel weggeneem. Deurdat Sy eie Seun vir ons sonde gesterf het. En is dit nie voldoende rede om te juig en jubel nie? Ons mag weer opnuut voor begin! Diegene wat in geloof geëet en gedrink het, mag regtig 'n nuwe begin maak. Die las van gister se sondes rus nie meer op ons skouers nie. Laat ons dan ook werk maak met daardie nuwe begin. Met ‘n nuwe lewe wat nie meer die atmosfeer uitasem van die doderyk nie, maar van 'n lewe wat gestalte gee aan die vryheid en die ruimte wat Christus ons wil gee. Hy wil ons in daardie lewe begelei. Hy wil ons voortdurend voed. Met slegs een doel: dat ons ook ná die voorproef wat ons vandag in die sakrament ontvang het, eendag mag aansit by die ewige bruilofsfees. 'n Toekoms wat vir ons oopgaan deur die onbegryplike groot trou van die Here. En wie sê dan nie vol vreugde en dankbaarheid: Michael: Wie is soos hierdie God?
Amen.
Votum
Seëngroet
Psalm 111: 1,2
Nagmaalsformulier
Gebed (sluit af met die sing van die "Onse Vader")
Tafelvoorbereiding
Skrifbereiming 17: 1,6
Tafel 1
Lofverheffing
Gebed
Psalm 116: 7,10
Skriflesing: Miga 7: 1-20
Psalm 82: 1,2
Teks: Miga 7: 18-20
Preek
Psalm 89: 3,6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (Skrifbereiming 71)
Kollekte
Skrifbereiming 24: 3
Seën